LAAT JOU TROOS!
Plek en datum: GK Matlabas 2016-09-25
Teks: Jer: 31:16 So sê die HERE: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane.
Tema: Laat jou troos!
Psalms: 145:1,2; 145:8,9,10,11; 65:2,3; 65:4,5; 86:7,8.
Prediker: ds. Gustav Opperman
(Nota: hierdie en ander preke van ds. Opperman kan ook hier op youtube gekyk word: Woorde uit sy Woning)
Openingsgebed (getranskribeer na die erediens)
Kom ons bid saam!
Hemelse Vader, genadige God,
Die oë van die ganse skepping
smag in sterk verlange na U!
Al die wesens wat U geskape het, wag.
Hulle wag dat U hulle sal kos gee;
dat U hulle sal spysig.
Die diere daar buite in die veld,
die bome, die gras, alles wat U gemaak het,
is in afwagting op u genade
en dat U die wolke oor die see sal laat haal deur die wind
en dat U reën sal bring oor hierdie dorre aarde.
Maar ook ons wat hier bymekaar gekom het,
ons wag ook op U
en ons wag op die spyse
wat tot in die ewige lewe duur:
die Brood van die Lewe,
die Lewende Water.
U ken u kinders, Hemelse Vader
en orals waar hulle op hierdie aarde
vandag bymekaar gekom het
in Gees en waarheid.
Ja, ons bely daar is ook huigelaars
onder ons …
Maar U ken diegene wat met ‘n onverdeelde hart
hulle oë op U gerig hou
wagtend, wagtend op die genade
wat net kan kom
deur die verkondiging van die Woord!
Ons bid dat u kinders wat so wagtend
hulle hande na U uitsteek,
hulle oë op U gerig hou …
dat U hulle kragtig sal bystaan;
dat U hulle sal voed;
dat U hulle sal gee wat hulle nodig het,
want daar is groot hongerte
en groot dors in hierdie wêreld vandag
wat net deur U gevoed kan word
en wat net deur U Heilige Gees
gevoed kan word.
Ons bid dat U met die predikers sal wees
dat hulle hierdie Woord sal bring
in Gees en in waarheid.
En ons bid, Hemelse Vader,
dat daar waar die harte van u kinders
nog hard is en onbesnede is …
daar waar ‘n harde kors oor lê …
dat U dit sal verbreek
en dat ons dit sal hoor …
hierdie Woord wat teen ons natuurlike mens ingaan.
En ons bid dat ons genesing sal hê
en vrede en gevoed sal word!
Genadige God en Hemelse Vader
en dan bid ons vir vergifnis van die sonde
wat ons elke dag nog soveel las gee:
die sonde van gebedloosheid,
die sonde van argeloosheid,
die sonde van die minagting
van die genade van onse Here Jesus Christus;
die feit dat ons so traag is
om gehoorsaam te wees aan U Woord;
om te groei in heiligmaking;
om ons lewens te verander
en ons gedagtes te verander
en ons woorde te verander;
om ons ingesteldheid te verander.
Ons bely dat ons dikwels hier bymekaarkom
op ‘n Sondagoggend
en dan het ons die wêreld
hierbinne in met ons saamgebring
en dan is ons gedagtes daar
Ons bid vir die vergifnis van ons sonde
en ons bid dit in die Naam van onse Here Jesus Christus,
Hy wat ons eerste liefgehad het
en vir wie ons ook nou liefhet.
Amen.
Geliefdes,
Partykeer, partykeer … is die droefheid te groot.
Soms is die verlies te groot.
Die nag is dan te donker,
en die kruis te swaar.
Dan is ons ontroosbaar.
Dan verdrink al ons woorde in die dal van trane.
Die digter Totius het dit met die dood van sy kinders ervaar.
Na die Godsbesluit dat twee van sy kinders sou sterf,
skryf hy:
Bo al u donker bome, o Heer
groei daar vir my ‘n enk’le reusboom uit:
dit is die wag-‘n-bietjie-bos …
dis die wag ‘n bietjie bos van u besluit.
Van ver lyk hierdie bos só skoon,
só groen, só blink,
maar hoe verward,
wanneer ek dieper kyk en dink …
dieper kyk en dink as wat ‘n sondaar pas
en ek steek dan my hande uit …
en ek steek dan my hande uit na u besluit,
dan gryp ek in die dorings vas ...
Dan is ons ontroosbaar.
Dan het ons nie woorde nie …
Dan staan selfs die mees ervare dominee dikwels woordeloos.
Nie dat God ooit woordeloos is nie.
Die God wat ons dien,
is ‘n sprekende God.
Hy het Homself nog nooit onbetuig gelaat nie.
Dis dalk net so
dat ons dan nie sy stem wil hoor nie.
En daarom kom Hy vandag met ‘n vermaning na ons toe …
‘n vermaning in die woorde van die profeet Jeremia:
bedwing jou stem van geween
bedwing jou oë van trane.
Die vroue van Betlehem het rede tot trane gehad.
Hulle was aan die skerp kant van Herodes se wreedheid.
Soos Herodes se soldate van huis tot huis gegaan het
en hulle swaarde in bababloed gewas het,
so het die rouklag en die geween en die gekerm
gegroei en gegroei
en oor die velde en rante van Efrata weerklink …
totdat dit uiteindelik,
ver, ver terug in die verlede ‘n weerklank gevind het.
Mattheus hoor nie net die rou snikke van hierdie moeders nie.
Hy hoor ook die smartlike kreet van Ragel …
Ragel van daar doer ver terug in die voortyd.
Ons onthou vir Ragel.
Ragel was die aardsvader Jakob se eerste keuse,
maar sy tweede vrou.
Sy was die kinderlose Ragel …
wat later die aardsmoeder van Israel sou word.
Lea was die eerste vrou
wat maklik kinders gehad het.
Ses van hierdie kinders was seuns.
Lea wat die tweede plek in Jakob se hart moes inneem,
sy is die een wat geseën was met seuns.
En toe Ragel sien,
(so lees ons)
En toe Ragel sien
dat sy vir Jakob geen kinders baar nie,
het Ragel jaloers geword op haar suster.
Ons lees ook van haar bomenslike worstelinge met Lea
Totdat Ragel later aan Jakob gesê het:
Gee vir my kinders of anders sterf ek! (Gen 30:1)
En toe sy uiteindelik ‘n kind het,
toe sien Ragel dit as ‘n oorwinning oor haar suster.
En sy het die kind Josef genoem en gesê:
Mag die HERE vir my ‘n ander seun daar byvoeg!
En dan lees ons verder:
Met die geboorte van haar tweede seun
het Ragel dit swaar gehad met die bevalling,
en sy het gesterwe.
Voor haar dood het sy die kind ‘n naam gegee:
Ben-Oni
Ben-Oni … seun van my smart,
maar sy vader het hom Benjamin genoem.
So het Ragel dan gesterwe;
(lees ons)
en sy is begrawe by Rama,
op die pad na Efrat,
dit is Betlehem.
By Rama lê die graf van Ragel,
vrou van trane,
Sy noem haar tweede seun: Ben-Oni,
seun van my smart.
Hoe tragies: Ragel … aardsmoeder van Israel,
die volk van die belofte,
maar in die naam van haar seun, Ben Oni
is daar geen geloofsbelydenis nie …
net ‘n smartbeblydenis.
Nou, hier in ons Skrifgedeelte,
hier in Mattheus 2
sien die Evangelis weer vir Ragel.
In die hartseer van die moeders van Betlehem,
sien hy die hartseer van Ragel self.
Mattheus hoor ook die woorde van die profeet Jeremia,
want die profeet Jeremia het ook
by Ragel se hartseer aansluiting gevind.
Jeremia sien hoe huil Ragel
vir die tweede maal in die volk se geskiedenis.
Nou verskuif die toneel verder in die geskiedenis.
Meer as ‘n duisend jaar na Ragel se dood,
na die val van Jerusalem,
na die verwoesting van die tempel,
toe die volk in ballingskap weggevoer sou word,
toe is hierdie patetiese skare Jode
by Rama naby Betlehem bymekaar gemaak.
Dit sou hulle laaste sien van die beloofde land wees.
Die profeet Jeremia sien in sy geestesoog by die geleentheid
hoe Ragel uit haar graf uit opstaan.
Op die hoogte
teenoor hierdie ellendige mense neem sy plaas
en sy begin weer ontroosbaar huil.
Haar gehuil weerklink oor alle eeue heen,
want sy sien hoe
haar kinders weggevoer word in ballingskap …
‘n Stem word gehoor in Rama,
geklaag,
bitter geween;
Ragel ween oor haar kinders;
sy weier om getroos te word oor haar kinders,
omdat hulle daar nie is nie.
Háár kinders,
tevergeefs het sy hulle in die lewe gebring …
tevergeefs het sy gely, gestry,
tevergeefs geboorte geskenk.
Nog is het einde niet.
Vir ‘n derde maal word Ragel se trane genoem.
Hierdie keer in die Evangelie van Mattheus,
na die wrede kindermoord.
By die geleentheid het Ragel se leed eers vol geword.
Toe het Ragel se wanhoop die hoogtepunt bereik,
Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, geskryf is …
Ragel se kinders is nie meer daar nie.
O, die smartryke ontroosbare Ragel,
simbool van haar volk.
In Genesis het sy tevergeefs op haar sterfbed gebaar.
In Jeremia se dae het sy tevergeefs
kinders in die lewe gebring.
Uiteindelik is alles tevergeefs …
ook in Herodes se tyd.
Ragel se smart is verstaanbaar.
Elke ouer wat al ooit ‘n kind verloor het,
sal begrip hê daarvoor.
Terselfdertyd is Ragel se smart ook sondig.
Hoekom?
Sy huil oor die kinders … haar kinders.
Sy huil terwille van haar kinders,
nie ter wille van God nie.
Was haar liefde en verlange na die kinders
dan nie goed en reg nie?
Ja, ja, seker,
want die krag van die HERE se belofte
aan Abraham, Isak en Jakob …
dit lê in die kinderseën …
God het beloof dat daar kinders sal wees.
Maar waarom?
Waarom het God beloof dat daar kinders sal wees?
Sodat Ragel kan kompeteer met Lea?
Sodat Ragel op haar kinders trots kan wees?
Sodat Ragel kan opgaan in haar kinders se prestasies?
Sodat Ragel kan veg vir haar seuns se geboortereg
soos Jakob se moeder Rebekka gemaak het?
Nee!
God het kinders beloof
om Christus ontwil.
Hy het die kinders beloof
ter wille van die Christus wat moes kom.
Al die geboortes in Jakob se tent moes God dien!
Die vleeslike Israel moet vir die geestelike Israel plek maak.
Maar by Ragel gaan dit nie daaroor nie.
By Ragel gaan dit oor haar stryd met haar suster,
haar worstelinge,
haar kinderloosheid …
en uiteindelik gaan dit oor haar vleeslike kinders.
Nee, so kan en mag dit nie wees nie.
Nie kinders ter wille van kinders nie,
maar kinders ter wille van Christus.
By Ragel gaan dit net oor haar kinders.
Daarom huil sy by haar sterfbed.
Daarom huil sy in Jeremia se dae.
Daarom huil sy na die kinderslagting in Herodes se tyd.
Daarom kan sy nie vertroos word nie.
En mag ek hierby voeg , Broeders en Susters,
daarom hoor ons ook die huilende stem van Ragel
deur die hele wêreldgeskiedenis heen tot vandag toe.
Ons sien veral Ragel se bitterheid na vore kom
nadat sy Christus voor Pilatus moes bely het,
maar toe eerder geskreeu het:
Kruisig Hom!
Kruisig Hom!
Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!
Sedertdien kom Christus se bloed
op haar en haar kinders.
Eers met die verwoesting van Jerusalem
veertig jaar later deur die Romeine,
toe meer as ‘n miljoen Jode
deur die swaard en vlamme omgekom het.
Ons hoor ook Ragel se ontroosbare geween
na die vervolgings en die uitwissingskampe van Hitler en Stalin,
toe miljoene der miljoene Jode uitgemoor is.
Ons hoor die snikke van Ragel in die staat Israel vandag,
terwyl die selfmoordbomme in die strate van Tel Aviv afgaan.
Deur die geskiedenis loop die stroom van Ragel se trane.
Vir diegene wat die aardse Israel aanbid
en steeds die hemelse koninkryk miskyk …
Vir diegene die materiële, die stoflike,
die vleeslike bo die geestelike verkies.
In Openbaring 21 lees ons
dat God eendag alle trane van sy kinders se oë sal afvee.
Al sy kinders se trane …
behalwe Ragel se trane,
so lyk dit vir ons,
want Ragel, so het ons gelees,
wil nie getroos word nie.
Ragel wil nie die krane van haar trane toedraai nie.
Maar ook ons, buite die Jodedom,
kan aan Ragel se siekte ly …
Wanneer ons kinders ter wille van kinders het.
Wanneer ons kinders buite om Christus
ontvang en grootmaak …
Wanneer ons nie soldate in diens van Christus voortbring nie,
maar sporthelde in ons kinders soek,
akademiese sterre,
ekonomiese reuse.
My kinders, my gesin, my volk, my eer …
hulle prestasies, hulle talente!
Ragel beween haar kinders
en sy wil nie vertroos word nie.
Die nakomelinge van Ragel,
die moeders van Betlehem, is troosteloos.
En weet u, Broeders en Susters,
hier lê miskien die mees tragiese
van hierdie hele saak van
die Ragels in Israel
wat weier om vertroos te word,
die moeders in Betlehem se trane sonder einde …
Die mees tragiese van die hele saak lê daarin
dat hulle wel die troos ontvang het.
Al inwoners van Betlehem het die troos ontvang.
Ons lees in Lukas 2
dat die geboorte van Jesus aan hulle verkondig is.
‘n Goeie tyding van groot blydskap
wat vir die hele volk sou wees ( Luk 2:10ev).
Dis mos wat die engel vir die herders in die veld buite Betlehem gesê het:
Die goeie tyding dat vir hulle gebore is die Saligmaker
wat Christus die Here is.
En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare.
Hulle het God geprys:
Eer aan God in die hoogste hemele
vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!
En die herders het met haas gegaan
en hulle het Maria en Josef gevind
en die kindjie wat in die krip lê.
En toe hulle dit gesien het,
het hulle oral die woord bekend gemaak
wat aan hulle van dié Kindjie vertel is.
En almal wat dit gehoor het,
was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is …
Die woord is oral oor bekend gemaak …
Die moeders van Betlehem het dit gehoor:
die Goeie tyding van groot blydskap
wat vir die hele volk sou wees.
Nou word die stemme gehoor in Rama,
geklaag, bitter geween;
Ragel en die ander moeders van Betlehem
ween oor haar kinders;
Hulle weier om getroos te word.
So sê die HERE:
Bedwing jou stem van geween
en bedwing jou oë van trane …
Want jy het jou troos ontvang:
die Goeie tyding van groot blydskap.
Bedwing jou stem van geween
en bedwing jou oë van trane!
Aanvaar die troos wat aan jou gebied is.
Die vroue van Betlehem het die blye boodskap gehoor.
Hoeveel maal het hulle die goeie tyding ontvang?
Die een keer waarvan ons gelees het,
toe die herders dit aan hulle kom verkondig het …
En u, Broeders en Susters,
hoeveel maal het u al die blye boodskap gehoor?
Een keer? Of hoor u dit al ‘n leeftyd lank?
Ek self verkondig dit ‘n klompie jare lank al aan u
en voor my was daar ander.
Is u getroos?
Of weier u soos Ragel
en die ander ouers van Betlehem om getroos te word?
Om bedroef te wees, is nie sonde nie.
God verstaan ons hartseer.
Daarom word Hy ook
die Vader van alle ontferminge genoem. (2 Kor 1:3).
Daarom noem die Evangelie van Lukas vir Jesus
die vertroosting van Israel (Luk 2:25).
Daarom word die Heilige Gees self
die ander Trooster genoem … (Joh 14:16).
Maar om God se vertroosting te weier,
dis om Christus self te ontken!
Bedwing jou stem van geween
en bedwing jou oë van trane!
Aanvaar die troos wat aan jou gebied is!
Amen.
Kom laat ons dank!
Slotgebed (getranskribeer na die erediens)
Genadige God en Hemelse Vader,
Ja, ons sien soveel dinge wat verkeerd is
in hierdie wêreld en dit loop al hoe vinniger verkeerd!
En ons hou ons harte vas
vir ons kinders, die kinders wat U aan ons toevertrou het,
en ons kleinkinders.
Ons ervaar elke dag die onreg,
die geweld, die siektes en die plae,
wat dikwels die moderne mediese wetenskap
sonder antwoorde laat.
Maar ons kom vanoggend na U toe
en ons bid dat u troos
in ons lewens sigbare werklikheid sal word …
nie net daar waar ons fokus is ten opsigte van
die kinders wat U aan ons toevertrou het nie,
maar ook daar waar hulle ons dalk mag ontval;
daar waar hulle uit u genade uit wegraak;
daar waar hulle die prooi word
van ‘n bose wêreld.
Die apostel sê self ons as slagskape gereken,
maar in dit alles is ons meer as oorwinnaars
in die liefde wat ons in die Here Jesus Christus het.
Mag dit ons belydenis wees vandag!
Ons vra dit in sy Heilige Naam!
Amen.
Leave a Reply