Posted by: proregno | March 20, 2017

Die Kerk (12) – Die Kerk in die Brief aan die Filippense

vermaak_churchDIE KERK IN DIE BRIEF AAN DIE FILIPPENSE

deur prof. WJ Snyman

(Sien die inleiding [nommer 1] en die res van die reeks hier.)

Ons vind die Kerk orals in die Nuwe Testament. En al word in die brief aan die Filippense die woord “kerk” nie genoem nie, tog vind ons ook in hierdie brief duidelik die Kerk. Paulus skryf hierdie brief uit die gevangenis aan ‘n gemeente in verdrukking. ‘n Beproefde apostel skrywe aan ‘n beproefde gemeente en tog spreek hy in hierdie brief net oor die blydskap. Die brief aan die Filippense is die brief van blydskap (Fil. 4:4). Die twee Griekse woorde vir “blydskap” en “genade” lê dig by mekaar.

Genade gee blydskap en geloof bring tot lofsegging.

Nou is dit treffend dat Paulus in Fil. 1:1 skrywe: Aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is, saam met die opsieners en diakens. Noudat die apostel in bande sit, kom die ampte te voorskyn. Paulus is besig om terug te tree en terwyl hy hom van die gemeente losmaak, kom die plaaslike ampte na vore. In hoofstuk 1:27-30 kan ons lees hoe die apostel hom losmaak van die gemeente. Hy bind die gemeente aan die Evangelie van Christus.

Daar kom ‘n tyd dat die jong Kerk nie meer so afhanklik moet wees van die sendende Kerk en die sendeling nie. Ons moet die Kerk nie bind aan mense nie, maar ons moet die Kerk bind aan die apostoliese Woord. Want ons sien in hierdie brief dat die apostel verdwyn, maar dat die Evangelie bly. Hierdie gemeente te Filippi word nou deur Paulus vermaan tot eensgesindheid.

In verband hiermee teken Paulus die weg van God met Christus. In hoofstuk 2:6-11 wys die apostel op die vernedering en die verhoging van Christus. Eintlik is hierdie gedeelte ‘n samevatting van die Evangelie. Die weg van God is ‘n weg van bo na benede. En hierdie gesindheid moet ook in julle wees, sê Paulus in Fil. 2:5. Ons menslike verhoudinge moet hierdeur beheers word, want so kry Christus gestalte in die Kerk.

En dan skryf Paulus in hierdie brief oor die uitnemendheid van die kennis van Christus. Hierdie kennis wat ook deur Petrus in sy belydenis uitgespreek is, is ‘n uitnemende en heerlike kennis. Laat ons in verband hiermee dink aan Paulus se kennismaking met Jesus op die weg na Damaskus. Paulus wou eers hierdie Jesus en hierdie kennis en hulle wat hierdie naam bely, vernietig. Maar op die weg na Damaskus het hy tot die insig gekom dat Jesus werklik die Christus is.

Hoekom?

Hoe kom ‘n mens tot die insig dat Jesus die Christus is?

Deur openbaring.

Nou is hierdie kennis wat ons net deur openbaring kan ontvang, die fondament van die Kerk. Ons kan dit lees in Matt. 16:17. Die Kerk rus op hierdie kennis, ons kan dus ook sê: die Kerk rus op openbaring. Die Kerk ontstaan deur openbaring van God.

Waarom het Paulus probeer om die kennis van Jesus te vernietig?

Omdat hy wou opklim tot God deur middel van die wet.

Maar dan kan ‘n mens deur sy eie krag die hemel verdien.

Paulus het deur sy ontmoeting met Jesus Christus geleer dat die verlossing net uit genade is.

Deur die uitverkiesing, word deur genade ‘n vyand van God ‘n vriend van God.

Ook het Paulus geleer dat Jesus lewe (Fil. 3:10). In Jesus is nie alleen oorwinning oor die sonde nie, maar ook oor die dood. Wat is een van die belangrikste boustene van die fondament van die Kerk? Die geloof in die opstanding van Christus. Die Kerk is gebou op ‘n oop graf. Die artikels oor die Kerk, die vergewing van sondes en die opstanding hoort bymekaar in die apostoliese geloofsbelydenis.

Dan vra Paulus ook: Here, wat moet ek doen?

Hieruit kan ons leer dat ons maar nie net in Christus moet wees nie, maar dat Christus ook in ons moet wees. By Paulus was daar ‘n algehele oorgawe aan Christus. Hy was ‘n gevangene van Christus, ‘n slaaf van Christus. Waarna gryp Paulus? Soos ‘n kind gryp na sy redder, so gryp Paulus na Christus (Fil. 3:12). Die Kerk is gegryp deur God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, en daarom gryp ons na God. Ons moet ons lewe stel in die diens van God.

Dit bring ons by die verhouding van die Kerk tot die Koninkryk.

Die Koninkryk is daar, die Koninkryk is in die Kerk, maar die Kerk moet ook in die Koninkryk gaan. Die Koninkryk is in ons; ons is burgers van hierdie Koninkryk (Fil. 3:20), maar wanneer die Koninkryk tot sy voltooiing kom, dan gaan ons in in die Koninkryk. Dan kom die verlossing na siel en liggaam in die nuwe Jerusalem.

Ten slotte noem Paulus die gemeente sy blydskap (Fil. 4:1).

So staan die apostel teenoor sy gemeente. En dan kom Paulus met ‘n ernstige vermaning, want die gestalte van Christus kom nog nie voldoende in die gemeente tot uitdrukking nie. Hulle moet eensgesind wees (Fil. 4:2). Daar was nog gebrek aan eensgesindheid in die gemeente. En daarom vermaan Paulus hulle in die liefde.

Ons moet ook leer om op hierdie manier die ander te vermaan. Diegene wat hy vermaan, noem hy eers sy blydskap en kroon. Alleen ‘n vermaning in die liefde besit krag. Ook moet die vermaning geskied in geloof. In sy vermaning glo Paulus dat daardie mense in Filippi tog gelowiges is. Sy vermaning rus in die feit dat hulle tog heiliges is. Ons moet by ons vermanings altyd uitgaan van wat die gemeente is.

_________________________________________________

Bron: Nuwe en Ou Dinge, prof. WJ Snyman

Die reeks is hier beskikbaar: Die Kerk – prof. WJ Snyman

_________________________________________________


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: