Posted by: proregno | March 28, 2017

Die HERE dink aan sy verbond

DIE HERE DINK AAN SY VERBOND

deur prof. GPL van der Linde

LEES: Eksodus 2

TEKS: Eksodus 2:23-25

SING: Pss. 144:1; 130:1 en 4; 74:1 en 7; 118:4 en 5

God, die Here, se werk in die verwerkliking van sy verkiesing langs die weg van die verbond, is wonderlik. Sy genade ondeurgrondelik. Dink aan sy worsteling met Jakob by Pniël. Hy maak sy verkiesing waar — selfs teen ons verset in! Ook teen die verset van Satan in.

In ons teks hoor ons hoe benoud dit vir die ou kerk in Egipte was en hoe benoud dit vir die kerk kan word in ons tyd onder die aanslag van Satan en sy magte.

“En in daardie lang tyd …”

Na Farao se voorneme om volksmoord op Israel te pleeg het daar reeds ten minste tagtig jaar verloop. Moses was al oor die veertig (Hand 7:23) toe hy na Midian gevlug het. Uit ons teks, gelees in die lig van hoofstuk 3 sowel as Handelinge 7:30, was Moses reeds 40 jaar toe hy die groot verskynsel, die doringbos wat brand maar nie verteer word nie, gesien het.

Vir ruim tagtig jaar — ‘n lang tyd — was Israel in ‘n oorlewingstryd gewikkel.

Met deurgewerkte hande; rûe wat stukkend geslaan is; oë dof van smart, pyn en honger, het hulle in daardie lang tyd voortgestrompel. Hulle moes krampagtig planne bedink om die blote bestaan moontlik te maak. Toe het ‘n man uit die huis van Levi met ” ‘n dogter van Levi” getrou. ‘n Seun is gebore; ‘n seun bestem vir die Nyl.

Maar eers steek hulle hom weg en na drie maande word hy aan die Nyl, wat sy doodsbed moes wees, toevertrou tot redding. In ‘n mandjie dryf hy op die rivier om spoedig deur Farao se dogter gevind te word. Omdat sy hom uit die water getrek het, noem sy hom Moses. Soos Moses het seker nog ander seuntjies deur vernuftige planne die lewe behou, en op ander maniere is die lewe vir hulle ook draaglik gemaak. Anders sou daar weinig meer as vroue en ‘n paar ou manne oorgebly het “in daardie lang tyd”.

By planne alleen het dit nie gebly nie. Hulle het ook gesug en geweeklaag oor hulle slawerny. “En hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God”.

Toe, soos Jakob nadat die Here sy verset teen Hom gebreek het, het hulle Hom vasgegryp. “En hulle geroep om hulp … het opgeklim tot God”. Van alle eie krag gestroop, uit dieptes gans verlore, van redding ver vandaan, het hulle jammerklagtes opgeklim in Gods oor.

Dit is genade om so te kan roep.

So begenadig die Here sy kerk deur die eeue om hierdie geroep om hulp, as totale ondergang dreig, ten hemel te laat opklim — na Hom toe. Nie alleen dring die Heilige Gees die hart en mond om die nood hoorbaar voor hom uit te roep nie, Hy het ook aan ons wat nie reg weet wat om te bid nie, die woorde laat opteken waarmee ons ons nood aan Hom kan voorlê! Dink maar aan die hartgeskrei soos dit onder andere in die Psalms onder woorde gebring is.

As ons van alle kante deur die vyand in aanvegtinge bedreig word; as ons innerlik verskrik die angste van die hel op ons voel aandring, is dit Hy, die Heilige Gees wat aan ons gegee is, wat ons opwek om ons node in Gods oor te klaag en wat selfs die woorde in die hart en mond lê om dit te kan doen!

Dit gebeur ook as die vervolgingsvure teen die kerk aangesteek word. In die eerste drie eeue van die bestaan van die Nuwe Testamentiese kerk en ook tydens die Reformasie en daarna is steeds gegryp na die woorde waarmee die kerk reeds vroeg geleer is om uit die dieptes die hulpgeroep te laat opklim tot God.

Ook vandag word in lande waar die antichristendom al hoe meer gevestig raak, “die gesug en geweeklaag vanweë die slawerny” gehoor. Die kommer oor wat vir die kerk in ons land voorlê, laai ook op terwyl die dreigstem van die antichristendom al sterker word.

Weet ons nog waar ons hulp vandaan kom?

Bedroef dan nie die Heilige Gees, wat ons deur sy Woord leer waar ons hulp vandaan is en hoe ons ons geroep om hulp moet laat opklim tot God, nie! Die geroep van Israel, die ou kerk in Egipte het destyds tot God opgeklim. Hy het die geroep van die kerk deur die eeue nog altyd gehoor; ook vandag hoor Hy, en as die antichris wel aan al sy woede teen die kerk loslaat in ‘n laaste poging om God se werk ongedaan te maak, sal hy hulle gekerm hoor!

Hy hoor nie net nie. Hy doen ook!

Toe die gekerm en die geroep om hulp in Egipte tot God opgeklim het, het Hy gehoor en gedink aan sy verbond met Abraham, met Isak en met Jakob.

Hy het hulle nood gesien en dit ter harte geneem. Hy het gesien en geweet: dit is My volk aan wie Ek My beloftes gegee het!

Nog altyd sien Hy sy kerk in ons nood met deernis aan. En dan sien Hy veral Jesus Christus, ons Hoë Priester, aan sy regterhand met sy deurboorde hande en Hy hoor Hom terwyl Hy met medelyde vir ons intree.

Hy sien en hoor sy lydende volk en elke kind en Hy dink aan sy verbond, beseël met die bloed van sy Seun!

Hy doen dan iets daaraan!

In daardie lang tyd toe daar vir Israel geen tekens meer van sy verkiesing en die verbond was nie, het Hy al klaar iets gedoen!

Sonder dat hulle sy hand kon opmerk, het Hy die planne van Farao teëgehou en nie laat geluk nie.

Israel het bly voortbestaan.

Hy het, soos die profeet Jesaja later sou sê, ter wille van sy kerk nie geswyg nie.

Hy sou ter wille van hulle nie stil wees nie totdat hulle geregtigheid sou uitbreek soos ‘n glans en hulle heil soos ‘n fakkel wat brand. Hy was destyds besig vir Israel, besig tot hulle bewaring — daartoe besig in die huwelik van ‘n man uit die huis van Levi met ‘n dogter van Levi!

Hy was besig vir Israel in die geboorte van ‘n mooi seuntjie uit die huwelik — hoewel hy ten dode opgeskryf was!

Deur die geloof — sy gawe aan die ouers — het hulle die seuntjie vir drie maande weggesteek vir die moordenaar en deur die geloof het sy moeder hom in ‘n mandjie van biesies op die Nyl laat plaas waar Farao se dogter hom sou vind (vgl. Heb. 11:23).

So spot die Here van die kerk met die wat sy werk wil verydel.

Hy gebruik juis die mag wat Satan se uitwissingswerk moes doen om die één wat Hy tot redding van sy volk verwek het, nie alleen uit die Nyl op te haal nie maar ook om hom op te voed en te onderrig ter voorbereiding vir die groot werk waartoe Hy hom bestem het.

Die Here roep Moses (Hand 7:25) en dryf hom uit na sy volk as hy veerig jaar oud is. As hy egter sy roeping ook soos die Egiptenaars by wie hy in die skool was, deur eie berekening in drif en eie vermoë wil vervul, lyk dit of hy tot mislukking gedoem is.

Al het hy heen en weer gekyk om seker te maak dat hy nie gesien word nie, het sy doodslag tog nie verborge gebly nie. Hy moes vlug — maar ook in die vlug is die Here besig ten behoewe van Israel!

Moses se voorbereiding word nou in die volgende veertig jaar deur Hom self behartig. Selfs toe die Here al so druk besig was vir Israel om hulle verkiesing ‘n werklikheid te laat wees en bly, het hulle nog niks daarvan gemerk nie.

Dit was vir hulle asof Hy nie hoor nie, asof Hy van sy verkiesing en verbond vergeet het!

Tog het Hy hulle gekerm gehoor en het Hy gedink aan sy verbond en daar reeds iets aan gedoen.

En dit is die troos van hierdie prediking!

Dit kan nooit so donker of swaar wees vir sy kerk en kind nie, of die Here dink aan sy verbond!

Aan sy verkiesing en sy beloftes aan die wat Hy na sy voorneme geroep het!

Wie wanhopig in aanvegtinge en selfs in lewensbedreiging deur die antichristendom of die antichris self aan die eindtyd, kerm en om hulp roep, weet: Hy ken ons nou, en Hy sal ons dan ook ken en Hy sal weet: dit is sy tortelduif wat bedreig word deur die gedierte wat roof en skeur!

God se verlossingswerk in Jesus, die Christus, kragtens sy verkiesing en verbond is onpeilbaar diep, wonderlik en troosryk.

Die strydende kerk en gelowige wat voor die brullende leeu wat wil verslind staan, weet onse Here hoor.

Hy sien en Hy dink aan sy verbond; ja, doen altyd iets daaraan!

Hy is besig met ons redding!

“Die Heer is goed en wondersterk

Hy sal sy werk deur niks laat keer nie.

Laat my, o Heer wat my bewaar tog nou nie vaar, en nimmer meer nie”!

Amen.

___________________________________________________

Bron: Maak julle roeping en verkiesing vas: preke oor Eksodus 1-24.

___________________________________________________


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: