TOTIUS OOR DIE CHARISMATIESE EN
PINKSTERLERINGE
(5) Die profesie en die gawe van gesondmaking
[Sien die inleiding tot die reeks en deel 1 hier.]
Na alles wat behandel is, sal dit nie nodig wees om by die nou volgende punte lank stil te staan nie. As mens eers die regte insig in die betekenis van die wonder het, dan word die ondergeskikte vraagpunte maklik opgelos.
Die profesie
Die Apostoliese Broeders maak ook aanspraak op die wonder van die profesie. As voorbeeld vir navolging beroep bro. Lake hom op die twaalf manne van Efese wat in vreemde tale gespreek en geprofeteer het (Hand. 19:1-7). Hy gaan selfs verder. Hy wil, blykens die aanhaling in ons eerste artikel, met Petrus en Paulus gelykgestel wees.
Hulle gesigte en openbaringe het hulle ontvang terwyl ‘n “verrukking van sinne” op hulle geval het (Hand. 10:10; 22:17). Dit moet nou (volgens bro. Lake) ook met ons gebeur, op die gevaar af dat ons as “flou” beskou en met ‘n “ambulans” na die hospitaal gestuur kan word. Lees maar weer ‘n bietjie na wat hieromtrent in ons eerste stuk meegedeel word. Uitdruklik word eindelik deur bro. Lake gesê: “Weet u ook van dergelike openbaringe? So nie, soek dan die doop van die Gees.”
Wat was nou hierdie profesie waarvan in die Nuwe Testament sprake is, veral in 1 Kor. 12 en 14? Om hierop te antwoord kan ons nie beter doen nie as om oor te skrywe wat wyle prof. Cachet daaroor in sy verklaring van Paulus se brief aan die Korinthiërs gesê het:
“Onder profeteer moet hier verstaan word: preek, toesprake hou, en wel, so meen ons, deur die buitengewone gawes van die Gees. Hier moet nie juis aan voorspél gedink word nie. Dit is waar, sommige van hier die profete het ook toekomstige dinge voorspél; maar dit was eintlik nie die doel nie. Die doel was die verkondiging van die raad van God. Daar moet nie vergeet word nie dat die eerste gemeentes slegs die geskrifte van die Ou Verbond besit het en dat daar seker heelwat gemeentes was waar selfs hierdie geskrifte weinig bekend was. Buitengewone manne was dus nodig om die gemeentes teen dwaling te vrywaar, en vandaar die gewig van die profesie. Die spreek in tale was meer ‘n teken vir ongelowiges, soos die apostel later sê; die gemeente het daar nie veel aan gehad nie, daarom dan ook dat sodra die kerk uitgebrei het, die buitengewone gawe van die gees opgehou het, en wel die eerste die gawe van die tale.
Die Woord van God het die plek van die buitengewone gawes ingeneem.
Nou hoor mens ook wel in ons tyd van spreek in vreemde tale, maar dit is bedrog of dwepery, en dat hierdie dwepery in ons land sterker word, verbaas ons nie, omdat daar altyd minder moeite gedoen word om die kinders behoorlik in die leer van die Skrifte te onderwys. Die kerk het nie tekens nodig nie. Hy het die Woord, en dit is genoeg. Ook die profesie het opgehou”. (Het Kerkblad, 1 Mei 1909).
Tot sover die kostelike woorde van prof. Cachet. Daaraan kan ons nie veel toevoeg nie. Ons besit die volle Woord. Daarom is die profesie nie meer nodig nie, ook nie die profesie van die Apostoliese Broeders nie, en lg. het dan ook aan die kerk nog niks geopenbaar nie. Aan daardie Woord van God hou ons vas totdat ons sal sien “van aangesig tot aangesig” en sal ken “soos ook ons geken is” (1 Kor. 13:12). Van hierdie heerlike tyd is die N. Testamentiese profesie vir ons ‘n bewys en waarborg.
Die voorspellende krag van die wonder het by die Nuwe-Testamentiese profesie bepaaldelik [spesifiek] hierdie betekenis. Lees dit in verband met wat in die twee vorige artikels gesê is.
Een bedenking wil ons in verband hiermee onder die oë sien. Daar kan teëgewerp word dat profesieë en openbaringe later onder die Camisarde [Camisarde: strydvaardige Calviniste in Frankryk na die herroeping van die Edik van Nantes] in Frankryk gevind is.
Nou is dit nie ons bedoeling om hierdie hele historiese verskynsel te bespreek en te beoordeel nie. Daarvoor is hier nie plek nie. Dis afdoende om mee te deel hoe een van die Camisarde self, naamlik Antoine Court, “die Calvyn van die 18de eeu”, daaroor gedink het. In die Kerkblad van 16 April 1917 het ds. Hamersma ons meegedeel dat Court by sy optrede geëis het dat “daar ‘n einde gemaak moet word aan die fanatisme en profetisme”. “Daar was toe,” so gaan ds. Hamersma voort, “verskeie persone wat voorgegee het dat hulle profete was en van die Here openbaringe ontvang het, soos hulle gesê het. Hulle het die siele laat dwaal. Dit moes nou verbied word dat sulke persone in die vergaderings sou optree.”
‘n Klein sinode wat in 1715 gehou is, het daartoe besluit: “Hulle moes hulle alleen aan die H. Skrif hou en al die openbaringe verwerp waaroor toe soveel gepraat is en wat tog nie grond in die Skrif gehad het nie en wat ook groot misbruike veroorsaak het.”
Tot hiertoe die mededeling. ‘n Mens moet daarom versigtig wees om jou op dergelike verskynsels te beroep, veral nou dat die kerk nie in die nood of onder vervolging verkeer nie. Die Woord van God is vir ons genoeg. As ons dit maar net meer ondersoek! Dan sal allerhande sektes nie so maklik onder ons wortelskiet nie!
En wat, eindelik, die verrukking van sinne betref, wat van die apostels geld, geld hierin nie van ons nie. Hulle sou die openbaring op buitengewone wyse ontvang juis omdat hulle apostels was, d.w.s. hulle moes getuig van wat hulle self gesien en gehoor het. Op hulle getuienis is die kerk gegrond (Ef. 2:20). Toe dan ook in Korinthe in geesvervoering heil gesoek is, het die apostel hom uitdruklik daarteen verklaar deur te sê dat die geeste van die profete aan die profete onderworpe is (1 Kor. 14:32).
Die gawe van gesondmaking
Wat nou die gawe van gesondmaking betref – bro. Lake sê dat hy God kan dank vir al die buitengewone gawes van 1 Kor. 12:8, “veral vir die gawe van gesondmaking”. Dieselfde doen ook al die Apostoliese Broeders. Raadpleeg maar net hulle geskrifte.
Nou wil ons oor hierdie punt nie te veel uitwei nie. Na ons bespreking van die wonders is dit o.i. nie nodig nie.
Ten eerste vra ons dan of ons volk in hierdie opsig nog nie genoeg ondervind het nie. Eers het ons die heer Hazenberg gehad; daarna het ons gehoor van die “gesondbidders” op Klerksdorp en elders; toe is die genesinge van dr. Dowie vir ons aangekondig, gevolg deur die wonders van die “Christian Science”-manne, en eindelik het die mense hulle laat vang deur die “wonderkind” van Barkly-Wes. Hulle het byna almal met die noorderson verdwyn. Sal mense dan nie eindelik versigtiger begin word en met oop oë loop nie?
Ten tweede merk ons op dat dit vir ons reeds duidelik is waarom die wonders van genesing verrig is. Die bedoeling was nie om alle mense, ook nie alle gelowiges, wonderdadig gesond te maak nie. Die huis van Betesda het vol gelê van ‘n menigte siekes, maar net vir één het Jesus gesê: “Wil jy gesond word?” (Joh. 5:6). Epafroditus, die medestryder van Paulus, was siek tot naby die dood (Filipp. 2:27). Waarom het Paulus dit nie voorkom nie? Timotheüs moes ‘n bietjie wyn vir sy maag en herhaalde ongesteldhede gebruik (1 Tim. 5:23). Waarom het Paulus hom nie gesond gebid nie? Ja, Jesus het die mag om dooies lewend te maak. Waarom wek Hy dan nie alle gelowiges dadelik uit die doodslaap op nie?
Hierdie vrae is reeds beantwoord.
Die wonders het gedien as teken en bewys dat daar ‘n tyd sal kom dat daar geen siekes en geen dooies meer sal wees nie (Openb. 21:4). Hulle sê vir ons dat God magtig is om die vloek van die sonde geheel en al weg te neem. Intussen bly die reël dat ons die middele gebruik om só teen die kwaad te stry wat gedurig in ons liggaam indring of reeds ingedring het.
Hiermee sou ons van hierdie onderwerp kan afstap as dit nie was dat enkele ondergeskikte punte nadere toeligting vereis nie. Die volgende word dan nou aan die leser vir noukeurige oorweging aangebied.
1) Die genesinge van Jesus en die apostels word hierdeur gekenmerk dat hulle volkome Die sieke was volmaak gesond. Laat ons nou hiermee vergelyk wat die Apostoliese Broeders doen, en die verskil sal gou genoeg in die oog spring. Só onvolkome is hulle gesondmaking in baie gevalle dat die siekte spoedig weer terugkom en dikwels in ‘n erger graad.
In sy disputasie met wyle ds. S. J. du Toit het die Apost. Br. Van de Wall hierdie verskil probeer bemantel deur te beweer “dat sommige genesinge nie duursaam is nie omdat die geneesde persone weer sondig”. En dan beroep hulle hulle werklik op die woorde van Jesus aan die sieke van Betesda: “Moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie” (Joh. 5:14). Wat ‘n uitvlug! Asof hierdie sieke nie volkome en werklik van dié bepaalde kwaal genees was nie! As die Apostoliese wonders wil doen, dan moet hulle ten minste die toets van die wonders van die Skrif kan deurstaan!
2) Maar, sal opgemerk kan word, daar is dan tog gevalle waar inderdaad van genesing sprake kan wees. Ja, maar hoe is hierdie gevalle? Daar moet naamlik by siekte onderskei word tussen organiese en funksionele By ‘n organiese versteuring kan daar ‘n verandering aangewys word in die selle, dit is die klein deeltjies waaruit die liggaam bestaan (bv. by kanker). By ‘n funksionele versteuring kon die geneeskundige wetenskap tot dusver nie so ‘n verandering van die selle ontdek nie (bv. by kranksinnigheid).
Nou is dit nie bewys dat die Apostoliese Broeders organiese kwale kan genees nie. In verband met hulle lang lys van gesondmakings op Vryheid in 1908 bewerkstellig het ds. S. J. du Toit aan ds. Anderson daar geskrywe. Sy telegrafiese antwoord het hierop neergekom dat al die aan hom bekende gevalle van genesinge ondersoek en onbetroubaar bevind is. – Dit gaan dus daarmee soos met die “Christian Science”-genesinge wat deur ses Amerikaanse dokters ondersoek is.
Hulle verklaar: “Nie een van hulle kon ons een enkele geval wys van die genesing van ‘n organiese kwaal wat deur die geneeskuns as ongeneeslik erken word, soos bv. kanker, nie” (Geref. Maandblad, Febr. 1918, bl. 8).
Laat die Apostoliese Broeders maar ‘n blindgeborene genees of ‘n storm in die natuur stilmaak of ‘n dooie opwek soos Jesus gedoen het. En dan hou ons nog vol om te beweer dat dit nie die reël van ons lewe is nie. God se ordinansie is dat ons die middele moet gebruik. Wie dit nie doen nie, gaan teen hierdie ordinansie in.
3) Die skynbare wondermag van die Apostoliese Broeders moet dus op die gebied van die funksionele versteuringe of sielsiektes gesoek word. En dat hulle hier sukses het, verbaas ons nie. Hoeveel siektes ontstaan nie deur die verbeelding, sodat ‘n bietjie pepermentwater plus die versekering van genesing genoeg is om die sieke te laat herstel nie!
In al sulke gevalle van sielsiektes word hipnose, selfs deur dokters, met sukses aangewend. Hierdie funksionele krankhede of sielsiektes kan soms so erg wees dat ‘n liggaamsdeel ernstig aangetas word. Dit kom selfs voor dat iemand tydelik blind of doof is en dat ‘n skrik of verrassing hom meteen sy gesig of gehoor teruggee. Nog in hierdie oorlog was dit met soldate die geval. Wanneer egter die gehoor- of gesigsenuwees organies versteur is, vind so ‘n genesing nie plaas nie. Daar is dan ‘n atrofie (versterwing) van die senuwees aanwesig, en daarvoor help geen skrik of verrassing nie. ‘n Mens moet dus hier goed onderskei en jou nie deur ‘n eerste en oppervlakkige indruk laat mislei nie.
4) Die gees van die mens kan hom selfs sterk laat geld by organiese kwale. Hier geld die woorde van Salomo: “die gees van ‘n man ondersteun hom in sy krankheid” [Spr. 18:4]. Daar word selfs te min rekening gehou met die invloed van gemoedstoestande op siekteverskynsels. Iemand het, byvoorbeeld, swaar tandpyn; hy gaan na die tandarts, en kyk, die pyn is weg! Die vrees vir die tang is dan erger as die pyn van die tand. Maar daarmee is die tand nog nie gesond nie. Laat die Apostoliese Broeders maar net hierdie bedorwe tand gesond maak!
‘n Mens moet daarom maar baie versigtig wees en jou nie op die dwaalspoor laat bring deur ‘n verwarring van al hierdie verskynsels nie.
5) Met voorliefde beroep die Apostoliese hulle op Mark. 16:17 en 18. Dat hierdie woorde egter nie van hulle geld nie, blyk duidelik daaruit dat hulle net so min as ander mense baie hoef te vrees vir die optel van slange of die drink van iets dodeliks. Die woorde het gegeld van die eerste Christelike sendelinge, wat aan sulke gevare blootgestel was. Die eenmaal gevestigde kerk het hierdie tekens nie nodig nie, soos ons Kanttekening [in die Statebybel] aanwys.
Ons betoog is dus duidelik. Reël vir ons lewe is die wondergenesing nie. Die God van Israel, wat wonders doen, is dieselfde wat ook die middele geskep het. Wie die middele verwerp, eer die Skepper daarvan nie.
En hiermee beëindig ons ons bespreking van die “doop van die Gees” soos dit deur die Apostoliese gedryf word, in die hoop dat Gods Woord meer ondersoek sal word.
Wat die Apostoliese Broeders betref, ons glo nie dat hulle met opset die lidmate van ons Hollandse [Afrikaanse] Kerke wil “verlei” (die woord deur ons korrespondent op bl. 5 gebruik) nie. Ons neem aan dat hulle te goeder trou is. Nietemin is hulle leerstellinge vir die kerk van Christus gevaarlik – rede waarom ons die beweringe van bro. Lake uitvoerig weerlê het.
________________________
Die volledige reeks kan hier gevind word: Totius oor die charismatiese en pinkster leringe
Leave a Reply