Totius oor die charismatiese en pinksterleringe: (4) Wonder van die tale

TOTIUS OOR DIE CHARISMATIESE EN PINKSTERLERINGE

(4) Wonder van die tale

[Sien die inleiding tot die reeks en deel 1 hier.]

Ons het dan gesien wat die betekenis en die doel van die wonders is. Hulle is profesieë van ‘n heerlike toekoms, van ‘n volkome verlossing wat eers kom wanneer Jesus op die wolke verskyn. Juis omdat die wonders egter profesieë is, daarom bly hulle nie. Soos die profete van ouds het hulle ook weggegaan nadat die profesie in woord of teken bekend gemaak was.

Tewens het vir ons geblyk dat die doel van die wonders die vestiging van Christus se kerk op aarde is. As dit plaasgevind het, dan het die wonders hulle werk gedoen en gaan hulle weer weg. Hulle is dan nie meer nodig nie. En God verspil nie sy gawes nie.

Volgens hierdie maatstaf moet nou in die eerste plek die wonder van die tale gewaardeer word. Maar dit doen die Apostoliese Broeders nie. Sonder om ‘n deeglike ondersoek in te stel na die aard van die wonder en die betekenis van die “tale” proklameer hulle albei as reëls vir die kerk van alle eeue.

Die wonder van die tale word selfs hoog gewaardeer. Bro. Lake sê: “Die spreek in vreemde tale is die uitwendige bewys dat die H. Gees besit geneem het van die liggaam van die gelowige.” ‘n Skrywer in die tydskrif De laatste dagen sê dat die spreek in vreemde tale die teken is “wat altyd die doop van die Gees vergesel” (I, bl. 19).

Laat ons nou kyk wat hiervan waar is.

Die Apostoliese beroem hulle maar aldeur op die “spreek in vreem­de tale” – net asof die Skrif nie onderskeid maak tussen wat eers in Jerusalem gebeur het en wat later (bv. in Korinthe) plaasgevind het nie. Wie egter sy Bybel noukeurig ondersoek, sal sien dat net by die Pinksterfees melding gemaak word van die spreek “met ander tale” (Hand. 2:4). Later kom hierdie byvoeging “ander” in verband met die talewonder nie meer voor nie.

By Cornelius, in Efese en in Korinthe vind ons dié uitdrukking nie meer nie. Daar word melding gemaak van die spreek “in vreemde tale” (Hand. 10:46; 19:6; 1 Kor. 12:10; 14:5, 13, 14, 18, 19 en 27), waarby die woord “vreemde” deur die vertalers ingevoeg is. Om dit aan te dui het hulle die woord “vreemde” in skuins (kursiewe) letters laat druk. In die oorspronklike staan dan ook niks anders as “spreek in tale” nie.

Maar daar is nog meer punte van verskil. Om nog net hierdie één te noem: In Jerusalem op die Pinksterfees word nie van ‘n uitlegger melding gemaak nie.

Die vreemdelinge het dadelik verstaan wat deur die dissipels gesê is. Duidelik staan daar in vers 8: “Hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is?” In Korinthe is die spreker in (vreemde) tale nie verstaan as daar nie ‘n uitlegger by was nie (1 Kor. 14:27).

Nou laat ons die vraag daar of die dissipels op die Pinksterdag werklik in ander, vir hulle onbekende tale gepraat het, dan wel of hierdie indruk deur die H. Gees in die ore van die hoorders teweeggebring is. Dit is hier nie van belang nie. Wat nou alleen moet vasstaan, is dat daar in die woorde van die dissipels niks duisters was nie. Inteendeel, in Hand. 2:4 word die werkwoord apophthengesthai gebruik, wat beteken: “jou helder uitdruk”.

Wanneer bro. Lake en die Apostoliese dus hulle vreemde klanke uitstoot met ‘n beroep op die Pinksterwonder, dan antwoord ons: “Julle het dit heeltemal mis; julle klanke is heeltemal onverstaanbaar; julle het ‘n uitlegging nodig; op die Pinksterdag was dit glad nie die geval nie!” Die Apostoliese moet dus van Hand. 2 afstand doen. Daar is vir hulle niks te hale nie.

Maar wat volg daar nou verder uit die vergelyking tussen wat daar in Jerusalem gebeur het, en die verskynsel wat hom in Korinthe voorgedoen het?

Ten eerste dat die spreek in “ander tale” op die Pinksterdag ‘n eiesoortige verskynsel is wat in hierdie vorm nooit weer herhaal is nie, ook nie in die eerste Christelike kerk nie. Dus al weer ‘n bevestiging van ons stelling dat die Pinksterwonder ‘n heeltemal enige plek in die kerkgeskiedenis inneem en nie vir herhaling vatbaar is nie.

Ten tweede dat daar wat die taalwonder betref, reeds in die eerste kerk ‘n duidelike daling te bespeur is. In Korinthe is ‘n uitlegger nodig. As dié nie aanwesig is nie, dan gebied die apostel dat die spreker “in tale” moet swyg (1 Kor. 14:28). ‘n Rede waarom Paulus die spreek “in tale” laer stel as die gawe van die profesie (i Kor. 14:5). Tereg spreek dr. Bavinck daarom van ‘n “verswakking” en “vermindering” vergeleke by wat op die Pinksterdag gesien is (Dogm., III, bl. 568).

Ten derde dat hierdie verswakking en vermindering ons kennelik heenwys na die tyd dat die wondergawes heeltemal sal verdwyn het. Inderdaad het dit gebeur. Die uitnemende geloofshelde van latere tye ‘n Athanasius, ‘n Augustinus, ‘n Luther en Calvyn – het nie een meer “in tale” gespreek nie.

Volgens bro. Lake mis hulle daardeur “die uitwendige bewys dat die H. Gees van hulle liggame besit geneem het” maar dit hinder ons nie. Die wêreld-oorwinnende geloof van dié manne is vir ons in hulle onsterflike werke openbaar. Dit is vir ons oneindig meer werd as die onverstaanbare en daarom onvrugbare klanke van die Apostoliese.

Wat nou meer in besonder die geval van Korinthe betref – ook daarop beroep die Apostoliese hulle tevergeefs. ‘n Mens moet maar op die volgende punte let:

Ten eerste kom in die betrokke gedeelte nie ‘n enkele gebod of bevel voor waaruit bewys kan word dat die kerk van alle eeue geroep is om in “tale” te preek nie. Geen enkele plek kan aangevoer word om te staaf dat die spreek in tale “die uitwendige bewys” is dat die H. Gees van die liggaam van die gelowige besit geneem het nie.

Eerder sê 1 Kor. 13 die teendeel, soos in ons vorige artikel aangetoon is. Wat die apostel bedoel, vat hy in min woorde saam: “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel” (Gal. 5:25). Hoe dié wandel nou moet wees, sê hy vir ons in vers 22, waar die vrug van die Gees omskryf word sonder vermelding van die spreek in “tale”. Die vrug is die uitwendige bewys dat iemand uit die Gees lewe.

Ten tweede is Korinthe vir ons ‘n waarskuwende voorbeeld. Daar het gevalle voorgekom dat die heerlike gawes van die Gees misbruik is. Lees maar 1 Kor. 14:27-40. Deur hulle gejaag na die buitengewone het sommige Korinthiërs wanorde in die gemeente daar gestig. Daarom dat die apostel met die ernstige berisping moes kom: “God is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges” (vs. 23).

In hierdie opsig was Korinthe dus nie ‘n voorbeeld vir die ander gemeentes nie. As so ‘n berisping reeds nodig was in die eerste Christelike kerk, toe die wondergawes nog nagebloei het (vgl. 1 Kor. 14:5), hoeveel te meer moet ons op ons hoede wees!

Ten derde, as die Apostoliese vir ons sê dat ons, sonder uitdruklike bevel, die goeie in Korinthe se voorbeeld moet navolg, dan het ons ons antwoord reg. So ‘n spreek in “tale” deur middel van ‘n uitlegger is vir ons onnodig en daarom oorbodig. Ons besit immers die volle Woord van God. Dit was nie die geval met die gemeente van Korinthe nie. (Kyk hiervoor ons volgende artikel.)

Wat toe nodig was, is vandag nie meer nie. ‘n “Talespreker” en uitlegger kan vir ons niks meer openbaar as wat in Gods Woord beskrywe staan nie. As hulle vir ons iets sê wat nie in Gods Woord te vind is nie, dan verwerp ons dit onverbiddelik. Een van twee dus: öf die uitlegger “openbaar” vir ons iets wat reeds in Gods Woord geopenbaar is – dan is die uitlegging onnodig, óf die uitlegger openbaar vir ons iets wat strydig is met Gods Woord – dan is die uitlegging dadelik verwerplik. Wat het ons dus aan al hierdie moeite en omslag?

Ten vierde moet opgemerk word dat bro. Lake ons ‘n duidelike voorbeeld gee van wat onder punt drie bedoel is. Volgens ons eerste artikel het die Gees deur hom in ‘n vreemde taal gespreek. En dan lui dit verder: “Die mense is gevra om ‘n oomblik in stil gebed te wag op die uitlegging van die besprokene wat daarop gevolg en soos volg gelui het: ‘Christus is die vleklose neerdaling van God in die Mens en die Sondelose opklimming van die Mens in God en die Heilige Gees is die bewerker daarvan.'” Hierop volg die uitroep: “Prys die Heer, Hy is die Christus, die Seun van God. Sy versoening is ‘n ware versoening. Sy bloed reinig van alle sonde.”

Nou is ons opmerking dat bro. Lake se spreek in ‘n vreemde taal hier waardeloos is as dit ooreenkom met sy uitroep: “Prys die Heer” ens., met ander woorde ooreenkom met wat die Skrif ons aangaande die versoening leer. As dit nie dit is nie, dan verkondig hy ‘n dwaalleer. Inderdaad, waar vind mens in die Skrif die leer dat Christus die “opklimming van die Mens in God” is? Kan die Mens in God opklim? Ons het in die Skrif so iets nie gelees nie. Inteendeel, soos hierdie woorde daar staan, laat hulle dink aan die gevaarlike dwaalleer van die Panteïsme (die leer dat alles God is en God word).

Dit is vir ons dus duidelik dat die Apostoliese hulle sonder grond op die voorbeeld van Jerusalem en Korinthe beroep. En hiermee gaan ons dan nou tot ‘n meer stellige bewysvoering oor. Dit kan kort wees, aangesien in ons vorige artikel uitvoerig uiteengesit is wat die doel van die wonders in die H. Skrif is.

Wat daar gesê is, moet nou net op die wonder van die tale van toepassing gemaak word.

Waarom het die Pinksterdag, die geboortedag van die kerk, met die “spreek in ander tale” begin? En waarom het hierdie wonder sy flouer skynsel ook in Korinthe en elders geopenbaar? Die rede lê voor die hand.

Deur die sonde is die taal van die mense verwar. Sedert die toringbou van Babel verstaan hulle mekaar nie meer nie. En dit het so gebly tot vandag toe.

Maar kyk, nou breek daar op die Pinksterdag ‘n oomblik aan dat mense, vergader uit 15 soorte volke, wel die taal van die dissipels verstaan. Hoe dit gebeur het, sal ons nooit volkome kan verklaar nie. Dit bly ‘n wonder. Maar die betekenis van die feit is volkome duidelik.

Die talewonder van die Pinksterdag is ‘n profesie en voorsmaak van die tyd wanneer alle ware gelowiges sal aansit aan die bruilof van die Lam en mekaar sal verstaan. Op Pinkster word die gebrokenheid van die tale vir ‘n oomblik opgehef om vir ons te sê dat daar eenmaal ‘n einde aan die spraakverwarring sal kom. Hierdie tyd sal kom. Daarvoor is die wonder vir ons die pand en bewys.

Maar hierdie tyd is volgens God se bestel nog nie daar nie. Daarom dat God weer die wondergawe van die tale wegneem. Hy doen dit, sodat ons gelowig sou wag op die dag dat ons ‘n taal sal spreek wat alle gesaligdes verstaan.

Hoe ‘n mens die saak ook al wend of draai, dit kom altyd weer neer op wat die kerk van alle eeue na waarheid bely het – ‘n belydenis wat kort en goed onderskeid maak tussen gewone en buitengewone gawes. Hierdie laastes het, na die planting van die kerk en volgens die bestel van die Here, weer van ons af weggegaan.

________________________

Volgende keer: Die profesie en die gawe van gesondmaking

Die volledige reeks kan hier gevind word: Totius oor die charismatiese en pinkster leringe

One thought on “Totius oor die charismatiese en pinksterleringe: (4) Wonder van die tale

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: