Totius oor die charismatiese en pinksterleringe: (1) Die doop van Johannes, die Christelike doop en die doop van die Gees

TOTIUS OOR DIE CHARISMATIESE EN PINKSTERLERINGE

(1) Die doop van Johannes, die Christelike doop en die doop van die Gees

Inleiding
Met die ‘charismatiese herlewing’ pogings wat die Angus Buchan beweging nou weer op die voorgrond geplaas het, is dit goed vir gereformeerde gelowiges om opnuut te ondersoek wat ons glo volgens die Skrif, veral oor die plek en rol van die Heilige Gees, die doop van die Gees, wonderwerke, gesondheidswonders, praat in tale, ens.

Gereformeerdes is baiemaal onkundig daaroor, terwyl dwalinge oor hierdie sake al baiemaal deur ons gereformeerde voorvaders vanuit die Skrif weerlê is.

In aansluiting by wat ek in ‘n vorige skrywe reeds aanbeveel het om te lees (Bronne oor die charismatiese groepe), wil ek ook Totius se artikels oor hierdie onderwerpe aan u bekendstel.

Hy het reeds in 1918 ‘n reeks geskryf onder die titel “Die Doop van die Gees: ‘n Bestryding van die leerstellings van die Apostoliese Geloofsending” (Versamelde Werke, deel 6, 1977-uitgawe, bl. 328-353)

In die reeks spreek hy die volgende sake aan:

  • Die doop van Johannes, die Christelike doop en die doop van die Gees
  • Die wonder van die uitstorting van die Gees
  • Wonderwerke
  • Wonder van die tale
  • Profesie en die gawe van gesondmaking

In die komende dae gaan ek hierdie onderskeie onderwerpe hier plaas. Ons begin met die doopkwessie.

DIE DOOP VAN JOHANNES, DIE CHRISTELIKE DOOP EN DIE DOOP VAN DIE GEES 

‘n Bestryding van die leerstellings van die “Apostoliese Geloofsending”. A. H. Koomans Beperk, Potchefstroom. 1918.

[Hierdie geskrif het oorspronklik as ‘n reeks artikels in Het Kerkblad van 1 Maart, 1 en 15 April, 1 en 15 Mei en 1 Junie 1918 verskyn, waarna dit, saam met ‘n verhandeling van dr. S. O. Los oor “De Christelike doop” en met ‘n voorwoord deur (toe) ds. J. A. du Plessis, as ‘n brosjure verskyn, waarvoor die oorspronklike setsel van die Kerkblad gebruik is. Die feit dat dit oorspronklik ‘n artikelreeks was, verklaar die baie verwysings en herhalings. Die stuk is deur ons uit Nederlands vertaal.]

Die standpunt van bro. Lake

‘n Traktaatjie, getiteld De doop des Heiligen Geestes, is deur ‘n leser van die Kerkblad aan ons gestuur. In ‘n begeleidende skrywe sê die broeder: “Ingesluit stuur ek u ‘n toespraak gehou deur een van die leiers van die Wederdopers, om sodoende die vernaamste punte waarmee hulle so baie lede van die Protestantse kerke verlei, onder u aandag te bring.

“Baie beleef versoek ek u om daarteen ‘n uitgebreide artikel te skryf wat op al die besonderhede ingaan.

“Vernaamlik die sterk punt wat hulle aangevoer het waarom die werk van die ‘Heilige Gees’ nie meer in die kerk so sigbaar is soos in die apostoliese tyd nie. ‘n Bewys wat hulle neem om te beweer dat die Protestantse kerke vals is, en hierdie sekte neem daagliks toe.”

Die toegesonde traktaatjie word omskryf as “‘n toespraak van bro. Lake oor die Doop van die Heilige Gees”. Daarvan gee ons hieronder ‘n uittreksel ten einde eers aan ons lesers voor te lê wat bro. Lake nou eintlik leer. Die Apostoliese het (ten minste so ver aan ons bekend) geen duidelik geformuleerde belydenis nie. Op die agterkant van genoemde traktaatjie word slegs sewe punte heel kort aangegee. Ons moet dus by ‘n enigsins uitvoerige beoordeling op die gevoelens van enkele persone afgaan – iets wat ons taak nie makliker maak nie.

Hierin onderskei die Gereformeerde Kerk hom al dadelik van hierdie rigting. Die Geref. Kerk het sy belydenis. Elkeen kan dit lees en sien wat hy voorstaan en wat hy bely. By die “Apostoliese” moet ons egter soek en tas. Betreffende die “Doop van die Gees”, byvoorbeeld, word ons taamlik sleg ingelig, sodat ons nie alleen moet let op wat gesê word nie, maar ook op wat voortvloei uit wat gesê is. Selfs mag wat verswyg word, ons aandag nie ontgaan nie.

Wat hier onder volg, is dan ‘n verkorting van die gepubliseerde toespraak van bro. Lake. Omdat die traktaatjie egter deur die “Aposto­liese Geloofsending” gepubliseer en versprei is, moet ons aanneem dat dit ‘n min of meer amptelike karakter dra. Die leser moet asseblief daarop let dat dit bro. Lake is wat nou spreek, d.w.s. dit is sy eie woorde, in sitaat (net verkort) weergegee. Hierdie keer volstaan ons daarmee. Aan die einde volg slegs enkele hoofpunte, waarin o.i. die geskil saamgetrek is. Bro. Lake het die gevoele van die “Apostoliese” soos volg kenbaar gemaak.

“Die Openbaring bereik sy toppunt onder die Christelike Bedéling. God in die mens! Want die Doop van die Heilige Gees is die werklike inkom van die Derde Persoon van die Drie-eenheid om in die mens te woon.

“Soos die Christelike Bedéling al die ander oortref en in die skadu stel, so moet die ware Christen al die ander oortref. Hy moet nie net vergewe word nie, maar deur Christus se bloed van die sondige aard verlos word en van die bose neiging wat hom laat oortree. Hierdie reiniging van die ‘aangebore sonde’ bestaan in die proefondervindelike wegneem van uit ons boesem van die begeerte tot sonde. Alle gemeenskap met die sonde is verbreek. Hierdie inwendige reiniging wat Johannes en Jesus van die dissipels geëis het voordat hulle iemand wou doop, is ook die noodwendige voorbereiding tot die Doop van die Heilige Gees. Christus het ons verlos van die vloek van die wet, terwyl Hy vir ons ‘n vloek geword het. Ons moet deur die bloed van Christus berei word tot ‘n woonplek van God. Efesiërs 2:22.

“Die persoonlike kom van die Heilige Gees tot die menslike bewussyn is die toppunt van God se openbaring in die geskiedenis! Sy koms was net so sigbaar en kenbaar as Christus se koms. Lukas 2:9-13. Net so is die koms van die Gees aangedui deur ‘die gedaante van ‘n duif, Lukas 3:22 en ‘uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind’ en deur ‘verdeelde tonge soos van vuur’. Hand. 2:2, 3.

“Die uitstorting van die Gees behoort nie net tot die Bedéling nie, maar die ontvang van Hom in die hart moet wees ‘n persoonlike ondervinding van elke Christen wat ‘gewag’ het om toegerus te word met krag uit die hoogte. Die eerste Pinkster ondervinding word gegee in Hand. 2. ‘En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek met “ander tale” soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.’ Die Heilige Gees spreek deur ons. (Hier het die Gees deur bro. Lake in ‘n vreemde taal gespreek. 1 Kor. 14:2. Die mense is gevra om ‘n oomblik in stil gebed te wag op die uitlegging van die besprokene [gesprokene?] wat daarop gevolg en soos volg gelui het: ‘Christus is die vleklose neerdaling van God in die Mens en die Sondelose opklimming van die Mens in God en die Heilige Gees is die bewerker daarvan.’)

“Ons neem die tiende hoofstuk van die Handelinge van die Apostels. Cornelius sien ‘n gesig. Twee van sy huisbediendes en ‘n vroom soldaat word na Joppe gestuur vir Petrus. Petrus het op die dak geklim om te bid. Oor hom val ‘n verrukking van sinne. Hy sien ‘n gesig. Stel u net voor die grote Petrus in ‘n verrukking van sinne. As ek op die oomblik in ‘n verrukking van sinne sou val, hierdie gehoor sou ongetwyfeld beweer dat dit ‘n floute was. Terwyl Petrus oor die gesig nagedink het, het hy ‘n boodskap deur die Gees ontvang.

“Petrus het die drie na Cesarea vergesel. Hy het die Evangelie verkondig. Die hele geselskap is in die Heilige Gees gedoop, ‘en die gelowiges wat uit die besnydenis was, was verbaas dat die gawe van die heilige Gees ook op die heidene uitgestort is’, vers. 45. Hoe het hulle geweet dat hulle in die Heilige Gees gedoop is?

“‘Want hulle het gehoor hoe hulle met vreemde tale spreek en God groot maak’, vers 46. Hierdie heerlike Heilige Gees diens het geëindig in ‘n waterdoop van hulle wat al reeds gedoop was in die Heilige Gees.

“In die negende, twee en twintigste en ses en twintigste hoofstukke van die Handelinge lees ons ‘n verslag van die bekering van Paulus. Ten einde die volle krag van hierdie gebeurtenis te verstaan, moet ons ontdek waar hy sy kennis van die Evangelie verkry het. Is dit aan hom meegedeel deur die ander Apostels? Nee, dit is aan hom geopenbaar in gesigte en verrukking van sinne. Hy het sy kennis onmiddellik van die verheerlikte Christus self ontvang.

“In Hand. 22:12, deel Paulus mee hoe Ananias hom besoek het. Hoe het Ananias geweet dat Paulus daar was? Hierdie raaisel word opgelos in Hand. 9:10,19. En nou deel die Heer aan Ananias mee wat Paulus gesien het. ‘En het in ‘n gesig gesien dat ‘n man met die naam Ananias ingekom en hom die hand opgelê het, sodat hy weer kon sien.’ Hand. 9:12. In die volgende vers spreek Ananias met die Heer. Weet u ook van dergelike openbaringe, sulke gemeenskap en gesprekke met God? So nie, soek die doop van die Heilige Gees, wat die eerste Christene. ontvang het en hulle kennis en ondervinding sal u s’n wees. Ons word gevra: Waarvandaan kry julle ‘n insig in Gods Woord? Ons antwoord: waar Petrus en Paulus dit ontvang het, van God deur die Heilige Gees. Ananias het gegaan soos die Heer hom gebied het en het Paulus gevind. Hy het die hande op hom gelê en Paulus het gesien en is gedoop in die water en deur die Heilige Gees en het in vreemde tale gespreek ‘meer as julle almal’. 1 Kor. 14:18.

“Wat is ‘n verrukking van sinne? Hand. 22:17, 18. Daar heers die gees oor verstand en liggaam, en die persoon is vir ‘n rukkie onder die beheersing van die gees. Ons onkunde omtrent geestelike openbaringe is so groot dat selfs godsdiens leraars sulke ondervindinge en toestande aan die duiwel toegeskryf het. Laat ons nou bietjie ondersoek wat die toestand en omstandighede was waarin Paulus verkeer het toe hy sy opdrag tot die Evangelie bediening gekry het. Kyk Hd. 26:16-18. Paulus het sy opdrag tot die Prediking van die Evangelie ontvang toe hy op sy aangesig gelê het langs die pad na Damaskus, toe hy die aanskouer was van die mag en heerlikheid van Christus in die skynende lig. As ons nou iemand sou sien lê langs die pad en met iemand ‘onsigbaar’ spreek, ons sou in ons onkunde haastig stuur vir die ambulans of polisie. Hier het Paulus egter sy aanstelling as ‘n prediker en Apostel tot die Heidene ontvang. Hand. 26:18, 19.

“Hieruit kan ons enigsins verstaan die werking van God in hulle wat onder die mag van die Heilige Gees kom. En nou, geliefdes, is die Heilige Gees in die kerk vandag? Sekerlik, maar sê u, ons sien hom nie so werksaam nie. Waarom? Omdat u sê hierdie dinge behoort tot die Apostoliese dae. Kan u êrens in Gods Woord vind dat die gawes van die Gees van die kerk van Christus teruggetrek is? Daar staan geen skriftuurplek om dit te bewys nie, maar ons lees wel: ‘Die genadegawes en die roeping van God is onberoulik.’ Rom. 11:29. Ek het in verskil­lende lande gepreek, en met een uitsondering, was daar geen leraar wat my die nege Gawes van die Gees kon opnoem, wat in 1 Kor. 12:8, vermeld word nie. Die nege Gawes van die Gees is: (1) Wysheid; (2) Kennis; (3) Geloof; (4) Gawes van Gesond makinge; (5) Werkinge van die kragte; (6) Profesie; (7) Onderskeiding van die Geeste; (8) Verskillende tale; (9) Uitlegging van die tale. Ek dank God vir al hierdie heerlike Gawes van die Gees veral vir die gawe van Gesondmaking. Mag ons almal Christus leer ken nie net as ons Verlosser nie, maar ook as ons Heiligmaker en Heelmeester.

“Geliefdes, ons sien hoe die Heilige Gees na die Gemeente gekom het op die Pinksterdag en dat dié gawes nog gevind word, hulle bestaan vandag nog, maar deur gebrek aan geloof ontvang en beoefen ons hulle nie. Die Apostoliese Geloof Sending staan die ontvang van die Heilige Gees deur ‘n persoonlike Doop in Hom voor, en ‘n ‘toegerus word’ met krag. Ons word gevra: ‘maar wat is vreemde tale?’ Die spreek in vreemde tale is die uitwendige bewys dat die Heilige Gees besit geneem het van die liggaam van die gelowige.

“Volgens Hand. 2:4 het honderd en twintig in vreemde tale gespreek. In Hand. 19:1-7, het Paulus twaalf manne in Efese gevind wat in die doop van Johannes gedoop was. Hy het hulle weer gedoop in die naam van die Here Jesus en toe Paulus hulle die hande opgelê het het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in vreemde tale gespreek en geprofeteer.

“So dan, die vreemde tale is tot ‘n teken, nie vir diegene wat glo nie, maar vir die ongelowige.” 1 Kor. 14:22.”

Tot sover bro. Lake se uiteensetting.

In ons volgende stukke hoop ons om met die bespreking van die doop van die Gees voort te gaan en sal dan probeer om bostaande te ontwar en op die volgende vraagpunte te let:

  1. Wat is die doop van die Gees en wat is die Christelike Doop?
  2. Is daar slegs een uitstorting van die H. Gees, of word die Gees gedurig, tot vandag toe, uitgestort?
  3. Hoe moet ons die buitengewone gawes en ampte van die eerste Christelike kerk verstaan?

Die doop van Johannes, die Christelike doop en die doop van die Gees

In ons eerste artikel was bro. Lake aan die woord om vir ons te sê wat die “Apostoliese Geloofsending” onder die doop van die Gees ver­staan. Verskillende punte is toe deur hom genoem. Om hulle grondig te kan ondersoek en aan Gods Woord te toets moet eers geantwoord word op die vraag: Wat is die doop van die gees en (in verband daarmee) wat is die Christelike doop?

Die “Apostoliese Geloofsending” leer dat die doop van die Gees met die daarby behorende wondertekens die deel moet wees van elke gelowige afsonderlik, ook in ons tyd.

Bro. Lake sê: “Die uitstorting van die Gees behoort nie net tot die Bedéling nie, maar die ontvang van Hom in die hart moet wees ‘n persoonlike, bewuste ondervinding van elke Christen wat ‘gewag’ het om toegerus te word met krag uit die hoogte.” En weer: “Weet u ook van dergelike openbaringe (soos met Paulus gebeur het), sulke gemeenskap en gesprekke met God? So nie, soek die doop van die Heilige Gees, wat die eerste Christene ontvang het en hulle kennis en onder­vinding sal u s’n wees.”

Eindelik sê bro. Lake: “Die Apostoliese Geloofsending staan die ontvang van die Heilige Gees deur ‘n persoonlike Doop in Hom voor en ‘n toegerus word met krag. Die spreek in vreemde tale is die uitwendige bewys dat die Heilige Gees besit geneem het van die liggaam van die gelowige.” Telkens word dan deur bro. Lake verwys na wat gebeur het met die gelowiges op die Pinksterdag, met Cornelius, met Paulus en met die twaalf manne in Efese.

Wat is nou volgens die Skrif die doop van die Gees?

In Matt. 3:11 sê Johannes die Doper: “Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat na my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur” (kyk ook Mark. 1:8 en Luk. 3:16).

Vanself doen hierdie ander vraag hom hier voor: Wat is die doop van Johannes?

Laat ons dit nou eers ondersoek.

In die Ou Testament tref ons as teken van die verbond die besnydenis aan. Dit was ‘n seël van twee weldade: (1) die geregtigheid van die geloof of vergewing van die sondes (Rom. 4: n) en (2) die besnydenis van die hart of die wedergeboorte (Deut. 10:16; 30:6; Rom. 2:28, 29; Kol. 2:11). Toe die Jode nou deur hulle werke die saligheid wou verdien, het hulle ondanks hulle uitwendige besnydenis doemwaardig voor God geword (Rom. 3:21).

Om dit aan die volk duidelik voor te stel, het God aan Johannes bevel gegee om met water te doop. Die doop van Johannes was dus ‘n goddelike instelling. ‘n “Woord van God” het tot Johannes gekom (Luk. 3:2, 3); hy was “gestuur” om te doop (Joh. 1:33); sy doop was nie uit die mense nie maar uit die hemel (Matt. 21:25). Hierop moet ons let, om die doop van Johannes nie tot iets minderwaardigs te verlaag nie. Bro. Lake verklaar Hand. 19:1-7 eenvoudig asof die “doop van Johannes” ‘n herdoop deur die H. Gees geverg het, sonder om hierdie plek nader te ondersoek of die betekenis van Johannes se doop nader in die lig te stel.

Ook die manne van die Pinkstersending (‘n aanverwante sekte, wat ook in ons land bekend is) spreek in dieselfde trant. Om die nie-geldigheid van die kinderdoop te bewys beroep ‘n skrywer in hulle tydskrif die Laatste dagen hom op dieselfde geval. Hy sê: “‘n Doop wat aan glo voorafgaan, geld nie … Hierdie doop (van Johannes) het hulle geloof in Jesus voorafgegaan. Eers daarna het hulle geglo, en daarom was hulle doop nie van krag nie en het Paulus hulle gedoop.”

Hy sê verder: “Hulle doop (nl. van die 12 manne in Efese) was voordat hulle geglo het. Daarom het Paulus hulle weer gedoop. . . . Al was die doop van Johannes uit die hemel, en al was Jesus self in dié doop gedoop, tog was so ‘n doop ongeldig waar dit die glo in Jesus betref.” Tot sover die skrywer in die Laatste dagen (I, no. 1, bl. 23).

Op Hand. 19:1-7 kom ons netnou terug.

Ons wil nou net in die lig stel dat die doop van Johannes ‘n goddelike instelling was, sodat daar by alle graadverskil tog ‘n wesenlike gelykheid bestaan het tussen die Johanneïese en die Christelike doop. Hierdie uiteensetting is nodig om te laat sien hoe ook hierdie sektes, wat hulle by voorkeur op los tekste van die Skrif beroep, nie ‘n oog het vir die groot gang van die openbaring en die ooreenstemming van die Skrifte nie.

Die doop van Johannes was in die eerste plek ‘n protes teen die optrede van die hooghartige Jode. Maar hierdie doop was in die tweede plek ook ‘n bewys dat daar vir die boetvaardige vergewing by God is. Dit was die “doop van bekering tot vergewing van die sondes”, net soos die Christelike doop later ‘n doop sou wees “tot vergewing van die sondes” (Hand. 2:38). Verder moet opgemerk word dat Jesus self deur Johannes gedoop is, dat van Jesus se herdoop nêrens sprake is nie, dat Hy nie ‘n onderskeid gemaak het tussen die doop wat deur sy dissipels bedien is, en die van Johannes nie (Joh. 3:22, 23; 4:1), en dat Hy die dissipels wat deur Johannes gedoop is, nie herdoop nie. (Joh. 1:37). Daarom dat ons Gereformeerde vaders geleer het dat in Matt. 28:19 nie ‘n nuwe doop ingestel is nie. Wat reeds bestaan het, is nou op Christus se bevel na alle volke uitgebrei, en so kom ons by die Christeli­ke doop.

Die Apostoliese Broeders het nie die reg om somaar die herdoop van die Johannesdissipels aan te neem nie. In die Evangelies vind hierdie voorstelling nie die minste steun nie. En dit is baie opmerklik.

Maar hoe moet Hand. 19:1-7 dan verstaan word?

Paulus vind in Efese enkele manne wat in die doop van Johannes gedoop is. Deur Paulus beter ingelig aangaande die werk van Johannes (vers 4), is hulle gedoop in die naam van die Here Jesus (vs. 5), terwyl die H. Gees na die handoplegging op hulle kom: “en hulle het met tale gespreek en geprofeteer” (vs. 6). Uit hierdie laaste blyk dat by “Heilige Gees” sprake is van dié buitengewone gawe van die Gees, net soos in hfst. 8:15. Hierdie gawe het die manne in Efese nie ontvang nie. Die doop het nie altyd hierdie gawe gegee nie. In Hand. 8:15 lees ons tog dat die gelowiges in Samaria wel gedoop was “in naam van die Here Jesus” maar die H. Gees nie ontvang het nie. Hulle het dit eers verkry deur handoplegging van die apostels.

Dat die manne van Efese voor die handoplegging in die naam van die Here Jesus gedoop is, verklaar dr. Bavinck soos volg:

“Paulus moet die doop wat hulle ontvang het, nie as ‘n ware, egte doop erken het nie. Die doop van Johannes was wel goed, want hy het die doop van bekering tot geloof in Christus gedoop (vs. 4). Maar onder die dissipels van Johannes wat by hom gebly en nie na Jesus oorgegaan het nie, het daar allerhande dwalinge ingesluip, ook aangaande die doop; en so moes die dissipels in Efese nie opnuut nie maar vir die eerste maal in Jesus se naam gedoop word, want hulle doop tot [?] die naam van Johannes was nie ‘n ware doop nie” (Dogmatiek, IV, bl. 547).

In dieselfde trant spreek dr. Kuyper, wat meen dat ons hier met ‘n “valse sekte” van Johannesmanne te doen het (E voto, II, bl. 509).

Ons sluit ons by hierdie verklaring aan, omdat dit hierdie alleenstaande plek in ooreenstemming bring met wat die Skrif ons op verskillende ander plekke en op duidelike wyse aangaande die doop van Johannes leer – in hierdie geval die enigste gesonde reël van Skrifverklaring.

Dat ons by hierdie plek effens uitvoerig stilgestaan het, is omdat die Apostoliese en Pinkstersendelinge hulle daarop beroep vir húlle Geestesdoop, húlle wederdopery en húlle besondere gawes van tale en profesie. Hier is egter vir hulle hoegenaamd nie steun nie. Hier is nie ‘n nuwe uitstorting van die Gees nie maar slegs ‘n mededeling van sy gawe. Hier is nie ‘n herdoop nie maar ‘n vir die eerste maal in die naam van Jesus gedoop word. Hier is nie sprake van die gewone nie maar van die buitengewone gawes van die Gees. Hierdie punte sal die een na die ander nader afgehandel word.

Wat tot hiertoe vir ons geblyk het, is dat die doop van Johannes en die Christelike doop nie teenoor mekaar staan nie. In Matt. 28:19 brei Christus net eersgenoemde tot al die volkere uit. Die een vloei dus in die ander oor, wat tot vandag toe in die kerk as Christelike doop bedien word. Daarop kom ons terug as die goeie reg van die kinderdoop verdedig sal word.

Maar wat is dan nou die betekenis van die doop van die Gees?

Ons het Johannes die Doper reeds hoor sê:. “Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop” (Matt. 3:11). Waarop sien dit? Sonder enige twyfel is die antwoord: op die Pinksterdag. Jesus sê immers vir sy dissipels dat hulle nie van Jerusalem moes weggaan nie, “maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van Hom gehoor het; (en met duidelike terugwysing op die woorde van Johannes) want Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word nie lank na hierdie dae nie” (Hand. 1:4, 5).

Johannes stel dus nie sy doop teenoor die Christelike nie. Albei is waterdope en albei verseël die vergewing van die sondes en die vernuwing van die lewe. Nee, Johannes stel sy doop teenoor die oordragtelik of figuurlik so genoemde doop van die Heilige Gees, wat die kerk op Pinksterdag sou ontvang.

Die Christelike doop gaan deur van eeu tot eeu en word aan elkeen persoonlik bedien, terwyl die figuurlike Pinksterdoop eens en vir altyd op die Pinksterdag plaasgevind het, en wel vir die hele kerk. Dit was en is die belydenis van die Christelike kerk. Daarvoor het hy die vaste grond van Gods Woord onder sy voete.

Die Apostoliese wil egter die Pinksterdoop, deur hulle die doop van die Gees genoem, uitbrei tot alle tye en tot elkeen persoonlik. Daardeur word deur hulle feitlik ‘n gedurige uitstorting van die H. Gees, ‘n hom gedurig herhalende Pinksterwonder geleer.

Kyk, dit is die punt waar hulle van die Christelike kerke afwyk. Dit is die geskilpunt waarop by die bestryding van die “Apostoliese” skerp gelet moet word.

Ons gevolgtrekking tot dusver is dus:

(1) Dat daar geen rede bestaan om laag neer te sien op die doop van Johannes nie as ‘n doop “voordat mens glo” (soos die Pinkstersending doen); die doop van Johannes is feitlik dieselfde as die Christelike doop.

(2) Hierdie Christelike doop, wat dieselfde verseël, nl. vergewing van sonde en vernuwing van die lewe, het Christus tot alle volke en persone en tye uitgebrei; die kerk is dus geroepe om te alle tye en elkeen afsonderlik met die Christelike doop te doop.

__________________
Volgende keer: Die wonder van die uitstorting van die Gees

Die volledige reeks kan hier gevind word: Totius oor die charismatiese en pinkster leringe

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: