ONS VERLOSSING DEUR CHRISTUS IS VANUIT
DIE EWIGHEID BELOOF DEUR DIE VADER
Lees: Titus 1:1-5 en 2:11-15
Teksvers: “Paulus, ‘n dienskneg van God en ‘n apostel van Jesus Christus, volgens die geloof van die uitverkorenes van God en die kennis van die waarheid wat na die godsaligheid is, in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het” – Titus 1:1,2
Preekopname (GK Carletonville, 2017-04-16):
Aflaai: Titus 1:1-5 (deel 1) – regs kliek en dan ‘save as’
Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Deur wie en waar is oorsprong, van ons gemeenskaplike geloof,
soos Paulus dit daar noem in vers 4?
Wanneer het ons christelike geloof,
wat ons ook hier bely, elke Sondag begin, en deur wie?
Het dit alles eers begin toe Jesus gebore is as mens op aarde uit die maagd Maria?
Of dalk toe Moses die wet ontvang het op die berg Horeb?
Of was dit dalk toe God met Abraham en sy nageslag die genadeverbond gesluit het?
Of dalk reg in die begin van die geskiedenis, met Adam en Eva
Wel, geliefdes, al daardie belangrike gebeure, elkeen met sy doel en plek,
is en was nie die oorsprong van ons gemeenskaplike Christelike geloof nie.
Ons wil vanoggend opnuut hoor dat ons geloof gaan terug,
en het sy oorsprong in die Here, God Drie-enig self voor die grondlegging van die wêreld.
Dit wat ons in die besonder hoor daar in vers 2,
“in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het”
En ons wil daaruit opnuut leer, dat
1 die sekerheid van ons geloof nie lê in onsself en ons eie kragte en werk nie, maar in God se wonderlike raadsplan van redding van sy kerk, sy uitverkorenes.
2 Dit gee ons ook die troos dat sy reddingsplan deur die hele geskiedenis nooit maar nooit sal misluk nie, omdat die Here nie kan lieg nie, Hy sal sy geliefdes elkeen red.
Ons tema is dus, as ons die Woord verkondig uit hierdie eerste vier verse:
ONS VERLOSSING DEUR CHRISTUS,
IS VAN EWIGHEID AF BELOWE DEUR DIE VADER
Paulus skryf hierdie brief aan sy seun in die geloof, Titus, v. 4.
Hy het vir Titus agtergelaat op die eiland Kreta om die kerk wat daar begin het, deur Paulus se sendingwerk, verder te organiseer, sien v. 5
Hy moet ouderlinge aanstel om die kerke te lei en te regeer,
sien die res van hoofstuk 1, maar dan ook die gemeente verder toe te rus
met God se Woord sodat hul in die woorde van 1 Tim. 3:15,
sal weet hoe hul hul moet gedra in die huis van God,
en as kinders van God lewe in hul verskillende roepinge en take,
dit sien ons in hfst. 2 en 3.
Maar dit is nou belangrik om te let op hoe begin Paulus hierdie brief,
geinspireer deur die Gees van God, aan Titus,
en deur Titus aan die gemeente,
(en natuurlik ook vir die kerk, gelowiges vir alle eeue, ook ons vandag).
Paulus begin deur sy naam te noem, en dan wys hy op drie sake:
1 Eerstens, in wie se diens hy staan, en aan wie hy self behoort, nl. aan die Here, aan God self.
Hy is ’n dienskneg van God, hy behoort aan die Here, nie aan homself
of iemand anders nie.
Soos ’n Jakob, Moses, Josua en David voor hom, saam alle gelowiges, die kerk dus, is hy ook ’n dienskneg van God, ’n slaaf van God, totaal toegewy aan sy Meester.
2 Tweedens, wys Paulus daarop dat hy ’n apostel is van Jesus Christus.
Apostel wys op een wat geroep is, en gestuur word om sy Meester,
om Christus se wil bekend te maak, nie sy eie nie.
In Hand 9 lees mens van daardie unieke roeping van Paulus.
Hoe die Here hom in die besonder uniek, saam die ander aspostels geroep het met ’n unieke eenmalige gesag om God se wil aan ons te openbaar.
En nou, heel konkreet, as Paulus die brief so begin,
dan sê hy vir Titus, maar dus ook die ouderlinge en die gemeentes
in Kreta, maar dus ook deur die hele kerkgeskiedenis,
met watter gesag hierdie brief en sy inhoud na hulle toe kom.
Dit is die woorde van die Here deur sy apostel,
dit kom met die Here se gesag, en moet so aanvaar word.
So het Paulus, saam met die ander Apostels daardie unieke
eenmalige buitengewone amp gehad,
totdat die kerk gevestig was, en daar later niks anders oorgebly het
as die gewone besondere ampte van leraar, ouderlinge en diakens
en natuurlik almal wat in die amp van gelowige is nie.
Konkrete toepassing vir ons tyd:
daar is glad nie meer buitengewone Apostels nie,
die Apostel kerke is dwalends,
en daar is ook nie meer Apostels wat die Here stuur nie,
ook nie hulle wat meen die Here stuur hul nou in die besonder
om SA te red deur groot samekomstes en aksies en tekens en wonders nie.
Die Here spreek deur sy Woord en Gees,
en regeer deur die ouderlinge soos ons sien hier Paulus leer (v. 5 ev, sien ook 1 Tim. 3 en 5)
3 Die derde saak waarop Paulus dan wys, is die doel van sy
diensknegskap aan die Here, en sy apostelskap van Christus,
en dit lees ons in die tweede deel van vers 1 (lees):
Dit behels twee sake wat onlosmaaklik verbonde is aan mekaar:
En hier moet ons let op ’n paar vertaling kwessies van vers 1.
Die doel van Paulus se hele roeping en bediening,
is “ter wille van” die geloof van die uitverkorenes,
en die kennis van die waarheid “wat lei” tot godsaligheid.
Die OAV is heeltemal reg volgens die oorspronklike woorde,
maar daardie woorde ‘volgens’ en ‘wat na’ ….,
beteken en kan moontlik nog duideliker vertaal word,
as dat Paulus daar sê, die doel van sy bediening
is dat hy as instrument van God gebruik word,
om die uitverkorenes van die Here tot geloof te bring onder al die volke.
En dan as vrug en gevolg van hierdie redding in Christus,
volg dan ’n lewe volgens die waarheid,
waarin die Evangelie wesentlike sentraal is,
wat as vrug het ’n godsalige lewe,
’n lewe wat – en dit is waarop die woord godsalige dui –
die uitverkorenes nou weer in eerbied en ontsag vir die Here lewe.
Wat die eerste aspek betref, kyk hoe stel Paulus sy roeping en bediening
ook daar in 2 Tim. 2:10,
Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid.
En wat is die vrug van die redding betref, ’n heilige godsalige lewe,
dit het ons gelees daar in Tit. 2:11-15:
die reddende genade leer ons om nou hoe langer hoe meer godsalig te lewe, die sondes al meer af te lê en heilig te lewe …. ywerig in goeie werke!
En nou kom Paulus in vers 2, en gee die fondament,
EN HIERDIE IS NOU BAIE BELANGRIK OM RAAK TE SIEN
die oorsprong van die uitverkorenes wat tot geloof sal kom
reg deur die geskiedenis soos die Here bepaal, elkeen op sy tyd, klein en groot
en godsalig sal lewe, dit hoor ons daar in vers 2 (lees).
Die hoop van die ewige lewe, wys op ons redding
wat ons reeds in beginsel nou ontvang deur die wedergeboorte,
maar dit wys ook heen na om by God self te woon eendag
as die wederkoms plaasvind, die volkomenheid gekom het
en die ewige geluksaligheid volkome aanbreek.
Dit het ons ook daar gelees in Tit. 2:13 (lees)
Maar, waarin is die ewige lewe (wat alles van ons geloof verteenwoordig) gegrond, waar het dit sy oorsprong ?
Vers 2: in die Here self wat nie kan lieg nie, en wat Hy van ewigheid beloof het.
Anders gesê: wat Hy voor die tyd bepaal het, vasgestel het, verorden het, sy goeie raadswil.
Kyk hoe stel die Skrif dit op ander plekke, van die Here se besluit vanuit die ewigheid wat die geskiedenis bepaal, dus dat die Here reeds voor die grondlegging van die wêreld sy uitverkorenes, sy kerk, sy gelowiges se redding bepaal het:
6 Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. 7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. – Psalm 2
4 Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. – Psalm 110
4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, 5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, 6 tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. – Efesiërs 1
9 wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is – 2 Tim. 1
Op grond van hierdie en ander verse,
het die kerk van Christus bely wat ons noem die ‘vrederaad’ van God,
of verbond van verlossing wat gemaak is tussen die Persone van die Drie-eenheid, in die besonder die Vader en die Seun van God,
voor die grondlegging van die wêreld, om ’n volk deur die geskiedenis
te red en te heilig tot sy eer in Christus,
wat die Heilige Gees bewerk en toepas in die tyd.
(sien die aanhaling hier onder die preek oor die ‘vredesraad van God’ deur prof PJS De Klerk).
En Paulus wil Titus, en elke gelowige, en elke prediker en evangelis
en ons vandag bemoedig en versterk ook met hierdie woorde.
Dat ons ook sal besef die kerk is die Here se plan,
dit sal nie misluk nie, want Hy kan nie lieg nie, v. 2 (sien Hebr. 6:18),
Hy bly getrou (1 Kor. 1:9).
Hy sal red en sal heilig wie Hy van ewigheid verorden het as sy kinders.
Maar, hierdie reddingsplan, wat Christus volbring het aan die kruis,
moet nou toe gepas word deur die hele geskiedenis,
en dit vind plaas deur die Here se Gees en Woord.
En dit is wat Paulus dan ook daar op wys in verse 3,
… en op die regte tyd sy woord bekend gemaak het …
en wat hy Paulus nou verkondig, en Titus moet verkondig,
en die kerk deur die eeue moet verkondig,
EN ONS MOET VERKONDIG.
Wat is bekend gemaak op die regte tyd ?
Die vervulling van al God se beloftes van die OT in en deur Christus
Die OT se uitverkorenes het dit nie gesien nie (1 Petr. 1:10-12),
hulle het die evangelie gehad maar in skadus en heenwysings,
en het geglo en is gered deur wat Christus sou kom doen (HK v/a 19).
Nou, dus met Christus se koms is alles vervul, dit is volbring
die beloftes is vervul, die realiteit is nou eens en vir altyd hier.
Nou moet die Woord, die Belofte, orals tydig en ontydig verkondig word,
omdat die liefde van Christus ons dring,
omdat ons lief is vir ons naaste wat verlore is,
ons wil hê die getal van die uitverkorenes moet vol raak,
ons wil God eer,
maar ook, omdat ons Koning en Verlosser ons beveel,
kyk daar in vers 3: ooreenkomstig die gebod van God.
En as dankbare kinders omhels ons nou sy gebod aan ons,
is dit nie vir ons ’n las nie.
Kyk hoe stel Paulus ook sy roeping daar in 1 Kor. 9:16,
Want as ek die evangelie verkondig, is dit vir my geen roem nie; want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!
Geliefdes, volgende keer gaan ons verder, en wil ons veral let op die belangrike verhouding tussen ewigheid (v. 2) en tyd (v. 3), die vredesverbond en die genadeverbond, ons moet dit regtig goed verstaan,
om die evangelie met krag en liefde te kan verkondig.
Vandag leer ons opnuut van die wonderlike wete en troos,
die Here se reddingsplan lê vas en seker in sy raadsplan,
in sy vredesverbond, vredesraad,
en daarom juis kan ons en moet ons met passie die evangelie orals
verkondig asook die gelowiges toerus met die waarheid wat lei tot die
godsaligheid.
Net ’n laaste toepassing of oproep uit ons teks, v. 3
Aan Paulus is die evangelie toevertrou,
kyk net die groot erns wat hy daarmee gemaak het.
Ook aan ons, aan almal is die evangelie in die amp van gelowige toevertrou,
as ouers, as doopouers, as ouderlinge en kerkraad,
wat maak ons daarmee ?
In die komende preke gaan ons juis daarop let wat die Here van ons vra,
as ons kyk na hfst. 2 en 3.
Maar om saam te vat,
kom ons luister opnuut na die woorde van Tit. 2:11-15 (lees)
Amen.
_________________________
Die Vrederaad
deur prof. PJS De Klerk
(Bron: Die Kosbare Goud (Gereformeerde Geloofsleer), deur predikante van die Gereformeerde Gemeentes in Suid-Afrika, bl.61,62)
Die hele terrein van die sedelike lewe staan onder die raad van God. Dit wil nie sê dat daar ‘n skeiding is tussen die natuurlike en die sedelike wêreld nie. Nee, Gods raad gaan oor alle dinge, ook oor die sedelike en ook oor die ewige. Die mens is met sy sedelike vryheid en verantwoordelikheid opgeneem in die raad van God. Hy het selfs die sonde in sy raad opgeneem, maar Hy is nie die outeur of werkende oorsaak van die sonde nie. Hy maak selfs die sonde diensbaar aan sy glorie.
Nadat ons nou oor die raad van God in die algemeen gehandel het, kom ons tot die beskouing van sy raad in enger sin. Ons het gesien dat die algemene raad van God, waarin alles beslote lê, hom verwerklik in die tyd deur die voorsienigheid. Die naam predestinasie egter is ook gebruik vir al die besluite van God omtrent alles wat in die tyd sal geskied. Hier val predestinasie saam met die raad van God. Tog dink ons by predestinasie gewoonlik aan daardie deel van sy raad wat betrekking het op die ewige staat van sy redelik-sedelike skepsele. Die predestinasie is dus die ewige besluit, wat tot voorwerp het die ewige wel en wee van sy redelike skepsele, van mense en engele.
Hierdie predestinasie val dan in twee dele uiteen: die uitverkiesing tot die lewe en die verwerping tot die verderf. Op die uitverkiesing gaan ons hier nie verder in nie, omdat daaroor in ‘n afsonderlike verhandeling gehandel word. Hier wil ons net daarop wys dat die uitverkiesing die spesiale toepassing van die raad van die Here is, wat betrekking het op ons ewige staat en op die middels wat daartoe lei.
Onder uitverkiesing verstaan ons die besluit van God, waarin Hy ‘n sekere menigte mense van ewigheid af tot die ewige lewe bestem het. Hierdie raad, waarin die barmhartige God sy uitverkorenes aanwys, die Borg en Saligmaker bestel en alle middels van die genade bepaal, word genoem die raad van versoening, die vrederaad, die heilsraad of die raad van behoudenis. “God het ons in Jesus Christus uitverkies voor die grondlegging van die wêreld” (Efes. 1:4). “God het ons van die begin af verkies tot verlossing deur heiligmaking van die Gees en deur geloof in die waarheid” (2 Thess. 2:13).
En die apostel getuig in 2 Tim. 1:9 dat God ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade, wat ons geskenk is in Christus Jesus van ewigheid af. Duideliker kan dit seker nie gestel word nie. Wil u dit nog duideliker hê, luister dan verder na die apostel. Hy sê in Efes. 1:5, 6 dat God ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Hom aan te neem. Hy het ons begenadig in die Geliefde, in wie ons die verlossing deur sy bloed het. Hierdie raad (besondere raad), waarin die ewige verkiesing van die uitverkorenes vaslê en waarin die verordinering van die Middelaar en alle middels van die genade vasgestel is, is die vrederaad. Hierdie vrederaad is also die raad waarin die drie persone van die drie-eenheid in die ewigheid besluit tot die werk van die verlossing.
Soos die algemene raad van God hom deur die voorsienigheid verwerklik in die tyd, so verwerklik die vrederaad hom ná die sondeval in die genadeverbond. Die geheim van die ewige verkiesing word ontsluier deur die toebrenging tot die saligmakende geloof, tot kragdadige bekering in die hede van die genade: slegs hulle kom tot die saligmakende geloof wat in die raad van God verordineer is tot die ewige lewe. In die heils- of vrederaad is besluit tot hul saligheid, en in die genadeverbond word die saligheid in die praktyk van die godsaligheid uitgewerk. Uit die vrederaad vloei die waters van die lewe op die bedding van die genadeverbond.
Hoe heerlik is die vrederaad! Dis ‘n peilloos-diepe gedagte dat ons in Christus uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld. En daarom is daar alleen op hierdie fondament vaste hoop op ‘n ongestoorde vreugde in die ewige saligheid. Deur die goddelike eenheid van die raad van die welbehae en die vrederaad is dit die evangelie: “My raad sal bestaan en al wat My behaag, sal Ek doen.”
Nog net een gedagte. Sommige noem die vrederaad die vredeverbond van God drie-enig met die Middelaar, in onderskeiding van die genadeverbond van God met die uitverkorenes. Ons verkies liewer om te spreek van een genadeverbond, waarin ons dan onderskei tussen die verwerwing van die heilsweldade deur Jesus Christus, wat Hoof en Middelaar van die verbond is, en die toepassing van daardie heilsweldade deur die Heilige Gees. Die verwerwing van die saligheid begin in die ewigheid, en die toepassing neem ‘n aanvang in die tyd en het onderskeie bedelinge. In die genadeverbond mag die gelowiges nooit een enkele oomblik buite Christus beskou word nie.
In die vrederaad stel die Vader die eis van voldoening vir die bedrewe kwaad van die uitverkorenes, die Seun bied Hom gewillig aan as Borg en Middelaar vir hulle wat die Vader aan Hom gee, en die Heilige Gees sal die genadewerk toepas en verwerklik in die verloste uitverkorenes. Die drie persone besluit elkeen na sy goddelike werk. Dit vind sy oorsaak in die verbondsverhouding waarin die drie persone lewe.
Ten slotte wil ons net daarop wys dat ons hier in verband met die raad van die welbehae en die vrederaad verborge dieptes het, waarop ons nie verder kan ingaan nie. Ons het net te doen met dinge wat God aan ons aangaande sy raad geopenbaar het. En al verstaan ons sy gedagtes nie, tog wil ons met Dawid uitroep: “Hoe kosbaar is vir my u gedagtes, o God!”