“Foutiewe teorieë oor die waarheid veranker die waarheid nie in God nie, maar in die mens of die wêreld. Die gevolg hiervan is dat die waarheid betwyfel of verwerp word, of dat dit as iets subjektief opgevat word, of dat daardeur die verstand (of rede) van die mens tot afgod vervals word. Foutiewe vryheidsteorieë veranker ewe-eens menslike vryheid nie in God nie, maar in die mens. Hiervolgens handhaaf sommige dat die mens sy vryheid aan homself en sy eie-aard alleen te danke het, d.w.s. dat die grond van menslike vryheid in die mens self rus; ander egter handhaaf dat waar die mens nie hierdie soort vryheid deelagtig kan wees nie, hy daarom ʼn speelbal moet wees van blinde aardse kragte of van onvernietigbare aardse wette of selfs van die noodlot..” -HG Stoker
Dit is vandag Vryheidsdag, 27 April 2017. Die wêreld beloof ‘n valse vryheid wat vreemd is aan die Christelike geloof. Iemand kan alle soort van burgerlike en politieke vryheid besit, maar nog steeds ‘n slaaf orals wees. Aan die anderkant is daar hulle wat die vryheid wat ons in Christus deur die geloof ontvang het, glad nie in verband wil bring met die totale lewe waarin die Here ons geplaas het nie.
Ek plaas graag prof. dr. HG Stoker se besinning oor ware vryheid hier vir verdere besinning, soos dit in die Kerkblad verskyn het in 1944 en verder. Hy wys op al die valse vryheidsbeloftes en waar ware vryheid gevind word: die waarheid (Joh.8:32-36; 14:6; 17:17).
DIE WAARHEID MAAK VRY
deur prof. HG Stoker
Die Kerkblad 22 September 1944:14
In ons tyd, die tweede kwart van die 20e eeu, word die mite op ʼn besondere wyse verheerlik en as voorwaarde van en waarborg vir vryheid aangeprys. Hierteenoor moet ons stel dat nie die mite nie, maar die waarheid vry maak en dat die mite verslaaf.
Gewoonlik word onder mites verstaan verhale van primitiewe volke oor helde, halfgode en gode uit die pre-historiese tydperk. Hierdie verhale behandel die oorsprong van die wêreld van die gode en van die mense; hulle beeld bonatuurlike en allerhande onredelike gebeurtenisse uit; maar in hulle kom in ʼn wesentlike sin godsdienstige lewens- en wêreldbeskouinge tot uitdrukking.
As egter iemand soos prof. Hepp die Evolusieteorie as ʼn mite bestempel, — en heeltemal tereg ook! – dan word aan die woord “mite” ʼn ruime betekenis geheg. In hierdie verhandeling sluit ons ons by so ʼn ruimer betekenis van die woord aan en verstaan ons onder mites nie net die godsdienstige verdigsels van primitiewe volke nie, maar enige soort van religieuse verdigsel waardeur die mens (ook in ons tyd) die dieper sin en doel van sy oorsprong, bestaan, bestemming, doen en late vertolk.
In ons tyd hoor ons van die Fascistiese mite van die herlewing van die oud-Romeinse Imperium, van die Nasionaal-Sosialistiese mite van die rassuiwer en bloedbepaalde volksaard en volksbestemming en ons sou die Bolsjewistiese (deur ekonomiese kragte en wette gewaarborgde) utopieë of toekomsparadys ook wel ʼn mite kon noem. Ons hoor dat dit nie saak maak of dergelike mites waar of vals is nie, solank daar maar in hulle geglo word, want deur die geloof kom die inspirasie en dadekrag.
Dat hierdie mens van die 20e eeu in mites glo, is nie van hom tiperend nie, want in elke eeu glo die mens daaraan. Wat egter wel van hom tiperend is, is dat hy hierdie geloof aan die mite verheerlik en hom opsetlik en doelbewus tot die mite-geloof beken. (Dat hierdie mite-geloof bowendien ʼn geloof aan ʼn nuwe sosiale orde impliseer, laat ek in hierdie verband daar). Die 18e-eeuse rede-aanbidder (of rasionalis) en die 19e-eeuse verheerliker van die sogenaamde neutrale (en eksakte) wetenskap (of positivis) beskou dit as vernederend vir die mens om aan mites te glo, omdat sy rede die waarheid moet beheers en sy wetenskaplike tegniek die natuurlike oorsake van alle dinge moet opspoor. Beide besef egter nie dat ook hulle self mites aanvaar, eersgenoemde die mite van die selfgenoegsaamheid (en dus goddelikheid) van die rede en laasgenoemde die mite van die selfgenoegsaamheid (en dus goddelikheid) van die sogenaamde neutrale natuurwetenskap. So ook het die Liberalis, in die vorige eeu geglo aan die mite van die wonderlike soewereiniteit van die menslike individu, wat self vry en seigneuraal moet besluit wat hy sal glo en wat nie en hoe hy sal handel en hoe nie.
Wie kuns, politieke mag, geld, sekslus, sedelikheid, of wat ook al tot die eintlike en dus diepste sin en doel van die lewe maak, maak van al dergelike verskynsels afgode en hierdie afgodiese singewing aan die lewe word mites sodra ʼn groep mense dit gesamentlik aanvaar. Want tiperend vir alle mite-vorming en vir alle invloed van die mite op die menslike lewe is ook dat dit sosiaal van aard is omdat die mite as sodanig ʼn sosiaal-religieuse funksie het.
So het elke eeu sy mites. Maar al hierdie mites wortel in die eerste plek met sy valse profesie waarvolgens die mens tot God verhef word, soos die mitiese beloftes van die slang in die paradys dit stel.
En tog, al is die mite sosiaal-religieuse verdigsel, put dit tog ook uit die algemene openbaring van God. Daar sou van geen mite krag kon uitgaan, as dit uit louter leuen bestaan het nie. Die mite gryp (aangepas aan die betrokke tydsomstandighede) ʼn brokstuk waarheid uit, wat dit oordrywe en in ʼn valse lig stel. Daarom mag ons in ons kritiek op die mite sy waarheidskern nie uit die oog verloor nie, veral nie as ons die krag wat van hom uitgegaan het wil verstaan en sy rol in ʼn bepaalde historiese tydsgewrig as deel van die verwesenliking van die Raadsplan van God wil begryp.
Die mite het nie net ʼn sosiaal-religieuse funksie nie; dit gee nie net ʼn religieuse waardering van wat was en daardeur van wat is en sal wees nie; sy religieuse singewende boodskap is bowendien nie bewysbaar nie en gaan die verstand van die mens te bowe. Daarom moet aan die mite kinderlik en onkrities geglo word. Sodra op die mite kritiek uitgeoefen word, verloor dit sy bekoring en gaan van hom geen krag meer uit nie. Die mite eis vir sy invloed ʼn kritieklose oorgawe aan sy sin, aan die koers en rigting wat hy vir die lewe van die mens bepaal. Waar daardie oorgawe bestaan, waar aan die mite geglo word, gee die mite aan die lewe van die mens besieling, idealisme en wek dit (veral in krisisse ryp aan nuwe moontlikhede) nuwe durf en daadkrag. Die geloof aan mites maak helde.
Wie die bostaande analitiese omskrywing van die mite noukeurig gevolg het, sal wel toestem dat die mite in die laaste instansie ʼn surrogaat (plaasvervanger) is vir die besondere openbaring van God en dat die geloof aan die mite by die ongelowige die geloof aan Gods Woord vervang.
As daar dan van die geloof aan die mite krag kan uitgaan, terwyl dit verdigsel is, hoeveel te meer nie van die geloof aan Gods besondere openbaring, wat tog waarheid is? Maar wat vir ons van fundamentele belang is, is dat die krag wat van die waarheid uitgaan vrymakend is, terwyl die krag wat van die mite uitgaan verslawend is.
Hoe moet ons dit verstaan en hoe moet ons op grond hiervan teenoor die mite staan? Dit vorm die kernvraag van hierdie voordrag.
Die Kerkblad 6 Oktober 1944:12,13
Om te verstaan wat met die stelling “die Waarheid maak Vry” bedoel word, sal ons eers moet vasstel wat onder “Waarheid” verstaan moet word, vervolgens wat “Vryheid” beteken en eers daarna kan aangetoon word hoe die Waarheid vry maak.
Min vrae het deur die eeue, in teorie en praktyk, soveel belangstelling geniet as juis die vraag wat “Waarheid” is. Maar op min vrae is ook soveel uiteenlopende, botsende en verwarrende antwoorde gegee as op hierdie een. Dit loon die moete om enkele van die antwoorde te behandel. Want ook deur te verstaan waarom verkeerde antwoorde foutief is, leer ons insien in watter rigting die suiwer antwoord gesoek moet word.
Waarheid bestaan nie. Daar is nie so iets soos Waarheid nie. Dit beweer die Nihiliste. As daar geen waarheid sou wees nie, dan kan hierdie beweringe van hulle ook nie waar wees nie. Waarom doen hulle dan nog die moeite om te beweer dat daar geen waarheid is nie?
Ons moet daaraan twyfel of Waarheid bestaan. As iets hom as waarheid aanbied, moet ons betwyfel of dit wel waarheid is. Dit handhaaf die Skeptisiste. Natuurlik twyfel hulle self nie aan die waarheid van hierdie beweringe van hulle nie. As hulle dit tog sou doen, moet hulle hul standpunt prysgee. As hulle egter, soos hulle dan ook daadwerklik doen, hulle beweringe vir waar hou, weerspreek hulle hulself. Nie waar nie?
Waarheid mag bestaan, maar ons weet nie of dit die geval is nie. As waarheid sou bestaan sal ons dit nie kan ken nie. Dit onderskryf die Agnostisiste. Hulle moet egter vir hierdie oortuiginge van hulle ʼn uitsondering maak. Want anders mag hulle selfs dit nie vir waar hou nie. Glo hulle egter aan hulle beweringe, spreek hulle hulself teë. Nie so nie?
So blyk die weg van die Nihiliste, Skeptisiste en Agnostisiste bewandel, vir hulle self taamlik glibberig te wees en uiteindelik tot vernietiging van hul eie standpunte te lei. Ons handhaaf egter teenoor hulle, en wel op grond van Gods besondere en algemene Openbaring, dat waarheid bestaan, glo en vashou.
Waarheid is subjektief. Nes bv. iets vir my mooi, maar vir jou lelik is – nes bv. dit vir my goed, maar iets anders vir jou goed is – nes bv. iets vir jou aangenaam, maar vir my onaangenaam is – en nes bv. dit vir my nuttig, maar iets anders vir jou nuttig is – so ook is vir my dit waar en vir jou iets anders waar. So hou elke mens (en elke groep van mense) sy eie waarheid daarop na. Vir die Protestant is dit waar, vir die Katoliek dàt, vir die Mohammedaan weer iets anders en vir die Boeddhis nog iets anders. So ook is vir die Liberalis dit waar, vir die Kommunis dàt, vir die Fascis weer iets anders en vir die Nasionaal-sosialis nog iets anders. So het elkeen sy eie waarheid, en dit maak geen saak dat die waarheid van die een die waarheid van die ander weerspreek nie. Want waarheid staan in diens van die mens en is net subjektief geldig; die waarheid bestaan nie onafhanklik van die mens nie en het geen objektiewe nie, maar slegs subjektiewe betekenis. Dit is die oortuiging van die Subjektiviste.
Onder die Subjektiviste is daar een belangrike groep waarop ons in besonder die aandag wil vestig. Hulle is die Pragmatiste. Hulle handhaaf dat waar is wat bevrediging gee. Alles wat nuttig is, alles wat suksesvol is, alles wat vir die mens dienstig is, alles wat die belange van die mens behartig – bevredig die mens en is daarom waar. Aan dit wat jou bevredig, moet jy glo. Solank hierdie geloof van krag bly, is dit waar – en verloor dit sy krag, dan word ʼn ander geloof nodig. Elkeen moet dan ook volgens sy eie geloof lewe en salig word en deur die bevrediging wat dit gee, sy geloof waar maak.
M.i. is dit wel die mees moderne opvatting van waarheid, en sluit dit die beste aan by die teenswoordige verheerliking van die mite. Want dit waaraan jy glo, omdat dit bevredig, is ten slotte maar jou mite – en hoofsaak is hier, dat jy daaraan glo, daargelate of dit (in ons betekenis van die woorde) waar of vals is. Want op die bevrediging, die nut, die sukses wat die geloof bied, kom alles aan. Wat jy met jou geloof uitrig, die suksesse wat jou geloof waarborg en gee, bepaal vir die Pragmatis die waarheid van jou geloof. ʼn Onvrugbare geloof is waardeloos, d.w.s. waarheids-loos.
Dit is ʼn baie bekoorlike beskouing wat ons in twee vorme aantref. Die Individualistiese Pragmatisme handhaaf dat waar is wat die enkeling bevredig en wat vir hom nuttig is; die Sosialistiese Pragmatisme (soos die Fasciste en die Duitse Nasionaal-Sosialisme) handhaaf dat waar is wat die belange van ʼn groep (van die staat, van die volk, resp.) dien. Beide vorme het ʼn subjektiewe opvatting van waarheid; vir die eerste is die subjek die enkeling en vir die laaste is die subjek ʼn groep mense (bv. die staat of die volk).
Teenoor die Subjektiviste handhaaf ons, dat die waarheid nie in diens van die mens staan nie, maar die mens in diens van die waarheid. Vervolgens dat al moet die waarheid deur ʼn subjek geken word, dit as waarheid onafhanklik van die mens bestaan en dus objektief, bo, teenoor en buite hom staan. Verder dat nie alles wat my bevredig en in my belang is (of wat my volk of my staat bevredig en in sy belang is), waar is nie – maar inteendeel, dat my belang en die belang van my volk en van my staat deur die waarheid bepaal moet word, deur die waarheid gelei moet word, aan die waarheid onderwerp moet word, die waarheid moet dien en deur die waarheid beoordeel en geoordeel sal word. Daarom sê ons teenoor die Pragmatiste: nie wat vrugbaar is, is waar nie, maar omgekeerd, wat waar is, is vrugbaar. Want die waarheid sal seëvier.
ʼn Interessante beskouing van die waarheid is ook die volgende:
2 + 2 = 4. Dit is so, nie waar nie? Maar hoekom is dit so? Dit is die geval omdat die mens nie anders kan dink nie, as dat 2 + 2 = 4 is. Dit is m.a.w. denknoodwendig. Ons moet so dink. Hoekom móet ons so dink? Omdat die verstand (of die rede) van die mens dit vir hom sê. Wat nou jou verstand (of rede) vir jou sê dat jy móet dink, d.w.s. wat denknoodwendig is, is waar. Waarheid is dus denknoodwendigheid. So redeneer die Rasionaliste.
Die Rasionaliste maak die waarheid afhanklik van die menslike verstand (of rede); hulle verhef die menslike verstand (of rede) bo die waarheid. Maar hulle maak sodoende die menslike verstand (of rede) selfgenoegsaam, d.w.s. hulle maak dit tot ʼn afgod. Daarteenoor handhaaf ons dat die menslike verstand (of rede) slegs ten dele kan ken en die waarheid moet volg en dien en nie uit eie soewereine mag oor die waarheid beskik en kan beslis nie.
Die volgende voorbeeld stel skerp wat ons hiermee bedoel. My verstand (of rede) kan nie bepaal of so iets soos wonder bestaan nie en kan nog minder wonders verklaar. Want wonders gaan juis die menslike verstand (of rede) te bowe. Wie egter (soos die Rasionaliste doen) sy verstand (of rede) daaroor wil laat beslis of wonders bestaan en kan bestaan (of wanneer wonders aanvaar word) die wonders deur sy verstand (of rede) wil laat verklaar, moet sodoende die bestaan van wonders verwerp of (wat dieselfde is) hul eie-aard en wese wegverklaar en wegredeneer. Hy móet dit doen, omdat die wonders (soos die Heilige Skrif hulle ons leer ken), nie deur die menslike denke begryp kan word nie, d.w.s. omdat die wonders juis die teenoorgestelde van Rasionalistiese denknoodwendigheid is.
Dieselfde geld vir alle waarhede, wat die menslike verstand te bowe gaan. Waarheid is dus nie hierdie soort van denknoodwendigheid nie. Dit is nie denke wat oor die waarheid beskik en beslis nie, maar die denke moet in diens van die waarheid staan, ook van daardie waarheid wat die menslike denke te bowe gaan. Die Rasionaliste span eintlik die kar voor die perd. Want 2+2 = 4 is waar, nie omdat dit denknoodwendig is nie, maar dit is denknoodwendig omdat dit waar is. Dit is ons opvatting van denknoodwendigheid, nl. dat wat waar is, deur ons verstand (en rede) aanvaar móet word, of dit nou ons verstand (of rede) te bowe gaan of nie. Daarom is vir die gelowige wonders denknoodwendig; hulle is volgens Gods Woord waar en móet daarom aanvaar word, al kan ons hulle nie verklaar nie.
Verwant aan hierdie standpunt is die van sommige Idealiste. Volgens hulle is waarheid logiese samehang, d.w.s. samehang van denke, samehang van die werklikheid, konsekwensie van denke en konsekwensie van bestaan. Die waarheid van die denke en van die werklikheid word daaraan geken, dat dit ʼn logiese eenheid is, wat homself nie weerspreek nie.
Ook hier word die kar voor die perd gespan. Want wat waar is, hang saam, maar nie alles wat saamhang is waarheid nie. Bv. die wêreldbeeld van Satan is ʼn leuen, maar sou tog kon saamhang en ʼn logiese eenheid vorm. Bowendien maak hierdie Idealiste die fout dat hulle die logiese denke (die gees van die mens, die idee) tot maatstaf van alle denke en dus tot afgod maak.
Ten slotte nog een teorie in hierdie beknopte bloemlesing van waarheidsteorieë, nl. die sogenaamde ooreenstemmingsteorie, wat ons veral by Kritiese Realiste aantref en wat baie Calviniste ʼn een of ander vorm ook huldig. Hiervolgens bestaan waarheid in ooreenstemming tussen begrip en ding, tussen gedagte en iets werkliks, tussen denke en syn. As die mens oor die werklikheid nadink dan het ons twee gegewens, nl. die werklikheid en die gedagtes daaroor. Hierdie twee moet ooreenstem. Waarheid is dan hierdie ooreenstemming.
Ware denke is ʼn denke wat met die werklikheid (en met alle openbaringe van God) ooreenstem. Dis korrek. Maar waarheid is meer as net dit. Waarheid bestaan onafhanklik van die denke, bo, teenoor en buite die mens; dit bestaan in die werklikheid; dit bestaan in God; hierdie waarheid moet die mens lei; die mens moet die waarheid dien. Om al die redes mag ons die waarheid nie beperk tot ooreenstemming van denke en syn nie. Bowendien moet ook nog onderskei word tussen waarheid en syn en tussen waarheid en werklikheid.
Wat dan is waarheid?
Hierbo het ons die mees bekende teorieë oor waarheid geskets, en aangetoon wat waarheid nie is nie. Nou kom die vraag, wat waarheid dan wel is aan die orde.
Die Kerkblad 3 November 1944:12,13
WAT DAN IS WAARHEID?
Laat ons eers op die woord “waarheid” let. Want waarheid is prima facie (met die eerste oogopslag) ʼn woord. ʼn Woord is ʼn waarneembare teken, – ʼn simbool, met ʼn betekenis. Die betekenisse van woorde verander met die tye. Die woorde het dus in elke taal ʼn geskiedenis. Die geskiedenis van die woord “waarheid” in die verskillende tale, werp ʼn interessante lig op ons probleem, nl. wat waarheid is.
Ons woord “waarheid” het ʼn Germaanse oorsprong en het dieselfde wortel as die Duitse woord “bewähren”. Hierdie geskiedenis dui aan dat waarheid dit sou kan wees wat standhou, wat die proef deurstaan, wat die gevare trotseer.
Die Engelse woord “truth” het uit die Anglo-Saksiese woord “treoth” (wat trou, getrouheid beteken), ontwikkel. Hierdie geskiedenis dui aan dat die ware die troue, die getroue sou kan wees.
Die Latynse woord “veritas” staan waarskynlik in verband met die Indo-Germaanse stam “ues”, wat aandui dat waarheid oorspronklik kon beteken : die synode (dit wat is), die wesentlike (dit wat wesentlik bestaan). Insover “veritas” met “vereor” (ek vrees) kon saamhang, sou waarheid kon beteken : die vreeswaardige (by ons bekend deur die uitdrukking : “die vrese van die Here”), die eerbiedwaardige.
Die Griekse woord “alêtheia” bestaan uit die negatiewe voorvoegsel “a-“ (d.w.s. “nie-“) en “letheia” (afgelei van “lanthanoo”, ek dek toe, ek verberg). Hierdie geskiedenis dui aan dat waarheid sou kan wees : die nie-toegedekte, die oopgedekte, die ont-dekte, d.w.s. die geopenbaarde.
Die Hebreeuse woord vir waarheid beteken “vastheid”.
So gee die geskiedenis van die woord “waarheid” in die verskillende tale waardevolle vingerwysings van wat waarheid sou kan wees. Hierdie vingerwysings of aanduidinge is geen vaste bewys nie, maar hulle betekenis mag nie onderskat word nie, omdat die geskiedenis van woorde ʼn wonderlike rykdom van intuïtief-menslike wysheid tot uitdrukking bring, ʼn wysheid wat die kern van ʼn saak dikwels beter raaksien as baie ingewikkelde en abstrakt-geleerde teorieë oor hierdie saak. Maar met meer as vingerwysings het ons hier nie te doen nie.
Hierdie vingerwysings van wat waarheid sou kan wees, openbaar dat die waarheid ingewikkeld en samegesteld is, dat die waarheid vanuit meer as een aspek besien kan word en dat elke volk ʼn bepaalde aspek van die waarheid uitgryp en in sy woord vir waarheid vaslê. Dat elke volk ʼn ander aspek van die waarheid in sy benaming van die waarheid tot uitdrukking bring, hang waarskynlik saam met die nasionale eie-aard en karakter van die betrokke volk. Want die verskil in keuse van benaming van dieselfde saak by verskillende volke geskied nie toevallig nie.
In elk geval dui bogegewe vingerwysings aan dat die Waarheid sou kon wees : die Standhoudende, die Getroue, die Wesentlik bestaande, (of die Eerbiedwaardige), die Geopenbaarde, en die Vaste. En eienaardig genoeg is dit nog altyd die bepalinge van waarheid wat die mens intuïtief aanvoel as hy op sy waarheidsbesef af sou wil vasstel wat onder waarheid verstaan moet word.
WAT DAN IS WAARHEID?
Dat waarheid onafhanklik van die mens bestaan en in die skepping gegee is en dat hierdie waarheid heenwys na God, Skepper van hemel en aarde, daarvan getuig Gods Woord en die lig wat hierdie woord op Sy skepping werp.
Die dinge en gebeurtenisse rondom ons is nie toevallig daar nie; hulle is nie sinloos nie. Hulle het ʼn dieper doel en ʼn dieper sin as wat met die eerste oogopslag die geval skyn te wees. Wat is die eintlike wese van die dinge en wat is die eintlike doel van die gebeurtenisse? Hul wese en doel word geken aan die sin, die diepere betekenis van die werklikheid. Hierdie sin wys heen na sy Oorsprong, na God. Wat die wêreld geskape het en daarin die dieper sin gelê het. God het aan die dinge hul wese en aan die gebeurtenisse hul doel, aan die hele skepping sy bestemming gegee. Dit is hierin wat ons die waarheid van die skepping moet soek en vind. Die waarheid van die skepping is uiteindelik maar ʼn openbaring van die waarheid in God. Vir die Christen is dan ook alle waarheid van die wêreld in God veranker. Bavinck stel dat God Die Waarheid is. In verhouding tot die mens sou ons egter kan sê dat die waarheid die openbarende daad van God in Sy Woord en in Sy Werke, die skepping is. Want die waarheid is meer as sin (wese, doel en bestemming van die wêreld); dit is die singewende krag wat die werklikheid met betekenis en waarde vervul. Die waarheid is ʼn daad, ʼn openbarende daad van God, wat as ʼn krag tot die mense uitgaan en nooit ledig terugkeer nie. Die waarheid sal dan ook as krag seëvier.
Die waarheid van die wêreld, dit wat God met die wêreld bedoel en beoog is onveranderlik en staan vas, – maar dit staan nie stil nie. Want in verhouding tot die mens in die wêreld neem dit van eeu tot eeu toe, namate God Sy wil en weg in die wêreldverloop en veral in die mensegeskiedenis openbaar. Waarheid en openbaring is dan ook ten nouste verbind. Openbaring is altyd openbaring van God. Dit openbaar Sy grootheid, goedheid, wysheid en almag en Sy plan en doel met die dinge en gebeurtenisse rondom ons. En waar God deur Sy openbaring Sy Raadsplan verwesenlik, hang waarheid ten nouste met hierdie verwesenliking saam. Waarheid is dan ook as openbarende daad van God dinamies, d.w.s. ʼn werkende krag, ʼn leidende bestiering wat nie net die wese, sin en doel van alles bepaal en meedeel nie, maar meewerk aan die vervulling van die bestemming van die skepping.
Omdat waarheid die openbarende daad van God is, hou dit deur die eeue stand, is dit getrou, bied dit ons die wesentlike, die sin, die doel en die bestemming wat God aan alle dinge gee, stel dit die beginsels wat God vir alles bepaal het en is dit die onveranderlike fondament van die werklikheid wat God met Sy wil onderhou en in standhou. As openbarende daad van God is die waarheid in die wêreld dan ook uitdrukking van Sy onmeetlike wysheid. Nes die skepping veral in die onderhoudende en bestierende wil van God rus, is die waarheid van die skepping veral in Sy wysheid gefundeer.
In die skepping word die waarheid dan ook uitgedruk deur die orde, die wet en die beginsels, wat vir alle dinge en vir die mens van Godsweë bepaal is; deur die wese en eie-aard van alles wat God geskape het; deur die sin van alles wat is en gebeur; deur die doel en bestemming van alles wat word, beweeg en handel; uiteindelik deur die verwesenliking van Gods Raadsplan in die wêreld en veral in die geskiedenis van die mens.
In hierdie Raadsplan Gods beklee Christus as Verlosser en Herskepper die sentrale posisie. Daarom vind die waarheid in die skepping sy diepste en mees fundamentele sin in Christus wat as Verlosser en as Herskepper die wet vervul en aan die skepping sy eintlike sin en bestemming gee.
Die waarheid van die mens en die wêreld is dus sy dieper betekenis en vind sy essensiële uitdrukking in Christus, die Logos.
Hierdie waarheid is geen mite nie. Want ons het hier nie met ʼn subjektiewe geloof te doen nie, maar met ʼn gegewe wat onafhanklik teenoor die menslike geloof staan. Hierdie geloof moet in die waarheid gefundeer wees, dit moet aan die waarheid getoets en deur die waarheid bevestig word. Dit staan in diens van die waarheid, wat as sodanig onveranderlik is. Hierdie waarheid is geen menseversinsel, soos die mite dit is nie. Dit is en was voor die mens daar en eis vertroue en gehoorsaamheid. Dit eis oorgawe nie om die mens en sy geloof en sy belange ontwil (soos die mite) nie, maar om Sy Selfs ontwil, terwille van God, tot eer en verheerliking van die Allerhoogste. Die geloof aan die waarheid in die wêreld moet gelei word deur die geloof aan die waarheid in die Heilige Skrif, want anders sal ons die boek van die natuur nooit reg lees en nooit suiwer kan verstaan nie. Maar hierdie geloof aan die waarheid is nie onkrities en blind, soos die vertroue in die mite nie, want die geloof self moet gedurig aan die besondere en aan die algemene Openbaring van God getoets word.
Om al hierdie redes mag hierdie waarheid nie as ʼn mite en die geloof aan die waarheid nie as ʼn subjektiewe mitegeloof opgevat word nie. Die verankering van die geloof in die onvernietigbare en onveranderlike waarheid Gods verhef dit bo alle menslike versinsel. Waar die mite antroposentries is, d.w.s. waar die mite die mens as middelpunt stel en alles uit, deur en tot die mens betrag, daar is ons geloof teosentries, d.w.s. aanvaar dit God as Middelpunt van alle dinge, en betrap dit alles in sy afhanklikheid van God en erken dit dat alle dinge uit, deur en tot God is.
Maar al is ons geloof aan die waarheid geen mitegeloof nie, kom dit tog met die mitegeloof daarin ooreen, dat beide religieus van karakter is, dat beide nie die denke nie, maar die geloof vooropstel, dat beide aan die lewe van die mens ʼn besondere sin, waarde, doel en bestemming gee, dat beide vir die lewe van die mens ʼn rigsnoer wil wees en vir die mens sy ideale stel en dat beide by die mens liefde, geesdrif, oorgawe en dadekrag, selfs tot die dood toe, wek.
Maar ons geloof weer verskil van die mite daarin dat dit die mens in diens stel van iets wat bo die mens staan, terwyl die diens aan die mite ʼn diens aan ʼn menslike versinsel is, en veral daarin dat die geloof aan die waarheid die mens vrymaak, terwyl die geloof aan die mite die mens verslaaf.
Voor ons dit egter verduidelik, kom aan die orde daardie eeu-oue vraag: “wat is Vryheid”? – ʼn vraag wat net so bekoorlik, grondliggend en moeilik is as die vraag wat Waarheid is.
Die Kerkblad 17 Januarie 1945:23,24
WAT DAN IS “VRYHEID”?
Foutiewe teorieë oor die waarheid veranker die waarheid nie in God nie, maar in die mens of die wêreld. Die gevolg hiervan is dat die waarheid betwyfel of verwerp word, of dat dit as iets subjektief opgevat word, of dat daardeur die verstand (of rede) van die mens tot afgod vervals word. Foutiewe vryheidsteorieë veranker ewe-eens menslike vryheid nie in God nie, maar in die mens. Hiervolgens handhaaf sommige dat die mens sy vryheid aan homself en sy eie-aard alleen te danke het, d.w.s. dat die grond van menslike vryheid in die mens self rus; ander egter handhaaf dat waar die mens nie hierdie soort vryheid deelagtig kan wees nie, hy daarom ʼn speelbal moet wees van blinde aardse kragte of van onvernietigbare aardse wette of selfs van die noodlot.
Die mens is alleen dan vry as hy alleen en soewerein volgens eie menslike welbehae en goeddunke kan kies, kan besluit en kan handel. Teenoor hierdie mensverankerde vryheidsleer vra ons as volg: Gestel dat dit so is, dat die mens só of ánders kan kies, besluit en handel en dat hierin sy vryheid geleë sou wees, mag hy wel kies, sluit en handel soos hy begeer?
Hier sit die knyp. Die mens kan miskien dit of dat doen, maar mag hy wel dit én dat doen? Of mag hy juis dit nie doen nie, en moet hy juis dát doen, omdat die wet dit eis en dit Gods wil is?
Nou vra die mensverankerde vryheidsteorieë egter: Hoe kan die mens waarlik vry wees as hy wel kan, maar nie mag doen wat sy welbehae is nie? Of anders gestel: Hoe kan die mens vry wees as hy net God se welbehae mag en moet doen?
Hierteenoor stel ons dat die mens sy vryheid aan God te danke het en dit alleen kan behou as hy God daarmee dien, dat God die menslike vryheid in sy diens neem en gebruik; m.a.w. dat ware menslike vryheid nie in die mens nie, maar in God veranker is en uit God se skeppings- en bestieringswil verstaan moet word. Alle vryheid, nie net dié van God nie, maar ook dié van die mens rus geheel-en-al in die grootse welbehae van die Allerhoogste en word daardeur bepaal.
Ons gaan nog verder en handhaaf dat mensverankerde vryheid onmoontlik is, omdat dit met God se vryheid moet bots en dat die mens wat sy vryheid in homself alleen soek, homself verslaaf en sy vryheid verloor.
Die vryheid van God is ʼn vryheid wat aan niks anders as aan sy louter welbehae gebind is nie. Die mens wat hierdie vryheid vir homself opeis, eis vir homself Goddelike vryheid op. Sodoende plaas hy sy vrye keuse, sy vrye beslissing en sy vrye dade op dieselfde verhoog as die wil van God, d.w.s. plaas hy sy wil naas en langs God se wil as gelyke groottes. Want as die mens se vryheid daarin bestaan dat hy volgens sy eie welbehae kan kies, besluit en handel, dan moet God eers wag en sien hoe die mens kies voordat Hy verder beslis. So moet die predestinasie van God en die vryheid van die mens bots. God duld geen ander gode, ook geen sogenaamde vrye mense-gode naas Hom nie. Uit hierdie dilemma is daar geen uitweg nie as ons menslike vryheid in die mens en nie in God veranker nie.
Dit geld ook vir die Pelagiaan en Arminiaan wat die mens hierdie mensverankerde vryheid net in een bepaalde opsig wil gee, nl. in sy vrye keuse of hy die genade van die kruis van Christus sal aanvaar of nie. In hierdie bepaalde opsig is die menslike vryheid dan Goddelik en moet God die menslike beslissings afwag en volgens die welbehae van die mens handel.
Uit bostaande blyk dat die mensverankerde vryheid met die Vrymag van God moet bots en dat ware menslike vryheid nie in die mens veranker kan wees nie. Ons moet m.a.w. ʼn ander vryheidsbeskouing vorm wat eg-menslik is en hierdie menslike vryheid nie vergoddelik nie, maar dit in God veranker, op grond waarvan die mens juis deur sy van God-gegewe verpligtinge na te kom en deur die wet van God te vervul waarlik menslik vry word.
Bowendien straf God die mens wat sy vryheid in homself soek deur ʼn Goddelike ironie. Die mens wat Goddelike vryheid soek, word juis daardeur aan sy eie welbehae verslaaf, word slaaf van die sonde, word slaaf van dit waarin hy sy “Goddelike” vryheid wou verwesenlik. Die wet wat hy moes gehoorsaam het, oordeel dan hom en ontneem hom sodoende sy vryheid. Die mens wat Goddelike vryheid vir hom opeis, verloor sy vryheid, word ontaard en skep chaos en verwarring. Dit sal ons met enkele voorbeelde aantoon. Want ook uit die kritiek op foutiewe vryheidsteorieë kan ons leer hoe ons menslike vryheid moet verstaan.
As eerste voorbeeld neem ons die val van die mens in die paradys.
Satan het die mens ʼn mensverankerde vryheid voor oë gehou, ʼn vryheid wat waarlik Goddelik sou wees: doen wat julle wil; handel volgens julle eie welbehae; moenie die proefgebod van God julle laat afskrik nie; die vryheid is in julle, anders sou God nie daardie proefgebod aan julle kon gestel het nie; verwesenlik julle mensverankerde vryheid deur te eet en julle sal vry wees soos God. Die loon van hierdie selfvergodende selfverheffing was die slawerny van die sonde. Die mens mag nie uit eie welbehae alleen handel nie.
Die Franse Rewolusie (en sy geesteskind, die Liberalisme) soek ook ʼn mensverankerde vryheid. Hiervolgens is die individuele mens, die enkeling, soewerein en vry om volgens eie welbehae te glo en te dink soos dit hom goeddink en te handel soos dit hom behaag; want bo hom is geen God en meester nie en geen van-God-gestelde wette wat hy moet gehoorsaam nie. So word Goddelike vryheid vir die individuele mens opgeëis.
Die Goddelike ironie in die geskiedenis van die mensheid laat hierdie vergoddelikte, individuele vryheid aan sy eie individualisme ondergaan en verslaaf sodoende die enkeling aan sy selfbehae, sy selfsug, verwaandheid en strewe na mag. Die individu wat volgens Goddelike ordinansies juis as individu behoefte het aan ʼn gesonde gesinslewe, ʼn hegte volkslewe, ʼn solitêre staatslewe en ʼn intieme, kerklewe gebruik sy individuele vryheid om die huwelik in die begin op te brokkel, die volkslewe te ondermyn, die staatsbeheer te ondergrawe (veral ook deur politieke intimidasie, omkopery en lasterveldtogte) en die kerk te vervals en vernietig sodoende sy eg-menslike vryheid. Wie die individuele vryheid van die mens vergoddelik, veroorsaak noodwendig konflikte tussen individu en individu, tussen individu en die huwelik, die gesin, die volk, die staat en die kerk. Want elke individu met sy vergoddelikte vryheid verdra geen ander godjie naas hom nie en wil nie aan bande van ander gebind wees nie, maar alleen koning kraai. So herberg hierdie vryheidsleer, chaos en wanorde. Die Goddelike ironie straf die homself-vergodende individue deur hom aan homself te laat ondergaan. Die individu mag nie uit eie welbehae alleen handel nie.
Die Duitse Nasionaal-Sosialisme eis vir die volk (as bloedseenheid) en die Italiaanse Fasciste vir die staat (as diktatoriale, etiese eenheid) ʼn Goddelike vryheid op. Vir die een is die welbehae en belange van die volk, vir die ander die welbehae en belange van die staat die enigste grond van menslike vryheid. Bo hierdie volk en so ook bo hierdie staat word geen God en meester (wat hom wette sou kon voorskrywe) geduld nie.
Die Goddelike ironie verslaaf egter hierdie Nasionaal-Sosialistiese mens aan die willekeur en toeval van die sogenaamde volksbehae en volksbelang – en die Fascistiese mens aan die willekeur van die sogenaamde staatsbehae en staatsbelang. Hierdeur is die volk en staat nie vry nie, maar aan hulleself verslaaf. Bowendien moet in hierdie mensverankerde vryheid die volk, en so ook die staat, bots met die kerk, met die huwelik en die gesin en met die enkeling, wat algar van God hul besonder ordinansies ontvang het in onderskeiding van die ordinansies wat God vir die volk en vir die staat bepaal het. M.a.w. moet die enkeling, die huwelik, die gesin en die kerk daardie eg-menslike vryheid wat hulle deur God vergun is, opoffer aan die vergoddelikte belange van volk en staat; want die mensverankerde volkse of staatse vryheid handhaaf homself met ʼn dwangheerskappy en selfs tirannie. Intussen het die volk en die staat in hul eie belang juis die gesonde vryheid van die enkeling, van die huwelik en die gesin en van die kerk nodig, wat hulle in hul selfvergoding juis ophef. So straf die Goddelike ironie hierdie mensvergoding met verslawing aan dit waarin die mens gelyk aan God wou wees. Ook hierdie mensverankerde volkse en staatse vryheid herberg so die kiem van verslawing, vernietiging, innerlike konflikte, chaos en wanorde in homself. Die volk en die staat mag nie hul vryheid in hul eie welbehae alleen soek nie.
Mensverankerde en daarom vergoddelikte vryheid veroorsaak noodwendig ʼn botsing tussen vryheid en wet. Dit leer die Deterministiese en die Indeterministiese vryheidsteorieë ons.
Die mens het sy vryheid in homself. Hy weet dit, omdat hy elke oomblik bewus is dat hy anders kan handel as wat hy handel; verder omdat sy gewete vir hom sê dat hy anders moes (en daarom ook anders kon) gehandel het en ten slotte omdat hy ʼn verantwoordelike wese is, wat nie die geval sou wees as hy nie vry was nie. Maar dan word hy nie deur die wet bepaal nie; want hoe kan hy vry wees as hy aan wette gebind is? So redeneer die Indeterministe.
Die vryheid wat die Indeterministe begeer, kan egter niks anders as willekeur wees nie; want die mens handel dan “wette-loos” (sonder die wet) en dus ordeloos en chaoties. So moet die wilde toeval verheerlik word, waardeur ware vryheid verlore gaan. Die botsing van vryheid en wet, wat hierdie standpunt impliseer, vernietig die vryheid deur die Goddelike ironie wat mensverankerde vryheid aan homself te pletter laat loop.
Oral heers die wet. Alles word deur die wet bepaal, ook die wilskeuse van die mens. As die mens waarlik vry sou wees, moes hy bo die wet kon staan. Maar dit kan hy nie. Daarom is die mens nie vry nie. Dit handhaaf die Deterministe.
Ook hier bots vryheid en wet omdat mensverankerde vryheid gesoek word. Die gevolg is dat die mens uiteindelik gesien moet word as ʼn rat in ʼn masjien, as ʼn stok en ʼn blok wat beweeg word, maar geen vryheid en verantwoordelikheid het nie. Dit lei tot Fatalisme. Waar gehoorsaamheid aan die wet God-verankerde menslike vryheid waarborg, verhef hierdie botsing tussen die wet en mensverankerde vryheid die wet tot ʼn mag wat alle menslike vryheid vernietig. Ook dit is Goddelike ironie.
Die sogenaamde Selfdeterministe, wat tussen Deterministe en Indeterministe wil versoen, ontkom ook nie aan die Goddelike ironie nie. Want dit is ʼn skynoplossing en blyk by nader ondersoek telkens óf bedekte Deterministe óf bedekte Indeterministe te wees.
Wat is gemeenskaplik aan al hierdie soorte van mensverankerde vryheid?
God wil dat die mens Hom gehoorsaam sal wees, Sy wil sal doen, Sy wet sal vervul, die goeie sal doen.
Die mens daarenteen eis dat hy self wil beslis, self sal bepaal wat hy sal doen. Dit is vir hom vryheid en niks anders nie.
Maar openbaar hierdie mens hiermee nie ʼn tipiese slawe-mentaliteit nie? Waarin anders soek die slaaf die bewys van sy vryheid as juis daarin dat hy teenoor die bevele van sy heer en meester self sal kan besluit of hy hulle sal uitvoer of nie?
Die mens wat mensverankerde en dus God-gelyke vryheid soek, openbaar daarmee sy eie slawementaliteit. En die Goddelike ironie gee hom hierin gelyk. As die mens Goddelike vryheid soek omdat hy hom pure slaaf voel, dan sal hy ook slaaf wees!
Wil die mens egter kind van God, koningskind wees, dan sal hy vry wees, want dan openbaar hy geen slawe-mentaliteit nie.
Saamvattend: eg-menslike vryheid kan nie geleë wees in die keuse om uit eie welbehae te kies, te besluit en te handel nie. Dit kan nie geleë wees in die keuse tussen goed en kwaad, tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan God nie. Eg-menslike vryheid is nie mensverankerd nie. Die mens het wel die moontlikheid om tussen goed en kwaad te kies. Maar hierdie moontlikheid is geen vryheid nie; wie hierdie moontlikheid as vryheid opvat, huldig ʼn mensverankerde, ʼn mensvergodende vryheidsbeskouing. Die mens om vry te wees, moet kragtens hierdie moontlikheid die goeie kies. Kies hy die slegte, dan het hy ʼn mensverankerde vryheid gesoek en straf die Goddelike ironie hom, word die wetsoortreding op hom gewreek deur hom slaaf te maak. Die keuse van die eerste mensepaar was dan ook geen vrye keuse nie; hulle het slegs die moontlikheid gehad om tussen goed en kwaad, d.w.s. tussen vryheid en slawerny te kies.
Maar wat dan is Christelike, God-verankerde, eg-menslike vryheid?
Die Kerkblad 6 April 1945:13-15
WAT DAN IS ‘CHRISTELIKE VRYHEID’?
Die eerste grondbeginsel van Christelike vryheid is dat dit menslik is en nie “vergoddelik” mag word nie. Die vrymag van God is absoluut, algenoegsaam, almagtig; dit is gegrond in louter Goddelike welbehae alleen; dit is in absolute sin soewerein en bo die wet deur God aan Sy skepseldom gegee, verhewe. Die egte vryheid van die mens daarenteen is die vryheid van ʼn skepsel, relasioneel (betreklik) van aard, onselfgenoegsaam, afhanklik van God en van alle geskape werklikheid waarin en waardeur die mens dit verwesenlik; dit is aan Gods wil en wet onderworpe en is slegs in betreklike sin magtig en in afgeleide sin soewerein. Dit vind sy verwesenliking alleen as beeld van die vrymag Gods, waar die mens na Sy beeld geskape is.
Die tweede grondbeginsel van Christelike vryheid is dat dit in God veranker is. Alle vryheid, ook die van die mens, rus geheel-en-al in die grootse welbehae van die Allerhoogste. Die mens het sy vryheid juis aan God te danke en behou dit slegs deur God daarmee te dien; alleen daar waar die mens sy menslike welbehae in die diens van die welbehae Gods stel, kan hy vry wees. Menslike vryheid is, as ek my so mag uitdruk, ʼn deurwerking of ʼn uitstraling of ʼn afglans van die absolute vrymag Gods in die skepsel-vryheid van die mens; mensevryheid word deur die vrymag van God gedra, in stand gehou, kragtig gemaak en verwesenlik. Dit is ʼn gawe Gods waardeur die mens die werk wat God met Sy skepping begin het, kan voortsit en ontplooi tot die eer en verheerliking van Sy naam en in diens van Sy wil. So word die mens vrye medewerker Gods, koningskind en heerser in Sy naam op aarde. Maar dan moet hy hom ook aan die welbehae van sy vaderlike Koning oorgee en Sy wil deur vryheid uitvoer. Vry is hy slegs in sy oorgawe aan God. Sy gehoorsaamheid aan God is dan ook identies met sy vryheid; want so alleen kan hy deel hê aan die Goddelike roeping van die vryes. “Nie my wil nie, maar U wil geskied!” gee aan ware menslike vryheid sy hoogste ekspressie. Nóg in die versoeking, nóg in Getsemane het Christus Sy vryheid gesoek in sy menslike welbehae, maar in die welbehae van God. Waar die mens sy vryheid in die vryheid Gods veranker, kan hy saam met Jesaja sing: “Die Here is my krag …. Hy het my tot heil geword”. Vry is die mens alleen in en deur die vrymag Gods.
Die derde grondbeginsel van Christelike vryheid is dat dit verantwoordelik moet wees. Vir die verwesenliking van sy vryheid is die mens aan God verantwoordelik. Hierdie verantwoordelikheid vereis geloof en kennis, liefde en wil, – al daardie menslike “vermoëns” en funksies wat hy vir sy verantwoordelike optrede van sy Skepper ontvang het. Sy verantwoordelikheid vereis egter nog meer, nl. dat hy kan faal. Want as hy nie die moontlikheid het om só of anders te kan handel, aan Gods wil gehoorsaam óf ongehoorsaam te kan wees, tussen goed en kwaad te kan kies nie dan sou die mens soos ʼn stok en ʼn blok, ʼn rat in ʼn masjien gewees het. Hierdie voorwaarde van verantwoordelike vryheid. Hy wat hierdie moontlikheid in ooreenstemming met die wil van God verwesenlik, is daardeur vry; maar hy wat hierdie moontlikheid gebruik om God ongehoorsaam en onwelgevallig te wees, is daardeur slaaf van dwingende wette en kragte. Want niks vermag iets teen die vrymagtige wil van God nie. God handhaaf soewereine vrymagtige wil deur die in-diens-neming van ware, menslike vryheid en deur die dwingende wette en kragte waaraan menslike onvryheid homself verslaaf. Goddelike predestinasie en menslike vryheid bots nié; want die mens self verwesenlik die predestinasie Gods, hetsy in vryheid of in slawerny.
Die vierde grondbeginsel van menslike vryheid is dat dit waarheid vry maak.
Christelike vryheid* staan nie teenoor gebondenheid (teenoor die wet) as sodanig, soos die mensverankerde vryheidsteorieë dit stel nie. Egte menslike vryheid staan teenoor slawerny, nes slawerny teenoor heerskappy staan. Waarom sou ware menslike vryheid dan nie verantwoordelike heerskappy (ʼn heerskappy wat aan ʼn Opperwese verantwoording skuldig is), wees nie? Beteken vry wees dan nie heers, beheer, vervoeg oor, baas wees van, nie?
Die eerste opdrag van God aan die mens stel dat hy sal onderwerp, heers, bewerk, bewaak, vermenigvuldig en vermeerder, dat hy m.a.w. vir Gods wêreld sal sorg, dit in Sy naam sal beheer, gesinne, volke en (weens die sonde) state sal vorm. Hierdie heer-op-aarde wees, hierdie behering, hierdie heerskappy, hierdie eg-menslike Heer-likheid is sy vryheid, en dit is as sodanig ʼn afglans van die Heer-likheid, van die absolute vrymag Gods.
Die boer wat ploeg, die kunstenaar wat kuns skep, die vrou wat versorg, die geleerde wat wetenskap bou, ja elke mens wat as mens handel, heers oor en op hierdie aarde Gods Dit is sy vryheid.
Maar deur te heers skep hy hierdie wêreld (die natuur) om tot kultuur. Want God het hom ʼn sedelike besef, ʼn regsgevoel, ʼn kunssin, ekonomiese insig, ʼn taalsin, logiese denke, en soveel meer gegee, wat geen ander skepsel op aarde het nie, en wat die mens in sy heerskappy gebruik en waardeur hy alles wat hy beheer tot kultuur omvorm. So maak hy van velde plase, van feite wetenskap, van klanke taal en musiek, van marmer kunsbeelde en so meer. Al dergelike kultuurskeppende heerskappy is sy vryheid.
Maar hierdie vryheid, hierdie heerskappy gee die mens homself nie. God plaas die mens op aarde; Hy gee hom sy taak; daarvoor gee Hy hom sy aanleg en talente en plaas hy hom in bepaalde omstandighede wat op sy behering wag. Hy word tot sy heerskappy geroep. God gee hom sy vryheid om daarmee sy roeping op aarde te vervul. Roepingsvervullende heerskappy is tegelyk Christelike vryheid én ʼn dien van God, – en dit in alles wat die mens doen. Want sy roeping word saamgevat in die woorde: “wat jou hand vind om te doen”, en sy vryheid in die opdrag: “doen dit met al jou mag”. Dit wat jou hand vind om te doen (al die take, probleme en vraagstukke op jou weg, al die omstandighede wat op jou behering wag), én dit wat jou hand vind om te doen (met jou karakter, met jou aard, met jou aanleg, met jou talente, met jou plek en posisie in die samelewing) val alles onder jou roeping; want jou hele lewe is ʼn geroepe, ʼn Goddienende lewe. Maar orals waar jy geroep word (en jy word orals geroep), word jou geleentheid geskenk om te beheer, om vry te wees en sodoende God te dien. Dit geld vir elke individu, vir elke gesin, vir elke volk, vir elke staat, vir die hele menslike samelewing.
Wie kan beweer dat hierdie aarde-onderwerping, natuurbeheersing, kultuurskepping en samelewingsvorming geen verantwoordelike behering, geen heerskappy is en dat hierdie menslike vervoeging oor al die moontlikhede wat God in Sy skepping gelê het, geen koninklike vryheid is nie? Maar, eienaardig genoeg, hierdie vryheid is wesentlik niks anders nie as wetsvervulling, as gehoorsaamheid aan – die ordinansies en wil van God as diens van God. Menslike vryheid en gehoorsaamheid aan God dek mekaar volkome. Die vervulling van die wet maak menslike vryheid eers moontlik.
Want ʼn boer, ʼn kunstenaar, ʼn versorgende vrou, ʼn geleerde is in sy heerskappy alleen dan vry, as hy daartoe die aanleg het en die wet van sy aanleg gehoorsaam. Wie geen aanleg het om te boer, kuns te skep, ens., kan nie op hierdie gebiede verantwoordelike beheer uitoefen, d.w.s. vry wees nie.
Ook moet elk die wette van dit wat beheer word, eerbiedig, d.w.s. gehoorsaam. ʼn Wetenskaplike is as wetenskaplike alleen vry, as hy onvoorwaardelik aanvaar wat hy ondersoek, bv. rekening hou met die betrokke feite, met die waarheid; as hy nie hiervoor buig nie, as hy die leuen versin en die waarheid minag, heers hy nie wetenskaplik nie, d.w.s. is hy wetenskaplik nie vry nie. Die boer moet rekening hou met die aard van die grond, met die jaargetye, die reëntye, ens. en as die boer hiermee geen rekening hou nie, d.w.s. nie die wette van dit alles gehoorsaam nie, kan hy geen verantwoordelike beheer uitoefen en is hy dus nie vry nie.
Maar die vrye mens het bowendien ʼn taak in sy heerskappy en stel hom ʼn doel voor oë. Hierdie ideale is ook aan wette onderhewig; ons noem hulle norme. Alleen waar hierdie norme eerbiedig d.w.s. gehoorsaam word, is verantwoordelike heerskappy, d.w.s. menslike vryheid moontlik. As die kunstenaar hom nie aan die skoonheidsnorme van die kuns steur nie, as die wetenskaplike die logiese norme van die denke verontagsaam, as die boer nie op die ekonomiese norme let nie, ens., dan beheer hy nie verantwoordelik nie en het hy aan menslike vryheid geen deel nie.
Gehoorsaamheid aan die (“subjektiewe”) wet van jou aanleg, gehoorsaamheid aan die (“objektiewe”) wet van dit wat beheer word, gehoorsaamheid aan die norme (wette) van die kultuur (en dit alles gelei deur gehoorsaamheid aan Gods besondere openbaring in Sy Woord) is voorwaarde vir waarlik verantwoordelike heerskappy, d.w.s. vir vryheid. Menslike vryheidsverwesenliking is wetsvervulling. Daar is geen botsing tussen beide nie.
Waar God die mens sy aanleg gee en hom in bepaalde omstandighede plaas en hom deur die talente van sy aanleg en deur die take van sy omstandighede roep, kan die vrye mens nie weier nie, – hy móet gehoorsaam en daardeur sy vryheid bevestig. “Hier staan ek, ek kan nie anders nie!” dié goue woorde van Luther, is ʼn vryheidskreet. So ook is die Groot Trek die vryheidsdaad van die Voortrekkers wat nie anders kon gehandel het nie, as om te trek, omdat God hulle tot ʼn vrye nasiebou geroep het. Vryheid is nie die keuse tussen dit én dat nie, maar die noodsaaklikheid om dit (en nie dát nie) te doen, omdat aan jou verantwoordelike heerskappy dit as juis jou plig, as jou roeping gestel is. Dit is Christelike vryheid.
Omdat elke mens en elke menslike samelewingskring sy besondere roeping van God het en al hierdie roepinge saam ʼn eenheid vorm, en omdat die vryheid van die mens in die vrymag Gods veranker is, daarom bots in die Christelike vryheid nie die vryheid van die een (mens of samelewingskring) met die vryheid van die ander (mens of samelewingskring) nie. Inteendeel, waar in die mensverankerde vryheidsopvatting die vryheid van die een ʼn bedreiging is vir die vryheid van die ander, daar vereis in die Christelike vryheid die vryheid van die een juis die vryheid van die ander. Deur die sonde egter is geen mens waarlik vry nie. Die vryheid wat hy het, is gebroke en deur die sonde vervals. Daarom is ware vryheid ʼn ideaal waarna die mens kan strewe en waarna hy moet strewe, omdat hy tot verantwoordelike heerskappy geroep is. Ware vryheid kan egter alleen verkry word deur die geloof in Christus, en hierdie vryheid besit die wedergeborene alleen in beginsel, omdat hy in hierdie bedéling onder die mag van die sonde bly. Deur die geloof dus word hy vry, – d.w.s. die Waarheid maak hom vry.
Die Kerkblad 18 Mei 1945:14,15
Die mens (d.w.s. die enkeling, die huwelik, die gesin, die volk, die kerk, die maatskappy, die hele menslike samelewing) ontvang van God sy roeping op aarde; m.a.w. die mens word tot vryheid geroep. Wat ook al sy aanleg (sy aard, sy talente, sy behoeftes), sy omstandighede (sy omgewing, sy probleme, sy vraagstukke) en sy posisie (gesagsverhoudinge en afhanklikheidsverhoudinge) in die menslike samelewing mag wees – juis daarin en daardeur vind die hand van die mens op elke oomblik van sy lewe iets om te doen. Dit beteken: hy word daartoe geroep. Of dit nou tyd is om te werk of te rus, te ween of te lag, te saai of te maai, te swyg of te spreek, klippe weg te gooi of klippe bymekaar te maak, te gee of te ontvang – daar is geen uur in die lewe van die mens waarin hy van sy roeping vakansie het nie. Op elke plek en op elke oomblik word hy tot vryheid geroep, geroep om verantwoordelik heersend te doen wat hom te doen staan.
Hy word tot vryheid geroep. Hierdie woorde van Galasiërs 5:13 het ook ʼn betekenis op die terrein van die algemene openbaring, en beteken: die waarheid maak vry. Want die waarheid maak vry van (d.w.s. los van) verslawing juis omdat dit vry maak tot (d.w.s. die geleentheid skep tot) verantwoordelik heersende roepingsvervulling (d.w.s. tot vryheid). Wat anders roep die mens tot vryheid as die waarheid, d.w.s. as die dieper sin, betekenis, waarde en doel van sy aanleg, van alles wat hom omring, van die lesse van die verlede (die geskiedenis) en dit alles besien in die lig van Gods Woord? ʼn Kind moet opgevoed word, d.w.s. roep om opvoeding; ʼn sieke moet genees word, d.w.s. roep om geneeskundige behandeling; natuurskoonheid moet besing word, d.w.s. roep om vaslegging (“bewaarheid”) in kuns; grondverspoeling moes voorkom gewees het, d.w.s. roep om ekonomiese beheer; reg moet gehandhaaf word, d.w.s. roep om erkenning; klere moet gemaak word, d.w.s. roep om effektiewe diensbaarheid aan menslike behoeftes; taal moet gevorm en gebruik word, d.w.s. roep om mededeling tussen mense; diere moet versorg word, d.w.s. roep om versorging; ʼn drenkeling moet gered word, d.w.s. roep om redding. Die waarheid roep tot die mens en hy wat hoor en gehoorsaam is daardeur vry.
Die hele skepping (die mens, dier, plant en stof en al hul verhoudinge) is ʼn mooi boek wat ons kan lees, vol van betekenis, d.w.s. vol van waarheid. Hierdie boek wil nie net verstaan word nie, want dit rig ook elke oomblik sy versoeke tot die mens, dit doen gedurig beroep op hom, d.w.s. tot vryheid. Dit is sy waarheid wat ons hand laat vind wat dit kan doen. Wat help dit die mens dat hy net die geloof, maar nie die werke het nie, dat hy net die woord, die waarheid, verstaan en nie ook ʼn dader van die woord, ʼn vrye is nie? Die waarheid, die roepstemme tot die mens, gee die geleentheid tot vryheid, en – uit sy werke sal die mens sy geloof toon, in die algemeen uit sy vryheid sal by die waarheid toon; want aan sy vrugte word die boom geken.
Dit is die waarheid wat die geleentheid tot vryheid skenk, – die weg tot vryheid oopmaak. Sonder die waarheid kan daar geen vryheid wees nie. Die waarheid is lig, en vry is alleen hy wat in die lig wandel, – m.a.w. hy wat sien en verstaan wat van hom verwag word, d.w.s. waartoe hy geroep word. Die waarheid moet geglo, geken word; sonder hierdie kennis is daar geen vryheid nie. Om waarlik vry te wees, moet die mens homself (sy aard, aanleg, talente, moontlikhede) ken, want hoe anders weet hy waartoe hy in staat, d.w.s. geroepe is? Hy moet sy omstandighede (sy omgewing, posisie, take, geleenthede, vraagstukke) ken, want hoe anders weet hy wat sy verantwoordelike beheer nodig het, d.w.s. vir wat hy geroep word? Hy moet weet wat hy beoog, aan watter doeleindes en ideale hy hom in sy verantwoordelike heerskappy moet oorgee, d.w.s. waartoe hy geroep word. Hy moet die verlede (die lesse van die suksesse en die mislukkings van sy lewe, die geskiedenis) ken, want daaruit verkry hy die lig, d.w.s. die waarheid van die koers waarin hy hom verder moet beywer. Maar dit alles moet hy besien in die lig van Gods Woord, wat hom die mooi boek van die skepping eers reg leer verstaan. Gods openbaring in sy skepping kan die mens dan eers suiwer vat as die lig van sy Woord daarop straal.
Om die skepping en die roepstemme wat die skepping tot die mens rig reg te verstaan, moet alle kennis van die mens gefundeer wees in en gedra word deur die kennis van God. Uiteindelik is alle (menslike kenbare) waarheid die openbarende daad van God aan die mens en alle menslike vryheid, d.w.s. alle menslike heerskappy op aarde die diens van, d.w.s. die vertrouende oorgawe aan die vrymagtige leiding van God. In God is Vrymag en Waarheid Een. By die mens is vryheid en waarheid onselfgenoegsaam en ten dele; hulle kan slegs één wees en ten volle harmonieer in hul gerigtheid op, d.w.s. in hul verankerdheid in God. Aan Hom behoort die aarde en die volheid daarvan en Hy gee deur die vrymakende, d.w.s. tot heerser makende waarheid hierdie volheid aan die mens tot ʼn menslike heer-likheid, wat ʼn afglans is van die Heer-likheid Gods. Die mens kan nie anders as om deur sy heerlike vryheid en vrye heerlikheid in waarheid God te verheerlik en sy vrymag te dien nie.
Die waarheid word nie net geken nie; dit is as openbarende daad van God aan die mens ʼn daad wat vry maak deur die mens aan sy roeping te laat gehoorsaam. Die waarheid is ʼn krag wat die mens tot vryheid beweeg deur sy liefde te wek. Die roepstem van die waarheid rig hom tot die hart van die mens. Die liefde in sy hart gryp dit aan en dryf die mens uit tot die diens van God, tot die vervulling van sy roeping, d.w.s. tot vryheid, tot verantwoordelik-heersende taakvervulling. Die kunstenaar word geïnspireer, d.w.s. deur die skoonheid in sy hart gegryp en gee hom in liefdesdiens oor aan daardie kunsskepping wat die waarheid van hom eis. Die nood van sy hongerende beeste en skape is ʼn roepstem tot die liefde van die boer, wat daardeur beweeg word om hul lyde te versag. Dis die liefde van die moeder wat die krag gee om haar kind selfs tot die uiterste toe te help en te red. Dis die liefde tot die volksroeping, die ware en dus vrye bestemming van die volk, wat die volksgenoot selfs sy lewe in diens van sy volksbestaan laat stel. Hy is uit die waarheid wat met dade liefhet; – hierdie woorde van 1 Joh. 3:18 het ook ʼn algemene betekenis vir die algemene openbaring en nie net vir die besondere openbaring van God nie. Dit is die liefde tot God wat ons sy gebooie laat bewaar, sy wet laat vervul, d.w.s. die waarheid vry laat word. Want alle liefde van die mens tot homself en sy medemens, en van die mens tot die natuur en tot die kultuur wortel in die liefde tot die Grond van alle dinge en is ʼn vryheidsdaad as dit in waarheid liefhet, d.w.s. deur die waarheid gewek, gelei en gedra word.
Die waarheid maak vry deur as lig die mens die weg tot vryheid te openbaar, d.w.s. oop te maak, en deur in sy hart die liefde te wek wat hom daardie weg sal laat bewandel, saamvattend dus: deur hom tot vryheid te roep.
Die Kerkblad 20 Julie 1945:10-13
DIE VRYMAG VAN GOD EN DIE SONDEVAL VAN DIE MENS.*
Nie net die waarheid nie, ook die leuen roep die mens. Die misterie van die sondeval is dat die mens wat goed, ja baie goed geskape is, wat in die waarheid gewandel het en daardeur vry was, sy hart desnieteenstaande deur die leuen laat betower en sondeslaaf geword het. Want die blote leuen is magteloos, terwyl van die waarheid krag uitgaan. Om dit enigsins te begryp, moet ons die volgende in gedagte hou: (a) Die mens was nie vry om tussen die waarheid en die leuen na eie welbehae te kies nie en het daartoe dus ook geen reg gehad nie. Dit sou hom bo die wet verhef en tot ʼn god gemaak het. (b) Die mens het wel die moontlikheid gehad om te kies, d.w.s. om te bly staan of te val, hom aan die waarheid of aan die leuen oor te gee, vry te bly of sondeslaaf te word. (c) Al is die leuen nie uit die waarheid nie en al loën die leuen dié waarheid, gaan van die leuen alleen dan ʼn krag uit as dit op ʼn gedeeltelike waarheid gegrond is. Die leuen isoleer hierdie gedeeltelike waarheid van die orige waarheid, laat dit deur sy isolasie in ʼn illusionêre vergroting skitter en stel dit so teenoor die orige waarheid. So parasiteer die leuen op die krag van ʼn gedeeltelike waarheid en misbruik dit hierdie parasities verworwe krag. Die kragdadige leuen neem altyd die skyn van waarheid aan.
Die eerste leuen parasiteer op die volgende waarhede: (a) Die boom van die kennis van goed en kwaad was ʼn skepping Gods en het as sodanig uitdrukking gegee aan Sy goedheid, skoonheid en wysheid. Word hierdie boom op homself, afgesien van die proefgebod Gods en dus van hierdie waarheid geïsoleer beskou, dan was dit goed om van te eet, dan was dit ʼn lus vir die oë en dan was dit ʼn boom wat die mens kon begeer om verstand te kry.** (b) Deur te eet, sal die mens nuwe, en wel proefondervindelike kennis van goed en kwaad verkry. (c) Die mens kan kies; hy kan selfs teen God kies. Anders kon die proefgebod nie gestel, gewees het nie. (Hierdie moontlikheid van keuse is immers voorwaarde van sy verantwoordelike vryheid). By al hierdie gedeeltelike waarhede sluit die eerste leuen hom aan. Hieruit put dit parasities sy krag.
Om die leuen in die hart van die mens ingang te laat vind, is ʼn verdere isolasie nodig, en wel binne die mens se hart. Dit geskied deur ʼn beroep te doen op die self-liefde van die mens, afgeskei van sy liefde tot God. Eers kom die gerusstelling: “Julle sal gewis nie sterwe nie”; daarna word die ideaal van selfverheerliking gestel: “Julle oë sal oopgaan; julle sal wees soos God”. Hierdie isolasie van en beroep op die selfliefde oordryf dit en is slegs moontlik deurdat die mens self die gedeeltelike waarhede hierbo genoem in isolasie en teenoor die orige waarheid sien skitter het. Die “God weet dit” gee aan die leuen sy finale beslag, maak God tot leuenaar, die leuen tot waarheid en Sy proefgebod tot ʼn openbaring van vrees; want waarom anders sou God die proefgebod gestel het? Die ontkenning van die waaragtigheid Gods is die wese van die leuen.
Die kern van hierdie verleiding is dieselfde as die van alle verleiding: “Jy mag, want jy kan. Niks verhinder jou om dit*** te doen nie. Is dit**** dan nie begeerlik en goed nie? Doen dit; moenie bang en dwaas wees nie”. Die moordenaar, die egbreker, die dief, die leuenaar, elkeen wat so in verleiding val, handel dan onder die skyn van waarheid, wat aan sy dade die skyn van goedheid en aan sy optrede die skyn van vryheid gee. So belewe die gevalle mens sy sogenaamde vryheid nie as gehoorsaamheid aan die volle waarheid Gods nie, maar as sy moontlikheid om te kan kies; so stel hy hom bo die wet as die gelyke van God en verslaaf hom daardeur aan die leuen. Die leuen kan in die hart van die mens ingang vind, (a) omdat die mens die moontlikheid van keuse het, (b) deurdat die leuen ʼn gedeeltelike waarheid teenoor die volle waarheid stel en daarop parasiteer, en (c) deurdat die leuen hom tot die selfliefde, geskei van die volle liefde van die hart van die mens rig en dit daardeur in selfverheerliking laat verval. Die misterie van die sondeval is die misterie van die menslike hart wat hom deur die leuen met die skyn van waarheid laat verlei het om sy eie heerlikheid te soek en daardeur tot slaaf van die leuen word.
Die vrymag van God en die vryheid van die mens bots nié. Die algenoegsame vrymagtigheid van God gebruik die volle vryheid van die mens in Sy diens, juis deurdat menslike vryheid gehoorsaamheid aan God is. Maar dit gebruik ook die doen en late van die sondaar in sy diens deur die dwang van daardie wette en kragte waaraan die sondaar in sy ongehoorsame en vermeende selfverheerliking homself verslaaf het. God handhaaf Sy vrymagtige wil sowel deur die vryheid as deur die onvryheid van die mens. Gehoorsaam of onder dwang doen die mens die wil van God. Niks vermag teen die vrymag Gods nie. Die mens wat sy vryheid soek in die moontlikheid om alleen volgens sy eie welbehae te handel, is daardeur reeds slaaf van die leuen en onvry.
Die leerstuk van die predestinasie wat hiermee aangeraak word, mag dus nie vra hoe die vrymagtige wil van God en die vrye wil van die mens versoen moet word nie. Want daar is geen botsing nie. Die vraag word hier, hoe ons dit moet verstaan, dat waar God aan die mens die egte moontlikheid gegee het om tussen die waarheid en die leuen te kies, Hy in Sy vrymag tog uiteindelik alles bepaal. Moet God dan nie in die verwesenliking van Sy Raadsplan afwag wat die mens met sy egte moontlikheid van keuse aanvang nie? Nee, want (a) hierdie moontlikheid is geen vryheid nie, en (b) in Sy alwetendheid weet God ook die uitslag van hierdie menslike moontlikheid van keuse. (a) Was hierdie moontlikheid vryheid, dan het die mens “goddelike” vryheid gehad en moes God sy beslissing afgewag het. Want “goddelike” vryheid in die mens (hoe absurd dit ook mag klink, juis omdat so iets in sigself absurd is) sou onvooruitsienbaar en onvoorspelbaar wees; en dit sou met die alwetendheid God bots. Maar hierdie menslike moontlikheid is geen vryheid nie; die mens is nie aan God gelyk nie. (b) God, as die Kenner van die harte, weet in Sy alwetendheid dat die mens (met ʼn egte moontlikheid om tussen die leuen en die waarheid te kies) in die stryd tussen die Lig (die Waarheid) en die Duisternis (die Leuen) deur die leuen bekoor sal word en Sy toorn sal wek. Hy het die mens ʼn egte moontlikheid van keuse gegee. Dit blyk uit Sy proefgebod, uit die verleiding en uit die latere verontskuldigings van die mens. Maar Hy het ook geweet hoé die mens gaan kies, m.a.w. dat die mens gaan val. Hy neem dan ook in Sy Raadsplan sowel die egte moontlikheid van keuse as die uitslag daarvan op.
Maar dra God dan nie die skuld, of ten minste ʼn medeskuld, aan die val van die mens nie?
Alleen die homself vergoddelikende sondeslaaf soek sy vryheid in die moontlikheid om tussen die waarheid en die leuen te kies. So ook is dit alleen die homself vergoddelikende sondeslaaf wat na die skuld van God kan vra. Net so min as wat menslike vryheid in die genoemde moontlikheid geleë kan wees, net so min kan daar van ʼn skuld van God sprake wees. Die mens wat na die skuld van God vra, plaas God en die mens op dieselfde lyn, op dieselfde verhoog as gelykwaardige groottes, nes daardie mens dit doen wat sy vryheid in die moontlikheid van keuse soek. Hy wat na die skuld van God vra, onderwerp God aan die wette van skuld en van onskuld, waaraan slegs hyself onderworpe is; hy roep daardeur God tot verantwoording, waar God juis bo die wet staan en aan niemand verantwoording verskuldig is nie. Waar God met Sy skepsel kan doen wat Hy wil en waar alles wat Hy doen, goed is, daar maak hy God aan hom gelyk en nivelleer hy die geweldige onderskeid tussen beide. Die vraag na die skuld van God is ʼn al te menslik-sondige, vir die ware gelowige ʼn absurde vraag.
Dat God geen skuld aan die val van die mens het nie, blyk duidelik uit die volgende: (a) God staan bo die wet en is aan niemand verantwoording skuldig nie. (b) God is vertoornd oor die val van die mens en straf die nie-uitverkorenes met ʼn ewige straf. (c) God het sy Eniggebore, geheel-en-al sondelose en skuldlose Seun die straf vir ons op Hom laat neem. Wie hierdie drie waarhede enigsins verstaan, sal nie na die skuld van God kan en wil vra nie; want as hy dit tog vra, maak hy hierdie waarhede tot leuens. Hieruit blyk dat die vraag na die skuld van God uit die gees van die leuen gebore is. (d) God het die mens die egte moontlikheid van keuse as voorwaarde van sy vryheid, maar ook van sy val gegee. Anders was die proefgebod en die verleiding deur die leuen sinloos. M.a.w., God het die mens nie tot sy val gedwing nie; Hy het sy val nie veroorsaak nie. God het en kan geen skuld aan die val van die mens hê nie; dit is vir die gelowige genoeg.
God het die sondeval toegelaat, maar nie gewil of veroorsaak nie. Hy het geweet dat die mens sou val, al moes hy nie geval het nie. Hy het die mens nie laat val nie, maar het sy val ook nie verhinder nie; want as Hy die mens gedwing het om die waarheid te kies, dan sou Hy hom sy moontlikheid van keuse, maar daardeur ook sy verantwoordelike vryheid ontneem het. Alleen as die mens die moontlikheid het om te val, kan hy vry wees in sy diens van God. Die mens het hom in hierdie egte moontlikheid deur die leuen wat hom ʼn Gode-gelykheid belowe het, laat bekoor; hy het daardeur ʼn bo-wetlike en dus slaafse skynvryheid gesoek; dat hy daardeur tot slaaf van die leuen geword het, is in die mees letterlike sin sy eie skuld, – ook al het die Leuen daaraan medeskuld. Die menslike moontlikheid van keuse is ook voorwaarde van sy val en van sy verantwoordelike skuld; selfs die skuld van die mens bewys dat hy vir verantwoordelike vryheid geskape was.
Die kwaad het gekom met die intrede van die leuen nog voordat die mens geval het, – iets waarteen hy die Paradys moes bewaak het. Die stryd van die leuen teen die waarheid in en om die hart van die mens, is maar ‘n deel van die stryd tussen die Waarheid (die Lig) en die Leuen (die Duisternis) wat voor die sondeval van die mens in die hemel al begin het en wat sal aanhou tot aan die einde van die dae, wanneer die Aartsverleier in die buitenste duisternis gewerp sal word. Maar die Waarheid sal seëvier. Op die agtergrond van hierdie geweldige perspektief moet ons uiteindelik die sondeval en die sondeskuld van die mens sien. As ons sy sondeval en sondeskuld, afgesien en geïsoleer van hierdie perspektief beskou, sal ook hierdie gedeeltelike waarheid ʼn illusionêr vervalste gedaante aanneem en ons daardeur te meer verlei om na die skuld van God te vra. Maar hierdie perspektief gee aan al die behandelde vraagstukke van die vrymag Gods en die sondeval van die mens, ʼn geweldig verdiepte betekenis. “Ons word tot vryheid geroep”, beteken dat ons ons nie sal oorgee aan die leuenagtige vrae na die skuld van God nie, maar reeds nou medestryders van God sal word in hierdie stryd tussen die Waarheid en die Leuen, ook al verstaan ons nie, en juis ook omdat ons nie al die geheimenisse Gods verstaan nie.
Daar is geheimenisse Gods waarin die mens nie mag indring nie. Daar is geheimenisse waarin hy weens die sonde nie kan indring nie. Daar is geheimenisse waarin hy weens sy menslikheid nooit sal kan indring nie. Die diepere gronde van die verhouding tussen die vrymag Gods en die sondeval en sondeskuld van die mens behoort tot hierdie geheimenisse. Ons insig in die waarheid is deur die sonde verduister; maar bowendien is ons nie God nie. Ook al verstaan ons hier nie alles nie, moet ons vashou aan wat God ons hiervan geopenbaar het; en dit is vir die gelowige genoeg. Selfs die vraag: Was daar vir God geen ander uitweg nie? – kan net uit ʼn hooghartige sondaarshart gebore wees.
Die Kerkblad 3 Augustus 1945:15,16
Die gevalle mensheid vertoon in sy oortuiginge en in sy strewe ʼn verwarrende en teenstrydige beeld van botsende mites* wat met mekaar om die oormag en oorhand stry. Die botsing van skynwaarhede vind hul beslag in ʼn onderlinge stryd van skynvryhede. Deur sy afval van God het die mens die eenheid van die waarheid, die eenheid van die vryheid en die eenheid van beide saam verloor.
Maar alle waarheid het die gevalle mens nie verloor nie; anders was hy geen mens meer nie. Juis sy mitevorming bewys dat hy nog na die diepere sin, betekenis, waarde, doel en bestemming van alle dinge soek. Die waarheid in die skepping van God, ook in sy eie sielelewe mag hy wel onsuiwer en as deur ʼn duister rede besien; maar hulle bekoor hom nog en roep hom nog tot vryheid. Maar ontwortel aan hul eenheidsgrond staan hierdie waarheidsvonkies, hierdie brokstukke waarheid as ʼn gebroke en teenstrydige waarheid teenoor hom. Desnieteenstaande roep hierdie waarhede hom tot vryheid, tot verantwoordelike vorming van kultuur (o.a. van lewens- en wêreldbeskouing, van wetenskap, van sedelikheid, van kuns, van reg, van ekonomie, van taal, van gesinne, van volke, van state, van maatskappye) – al vertoon hierdie kultuurvorming ook ʼn innerlik-teenstrydige en gebroke karakter – en al word hierdie verantwoordelike heerskappy ook ʼn selfverslawende oorheersing.
Die gevalle mens, afgesien van die gelowige, moet onder hierdie waarheidskerwe, hierdie brokstukke van waarheid een soek en vind wat aan sy lewe ʼn dieper sin en aan sy oortuiginge, doen en late ʼn eenheid sal gee en waarop hy sy vaste vertroue kan vestig – want hy het dié waarheid wat in God is, verloor. Hy vind dit miskien in rykdom, in eer, in sedelike preutsheid, in politieke mag, in kuns, in wetenskap, in sinnelus, in sy redelikheid, of in iets dergeliks; maar die een wat sy hart die meeste bekoor, bevoorreg hy, aanvaar hy as die waarheid wat al die ander waarhede hul dieper sin gee en dus oorheers, en hierdie mite verkondig hy as die enige waarheid. So handhaaf dan ook elke mite* dat hy die waarheid in pag het. Telkens word hier opnuut herhaal wat in die Paradys plaasgevind het, nl. dat ʼn deelwaarheid in isolasie teenoor die orige waarheid gestel word, tot die waarheid verhef word, en so as ʼn skynwaarheid die parasitiese leuen dien.
God het in sy skepping ʼn samehangende verskeidenheid van waarhede gelê. Elk van hierdie geopenbaarde deelwaarhede is wel nie absoluut soos die Waarheid wat in God is nie, maar is tog oorspronklik in die sin dat die een nie tot die ander herleibaar is nie; want hul onderskeidenheid is van God gegee. Vir die gevalle mens kan enigeen van hierdie oorspronklike waarhede die fundamentele betekenis verkry. Omdat egter die mens van mens tot mens in sy hart, persoonlikheid, aard, karakter, aanleg, talente, oorerwing, opvoeding en ervaring verskil, sal die een hiérdie, die ander daárdie oorspronklike deelwaarheid uitkies, bevoorreg en mites tot die fundamentele waarheid verhef. So herstel elkeen afgodies die eenheid van sy ‘waarheid” op sy wyse en wel in botsing met die ander. ʼn Verwarrende veelheid van onderling botsende en teenstrydige mites* móet ontstaan, omdat die gevalle mens nie meer die verankering van alle waarhede in God sien nie en omdat ʼn teenstrydige bekoring van die aan hul fondament ontrukte waarheidskerwe tot die hart van die mens uitgaan. Waar die in God verankerde waarheid eenheid en harmonie verseker, daar móet die heerskappy van die leuen innerlik teenstrydig en chaoties word, omdat die leuen op skerwe van onherleibare waarhede parasiteer en hulle op verskillende wyse die harte van die verskillende mense bekoor.
Maar die mens besit nog die waarheidskerwe; selfs die leuen moet nog die skyn van waarheid aanneem om invloed op die mens te kan uitoefen. Hierdie waarheidsvonkies is egter van mekaar afhanklik, omdat die verskeidenheid van waarhede wat God in Sy skepping gelê het, samehangend is. Die verheffing van ʼn brokstukwaarheid tot mite* laat hierdie waarheid oorheers en in ander waarhede bestry wat dit self nodig het. Elke afgodies vereerde deelwaarheid gaan derhalwe aan sy eie oordrywing ten gronde. Die absurditeit van die leuen word in die geskiedenis van die mensheid telkens opnuut bevestig deurdat geen mite* die eeue trotseer nie, en die onderskeie mites in die innerlik teenstrydige en chaotiese heerskappy van die leuen vir mekaar moet wyk. Maar in hierdie afwisselinge, in hierdie geskiedenis van opeenvolginge van mites sit ʼn gang en ʼn koers; want God gebruik ook die innerlik verdeelde stryd van die leuen in Sy diens tot verwesenliking van Sy Raadsplan.
Die vryheid van die gevalle mens is van sy anker, die vrymag van God, losgeruk en gebroke; dit staan in diens van die deur hom afgodies bevoorregte waarheidsvonk, d.w.s. van die hom verslawende leuen. Die blote leuen besit in homself geen krag nie, maar moet om invloed uit te oefen, op die waarheid parasiteer. So ook vermag die blote slawerny niks nie, en teer die slawerny van die gevalle mens op sy gebroke en ontwortelde vryheid. Verslawing aan die leuen beteken nie dat die mens ʼn onverantwoordelike en dus onskuldige wese, d.w.s. soos ʼn rat in ʼn masjien word nie; die verslawing om verslawing te wees móet die gedaante van ʼn skynvryheid aanneem. Die dronkaard voel hom nog vry as hy skynvry sy glas met drank ledig; hy wat hom aan die verleiding oorgee, doen dit skynbaar vrywillig; en selfs die geleerde wat ʼn anti-Skriftuurlike teorie bou, is oortuig dat hy dit in vryheid doen. Sonder vryheid, al is dit gebroke en ontwortelde vryheid, wat uiteindelik die leuen dien, is geen kultuurvorming moontlik nie. Die kunsskatte en die wetenskaplike prestasies van die gevalle mens, die geesdrif waarmee hierdie mens sy vryheidstryd aandurf, die liefde van ook die ongelowige moeder vir haar kinders, die armoede waarin die kunstenaar sy ideaal dien, die hom verterende inspanninge van die navorser, en so baie meer is sonder vryheid, onmoontlik, al is hierdie vryheid uiteindelik ook maar ʼn gebroke en ontwortelde en deur die heerskappy van die leuen vervalste vryheid – al is uiteindelik hierdie heerskappy weens sy mensverankerdheid ʼn in selfsug wortelende oorheersing, en al is die kultuur wat hierdie “vryheid” skep, uiteindelik ʼn innerlik teenstrydige wankultuur.
Omdat die mens nóg waarheid en nóg vryheid besit, móet hy ook nog ʼn betreklike moontlikheid van keuse tussen dit en dat besit; anders kon die waarheid hom nie bekoor en hy ook geen vryheid besit het nie. Die mens het wel die fundamentele moontlikheid van keuse wat die eerste mensepaar gehad het, nl. om voor of teen God te kan kies, verloor; en dit kan hy sonder die wederbarende geloof in die kruis van Christus nie weer terugwen nie. Maar hy besit nóg teenoor die brokstukwaarhede betreklike moontlikhede van keuse, waardeur hy sy gebroke vryheid kan verwesenlik. Elkeen weet dat hy nou dit of dat kan doen en dat hy, terwyl hy iets doen, hy iets anders kon gedoen het; dit bewys ook sy selfverwyte en verontskuldigings. Ons staan hier weer voor die misterie van die hart, nou van die hart van die gevalle mens, waaruit ook ál die uitgange van die lewe is en wat sy denke en wille bepaal en lei volgens die brokstuk waarheid wat hom bekoor en wat hy as hele waarheid aangrypend tot leuen vervals. Hierdie gebroke en betreklike moontlikheid van keuse laat die mens hom nog verbeel dat “hy mág, omdat hy kán”. Maar om werklik “te kan”, moet hy homself geweld, mag en invloed toeëien. Waar die mens deur sy val die suiwer insig in wat waarlik mag gedoen word, verloor het, soek hy sy reg in sy geweld, mag en invloed; sy prestasies (dit wat hy verower, hom toeëien, toon en vertoon) moet sy “vryheid” bewys. “Wat kán, mág (geskied)”; “mág (d.w.s. geweld, invloed) is rég”; “vrúgbaarheid is waárheid”; “suksés is vryheid”; hierdie vier stellinge beteken uiteindelik dieselfde en geld vir die gevalle mens oral waar hy optree. Sy slawerny handhaaf sy skynvrye heerskappy met parasities verworwe mag en sien in die sukses van sy parasitisme sy regverdiging. Die een mens móet nou met hierdie mag homself teenoor die ander handhaaf, omdat die heerskappy van die leuen ʼn teenstrydige en verdeelde heerskappy is. Oorloë en gerugte van oorloë – nie net op politieke gebied, en nie net met stoflike wapens nie – sal daarom móet aanhou tot aan die einde van die dae, d.w.s. solank die innerlik teenstrydige en homself vernietigende, maar telkens weer parasities selfverheffende leuen die aan hom verslaafde mensheid tot botsende skynvryhede roep.
Maar in hierdie verwarde worsteling van mense met hul vervalste vryhede word tóg die natuur beheers en kultuur geskep. Insover en deurdat hierdie worsteling op brokstukke waarheid en vonke van vryheid parasiteer, het hierdie kultuurskeppinge van die gevalle mens waarde en wel kragtens Gods algemene genade of, as u wil, kragtens die oorblyfsels van die oorspronklike gaafheid en goedheid wat God nóg in Sy skepping handhaaf – en ten spyte van die gevalle toestand van die mens. Hierdie waarde mag ons nie onderskat nie, nieteenstaande en juis ook omdat die gevalle mens sonder en teen God niks vermag nie. Want deur die, al is dit gebroke, waardemomente van die menslike kultuurskeppinge dien die leuen desondanks homself tog die heerlikheid Gods. Ook die worstelstryd van die gevalle mens dien tot die eer en verheerliking van God – nie alleen omdat dit die innerlike teenstrydigheid van die heerskappy van die leuen openbaar nie, maar ook omdat deur hierdie stryd Gods grootheid en goedheid deur wat die gevalle mens tóg nog presteer, hom manifesteer.
Die Kerkblad 7 September 1945:13,14
In die worstelstryd van die gevalle mens neem die gelowige ʼn unieke posisie in. Want aan die een kant het hy in beginsel deur die geloof en onder leiding van die besondere openbaring Gods weer die oorsprong van die vonke van waarheid en van vryheid in God teruggevind. Maar aan die ander kant kleef die sonde hom nog aan, staan hy nog teenoor brokstukke waarhede waardeur hy ʼn gebroke vryheid verwesenlik en bekoor ook hom nog die roepstem van die skynware leuen, tot die skynvrye slawerny. Hy hoef egter nie soos die ongelowige ’n skynware leuen met ʼn skynware leuen, die mag van ʼn skynvrye verslawing met die mag van ʼn ander skynvrye verslawing te bestry nie. Hy het in beginsel die moontlikheid om die leuen met die waarheid en daardeur die verslawing met vryheid te beveg; want hy hoef nie in ʼn waarheidskerf die waarheid en in ʼn gebroke vryheid die vryheid te soek, waar hy beide in God veranker weet nie.
Die waarheid roep hom op negatiewe wyse tot vryheid deur sy oë vir die valstrikke waarin die leuen sy aanbidders verstrik, oop te maak: “Kindertjies, pas op vir die afgode”, nie net vir die afgode op spesifiek godsdienstige terrein nie, maar vir die afgodiese en dus mitiese verheerliking van enige brokstuk waarheid wat as sodanig teenoor die Waarheid gestel word. God alleen is God en niemand of niks anders nie, ook nie die natuurwetenskap, ook nie die wysbegeerte, ook nie die lewe, ook nie die individu, ook nie die volk, ook nie die staat, ook nie die menslike rede, ook nie die natuur, ook nie die kuns, ook nie die politiek, ook nie rykdom, ook nie sport, ook nie sinnelus of enigiets anders nie. Die betekenis van hierdie leidraad vir die Christelike vorming van kultuur (van wetenskap, kuns, sedelikheid, reg, ekonomie, taal, landbou, en van huwelike, gesinne, volke, state, maatskappye, ens.), d.w.s. vir die vrymaking van die mens, het onberekenbare waarde – kon die gelowige dit maar getrou volg! Hierdie leidraad gee die gelowige verder die kragtigste wapen in sy hand, om die leuen te ontmasker en te bestry – deur die afgodiese grondslag van elke mite op elke terrein van die menslike samelewing te ontmasker en deur aan te toon dat hierdie leuen nie vrymaak nie, maar verslaaf en chaos in die hand werk, word die leuen in sy hart getref.
Die waarheid roep die gelowige op positiewe wyse tot vryheid deur sy oë daarvoor oop te maak dat elke gedeeltelike waarheid ʼn waarheid Gods, d.w.s. in God veranker is, dat elke gedeeltelike waarheid in sy eie-aard en algar in hul onderlinge samehang en in hul gesamentlike gefundeerdheid in die Waarheid gesien moet word, dat ál hierdie waarhede die mens tot vryheid roep, d.w.s. in staat stel om sy roeping op aarde gehoorsaam aan God te vervul. Die waarheid roep die mens tot vryheid deur hom gehoorsaam aan alle ordinansies van God te laat bou aan ʼn Christelike wetenskap, ʼn Christelike kuns, ʼn Christelike politiek, ʼn Christelike handel; deur hom Christelike sedelikheid en Christelike reg te laat vorm; deur hom ʼn Christelike huwelikslewe, ʼn Christelike gesinslewe, ʼn Christelike volkslewe, ʼn Christelike staatslewe en ʼn Christelike maatskaplike lewe te laat verwesenlik. Al hierdie waarhede op die terrein van die algemene openbaring roep die mens om met dade lief te hê, d.w.s. inderdáád vry te wees. En ook al sien die gelowige dit nie oral duidelik nie, deur hierdie positiewe roepstem tot vryheid toon die waarheid aan die mens die rigting en die koers aan, waarin hy sy vryheid moet probeer te verwesenlik.
Maar die gelowige bevind hom binne die onderlinge stryd van die ongeloof en kan hom daarvan nie isoleer nie. Die waarheid roep hom tot vryheid ook in dié sin, dat hy dááraan sal deelneem sonder om hom daarmee te vereenselwig. Hy mag nie teenoor hierdie stryd net negatief staan deur die afgodiese grondslag van die leuen, van die mites te ontmasker en te verwerp nie. Omdat die leuen op die waarheid parasiteer, bevat elke mite ʼn brokstuk waarheid wat aan die kloue van die leuen ontworstel moet word en in die eenheid van die Christelike waarheid sy plek moet inneem. Die gelowige moet in die ontdekkinge en kultuurskeppinge van die ongelowige mens aan die leuen ontworstel wat syne is. Dit is geen parasitisme nie. Saam met prof. Hepp mag ons dan ook sê dat die Christelike wetenskap (en ons mag aanvul: die Christelike kultuur in die algemeen) die legioene van die ongelowige kultuurbouers tot sy voordeel moet gebruik, want waarheidsbrokstukke wat hulle versamel, behoort aan ons, omdat ons aan Christus behoort en Christus en die wêreld en sy volheid van God is. Die gelowige vervul sy roeping deur self ʼn Christelike kultuur tot die eer van God te bou en deur op die kultuur van die ongeloof tot in sy wortel hervormend in te werk. Hy mag dus nie blind wees vir die waarde wat daar tog nog skuil in die kultuurskeppinge van die mens wat van God afgeval het, ook al moet hy hul mitiese grondslae tot in sy fondament bestry.
Op hierdie drieërlei wyse word die gelowige deur die waarheid tot vryheid en tot verlossing van die bande van slawerny geroep. Maar dan moet hy ook aan die volle stryd tussen die Lig en die Duisternis hier op aarde deelneem. Net so min as wat hy hom binne die kloosterse kerkmure mag terugtrek, mag hy hom met die besondere openbaring van God uit die wêreld terugtrek. Hy moet met die lig en leiding van Gods Woord in die wêreld ingaan en die waarhede van Gods algemene openbaring leer ken, sodat ook hulle hom tot vryheid, d.w.s. tot gehoorsame roepingsvervulling kan roep.
Sy deelname aan hierdie stryd vereis dat hy ook die mag van die aan die leuen verslaafde mensdom in diens van God sal gebruik. As die een mite die euwels van die ander mite bestry, het die gelowige die reg om hierdie mag, insover dit ten goede meewerk, te gebruik sonder om homself daaraan te verslaaf. Dit is geen parasitisme nie; want die slawerny verwerf sy mag alleen deur op die gebroke vryheid van die mens te parasiteer, en die mag van hierdie vryheid as vryheid behoort aan die gelowige, omdat hy aan Christus behoort en alle vryheid in God veranker is.
Maar die geskiedenis van die Christendom vertoon ook ʼn verwarrende beeld; want die een gelowige bestry die ander en menige gelowige vereenselwig hom met die strewe en doen van die mite-aanbidders. Hieruit blyk hoe sterk nog die leuen ook die hart van die gelowiges bekoor en hoe verduister hul rede, hul waarheidskennis nog is. Die verdeeldheid onder die Christene is ʼn afglans van die innerlike verdeeldheid van die heerskappy van die leuen, waarvan selfs hulle hul in hierdie bedéling nie kan losworstel nie. Maar desnieteenstaande en juis des te meer daarom bly die waarheid hom tot vryheid roep.
Die kultuurgeskiedenis van die mensdom skyn egter te openbaar dat in die reël die grootste prestasies, die waardevolste ontdekkinge en die belangrikste skeppinge van die mensdom op die krediet van die ongelowige mens geboek moet word. Dit is van oudsher in die eerste plek die geslag van Kain en nie van Set nie, wat as stedebouers, tentbewoners, veeboere, siter- en fluitspelers, smede (makers van koper- en ysterinstrumente) bekend staan. Dit is asof die onrus die mite-gelowige dryf om sy “geloof” en “vryheid” in sy prestasies te móet bewys. Daarenteen het die gelowige in die diepste van sy hart ʼn rus wat hom deur die sonde wat hom nog aankleef en hom ʼn verdeelde wese bou, so maklik in ʼn valse gerustheid laat verval. Noodsaaklik is dit nie – dit bewys o.a. die bloed van die martelare. Maar, laat ons in eerlike selfkritiek ons afvra hoe ernstig ons as gelowiges ons roepingsvervulling op aarde opvat en al ons kragte en ons van God gegewe talente in Sy diens stel en of ons dit met dieselfde vuur doen waarin menige miteverheerliker sy mite dien? Dit is asof ons dikwels die pligte wat die waarheid op ons lê as ʼn bewys van ons onvryheid belewe i.p.v. as voorwaarde van ware vryheid te aanvaar. Beny ons nie die ongelowige wat na hartelus kan doen wat hom behaag, terwyl ons ons so baie daarvan moet ontsê? Maar hierdie lewenshouding verlam ons en bewys dat ons dieselfde slaafse vryheid van die mite-aanbidder begeer. Die sonde wat die wedergeborene nog aankleef, verslaaf hom nie ten volle soos dit die ongelowige verslaaf nie, maar verlam hom in sy roepingsvervulling op alle terreine van die lewe. Soos die ongelowige die lewe geniet, soos die ongelowige wetenskap bou, soos die ongelowige handel drywe, soos die ongelowige kuns skep – so begeer ook ons dit nog.
Maar die waarheid roep ons desnieteenstaande tot vryheid, tot ʼn nuwe lewenshouding waarin ons nie die miteverheerlikers sal beny nie, maar waarin ons met erkenning en gebruikmaking van die waardevolle waarheids- en vryheidsvonke in die prestasies van die miteverheerlikers gegee, maar met kritiek op die grondleggende verslawing aan die leuen wat alle miteverheerliking kenmerk – ons hart oopstel vir die waarhede rondom ons en ons van harte oorgee aan die roeping van die gelowiges op aarde, waardeur alleen ons in Christelike sin vry kan word en God kan dien, nie uit verdienste en om beloning (soos alle slawevryheid sy prestasies móet betrag) nie, maar uit genade en as bekroning, soos Artikel XXIV van ons Geloofsbelydenis dit so kernagtig stel.
Die waarheid maak vry; “die waarheid roep tot vryheid”; in gehoorsaming aan die waarheid is ons vrye roeping geleë; ons moet die waarheid met dade liefhê; hierdie waarhede verplig ons as enkelinge en gesamentlik in die onderskeie kringe waarvan ons lede is, om met oop harte die geopenbaarde waarheid te leer ken, daaruit ons ideale te neem wat geesdrif wek en ons op die weg van vryheid sal lei. Die valse gerustheid wat die Christendom aankleef solank sy besondere, godsdienstige geloof nie aangetas word nie, moet ons oorwin en omvorm in ʼn geesdrif tot ʼn volle roepingsvervulling, d.w.s. tot ʼn ware vryheid wat alleen sy krag put uit die liefde tot die diens van die Allerhoogste.
____________________________
* Toespraak voor J.V. (Jongeliedevereniging) te Potchefstroom op 6.8.44 gehou.
* Oor hierdie beskouing van vryheid sien my artikels in “Vryheid” (J.V. – K.P. 1937): “Jaarboek” XIII van S.A. Akademie, 1938; en my “Stryd om die Ordes”.
* Ons behandel eers hierdie onderwerp, al was dit geen deel van die betrokke voordrag nie.
** As ek my naaste se huis, se vrou, se dienskneg, se diensmaagd, se os of se esel, of enigiets wat syne is, beskou afgesien daarvan dat dit aan my naaste behoort, dan is dit alles goed en mooi en begeerlik. Beskou ek hierdie gedeeltelike waarheid i.v.m. die orige waarheid, nl. dat dit my naaste syne is, dan verval my reg daarop, d.w.s. my moontlikheid om dit in vryheid te beheer, dan mag ek dit alles, wat in isolasie beskou begeerlik is, nie begeer nie. Isoleer ek verder my selfliefde van my liefde tot God en tot my naaste, dan sal ek dit tog begeer en slaaf van my begeerte word. Bewaar egter my selfliefde sy volle verband met my liefde tot God en tot my naaste, dan sal ek dit wat van my naaste is, in vryheid en waarheid nie kan begeer nie, juis omdat dit aan my naaste behoort, ek hom lief het en hom alles wat God aan hom toevertrou het, van harte gun.
*** Nl. die gedeeltelike waarheid wat in isolasie van en dus in teëstelling tot die volle waarheid skitter.
**** Dito ***
* Onder mites verstaan ons: mites en in mites gegronde gelowe, godsdienste, lewens- en wêreldbeskouinge, skole, strominge, partye, faksies, ens..
Bron: HG Stoker CD met sy boeke, lesings en artikels.
Sien ook: Ware vryheid teenoor liberalisme
Sien hier meer artikels van Stoker: HG Stoker