Frits Gaum se kritiek teen Adrio König se nuwe boek oor Paulus

KRITIEK OP KöNIG SE NUWE BOEK OOR PAULUSPaulus (Sagteband)

Frits Gaum se (baie) kort resensie van Adrio König se nuwe boek oor Paulus, kan hier gelees word:

Adrio König doen dit weer 

Gaum se “een puntjie van kritiek” op die boek:

“Verbasend genoeg bespreek König die kwessie van selfdegeslagseks – waaroor Paulus in ‘n sekere konteks bepaalde uitsprake gemaak het – nêrens aan nie. Was Paulus nie, ironies genoeg, in hierdie verband opnuut “wetties” nie?”

Nou in die lig van die lengte van die resensie, wonder mens – ongeag al die mooi woorde oor die werk van König deur Gaum – of die hoofdoel van Gaum se resensie dalk nie juis hierdie ‘een puntjie van kritiek’ op die boek is nie.  Hy fokus op ‘n bepaalde aspek van König se boek, nl. dat Paulus sogenaamd die ‘spanning’ tussen die Jerusalem gemeente en die nie-Joodse gemeentes opgelos het, dat Paulus “die ‘indringer-apostel’, die evangelie van die dwinglandy van die Wet ‘gered’ het” en dan kom die steekpuntjie, ek bedoel, die ‘een puntjie van kritiek’.

En natuurlik is daardie ‘een puntjie van kritiek’ sekerlik ook gemik op die ‘wettiesheid’ van vandag, waarvan ons blykbaar ook ‘gered’ moet word, bv.

– die ‘wettiesheid’ van sake soos die vrou in die besondere ampte (1 Kor.14:34-40; 1 Tim.2:11-15), dit is nou spesifiek die GKSA wat eintlik nog moet ‘bykom’ by die anders susterskerke (die GKSA het nou vêr agtergeraak na hul onlangse spesiale sinode in 2016); en dan,

– veral die ‘wettiesheid’ van die ‘anti-gay homoseksuele agenda’ wat nog oor is in die NG kerke, want Sodom en Gomorra moet nie net verdra word nie, maar heeltemal aanvaar, verwelkom en kerklik bevorder word.

Dit is natuurlik God se Wet, Paulus se NT briewe, en die Woord in die algemeen wat vir Gaum en ander ‘n groot probleem is in ons tye, wat inderdaad verdraai moet word (2 Tim.4:3,4), om sake soos die vrou in die besondere ampte (1 Kor.14:34-40; 1 Tim.2:11-15) en die homoseksuele agenda (Gen.19; Lev.18:22; 20:13; Rom.1:25-32; 1 Kor.6:9-11; 1 Tim.1:10, ens.), goed te praat en te ‘verkoop’ vir die kerke en die samelewing, alles in die naam van godsdiens en kerk.

Maar ja, dit is wel vreemd waarom König nie Paulus oor homoseksualisme aanspreek nie, mens kan net wonder hoekom nie, juis omdat die onderwerp oor homoseksualisme nou so aktueel is ? Moontlik is dit omdat hy dalk by ‘n meer behoudende gehoor ook sy boek wil laat verkoop, ek weet nie ?

Sy standpunt oor homoseksualisme is egter reeds bekend, behalwe as dit onlangs weer verander het? In my bespreking van drie van König se boeke (Die Evangelie op die Spel; Wat is reg? Weet iemand dalk?, en, Radikaal anders soos Jesus), het ek (in 2009) as volg geskryf spesifiek met verwysing na sy standpunt oor homoseksualisme, wat ek nou deels weer hier plaas met enkele veranderinge:

Adrio König oor homoseksualisme

“Na alles wat ons hierbo gelees het, is ons nie verbaas om te hoor uit König se VK (verantwoordelike kritiek) teologie, dat hy glo dat mense homoseksueel ‘gebore’ word nie.

Romeine 1 se veroordeling van homoseksualisme (v.26,27), was volgens König teen die destydse situasie van ‘ongelowige’ homoseksualiste wat die ‘waarheid verruil het vir die leuen’ (en), skryf König verder:

“Dit bring ons by die basiese verskil met vandag. Dit is duidelik dat Paulus hier ‘n besondere groep mense in die oog het wat onder ‘n besondere oordeel van God geleef het, én verder het hy nie die moontlikheid oorweeg dat homoseksuele mense gelowiges kan wees nie. … Dit bring ons by die basiese vraag: Is moord en diefstal nie van ‘n ander aard as homoseksualiteit nie? Moord en diefstal benadeel ander mense. Dit rand hul menslikheid aan. Maar ons kan dit nie van die verantwoordelike uitlewing van homoseksualiteit sê nie. Twee mense kan homoseksueel in ‘n vaste liefdesverhouding leef. As hulle getrou aan mekaar is, bied hul tog aan mekaar dieselfde geborgenheid as twee heteroseksuele mense, of hoe ?”

Hier hoor ons die verleier se stem baie duidelik.

Is dit ook so dat God gesê het: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar …” (Gen.1:27,28)

Teenoor hierdie leuens van König, leer die Skrif:

9 Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? 10 Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

En wat nou as gemeentes verskil oor homoseksuele ampsdraers ?

Maklik, sê König, laat elke gemeente self besluit, of hul dit beskou as sonde of nie, en dan daarvolgens elkeen ‘n besluit neem.

In die boek, Wat is reg, Weet iemand dalk?, is König ook baie besorg en verontrus oor die “Krimpende Christendom” [348], soos hy bekommerd is oor die Liberalisme wat die kerkbanke gaan laat leegloop, asook die invloed van veral ‘sagte’ liberalisme op kerke en deur teologiese skole.

Maar, as ‘n mens kyk na bogenoemde sake, dan is ons as gereformeerdes se besorgdheid juis dat die VK teologie van König deel van die probleem is, en nie die oplossing nie ! 

As jy dit kan regkry om aborsie en homoseksualisme te regverdig, selfs vanuit die Skrif, dan bevestig dit alles opnuut dat VK teologie is, soos hierbo genoem, niks anders as net nog ‘n reaksionêre teologie en idee wat sy ontstaan en lewe kry uit samelewingstendense, en nie die Bybel en die Christelike geloof nie.

Die evangelie aan mede-sondaars soos homoseksuele persone en mense wat hul babas wil aborteer, is inderdaad op die spel (soos die titel van een van König se boeke dit stel!).

Nie net hulle wat die liggaamlike opstanding van Christus (en dus die evangelie) ontken nie, maar ook hulle wat die Skrif verdraai sodat mense in hul sondes bly, en hul bv. nie bekeer van hul homoseksuele gedagtes en leefwyses nie, is besig om die evangelie in sy wese aan te tas (Gal.5:13).

Dit is, of dit so bedoel word of nie, ‘n verwerping van die krag van Christus se bloed, dit leer mense dat hulle in hul “sonde (kan) voortbly, sodat die genade meer kan word” (Rom.6;1,2), en dat hul nie die sonde moet aflê en hoe langer hoe meer moet afsterwe nie (Rom.6 en 7), soos ons almal met ons oorblywende sondes en stryd teen moedswillige moet doen nie (Kol.3:5-17).

König se VK teologie, en die liberale standpunt wat hy kritiseer, verwerp ongelukkig albei die evangelie wat ‘n “krag is tot redding vir elkeen wat glo” (Rom.1:16), asook ‘n evangelie wat vrug dra, nie in volmaaktheid nie, maar in dankbaarheid hoe langer hoe meer (sien HK Sondag 44) .

König verwerp ongelukkig die dodelike erns van 1 Kor.6:9,10 … maar nog erger … hy verwerp ook die soewereine goddelike genade in Jesus Christus, van die volgende vers, vers 11, “en dit was sommige van julle, maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van ons God.”

Die ware Evangelie, is ‘n evangelie van regverdiging wat nie anders kan as om heiligmaking tot gevolg te hê nie (Ef.1:4-6; 1 Kor.1:30,31; Rom.6-8; sien HK, v/a 64).

Dit klink daarom meer asof König se hoogste gesag, besorgdheid en belang nie die bewaring van die suiwere evangelie is nie, maar eerder die handhawing van die goddelose SA Handves van Menseregte in ons huidige moderne demokraties feministiese samelewing is.

Dit is nie suiwere teologie nie, maar eerder sosiologie wat sy lees van die Skrif bepaal.

Uit König se boek(e) is dit duidelik dat hy afskeid geneem het van die ‘beperkings’ van die gereformeerde belydenis.

Hy skryf : “Ons dink vandag eenvoudig anders oor die Bybel as die Kerkhervormers, en ons het ‘n magdom nuwe insigte in die Bybel en in die tyd en omstandighede rondom die Bybel gekry. Hierdie insigte maak ons gevoeliger vir probleme in verband met die Bybel self, en ook ten opsigte van ons tradisionele geformuleerde belydenisse.” [Die Evangelie op die Spel, 19]

Weereens, wat was die oorsaak van König en die VK teologie se ‘vernuwing’ in die teologie en hoe hul na die Skrif, die Christelike geloof en die gereformeerde belydenis kyk ?

Nee, nie die Skrif self nie, maar hul ‘sosio-historiese’ omstandighede, hulle het vir hul ‘n eie unieke ‘gemeente-teologie’ oftewel nuwe SA teologie ontwikkel, alles weereens op ‘n reaksionêre wyse:

“Die dekades lange stryd teen apartheid het ons as groep geleer om die Bybel in sy groot samehange te lees, om verbande te respekteer, en om erns te maak met wat regtig in die Bybel staan, en ons nie te verlaat op ‘die klank van die woorde’ nie. Dit het ons ook geleer om krities teenoor die kerklike en teologiese tradisies te staan. Dit het telkens geblyk dat diep gewortelde oortuigings hoegenaamd nie op vaste Bybelse fondamente gestaan het nie.”

Ten einde, wil König net ‘n “algemeen Christelik(e)” geloof oorhou, gestroop van die ‘engheid’ van die gereformeerde belydenis en geloof. Die ‘evangelie’ moet bewaar bly, maar die ‘verpakking’ kan maar gaan, wat die Bybel betref.

…. Saam met prof. Adrio Konig, is ons besorg oor die teologiese en kerklike verval, ook soos dit veroorsaak word deur die liberale teologie, die harde en die sagte vorms daarvan.

Ons kan as gereformeerde gelowiges egter nie opgewonde raak oor sy ‘alternatief’ nie, die verantwoordelike kritiek teologie nie, want ook deur hierdie teologie is die Evangelie inderdaad op die spel. 

Dit bou maar op dieselfde basis as die teologiese liberalisme, soos deur die verligtingsdenke en teologie gestuur word, met die ‘hoër kritiek’ metode as skêr om die Bybel uitmekaar te versnipper. Die Verantwoordelike Kritiek beweging is ‘n reaksionêre verligtings-ideologie, wat eindig in ‘n onverantwoordelike onkritiese akkommodering van die humanistiese tydsgees, soos dit vandag tot uiting kom in die (post)moderne feministiese demokratiese menseregte bedeling in die Nuwe SA.

Dit blyk dat die VK teologie en teoloë ook al meer bande breek met die konfessionele wortels van ons gereformeerde geloof, al is dit net op ‘n baie stadiger en meer subtieler trant, binne die kerklike strukture, as die liberalisme wat dit konsekwent volspoed doen.

Gereformeerde gelowiges sal daarom goed doen om hul eerder te vereenselwig met die VK teoloë se ‘fundamentalistiese’ voorvaders, soos bv. prof. EE van Rooyen, wat in sy kommentaar op die Nederlandse Geloofsbelydenis, spesifiek oor artikel 5 (Die Gesag van die Heilige Skrif) skryf, waarmee ek afsluit (kursief bygevoeg):

“Op die algehele geloofwaardigheid (van die Bybel) druk die Belydenis met hierdie woorde:

,,En ons glo sonder enige twyfel alles wat daarin vervat is, en dit nie juis omdat die Kerk hulle aanneem en as sodanig beskou nie, maar in sonderheid omdat die Heilige Gees in ons harte getuig dat hulle van God is, en omdat hulle die bewys daarvan in hulleself het.”

… Die omvang van die geloofwaardigheid: dit geld die Bybel in sy geheel, en elke boek afsonderlik in al sy dele. Die geskiedverhale, die leerstellige uitsprake, die voorsegginge, die sedelesse, ens., is almal waaragtig en geloofwaardig. Dit alles kan en moet ook sonder enige twyfeling of onsekerheid deur die gereformeerde belyder aanvaar word. God almagtig is ‘n God van waarheid. Sy Gees wat die Bybelboeke ingegee het, is ‘n Gees van waarheid, en ‘n Gees wat ook die Bybelskrywers in alle waarheid gelei het.

En daarom is die Bybelboeke dan ook van begin tot end geheel en al geloofwaardig. Die mense egter wat net die s.g. gedeeltelike ingewing van die Bybelboeke leer, dit wil sê dat net die godsdienstige en sedelike gedeeltes van die Bybel ingegee sou wees, kan nie hierdie vyfde artikel met ‘n goeie gemoed onderteken nie. En as hulle dit tog doen, is hulle huigelaars. Hulle hoort eintlik in ‘n gereformeerde kerkverband nie tuis nie.”

Sien die volledige boekspreking van prof. Adrio König se boeke, hier:

Is die Evangelie op die Spel ? – Inderdaad ! 

_____________________

Sien gerus die volgende boeke oor Paulus:

Paulus: Ontwerp van zijn theologie, prof. Herman N. Ridderbos (beskikbaar in Nederlands en Engels)

Paulus: Pionier voor de Messias van Israël, dr. Jakob van Bruggen (beskikbaar in Nederlands en Engels)

Paul: Missionary Theologian, dr. Robert L. Reymond

5 thoughts on “Frits Gaum se kritiek teen Adrio König se nuwe boek oor Paulus

Add yours

  1. Slabbert, jy het dit sekerlik opgelet dat Konig sonde sien slegs as dit waar een mens ‘n ander op een of ander manier fisies seermaak of te na kom soos bv om van iemand anders te steel. Ek dink nie ek het hom daarin verkeerd gelees nie. Dit beteken dan bv. dat buitehuwelikse seks met instemming van beide partye nie sonde is nie.

  2. Dit is hartseer dat hierdie geleerde man die volk mislei. Sy opvatting oor die doop het hy ook radikaal verander deur die jare. Kom ons lees die Bybel en vermy hierdie dwase wat ons mislei. Die Bybel saam met die Heilige Gees sal jou lei in die Waarheid. Ons voorouers se kennis en insig word deur hierdie tipe mens af gemaak as onheilig wat ons dan moet glo dat almal wat voor ons geleef het in die hel is.
    Daar is net een Waarheid en lees dit in ons ouer vertalings van die bybel.
    Luister na die Gees en toets dit sodat jy sal weet dit kom van Jesus.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: