Die Koninkryk van God en die aardse ryke, prof. L. Floor

DIE KONINKRYK VAN GOD EN DIE AARDSE RYKE

deur prof. L. Floor*

Inleiding – S. Le Cornu

Wat is die Koninkryk en wat is die Koninkryk se verhouding tot hierdie wêreld. Is daar absoluut geen verhouding nie (wêreldmyding – die anabaptistiese neiging?) of is daar totale gelykstelling (wêreldgelykvormigheid – die social gospel?)

Die kerk van Christus, kinders van die Here, het nog altyd geworstel met implikasies van die koninkryk wat in Jesus Christus reeds gekom het in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld is nie (Joh.17:14-17).

Die reeds maar nog nie spanning (1 Kor.15:20-28) ?

Kry die Koninkryk slegs gestalte in die sigbare aspek van die kerk: leer, diens en tug (1, 2 Tim, Titus), of het dit meer gestalte en/of gevolge vir die totale lewe, elke duimbreedte vir Christus (Kuyper) ?

Is daar een wet vir die Koninkryk en ‘n ander wet vir die wêreld ?

Is die (radikale?) two kingdoms siening die beste een vir vandag, of dalk die teonomies-teokratiese siening, albei wat begrondings vir hul sienings bepleit vanuit die Skrif, gereformeerde belydenis en kerkgeskiedenis ?

Of is dit nie een van hierdie opsies nie, dalk iets tussen-in ?

Ja, die Koninkryk van God is in wese die Here se verlossingsheerskappy in en deur Jesus Christus, dit is in wese ‘n geestelike Koninkryk, dit gaan oor die Koning van die Ryk (Matt.28:18) en sy burgers (Joh.3:1-6), daaroor mag en behoort burgers van die Koninkryk nie te verskil nie, maar wat is die vrug en gevolge daarvan vir elke terrein van lewe en denke, wat is die volle implikasies van dat Christus vlees geword het, en liggaamlik opgestaan het (HK Sondag 1), ja, bo alles vir die ewigheid, maar wat van die hier en nou van die Koninkryk?

Sien gerus prof. Floor se hele werk oor die onderwerp hier:

Die Evangelie van die Koninkryk

Ek plaas ‘n enkele gedeelte daaruit, om u aan die lees te kry oor hierdie belangrike onderwerp, oor die vraagstuk wat is die verhouding tussen die Koninkryk van God en die aardse ryke, wat kom en gaan. Dit help ons om opnuut te besin oor wat ons roeping in sy Koninkryk is, ook in hierdie wêreld.

Beklemtonings, kursief en subopskrifte is bygevoeg, hier en daar ‘n opmerking ook. 

13 Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.
14 En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie. – Daniel 7


 DIE KONINKRYK VAN GOD EN AARDSE KONINKRYKE 

Die geregtigheid van die Koninkryk

Die geregtigheid van die koninkryk van God het ‘n tweevoudige betekenis.

  • Dis die geregtigheid wat toegereken word en waardeur ‘n sondige mens weer in die regte verhouding tot God kom.
  • Maar dis ook die regte handelinge volgens die wil van God.

Calvyn verstaan onder geregtigheid van die koninkryk van God ook die geestelike vernuwing van die lewe. Ons moet hier oppas dat ons die geregtigheid van die Bergprediking van Jesus en die geregtigheid waaroor Petrus in sy eerste brief skrywe nie tot norm verklaar vir die politieke lewe nie.

Gevaar

Wanneer ons die geregtigheid van die koninkryk van God normatief gaan stel vir aardse ryke dan laat ons die koninkryk van God en die wêreldryk ineenvloei. Stryd teen rassisme en diskriminasie, die vermindering van die gaping tussen die ryk en die arm lande word dan gesien as gestaltes van die koninkryk van God in die wêreld. Geregtigheid in die samelewing word aangemerk as die geregtigheid van die koninkryk van God,

Vermenging van die ryk van God en aardse ryke het egter tot gevolg dat die koninkryk van God verwêreldlik word. Gevolg is dat die prediking van die evangelie van die koninkryk sy sentrale plek meer en meer gaan verloor.

Die kerk moet op ‘n ander manier haar taak vervul. Sy moet deur middel van rewolusie meewerk aan die verandering en vernuwing van die wêreld. Dis daarom besonder belangrik dat ons die regte siening op die verhouding van die koninkryk van God tot die aardse ryke het.

Die Koninkryk is reeds hier

Die koninkryk van God het op Pinkster gekom.

Dit is die sentrale plek van Pinkster in die openbaringsgeskiedenis van die Nuwe Testament. Sinds Pinkster is daar by al die koninkryke op aarde ook ‘n koninkryk van God en onder (en uit) alle volke ook ‘n volk van God. Die koninkryk van God is op Pinkster gerealiseer. Hier moet ons egter wel goed onderskei. In die opstanding van Christus is die koninkryk van God gerealiseer en deur die Heilige Gees word die koninkryk van God gerealiseer. Hoewel die koninkryk van God op Pinkster op aarde gerealiseer is, het die voltooiing van die koninkryk van God nog nie plaasgevind nie.

Die boek Handelinge beskryf vir ons die uitbreiding van die koninkryk van God op aarde. Telkens word daar wyer sirkels getrek (vgl. Hand. 1:8). Die uitbreiding van die koninkryk van God geskied deur die swaard van die Gees, die Woord van God, die verkondiging van die koninkryks-evangelie. Die koninkryk van God as ‘n geestelike ryk breek in hierdie wêreld aan deur die verkondiging.

Die groot vraag wat veral vandag weer besonder aktueel is, is die vraag na die verhouding van die Godsryk en die ryke van die wêreld. Is daar raakvlakke, punte van ooreenkoms, wedersydse beïnvloeding tussen die koninkryk van God en aardse ryke?

Sienings van die Koninkryk en die aardse ryke in die geskiedenis

In die loop van die geskiedenis is op die vraag na die verhouding tussen Godsryk en wêreldryke heel verskillende antwoorde gegee.

Augustinus

Die kerkvader Augustinus was van oordeel, dat die twee ryke, die Civitas Dei en die Civitas terrena skerp teenoor mekaar staan. Hy noem die aardse koninkryk ‘n duiwelsryk of  ‘n ryk van rowers (O. Noordmans, 1952, 76).

“Wat zijn de staten dan anders dan roversbenden in ‘t groot, als de gerechtigheid er uit geweken is? En wat omgekeerd ook roversbenden anders dan kleine staten?  Want in ‘t laatste geval is er ook een groep mensen, bestuurd door het gezag van een regent, verbonden door een gemeenschappelijke afspraak; en de buit wordt met onderling goedvinden verdeeld. Wanneer zo ‘n troep door toeloop van boosdoeners zover is aangegroeid, dat ment vaste punten gaat bezetten, woonplaatsen inricht, steden verovert, de bevolking onderwerpt, dan neemt hij voor de duidelijkheid de naam van staat aan en die heeft hij dan te danken, zoals ieder zal toegeven, niet aan het feit dat zijn roofzucht verminderd is, maar daaraan, dat er straffeloosheid is ingetreden.

Want heel aardig en ter snede heeft een gevatte zeerover eens ‘t volgende antwoord aan Alexander de Grote gegeven. Toen die koning de man vroeg, wat hem toch dreef om de zee onveilig te maken, zei hij heel onbeschaamd: “‘t Zelfde wat u drijft om dat met de aardbol te doen; maar omdat ik het met een klein scheepje doe, heet ik rover en omdat gij er een grote vloot bij gebruikt, noemt men u keizer'” (De Civitate IV, 4, vert. O.Noormans).

Die Middeleeue

In die Middeleeue word die spanning tussen die koninkryk van God en aardse ryke weerspieël in die stryd tussen pous en keiser. Die Rooms-Katolieke kerk word beskou as die koninkryk van God op aarde. Met name in pous Gregorius VII vind die teokratiese ideaal sy beliggaming. Die pous is onbeperkte heerser van die kerk en ook van die wêreld. Soos die maan sy lig ontvang van die son, so ontvang aardse vorste hul gesag van die pous. Wanneer die kerk egter mag kry oor die wêreld, kry die wêreld “nog meer mag oor die kerk. Die pouse het veldhere en politici geword. Daarmee het die koninkryk van God volledig verwêreldlik.

Die Reformasie

In die tyd van die Reformasie het die vraag na die verhouding van die ryk van God en aardse ryke weer nuwe aktualiteit gekry.

Luther

Die Duitse hervormer Luther het op ‘n indringende wyse geworstel met die vraag hoe die ryk van God teenoor aardse koninkryke staan. Volgens Luther is Christus die Koning van die kerk. Hy noem die koninkryk van God die ryk van God se regterhand. Daar is egter ook ryke van God se linkerhand. Daaroor regeer aardse vorste.

By Luther kry ons ‘n radikale breuk met die Rooms-Katolieke eenheidsopvatting waarby die aardse ryke onder die gesag van die kerk staan. In sy bekende geskrif: Von Weltlicher Obrigkeit; wie weit man ihr Gehorsam schuldig sei (1523) gaan Luther nie so ver soos Augustinus nie. Daar is volgens Luther wel ‘n verband tussen die ryk van God en aardse ryke. Die wêreldryke is volgens Luther deur God ingestel, maar nie deur Christus nie. Aardse ryke word deur die swaard van die owerheid gevestig. Die koninkryk van God is die ryk van Christus wat deur die prediking van die evangelie op aarde gevestig word.

Langsamerhand kom daar egter ‘n verskuiwing in Luther se siening-op die verhouding tussen die ryk van God se regterhand en die ryke van God se linkerhand. Die aardse ryke staan later by Luther nie meer teenoor die ryk van God nie. Godsryk en wêreldryk staan langs mekaar as die ryk van die Verlosser langs die ryke van die Skepper (W. H. Velema, 1971,20).

Beswaar teen Luther se tweerykeleer, veral in sy latere ontwikkeling is dat daarin te kort gedoen word aan die heerskappy van Jesus Christus. Volgens die Nuwe Testament loop daar ‘n lyn van die versoeningswerk van Christus na die skepping. God self het die ganse skepping betrek in die kruisoffer van Christus (Ef. 1:10; Kol. 1:20). Christus se versoeningswerk het kosmiese implikasies (J. Hoek, 1979, 193, 194).

Ons kan egter Luther se oorspronklike bedoeling met sy tweerykeleer goed begryp. Hy wou die evangelie suiwer bewaar. Luther het die gevaar van die Doperse beweging raakgesien. Die Anabaptiste het die Bergpredikasie van Christus gemaak tot norm vir die publieke lewe. Hulle het egter die verwoestende mag van die sonde onderskat en in ‘n eindtydradikalisme vooruit gegryp na die ryk van God se heerlikheid (W. Balke, 1973,287, 292).

Daarom mag ons die religieuse diepte van Luther se probleemstelling nooit uit die oog verloor nie. Dit is dan ook besonder opmerklik dat die Reformasie in Frankryk en Switserland Luther se oorspronklike standpunt oorgeneem en verder uitgebou het.

Die Reformasie volgens die Gereformeerde tradisie het breër en dieper dan die Lutherse Hervorming ‘n visie ontwikkel op die verhouding van die koninkryk van God tot aardse ryke.

Verskillende faktore het hierby ‘n rol gespeel. As sosiale en politieke faktore kan genoem word dat die Reformasie volgens die Gereformeerde tradisie plaasgevind het in sogenaamde ryksstede met ‘n sterk, selfstandige en van saamhorigheid bewuste bevolking.

In stede soos Genève en Emden het ook die demokratiese element ‘n belangrike rol gespeel. Die belangrikste faktor was egter die teologiese faktor. Calvyn se sterk beklemtoning van die eer van God staan seker op die agtergrond van die breë visie wat in die Gereformeerde tradisie ontwikkel is rondom die vrae van kerk en wêreld.

As eerste moet hier genoem word die reformator van Basel, Oecolompadius wat die selfstandigheid van die kerk ten opsigte van die staat bepleit het. Die kerk beskik oor ‘n ander mag dan die staat.

Bucer

Martin Bucer uit Straatsburg sluit sterk by die hervormer uit Basel aan. By hom vind ons die gedagte dat Christus sy koningskap in sy kerk uitoefen deur sy Heilige Gees. Die verskil tussen die ryk van God en aardse ryke sien Bucer vernaamlik in die tug. Die kerklike tug verskil van die straf van die owerheid. In die kerk kry ons die tug van die koninkryk van God. Daar vind ons die genade wat genees. Maar by die owerheid is daar ‘n swaard wat straf. Dit is volgens Bucer twee dinge maar altwee staan onder die heerskappy van Christus. Daar is wel twee ryke, ‘n Godsryk en ‘n wêreldryk, maar daar is een Here. Volgens Bucer het die owerheid die roeping om die deurwerking, die uitbreiding van die ryk van Christus in die wêreld te bevorder.

In sy laaste geskrif De Regno Christi (1550) wat eers na sy dood verskyn het en wat hy opgedra het aan koning Edward VI van Engeland beklemtoon Bucer, dat die ryk van Christus in hierdie wêreld byeengebring word deur die prediking van die Woord, die bediening van die sakramente en die uitoefening van die kerklike tug. Sentraal staan hier die wonder van die vergewing van die sondes wat geskied in prediking en sielsorg.

Maar die ryk van God moet ook meer en meer gestalte kry in die samelewing.

In verband hiermee kom Bucer met allerlei konkrete voorstelle met betrekking tot die wetgewing van die owerheid wat gestalte moet gee aan Christus se heerskappy in die wêreld. Om aan die owerheid riglyne te gee stel hy ‘n veertiental wette op wat bedoel is om die hele lewe onder die tug van die Woord van God te bring. Die wette bestryk die terrein van Sondagsheiliging, onderwys, arme versorging, huwelik, opvoeding van kinders, die reformasie van kuns en handel, allerlei reëlings betreffende handearbeid, die vestiging van industrieë, strafreg en gevangeniswese (W. v. ‘t Spijker, 1979, 183).

Die kerk staan by Bucer sentraal, maar die kerk mag nie regstreeks ingryp op die probleme van die samelewing nie. Die klem val by Bucer op die getroue prediking van die Woord ook aan die owerheid. Die owerheid is vir die realisering van die ryk van Christus in die samelewing verantwoordelik. Ons moet goed daarop let dat volgens Bucer die kerk nie self op die samelewing moet inwerk nie. Daar is by hom nie ‘n regstreekse ingrype van die kerk in die vrae van die samelewing nie, Dit moet indirek gedoen word. Die lidmate van die kerk is tot hierdie taak geroep.

Calvyn

Baie van Bucer se gedagtes vind ons by Calvyn terug. Dit behoef ons nie te verbaas nie. Iemand het die speelse opmerking gemaak, dat Calvyn deur sy ontmoeting met Bucer in Straatsburg van 1538-1541 ‘n calvinis geword het (J. Pannier, 1925, 55). In Calvyn se Traktaat oor die christelike lewe wat geheel in sy Institusie opgeneem is, teken hy die lewe van die Christen in die wêreld. Wanneer ons by Calvyn gaan soek na die taak van die kerk in die wêreld en die verhouding tussen die koninkryk van God en aardse ryke, vind ons twee lyne. Die eerste en die vernaamste taak van die kerk is. die prediking van die evangelie, die bediening van die sakramente en die uitoefening van die tug, die drie kenmerke van die ware kerk (Inst. IV, 1, 10). Deur hierdie taak van die kerk word die gelowiges uit die wêreld getrek, maar tegelyk ook toegerus om in die wêreld te werk. Toegerus met die gawe van die vergewing van die sondes en die versoening word die gelowiges uitgestuur in die wêreld. Iedere gelowige het sy eie plek en sy eie taak in die wêreld.

Die toerusting tot taak in hierdie wêreld

Die toerusting tot hierdie taak vind nie plaas deur allerlei vormingswerk of die verkondiging van ‘n bepaalde ideologie nie, maar eenvoudig deur die prediking van die evangelie van die koninkryk. Die enigste taak en roeping van die kerk is om mense te roep. Die eerste keer uit die dood tot die lewe en die tweede keer tot gehoorsame diens aan die naaste (Inst. IV, 1, 3).

Daar is egter by Calvyn ook nog ‘n tweede lyn.

Behalwe die regering van Christus in die kerk onderskei Calvyn ook ‘n burgerlike regering wie se taak dit is om die uiterlike godsdiens te beskerm en te ondersteun, die gesonde leer van die vroomheid te verdedig en om die sede te vorm volgens die burgerlike geregtigheid (Inst. IV,  20, 1).

In navolging van Bucer stel Calvyn ook, dat die beide regeringe, die Godsregering en die burgerlike regering wel van mekaar verskil, maar bymekaar behoort, maar aan die ander kant nie met mekaar vermeng moet word nie (Inst. IV, 20, 1). Dit is besonder treffend, dat Calvyn die noodsaaklikheid van ‘n burgerlike regering in verband bring met die vreemdelingskap van die gelowiges op aarde. Die gelowiges staan onder hemelse wette, hulle word deur Christus geregeer. Hulle “is egter op aarde vreemdelinge en gedurende hulle vreemdelingskap op aarde het God aan hulle burgerlike wette as hulpmiddels gegee (Inst. IV, 20, 2). Die samelewing moet leefbaar bly, die humaniteit moet beskerm word. Hier sien Calvyn die taak van die owerheid.

Die kerk het die taak en die roeping om die owerheid voortdurend aan hierdie Goddelike opdrag te herinner. Ons moet hierby goed in gedagte hou, dat Calvyn se siening op die verhouding van die ryk van God en aardse ryke ook bepaal is deur die moontlikhede wat sy tyd gebied het. In Calvyn se tyd was daar nog die heersende gedagte dat die samelewing as ‘n gechristianiseerde liggaam (corpus christianum) beskou kan word. Die verhouding kerk en staat word dan ook gedra deur die teokratiese ideaal. Dit herinner ons sterk aan die Ou Testament. Daar kry ons in die teokratiese staat Israel die verhouding koning – profeet. Die profesie tree telkens op as ‘n korreksie op die koningskap. Namate die koningskap tot verval kom en die konings steeds minder as teokratiese vorste optree, kom die profete steeds sterker na vore. Calvyn se denke is sterk beïnvloed deur hierdie teokratiese ideaal. Hy ag dit die eerste taak van die burgerlike regering om oor godsaligheid en religie te waak (Inst. IV, 20, 9).

Maar wat van vandag ?

Daar was egter in Calvyn se tyd nog nie so ‘n radikale verwêreldliking soos ons dit vandag sien nie, Wanneer die kerk vandag veral in die Wes-Europese lande ‘n beroep op die owerheid doen het dit eweveel waarde as die beroep van ‘n aksiegroep of ‘n politieke party en dan word alleen gevra hoeveel stemme ondersteun so ‘n beroep. Dit mag natuurlik nie beteken dat die kerk nie meer moet spreek as die owerheid nie meer wil luister nie. Die profetiese roeping van die kerk bly altyd staan. Die vraag is wel of ons van ‘n gesekulariseerde staat kan verwag dat hy die ware religie sal beskerm, die gesonde leer van die vroomheid sal verdedig en die christelike sedes sal bevorder.

Die tweede lyn van Calvyn, die lyn van die kerk na die wêreld is in ons tyd baie ingewikkelder as in Calvyn se dae, as in die tyd van die Reformasie. Daarom moet ons miskien meer nadruk laat val op die eerste lyn: die kerk moet die evangelie verkondig en daardeur die burgers van die koninkryk van God wys op hul roeping in die wêreld.

Bucer en Calvyn het hul opvattings oor die verhouding ryk van God en aardse ryk wel aan die Bybel ontleen, maar daarby het hulle ook gesoek na moontlikhede wat hul eie tyd hul gebied het om dit te realiseer. Hulle het in ‘n tyd geleef waarin die reste van die corpus christianum nog nie so radikaal besig was om te verdwyn as in ons tyd nie.

Tussen die Godsryk en aardse ryke staan die kruis

Hoewel burgers van die koninkryk van God ook onderdane van aardse ryke is, loop daar tog nie ‘n regstreekse verbindingslyn van die Godsryk na die aardse ryke nie. Tussen die koninkryk van God en die wêreld, tussen die Godsryk en aardse ryke staan die kruis. Paulus skrywe in Gal. 6:14:

“Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld.”

Wêreld is hier die uitdrukking vir alles waarin ‘n mens sy glorie soek en waarop hy vertrou (H. N. Ridderbos, 1953, 224). Die kruisiging was in die ou tyd ‘n verskriklike vorm van verstoting en uitwerping. Die kruis van Christus was vir Paulus so betekenisvol, dat hy die wêreld, roem en eer om Christus wil skade geag het (Fil. 3:7). Maar toe hy ter wille van Christus die wêreld, die ou bedeling van die sonde en die dood verwerp het, het die wêreld hom ook verwerp.

Paulus wil dus eintlik hier sê: so dink ek oor die wêreld en so dink die wêreld oor my.

Dit beteken egter hoegenaamd nie dat die koninkryk van God geen invloed in die wêreld en op aardse ryke kan uitoefen nie. Die koninkryk van God werk deur middel van die kerk in op die wêreld, op die samelewing. Die kerk kom met die evangelie van die koninkryk na die wêreld. Die koninkryk van God, so skrywe Paulus, is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees (Rom. 14:17). Die geregtigheid van die koninkryk is in die eerste plek die geregtigheid van Christus wat toegereken word en waardeur ‘n sondige mens weer in die regte verhouding tot God kom. (nota: hierdie kan nie sterk genoeg beklemtoon word nie – ook aan Zuma en elke aardse koning, regter, politikus moet verkondig word, tesame met die oproep van reg en geregtigheid, wet en orde, ens. in sy ampswerk:  “10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! 11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. 12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” – Psalm 2. Aan almal – ook alle politieke leiers – moet nie net hul ampswerk nie, maar hul persone opgeroep word tot geloof en bekering, soos Paulus dit stel in Hand.17:31, en waarvoor ons ook moet bid, vir beide hul ampswerk en bekering, 1 Tim.2:1-4).

Maar dit is vervolgens ook reg doen, die wet van God gehoorsaam, in ‘n regte verhouding ten opsigte van God en van die naaste staan. Die gelowige moet aan die eis van God se geregtigheid voldoen. Hy moet doen wat reg is ook teenoor sy medemens, teenoor die medeburger in die koninkryk van God maar ook teenoor sy landsburger. Dit geld nie net binne die intermenslike verhoudinge nie, maar dit is ook van toepassing op die regsorde van die staat. Die menslike regsorde is alleen veilig en ook gewaarborg wanneer daar erns gemaak word met die goddelike geregtigheid. Sonder om die geregtigheid van die koninkryk van God met menslike reg en aardse geregtigheid te identifiseer, moet ons tog erken dat daar ‘n innerlike samehang is. Die regsorde in aardse koninkryke moet ‘n gelykenis, ‘n afskaduwing van die handhawing van die reg van God wees (A. de Quervain, 1942,242).

Hulp betoon aan ellendiges

God is ‘n God wat Hom besonder bekommer om die arme, die veronregte. Hierin moet die burgers van die koninkryk van God navolgers van Christus wees en hulp betoon aan die ellendige. Deur ons optrede teen bestaande onreg en deur ons ywer vir ‘n regsorde waarin ook die medemens tot sy reg kom en aan elke mens gegun word wat hom van Godsweë toekom, kan ons die lig van die koninkryk laat skyn in hierdie wêreld. Die goeie dade wat in geloofsgehoorsaamheid aan Koning Jesus gedoen word, bring nie die koninkryk van God nie, maar is wel ‘n heenwysing na die koninryk van God.

Die koninkryk van God is volgens die woorde van Paulus ook vrede.

Hierdie vrede is ‘n vrede met God wat ontvang word deur geloof in Jesus Christus (Rom. 5:5).

Hierdie vrede met God moet egter ook uitkring tot mense, sodat dit ‘n vreedsame naas mekaar bestaan kan bewerk. Die versoening met God bewerk in die eerste plek vrede onder die mense wat tot die kerk van Jesus Christus behoort en wat deur dieselfde geloof aan Christus verbind is. Maar daardie vrede bevat terselfdertyd ook soveel innerlike krag dat ook buitekant die kerk, In die wêreld die krag van versoening op politieke, maatskaplike en sosiale terrein merkbaar sal wees.

Die tyd van ‘n verchristelikte wêreld is verby

Moet ons daaroor die poging van die Reformasie laat vaar om in hierdie wêreld iets sigbaar te maak van die koninkryk van God?

Die geskiedenis leer ons dat in Genève en in ander plekke alles tog nie so verloop het as wat Calvyn dit graag wou gehad het nie. Maar dit is nie die belangrikste nie.

Ons het die evangelie van die koninkryk.

Hierdie evangelie moet verkondig word.

Hier het die geweldige krag van die Reformasie gelê.

Prediking

Met Bucer en Calvyn moet ons vashou aan die groot betekenis van die prediking. Waar die evangelie van die koninkryk verkondig word, daar sal dit in die wêreld nie sonder invloed en betekenis bly nie. Deur die verkondiging van die evangelie van die koninkryk word die burgers van die Godsryk toegerus vir hul taak in hierdie wêreld. Op alle terreine van die samelewing in die staat, in die maatskappy sal dit merkbaar wees. Waar nuwe mense gaan lewe volgens die norme van die Woord van God en waar hulle gelei word deur die Gees van God, daar móét dit ‘n invloed uitoefen op staat en maatskappy. (slc opmerking: sien Matt.5:1-12, wie ons reeds is in Christus; Matt.5:13-16, ons roeping in hierdie wêreld; en, dan die norm en standaard waarvolgens ons lig en sout is deur die krag van die Gees in Christus: Matt.5:17-20, ens.)

Die Koninkryk van God bring orals verandering

Die koninkryk van God het die krag om mense te verander en hierdie krag is ook in staat om met en deur veranderde mense die verhoudinge van die mense onderling te verander. Vernuwing van die samelewing beïnvloeding van staat en maatskappy kan daarom nooit losgedink word van die Woord, die Gees, die kerk, die ampte en die sakramente nie.

Die Reformasie is daar om dit te bewys.

Wat dus verkondig moet word, is die evangelie van die koninkryk.

Daardie evangelie moet in al sy aspekte gepredik word:

  • die persoonsaspek,
  • die Woord-aspek,
  • die Gees-aspek,
  • die kerklike aspek, en
  • die sosiale aspek.

Daardie evangelie moet ook in al sy veelsydigheid uitgeleef word. Dit maak die kerk geloofwaardig in die wêreld. Dit roep tegelyk ook verset op in die wêreld.

Maar hierdeur sal die koninkryk van God uitgebrei word.

In die verhouding Godsryk en aardse koninkryke gaan dit uiteindelik om een saak: die verkondiging van die evangelie van die koninkryk.

_________________________

* Prof. Floor was professor in NT aan die Teologiese Skool Potchefstroom (1978-1988).  Meer van prof. Floor se boeke is hier beskikbaar (sien publikasie afdeling), en aanlyn hier: Enigste Troos.

Sien ook prof Willie J. Snyman se artikels oor die Koninkryk van God hier:

Nuwe en Ou Dinge

Sien ook hierdie artikels oor sekere teokraties – teonomiese aspekte, denke en wortels van die 16de eeuse Reformasie in die gereformeerde belydenisskrifte, asook in die ZAR, by Dirk Postma en Totius.

Hier is my eie skrywe oor waarom ‘n Christelike party vandag nie sal ‘werk’ nie:

Vyf redes waarom daar geen toekoms is vir ‘n Christelike party of staat in die nuwe SA bedeling nie

Die taak van die Kerk in die Koninkryk:

Die roeping en taak van die Kerk van Christus

Sien ook die belangrike bydraes van die volgende teoloë oor die verhouding Christus en Kultuur: Totius, Schilder en RJ Rushdoony.

“Scripture is the Book of the Kingdom of God, not a book for this or that people, for the individual only, but for all nations, for all of humanity. It is not a book for one age, but for all times. It is a Kingdom book. Just as the Kingdom of God develops not alongside and above history, but in and through world history, so too Scripture must not be abstracted, nor viewed by itself, nor isolated from everything. Rather, Scripture must be brought into relationship with all our living and with the living of the entire human race. And Scripture must be employed to explain all of human living.” – H. Bavinck

“As Calviniste het julle ‘n roeping. … ‘n Adjudant wat deur sy generaal geroep word en van hom ‘n opdrag ontvang, is nie meer ‘n vryman nie. Hy moet gaan, al is dit dwarsdeur die koeëls heen….. Die woord roeping het dus ‘n skerp klank Maar ons vrees nie daarvoor nie. Inteendeel, dit is vir ons die skerp klank van krygsmusiek. Net soos krygsmusiek dien om die stryder in strydlustige stemming te bring of om hom, vermoeid en moedeloos, tot vernieude aanval aan te wakker, so dien die krygsmusiek van die roeping van God om ons uit ywerloosheid op te skrik en ons te besiel met ‘n blye gees, sodat ons met vrolike moed verder kan gaan.” – Totius

“Het in systeem gebracht streven naar het procesmatig te winnen arbeidstotaal van het God toebehorende, zich met en voor de kosmos tot God in die historie evoluerende, in elke historisch moment aanwezige mensheidstotaal, dat zich tot taak stelt, alle in de schepping aanwezige krachten, al naar gelang zij in het kader van het historische verloop van de wêreld successievelijk in zijn bereik zullen mogen te komen te liggen, te ontdekken, ze te ontplooien naar eigen aard, ze dienstbaar te stellen aan de naaste en verste omgeving, overeenkomstig de kosmische verbanden, en onder zelfbinding aan de normen van Gods geopenhaarde waarheid; dit alles teneinde de zo gewonnen effecten hanteerbaar te maken voor de mens als liturgisch kreatuur en daarna, met die zo al meer bewerktuigde mens zelf, ze te brengen voor God en voor zijn voeten neer te leggen, opdat God in allen alles zij, en alle werk zijn Meester love.” – K. Schilder

“Die sleutel tot die remediëring van die moderne situasie is nie revolusie of enige soort van verset wat lei tot die ondergang van wet en orde nie. Die NT is vol waarskuwings teen ongehoorsaamheid en roep ons op tot vrede. Die sleutel is wedergeboorte, verkondiging van die Evangelie en die bekering van mense en volke na God se wet-woord…. Duidelik is daar geen hoop vir die mens, behalwe alleen in wedergeboorte.” – RJ Rushdoony

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: