‘N POLITIEKE ROEPING VIR CHRISTENE
deur
Sedert die nuwe bedeling aangebreek het, het Christene maar min invloed op die politiek. Christene wat wel betrokke was in die politiek, was dikwels betrokke in konserwatiewe politiek. Omdat konserwatiewe politiek primer daarop gefokus is om die status quo te behou, was hierdie politiek nie baie suksesvol nie. Dit het dit geen doelwitte probeer bereik nie, maar slegs ander partye vertraag om hulle doelwitte te bereik.
Die ACDP is die enigste uitgesproke Christelike party, maar hierdie party voer maar ‘n sukkelbestaan met ‘n beperkte ondersteuningsbasis. Daar was ander pogings om Christelike partye te vestig, maar dit was kort van duur. Hierdie geskiedenis van mislukking het nog meer bygedra tot ‘n gevoel dat Christene geen rol in die politiek het nie. Christene se rol in die politiek het maar beperk daartoe gebly dat hulle gereeld bid vir die owerheid, en in tye van groot krisis sal ‘n kerklike vergadering ‘n brief aan die owerheid stuur.
Oor die wereld begin Christene besef dat ‘n Christelike staat nodig is, soos dit duidelik word in Europa dat die sekulere staat met sy relativistiese waarde weerloos is teen die ideologie van Sharia. Ook in Suid-Afrika het “Its Time” saamtrek in Bloemfontein nuwe woema gegee aan die gedagte dat ook Suid-Afrika ‘n Christelike owerheid nodig het. Niemand het egter nog met ‘n idee na vore gekom hoe om daardie gedagte te verwesenlik nie.
Ons leef in ‘n tyd waar owerheidstrukture besig is om te verval. Hierdie verval skep geleenthede waar Christene met ‘n kultuur van diensbaarheid betrokke kan raak by gemeenskapsorganisasies wat die take van die vervalle owerheidstrukture kan oorneem.
In ons huidige tyd het gemeenskapsorganisasies meer invloed as in die verlede. Eerstens het die DA pas aan die bewind gekom in ‘n aantal stede, sonder ‘n groot meerderheidstem. ‘n Politieke party wat nie seker is van ‘n oorwinning in die volgende verkiesing nie, is baie meer geneig om na gemeenskapsorganisasies te luister as ‘n gevestigde party.
Tweedens het partypolitiek oor die jare ‘n swak reputasie gekry, wat daartoe gelei het dat die media en ‘n verskeidenheid owerheidsagentskappe meer geneig is om na gemeenskapsorganisasies te luister as politieke partye. Derdens gee Sosiale media aan gemeenskapsorganisasies die vermoe om kosteloos met hulle gemeenskap te kommunikeer. Aangesien gemeenskapsorganisasies veel dinamieser kan reageer, is dit maklik om die propaganda oorlog te wen teen die logge staatsburokrasiee.
Die gemeenskapsorganisasies waarby Christene betrokke kan raak is legio. Indien jy in ‘n deeltitelskema bly, raak betrokke by die regspersoon. Verder is daar inwonersverenigings, belastingbetalersverenigings en buurtwagte. Hierdie organisasies is altyd op soek na vrywilligers om te help aangesien diensbaarheid ‘n kommoditeit is wat al hoe skaarser raak. Dit is dus maklik vir Christene om betrokke te raak. Daag eenvoudig op by die algemene jaarvergadering en maak jouself beskikbaar om te dien in die kommitee.
Betrokkenheid by plaaslike organisasis is ook die Bybelse manier waarop politieke invloed gebou word. Die Bybel leer die beginsel dat diegene wat getrou is oor die kleiner dinge, vertrou kan word om verantwoordelikheid vir groter dinge te neem. Die Bybel leer bv. dat iemand wat sy gesin goed regeer, geskik is om ‘n opsiener te word (1 Tim. 3). As Christene hulle waardes van eerlikheid, betroubaarheid, diensbaarheid ens. uitleef, sal hulle gevra word om groter verantwoordelikhede te neem.
Indien Christene op groot skaal by gemeenskapsorganisasies betrokke raak, sal daaruit ‘n groot aantal leiers na vore tree wat vertrou kan word om leiding te neem oor groter dinge, aangesien hulle bewys het dat hulle vertrou kan word met die kleiner dinge. Die rede vir die grootskaalse korrupsie in ons land is juis omdat persone verantwoordelikheid gegee is oor groot dinge, sonder dat hulle bewys het dat hulle getrou kon wees oor kleiner dinge.
Daar dus geen rede meer vir Christene om moedeloos te wees oor die politiek en te hoop dat een of ander de la Rey figuur gaan opdaag nie. Die geleentheid om ‘n verskil te maak in die politiek is op elke Christen se deurstoep.
Leave a Reply