Reformasie 500 oordenking: Matt.16:16,17 Ons WEET deur openbaring deur sy Gees én Woord

Reformasie 500 oordenking

Ons WEET deur openbaring deur sy Gees én Woord

deur dr. SJ van der Walt

Image result for spirit and word

“ONS WEET UIT DIE HEILIGE EVANGELIE DAT JESUS DIE VERLOSSER IS” — HK Vr & Antw. 19.

“En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit aan jou nie geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemel is” — Matt. 16:16 en 17.

Alleen deur openbaring kan ons weet dat Jesus die Verlosser, die ewige Seun van God is. Uiterlik was daar tussen Hom en alle ander mense g’n verskil nie. Hy het ons vlees aangeneem en was in elke opsig aan ons gelyk, uitgesonderd die sonde. Hy het wel terselfdertyd God ook gebly en sy Goddelike heerlikheid en almag behou, maar die was verborge agter sy mensheid en het nie uitgestraal in volle krag nie.

Jesus is later ook na sy mensheid opgeneem in die hemel, sodat ook sy mensheid nie meer gesien kan word nie. Hy kan en moet alleen deur die geloof geken word, soos Hy dan ook vir Maria laat verstaan het, toe Hy na sy herrysenis uit die graf haar by die graf ontmoet het, en sy Hom wou aanraak.

Niemand op aarde kan dus bewys dat Jesus Christus die opgestane Redder van die wêreld is nie. Ons mag wel getuienisse hê wat in dié rigting wys, bv. sy groot invloed in die wêreldgeskiedenis, ens. Maar bewys kan ons dit nooit. Ons mag en moet daarom ook nie trag om met uiterlike dwang of geweld die ongelowige wêreld te oortuig nie, soos die Kruisvaarders en die Roomse inkwisisie gedoen het.

Ons het dan ook g’n bewyse nodig en ons geloof is nie in die minste daarvan afhanklik nie. Ons weet dat Christus die Redder is omdat God dit aan ons geopenbaar het. En niks en niemand kan aan daardie feit ooit enige verandering aanbring nie. Ook die ongelowige wetenskap sal en moet ten slotte buig voor hierdie onwrikbare feit.

God openbaar dit ons deur sy Woord, of die heilige Evangelie. Dit is dus nie die Pous of die kerk wat dit aan ons openbaar nie. Ons glo aan die onfeilbaarheid van Gods Woord maar nie soos die Roomse, aan die onfeilbaarheid van die Pous nie.

En Gods Woord is neergeskrywe en vasgelê in die Bybel. God spreek nooit tot ons anders as deur die Bybel nie. Dit is die laaste en hoogste maatstaf van alle waarheid. Die Bybel is dan ook verstaanbaar en bevat sy eie verklaring. Dit hoef nie deur die kerk geïnterpreteer te word in dié sin asof dit ‘n orakelboek is wat deur die kerk uitgelê moet word nie, soos die Roomse beweer. Nee, God lei sy kerk deur dieselfde Gees waarmee Hy die Skrif vervul het, en so spreek Gods Gees dan deur die Skrif in ons harte.

Wel moet die kerke ‘n offisiële uitleg van die Skrif gee, om ons te bewaar van subjektiewe geesdrywery, waardeur elkeen ten slotte die Bybel uitlê soos hy wil, wat dan neerkom op ‘n verdraaiing van die Bybel. Mag God ons dan genade gee om steeds te buig onder sy Woord, soos in die Skrif neergelê, en dan alleen sal ons in die waarheid bly!

____________________

Bron: Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (14 Februarie)

nota: opskrif is bygevoeg

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: