Daardie Voortrekkervolk: Totius oor Israel en die Afrikaner – gelykstelling of teenstelling ?

DAARDIE VOORTREKKER VOLK

– Totius oor Israel en die Afrikaner – 

Prof. dr. J.D. du ToitInleiding – S Le Cornu

Volgende week gedenk ons weer Geloftedag. En soos gewoonlik gaan en sal daar weer misbruike van die dag se oorpsrong en bedoeling wees, hetsy van ‘n Israelvisie kant, of aan die anderkant ‘n verwerping van die dag as in stryd met die Christelike geloof, omdat die Here nie meer met volke werk nie, maar net met kerke.

Een van die aanslae is natuurlik dat die Afrikaner sondig deur te dink hul is Israel (of ten minste in die verlede), en daarom moet ons teen die dag wees (en die Afrikaner in die algemeen). Nou weet ek nie van enige gereformeerde leier wat al ooit gesê het die Afrikaner is die uitverkore volk van God soos Israel nie, en as daar was, dan distansieer ek my daarvan. Beteken dit egter dat gelowiges, dat gelowiges wat hul in volksverband bevind niks mag leer van Israel as volk nie ? Nee, dit glo ek ook nie.

Ek meen Totius dink in die artikel hier onder in die regte rigting. Aan die eenkant word gelykstelling met Israel verwerp, maar daar is ook nie ‘n teenstelling nie, asof ons as ‘n volk niks kan leer van wat die Here deur Israel aan al die volke geopenbaar het, natuurlik alles gesien in die Nuwe Testament vervulling en bevestiging deur Christus (Matt. 5:17-20; NGB art. 25).

_________________________________

DAARDIE VOORTREKKERVOLK 

deur Totius

Dit het al byna ‘n gemeenplaas geword om te sê dat die Voortrekkervolk deur God hier geplant is om ‘n besondere roeping te vervul. So word ook luid verkondig dat die Calvinisme die leidende grondbeginsel vir ons moet wees, maar hoeveel kom daar van die mooi leuse in die praktyk tereg?

Wat ons sien, is dat vreemde strominge lelike slote in ons volkslewe spoel.

Nietemin wil ons nou, in vervolg op ‘n vorige artikel, gaan skrywe oor die besondere taak waarvoor God Almagtig die Boerenasie in aansyn geroep het. Ons bepaal ons nou by die feit self en die betekenis daarvan vir die volksgeheel.

Diegene wat die voorreg gehad het om na toesprake van wyle president Kruger te luister of wat iets daarvan in sy lewensbeskrywinge gelees het, weet hoe die President vol was van die een gedagte dat sy nasie hier in Afrika ‘n besondere taak moet volvoer en hoe hy in sy toesprake en gesprekke gedurig verwys het na die geskiedenis van Israel as inspirerende voorbeeld of afmanende waarskuwing. In hierdie opsig was die President selfs enig onder die volksleiers in Suid­ Afrika.

Wat nou die verwysing na Israel betref, menigeen sal miskien meewarig glimlag as hy so iets lees en dink:

“As die ou President, anders ‘n kragtige taalman, maar wou geswyg het van die ‘fabels aangaande Jodevreugde en Jodenyd’ !”

Hierdie gevoele sal ons nou nie weerlê nie. Dit kom vir ons neer op Skrifverwerping, in hierdie geval van die Ou Testament.

Maar daar is ander, Skrifgelowiges, wat by die vergelyking van die Boerevolk met Israel ‘n groot vraagteken sal sit. Hulle meen dat Israel ‘n geheel enige verskyning onder die volke is. Israel is die ou Bondsvolk aan wie die woorde van God toevertrou was en uit wie die Messias, vir soveel die vlees aangaan, sou voortkom. Ons gaan dus heeltemal feil, meen hulle, deur die wonderdadige gebeurtenisse (dink aan die wonderdadige uitreddinge van Israel in tyd van nood) op ander volke te wil toepas. Inderdaad sal dan ook so ‘n toepassing homself loënstraf: dit sal nie uitkom nie.

Ons kan dadelik sê dat ons so iets van ‘n nugter staatsman soos president Kruger ook nie moet verwag nie. Hy het goed geweet dat die verskyning van Israel eksepsioneel [uitsonderlik] in die geskiedenis was en dat God sy wondermag op aarde ten toon gesprei het met die bepaalde doel

(1) dat Israel in die volheid van die tyd die Messias na die vlees sou voortbring, en

(2) dat die kerk van Christus onder die Nuwe Verbond geplant sou word.

Maar wat beduie dan die verwysing na en die vergelyking met Israel ?

Ons mag mos nie die wonderdadige herkoms uit Abraham, die wonderdadige leiding en versorging in die woestyn van Sinai, die wonderdadige uitreddinge uit die land van die menigvuldige vyande en soveel meer op ons volk of volksgeskiedenis van toepassing maak nie ! Met ander woorde, die strik wonderdadige moet ons uitskakel. Waar God onder Israel regstreeks ingegryp het, doen Hy dit nou nie meer nie.

Wat is dan die waarde van Israel se geskiedenis vir ons?

Hier moet duidelik onderskei word om die regte antwoord te vind.

Enersyds was Israel inderdaad die wondervolk, die ou Bondsvolk, wat op aarde sy gelyke nie gehad het nie. Vandaar die afsondering. Eers die wye sirkel, die grense van wat ons nog noem “die heilige land”. Dan die enger sirkel: Jerusalem, die heilige stad. En ten slotte die nog kleiner sirkel: die heilige tempel. En as dan in hierdie kleiner sirkel, die heiligheid by uitstek, die Messias in sy wondergestalte staan, dan het Israel sy taak voltooi. Dan gaan die evangelie in altyd wyer wordende wentelinge die wêreld in, totdat die eindes van die aarde bereik is. Israel dus eers die afgesonderde volk, anders as al die ander volke, met ‘n geskiedenis wat ons “die heilige geskiedenis” noem.

Maar – en dit moet noodsaaklik by die voorgaande bykom – Israel was andersyds ook ‘n volk onder die volke, met ‘n koning onder die konings van die aarde, ‘n koning wat verbonde sluit en ook weer verbreek, wat sy volk volgens die algemene beginsels van reg moet regeer, wat selfs as Oosterse despoot opgetree het, soos Dawid in die geval van Uria. En Palestina was ‘n land onder die lande, met ‘n bodem wat langs natuurlike weg omgeploeg en gespit moes word, wat besaai en beplant, natgelei en geskoffel moes word.

Anders gesê, God het nie altyd in die bestaan van Israel regstreeks en wonderdadig ingegryp nie. Hy het ook gewerk langs die weg van die tweede oorsake soos onder ander volke en in ander lande. In die woestyn gee God manna, die brood uit die hemel; maar in Palestina moet die volk saai en maai soos ons om sy brood te kan eet.

Hier waar God werk langs die weg van sy voorsienigheid en deur middel van die tweede oorsake (die natuurwette) is ‘n gemeenskaplike terrein waar Israel en die volke mekaar ontmoet. Hier kan dus wel terdeë ‘n vergelyking plaasvind tussen Israel en die volke, ‘n vergelyking wat so nuttig is omdat die Psalmis die uitnemendheid van Israel se insettinge besing en daarvan sê:

“So het Hy (die Here) aan geen enkele nasie gedoen nie” (Ps. 147:20).            “•-

As Luther dus Ps. 101 ‘n “regentespieël” noem, ‘n spieël waarin regeringspersone moet kyk om te sien of hul dade goed en reg of verkeerd en sleg is – dan gaan Luther volgens ‘n suiwere eksegetiese reël te werk. Ons hoop later o.m. op hierdie Psalm terug te kom.

As Calvyn sekere stelreëls aan die koningskap onder Israel ontleen en dit algemeen toepaslik maak, dan het hy daar volkome reg toe. Net so as hy stelreëls ontleen aan die volksvergaderinge in Israel om te bepaal wat die regte van ‘n volk teenoor die owerheid is.

As ‘n onderwyser uit die eerste tyd van die Voortrek aan sy familie in die ou Kolonie skrywe dat hulle besig is om ‘n republiek te stig so na aan die wette van Moses as moontlik is, dan is dit, prinsipieël gesien, geen ouderwetse dommigheid nie maar ‘n poging om die suiwerste staatsisteem te soek.

Jammer maar dat hierdie regte idee in ons volksgeskiedenis nie tot volkome rypheid gekom het nie maar versteur is deur die inwerking van vreemde, veral liberalistiese invloede.

En as Paul Kruger sy staatsmanswysheid put uit die Woord van God (Ou sowel as Nuwe Testament), wat vir ons die opperste wet en gesag is, dan is hy die regeerder na ons hart, ook as hy sy gedragslyn as staatsman wil laat beheers deur wat bepaaldelik in die geskiedenis van Israel as spieël aan ons voorgehou word.

Hierin lê die betekenis van Paul Kruger, hierin sy onverganklike grootheid, dat hy klein-gebuig het voor die hoe God wat aan hom wysheid geleer het.

Hoe baie is daar vandag wat roem dra op die naam van Paul Kruger maar wat tog nie in sy weë wandel nie? Waarom dan tog nie? Kan ons die man aanvaar en nie sy wyse weë nie?

Ten slotte merk ons nog op dat selfs wanneer die wonderelement in Israel se volksbestaan die vernaamste is, ook dan nog die Woord van God sy onverganklike krag behou, mits ons volgens gesonde reëls van uitlegkunde te werk gaan.

Om een voorbeeld te noem.

As Hiskia die brief voor die aangesig van die Here uitbrei toe hy in gedrang gekom het vanwee die beleëring deur die Assiriers [Jes. 37: 14], het hy besef dat die redding nie van oos of wes nie, maar alleen van bo, van die Here af, kan kom.

Dit is nog waar.

As persone of as volk word ons soms nog so in die engte gedryf dat ons moet uitroep: Nou kan die Here alleen red!

Die verskil met Hiskia se redding is alleen dit dat die Here toe deur sy engel ingegryp het, terwyl Hy nou sy weë en middele so skik in sy voorsienige bestuur  dat ons redding ewenwel  bewerkstellig  word.

Bron: Die  Kerkblad, 5 Februarie  1943 (Versamelde Werke, 1977, deel 9, bl.430-433, beklemtonings bygevoeg)

2 thoughts on “Daardie Voortrekkervolk: Totius oor Israel en die Afrikaner – gelykstelling of teenstelling ?

Add yours

Leave a comment

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑