Gedenk julle voorgangers: Kruger en Cromwell

KRUGER EN CROMWELL

deur dr. JD Du Toit (Totius)

pk 10-10-2018Pres. Paul Kruger is vandag 195 jaar gelede gebore. Hy was die bekende staatspresident van die Zuid-Afrikaanse Republiek (1825-1904).

Ons leef in tye waarin daar groot teleurstelling is oor die karakter van leierskap, veral in die openbare terrein. Of dit nou Ramaphosa of ander wêreldleiers is, ons sien min of glad nie die vrese van die Here by enige van hulle nie, of die onvoorwaardelike beginselvaste buig voor God se Woord, nié net in hul persoonlike belydenis nie, maar ook en veral in hul ampswerk is die Here se woord en wet afwesig (Psalm 2).

So anders was dit met oom Paul.

Ek plaas hier met erkenning aan Totius, sy artikel oor Kruger, met verwysing na Cromwell, ook ‘n godsvresende puriteinse minister van Engeland in die 1600’s. Totius se werke kan hier afgelaai word in sy geheel: Versamelde Werke (soek vir ‘Versamelde Werke: Totius’)

Sien die volgende boek van prof. AWG Raath oor Paul Kruger, spesifiek geskryf vir kinders: Ons Volksleiers – pres. Paul Kruger

Die kontras tussen oom Paul se beginsel-politiek, en vandag se humanistiese Afrikaner politiek en denke, word goed saamgevat in die woorde van Totius:

Maar daar is ‘n ander Kruger (hoewel daar wesenlik geen ander is nie!), en wat gekweek is, om dit nou so uit te druk, in die klimaat van die Bybel. Van hierdie Kruger se taal sê ons: „Uitgestorwe klanke.” Ons hoor dit ook in die raadsale van ons land nie meer nie. Ons hoor dit ook in die publieke lewe nie meer nie. By hom die geloof, by ons die berekening; by hom die karakter, by ons die verwagting; by hom die ideaal, by ons die verlorenheid.  … Ten derde het Kruger die Bybel bepaaldelik gelees om daarin leiding te vind as leier van die volk. Op ‘n eleksierekwisisie antwoord hy: „Ook op staatkundige terrein bely ek die ewige beginsels van die Woord van God”.

Die kontras tussen gelowige (gereformeerde) Afrikaners, en vandag se ‘moderne’ Afrikaners wat geen of min vrees vir God en sy gebod het nie, wat Jesus klaarblyklik nie nodig het as Verlosser én Koning nie, en net wil ‘rock in Afrikaans’, lees ons in die volgende woorde van Totius:

In ons vorige artikel het ons daaraan herinner dat die Voortrekkers mense was wat hulle laat ken het as diegene wat deur God geroep en deur al die rampe heen deur Hom gelei is. Hierdie sielvolle oortuiging waardeur hulle gedra is, kom uit die Bybel. Daarom is ons volk sonder die Bybel eintlik niks, sonder roeping, sonder leiding, sonder hoër oortuiging, sommer laag by die grond. …. Die volk eis die mees moontlike maatskaplike vryheid; geen losbandige of roekelose vryheid nie maar gegrond op God se Woord.  Dit lê in daardie artikel opgesluit”. Dan word verwys na Moses, die wetgewer maar wat die wet op die bevel van God opgeskryf het.

Sien ook hierdie relevante artikels van Totius oor God se wet vir vandag:

Daardie Voortrekker volk (Totius oor Israel en die Afrikaner)

‘n Sabbat vir die Land

Teokrasie en Teonomie in die ZAR en by Totius 

Ek stel Totius nou self aan die woord:

___________________

„Uitgestorwe klanke!” so het ons gedink by die lees van enkele toesprake van wyle president Kruger.

En die skares wat juig as hulle die Krugernaam hoor . . sou hulle nog die taal van Kruger ken ?

Dat Kruger gegroei het uit ons grond, ‘n Afrikaner was uit die Afrikaners — dit is bekend.

Maar daar is ‘n ander Kruger (hoewel daar wesenlik geen ander is nie ! ), en wat gekweek is, om dit nou so uit te druk, in die klimaat van die Bybel. Van hierdie Kruger se taal sê ons: „Uitgestorwe klanke.” Ons hoor dit ook in die raadsale van ons land nie meer nie. Ons hoor dit ook in die publieke lewe nie meer nie. By hom die geloof, by ons die berekening; by hom die karakter, by ons die verwagting; by hom die ideaal, by ons die verlorenheid.

Desnieteenstaande moet ons Afrikanervolk hierdie Kruger weer hoor en sien; hierdie Kruger in sy ongedeeldheid: Afrikaner en geloofsman. Want as sodanig is hy niks anders as wat die Afrikanerdom van huis uit sou wees nie; hy was die hoogtepunt van die nasie waaruit hy gegroei het.

Kruger sonder die Bybel is gelyk aan sy standbeeld in Pretoria, maar sonder voetstuk, sommer plat op die grond neergesit. Desgelyks  die Afrikanerdom sonder die Bybel: ‘n gelykvloerse verskyning, gering, ongereken, onvergelykbaar by die ander groter nasies.

In ons vorige artikel het ons daaraan herinner dat die Voortrekkers mense was wat hulle Iaat ken het as diegene wat deur God geroep en deur al die rampe heen deur Hom gelei is. Hierdie sielvolle oortuiging waardeur hulle gedra is, kom uit die Bybel. Daarom is ons volk sonder die Bybel eintlik niks, sonder roeping, sonder leiding, sonder hoër oortuiging, sommer laag by die grond.

Laat ons nou terugkeer na Kruger. In die volle sin van die woord kan hy genoem word „’n man van een boek”. Die Bybel was sy lektuur, Hy het dit gelees:

Ten eerste, vir sy stigting, dit wil sê vir die opbouing van sy geestelike lewe. Daaroor handel ons nou nie.

Ten tweede het hy, al lesende in die Statebybel met kanttekeninge, ‘n skat van aardrykskundige, geskiedkundige en oudheidkundige kennis opgesamel. Dit is soos Allard Pierson sê: „Dit is vir die ongeletterdes onmoontlik om daagliks met die Bybel om te gaan sonder om in ‘n baie ruim kring rondgelei te word. Watter volke almal, waarvan ‘n ander nooit verneem nie, trek sy aandag! Die Egiptiese, die Assiriese, die Babiloniese, die Persiese beskawing, selfs die Romeinse, almal lig by beurt iets op van die sluier wat die verlede vir ander heeltemal bedek . . . so vind die Bybelvaste Christene ‘n vorming, ‘n opleiding, ‘n prikkel, in sonderheid ‘n wêreld van gedagte wat ver bo die alledaagse verhewe is”. Dit lyk of Pierson dit van Kruger skrywe. Maar nee, hy het dit oor die Godvrugtige Wormser, medestander van Groen van Prinsterer.

En laat ons dit dadelik daarby voeg: Kruger het nie die Bybel geleer in ‘n ondogmatiese skool nie! O, die vrees vir dogmas, die vrees wat ons volk van sy voetstuk afgelig het! Ons haal Pierson, in hierdie opsig ‘n onverdagte getuie, weer aan: „Dat ‘n kragtige dogmatiese geloof die gees sou verstomp, verlaag; dat dit niks as letterknegtery sou kweek nie, eentonigheid, eenvormigheid, is in stryd met alle ervaring . . . Ons (so kom hy op homself terug), ons, vriende erl tot op sekere hoogte martelaars van die rustelose ondersoek, dra dikwels almal eenselfde kleurlose ordekleed“.

Ons het bietjie uitgewei om duidelik te laat verstaan dat Kruger geen ondogmatiese Bybel geken het nie en dat die geroep: „Meer godsdiens op die skool !” niks beduie nie as ‘n ondogmatiese Bybel deur die skoolwet geëis word.

Ten derde het Kruger die Bybel bepaaldelik gelees om daarin leiding te vind as leier van die volk. Op ‘n eleksierekwisisie antwoord hy: „Ook op staatkundige terrein bely ek die ewige beginsels van die Woord van God”.

By die bespreking van die beginsels wat Kruger in sy staatspraktyk gelei het, moet opgemerk word dat ons veel moet ontleen aan die redevoeringe wat deur hom gehou is. Maar dit was dikwels vrye toesprake wat in Nederlands gerapporteer en aan ons in dié vorm oorgelewer is. Van die President het ons eiehandig niks ontvang nie. En om Kruger te rapporteer was seker geen maklike taak nie.

‘n Ander moeilikheid is dat ons van Kruger, man van geringe skoolgeleerdheid, geen sistematiese uiteensetting van sy staatkundige beginsels kon verwag nie. By hom was dit nie die vasstaande skrif nie maar die lewende, beweeglike woord wat hom telkens by die drang van die oomblik aangepas het.

Dit sou die moeite loon veral uit die toesprake van die President die beginsels op te diep wat vir hom as riglyne by sy staatsaktiwiteite gedien het. Ons doel is alleen om met enkele voorbeelde te bevestig wat ons gesê het

(1) dat die President (saam met die Voortrekkers) oortuig daarvan was dat hulle as volk met ‘n besondere roeping geroep is, en

(2) dat die President (saam met baie van sy volgelinge) aan die roeping getrou gebly het.

Niemand het seker die leiding en bevryding van ons volk deur die Here sterker aangevoel en skerper uitgedruk as hy nie. Aan Israel se uitleiding en bevryding uit Egipte het hy gedink. Daarom spreek hy voortdurend van niks minder as „mirakels en wonders” nie. Ons lees in Kruger se telegram aan die krygsoffisiere gedateer 20 Junie 1900 heel veel van Israel se wonderbare uitreddinge. En dan volg hierdie regstreekse toepassing: „Dieselfde God het ons uitgelei en met wonders en mirakels aan ons ons vryheid gegee”. Daaruit word die gevolgtrekking gemaak (wat ons die President van harte kan nasê): „En dink u dat God sy saak, wat Hy eenmaal begin het, sal laat vaar? Nee, Hy sal dit nie laat vaar nie”.

Op grond van hierdie oortuiging kon hy na Ps. 83 verwys en dan konstateer: „Daar kom dieselfde woorde van Salisbury voor, want hy sê ook: ,Hierdie volk moet nie bestaannie nie’, en God sê: ,Hierdie volk sal bestaan’. Wie sal dit wen? Sekerlik die Here”.

Die vergelyking van die Voortrekkervolk met Israel is te menigvuldig in die redevoeringe om hier enigsins by benadering vermeld te kan word. Maar juis daarom (vanweë die vergelykinge) tree die President soos ‘n Israelitiese boeteprofeet op om die hele volk tot bekering op te roep. In sy redevoering van 7 Mei 1900 sê hy: „As God dit toelaat dat kastyding op ons kom, moet ons buk en ons verneder; ons sondes bely en tot die Here terugkeer”.

Van besondere betekenis is in hierdie samehang die toespraak wat die president gehou het by sy plegtige inswering op 12 Mei 1898. Daar tree hy op soos ‘n profeet vanouds. Hy skroom nie om voor die oor van almal, hoog en laag, ‘n lang vermaanpreek te hou nie.

Byvoorbeeld hy spreek die nuwe burgers aan met Bybelse terme: „Julle kan nie twee here dien nie, of julle sal die een aanhang en die ander verag” ens. Dan weer word die „vreemdelinge” bemoedig met woorde wat ons laat voel: die man wat so spreek, weet wat Moses aangaande die vreemdelinge gesê het. Jammer dat hulle die goeie woorde nie ter harte geneem het nie! Vervolgens word die regters vermaan, al weer op Bybelse manier: „Van u is daar geen appèl meer nie; daarom word u gode genoem, maar God staan in die midde van die goderaad en Hy oordeel oor goed en kwaad” (vgl. Ps. 82:1) .

Die vermaanwoord vir die krygsmag, vanaf die Kommandant-Generaal tot die gewone burger, word ontleen aan Esegiël. As gewaarsku is teen die aannaderende vyand en die wagte word uitgesit nie, dan sal „die vergote bloed” op die hoof van die skuldige wees.

As die kinders aan die orde kom, hoor ons die roepstem dat hulle „vas moet staan” by die Woord van God, en die President sal „met al sy kragte” trag om hulle „in die Christelike onderwys” te Iaat opvoed. Ons weet dat dié woorde in dié tyd inderdaad betekenis gehad het.

Waar vind ons Kruger se gelyke onder die bewindhebbers in Suid-Afrika?

‘n Man wat so suiwer die siel van die Groot Trek vertolk het.

Merkwaardig is ook Kruger se vertolking van art. 8 van die grondwet waarvan hy self ‘n medeopsteller was. Hy wat dit kon weet, lees daarin veel meer as wat daar staan. Jammer dat hy nie self die pen gehanteer het nie !

Art. 8 begin: „Die volk eis die mees moontlike vryheid” ens. Van God of sy Woord word nie gerep nie. Maar wat sê Kruger daarvan in sy toespraak van 12 Mei 1898? Dit: „Let nou op daardie artikel, waarheen dit ons wys. Dit wys ons na God se Woord. Die volk eis die mees moontlike maatskaplike vryheid; geen losbandige of roekelose vryheid nie maar gegrond op God se Woord. Dit lê in daardie artikel opgesluit”. Dan word verwys na Moses, die wetgewer maar wat die wet op die bevel van God opgeskryf het.

Ons kan dit daarom verstaan as in dieselfde toespraak gesê word dat hy die stem van die volk wat hom tot die presidentskap geroep het, gehoorsaam het omdat hy „meen die stem van God daarin te herken”. Dit is iets anders as wat die Franse Rewolusie geproklameer het en wat nog rondgebasuin word, naamlik „dat die gesag van die regering uit die volk en die volk alleen vloei”. Dit is anders as die gerœp oor die oppermagtige volkswil.

Maar ons kan met hierdie interessante onderwerp, wat ‘n opsetlike studie werd is, nie verder voortgaan nie.

Mag die Afrikanervolk maar leer om nie die Krugernaam van die Krugerdaad los te maak nie!

Bron: Die Kerkblad, no. 964, 5 Maart 1943.

_________________________

Gedenk julle voorgangers: reeks

One thought on “Gedenk julle voorgangers: Kruger en Cromwell

Add yours

  1. Ag as ons Volkie maar ag sal slaan..
    Ons kinders so ver van Bybel dat ouers
    hul koppe in skaamte moet laat hang..hoe het ek as ouer my plig versaak..
    Vader net U skenk vergifnis..
    As ons luister na U
    Sal ons lewe…die twee woorde
    AS en SAL …loop hand aan hand en net uself kan gehoor gee.
    Amen
    ..

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: