Nabot se wingerd en grondonteiening sonder vergoeding
Inleidende nota

In die lig van die ANC regering se planne om met wetgewing ‘gewettigde diefstal’ te pleeg, plaas ek hier onder dr. JH Kroeze se weergawe van die geskiedenis van Nabot se wingerd, sodat dit ons as gelowiges sal help om bybels te dink oor geloof, eiendom, onreg van ons tye, ens.
Natuurlik is geen volk, land of grond vandag die ‘nuwe Israel’ nie, sien die artikel van Totius, “Daardie Voortrekkervolk“, wat handel oor ‘Israel en die Afrikaner – gelykstelling of teenstelling’, maar ons leer nog steeds uit die hele Skrif beginsels wat ons leer en lewe vandag bepaal, op elke lewensterrein, soos bely in NGB artikel 25; HK Sondag 34-44, ens.
NABOT SE WINGERD
deur dr. JH Kroeze
Die Moord op Nabot
Die aanleiding tot die moord (1 Kon. 21:1-4)
Agab het sy koninklike residensie in Samaria gehad, die vesting wat sy vader Omri gebou het. Veral in die somer was dit egter nie aangenaam om in die vesting te vertoef nie, en daarom het Agab ook ‘n paleis buite die stad gehad, naamlik in Jisreël, noord van Samaria. Ook ná sy bywoning van die stryd van Elia op Karmel het hy daarheen gegaan.
Die ou stad Jisreël lê aan die voet van Gilboa, die gebergte waar Saul sy laaste stryd gestry en verloor het Die vlakte rondom die stad – ‘n pragtige vlakte met vrugbare akkers – was die stamgebied van Issaskar, en tot hierdie stam het Agab waarskynlik ook behoort. In elk geval was koning Baesa uit die huis van Issaskar, en moontlik het hy, om sy posisie te verstewig, ‘n stamgenoot, Omri, as leërowerste aangestel. Agab het dan sy somerverblyf gebou op grond wat sy private familiebesit was. Langs die somerpaleis van Agab het Nabot ‘n wingerd gehad. Hy was natuurlik ook uit Issaskar, en sy wingerd was ook ‘n vaderlike erfdeel; in hierdie opsig staan die koning Agab en die wynboer Nabot gelyk as eienaars van voorvaderlike grond.
Terwyl Agab eenkeer rondom sy somerpaleis wandel, val sy oog op die wingerd langsaan en sien hy hoe gerieflik dit vir hom sou wees om die wingerd te hê en daarvan ‘n groentetuin te maak. Hy begeer sy naaste se wingerd! Hy maak aan Nabot ‘n vriendskaplike voorstel om te ruil of desnoods te verkoop. Hy nader hom dus as buurman en nie as koning met ‘n bevel tot onteiening nie. Maar op sy goed bedoelde aanbod kry hy ‘n antwoord wat meer kort en duidelik as vriendelik is.
Nabot sê: Mag die HERE my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee! Agab ontmoet hier ‘n man wat geheg is aan die deur God ingestelde orde van familiebesit en wat, sonder om die beleefdhede wat in die Ooste by siviele transaksies gebruiklik is (vgl. byvoorbeeld 1 Kron. 21 :22-25), in ag te neem, botweg weier. Semer het nie sulke skrupules gehad toe Omri sy grond wou koop nie (1 Kon. 16:24).
Agab gaan verbitterd en toornig (vgl. 20:43) na sy huis. So reageer Agab as hy stuit op teëstand waarvan hy moet erken dat hy daarteen niks kan doen nie. Hierin lê ‘n blyk van sy respek vir die deur God gewilde reg van besit waarop Nabot hom beroep het, maar in plaas van om in die omstandighede te berus, mok hy soos ‘n kind. Hy het op sy bed gaan lê en sy gesig omgedraai en geen brood geëet nie. Dit was verkeerd van Agab, maar tog kon hy iets ergers gedoen het, naamlik geweld gebruik het. Hy doen dit egter nie; hy maak geen misbruik van sy mag as koning nie. Dit was goed van Agab.
Die plan van Isébel (1 Kon. 21: 5-16)
Isébel dink anders oor die geval. Sy spot met Agab se “swak” houding. Sý sal dan maar die teëstand oorwin waarvoor Agab swig; sy is vergram op die konserwatiewe boer wat haar man so durf beledig met sy barse antwoord. Sy maak ‘n deurtrapte gemene plan. Agab laat haar toe om sy seël te gebruik. Sy stuur in die naam van die koning briewe aan die oudstes en edeles van Jisreël en skryf daarin: Roep ‘n vasdag uit, en sit Nabot vooraan onder die volk; en sit twee manne, deugniete, teenoor hom, wat teen hom getuig en sê: Jy het God en die koning gevloek! Lei hom dan uit en stenig hom, dat hy sterwe.
Op ‘n vasdag kom die mense van ‘n dorp of van ‘n streek of van die hele land bymekaar (Joël 1:14). Die rede is altyd van ‘n ernstige aard. ‘n Vasdag is nie ‘n feesdag nie! Die oproep tot ‘n vasdag is soos die lui van die alarmklok. Samuel het so ‘n vasdag uitgeroep vanweë die sondes van die volk (1 Sam. 7:6); ook oorlog, ramp, gevaar kan lei tot die oproep van ‘n vasdag. In elk geval maak so ‘n oproep die mense onrustig en beangs.
So het dit ook in Jisreël gegaan; en dit het ‘n sfeer geskep waarin die dinge wat daar op die vasdag gebeur het, kón gebeur. Die mense van die stad kom in paniekerige stemming bymekaar en vra vir mekaar: Wat bedreig ons nou? Die oudstes moet sê: Daar lê ‘n groot skuld op ons stad; daar is ‘n groot sondaar in julle midde. Dan moet die getuies opstaan en teen Nabot getuig. Die aanklag is dat hy God en die koning gevloek het! So het Isébel beveel.
Natuurlik sal ‘n eerbare burger van die stad nie vir so ‘n valse getuienis gebruik wil word nie. Daarom word ook gepraat van “deugniete”, slegte en gewetelose mense.
Dat die oudstes en edeles wel die plan van Isébel uitvoer, is te verklaar uit hul vrees vir die buitelandse tirannieke koningin.
Nabot kry ‘n plek vooraan in die vergadering, waar elkeen hom kan sien. Teenoor hom gaan die twee skurke sit. As elkeen vol vrees afwag wat dan eintlik aangaan, staan die twee gehuurde skurke op en sê: Nabot het God en die koning gevloek! Almal kyk na Nabot. Hy is dus die oorsaak van die vasdag. Twee getuies getuig teen hom. Volgens die wet moet daar twee getuies wees (Deut. 17:6). Hulle is hier. Die ontstelde vergadering is maklik geneig om die skuldige dadelik te veroordeel en tegelykertyd ook maar tereg te stel. Die stad moet tog van hierdie misdaad gesuiwer word!
Isébel het gedurende die jare van haar verblyf in Israel goed bekend geword met die volk se gewoontes en gebruike, dit sien ons hier. Haar plan slaag volkome. Die beskuldiging wat sy die aanklaers in die mond lê, is ook fyn uitgedink: die barse antwoord van Nabot is majesteitskennis, en wie die koning beledig, beledig God, in wie se plek die koning op aarde optree (Spr. 24:21). As daar ‘n ondersoek ingestel sou word, het Isébel iets om haar optrede te regverdig.
Nabot is gestenig op sy eie grond, nie in die wingerd nie maar op ‘n ander besitting van hom, en sy seuns is met hom gestenig (2 Kon. 9:25,26); daar is radikaal opgetree!
Die oudstes en edeles van Jisreël laat Isébel weet: Nabot is dood. Net toe Isébel dit hoor, sê sy vir Agab: Staan op, neem die wingerd van Nabot, die Jisreëliet, in besit, want Nabot is dood.
En net toe Agab dit hoor, het hy opgestaan om die wingerd van Nabot in besit te neem. Die besittinge van die majesteitskender verval aan die koning; dit kan in hierdie geval vlot verloop, omdat die erfgename ook dood is. Agab het geen woord van afkeuring vir wat Isébel gedoen het nie. Deurdat hy die wingerd in besit gaan neem, neem hy tegelykertyd die moord op Nabot vir sy rekening.
Die oordeel van God oor Agab en Isébel (1 Kon. 21:17-26)
Die goddelose Isébel en Agab het reggekry wat hulle beoog het, maar dis nie die einde van die saak nie. Die HERE stuur Elia, die Tisbiet (17:1), en sê vir hom dat hy na Agab moet gaan en dat hy hom op die besitting van Nabot sal aantref. Of Elia geweet het wat gebeur het, word nie gesê nie, maar dit was waarskynlik wel die geval.
Uit 2 Kon. 9:25, 26 blyk dat Agab nie alleen daar was nie; Jehu, een van die owerstes van die leër, was by hom, en Jehu het sy adjudant Bidkar by hom gehad. Daar is dus drie manne wat die besitting van Nabot besigtig. Elia rig hom tot Agab en sê, soos die HERE hom opgedra het:
So sê die HERE: Het jy doodgeslaan en ook in besit geneem?
In skerp woorde word aan Agab voorgehou wat hy eintlik gedoen het, net soos dit ook deur die vermomde profeet gedoen is. Agab laat hom blykbaar deur ander dryf sonder om te besin oor wat hy eintlik doen. Maar dit word hom deur profete aan die verstand gebring. Moord en diefstal is sy misdade!
Voordat Agab of iemand van sy gevolg tyd het om iets te sê, gaan Elia verder en sê: So spreek die HERE: Op die plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal die honde ook jou bloed lek.
Hoe smadelik was die dood van Nabot: honde wat in Palestina veragtelike diere is en van afval en aas moes leef, het die bloed wat uit sy wonde gevloei het, gelek! Dieselfde sal met Agab gebeur!
Die eerste woorde wat die verbysterde koning kan uitbring, is: Het jy my gekry, my vyand? Hy beskou Elia, wat hy vroeër “beroerder van Israel” genoem het, nou as sy persoonlike vyand. Altyd staan Elia mos in sy pad! Nooit kan Agab vryelik sy gang gaan nie! Nouliks het Agab sy misdaad begaan of Elia is reeds daar! Elia sê: Ek het u gekry – maar nie omdat hy sy vyand is nie, maar omdat Agab homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE.
En dan volg die oordeelsaankondiging: Kyk, Ek gaan onheil bring oor jou en jou skoon wegvee; en Ek sal van Agab uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering. En Ek sal sy huis maak soos die huis van Jerobeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baesa, die seun van Ahia, weens die geterg waarmee jy My geterg het, en dat jy Israel laat sondig het.
Agab het hom “verkoop”. Die prys wat hy gekry het, is ‘n mooi wingerd, maar hy self is daardeur in die mag van die sonde en die oordeel.
Drie dinastieë het nou oor Israel geregeer: dié van Jerobeam, wat skoon weggevee is (14:10); dié van Baesa, wat skoon weggevee is (16:3); dié van Omri, wat nou dieselfde straf kry.
Dat agter Agab Isébel as die bose dryfveer staan, weet die HERE, en Hy laat Elia ook oor haar die oordeel aankondig. Die oordeel oor haar is nog erger as dié oor Agab: die honde sal Isébel eet by die voorskans van Jisreël; nie net haar bloed lek nie, maar haar vleis eet. Die HERE weet wie die swaarste skuld het. Boonop word die oordeel oor Agab ook gematig uitgevoer, maar dié oor Isébel in die ergste denkbare vorm – soos die geskiedenis ons sal leer.
Die berou van Agab (1 Kon. 21: 27-29)
Agab kon in woede opstuif, maar hy kon ook vinnig van gevoel verander. Hy noem Elia beroerder van Israel, maar doen hom tog geen kwaad nie en gee selfs gevolg aan sy bevel om die profete van Baal bymekaar te roep. In die geskiedenis wat ons nou bespreek, is sy verandering van houding nog groter: hy het sy klere geskeur en ‘n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop, d.w.s. in bedrukte stemming sonder enige swier of swaai. Agab verneder hom diep.
Hier sien ons Agab op sy beste. Die boetekleed sier die sondaar. Wel was dit slegs van verbygaande aard, maar tog het die Here dit ten gunste van hom in rekening gebring en vir Elia gesê dat Hy die aangekondigde onheil nie in sy dae nie, maar in die dae van sy seun oor sy huis sou bring. Ons kan aanneem dat Elia dit ook aan Agab meegedeel het.
Beste Slabbert,
Jy skryf “In die lig van die ANC regering se planne om met wetgewing ‘gewettigde diefstal’ te pleeg…”
Hierdie stelling is nie gemotiveerd nie, en in die lig van die regering se aankondiging in die verband (https://www.biznews.com/undictated/2018/08/01/anc-land-cyril-actually-said ), slaag dit ook nie die toest van die Waarheid nie. Jy sal sien dat die regering aangekondig het dat die grondwet nie verander hoef te word oor grondonteiening nie, maar dat die gevalle waar dit wel gedoen mag word, beter omskryf moet word, binne die beginsels van die grondwet.
Hierdie debat is tans baie emosioneel, en ‘n mens sou verwag dat verantwoordelike persone nie die emosie veder opblaas deur ongestubstansieerde bewerings te maak nie, maar die feite korrek weergee.
Vriendelike groete
Gert Kruger
So Gert, is die plan om grond te vat sonder vergoeding nou van die baan af. Gee vir my die spesifiek aanhaling, nie net ‘n algemene verwysing nie.
So gaan die regering dit los dat vraag en aanbod die mark bepaal.
Dankie vir die antwoord.
Beste Gert
Met respek verskil ek van jou. Daar is genoeg uitsprake deur die regering en in besonder van die ANC wat hulle motiewe baie duidelik uitspel. Hierdie artikel stel dit ook nie as ‘n feit dat die ANC-regering dit gaan doen nie, maar lewer bloot kommentaar op hulle “planne” om die grondwet te wysig. Hoe ‘n finale wysiging gaan lyk, is nog onseker. Dit verhoed ons egter nie om as gelowiges verskillende standpunte oor die saak asook sekere “planne” vanuit ‘n Bybelse perspektief te beoordeel en die lig van God se Woord daaroor te laat val nie.
Om te beweer dat Slabbert se artikel die “toets van die waarheid” nie slaag nie, plaas die onus op jou om te wys waar en hoe die waarheid deur Slabbert verdraai word. Na my mening is die doel van hierdie artikel nie om alle argumente wat daar tans in die openbare sfeer gevoer word, weer te gee nie, maar bloot die Skrif aan die woord te stel waar dit oor ‘n soortgelyke onreg spreek.
Om te beweer dat daar nie kommentaar gelewer mag word alvorens daar nie duidelikheid is oor hoe presies die grondwet verander gaan word nie en dit op emosionele opsweping neerkom, hou nie water nie. As die regering byvoorbeeld sou aankondig dat hulle beplan om alle kinders onder die ouderdom van 5 dood te maak, maar hulle is nog nie seker presies hoe dit gaan gebeur nie, het ons dan nie juis die verantwoordelikheid as gelowiges om op sulke onbybelse planne kommentaar te lewer nie? Moet eers wag totdat ons seker is die regering gaan dit doen of selfs begin het om dit te doen voordat ons kommentaar lewer?
Ek hoop dat ons die moed sal hê om die rigting duidelik aan te dui en selfs gelowiges op sal roep om teen enige vorm van onreg, selfs as daar beplan word om dit met wetgewing te “regverdig”, standpunt in te neem.