Preek: Verlossing deur min (1 Sam. 14:6)

PREEK: VERLOSSING DEUR MIN

Lees: 1 Sam 13:1-7;16-14:23

Tema: Die HERE kan deur min werk.

Teks: 1 Sam. 14:6

Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes;

miskien sal die HERE vir ons optree,

want by die HERE is daar geen verhindering

 om deur baie of deur min te verlos nie.

Psalms: 118:1,12; 118:13,14; 66:7,8; 68:1,2; 68:9,12
Prediker: ds. Gustav Opperman (GK Matlabas)

 

Geliefdes in ons Koning

en ons Aanvoerder, die Here Jesus Christus

 

As ons na die Here se weermag in die land kyk,

as ons na die gereformeerde kerke in die land kyk,

kan ons nie anders om moedeloos te raak nie.

Op elke terrein is ons besig om terug te val …

 

Ons skole het ons aan die humaniste afgegee …

Ons kinders word nou groot

op ‘n dieet van menseregte en evolusionisme …

Ons het toegekyk

hoe die Christelike Hoër Onderwys (die CHO)

van die PU afgekap word.

 

Professore en predikante van baie gereformeerde kerke

bewe voor die gestewelde feministe

wat besig is

om na die gereformeerde kansels op te marsjeer,

buig voor die storm troepe van sosiale geregtigheid.

Professore en predikante van baie gereformeerde kerke

buig voor die evolusiegeloof …

 

Die GKSA se gemeentes ontbind

teen ‘n tempo van drie per jaar …

Die sinode wil graag die situasie omkeer,

die sinode het die kerkverband tot ‘n Omkeerstrategie opgeroep,

maar om hierdie strategie uit te voer,

is daar geen toegeruste jeug nie …

is daar nie ‘n opkomende jeug nie …

 

Onder ons die gereformeerde kerke in Suid Afrika se embleem

staan die woorde:

“Die poorte van hel sal dit nie oorweldig nie”.

Die poorte van die hel

sal nooit die kerk van die Here Jesus oorweldig nie …

Ons weet dit … en ons glo dit …

maar daar is baie lande in die wêreld

waar daar nie meer gereformeerde kerke is nie …

baie lande waar die kerk opgehou het

om te bestaan …

 

en dit maak ‘n mens bevrees

vir ons kerk…

in hierdie land …

 

En dit sal sekerlik ook baie mense sinies maak

oor die toekoms van hierdie nuwe gemeente.

 

Daarom is Jonatan se woorde

vir die Gereformeerde Kerk Carltonville vandag bedoel …

Dis vir u bedoel

om julle aan te moedig …

Dis vir hierdie gemeente bedoel

om om u tot die stryd op te wek …

 

Jonatan sê aan sy wapendraer:

Kom, kom ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes;

miskien sal die HERE vir ons optree,

want by die HERE is daar geen verhindering nie

geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie.

 

Die Here kan verlos.

Hy kan deur baie verlos,

maar Hy kan ook deur min verlos …

 

In ons Skrifgedeelte lyk die posisie van volk benard  …

Die vyand was sterk

baie sterk …

 

En die Filistyne het bymekaargekom

om teen Israel te veg:

drie duisend strydwaens en ses duisend perderuiters en voetgangers

soos die sand wat op die seestrand is in menigte;

en hulle het opgetrek

en hulle het laer opgeslaan  

Dit het ons vroeg in hoofstuk 13 gelees …

 

Broeders en susters, jonge broeders en jonge susters

Net so is die slagordes vandag ook teen die kerk opgestel …

Ons het te doen met ‘n goed toegeruste,

‘n goed bewapende vyand …

en hulle is baie …

 

Hierteenoor is die ware gelowiges pateties min …

 

Op ‘n stadium kon Saul

meer as dertigduisend man monster (1 Sam 11:8)

Aan die begin van ons Skrifgedeelte is daar slegs drieduisend oor …

Later, so lees ons, is daar nog minder …

baie minder …

Daar is maar net seshonderd man oor …

net seshonderd om die hele Israel te verdedig …

 

die volk was in die noute gedruk

die volk het weggekruip in die spelonke

en in die doringbosse

en in die rotse en in die grotte

en in die kuile

 

Is die kerk vandag nie ook besig

om weg te kruip nie ?

om so onsigbaar as moontlik te wees nie ?

om stil te bly …?

veilig agter ons veiligheidsheinings en alarmstelsels …

veilig in ons sitkamers met die gordyne toe …

onopgemerk daar iewers saam in die bondel …

 

Die kerk is dalk bang

om homself gehaat te maak …

net soos dit met Israel gebeur het …

 

Die kerk laat ‘n mens dink aan die vier apies

Sy hoor geen kwaad nie,

Sy sien geen kwaad nie,

Sy spreek geen kwaad nie

en sy doen geen kwaad …

 

Intussen trek die roofkommando’s uit die laer van die Filistyne …

(so het ons gelees),

dan die een afdeling

dan die ander afdeling

dan die volgende afdeling …

Hulle onderneem strooptogte …

strooptogte in die hart van Israel in …

 

Afdelings van die magte van die duisternis

maai vandag onder die kerke …

Hulle roof en stroop …

skynbaar met hartelus …

Hulle stroop deur die seksuele losbandigheid …

Hulle het in baie gevalle

ons vroue en dogters van hulle kuisheid beroof …

Hulle bedwelm ons lidmate

met hulle eindelose sport en vermaak en internet afleiding …

Daar is roofkommando van wêreldgelykvormigheid …

Die een dwaling volg op die ander …

 

Die Filistyne is heeltemal in staat om dit te doen,

want,

(so het ons gelees)

hulle het ook totale beheer oor die wapentuig …

Daar was geen smid in die hele land van Israel te vinde nie,

want die Filistyne het gesê:

Anders kan die Hebreërs swaarde of spiese maak.

 

Die vyand beheer die tegnologie

Die vyand beheer die media

Die vyand beheer die onderwys …

 

Net Saul en Jonatan onder die Israeliete het ordentlike wapens …

 

‘n Hopelose desperate situasie …

 

Dis dan geen wonder

dat Saul niks anders kon doen

as om die belangrikste passe en toegange

tot die land te probeer beset nie …

niks anders as om te probeer om in stand te hou ..

as om in stand te hou …

dit wat nog van die verbondsvolk oorgebly het …

 

Van ‘n volskaalse aanval op die vyand

was daar geen sprake nie …

 

En Saul het gesit op die grens van Gíbea

onder die granaatboom wat by Migron staan;

en die manskappe by hom

was omtrent ses honderd man.

 

‘n Hopelose desperate situasie …

 

Dis onder hierdie omstandighede

dat Jonatan uit die kamp verdwyn

Jonatan onderneem ‘n roekelose missie …

sonder magtiging …

sonder onder om behoorlik na te dink …

‘n vermetele onderneming,

sonder oorleg …

 

So wil dit vir ons lyk …

 

Hy en sy wapendraer …

(as ons na die Hebreeuse teks kyk,

maak ons die afleiding

dat hierdie wapendraer ‘n seun moes gewees het …

‘n jong penkop …)

Jonatan en die penkop  is op ‘n roekelose missie …

‘n vermetele onderneming …

 

en tog …

en tog sien ons die Gees van die HERE hier aan die werk …

Jonatan en sy wapendraer is nie so alleen

as wat dit vir ons lyk nie …

Miskien werk Jonatan met ‘n teks

wat sy pa al lankal vergeet het …

Dalk werk Jonatan met die beloftes van die HERE

waarin sy pa nie werklik meer in glo nie …

 

Kom, kom ons gaan oor

na die wagpos van daardie onbesnedenes …,

sê Jonatan vir die seun …

Kom, hulle is heidene

Hulle dra nie die teken van die verbond nie …

Hulle is nie onder die beskerming van die Verbondsgod nie …

Kom ons vat die onbesnedenes aan …

 

Miskien sal die HERE vir ons optree …

As die HERE wil,

dan sal Hy vir ons optree

 

Hoekom sal die HERE vir hulle optree, broeders en susters ?

Hoekom ?

 

Want die HERE het sy steun

aan Saul en die Israeliete belowe !

Saul sal die HERE se volk

uit die hand van die Filistyne verlos.

Ons lees dit in hoofstuk 9 vers 16.

 

Miskien daarom sal die HERE vir hulle optree …

Miskien sal Hy optree,

want die land van die Filistyne is aan Israel belowe …

(Dit lees ons in Josua 13)

 

Miskien sal die HERE vir hulle optree

want die HERE sal aan sy volk reg verskaf,

en Hy sal medelyde hê met sy knegte

as Hy sien dat hulle vashouplek weg is

en dit met almal sonder uitsondering gedaan is. (De. 32:36) …

(Dit staan in Deuteronomium 32 )

 

Buitendien … buitendien

by die HERE is daar geen verhindering om deur baie

of deur min te verlos nie …

 

Ja, inderdaad,

Psalm 147 sê mos:

Die HERE het geen welbehae in die krag van die perd,

geen welgevalle in die bene van die man nie.

Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees,

in die wat op sy goedertierenheid hoop.

 

Jonatan tree op

sonder die toestemming

van sy weifelende vader onder die granaatboom …

Saul en sy bewende seshonderd

hoef nie hiervan te weet nie …

 

Jonatan en sy wapendraer sal die een krans af

en die ander krans op …

op en af by verby die spitsrotse Boses en Sene …

Volgens die hebreeus beteken die een se naam glibberig

die ander beteken doringagtig

Jonatan en die penkop bestyg die gladde en doringagtige steiltes …

 

Hulle doen dit in die Naam van die HERE …

 

Hulle doen dit nie sonder die HERE se woord nie

hulle doen dit ook nie sonder die HERE se beloftes nie …

 

Hulle doen dit ook nie sonder ‘n teken van die HERE nie …

Soos die rigter Gideon van ouds soek Jonatan ook ‘n teken …

Nou weet ons

dat beide Gideon en Jonatan in ‘n tyd van die onvoltooide openbaring geleef het

voor die tyd dat die gelowiges die hele Bybel gehad het .

Nie soos ons vandag die hele Woord van God het

om ons lewens daarvolgens te rig nie …

Ons hoef dus nie meer vandag meer tekens te soek nie …

 

Hoe dit ookal sy …

Jonatan en sy wapendraer soek hulle aanwysings van die HERE.

En daarom kan ons sê

dat die gees wat hulle dryf …

dis nie ‘n gees van waaghalsigheid of roekeloosheid nie,

maar dis die HERE se Gees …

 

Dis die Gees van die HERE

wat Jonatan in staat stel om die wagpos te verower …

om twintig man buite aksie te stel …

 

Dis ook die Gees van die HERE

wat toe ‘n skrik in die vyand se laer bring …

n skrik van God noem ons Skrifgedeelte dit …

Dit word ‘n rumoer in die vyand se kamp

‘n rumoer wat altyddeur groter word

die swaard van die een was teen die ander

n baie groot verwarring

 

Die Filistynse roofkommando word toe ‘n vlugkommando …

Nie deur krag of deur geweld nie,

lees ons in Sagaria 4:6,

Nie deur krag of deur geweld nie,

maar deur my Gees,

sê die HERE van die leërskare.

 

Ons stry vandag nog steeds ‘n stryd,

geliefdes in ons Here Jesus Christus

nie teen vlees en bloed,

sê die apostel Paulus aan die Efesiërs

maar teen die owerhede,

teen die magte,

teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu,

teen die bose geeste in die lug (Ef. 6:12 ev.)

 

Daarom, neem die volle wapenrusting van God op,

Staan dan vas,

julle lendene met die waarheid omgord,

neem die skild van die geloof op …

En neem aan die helm van verlossing en …en

die swaard van die Gees …

dit is die woord van God

 

Aan die Korintiërs skryf hy weer:

die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie,

maar kragtig deur God

kragtig om vestings neer te werp,

terwyl ons planne verbreek

en elke skans

wat opgewerp word teen die kennis van God,

en elke gedagte gevange neem

 tot die gehoorsaamheid aan Christus … (2 Kor. 10:4)

 

Kom, ons gaan oor

na die wagpos van daardie onbesnedenes

 

So spoor die HERE u vandag aan …

die HERE wil hê

dat julle dit sal waag …

dat julle dit in sy Naam sal waag …

 

Waag dit soos Petrus en Johannes

dit voor die Joodse Raad gewaag het …

Waag dit soos Paulus en Silas

dit in die hart van die Romeinse ryk gewaag het ..

 

U sal nie noodwendig van die kerkleiers leiding ontvang nie …

die dae dat u net op die dominees

en die professore kan staatmaak

dis verby …

Baie van ons dominees sit onder die granaatbome …

Ek is jammer om dit te sê ..

 

Mag die HERE gee

dat daar weer ‘n nuwe geslag

gereformeerdes na vore sal kom …

nie met die vrugtelose vernuwing

wat baie kerke op die oomblik najaag nie …

In baie gevalle is die soort vernuwing

eerder die dood in die pot …

 

Mag die HERE gee

dat daar weer ‘n nuwe geslag Jonatan’s

en hulle wapendraers na vore sal kom …

Manne en vroue jonk van gees …

 

Ons leef mos nou in die bedeling van die Heilige Gees.

Ons lees dit in Handelinge twee,

daardie gedeelte in ons Bybel,

wat volg op die opstanding van die gekruisigde Jesus,

daardie gedeelte wat volg op die hemelvaart

en troonbestyging van die Owerste …

die Owerste van die konings van die aarde.

 

Sy Gees is n nou uitgestort op alle soorte mense,

Ou mense, jong mense …

Mag ons seuns en ons dogters begin profeteer !

so het Petrus dit op die Pinksterdag gesê …

 

Mag ons seuns en ons dogters op hulle beurt dit waag

om weer kinders te begin kry …

mag hulle dit waag

om daardie kinders

sonder enige kompromie Christelike onderwys te gee

mag hulle dit waag

om self die Bybel te begin bestudeer

mag hulle dit waag

om weer die vaandel

van die gereformeerde belydenis hoog te hys …

 

Mag hulle dit waag

om hulle rug te draai op wêreldgelykvormigheid …

om die swaard van die woord te trek

op die onvrugbare werke van duisternis in ons midde …

mag hulle dit waag

om daardie werke

in die Naam van ons Aanvoerder Jesus Christus te bestraf …

 

Mag hulle dit waag,

al is hulle miskien net een of twee …

 

Mag hulle dit waag

om uit die gate en spelonke te voorskyn te tree …

 

Kom, ons gaan oor

na die wagpos van daardie onbesnedenes;

miskien sal die HERE vir ons optree,

want by die HERE is daar geen verhindering

geen verhindering

om deur baie of deur min te verlos nie.

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: