Posted by: proregno | January 8, 2018

GKSA Algemene Sinode 2018: Potchefstroom, 9 Januarie en opvolgende dae

GKSA ALGEMENE SINODE 2018

(NUWE BYVOEGING: soos hier onder vermeld, lewer ek en ander kommentaar op die sinode by die whatsapp groep. Ek gaan ook op my facebook, asook hier onder in die “comments” afdeling inligting deurgee, ek gaan dus nie hier op my blog vir elke sinodedag ‘n aparte skrywe/draad oopmaak nie. Dankie.) 

Ekself is nie afgevaardig na die Algemene Sinode nie. Gaan moontlik hier en daar ‘n draai maak by die sinode, sal nog sien, andersins gaan ek hier en op my whatsapp groep opmerkings deurstuur oor die sinode, soos ons deur die sosiale media en ander bronne terugvoer kry oor die sinode se handelinge.

Opmerkings

Lesers is welkom om enige opmerkings/vrae oor die sinode hier onder in die ‘comments’ afdeling te plaas (indien u ‘n nuwe deelnemer is: let wel – ek laat nie boodskappe deur onder skuilname nie, u moet u regte naam deurgee as u ‘n boodskap wil plaas).

WhatsApp groep

As u op die whatsapp groep wil inteken, stuur vir my u naam, selfoonnommer en gemeente waar u lidmaat is (ook nie-GKSA lidmate is welkom, maar weet ook dat die fokus van die gesprek handel oor GKSA sake) na my selnommer: 082 770 2669

Agenda van Sinode 2018

Die AGENDA is hier beskikbaar, lees gerus waaroor die verskillende sake gaan wat op die tafel is, die nommering word ook gevolg in opmerkings wat ek hier op my blog of op my whatsapp groep maak:

Agenda vir die GKSA se Algemene Sinode van 2018 

VIDA … alweer

Daar is weer omtrent vier of vyf beswaarskrifte en beskrywingspunte wat oor VIDA gaan, weereens sal die sinode moet besluit of hul die Skrif of die tydsgees gaan volg.

Gebed

Ons bid ons broeders die Here se seën toe om in liefde die waarheid na te jaag en te soek in elke besluit wat geneem gaan word, dat dit Sy eer en die heil van ons kerke mag dien.

14 Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,
15 en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.
16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:
2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
3 want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
5 Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening. (2 Tim. 3:14-4:5 A53)


Responses

  1. Moderamen van AS 2018

    Voors Douw Breedt, o voors Hendrik de Beer, skriba Deon Lartz, adj skriba Carel Jansen, adj skriba Abel Modise.

  2. Dag 1 is opgeneem deur die debat of Engels alleen as ‘besigheidstaal’ gebruik sal word, dus om van Afrikaans ontslae te raak.

    Hier is die Beeld se artikel daaroor:

    https://proregno.files.wordpress.com/2018/01/dopper-dominees-dink-oor-engels-_-netwerk24.pdf

    https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/gereformeerde-kerke-besluit-vandag-oor-engels/

  3. Dr. Wikus Buys (GK Innesdal) se skrywe oor die taaldebat by die sinode:

    Is Engels nou die taal van die broederliefde?
    Tien redes hoekom die Doppers dié keer gevaarlik verkeerd is.

    Die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika hou binnekort hulle sinode. In die kerkgange en galerye is alle aanduiding daar dat een van die eerste besluite gaan wees om die sinode net in Engels te hou. Die verduideliking is skynbaar vol lig en liefde: dis die een taal wat al die afgevaardigdes verstaan en dit sou liefdeloos en aanstootlik wees om aan te dring om in jou eie taal sinode te hou. Kerkeenheid vereis immers Christelike liefde en nederige selfopoffering. Engels is die taal wat die liefde wys.

    Die vraag is egter of die stem van Potchefstroom nou skors geword het? Die GKSA se moontlike besluit volgende week om net in Engels te vergader, is gemeenskaplik gevaarlik. Hier is tien redes waarom die besluit verkeerd is, en niks goeds spel vir die toekoms van die Afrikaanse kerke, en vir die Afrikaner as geheel, nie.

    1. Die liefdes argument is skynheilig, dit moet eerder as twee woorde gespel word. Liefde is om die ander een se belange eerste te stel. Wat die kerk vir homself sê, sê hy ook vir die wêreld. Die kerk sê vir die wêreld dat tale in die pad van kerkeenheid staan. Ware liefde vereis die prysgawe van jou eie taal. Dié argument is juis monopoliserend en kom op uit die empirestyl handboek en nie die Bybel nie.

    2. Die kerk toon in sy besluit juis ʼn swak omgang met die Skrif. Die uitstorting van die Heilige Gees [in Hand 2] toon die liefdeswil van God juis aan dat oor “die groot dade van God in tale, in ons eie taal” gepraat word. Die Heilige Gees is die liefdesband van God, en wanneer Hy die mensdom begin vernuwe, is een van sy instrumente juis verskeie tale. Eenheid in liefde, word juis bereik deur tale hulle plek te gee: die plek wat die Gees van God hulle toeken. Swak eksegese moet nie met ʼn liefdessousie bedek word nie. Die kerk kan en mag nie vir die mensdom probeer sê, eenheid met God en mekaar vereis dat tale ondergeskik gestel word aan een taal nie. Dít is brutale liefdeloosheid en ʼn ongehoorsame voorbeeld.

    3. Die besluit is koloniaal geïnspireerd. Die stem van Potch vertoon eerder “his master’s voice and choice” as gehoorsaamheid aan die stem van God. Suid-Afrika is ʼn postkoloniale territoriale eenheidstaat as gevolg van die Engelse koloniale en imperiale magsvergrype. In al die post-koloniale lande word die taal van die onderdrukker oorgeneem en sit die elite daarna – juis met dié koloniale taal – hulle eie magsmisbruik voort. Nie net ʼn staat kan gekaap word nie, mens kry ook so iets soos koloniale kerk-kaping.

    4. Een van die stappe wat lei tot volksmoord is ekstreme vervreemding. Die teologiese stemme wat vir die Afrikaanse gemeenskap met skyn liefde lok om hulle taal in kerklike byeenkomste af te gee, berei die weg tot uiteindelike kulturele selfmoord vir ʼn monolitiese kultuur en maak vervreemding van een gemeenskap juis aanvaarbaar. Die kerk wat liefde preek, mag juis nie gemeenskapsvervreemding aan die hand werk nie. Polities korrekte voetwassery is nie Christelike versoening nie. Watter waarborg is daar dat de-kolonisasie nie ook ont-Christeliking gaan behels nie? Wanneer word ʼn broederlike sinode ʼn raad van kerke of ‘n comrade-konferensie? Anti-apartheid sentiment – ook op Bybelse gronde – moet juis nie magsvergrype handhaaf of nuwes help skep nie.

    5. Kulturele selfmoord van ʼn gemeenskap, gepreek as liefdesdiens, klink eerder na ʼn kultusleier se siening tot selfverwoesting as na die evangelie van Christus. Die kultuur, ook die taal van ʼn gemeenskap, moet geheilig word, volledig in diens van God gestel word: dit wil die Heilige Gees juis doen ook met die Afrikaner kultuur.

    6. Mense wat in die versoening van Christus glo, soos wat die kerk opreg doen, moet die versoening met God en medemens lééf. Die “Engels-über-al” lyk meer soos die neo-liberale skuldrit oor die nimmereindigende skuldbult. Is die afgee van Afrikaans die boeteprys vir apartheid of is die bloed van Christus die afbreek van die middelmuur van skeiding? [Efes 2:14].

    7. Filosofies gesien is die besluit uit en uit modernisties. Die modernisme breek radikaal met die verlede en die tradisie. Tans is slegs die geredde individu op die teologiese radarskerm. Dit is teen die vebonds-denke wat juis so deel is, of was, van die Doppers se teologiese weefsel. Die verbond ken nie net individue nie, maar ook gemeenskappe, verbonde aan God en mekaar. Die Doppers se Engelse gatomswaai verraai hulle modernisme, en anti-verbonds-teologie. Dit is teen die gereformeerde tradisie wat juis so mooi met die verbond in al sy rykdom omgaan. Die kerk moet eerder help om vanuit die verbonds-teologiese tradisie vindingryke gemeenskaps-federalisme as alternatief vir die kerkkaping daar te stel.

    8. Dit is juis die Reformasie wat teen die onverstaanbare Latyn die omganstale van die mense op die voorgrond gestel het met Bybelsvertaling en kommentare. Dink maar aan die enorme invloed van Luther en Calvyn gehad het op Duits en Frans – bo en behalwe hulle teologiese invloed. Moet die Afrikaanse kerke die 500-jarige herdenking van die Reformasie vier met taal totalitarisme?

    9. God het ʼn saak ook met tale en volke. Dit is vir Hom deel van sy reddende verskynende heerlikheid. [Gen. 18:18 en Open 21:24]. Die Drie-eenheid is in wese ʼn verbonds-gemeenskap. Daaruit volg alle ander liefdesverbindings – ook in taal en volksgemeenskappe. Christus en die Gees van Christus herstel juis hierdie verbond wat God met sy skepping het en handhaaf.

    10. Die besluit gaan uiteindelik lei tot kerkvervanging [iets anders as kerkskeuring]. Die goedgelowige Christene ken die stem van die Herder. Hulle gewete gaan hulle nie aankla as hulle in Afrikaans bid en Bybel lees en erediens hou en vergader nie. Hulle gaan ook nie teen sy wil in op ʼn vals kerklike offeraltaar, taal – ʼn gawe van God – offer nie. Hulle weet Christus se offer is genoeg, en die groot gawe van die Gees gee juis dankbare waardering vir al God se guns en gawes, waarvan geheiligde taal en kultuur beslis nie die minste is nie.

    Die Doppers moet Skriftuurlik optree. Hulle moet die be-Geesterde voorbeeld stel en weë soek om lieflike kerkeenheid – in gemeenskap met God en mekaar – te wys. Engels is nie die taal van die liefde nie – beslis nie die broederliefde nie.

    https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/is-engels-nou-die-taal-van-die-broederliefde/

  4. Ek lees in die Beeld artikel oor die taledebat:

    “Dit staan afgevaardigdes egter steeds vry om in hul moedertaal te kommunikeer en direkte vertalings
    word voorsien, waar nodig. Die vertalings kan aangevra word deur ’n kleurkaart in die lug te hou terwyl ’n spreker praat, maar afgevaardigdes word versoek om slegs van die vertalingsgeleentheid gebruik te maak indien dit
    noodsaaklik is.”

    ‘n Mens kan amper nie glo dat mense sulke goed sê nie. So, jy moet met jou kleurkaart (rooi?) lekker uitstaan as een van hulle wat nie bereid is om “opofferings” te maak deur jou aanbiddingstaal prys te gee nie.

    Onderliggend aan hierdie “taaldilemma”, is die dwaling wat meen dat gelowiges van alle volke is “slegs een as hul struktureel een is, en dus een taal saampraat” asook onderliggende gnosties-tipe denke (die genade vernietig of slurp die natuur [bv. taal, kultuur] op, dit heilig dit nie – soos Bavinck dit sou stel).

    Myns insiens is die oplossing vergaderings, “elkeen in sy eie taal” om juis in liefde elkeen se unieke situasie en geloofstryd die beste te dien midde sy taal en kultuur. Engelse taal en kultuur, wat die ganse minderheid is by die GKSA, is nie ‘n ‘neutrale opoffering’ wat almal gaan dien nie, bo alles nie die Here se saak nie, soos dr. Wikus Buys reeds uitgewys het.

    Maar ons is nou reeds by ‘n ‘algemene sinode’, so kom ons bly dan ten minste by die huidige opoffering vir almal, waar reeds nie meer slegs Afrikaans gepraat word nie, maar waar Afrikaans en Engels gepraat word soos elke spreker goedvind, en wat die meeste verstaan (mens wonder hoe baie wat anti-Afrikaans is, verstaan wel Afrikaans, maar is nie bereid om op te offer nie?), en dat daar ook soos altyd tolke is (tegnologie wat die Here voorsien het), om nog in ander tale ook te vertaal, waar nodig.

    Vir verdere leeswerk oor kerk en volk, sien hierdie artikel,

    *Nie wêreldkerk of volkskerk nie, maar wel volkerekerk*

    https://proregno.com/2010/10/11/nie-wereldkerk-of-volkskerk-nie-maar-wel-volkerekerk/

    Sien veral die werke waarna ek verwys van oud profs JC Coetzee en WJ Snyman.

  5. “Taalkwessie verwys na n kommissie om met ‘n voorstel te kom. Die gevoel is om nie die saak tot stemming te bring en na een of ander kant te forseer nie.”

  6. Francois van Deventer het die volgende onder my aandag gebring uit die KO geskiedenis, gaan lees gerus die verklaring daarvan:

    Artikel 51 en 52. De verhouding tot de waalse kerken

    Artikel 51 Alzo in de Nederlanden tweeërlei spraak gesproken wordt, is voor goed gehouden, dat de kerken der duitse en waalse taal op haar zelf haar kerkeraad, classicale vergaderingen en particuliere synoden hebben zullen.

    Artikel 52 Is niettemin goed gevonden, dat in de steden waar de voorzeide waalse kerken zijn, alle maanden sommige dienaren en ouderlingen van beide zijden vergaderen zullen om goede eendracht en correspondentie met elkaar te houden, en zoveel mogelijk is naar gelegenheid des noods met raad elkaar bij te staan.

    http://www.kerkrecht.nl/node/1792

  7. “Bespreking gaan nou oor waarnemerstatus by SARK. Aanbeveling dat ons aansoek doen omdat die organisasie se denke en rigting verander het. Stemming binnekort. Uitslag dat ons wel waarnemers word.”

    • Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes. (1 Kor. 15:33 A53)

      Hier kan meer gelees word van die marxisties revolusionêre-polities-intergeloof- feministiese agenda van die SARK waarheen ons sinode meen dit is belangrik om nader aan te beweeg: http://sacc.org.za/

      Sien bv. die nuutste verklaring: http://sacc.org.za/…/sacc-statement-election-new-anc…/

      “The SACC is however disappointed, at how the 54th ANC National Conference has very much excluded women from among the officials. Whereas the last team had two women, instead of this improving it has in fact reduced to one, thereby regressing from its commitment to the gender parity principle.”

      ” It is the promise of a just, reconciled, peaceful, equitable and sustainable society; free of corruption and deprivation; and free of racism; tribalism, xenophobia and gender prejudices.”

      “We hope that they will together with the rest of the National Executive Committee, seek to recover the glorious heritage of the ANC of Luthuli, Tambo and Mandela – and restore the faith and trust that 11 million South Africans bestowed upon them to lead in government.”

      Die verklaring meen ook dat Cyril Ramaphosa is ‘n “shepherd of God’s flock” (met verwysing na 1 Pe. 5:2,3)

      En nog meer:

      “But those were the dying days of the apartheid regime. We are praying for the dawn and delivery of a new moment of hope and futuristic fulfilment. We believe the nation will find it in the National Convention of South Africa, where organs of civil society, labour federations, business organisations and the various faith traditions will hammer out the values and standards of South African living that we shall demand of politicians who seek our trust to manage our affairs of State.”

      “The Christian churches have a duty, and so have all other religious faiths, to generate hope for the people in despair, and a sense of the positive alternative. We must ensure that never again shall the country surrender public values to the whims of politicians – regardless of party or the leadership thereof. The impunity with which the people of South Africa have been and continue to be treated is teaching us a lesson never to be forgotten – it’s textbook material.”

      http://sacc.org.za/…/op-ed-urgent-need-reclaim-country…/

  8. Op hierdie foto kan mens die (bevrydings)teologiese … oftewel ideologiese wortels sien van die SARK, ek het nog nie iewers gelees dat dit verander het nie:

    http://sacc.org.za/history/prophetic-ecumenical-statements/

  9. ‘n Paar aanhalings van prof. WJ Snyman (NT prof by TSP in lewe), oor kerk en volk/taal/kultuur (wat die huidige ‘taaldebat’ raak):

    “Daarom sê Jesus ook in Matt. 28:19: maak dissipels van al die nasies. En dit gaan terug op die belofte van God aan Abram in Genesis 12:2. En wat sien ons op Pinkster? Dan kom God om te woon in sy Kerk. Die Kerk is die woonplek van God. In die Heilige Gees het die Vader en die Seun na ons toe gekom. Dit noem ons ook die koms van die Koninkryk. Die Koninkryk van God bly in die Kerk. Pinkster is nog nie die einde nie, maar Pinkster is wel die begin van die einde. En wat is die wonder op Pinkster? Ieder hoor dit in sy eie taal. Elke volk moet dit hoor in sy eie taal.”

    Daarom gaan ons die Evangelie ook nie in Afrikaans of Engels verkondig nie. Ek verstaan wel Engels, maar Engels kom nie by my hart nie. Jy verstaan die Evangelie die beste as dit tot jou kom in die taal wat jy by jou moeder geleer het. En hierin sien ons ook die wonderlike eenheid van die Kerk. Dit is ‘n eenheid in verskeidenheid, soos die blare van ‘n boom. Aan ‘n boom is nie twee blare eenders nie. “

    “Ons geskiedenis leer verder dat die Kerk nie weinig daartoe bygedra het nie om ons volk van ondergang te bewaar, nie alleen teen verswelging deur heidenvolke nie, maar ook teen die oorweldiging van ‘n oormag van buite — die van die Britse Ryk. Die Kerk het as ‘n bolwerk gestaan teen die denasionaliseringsproses wat ons volk veral in sy taal aangegryp het. Die Kerk en kerkmanne het in die middelpunt gestaan van die Eerste en Tweede Taalbeweging. Die Kerk het die Bybel in Afrikaans vertaal. Dit het die Afrikaanse taal sy plek gegee onder die tale van die volke.

    ‘n Onverwagte wending in die geskiedenis was dat daar ‘n bedreiging vir ons volksbestaan gekom het juis van die kant van die uitbreiding van die Koninkryk, nl. die sending. Soos die Kerk in die begin van die 19e eeu misbruik is om ons volksbestaan te ondermyn, so was dit veral die geval met die sending. Die noem van die name Phillips en Van der Kemp is hier genoeg. Dit het onvermydelik ‘n afkeer tot gevolg gehad, nie teen die sending as die uitbreiding van die Koninkryk van God nie, maar teen die Londense sending. Dit was volks-ondermynend.”

    “Hieruit is dit duidelik dat die diep beweegkrag van ons geskiedenis nie die naïewe geloof was dat ons Volk die uitverkore volk is nie, soos dit aan ons toegedig is, en waartoe ons seker ook wel aanleiding gegee het en waartoe daar ook genoeg aanleiding was (die Groot Trek, Bloedrivier), maar die geloof in God as die God van volkere. Dit het die weerstand gegee en geïnspireer: enersyds teen verswelging, andersyds teen oorweldiging en volksondermyning.

    Hierdie geloof is in die geskiedenis so duidelik bevestig dat dit die aandag van die volkere nie kon ontgaan en ook nie ontgaan het nie, en daarmee ook die waarheid dat die Koninkryk van God nie gekom het om volke te laat verdwyn nie, maar dat God die God van die volkere is en gedien wil wees in elke volk op sy besondere wyse en in sy eie taal.”

    “Die noue ineenstrengeling van godsdiens en die nasionale lewe, so selfs dat die Kerk hom volkome vereenselwig het met die stryd om die behoud van ons volksidentiteit, kan lig misverstaan word as ‘n vereenselwiging van Kerk en volk. So is dit (ook deur onsself) in die verlede soms misverstaan en word dit vandag nog misverstaan. Dit is histories verklaarbaar, maar dit is ‘n verkeerde verklaring van die geskiedenis. As dit die regte verklaring van die tradisie was, dan is die tradisie op hierdie punt verkeerd en kan ons ons nie daardeur laat bind nie.

    Die vereenselwiging van Kerk en volk is verkeerd. Dit tas die “identiteit” van die Kerk aan.

    ‘n Onskuldiger vorm hiervan is om die Kerk en die volksgrense te laat saamval en die Kerk op te breek in nasionale kerke. ‘n Onlangse voorbeeld hiervan is (volgens ‘n koerantberig): “Die beleid van afsonderlike kerke is gebaseer op die Bybelse beginsel dat God in sy skepping voorsien het vir ‘n eindelose verskeidenheid van die menslike geslag”. Dit is ‘n halwe waarheid. Ons hoor hier geen woord van die verlossing nie en van die feit dat Christus die gelowiges uit die verskillende volke in een liggaam versoen het nie, waarin daar nie “Jood of Griek is nie …”

    Dat hierdie bekende uitspraak van die Bybel nie ‘n uitwissing van grense beteken nie, weet ons. Die vraag is egter, wat dit wél beteken. Tog minstens dat daar by die verskeidenheid ook eenheid is van die liggaam en dat ons in ons afsonderlikheid ook lede is van mekaar. Aan die klem hiervan ontkom ons nie deur dit opsy te skuif as ‘n geestelike iets nie, ‘n geestelike gemeenskap wat los staan van die natuurlike, of ‘n hiernamaalse wat niks met hierdie lewe te doen het nie. Ons kan die Koninkryk van God nie losmaak van hierdie lewe nie. Die geestelike gemeenskap in Christus moet uitgeleef word op elke terrein van die lewe en in alle lewensbetrekkinge.”

    “Groot opdamming
    Toe het daar in die geskiedenis ‘n groot opdamming plaasgevind. In plaas van ‘n kanaal te wees, het die Kerk ‘n dam geword. Die damwal was die Latynse taal, die Roomse kerktaal. Die waters kon egter deur geen wal, hoe sterk ook, gekeer word nie. Die wal het gebreek. Die water van die lewe het weer sy vrye loop gekry, sodat die nasies van die aarde weer oor die groot dade van God in hulle eie taal kon hoor en God kon prys. Dit was die Hervorming. Die Kerk het weer ‘n kanaal geword in plaas van ‘n dam.

    Hervorming
    Die water het reeds voor die Hervorming oor die wal begin stoot. Dit was die begin. Daar was al vertalings of bewerkings soos die rymbybel van Jacob van Maerlandt, die Limburghse leven van Jesus (1275), die historiebybels, die Delftse Bybel (1477) in Holland, en die vertaling van Wiclef en diesyne in Engeland. Dit was nog almal uit die Roomse Bybel, die Vulgaat. Die breek van die wal moes kom, en dit het finaal gebeur met Luther se vertaling, sy Bybel in die taal van die volk vir die volk, die Bybel in Duits, wat op 22 September 1522 verskyn het en bekend is as die September-testament (slegs die Nuwe Testament).”

    Laaste een:

    “Die eenheid in Christus
    Dit is ‘n diepgaande gedagte wat uit die geskiedenis opgevang word hierdie: “God red in Jesus Christus nie net individuele mense (siele) nie, maar die geslagte en nasies word in hulle gelowiges gered”. Dit is miskien nie so uitgesproke in die geskiedenis te vind nie, maar dit sit in die voorgaande opgeslote. Wat ons hier hoor, is niks anders nie as die leer van die verbond (net miskien in enigsins ander woorde as gewoonlik): In die saad van Abraham sal nie net alle geslagte (Gen. 12:3), maar ook alle nasies van die aarde (Gen. 22:18) geseën word; “gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies…” (Matt. 28:19); die voortgang van die evangelie (volksgewyse) van Jerusalem af altyd verder tot aan die uiterste van die aarde (Hand. 1:8).

    As ons goed luister, hoor ons hier die stem agter ons “wanneer ons na regs of na links wil gaan”, aan die een kant: die opbreking van die Kerk in volkskerke of nasionale kerke, en ander kant: die eenheid van die kerk soek in “gesamentlike aanbidding” of gemeenskaplike eredienste (wat sal die taal wees?) in plaas van dit in die eenheid van belydenis te soek en te bewaar in ‘n kerkverband wat hom nie deur nasionale of kleurgrense laat beperk nie.

    Op hierdie wyse kom die eenheid en verskeidenheid ook in Christus tot uitdrukking en het ons hier nie alleen ‘n ontmoeting van gelowiges uit die verskillende volkere nie, maar ook van volkere in hulle gelowiges op die grondslag van ‘n gemeenskaplike belydenis, en word daar iets van die werklikheid beleef dat Christus die vyandskap tussen die volkere tot niet gemaak en die onoorbrugbare teëstelling tussen volkere deur sy bloed weggeneem het sonder om die volkere in ‘n kleurlose eenheid te laat verdwyn (Ef. 2:14).

    Volk en nasie
    Van hierdie onderskeiding word nie veel gemaak nie: Abraham is tot ‘n groot “nasie” gemaak in wie alle “volke” geseën sal word; Israel word as “nasionale volk” onderskei van Israel as nasie in Christus; die hedendaagse gedagte van ‘n “Blanke volk met twee tale” vind geen steun in die Bybel nie; die “Afrikaanse volk” is nie maar ‘n groep van ‘n “Blanke volk” nie, maar ‘n volk met ‘n eie taal.

    Bron: http://www.enigstetroos.org/pdf/SnymanWJ_NuweEnOuDinge.pdf

  10. GKSA se facebook oor taalbesluit:

    “Die sinode besluit dat ‘n funksionele veeltalige kommunikasie beleid aanvaar word. Dit behels die volgende: Elke afgevaardigde kan in sy moedertaal kommunikeer. Indien nodig, sal daar ‘n direkte vertaling in Engels deur alle afgevaardigdes aangehoor word. Alle geskrewe stukke sal in Afrikaans en Engels versprei word. / The synod descides that a multilingual communication policy be adopted by the synod. This implies that all delegates can communicate in their mother tongue. If nescessary there will be a direct translation in English heard by all delegates. All written communication will be distributed in Afrikaans and English.”

    • Kan die volgende aspekte noem vanuit die kommissie verslag:

      “Alle afgevaardiges moet in staat wees om hulself in hul moedertaal in die vergadering uit te druk”

      “Die moderamen gebruik Afrikaans en Engels” (soos 2016)

      Taalbeleid bly soos besluite van Sinode 2016.

  11. In die Beeld vandag oor GKSA se verhouding met APK:

    “GKSA en APK gaan nie bande verstewig nie”

    https://proregno.files.wordpress.com/2018/01/gksa-en-apk-gaan-nie-bande-verstewig-nie-_-netwerk24.pdf

    • Hier is my paar opmerkings oor die GKSA – APK besluit:

      Ja, dit is jammer dat my kerkverband al meer bande soek met kerkverbande wat al meer vrysinnig is en nog meer raak oor verskillende sake (bv. NGK, CRCNA) , asook politiek-geinspireerde organisasies soos die SARK meer opsoek, maar nie nader beweeg aan kerkverbande soos die APK nie.

      Ja, ek het ook self ‘n probleem met art. 3 van die Kerkorde van die APK. Soos ek gisteraand vir prof Willie Snyman aangehaal het daar vanuit die ‘donker diepe apartheidsjare’, waar hy geskryf het (sien die volledige aanhalings van prof Willie op my blog by die ‘comments’ afdeling, by die inskrywing wat oor sinode 2018 gaan, dus hierbo):

      “Volk en nasie
      Van hierdie onderskeiding word nie veel gemaak nie: Abraham is tot ‘n groot “nasie” gemaak in wie alle “volke” geseën sal word; Israel word as “nasionale volk” onderskei van Israel as nasie in Christus; die hedendaagse gedagte van ‘n “Blanke volk met twee tale” vind geen steun in die Bybel nie; die “Afrikaanse volk” is nie maar ‘n groep van ‘n “Blanke volk” nie, maar ‘n volk met ‘n eie taal.”

      Maar, ons deel bo alles met die APK ‘n ryk bybel-konfessionele reformatoriese erfenis, wat ons nader aan mekaar behoort te bring. … ten minste in daardie rigting te beweeg, as die (post)modernistiese rigting van die NGK/CRCNA ?

  12. Nie veel om oor vandag terugvoer te gee nie:

    A 16.26 het gedien (“Christelike konsep van mensregte), maar is weer terugverwys na Deputate nadat daar ‘n klomp vrae daaroor was, asook die bewoording.

    Hier is my 2 vrae/opmerkings oor hierdie rapport:

    https://proregno.files.wordpress.com/…/opmerkings-by-as…

    Ek vra die vraag of hierdie rapport (met sy menseregte beskouing) deur die sinode vir hul rekening geneem moet word; asook ‘n vraag oor “algemene genade en of die Gees van God ‘in’ alle mense is,” Gen. 6:3 is ‘n vers waarop die deputate hul beroep, en die vraag is of dit ‘n goeie bybelse beroep op daardie teks is vir die doel wat hul dit voor aanwend ?

    Daar was ook heelwat rapporte hanteer oor verskllende kerklike publikasies en tydskrifte.

    • A 16.26 Rapport Deputate Owerheid – Christelike konsep van menseregte

      Nog ‘n opmerking by hierdie rapport:

      Die kerk van die Here bevind haar in die wêreld, en kan daarvan gebruik maak binne die raamwerk van God se Woord. Jesus leer ons dit self in Joh. 17:14-17 en ander plekke om met groot wysheid met die wereld om te gaan, sonder om soos die wereld te raak, om hul norme en denke aan te neem.

      In die wereld, maar nie van die wêreld nie.

      Paulus leer ook dat ons nie wêreldmydend is nie, 1 Kor. 6:10b, ons lewe midde die wereld, werk saam nie-gelowiges, strewe om beste burgers van die land te wees tot eer van die Here, ens.

      En daarom kan ons ook gebruik maak van die regstrukture wat daar is in ‘n samelewing, hoe goed of sleg, terwille van die Evangelie, sy kerk, sy eer.

      Maar, en dit is belangrik, die gebruik maak van “wêreldse middele”, die leef in wysheid in hierdie wêreld, is totaal iets anders as die “verchristeliking” van die heidense wêreld en sy konsepte en idees en sy agendas.

      Paulus beroep hom op die keiser, beroep hom op die “mensregte” van sy dag, sy ‘reg’ dat hy “Romeinse burger” is, en dit is goed so (sien Hand. 22:25).

      Maar, ek hoor en sien hom nooit die Romeinse reg, of die keiser “verchristelik” nie, of ‘n bybels sousie daaroor gooi nie. Hy handhaaf die antitese van Koning Jesus, voor wie alle konings ook moet buig (Ps.2; Filp.2).

      So, gelowiges gebruik die middele en tye waarin ons lewe, met wysheid, sonder om die antitese enigsins prys te gee (Gen. 3:15; Matt. 12:20).

      Maar ons “verchristelik” nie menseregte wat gegroei het uit die verligtings-humanistiese rewolusionêre opstandige denke van die 1700’s en daarna nie.

      Ek herhaal weer, hoekom het ‘n paar sinodes gelede die sinode net “kennis geneem’ van die studierapport teen Evolusionisme …. maar hier wil Deputate he die sinode moet hul “christelike menseregte” denke goedkeur as mandaat ?

      • Dis besonder nodig op die oomblik om duidelik teen “menseregte” standpunt in te neem. Dis bv ook jammer dat in die godsdiens-in-skole-saak, daar in die verweerstukke wat voor die hof geplaas is, nie ‘n sweem van reguit Christelike belydenis was nie, maar – soos die regter in sy uitspraak dit beklemtoon het – beide partye het bloot op grondwetlike en wetlike bepalings en regte hulle saak gebaseer. (Leonard van der Dussen)

  13. In vandag se Beeld, dit is seker die opbou vir volgende week se VIDA sake. Daar is 4/5 beswaarskrifte/beswaarskrifte wat behandel moet word daaroor:

    https://wp.me/aM9VW-1w4

  14. Van die GKSA facebook:

    “Die sinode hoor die rapporte van die deputate liturgiese sake aan, m.b.t. moontlike toevoeging van voorgestelde liedere tot die psalmboek. / The synod hears the report of the deputies liturgical affairs in terms of possible additions of songs to the psalmbook.”

    Hier is die rapport waaroor besluit gaan word, seker volgende week:

    22.3 Deputate Liturgiese sake – Beoordeling van Afrikaanse liedere.

    (hier beskikbaar in die Agenda: http://www.gksa.org.za/sinode2018.htm)

    Het nou nie presies getel nie, maar dit lyk na ‘n byvoeging van ongeveer 150 liedere, hoofsaaklik Gesange uit die Liedboek ?

    Ek wonder: moet die naam “Psalmboek” nie maar geskrap word nie ?

  15. PRO REGNO BOEKE BY ALGEMENE SINODE 2018

    Goeie dag almal,

    As enige afgevaardiges na die sinode, nog boeke wil bestel, of lidmate via ‘n afgevaardige boeke wil laat kry, sien hierdie drie boeklyste:

    https://proregno.com/category/pro-regno-boeke-te-koop/

    LET WEL: U moet asb die prosedure volg soos uiteengesit by elke boeklys, eers navrae doen watter boeke nog beskikbaar is. Ek het ongelukkig nog nie tyd gekry om die boeklyste op te dateer nie. So die lyste is nog vol boeke wat reeds verkoop is, jammer. Begin met die laaste lys (nr.4) en werk terug na boeklys nr. 1

    Ek kan dan die boeke aflewer by die sinode, per hand, dus geen posgeld nie. My eie gratis courier dienste, maar net na Potch of Pta ! 😉 As u iemand ken by die sinode wat ook vir u boeke kan saamneem, reël dit dan so met my.

    Hier is so paar boeke wat ek aanbeveel (pryse hierbo in die lyste beskikbaar):

    AFRIKAANS
    – Van der Vyver, Prof Dirk Postma (myns insiens die beste boek oor Postma en die ontstaan van GKSA te verstaan, saam prof Bouke se boek, asook LS Kruger se boek)
    – Spoelstra, B, Die Doppers in SA
    – Kruger, LS Waarom is u lid van die Geref Kerk
    – Kruger, BR, Ontstaan vd Gereformeerde Kerk
    – Spoelstra, B, Geref Kerkreg en Kerkregering (rugkant af, maar teks nog goed en duidelik)
    – Gispen, WH, Bybels ensiklopedie
    – d/ Assonville, SJ Du Toit van die Paarl
    – Snyman, WJ, Nuwe en Ou Dinge
    – vd Walt, SJ, Vaste Fondament (365 oordenkings volgens HK indeling)
    – Schulze, LF, Geloof deur die Eeue
    – Floor, B, Hy wat met die Heilige Gees Doop
    – Feenstra, JG, Leer en Lewe
    – De Klerk, BJ, Vorm en Karakter van Biblisisme
    – Stander en Louw, Gebruike en Gewoontes in die Bybel
    – Heyns, JA, Teologiese Etiek, 2 dele
    – Du Rand, JA, A-Z van Openbaring
    – Barnard, AC, Die Erediens
    – Marais, W, Bybel in die Weegskaal

    ENGELS
    – Hoeksema, H, Reformed Dogmatics
    – Schilder, K, Christ suffering trilogy 3 books
    – Murray, I, D. Martyn Lloyd Jones, 2 books
    – Adams, J, Christian Councelors Manual
    – Adams, J, Self-esteem, self-love, self-image
    – White & Niell, Same Sex Controversy
    -Calvin, Pastoral Letters (xcommentary)
    – Hughes, Speaking the Truth in Love: the theology of John Frame

    NEDERLANDS
    – Aalders, GC, Het Verbond Gods
    – Bouwman, H. Gereformeerde Kerkrecht, 2 dele
    – Van Bruggen, Het lezen van de Bijbel
    – Greijdanus, S, Schriftbeginsel der Schriftverklaring
    – Ridderbos, H, Paulus
    – Ridderbos, H, Komst der Koninkrijk
    – Hamersma. Los, Totius, De Geschiedenis der Christijlike Kerk
    – Jansen, Joh, Korte Verklaring vd Kekorde
    – Bavinck, H, Magnalia Dei
    – Grosheide, FW, De Psalmen, 2 dele
    – Wielenga, B, Onze Doopformulier
    – Dijk, K, De Dienst der Prediking
    – Dijk, K, Om’t ewig welbehagen
    – Venema, FF, Wat is een christen nodig te geloven?
    – Kuyper, A, De Erediens
    – Kuyper, A, E Voto – verklaring op HK, 4 dele in 2 dele gebind
    – Kuyper, A, Het werk vd Heilige Geest

    Boekegroete
    Slabbert

  16. 16.18 Beswaarskrif Klassis Pretoria Moot – bande met NGK

    Die beswaarskrif het in sy geheel nie geslaag nie. Daar is wel aspekte van die beswaarskrif wat verwys is na die Deputate Ekumenisiteit Binnelands, o.a. die kwessie van kanselruil vir heroorweging, ens.

    • Uit GKSA oogpunt, wat ‘n paar huidige verskille betref, sien die volgende beskrywingspunt wat nou by sinode 2018 gedien het (wat nie geslaag het nie, maar tog uitwys wat die huidige verskille is):

      16.18 Beswaarskrif Klassis Pretoria Moot – bande met NGK

      Hier verkrygbaar, gaan af na 16.18

      http://www.gksa.org.za/sinode2018.htm

      Die probleme is Skrifbeskouing, kindernagmaal, Belhar, VIDA, homoseksualisme, ens.

      • Wat die geskiedenis betref, is hierdie ‘n paar historiese bronne om te raadpleeg vanuit GKSA perspektief:

        Boeke (van dit by my beskikbaar tweedehands)
        – Van der Vyver, Prof Dirk Postma (myns insiens die beste boek oor Postma en die ontstaan van GKSA te verstaan, saam prof Bouke se boek, asook LS Kruger se boek)
        – Spoelstra, B, Die Doppers in SA
        – Kruger, LS Waarom is u lid van die Geref Kerk
        – Kruger, BR, Ontstaan vd Gereformeerde Kerk

        Van dit is hier beskikbaar aanlyn: http://www.enigstetroos.org/pdf.htm

        Artikels aanlyn
        – Die Dopperkerke van SA: ‘n gereformeerde perspektief op die geskidenis en huidige ontwikkelinge in die GKSA (let wel hierdie artikel is in 2003/4 geskryf, en verwerk dus nie die gebeure van 2005 tot op hede nie. Ek gee ‘n kort historiese oorsig en ook leerstellige vrae)

        https://proregno.files.wordpress.com/…/die-dopper-kerke…

        In Engels: http://bit.ly/2DuQIbj

        – Die Psalms in die herstigting van die Gereformeerde Kerke in 1859

        https://proregno.com/…/gedenk-julle-voorgangers-hebr…/

        – Was die Psalms vs Gesange in 1859 ‘n ‘middelmatige saak’ destyds soos dit vandag baiemaal voorgehou word ?

        https://proregno.com/…/13/psalms-vs-gesange-in-die-gksa/

        Psalm kwessie het sentraal gestaan, maar daar was groot verskille ook oor leer, diens en tug, nie net die lied nie.

        In sekere NG en NH geledere was daar ‘n groot vyandigheid teen die leer van die uitverkiesing, DL, ens. en is daar gevare van arminianisme via die metodisme wat deur gesange die dwalinge in die kerk ingesing het.

        Van der Vyfer skryf in die boek hierbo vermeld: “Vir die beswaardes het die stryd gegaan teen die ondermyning van die suiwere leer, wat sy brandpunt in die Gesangestryd gevind het … Die besware teen die Gesange en die prediking ‘dat een mensch een eigen wil ter zaligheid heeft’ en bygevolg gemis aan ‘de zuivere predestinasie of uitverkiesingsleer’, is met die jare nie uitgewis nie”. ibid., p.291, 292

        Gewetensdwang het die kameel se rug gebreek in 1858/9, en gelukkig maak die kerke/sinodes vandag nie die fout om gesange gewetensbindend te maak nie, ten minste nie in die GKSA nie.

        – Quo Vadis Gereformeerde Afrikaner ? (wys heelwat dogmatiese, liturgiese en kerklike verskille uit, deur te verwys na ‘n boek in die 20ste eeu deur ds. LS Kruger wat vra: Waarom is jy lid van die GK ?)

        https://proregno.com/…/quo-vadis-gereformeerde-afrikaner/

        Heelwat van hierdie sake het die sinode die een na die ander saak ongelukkig prysgegee, veral die uniekheid van dat die Doppers as ‘n Psalmssingende Kerk is, saam ander kerke wereldwyd deur die eeue.

        Sien hierdie artikel wat aandui hoe GSKA beweeg het van ‘n Psalmsingende kerk, na PS en SB singende kerk, en ten laaste in 2009 na ‘n Gesang singende kerk.

        2. Die Stryd rondom die suiwer Psalmboek (Stellenbosch 1812 – Rustenburg 1859 – Potch 2003),
        prof. V.E. d’Assonville

        https://proregno.com/…/die-stryd-rondom-die-suiwer…/

  17. 21.10 Gravamen deur GK Noordrand, Klerksdorp, Wapadrant teen Sinode 2009 en 2015 se besluite.

    Die wese van die beswaardes se saak is dat hul meen “valse gesag” is bedien sonder die Skrif, en dat hul meen dit is ‘n nuwe saak en daarom nie in stryd met art. 46 nie.

    Die kommissie se aanbeveling is juis geen nuwe saak nie (dus by implikasie) dat ware gesag (met Skrifgronde) deur sinode oor VIDA bedien is in 2009 en 2016.

    Aanbeveling van kommissie: geen nuwe argumente nie, daarom nie ontvanklik nie en beswaarskrif slaag in sy geheel nie.

    21.10 is met meerderheid, ek skat so 70 – 30, afgekeur.

    Ds. Freek Dreyer (GK Noordrand) het vir die sinode gese, in die lig van die besluit, dat hy hom moontlik “op die keiser” gaan beroep oor hierdie saak.

    Sal moet sien of daar more iets in die Beeld daaroor staan of nie.

    Daar is nog ander pro VIDA sake wat behandel en besluit moet word.

  18. A 21.5 Beswaarskrif dr SJ van der Walt – Vroue in die regeer en leerdienste

    Die kommissie het ‘n deeglike rapport (15bl) opgestel, die beswaarskrif sal môre (17 Jan) dien en oor besluit word, nie vandag nie. Afgevaardiges het gevra vir nog studie van die rapport.

    Die rapport se aanbeveling is dat nie een beswaargrond slaag nie.

  19. 22.3 Rapport 3 Deputate Liturgiese Sake – Keuring van voorgestelde Skrifberymings en Skrifgetroue Liedere & 22.3 Aanvullende Rapport 3 Deputate Liturgiese Sake – Keuring van voorgestelde Skrifberymings en Skrifgetroue liedere

    Die sinode het 135 ekstra liedere goedgekeur vir die erediens.

  20. 19.4 Rapport 3 Deputate CO – Onafhanklike Skole en Tuisonderrig

    Wat CO Deputate betref, toe die rapport eerste keer gedien het, het ‘n afgevaardige vir die CO Deputate daarop gewys dat deur Google en bietjie moeite en navrae kan die deputate baie inligting kry van tuisonderwys en verdere kontakte oor tuisonderwys bekom. Die CO deputate gaan dit glo opvolg.

    • Het dit in die bespreking ook opgekom dat die wêreld van Suid-Afrikaanse onderwys nie net uit AROS en ICO bestaan nie? Waardering vir wat alles daar gedoen word, maar of mens nou saamstem met ander organisasies of nie, daar is darem ‘n belang om ook van bv die BCVO en die APA ten minste kennis te hê en iets oor te sê. En daar is onafhanklike Christelik-Afrikaanse skole wat as ‘n verskynsel dat dit juis nie van ‘n organisasie deel vorm nie, ook deel van die waarnemings behoort te wees (bv Sandton Akademie, Euphorbia, Laeveld, Laerskool en Hoërskool Raslouw).

      En het dit iemand opgeval hoe die deputate met hoofletters en al gewoon aanneem daar is ‘n “Akademia Christelik Afrikaanse” universiteit om mee te skakel, maar dat hierdie naam nie Akademia se eie tipering van hulleself is nie. Afrikaans sterk ja, maar die christelikheid figureer (nog) nie sterk in hulle eie dokumentasie nie. Stem wel saam dat Akademia deel is van waaroor die CO-deputate inligting behoort in te win, maar die rapport ruik na vooroordeel en engheid.

      Die CO-deputate se verslag is maar papperig, onvolledig en onwetenskaplik en dit lyk of ‘n groot deel deur AROS vir hulle geskryf is (die “ons” van AROS is nie eers orals uitgeredigeer nie). En dit terwyl ons as kerke sê dat onderwys vir ons baie belangrik is.

  21. 26.1 Rapport Deputate Ekologie

    Verslag word gelewer.

    Goedgekeur en aanvaar.

  22. Op tafel: A 24.9 Besprekingspunt – Hulp aan Mukhanyo Theological College

    Voorstel van kommissie: geen hulp vir Mukhanyo.

    Sinode aanvaar kommissie se voorstel.

  23. 12.2 Rapport 1 Deputate Beoordeling van Beswaarskrifte, op die tafel, oor ‘spesiale sinodes’ vir wanneer benodig (ten gunste daarvan)

    Nie aanvaar nie, dus moontlikheid van ‘spesiale sinodes’ is afgekeur.

  24. Die nuwe voorsitter en onder-voorsitter van die Kuratore, vir wie mens nou kan skryf oor vrae oor TSP/NWU/Admin Buro, ens., is:

    Ds. Piet Venter (GK Potch-Oos)
    Dr. Gerard Meijer (GK Oos-Moot)

  25. Goeienaand Ds. Ek verstaan nie hoekom uself nie afgevaardig is na die Sinode nie. Kan u dalk verduidelik ? Ek vind dit vreemd ….. Liefdegroete Fanie

  26. 21.7 Beskrywingspunt Streeksinode Randvaal – Vrou nie-wesentlike saak

    Op tafel, beswaarskrif wat meen VIDA is ‘n nie-wesentlike saak.

    Beskrywingspunt het nie geslaag nie, dus die sinode bly by die besluit dat VIDA ‘n wesentlike saak is.

  27. 21.6 Beskrywingspunt Gravamen GK Potchefstroom-Oos – Vrou in die amp

    Nog ‘n beskrywingspunt wat meen VIDA is ‘n nie-wesentlike saak.

    Beskrywingspunt slaag nie, VIDA is ‘n wesentlike saak.

  28. 21.3 Beskrywingspunt GK Benoni – Vrou in die amp

    Nog ‘n beswaarskrif wat meen VIDA is ‘n nie-wesentlike saak.

    Kommissie se aanbeveling, soos voriges: slaag in sy geheel nie.

    Bespreking volg.

    Beskrywingspunt in sy geheel slaag nie.

    Daar is nog ‘n VIDA saak, dit is 21.4 van GK Bult, maar hy is nie nou op die tafel nie.

  29. 21.4 Gravamen GK Potchefstroom-Die Bult – Vrou in die besondere dienste

    Hierdie gravamen sal more op tafel wees om te behandel en oor te besluit. Die kommissie se verslag daaroor is 20bl, afgevaardiges gaan dit res van die aand bestudeer.

    Die kommissie se aanbeveling is dat die beswaarskrif slaag in sy geheel nie.

    • Sinode besluit die gravamen is ontvanklik, so die inhoud gaan bespreek, beoordeel en oor besluit word.

      ———————–

      Ds. Freek Dreyer meen dat pro en anti Vida is albei geldige verklarings, volgens sy mening is dit wat 2009 besluit het.

      Klink vir my hy meen dat twee sake wat mekaar weerspreek kan altwee waar wees ?

      ——————————

      Ouderling Johan Hoogendijk (GK Wilrowpark) se alles word heeltyd maar net weer herhaal, daar is geen nuwe argumente, die sinode moet maar dadelik oorgaan tot besluitneming: die gravamen slaag ook nie.

      ____________________

      Nou kry beswaardes geleentheid om te praat, ds. Fanie Coetzee van Die Bult gemeente. Hy meen ons moenie ‘seksisties’ wees nie. Wereld se siening het verander van vroue, so kerk moet ook weer na die saak kyk.

      _____________________

      Ds. Fanie meen ‘ons’ is nog onduidelik oor die VIDA saak, ons moet verder studeer.

      Nie vassteek by spesifieke tekste soos 1 Kor en 1 Tim.2 nie, maar openbaringshistories te werk gaan met geheel van die Skrif.

      _______________________

      Baie van die pro VIDA beswaarskrifte meen die sinode in 2009 het besluit albei standpunte is waar en reg … maar dit is eenvoudig nie waar nie.

      Hier is prof. Jorrie Jordaan se verwysing en beoordeling van die saak, oor die tema en boek “Manlik en Vroulik in die Kerk” wat destyds by die GTV konferensie aangebied is, en wat gevolglik gelei het tot die 2009 besluit:

      Een aanhaling:

      “Kortom: Die boek Manlik en vroulik sê nie dat al die verstaansmoontlikhede wat
      voorgestel word waar of ewe waar is nie. Die boek sê ook nie dat kerke nou maar as
      gevolg van verskillende verstaansmoontlikhede in hierdie verband maar kan doen
      wat hulle wil nie. As kerke nogtans hierdie reaksie op die boek sou hê, sou die water
      inderdaad dieper wees as wat ons vermoed.

      Daarom moet onderstreep word wat in 17.3.1 (p.202) van die Manlik en Vroulik
      geskryf is: “In hierdie studie word aanvaar dat God se Woord sy openbaring van die
      vasstaande, onveranderlike waarheid oor Homself, sy wil en ons verlossingsweg
      bevat. God weerspreek Homself nie in sy Woord nie, en gee daarom ook nie twee
      teenoorstaande ‘waarhede’ oor ’n saak nie.”

      Dit geld ook vir die waarheid wat God in
      sy Woord bekendmaak oor sy wil oor die rol van manlike en vroulike lidmate van sy
      kerk. Indien hierdie aanvaarde standpunt in Manlik en Vroulik nie duidelik genoeg na
      die lesers oorkom nie, roep ook hierdie saak om hersiening.”

      Volledige artikel: “Manlik en Vroulik in die Kerk” – nabetragting oor ‘n boek en konferensie.

      https://proregno.files.wordpress.com/…/manlik-en…

      • Die gravamen slaag in sy geheel nie. So alle pro VIDA beswaarskrifte is deeglik aangehoor, bespreek, besin oor, en afgekeur, in toto.

        Mag die pro Vida broers nou werklik berus by hierdie besluite geneem in die lig van die Skrif, belydenis en KO.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Categories

%d bloggers like this: