Die HERE gee vir ons ‘n erfdeel & Die reg van verset van laer magistrate teen burgerlike owerhede

DIE HERE GEE VIR ONS ‘N ERFDEEL & DIE REG VAN VERSET DEUR DIE LAER MAGISTRATE TEEN BURGERLIKE OWERHEDE 

Inleiding

Gelowige gesinne en kerke moet opnuut biddend vra, wat vra die Here van ons, hoe ons moet optree teenoor die owerhede, spesifiek die burgerlike owerhede wat oor ons aangestel is, veral as hul al meer soos rowers,  en nie meer as dienaars (“ministers”, sien Romeine 13) van die Here,  optree nie.

Calvyn skryf op ‘n plek:

“En tog bring hierdie gedagte die ware koning na vore, naamlik om te erken dat hy self in die regering van sy ryk ‘n dienaar van God is. ‘n Koning wat in sy ryk nie so regeer dat hy die heerlikheid van God dien nie, beoefen nie regering nie maar pleeg roof. Voorts bedrieg ‘n koning homself wanneer hy langdurige voorspoed vir ‘n ryk verwag wat nie deur die septer van God, dit is deur sy heilige Woord geregeer word nie.” (voorwoord van die Institusie, gerig aan die Koning van Frankryk)

Ek plaas hier onder ‘n gedeelte van Calvyn se uiteensetting oor die ‘burgerlike owerheid en die reg van verset van laer magistrate’, maar u as leser moet sy hele hoofstuk 20 in boek 4 van sy Institusies gaan lees, om die geheelbeeld te kry van Calvyn se standpunt volgens die Skrif, soos hy dit verstaan het.  Calvyn waarsku teen beide veragting van die burgerlike owerhede wat die Here daargestel het, spesifiek die ampte van die owerhede en nie hul persone nie; asook teen ‘n blindelingse afgodiese gehoorsaamheid van die owerhede ongeag wat hul van ons eis.

Hy waarsku by implikasie teen ‘n anabaptisties-tipe veragting van die bestaan van burgerlike owerhede opsigself, asook teen ‘n messiaanse aanbidding van die owerheid wat meen ons moet hul in alles gehoorsaam, ongeag hoe onregverdig en boos hul optree. Die doel van georganiseerde ordelike verset is om wet en orde te herstel, die reformasie van burgerlike owerhede en gesagsinstellings, en dus nie die vernietiging daarvan nie. Christus red ons om die vyfde gebod te handhaaf aangaande alle gesag wat die Here daargestel het, nie om dit opsy te skuif of te vernietig “omdat hulle boos is” nie (sien HK Sondag 39).

Gelowiges en kerke sal opnuut moet besin oor wat ons roeping en taak is in hierdie tye, waarin ons erfdeel, na gees én liggaam, al meer bedreig word. Ja, ons moet waak teen ‘n verabsolutering en aanbidding van grond en gesag, maar ons moet ook waak teen die gnostiese wêreldmynende siening dat liggaam/grond/plek onbelangrik of niksseggend is in die Here se Koninkryk. So moet ons ook waak dat ons begin dink omdat “Christus ons gered het, en Hy ons Koning is”, daarom hoef ons nie burgerlike owerhede te gehoorsaam ‘in die Here’ nie, ons is nou ‘heilige vry-heidsvegters’ wat verhewe is bo die mense, owerhede, gesagsinstellings van “hierdie wêreld”.

Laat ons God vrees, die owerhede eer (Romeine 13:1-7).

Christus se liggaamlike opstanding het verreikende gevolge nie net vir ons sieleheil nie, maar ook vir hier en nou, plek, tyd, liggaam, ens.

Mag die lees van Calvyn ons help besin oor die plek van gesag en grond ook vir ons tye, as daar dalk rowers oppad is om dit te wil steel en te verwoes.

Maar voor dat u Calvyn begin bestudeer hier onder, lees eers die preek van ds. Ronald Bain (GK Potchefstroom), waarin hy vanuit die Heilige Skrif daarop wys dat ons tydelike erfdeel nie losgemaak kan of mag word van ons geestelike erfdeel nie:

Die Kerk is die Here se erfdeel vir ewig 
deur ds. Ronald Bain 

Teks: 1 Samuel 26:1-27:2.

Teksverse: “Laat my heer die koning dan nou luister na die woorde van sy dienaar: As die HERE u teen my aanhits, bied Hom dan ‘n spysoffer aan; maar as dit mensekinders is—vervloek is hulle voor die aangesig van die HERE, omdat hulle my vandag verdrywe, sodat ek my nie kan aansluit by die erfdeel van die HERE nie deurdat hulle sê: Gaan weg, dien ander gode! Laat my bloed dan nou nie op die aarde val ver van die aangesig van die HERE nie, want die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek, soos ‘n man ‘n patrys op die berge agtervolg.” -1 Samuel 26:19,20.

‘n Gedeelte van die preek:

Ons is die tempel van God se Gees. Hy het begeer om in sy kinders te woon. Hy wil dat die kerk sy rusplek sal wees. Nie net eendag nie. Ons ervaar die ewige vreugde in ons harte reeds nou al. Die Gees stuur die erfgename uit sodat die hele erfdeel bymekaar gemaak kan word. Dit gebeur deur die verkondiging van die evangelie. Wat gebeur dan? Die Here gee ruimte, Hy gee plek vir die gelowiges om Hom te aanbid. Hy woon onder en in sy volk op hierdie aarde, al is dit bedoel vir heiliging met vuur.

Ons dink grond is so onbelangrik. Ag dis maar alles deel van die ou bedeling. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Die koninkryk is ‘n saak van plek en grond. Die hele Klein-Asië was naderhand ‘n plek wat God vir die kerk gegee het, vandag is dit die plek van die Moslems. Soos wat die kerk groei lê Christus ook beslag op die grond. Hy maak die plek groter. Waar die erfdeel kwyn daar staan ons die grondgebied af vir Satan. Dit beteken heel prakties: huisgesinne, skole, universiteite, samelewings, volke, lande en regerings wat Christus erken as Koning of nie. Roeping en plek maak baie saak! Om deel van die Here erfdeel te wees beteken dat dit vir jou krities sal wees dat daar ‘n plek is om God te dien.

Die feit dat hier vanaand op hierdie kampus ‘n erediens kan hê, is geen geringe sakie nie. Op hierdie plek maak God sy kinders bymekaar, op hierdie stuk grond. Die Here maak vir sy erfdeel ruimte. Hy wil dat ons hier sy Koningskap sal verkondig sodat sy erfdeel kan uitbrei.

Mense sal ons altyd uit die Here se erfdeel wil verdryf. Weg van die kerk en weg van die plek waar ek moet wees. Dan mag ons nie wegvlug nie, ons moet vertrou en ons roeping volvoer. Het mense jou ook dalk al uit die kerk probeer dryf? Nie net ongelowiges nie, dalk mense in die kerk? Dan mag ons nooit soos Dawid wegvlug en vir ons ‘n ander plek gaan soek nie. Waar is jy later vanaand? Waar is jy môreoggend, waar is jy volgende Sondag? Onthou God wil onder sy erfdeel woon. ….

Omdat ons die Here se erfdeel is moet ons in alle verbande vra waar die Here ons wil hê. Wat van die opvoeding van ons kinders? Tersiêre opvoeding, wetenskapsbeoefening, die regte. Alle samelewingsverbande. Daardie grondgebied is mos die Here sin. Hierdie is nie net ‘n indiwiduele vraag nie. Waar moet jy wees as student of werkende, waar moet jy wees as man of vrou of kind of lidmaat van ‘n gemeente nie.

Maar ook waar roep God jou as deel van ‘n huisgesin, ‘n gemeente, ‘n gemeenskap, as deel van ‘n volk.

God gee vir ons ‘n plek om op te wees. Hy gee vir ons plek om Hom te aanbid. Hy gee vir sy erfdeel ruimte. Hy pas sy erfdeel vir ewig op. Daar wil Hy woon, vir ewig, dis sy rusplek, onder sy volk. Ja, dit begin nou al. Die kerk is die tempel van God se Gees.

Al beteken dit vir ons baie beproewing.

Nou mag jy nie soos Dawid sê: wat sal van my word nie, ek sal nie lewe nie. Ek wil eerder lewe op die verkeerde plek as om beproef te word op die regte plek. Moet jou nie afskei van die Here se erfdeel deur jou roeping na te laat nie. Jy moet die gebed bid as erfgenaam, jy moet die gebed bid as iemand wie die Here aangeneem het as sy erfdeel: Here waar wil U hê moet ek wees? O Here wys tog vir u erfdeel waar ons moet wees? God antwoord die gebede van sy kinders, want Hy self vergader hulle as sy erfdeel en Hy self pas sy erfdeel op.

Lees die volledige preek hier: Die kerk is die Here se erfdeel.

Die preek kan ook hier geluister word: Erfdeel


Die reg van verset teen burgerlike owerhede volgens Calvyn

Bron: Die Institusie van Calvyn, verkorte weergawe deur ds. A. Duvenhage (deel 4, hoofstuk 20, nr. 22 – 32, beklemtonings bygevoeg. Sien ook die volledige Institusies in Afrikaans, hier: Institusies 1559 Simpson weergawe).

22. Die eerste plig van die onderdane jeens hulle owerhede is dat hulle met groot eerbied vir hulle amp vervul sal wees. Dis ‘n regsbevoegdheid wat God aan hulle opgedra het. Daarom moet hulle as dienaars van God geëer word. Sommige is baie gehoorsaam aan hulle owerhede. Hulle sal ook nie graag wil hê dat daar geen owerhede is nie. Maar hulle beskou hulle tog net as ‘n noodsaaklike kwaad. Die Skrif eis egter meer van ons (1 Petr. 2:17; Spr. 24:21). Die apostel Paulus eis ook gehoorsaamheid, nie alleen ter wille van die straf nie maar ter wille van die gewete (Rom. 13:5). Die gehoorsaamheid wat aan hulle bewys word, word aan God self bewys. Ek spreek nie oor die persone van die owerhede nie maar oor hulle amp. Die is eerbiedwaardig en moet deur ons as sodanig beskou word.

23. Hieruit volg nog ‘n ander plig vir die onderdane, naamlik om met, bereidvaardigheid hulle gehoorsaamheid te bewys, hetsy om hulle besluite te gehoorsaam, belastings te betaal, publieke dienste op hulle te neem wat op die verdediging van die land betrekking het, of om ander bevele uit te voer. “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie”, gebied Paulus (Rom. 13:1; vgl. ook Tit. 3:1, 1 Petr. 2:13). Om te bewys dat hulle die owerhede van harte onderdanig is, beveel Paulus die onderdane om vir hulle te bid (1 Tim. 2:1). Geen mens kan hom teen die owerheid verset, sonder om hom teen God te verset nie. En al is die owerheid ongewapen, is God tog gewapen om die veragting te straf wat Hom aangedoen is.

Onder die gehoorsaamheid verstaan ek verder dat niemand uit eie beweging in publieke sake sal inmeng of ligvaardiglik doen wat die taak van die owerheid is nie. As daar in die samelewing iets verbeter moet word, mag hulle geen oproer verwek nie maar dit tot kennis van die owerheid bring, die enigste een wie se hande nie gebind is nie. Ek verstaan dit só dat hulle niks durf doen as hulle nie beveel word om dit te doen nie.

24. ‘n Regeerder wat die naam waardig is, is ‘n vader van die vaderland, ‘n herder van die volk, ‘n bewaker van die vrede, ‘n handhawer van die geregtigheid en ‘n verdediger van die onskuld. Dit sal ‘n dwaas wees wat nie in so ‘n regering ‘n behae het nie.

Die geskiedenis leer egter dat sommige vorste hulle nie bekommer oor die dinge waarvoor hulle behoort te sorg nie, en sorgvry die lewe geniet. Ander weer is net bedag op hulle eie voordeel. Weer ander berowe die volk van hulle geld om dit op allerhande geskenke te verkwis. En nog ander is niks minder as straatrowers nie. Dis daarom vir baie onderdane moeilik om te glo dat sulke vorste ook as vorste erken moet word. Hulle sien in so ‘n persoon niks van die beeld van God wat uit ‘n owerheidspersoon moet straal nie. En hulle ontdek in hom geen spoor van ‘n dienskneg van God nie, van wie die goeies lof ontvang en die kwaaddoeners straf. Daarom erken hulle hulle nie as vorste nie maar vervolg hulle as
tiranne.

25. Maar Gods Woord leer ons dat ons onderdanig moet wees, nie net aan die vorste wat getrou hulle amp uitoefen nie, maar aan almal wat regeer, ook al vervul hulle nie hulle plig nie. Die Here betuig dat alle owerhede hulle mag alleen van Hom ontvang. Die wat goed regeer, is voorbeelde van sy weldadigheid jeens ons. Die onregverdiges en heerssugtiges het Hy verwek om die ongeregtigheid van die volk te straf. Almal is met heilige majesteit beklee. Ons moet die slegtes daarom met dieselfde eerbied en agting bejeën, sover dit die openbare gehoorsaamheid betref, as die waarmee ons die goeies sal eer (Jes. 3:4; 10:5; Hos. 13:11)

26. Die lesers moet opmerk dat dit God is wat in sy voorsienige bestel koninkryke uitdeel en konings aanstel. Ons lees in die profeet Daniël dat God die tye en geleenthede verander; dat Hy konings afsit en konings aanstel (hfst. 2:21, 37). Dis algemeen bekend dat Nebukadnesar ‘n rower en verwoester was. Tog sê die Here aangaande hom dat Hy Egipteland aan hom gegee het as loon vir die gehoorsaamheid wat hy aan Hom bewys het (Eseg. 29:19; vgl. ook Dan. 2:37; 5:18; 1 Sam. 8:11). Hieruit volg dat ons ook die allerslegste tiran die eerbied moet gee wat God hom waardig keur.

27. Besonder leersaam is Jer. 27:5 e.v. Die Here wil dat die wrede tiran gehoorsaam gedien sal word om geen rede as omdat hy die koninkryk besit nie. Hy is deur God op die troon geplaas en tot die koninklike majesteit verhef wat nie geskend mag word nie. As ons dit in  gedagte hou dat ook die allerslegste konings hulle gesag van God ontvang, sal dit nooit in ons gedagtes opkom om hulle na hulle verdienste te behandel nie maar ons as hulle onderdane gedra.

28. Die gebod geld ook nie net vir Israel nie, soos sommige beweer. Ons moet let op die rede vir die bevel: “Ek het die koninkryk aan Nebukadnesar gegee”, sê die Here (Jer. 27:5). “Daarom dien die koning van Babel en lewe” (vs. 17). As die Here iemand tot die koninklike waardigheid verhef, betuig Hy daarmee dat dit sy wil [548] is dat so iemand sal regeer (Spr. 28:2). Jeremia noem nog ‘n ander gebod van die Here. Die weggevoerdes moet die vrede van Babel soek en Hom vir die vrede van die stad bid, omdat hulle vrede in die vrede van Babel geleë is (hfst. 29:7). En Dawid wou sy hand nie teen Saul uitsteek nie, omdat hy die gesalfde van die Here was. En dit terwyl hy alreeds as koning aangewys en gesalf was (1 Sam. 24:7, 11; 26:9).

29. Hierdie eerbied is ons tot die uiterste toe verskuldig aan al ons owerhede, hoedanig hulle ook mag wees. Ek sê dit meermale, sodat ons sal leer om nie na die mens te kyk nie maar dit as voldoende sal ag vir die bepaling van ons gedrag dat dit die wil van die Here is dat hulle so ‘n onskendbare posisie beklee.

Maar het die owerhede dan nie ook verpligtinge teenoor hulle onderdane nie? Dit het ek alreeds toegestem. Maar as ons nou daaruit sou konkludeer dat ons net aan die regverdige owerhede gehoorsaamheid verskuldig is, redeneer ons verkeerd. As ouers hard is teenoor hulle kinders, onthef dit die kinders nog nie van die verpligting om hulle ouers te gehoorsaam nie. Elkeen moet maar net let op wat sy plig is en nie op wat die ander een se plig is nie. As ons daarom deur ‘n hardvogtige vors gekwel word of deur ‘n hebsugtige beroof word of deur ‘n goddelose gekwel word, moet ons in die eerste plek aan ons sondes dink as die oorsaak waarom God ons so kasty. Dit sal ons ootmoedig stem. Verder moet ons ook daaraan dink dat dit nie ons roeping is om sulke rampe te genees nie. Ons kan maar net die hulp van die Here inroep, in wie se hand die harte van die konings is (Spr. 21:1).

30. Ons sien hier ook die wonderbare goedheid en mag en voorsienigheid van die Here. Soms verwek Hy uit sy diensknegte manne as redders en beveel hulle om ‘n misdadige regeerder te straf. Op ‘n ander keer bestem Hy daarvoor die woede van mense wat misdaad beoog maar tog sy wil volbring sonder dat hulle dit weet. So het hy Israel deur Moses uit die tirannie verlos en deur Otniël uit die mag van die koning van Aram. Die hovaardigheid van Tirus straf Hy deur die Egiptenaars. Die vermetelheid van die Egiptenaars deur die Assiriërs. Die wreedheid van die Assiriërs deur die Babiloniërs. En die Oormoed van Babel beteuel Hy deur die Mede en Perse.

31. Deur al die dade voltrek die Here sy werk. Hy verbreek die bloedige septers van konings en maak ‘n end aan hulle ondraaglike dwingelandy. Laat die vorste dit hoor en skrik. Intussen moet ons oppas dat ons nie die gesag van die owerheid verag of skend nie, al word dit ook deur onwaardige persone uitgeoefen. God het hulle met majesteit beklee. Daarom moet ons nie dadelik dink dat dit ons roeping is om die wraak van die Here oor die dwingeland te bring nie.

Ek spreek van partikuliere persone. Want as daar volksmagistrate aangestel is om die willekeur van die konings te bedwing, is dit hulle plig om die ongebondenheid van die konings te weerstaan. Hulle sal troueloos wees as hulle die gewelddadige optrede van die konings deur die vingers sien. Daardeur sal hulle die vryheid van die volk verraai, wat hulle kragtens die bevel van die Here behoort te beskerm.

32. Ons is dus gehoorsaamheid aan die owerhede verskuldig. Egter altyd met hierdie bepaling daarby dat die gehoorsaamheid ons nie ongehoorsaam moet maak aan Hom, aan wie se wil al die begeertes van die konings onderworpe moet wees, vir wie se besluite hulle bevel moet wyk en voor wie se majesteit hulle almal moet buig nie. Hoe verkeerd sal dit nie wees om Hom te beledig ten einde mense tevrede te stel nie. Hy is die Koning van die konings. As Hy spreek, moet voor alles en bo almal na Hom geluister word.

Verder is ons onderworpe aan die wat ons regeer, maar — alleen in Hom. As hulle iets teen sy gebod beveel, moet dit nie uitgevoer word nie. Hier moet ons ons nie bekommer oor die waardigheid waarmee die owerhede beklee is nie. Aan hulle word geen onreg gedoen as hulle onder die mag van God bedwing word nie. Daarom kon Daniël ook sê dat hy nie gesondig het toe hy die goddelose bevel van die koning nie gehoorsaam het nie (hfst. 6:22). Die koning het tog sy perke te buite gegaan en was nie net onregverdig teenoor die mense nie maar het hom ook teen God verhef en só sy eie mag vernietig. Aan die ander kant word Israel veroordeel omdat dit al te inskiklik die goddelose gebod van die koning gehoorsaam het (1 Kon. 12:30). Hier verdien gehoorsaamheid geen lof nie. God dra sy reg nie aan mense oor as Hy hulle oor ander aanstel nie. En die aardse mag verloor niks van sy waardigheid as dit aan die Outeur daarvan onderwerp word nie. Hom moet ook die hemelse heerskappy onderdanig vrees.

Ek weet hoe gevaarlik hierdie standvastigheid is. Konings verdra dit nie as hulle geminag word nie. Hulle grimmigheid is soos boodskappers van die dood (Spr. 21:14). Petrus sê egter dat ons God meer moet gehoorsaam as die mense (Hand. 5:29). Ons moet dus liewer alles ly eerder as om van hierdie gebod af te wyk. Paulus sê ook dat ons duur gekoop is, en voeg daaraan toe: “Moenie slawe van mense word nie” (1 Kor. 7:23).

Aan God die lof.


Sien ook hierdie bronne:

Defense of Liberty against Tyrants

The Doctrine of the Lesser Magistrates: A Proper Resistance to Tyranny and a Repudiation of Unlimited Obedience to Civil Government (by Matthew J. Trewhella)

Basis for Civil Resistance

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: