“DIE SIT VAN CHRISTUS IN DIE HEMEL”
deur
dr. SJ van der Walt
“En Hy wat op die troon sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius” — Openb. 4:3.
HK Vraag 50: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan regterhand van God?
Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy Christelike kerk1 kan betoon, deur wie die Vader alles regeer.2
Skriffundering: 1) Efesiërs 1:20-23; Kolossense 1:18 2) Matteus 28:18; Johannes 5:22
Die Christus Gods sit hier op die troon in die hemel. Eintlik word hier die verskil gemaak dat God, die Vader, op die troon sit en Christus, die Lam, voor die troon staan (vgl. Openb. 5:6). Tog word ook daar gesê dat Hy in die middel van die troon staan. Daar is dus nie ‘n absolute skeiding nie. Die beelde en figure loop deurmekaar. En dis dan ook wel verstaanbaar, aangesien God nie anders as deur Christus Homself sal openbaar op sy troon in die hemel nie.
Dat Christus staan, gee sy gereedheid te kenne om op te tree teen sy vyande en vir sy uitverkorenes. Christus is nie ledig nie maar hou Hom gedurig besig om sy volk te verlos. Daartoe span Hy al sy krag in en beywer Hy Hom sonder om moeg of mat te word.
Maar as Christus voorgestel word as “sittende”, dan gee dit te kenne rus, afwagting en majestueuse grasie. In die eerste plek rus. En dan moet ons nie daaronder verstaan werkloosheid nie maar die rustige genieting van en verlustiging in sy volbragte werk aan die kruis. Lank genoeg was Hy ‘n swerweling en het Hy g’n plek gehad waar Hy sy hoof kon neerlê nie. Lank genoeg het Hy die hitte van die dag en die koue van die nag verduur. Lank genoeg het Hy Hom uitgeput in selfverloënende diens van sondaars. Nou kan Hy rus: “Dit is volbring” (Joh. 19:30).
Ook dui sy sit aan die regterhand van God aan rustige afwagting. Hy is nie haastig nie. Hy is nie onrustig nie. Hy het niks meer te vrese nie. Die satan lê verpletter aan sy voete en worstel in sy laaste stuiptrekkinge. Hy is die oorwinnaar oor al sy vyande, en hulle lot is verseël. Al woed die magte van die hel ook, tog aanskou Christus dit met kalme majesteit, want Hy weet dat hulle nie meer aan hul lot kan ontkom nie.
Christus “sit” ook in die hemel as teken van majestueuse grasie. Hy is nou “Koning” en omring van ontelbare leërskares van engele en verlostes, almal tot sy diens gereed. Hy hoef nie meer voete te was en andere te dien nie maar word nou self gedien. Almal is aan sy voete en staan voor Hom, tot sy diens bereid. Hy hoef nie meer te buk om andere te dien nie, maar almal buig nou voor Hom. Daarom word Christus voorgestel as “sittende”, wat seker nie beteken dat Hy altyd net sit en nooit opstaan nie.
So het ons dan ‘n Koning wat in majesteit en glorie “sit” op sy troon tot in ewigheid. Niemand kan Hom daar afstoot nie. Hy is net so onwankelbaar soos sy troon. Daarom moet ons nie vrees nie. Dieselfde vertroue en rustige kalmte moet ook by ons gevind word. Onse Koning is op sy troon, en daar is niks te vrese nie.
In ons tyd van geweldige veranderinge op alle gebiede en katastrofale omkering van eeueoue en gevestigde toestande en beskouinge is dit asof die mensdom enigiets verwag. Alles is moontlik, en niemand weet wat kan gebeur en wat die toekoms, wat veelal as blinde noodlot voorgestel word, in sy skoot hou nie. Die sogenaamde Eksistensiefilosofie is op hierdie beskouing gebaseer. Tog is dit ‘n valse voorstelling. Niks is so vas en seker, so onveranderlik en onwankelbaar nie as die dinge wat Christus in sy Hand het en wat besig is om volgens sy beloftes in vervulling te gaan.
Wie op Christus bou, het op ‘n Rots gebou.
_____________________
Bron: Dr. SJ van der Walt, Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (13 Mei).
Leave a Reply