Wie diskrimineer teen LGBTQI+? ‘Ons’ of die HERE, die Skepper en Verlosser van man en vrou?

Wie diskrimineer teen LGBTQI+?

‘Ons’ of die HERE, die Skepper en Verlosser van man en vrou?

Dr. Nadia Marais, skryf  in ‘n artikel op die eKerkbode webblad, getiteld: Jesus diskrimineer nié, onder andere, as volg (beklemtonings bygevoeg):

“Ons diskrimineer beide op grond van seksuele oriëntasie én op grond van gender wanneer ons selfdegeslagverhoudings verbied in die kerk. Trouens, gender is onlosmaaklik deel van die debat. Ons definieer die huwelik immers by herhaling deur na gender te verwys: een man en een vrou. Diskriminasie teen LGBTQI+ persone in selfdegeslagverhoudings is daarom ook ʼn vorm van gendergebaseerde geweld.”

Sien ds. Johannes de Koning se artikel in antwoord op dr. Marais se skrywe, onder die titel, LGBTQI+ en wat nog? Hy skryf daar:

“Nadia is ‘n professor in Sistematiese Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar denke is alles behalwe sistematies en haar teologie kom uit alle bronne behalwe die Bybel. Ek sidder om te dink dat mense soos sy ons nuwe geslag predikante moet vorm, ek bedoel vermink!

Nadia, ons moenie God se genade as vanselfsprekend aanvaar nie. Sy genade word nooit in die Skrif buite die konteks van sy heiligheid geplaas nie. Wanneer dit gebeur, maak ons die fout van Ussa. (kliek) Genade gee ons nie ‘n vrypas om God te tart nie!

Nadia se manier van redeneer is gevaarlik! Dit bedreig die heiligheid van die kerk, maar ook gewetensvryheid as sodanig! Dis juis die liberaliste wat die grootste vervolgers van Jesus se kerk gaan word!”

Daar is soveel dinge wat mens kan op reageer teen dr. Marais se skrywe, maar ek wil net een saak noem, myns insiens die belangrikste saak, waaroor hulle wat soos dr. Marais glo (of is dit, ‘nie glo nie’?), en dit wat die ware kerk deur die eeue glo, se paaie heeltemal radikaal skei, en dit gaan oor Skrifbeskouing en Skrifgesag, wat ons ganse geloof bepaal, ook oor hoe ons besin en besluite neem oor die huwelik, gesin, verhoudings, ens.
Hier is wat die Heilige Skrif leer oor die huwelik en man en vrou:
En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. …  Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag. (Gen. 1:27, 31)
En Jesus Christus, bevestig dit verder met die woorde in die NT bedeling,
“En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. (Matt. 19:4-6)
So die ware geloof, die ware kerk glo, dit is God wat die mens na sy beeld geskape het, en die mens as man en vrou geskape het. Nie allerlei LGBTQI of wat ookal tussen-in ‘geslagte’ nie. Dit is die geopenbaarde Woord van die lewende God wat openbaar dat daar twee geslagte is, en moet wees, volgens die OT en NT openbaring. Dit is die Here self, Jesus self wat diskrimineer tussen geslagte, dus ‘onderskei’ dat daar mans en vrouens is. En weë hulle wat wil ‘eenmaak’ of anders maak od deurmekaar wil maak, wat die Here self onderskei, oor diskrimineer.
“Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.” (Jes. 5:20-21)

Teenoor die waarheid wat gelowiges, die ware kerk bely, blyk dit dat dr. Marais glo Gen. 1:27 en Matt. 19:4-6 is bloot menslike menings en opinies, nie die onfeilbare wil en woord van God vir geslagte, huwelik, verhoudings, ens. nie, en aanvaar en buig nie voor die Here se Woord nie. Vir haar is God se Woord bloot menslike idees, daarom dat sy skryf:

“Ons diskrimineer beide op grond van seksuele oriëntasie én op grond van gender wanneer ons selfdegeslagverhoudings verbied in die kerk. Trouens, gender is onlosmaaklik deel van die debat. Ons definieer die huwelik immers by herhaling deur na gender te verwys: een man en een vrou. Diskriminasie teen LGBTQI+ persone in selfdegeslagverhoudings is daarom ook ʼn vorm van gendergebaseerde geweld.”
Ons …. ons …. ons … ?
Is Gen. 1:27 en Matt. 19:4-6 God se ewige Woord en wil vir die mens, of is dit bloot ‘ons’ mense woorde, spekulasies, wat bloot menings is, wat nie gesaghebbend en bindend vir alle tye en plekke en omstandighede is nie ?
Het God werklik gesê: ‘man en vrou het Hy hulle geskape’?
Het Christus werklik gesê: ‘Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie”?
Daardie ‘ons’ van dr. Marais, is daarom nie ‘ons’ van ware gelowiges, die ware kerk deur die eeue nie, maar die ongelowige ‘ons’, wat God se woord verwerp.
Dit is die verleier se stem wat spreek: Het God werklik gesê, ook nog vir vandag en vir altyd?
Ja, hier hoor ons die stem van die opstandige mens, van die valse profete, van die valse kerk van Psalm 2, wat gereed staan, wat saam raad (hou) – met valse teologie en valse wetenskap en valse regte – teen die ‘ons’ van Gen. 1:26-28, die HERE en sy Gesalfde, terwyl hul sê:
“Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp”

Ja, laat ons God se skeppingsorde, Jesus se wil vir van man en vrou stukkend ruk en van ons afwerp.

En laat ons dit doen met die mag en krag van die heidense staat met sy ‘menseregte’.
Dit is ook niks nuuts nie, dat die valse kerk met die valse staat saamwerk, sien Psalm 2, asook in die NT, toe die apostels, die ware kerk vervolg is, toe spreek hul hierdie woorde met verwysing na Psalm 2:
26 Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. 27 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, 28 om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. (Hand. 4:26-28)
Ja, die Evangelie moet aan almal verkondig word, aan onsself, maar ook die hele LGBTQI – en soos ds. de Koning noem, die hele A-Z gemeenskappe,  die hele alfabet, dus alle mense, met ‘n oproep tot geloof en bekering, terug na die Here, wat ookal ons sondes en worstelinge is. Dit is wat ons bv. leer in 1 Kor. 6:9-11, deur sy Gees. By Christus, deur sy Gees en Woord, is daar ware innerlike en uiterlike verandering, bekering deur sy genade, Hy maak ons nuwe skepels tot sy eer (2 Kor. 5:17-21), en dit moet ons orals verkondig, aan alle soorte van gemeenskappe, in die woorde van diskriminerende Jesus self: Die tyd is vervul. Die Koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie (Mark. 1:15).
Maar dalk moet ons nog meer bid vir valse profete, wolwe in skaapsklere, wat soveel mense mislei. Mag die Here hulle genadig wees en ware geloof en bekering skenk, terug na die Here se weë, of anders hulle stuit in sy weë van misleiding. Vir die gelowiges wat nog oor is in die NG Kerk, mag die Here julle bewaar, mag Hy jul daar gebruik om aan te hou getuig en te reformeer, maar as u niks doen nie, dan moet u uit valse kerke uitkom, soek ‘n gemeente en predikers wat waarlik nog glo, dat bv. Gen. 1:26-28 en Matt. 19:4-6 is God se onfeilbare Woord en wil vir alle mense en vir alle tye, en dit tydig en ontydig verkondig (2 Tim. 4:1-5).  Onthou Jesus se eie liefdevolle diskriminerende woorde:
12 Daarop kom sy dissipels nader en sê vir Hom: Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het? 13 Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word. 14 Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val. (Matt. 15:12-14)
Jesus skaam Hom vir elkeen wat Hom vir ‘My en my woorde’ skaam (Mark. 8:38) of ‘aanstoot’ daaraan neem, dus ook Gen. 1:26-28, Matt. 19:4-6; 1 Kor. 6:9-11, ens. wil verdraai of verwerp vir ons tye en lewens.

“Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.” (Mark. 8:38)

Laat die blinde liberale afvallige teoloë, predikante en kerke staan, en voeg u by ‘n ware kerk, vir die heil van u en u gesin, en bo alles tot eer van God (NGB artikel 27-35).
En ja, Christus was en is die grootste diskriminator van alle tye, wat diskrimineer tussen Hom en die Satan, tussen die waarheid en die leuen, tussen reg en verkeerd, tussen ware liefde en valse liefde, tussen ware en valse kinders van Hom, tussen ware huwelike en valse huwelike, ens. Ons moet in nederigheid, liefde en krag navolg om die hele raad van God, dus ook oor die huwelik en gesin te verkondig, ook in ons owerspelige en sondige tye.
Christus roep ons op tot ware liefdevolle diskriminasie, soos Hy ons ook in sy Woord leer, om deur sy Gees en Woord te ‘diskrimineer’, dus te onderskei, ‘n regverdige (be)oordeel(ing) tot lof van sy Naam, en die heil van sondaars, uit te spreek:
“Moenie oordeel volgens wat julle sien nie, maar oordeel ’n regverdige oordeel. (Joh. 7:24)

____________________________________

Sien hierdie artikels oor om regverdig bybels te (be)oordeel, vermaan, te diskrimineer:

Who am I to Judge?

One thought on “Wie diskrimineer teen LGBTQI+? ‘Ons’ of die HERE, die Skepper en Verlosser van man en vrou?

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: