Ons enigste Troos – Die Here dink aan ons na sy goedertierenheid, en nie na ons sonde nie
(Psalm 25: 6,7)
Lees: Psalm 25; Romeine 7:14-8:1; en HK Sondag 23 (v/a 59 en 60)
Fokusverse: “Dink, HERE, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dié is van ewigheid af. Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!” – Psalm 25:6,7
HK Sondag 23 v/a 60: “Vraag: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus1, so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie2 en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is3, God nogtans aan my sonder enige verdienste van my kant4, uit louter genade5 die volkome genoegdoening6, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk7. Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het8. Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem9.”
Skriffundering:
- Romeine 3:21-22; Romeine 3:24; Romeine 5:1-2; Galasiërs 2:16; Efesiërs 2:8-9; Filippense 3:9
- Romeine 3:9
- Romeine 7:23
- Deuteronomium 9:6; Esegiël 36:22; Romeine 4:4; 2 Korintiërs 5:19; Titus 3:5
- Romeine 3:24; Efesiërs 2:8
- 1 Johannes 2:2
- 1 Korintiërs 4:7; 2 Korintiërs 5:19; Romeine 4:4; Romeine 5:17; Romeine 8:15; Romeine 8:32; 1 Johannes 2:1; 2 Petrus 1:3-4
- 2 Korintiërs 5:21
- Johannes 3:18; Romeine 3:22
Preekopname (GK Carletonville, 2018-08-12):
Aflaai: Psalm 25: 6,7(regs kliek en ‘save [link] as’)
Preeknotas (let wel, dit is net notas, die volledige preek is die opname hierbo. Let wel: hierdie preek moet saam gelees en verstaan word, met die preek wat gaan volg oor die tema van HK Sondag 24 (Romeine 6:1-4), dit vorm ‘n belangrike eenheid, wat wel onderskei moet word, maar nooit geskei mag word nie):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
As kinders van die Here,
gered én geheilig in Jesus Christus,
worstel ons maar nog baiemaal oor ons sondige verlede.
Ja ….. dinge wat ons gedoen het,
dalk toe ons nog jonk was,
dalk toe ek die Here nog nie so goed geken het nie,
of ….. dalk glad nie geken het nie?
Toe ek nie omgegee het om te sondig nie, daarin te rol en te geniet nie,
God se wet te oortree, sonder om my te skaam.
Dinge wat ek dalk vir iemand gesê het,
wat ek aan my naaste, my geiefde vrou, kinders,
of ’n vriend of familielid gedoen het,
waaroor ek nou na baie jare, dekades later,
maar net my kop skud, en sug en sê.
Ag Here, hoekom was ek so dwaas, hoe kon ek so iets sê of doen,
baiemaal teenoor my geliefdes, teen U!
Maar geliefdes, dalk nog erger vir ’n gelowige, ‘n ware kind van God.
Nou dat ek wel ouer en hopeliker wyser geword het.
Ja, na ek waarlik tot bekering gekom het,
of dit die eerste bekering was, of ’n verdere voortdurende bekering,
Nou vind ek nog in my oorblyfsels van sonde in my lewe …
Dat ek nog baiemaal geneig is om so maklik te sondig,
en nou is dit veel erger, want nou probeer ek, en wil ek
waarlik in liefde tot God en my naaste,
my vrou, kinders, familie, vriende, lidmate lewe !
En dan, word ek baiemaal toegegooi deur die skaamte,
is ek bedruk oor hierdie werklikheid van die sonde nog in my lewe.
Ek is dan kind van God, en ‘n kind van God, maak nie so nie !
Dit vat my troos weg, dalk die sekerheid en troos van my geloof.
Die vreugde van my geloof wankel dan, en ek twyfel.
Dan kom die hoekom en waarom vrae.
Nou geliefdes, wat moet die gelowige doen,
as hierdie vertwyfeling kom,
as hierdie aanslag kom, en dit kom vir die ware kind van God.
As die Satan, die sondige wereld, jyself (sien v/a 127, HK)
jou so aankla, wil vernietig, wil laat moed opgee, oorgee !
Van binne en buite kom die aanslae:
Jy, kyk hoe erg het jy gesondig,
jou verlede is verskriklik,
kyk wat het jy alles gedoen,
maar nog erger,
jy sê jy is kind van God,
jy sit in die kerk, saam jou gesin
maar kyk nog die erge sonde in jou lewe
Skynheilige, valse gelowige, jy is nie goed genoeg nie !
die HERE gaan jou verdoem, jy is verlore !
Wat dan, geliefdes ?
Die antwoord, van die gelowige is wat ons gelees het,
en gehoor het in al ons Skrifgedeeltes (Ps. 25 en Rom. 7),
saam medegelowiges deur die eeue,
saam met die ware kerk deur die eeue,
en dit is:
DIE GOEIE NUUS (evangelie) is nie ons werk nie,
nie wat ons kan of selfs moet doen nie,
maar die groot genadige werklikheid van ons dierbare Vader,
wat in Jesus Christus, alleen red en bewaar tot die einde toe.
Anders gestel: God dink aan ons, in Christus, vir ewig en altyd!
In die woorde van ons belydenis, daar in antw. 59,
“Dat ek in Christus voor God geregverdig en ‘n erfgenaam van die ewige lewe is”
“In Christus” se werke geregverdig is, en gered is.
Nie in enige van my eie werke – goed of sleg – in die verlede, hede of toekoms nie !
Psalm 25
Ons hoor die goeie nuus (evangelie!) by Dawid,
daar in Ps. 25 wat ons gelees het.
6 Dink, HERE, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dié is van ewigheid af. 7 Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!
Vers 7, sy sondebesef, wat hom maar altyd aangeval het, en gepla het,
daarom dat hy uitroep,
“Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie”
Ja, Dawid is maar al te bewus van die verlede se sondes.
Heel waarskynlik, en veral, die egbreek met Batseba,
die listige planne om haar man, getroue dienaar Uria,
te laat vermoor, sien 2 Sam. 11 en 12.
Die belydenis, verwoord ons sondebesef van die verlede ook, daar in antw. 60, as dit verwys na:
”… dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie”
Ja, dit is ook waar van ons lewens, as ons terugdink aan ons verlede.
Ons skaam ons, as ons dink hoe ons in ons skuld en onkunde,
so maklik teenoor ons hemelse Vader gesondig het,
hoe klein of groot gebod dit ookal was, wat ons oortree het.
Want, onthou geliefdes, as ons in een gebod struikel, dan oortree ons almal.
God eis volmaakte gehoorsaamheid aan al sy gebooie,
nie net wat ons dink is belangrik of nie! (Jak. 2:10, en sien die bewoording van v/a 113, 114; God eis gehoorsaamheid aan al sy gebooie)
Maar, geliefdes, selfs die beste van gelowiges (‘allerheiligstes’m v/a 114), besef nie net die sondes van die verlede nie, maar ook die hede, nou, is erg!
Romeine 7
Dit wat ons gelees het daar in Romeine 7, van Paulus,
‘n ware wedergebore, bekeerde kind van God.
In sy huidige lewe ken hy die worsteling van:
– v. 15 want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.
– v. 19 Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.
Daarom dat Paulus ook in 1 Tim. 1:15, skryf, oor die werklikheid van die gelowige se lewe, hier en nou:
“Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” (let wel: is, nie was nie, teenwoordige tyd)
Dit, die werklikheid van nie net die sonde van die verlede nie, maar ook die hede, word as volg verwoord in ons belydenis, by antwoord 60:
“… so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie2 en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is3” (Skriffundering hier vir HK is, Rom. 3:9 en 7:23)
En, as Dawid daar as OT gelowige sy sonde van die verlede besef, en
Paulus sy sonde van die hede, hier en nou,
Wat is dan hul hoop, hul gebed, hul troos, hul versugting?
Ons hoor dit by Dawid daar in Psalm 25, in die volgende woorde:
Dink, HERE, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dié is van ewigheid af. – vers 6
Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie; dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE! – vers 7
En wat of WIE is die Here se barmhartigheid en goedertierenheid, sy goedheid?
Dit hoor ons baie duidelik by Paulus, in Rom. 7,
“Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (v. 24)
Ja, van die sondige verlede, maar ook die oorblyfsels van die sonde van die hede, nou, en al sy worstelinge ?
Die antwoord was, is en sal altyd wees, die goeie nuus (evangelie!) is:
“Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!”(v.25)
Daar is dit geliefdes,
Teenoor ons ongeregtigheid van die verlede, hede en toekoms !
Is Jesus se geregtigheid, vir ons hele lewe!
Hoor net hoe pragtig, troosvol, asemrowend, ongelooflik, is die goeie nuus
soos die HK dit verwoord daar in antw. 60, vanuit die Skrif,
Ongeag, hoe erg ons sondes van die verlede en hede is, en was.
Vir elke uitverkorene, elke gelowige wat Hom deur die ware geloof aanneem,
geld die goeie nuus, dat:
“… God nogtans aan my
(hoor hoe persoonlik!)
sonder enige verdienste van my kant4,
(geen werke of geregtigheid van of in my)
uit louter genade5
(sy vrye welbehae, liefde, goedheid, ens.)
die volkome genoegdoening6, geregtigheid en heiligheid van Christus skenk7.
(Christus en al sy werke is vir my geskenk in sy liefde)
Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie,
(Christus bedek my met sy bloed, reinig my, red my, vir altyd)
asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het
wat Christus vir my volbring het8.
(Christus se werke word op my rekening geplaas, en Hy dra my rekening van sonde)
Hierdie samevatting van ons regverdiging, redding in Christus, is
die ENIGSTE GROND, DIE REDE VAN ONS TROOS,
in ons worstelinge oor ons sondige verlede,
oor die sonde wat ek haat en nie meer wil doen nie.
Hierdie troos is buite myself in Christus se werk alleen volbring,
nie binne in myself en my kragte en my gehoorsaamheid nie.
Daarom dat Paulus in die opvolgende vers kan skryf, in Rom. 8:1,
“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.”
Toepassing
So, pelgrimskind, as die aanslae kom teen jou, as kind van God,
vanaf die 3 doodsvyande (self, sondige wêreld, Satan),
elke dag, jou hele lewe lank in die goeie stryd van die geloof,
Roep dan saam met Dawid,
saam met Paulus,
saam met die kerk van die Here,
saam met alle regverdiges, dit uit,
in die verootmoediging en belydenis van al ons sondes,
Dink, HERE, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede,
want dié is van ewigheid af,
in Jesus Christus (sien Ef. 1:4-6; 2 Tim. 1:8,9)
Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge nie;
(ook nie van die hede en toekoms nie)
dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o HERE!
En dan geliefdes, laastens,
hierdie geregtigheid geliefdes, ontvang ons slegs deur die geloof,
Dit wat ons bely daar aan die einde van antw 60,
“Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart aanneem9.”
En volgende keer,
gaan ons met antw. 61 en Sondag 24 kyk na hoe ons regverdiging,
dit wat ons bely daar in Sondag 23,
nie anders kan, as om te lei na ‘n lewe van heiligmaking nie.
Want, as alles genade is, beteken dit dat ons in die sonde kan bly,
en maar net sê genade genade, en aanhou sondig ?
Nee geliefdes, die geregtigheid van Christus alleen,
lei en kan nie anders as lei tot ‘n lewe van hoe langer hoe meer
te wil lewen volgens geregtigheid van God nie.
Dit bely ons dan in Sondag 24, maar dit is volgende keer se preek.
Vir vandag, hou vas aan hierdie enigste Troos, in lewe en in sterwe,
in gees en liggaam, dat Christus, en Christus alleen,
ons Geregtigheid voor God is (sien NGB art. 21-23),
as hoop en troos oor ons hele verlede, hede en toekoms.
O Here, onse Here,
U het aan ons gedink in die verlede,
U Seun het gekom om vir ons te sterwe en op te staan,
wil U tog ook aanhou aan ons dink vandag, die toekoms in,
tot in ewigheid.
Dit is ons gebed, vir ons en ons kinders, vir U kerk orals:
“o God, verlos Israel uit al sy benoudhede!” (Ps. 25:22)
Amen.