Preek: Ons gee nie moed op nie! (2 Kor. 4:1-6)
Lees: 2 Kor 4:1-6
Teks: 2 Kor 4:1, “Aangesien ons hierdie bediening het volgens die barmhartigheid wat ons ontvang het, gee ons nie moed op nie.
Psalms: 146:1,2; 146:3,4; 103:6,7; 103:8,9; 138:1,4
Video-opname: 2 Kor. 4:1-6 – Ons gee nie moed op nie
Broeders en susters, toehoorders,
Daar is diegene onder u
wat al lank besig is
om vir u geliefdes te bid …
te bid dat hulle tot bekering sal kom.
‘n Familielid, ‘n gesinslid,
miskien selfs ‘n huweliksmaat?
Dalk is dit ‘n vriend of vriendin daar buite
dalk ons volksgenote?
Dalk is u hart ruim genoeg
om ook te bid vir ‘n verloregaande wêreld?
Hoe dit ook al sy:
ons bid
en ons getuig.
Ons as ouderlinge en predikante
bid ons vir onbekeerde gemeentelede.
Ons getuig en verkondig,
ons praat en lees die Bybel voor
en haal die Bybel aan …
maar niks verander nie.
Alles bly skynbaar soos dit was
en dit kan ‘n mens moedeloos maak.
En dan wil ek soms vra:
wie kan die gewig van ander mense
se siele probeer dra
en nie onder daardie gewig later swik nie?
Jy het gebid en gepraat en gepreek,
maar al wat jy sien
hoe die mense wat jy met die woord bedien,
net al hoe verder wegdryf,
net al hoe dieper in die modder wegsink,
net al hoe verder weg in die donker verdwaal.
Ek sal nie eerste een wees
wat dit ervaar nie.
Paulus het dit ook in sy bediening beleef.
Daardie kwelling was gedurig daar.
Saam met al die ander probleme,
waarmee hy te kampe gehad het,
het die apostel dit ook nog gehad.
Slapelose nagte
en die daaglikse bekommernis
oor mensesiele.
So stel hy dit aan die einde van hierdie brief:
Daar was sy daaglikse bekommernis,
sy sorg vir al die gemeentes (2 Kor 11:28).
Deur die genade van die Here
het hy nie moed opgegee nie.
Deur daardie selfde genade
gaan ons ook nie tou opgooi nie.
Nè, geliefde broeder en suster
medestryder in die geloof?
Aangesien ons self hierdie bediening
volgens God se barmhartigheid ontvang het,
gooi ons nie die handdoek in nie,
gee ons nie op nie.
Dis wat die Heilige Gees vir ons sê.
Ek kan kan preek,
ek kan getuig,
ek kan bid
omdat ek genade van die Here ontvang het.
Mag ek dit nooit vergeet nie.
Die refrein weerklink telkens deur die apostel se briewe.
Jesus Christus het aarde toe gekom
om sondaars te red,
van wie ek die vernaamste is.
So skryf hy aan Timoteus
Aan my is barmhartigheid bewys
om n voorbeeld te wees
vir die wat in Hom sal glo (1 Tim 1:15,16).
As dit is hoe ons in die bediening gekom het,
sal ons mos nie moed opgee nie.
Maar, so gaan Paulus voort in ons Skrifgedeelte
ja, die apostel het ‘n maar:
Maar , skryf hy
ons het van die heimlike dinge
wat skandelik is,
afstand gedoen.
Met ander woorde:
ons is nie agterbaks in ons optrede nie
Ons vertroetel nie boesemsondes
in ons eie lewens nie.
Skandelike heimlike dinge.
Ek weet in wie se oog die splinter is
en ek weet ook waar die balk lê.
Ons het afstand gedoen van geheime dinge,
dinge wat ‘n mens skaam maak.
Ons is bedienaars van die lig.
Daarom vermy ons die praktyke
wat nie die lig van verdra nie.
Ja, die apostel het homself geken
en die Heilige Gees ken ons.
Hy weet en ek weet:
donkerwerk is konkelwerk.
Hoeveel donkerwerk en konkelwerk
sal ons nie partykeer self doen nie?
Is dit nie so nie broeders en susters.
Ons weet wat die regte uitkoms moet wees.
Ons bedoelings is goed.
Ons wil die voortgang van die evangelie verseker.
Ons wil hê
ons gebede moet verhoor word
maar dan sal ons soms dinge bietjie probeer aanhelp:
‘n woordjie hier laat val,
agteraf iemand beskinder
‘n broeder of suster vir ons mening probeer werf
toutjies trek in familieverband,
kerkpolitiek bedryf.
Dit sonde, dis vleeslike, menslike taktieke,
maar wat wou,
sal baie sê,
dis vir ‘n goeie saak.
Die doel heilige mos die middele,
of hoe?
Nee, ons wandel nie in listigheid nie.
Listigheid, dis die apostel se presiese woord
en hy gebruik dit weer in hoofstuk 11 van die brief
waar hy die Satan se werk beskryf:
die slang het Eva deur sy listigheid bedrieg.
Donkerwerk is duiwelswerk.
Ons wandel nie in listigheid
of vervals die woord van God nie.
Om die Here se woord te verdraai
is ewe eens kenmerkend van die duiwel.
Om God se duidelike woord
te vervals of te verdraai of af te water,
is duiwelswerk.
Ag en hoe dikwels val ons as predikers
nie in daardie slaggat nie!
Sondag na Sondag verkondig ons die God van liefde,
want ek weet
dis wat julle graag wil hoor,
maar ons laat dit na
om te noem
dat God ook ‘n verterende vuur is.
Mense wil so graag hoor
dat daar vir hulle genade is,
maar dat die onbekeerde sondaar
onder God se oordeel staan …
dis nie sulke goeie nuus nie.
Ons wil so graag die kerk
vol kruike van voorspoed sien,
maar die lydensbeker word verswyg.
Dis wanneer die mens die woord bepaal,
dat dit so gaan
dat hulle later ‘n menigte leraars
rondom hulle sal versamel …
leraars wat hulle in hulle oor sal streel.
Maar ons doen dit ook, as gelowiges
in ons getuienis taak onder ons geliefdes …
Ons bedien aan hulle ‘n vervalste, afgewaterde woord,
want ons wil hulle nie ontstel nie.
Ons bedien aan hulle ‘n vervalste, afgewaterde woord,
want ons wil hulle goeie gesindheid behou.
Dalk bly ons eenvoudig net stil
en bedien geen woord nie.
In sy eerste brief het Paulus alreeds
so ‘n woord aan die Korintiërs gebring:
‘n ontstellende woord:
Moenie dwaal nie,
het hy by nadruk geskrywe,
geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers
of wellustelinge of sodomiete
sal die koninkryk van God beërwe nie (1 Kor 6:10).
‘n Ontstellende woord,
want sê nou maar net
dis my dogter wat daardie saamblyer is
en daarmee volhard …
sê nou maar net
dis my seun wat daardie homoseksueel is …
sê nou maar net
dis my broer wat egbreker is …
Sal ek dan nie maar liefs
hierdie Skrif verswyg nie?
Sal ek dan nie maar liefs
die liberale teoloë begin napraat nie,
die manne en vroue wat sê:
daar staan nie wat daar staan nie,
daar staan iets anders?
Dit raak so maklik
om daardie weg te volg.
Die weg van vervalsing en afwatering.
Daarmee behou ek dalk goeie gesindhede,
maar daardie man of vrou
kind of vriend se siel
sal eendag van my afgeëis word.
Ja, dit is baie moeiliker wees
om die waarheid aan die lig te bring,
soos dit in ons Skrifgedeelte staan.
Die waarheid aan die lig te bring,
soos die Paulus en sy navolgers moes doen.
Dis wat die apostel jare later aan Timoteus opdra:
Lê jou daarop toe
skryf hy in sy tweede brief
om jou as ’n werker beproef voor God te stel
‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie,
’n werker wat die woord van die waarheid reg sny (2Tim 2:15).
Maar wees gewaarsku,
medestryder in die geloof,
die toehoorders gaan nie daarvan hou nie.
Daar is net een Toehoorder,
wat werklik tevrede gaan wees.
Dis God.
Met elke preek wat die dominee lewer,
met elke stukkie evangelieverkondiging van ons ouderlinge
elke keer wanneer ons die woord deel met ons geliefdes
of wie die Here ook al oor ons pad gebring het,
is daar een Toehoorder,
wat ons nie mag teleurstel nie …
Dis God.
Die Here hoor elke woord wat ons lees,
Hy hoor ek woord,
wat ek preek
elke woord wat u deel
of nie deel nie
of weglaat …
of verdraai …
Deur die waarheid aan die lig te bring,
beveel ons ons by elke menslike gewete aan
voor God .
‘n Godvresende teoloog het een keer opgemerk.
Indien die woord van God reg gesny word,
kan daar maar net een van twee dinge gebeur:
Die toehoorders gaan of hulleself haat
of hulle gaan die prediker haat.
Bring die waarheid aan die lig:
as ons evangelie dan nog bedek is,
is dit bedek in die wat verlore gaan.
Ons kan dit ook soos volg vertaal:
as die waarheid dan nog versluierd is,
dan is dit versluierd in die wat verlore gaan.
Daar is niks verkeerd met die waarheid nie.
Sommige mense, baie mense, die meeste mense
is eenvoudig nie ontvanklik daarvoor nie.
Daar hang ‘n sluier oor hulle harte.
Dis nie dat die evangelie bedek is nie,
die hart van die toehoorder is bedek.
Soos Paulus self skille op sy oë gehad het,
so strompel die blindes in hulle onkunde voort.
Net soos die oë van die blinde
nie die son kan sien nie.
Die blindheid van die ongelowige
doen geensins afbreek
aan die helderheid van die evangelie nie.
Net omdat mense blind is,
beteken dit nog nie
dat die waarheid onduidelik is nie.
Sommige mense, baie mense, die meeste mense
is en bly ongelowig.
Die god van hierdie wêreld het hulle sinne verblind,
sodat die verligting van die evangelie
van die heerlikheid van Christus,
nie op hulle sou skyn nie.
Die god van hierdie wêreld verblind ons sinne.
Hy verskuif ons aandag weg van die boodskap
weg van die boodskap na die boodskapper.
Dan ervaar die boodskapper
dit wat die apostel Paulus
onder die Korintiërs ervaar het:
Dis hier te kort,
daar te lank.
Ds Paulus het nie so oulik
gepreek soos Ds Apollos nie.
Ds Paulus is nie so oortuigend
soos die Griekse redenaars nie.
Ons verlang na die tyd
toe Ds Petrus nog hier was.
Wêreldse gedagtes,
Wêreldse oorweginge.
Die god van hierdie wêreld verblind ons sinne.
Hy verskuif ons aandag weg van die boodskap,
weg van die boodskap na die boodskapper
en wat ons dan sien,
is ‘n gewone mens …
vol swakhede en tekortkominge.
Is dit ook hoekom u soms huiwer
om die waarheid aan die lig te bring,
medestryder?
Wie is ek
om iets te sê?
Hierop het die apostel onmiddellik ‘n regstelling:
ons verkondig nie onsself nie,
skryf hy vir die Korintiërs.
Dit gaan nie oor my nie,
maar dit gaan om Christus Jesus …
Christus Jesus as Here.
Dis wat in ons Skrifgedeelte staan.
Dit gaan oor die Gesalfde, die Seun van God.
Dit gaan oor Jesus die Verlosser
wat aarde toe gekom het
om sondaars te red.
Om my te red …
Ons verkondig nie onsself nie,
maar Christus Jesus …
Christus Jesus as Here.
Hy is die Een met al die heerlikheid.
Dis na Hom waarna my siel smag
soos ‘n hert in dorre streke smag
na die helder waterbeke.
Hy is my Here.
Hy is die baas
Hy is die Meester.
Hy is die Beskikker.
Ek behoort aan Hom …
in lewe en in sterwe, behoort ek aan Hom.
Ek behoort aan Hom
voor Wie elke knie eendag gaan buig.
Maak nie saak
hoe stram daardie knie nou mag wees nie.
Geagte toehoorder, geagte familielid, vriend, kind
glo jy ook werklik in die Christus Jesus
glo jy werklik die Gesalfde, die Verlosser.
Is hy jou Here?
Ons is julle diensknegte,
skryf Paulus aan Korintiërs.
Ons bedien aan julle die evangelie.
Daarom is ons julle bediendes.
ons verkondig onsself as julle diensknegte.
Dis wat ons gelees het.
Ons is slawe vir julle,
maar weet een ding, Korintiërs,
ons behoort nie aan julle nie.
Ons behoort aan ons Here, Jesus Christus.
Ons bedien julle,
maar ons doen dit om Jesus ontwil.
In hierdie donker wêreld dra ons die lig aan
soos die getroue bediendes in God se huis
dit nog maar altyd gedoen het.
Ek dra dit uit
na die wêreld daarbuite
en laat dit skyn
onder hierdie krom en verdraaide geslag
laat dit skyn onder die
wat in die verdwaasdheid van hulle gemoed
in die donker rondploeter.
God is immers die Een
wat gesê het
dat daar uit duisternis lig moet skyn.
Sien u broeders en susters,
hoe die apostel ons weer terugvoer na die God van die skepping?
Dis God wat gesê het
dat daar uit duisternis lig moet skyn ….
dit is ook Hy
wat in ons harte geskyn het
om die verligting te bring.
Daarom gee ons nie moed op nie.
Daarom staan ek vandag weer hier voor u
gereed met God se woord
ongeag wie ‘n oor het om hoor,
ongeag hoe dik die skillekors voor u oë is.
Daarom sal my gebede steeds opwaarts strewe,
elke dag opwaarts strewe
na die bronwel van my lewe.
Rondom my is daar ‘n wolk van getuies.
Dis die onsterflike siele van medegelowiges.
Die Verlosser self is met my
tot aan die voleinding van die wêreld.
Dis my Baas se belofte.
Sy Gees immer aktief
in al sy gemeentes,
in almal wat aan Hom behoort.
Amen.
Leave a Reply