Leer Op. 22:14 (OAV) redding deur werke/wetsonderhouding?
“Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.” – OAV, 1933/53 vertaling
“Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan. – NAV, 1983/92 vertaling
“Geseënd is diegene wat hulle stolass was sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe, en die stad deur die poorte kan binnegaan. – Direkte Vertaling
Ek dink almal (behoort saam te) stem saam oor die wesentlike belangrikheid en kosbaarheid van die leerstuk van die redding uit genade alleen, deur die geloof in Christus alleen, sonder enige werke (Ef. 2:8-10). Dit is ons groot troos, in lewe en sterwe, na liggaam en siel (HK v/a 1). Daaroor stem ons saam, en ons moet sorg dat ons vertalings ook getrou die Skrif navolg in hierdie waarheid wat dit openbaar.
Herman Grobler, het ’n artikel geskryf oor die vertaling van Op. 22:14, soos dit verskillend weergegee word deur die OAV en die NAV op grond van verskillende grondtekste wat gebruik word. Die volledige artikel kan hier gelees word, en die leser hier moet dit asb lees voor u my opmerkings hier onder lees:
Die voorwaarde om gered te word. Openbaring 22:14
Ek meen die skrywer, alhoewel hy dit seker sal ontken, het ’n onderliggende anti-OAV agenda, wat baie meer probeer sê as wat daar in die oorspronklike taal self staan, ongeag watter grondtekste gebruik word, en dit is jammer.
Ek verduidelik as volg:
1. Die voegwoord ‘sodat’ (Grieks: ἵνα [hina])
Die Griekse voegwoord ‘hina’ (+ subj) word gebruik, wat dui op “doel, gevolg, vrug”, nie ‘voorwaarde’ nie. Die algemene voegwoorde wat ‘voorwaarde’ aandui (as/indien) van die Grieks (ei), word nie hier gebruik nie, so mens moet klaar net daaroor versigtig wees. ‘Doel/gevolg’ (vrug) is heeltemal iets anders as ‘voorwaarde’. (“hina, that, in order that. The word is used to introduce a purpose clause”, The New Linguistic and Exegetical Key to the Greek NT)
2. Die voegwoord wys in Op. 22:14 op die genadeloon vir sy salige regverdiges (om te eet van die boom van die lewe, ens.), hulle wat gewas is en as vrug, aanhou gewas word in Christus se bloed, en dit openbaar deur volgens sy gebooie/woord te lewe
Op. 22:14, in beide vertalings, se fokus gaan nié oor regverdiging nie, maar die vrug van regverdiging, nl. heiligmaking, waaraan die kinders van die Here gekenmerk word, want geen onregverdige kan bestaan voor die Here, in sy heilige stad nie.
Die voegwoord dui nie ‘voorwaarde’ aan nie, maar ‘doel en gevolg’. Op. 2:14 se hina wil juis, reg verstaan in die konteks van Openbaring en die res van die Skrif, ‘die resultaat aanwys of die gevolg van ons kindskap’. Dit ‘identifiseer’, dit stel nie ‘n ‘voorwaarde’ vir om nog eers gered te word nie, en dan eers reg te hê op die boom van die lewe nie. Dit beskryf die burgers van die koninkryk, en die loon wat hul uit genade ontvang (v. 12).
Die konteks dui dit reeds aan, sien vers 11, “laat die regverdige, nog regverdiger word”, en hulle wat dus reeds regverdig is (deur die bloed van Christus, Op. 7:14; 12:11)), word geopenbaar, word gekenmerk dat ‘hulle sy gebooie doen’ (v. 14), in kontras met die wat “buite is … hoereerders … moordenaars .. afgodedienaars” (vers 15), wat met hul lewens wys dat hul die onregwerkers, onregdoeners, wetsverbrekers is waarvan Jesus praat in Matt. 7:21ev., en daaraan volhard. Hulle is die waarvan gepraat word in vers 11, ‘die wat onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word.”
Hierdie kindskap van God se regverdiges, soos geopenbaar en gesien in wat hul ‘doen’, kan deur beide ‘hulle wat hul klere was’ (NAV) as ‘vrug’ daarvan dat hul deur Christus se bloed gewas is (7:14), asook ‘wat sy gebooie doen’ (OAV,God se gebooie doen as vrug van deur Christus se bloed gewas, daarom vers 7 se ‘die woorde van die profesie bewaar’). ) beskryf word, dus voortdurende of deurgaande heiligmaking, daarom vers 11 se ‘nog regverdiger word’.
Die ‘saliges’ is dus hulle wat vanuit die redding in dankbaarheid volgens God se gebooie lewe, en die doel/gevolg/vrug (nie voorwaarde tot nie) is dat diesulkes deel aan die boom van die lewe deel. Ons bely hierdie genadeloon in HK Sondag 24 v/a 63 “hierdie beloning word nie uit verdienste nie maar uit genade gegee”, sien weereens die konteks van vers 12.
Op. 22:14 wys dus op kenmerk van gelowig wees, of die identifisering van hulle wat in die stad van God gaan lewe, dit is nie poging om nog gelowig te word nie. Ons lees ook in 1Kor. 1:30 dat Christus ons “geregtigheid en heiligmaking en verlossing” is, nie die een of die ander nie, en die een vloei oor na die ander. Dit is ‘n pakket, jy het alles in Christus, of niks van Hom nie (Rom. 8:28-32).
3. Die regte verstaan van beide OAV en NAV se ‘sodat’
Verder, as mens die redenasie van Herman volg, moet mens dan konsekwent wees, want, sou die ‘redding deur wet/werke- aanklag’ teen die frase ‘wat sy gebooie doen’ (OAV) waar wees, dan geld dit netso sterk vir die vertaling: ‘dié wat hulle klere was” (NAV).
In laasgenoemde, soos dit daar vertaal is, gaan dit, soos met die OAV oor die mens wat iets ‘doen’, wat handel, deur te was. In die oorspronklike het ons te doen met deelwoorde in Op. 22;14 (wetsdoeners [OAV]; klerewassers [NAV]), wat beide in die aktief is, dus die mens wat handel, nie passief ontvang nie. Daardie deelwoorde dui op ‘n voortdurende proses (praesens, teenwoordige tyd), wat wys dit gaan hier oor ‘heiligmaking’ wat voortgaan, en nie die regverdiging nie, wat wel afgehandel is in die verlede deur Christus (Op. 7:14, daar is die ‘gewas’ in die verlede tyd, afgehandelde saak).
Dus, in die lyn van Herman se aanklag, kan dit dan so gestel word teen albei vertalings, as mens konsekwent is en Op. 22:14 as ‘voorwaarde’ verstaan:
1. Teen OAV: mense doen gebooie, sodat hul gered word.
2. Teen NAV: mense was hul klere, sodat hul gered word.
Die regte verstaan van Op. 22:14, is om dit egter te sien as kenmerk, gevolg, vrug. En die konteks gee ons weer aanleiding daartoe, as ons Op. 19:8 lees, in beide vertalings:
“En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.” (OAV)
“God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges.” (NAV)
Beide vertalings wys daarop dat die ‘regverdige dade van die gelowiges’, dus, ook Op. 22:14 se ‘die wat sy gebooie doen’ en ‘wat hul klere was’ (NAV), is die vrug, gevolg, doel, ens., van wat aan die regverdiges, die saliges, wat aan ‘haar gegee is’ of ‘God het haar dit vergun’ (19:8).
Ja, die regverdige dade van die gelowiges is die vrug, doel, gevolg van die Lam se werk, sodat die ‘bruilof van die Lam’ kan plaasvind (19:7,9), ‘sodat’ die gelowiges, ‘sodat’ die regverdiges, ‘sodat die wat sy gebooie doen’, ‘sodat dié wat hul klere was’ saam vir ewig kan feesvier, God aanbid tot in ewigheid, dus hulle het reg op die boom van die lewe en sal ingaan deur die poorte in die stad, Op. 22:14.
Dat Op. 22:14 oor heiligmaking gaan as vrug van regverdiging, die gevolg van ons regverdiging, word as volg verduidelik deur prof. EP Groenewald,
22:14 Die woord bring seën en vervloeking. Die sewende “Geseënd” uitspraak (vgl. 1:3) bring ’n toesegging aan dié wat hulle klere was. Voorheen is gepraat van hulle wat hulle klere in die bloed van die Lam wit “gewas het”, eenmaal in die verlede (3:14; 7:14; 1 Kor 6:11). Maar nou word daardie mense, dit wil sê die gelowiges, aangedui as mense wat nog elke dag hulle klere was, deur reiniging van sonde by die Lam te soek vir die sonde van die dag. Wie dit doen, het reg op die boom van die lewe (22:2) en hulle kan deur die poorte van die nuwe Jerusalem ingaan (21:27).
Bron: Groenewald, E. P. (1986). Die Openbaring van Johannes (Re 22:14). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.
4. Skrif met Skrif vergelyking van Op. 22:14
Herman het reeds met Skrifvergelyking gewys dat die NAV se gewas in Op. 22:14 die ‘vrug’ is wat op Christus se bloed wat ons rein was volg. Ek stem 100 persent daarmee saam. Maar hoekom nie dieselfde bybelse reformatoriese beginsel gebruik by die OAV se lesing van Op. 22:14 nie? Dus ons moet mos ook Op. 22:14 in die verdere konteks van Openbaring (soos hierbo gedoen reeds) en die res van die Bybel lees, om dit reg te verstaan, of hoe?
As mens dit doen, dan sal gesien word dat Op. 22:14 in die OAV beskryf die saliges as mense wat gered is, en nou God se gebooie doen as kenmerk/gevolg/doel, en nie as ‘voorwaarde’ om gered te word of gered te bly nie. Saliges is nou na hul redding, weer ‘doeners of daders van die wet’, nooit volmaak in hierdie lewe nie, maar uit genade, hoe langer hoe meer is heiligmaking kenmerk van hul lewe, as vrug van wat God vir hul in Christus gedoen het.
Net ’n paar voorbeelde wat wys dat die ‘doen van God se gebooie’ noodwendig vloei uit redding in Christus, oftewel die gevolg is van regverdiging, en dat sulkes wat daaraan gekenmerk word, deel aan die koninkryk van God, die boom van die lewe, ens.:
Matt. 7:21 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”
Matt. 12:50 “Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.”
Hebr. 12:14 “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.”
Op. 14:12 “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar.”
Nie een van ons sal beweer, of so hoop ek, dat hierdie verse redding deur ‘Christus plus werke’ leer nie, maar reg verstaan, beteken dit dat Jesus sê: die wat waarlik deur Hom gered word, deur Sy werke alleen (sien NGB art. 22,23), niks van ons s’n nie, sal die wil doen van die Vader, al is dit nie volmaak in hierdie lewe nie. Sy kinders se lewens word gekenmerk aan die nakoming van sy gebooie, dit is die gevolg van Christus se werk.
5. Openbaring 3:11 en 22:14
As mens verder die gebruik van die voegwoord ‘sodat’ (hina) gaan opsoek in Openbaring self, dan kry mens ook die volgende:
OAV: Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat (hina) niemand jou kroon kan neem nie. (Op. 3:11)
NAV: Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat (hina) niemand julle kroon wegvat nie.
Direkte Vertaling: Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat (hina) niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie.
So, as Herman nou konsekwent is, beteken dit dat Op. 3:11 leer hier ook wat hy beweer teen die OAV se Op. 22:14, maar dan moet hy die NAV hier byvoeg (asook die nuwe beoogde Direkte Vertaling van Op. 3:11; 22:14) naamlik:
“Let wel: “SODAT” dui ‘n voorwaarde aan!
Ons het nie hier te doen met ‘n resultaat of gevolg van ons kindskap nie. Natuurlik moet ons as bewys van ons erns om Jesus te volg, sy gebooie doen. Maar dit is nie die voorwaarde vir ons redding nie, en dit is presies wat die 1933/53-vertaling sê [slc – en dit is presies wat die NAV en DV hierbo sê in Op 3:11?]. Die doen van die gebooie moet ‘n uitvloeisel of getuienis van ons redding wees, nie die voorwaarde nie.”
Op. 3:11 leer nie – so ook nie Op. 22:14 – dat ons redding is Christus (die bloed van die Lam) plus ons werke, ons ‘hou vas’ nie, dus redding deur geloof plus werke nie. Nee, dit is ‘n waarskuwing vir almal, dus ook die gelowige, om te volhard in die ware geloof, en die ‘hou vas’ openbaar, wys, kenmerk die gelowiges se lewe. Die ware gelowige, die regverdige sal volhard, ‘omdat’ hy gered is, nie ‘sodat’ hy dalk nog gered kan word en gered kan bly nie. Soortgelyke woorde hoor ons by Jesus in Matt. 10:22 (sien ook Matt. 24:13),
“Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” (Matt. 10:22 A53)
Die volharding openbaar wie die ware kinders van God is.
So wie is dit wat reg het op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad?
Op. 12:17 stel dit ook duidelik wie deel aan die boom van die lewe, waaraan hul gekenmerk word,
“En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
Ons regverdiging en gevolglike heiligmaking is beide ’n geskenk in Christus alleen, en deur God se genade sal al sy saliges daarom gevolglik deel in die boom van die lewe en deur die poorte se stad gaan. Christus se bloed alleen is die grond van ons redding, van begin tot einde, terwyl die nakoming van die wet die vrug en gevolg is.
6. ‘n Paar kommentare oor Op. 22:14
Geneva Study Bible
22:14 Blessed [are] they that do his commandments, 7 that they may have right to the tree of life, and may enter in through the gates into the city.
(7) The blessedness of the godly set down by their title and interest there: and their fruit in the same.
It is the word of him who is the author, finisher, and rewarder of the faith and holiness of his people, v. 13, 14 – Matthew Henry
“By faith they have been sanctified and cleansed from all unrighteousness and from all filth, even as by faith they have been justified and freed from all the guilt of sin. This implies too, of course, as far as the reward of the righteous is concerned, that the reward of their works is ever a reward of grace. For fundamentally the work of Christ their Lord in their behalf is the righteousness of the saints; and its imputation to them is the guarantee that they can never be condemned. It is in His blood that they wash their robes by faith! And they are blessed! They have a right to come to the tree of life. And they shall enter into the city through the gates. The meaning is not that there is a possibility of entering in any other way. But this expression is added in order to emphasize the fact that they enter into the city as those who are its rightful citizens.” (Herman Hoeksema, Behold He Cometh)
“Gedring deur dankbaarheid doen ‘n salige mens die gebooie van die Here. Dat sy wil vir ons heilige erns is, vloei daaruit voort dat Hy ons eers salig gemaak het. En dan is die poorte van die nuwe Jerusalem vir ons oop – ons is
trouens al klaar binne-in die stad. En die vrugte van die boom van die lewe het ons alreeds gesmaak. Ons sonde is immer vergewe en ons leef in en deur Jesus Christus – vir ons is Hy die boom van die lewe. Daarom het ons alreeds die lewe – die ware en ewige lewe. Salig is die wat sy gebooie doen.” – ds. MJ Booyens (Kom Here Jesus)
“sodat hulle … die lewe: vgl. v.2; d.w.s. hulle het nie aanspraak op die vrug nie (slc – dus, die ‘sodat’ dui op vrug, gevolg, doel, nie ‘voorwaarde’ nie), maar deur die genade van Here en die reiniging van hul klere in Sy bloed wel die bevoegdheid om daarvan te geniet.” (Bybel met Verklarende Aantekeninge)
7. Romeine 1:17 in die NAV en Direkte Vertaling
Laaste opmerking, ek dink ons moet baie meer besorg wees oor die vertaling van tekste soos Romeine 1:17 (sien ook Rom. 4:16; 5:1; 9:32; Gal. 3:7,8,11), waar die NAV en ook die nuwe Direkte Vertaling so vertaal is, dat al Herman Grobler se waarskuwings teen redding op grond van werke, mensehandelinge, ens., netso geld vir hierdie nuwer vertalings. Let op die beklemtoonde woorde en frases:
“Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (OAV, 1933/53)
“In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.” (NAV, 1983/92)
“Want daarin word geopenbaar dat God se geregtigheid geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Wie op grond van geloof geregverdig word, sal leef.” (Direkte Vertaling, ?)
Sien die volgende artikel (asook die artikels wat daarin verwys word) waar die besorgdheid oor die nuwe vertalings, ivm redding uit genade alleen, deur die geloof alleen, sonder enige werke, aangespreek word, soos dit in nuwe vertalings na vore kom:
Prof. Willie Jonker het reeds in sy bekende Romeine kommentaar (ouer weergawe) dekades terug sy besorgdheid uitgespreek, en ongelukkig lyk dit my die Direkte Vertaling het nie daaruit geleer nie:
“Geloof is vir Paulus die vertroue op Gods genade alleen, die vertroue waardeur die mens hom- of haarself volledig verlaat op Gods evangelie dat Christus vir al ons sondes betaal het. Geloof is nie ’n prestasie van die mens nie. Dis vertroue op Christus alleen. Die wyse waarop hierdie vers in die NAV vertaal word, laat hierdie karakter van die geloof nie genoegsaam na vore kom nie. Die formulering dat God mense van hulle sonde vryspreek “enkel en alleen omdathulle glo” asook die woorde “elkeen wat vrygespreek is omdat hy glo” kan die indruk wek dat die geloof die grond vir God se vryspraak is, terwyl Paulus bedoel dat die versoening in Christus en nie die geloof nie, die grond van die vryspraak is. Die geloof is die weg waarlangs die vryspraak ontvang word. Dit sou beter gewees het as die vertaling hier ook soos elders die woord deurdat gebruik het: enkel en alleen deurdat hy glo (vgl. 4:9, 11, 22–23 en 5:1). Jonker, W. D. (1998). Die brief aan die Romeine (Ro 1:16–17). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.
My konklusie uit verwysde artikels, teenoor NAV en Direkte Vertaling:
“Ongelukkig, veroorsaak die Direkte Vertaling se ‘op grond van’ geloof net soveel en dalk nog meer misverstand as die NAV se ‘omdat hul glo’. Ons moet daarom bly by die klassieke vertaling van ‘uit/deur’ die geloof, soos ons dit ook bely (sien die verduideliking daarvan in bovermelde artikel):
NGB atikel 22 – Ons regverdiging deur die geloof
Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry. Ps. 51:8; Ef. 1:17,18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal. 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20,28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29,33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3,5,9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24,27; Filip. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.
HK 60. Vraag: Hoe is jy regverdig voor God?
Antwoord: Slegs deur ‘n ware geloof in Jesus Christus (a); so dat al kla my gewete my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie (b) en dat ek nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (c), God nogtans (d) aan my sonder enige verdienste van my kant (e), uit louter genade (f) die volkome genoegdoening (g), geregtigheid en heiligheid van Christus skenk (h). Dit reken Hy my toe asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie, asof ek self al die gehoorsaamheid volbring het wat Christus vir my volbring het (i). Aan hierdie weldaad het ek deel vir sover ek dit met ‘n gelowige hart (j) aanneem.
(a)Rom 3:21, 22, 24; 5:1, 2; Gal 2:16; Ef 2:8, 9; Fil 3:9. (b) Rom 3:9. (c) Rom 7:23. (d) Rom 4:4; 2 Kor 5:19. (e) Tit 3:5; Deut 9:6; Eseg 36:22. (f) Rom 3:24; Ef 2:8. (g) 1 Joh 2:2. (h) 1 Joh 2:1. (i) 2 Kor 5:21. (j) Rom 3:22; Joh 3:18.
HK 61. Vraag: Waarom sê jy dat jy slegs deur die geloof regverdig is?
Antwoord: Nie dat ek op grond van die waarde van my geloof vir God aanneemlik is nie, maar omdat slegs die genoegdoening, geregtigheid en heiligheid van Christus my geregtigheid voor God is (a). En dit kan ek nie anders as slegs deur die geloof aanneem en my eie maak nie (b).
(a)1 Kor 1:30; 2:2. (b) 1 Joh 5:10.
________________________________________
Sien my vertalingsopmerkings oor die Direkte Vertaling, hier.
Slabbert,
Enkele opmerkings oor hierdie reaksie op my ondersoek na die verskil tussen die 1933/53-Bybel en latere Afrikaanse vertalings aangaande Openbaring 22:14.
1) Jy maak ‘n inleidende opmerking: “Ek meen die skrywer, alhoewel hy dit seker sal ontken, het ’n onderliggende anti-OAV agenda, wat baie meer probeer sê as wat daar in die oorspronklike taal self staan, ongeag watter grondtekste gebruik word, en dit is jammer.”
Dit is doodgewoon nie waar nie. In Matteus 23:2 (98), Romeine 14:6 (137), 1 Tessalonisense 2:7 (105), Hebreërs 2:7 (131), Hebreërs 10:22 (49), Jakobus 2:20 (145) en Openbaring 8:13 (116) kies ek beslis vir die variasie wat in die 1933/53-Bybel voorkom, teenoor die keuses in die 1983-Bybel en selfs “die Bybel, ‘n Direkte Vertaling”. Ek het reeds aan die vertalers van “die Bybel, ‘n Direkte Vertaling” deurgegee dat hulle in hierdie betrokke verse fouteer en juis die 1933/53-Bybel se variasie behoort te volg. In Matteus 21:42 (155) asook 1 Timoteus 2:15 (84) en 1 Timoteus 3:11 (103) stel ek dit duidelik dat daar nie sondermeer tussen die variasie wat in die 1933/53-Bybel teenoor die latere Bybels voorkom, gekies kan word nie. Die nommers in hakies verwys na my plasings op my blog http://www.bybelverskille.wordpress.com . Jou lesers kan ook die teksregister op daardie blog nagaan en die verse daar opspoor en vir hulle self verifieer wat die waarheid is. Ook ander belangrike verskille soos 1 Johannes 5:7 – 8, Handelinge 8:37, en 1 Korintiërs 13:3 en enige van die sowat 150 verskille wat ek reeds ondersoek het, kan daar nagegaan word.
2) Die verskille is daar. Ek het dit nie geskep nie. Nogtans moet daar ‘n logiese verklaring wees van wat die verskille kon veroorsaak het. Ek doen so objektief moontlik ‘n ondersoek na die redes vir die verskille. Hiervoor gebruik ek meestal drie kriteria. 1) Eksterne kriteria, nl. die manuskripbewyse self. ‘n Variasie wat dikwels in die vroeë manuskripte van 250 – 450 n.C. voorkom, het tog logies meer moontlikheid om die oorspronklike te verteenwoordig as ‘n variasie waarvan ons die eerste voorbeeld in die jaar 850 n.C. en later vind. 2) Interne kriteria soos moontlike verklarings oor hoe die variasie kon ontstaan het. Baie van die verskille is waar kopieerders die evangelies met mekaar wou harmonieer en dan bv. in Markus bygevoeg het wat Lukas en/of Matteus vanuit hul bron “Q” ingeskryf het. Daar is ook sien, skryf of gehoorfoute wat geïdentifiseer kan word en wat dan ‘n aanduiding kan gee van watter variasie eerder die oorspronklike sou wees. 3) Intrinsieke kriteria waar na die konteks waarin die variasie voorkom, woordgebruik, tipiese standpunte van die betrokkenes ens. gekyk word.
Wanneer ons hierdie kriteria gebruik, het ons ‘n basis om die variasies mee te bestudeer en so objektief moontlik die oorspronklike “Sola Scriptura” te bepaal.
3) Jou hantering my plasing. Let daarop dat ons eers die oorspronklike korrekte bewoording van die teks moet probeer vasstel, en vandaar die verklaring en toepassing. Ons kan nie vanuit ander tekste probeer bepaal watter variasie die korrekte in Openbaring 22:14 behoort te wees nie.
Oor jou eerste punt wat die Grieks self behels, net die volgende. Jy haal The New Linguistic and Exegetical Key to the Greek NT aan: “hina, that, in order that. The word is used to introduce a purpose clause”
As “the purpose” is om toegang tot die boom van die lewe en tot die nuwe Jerusalem te verkry, wat is dit anders as die voorwaardes daartoe? Ek kon geen Hollandse, of Engelse, of Duitse, of Franse vertaling vind wat “hina” anders vertaal as dat dit daarop neerkom dat dit die voorwaarde vir toegang tot die boom en die stad verteenwoordig nie. Moontlik moet jy jou insig in die korrekte vertaling van “hina” met Prof. Fika van Rensburg kontroleer. Hy is ‘n kenner van Grieks, ek nie.
4) Wat die res van jou verklarings betref.
Jy plaas jou lesers terug in die middeleeue, waar jy vir hulle sal moet sê: “Moenie glo wat daar in die Afrikaans staan nie! Vra eers vir my om dit vir jou te interpreteer.” Die woorde “sodat hulle reg kan hê” dui duidelik ‘n voorwaarde aan. En dis presies wat in die Grieks staan! Anders moet jy maar ‘n vertaling voorstel wat jou interpretasie na vore sal bring sodat ons “beestelikes” kan verstaan hoe die “geestelikes” hierdie uiters belangrike vers interpreteer.
Vrede,
Herman.
So Herman, stem jy dus saam dat – volgens jou interpretasie van hina by Op. 22:14 in OAV se geval, – die NAV en die DV in Op. 3:11 (saam met die OAV) dus ook ‘redding deur ‘n voorwaarde’ leer, dit is, redding deur werke (‘Hou vas wat jy het’), soos jy beweer die OAV doen in Op. 22:14? Dankie vir jou antwoord.
Slabbert, ek dink nie dit betaam ons om op hierdie wyse met die Woord van God om te gaan nie. LEES jou Bybel. “Sodat” kom in beide verse voor met dieselfde funksie.
In 3:11 is dit die voorwaarde dat wat volg, van toepassing sal wees, nl: dat “niemand jou kroon kan neem nie.”
In 22:14 het dit dieselfde funksie. Dit gee ook die voorwaarde vir wat volg. 1933/53: “Die wat die gebooie doen”
1983: “Die wat hulle klere was”
As jy van my verskil oor die vertaling van “hina” steek asseblief kers op by Prof. Fika van Rensburg.
As jy die Rooms Katolieke pad van redding deur werke wil volg en verkondig, doen dit gerus. Ek is nie ‘n Katoliek nie en weier om ooglopende verdraaiïngs wat hulle in die Bybel aangebring het, te aanvaar! Ek wil die Skrif hê soos die Heilige Gees dit oorspronklik aan die Bybelskrywers geïnspireer het.
Vrede.
Herman.
Herman, dankie dat jy jou negatiewe agenda teen die OAV bevestig het met hierdie skrywes, veral omdat jy nie duidelik wil erken jou ‘redding deur werke klag’ van OAV se Op. 22:14, ook geld by Op. 3:11 (NAV en DV) nie. Volgens jou leer die OAV in Op. 22:14 ‘n mens word gered deur gebooie te doen, maar dan weier jy om te erken dat, volgens jou, in Op. 3:11 mense gered word deur vas te hou, dus deur hul werke, deur hul gehoorsaamheid (‘Hou vas wat jy het’ en dan volg hina, ens.).
Wees dan ten minste konsekwent in jou aanklagtes teen aldrie vertalings: OAV, NAV, DV, met jou interpretasie van wat jy inlees deur ‘n verkeerde verstaan en toepassing van hina.
Dalk is dit jy wat by iemand wat ‘n kenner is van Grieks, moet gaan kers opsteek oor jou verstaan en verklaring van hina in Op. 22:14, en gevolglik Op. 3:11?
Op. 3:11 en 22:14 funksioneer presies op dieselfde wyse, nl. hina wys op gevolg of doel in bysinne, nie voorwaarde nie. Omdat kinders van die Here salig is (gered uit genade alleen, deur die geloof alleen, sonder enige goeie werke), daarom as vrug daarvan word die gebooe gedoen, word vasgehou aan aan die geloof, daarom lei dit tot heiligmaking/gehoorsaamheid, sodat (as doel/gevolg) elke ware gelowige -gekenmerk aan gebooie doen en vashou aan die geloof – die reg het op die kroon (Op. 3:11) en om van die boom van die ewige lewe te eet (Op. 22:14). Die gebooie doen, die vashou aan die geloof, is nie voorwaarde tot redding nie, maar is die vrug van al die saliges, en dit word uit genade beloon deur die kroon/boom van die lewe.
So Herman, bekeer jou van jou verdagmakery van die OAV, veral hier by Op. 22:14, om daar iets in te lees wat glad nie daar staan nie, in beide Op. 3:11 (in al die vertalings) en Op. 22:14 (OAV).
Geniet jouself.
Jou antwoord spreek boekdele..