DR. WILLIE JONKER OOR HOMOSEKSUALISME IN SY ROMEINE KOMMENTAAR: DIE VERANDERINGS VAN 1969 NA 1998?
26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; 27 en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. (Rom. 1:26-27 A53)
26 Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang. 27 Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit. (Rom. 1:26-27 A92)
26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike drange: Hulle vroue het die natuurlike seksuele omgang verruil vir omgang wat teen die natuur is. 27 *Net so het ook die mans, terwyl hulle die natuurlike seksuele omgang met die vrou laat vaar het, vurig begin brand van begeerte na mekaar; mans het met mans skandelikheid bedryf en in hulleself die verdiende loon vir hulle afwyking ontvang. (Rom. 1:26, 27 Direkte Vertaling)
Dr. Willie se verklaring in 1969 weergawe van sy Romeine kommentaar (beklemtonings bygevoeg):
“26, 27 Terwyl al wat ’n wysgeer was in die tyd van Paulus geleer het dat die goeie geleë is in ’n lewe volgens die natuur. was dit juis die ellende van die heidene dat hulle deur hulle sonde teen die natuur in gegaan het. Waar die liefde tot God nie bestaan nie, verword ook die onderlinge liefde tussen die mense. Die seksuele perversiteite is veral ’n openbaring van die vervanging van die natuurlike liefde deur die teen-natuurlike. Paulus noem hier die homoseksualiteit by vroue en mans as uiterste voorbeeld van die verwording van die natuurlike medemenslikheid.
In die oorgegewenheid aan hulle skandelike luste wat tog geen bevrediging kan vind nie en die morele en geestelike gevolge daarvan, ontvang die heidene in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling. Die dwaling waarvan hier sprake is, is die godsdienstige dwaling waarvan v. 18 e.v. spreek.” [W.D. Jonker, Die Brief aan die Romeine, NGK Uitgewers, Pta, 1969)
My opmerkings:
1 Dr. Willie Jonker noem hier die sonde van homoseksualisme baie duidelik, deur die woord ‘homoseksualiteit’ te gebruik.
2 Homoseksualisme is die ‘uiterste voorbeeld van die verwording van die natuurlike medemenslikheid’.
3 Om homoseksualisme te bedryf, en/of goed te praat en te akkomodeer (sien Rom. 1:32), is heidense gedagtes en geloofsoortuigings, nie Christelik oftewel Bybels nie.
4 Homoseksualisme is ‘n teken nie van dat God nog gaan oordeel nie, maar is deel van God se oordeel self, die “noodwendige vergelding van hulle dwaling.”
5 Die wesentlike dwaling is nie die homoseksuele seksuele wanpraktyke self nie, laasgenoemde is slegs die vrug/gevolg van die groter erger dwaling van verse 18-25, soos dr. Wille skryf: “Die dwaling waarvan hier sprake is, is die godsdienstige dwaling waarvan v. 18 e.v. spreek.”
6 Die godsdienstige dwalinge van v. 18-25 is:
6.1 Die waarheid van God word onderdruk (v. 18)
6.2 God word nie verheerlik of gedank nie (v. 21)
6.3 Dwase en onverstandige duister harte bepaal wat is reg en verkeerd (v. 21, 22)
6.4 Afgodery, die waarheid van God, die Skepper word verruil vir die skepsel (v. 23, 25)
7 En die gevolge is dat die Here hul oorgee (let wel: God gee oor, aktief), aan hulle afgode:
7.1 aan hul sondige harte en denke (v.24) … wat hul glo
7.2 onreine dade onder mekaar (v. 24) … wat hul doen
8 Die gevolg is die sondes van vers 26-31, en dat die mens homself regverdig, sy sondes – veral vandag van homoseksualisme – dit probeer goedpraat, akkomodeer, asof dit nie sonde is soos alle ander sondes wat in verse 29-31 genoem word nie.
9 Ironies, wat die Skrif as een van die ergste sondes noem, word vandag geregverdig, nl. homoseksualisme, maar nie die ander sondes in vers 29-31 nie?
10 Implikasie vir vandag: elkeen wat die sonde van homoseksualisme goedpraat, regverdig, is in denke en dade skuldig aan die godsdienstige dwalinge wat hierbo genoem word by nr. 6 (Rom. 1:18-25), dus is valse profete, is in wese heidens, nie meer gelowiges nie, is evangelisasie en sending terrein, nie gespreksterrein nie. Ware gelowiges moet nie onder sulke valse leraars sit of leiding verwag nie, gaan weg van hulle, leer die Koning en Herder van die Kerk:
“Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val. (Matt. 15:14 A53)
Die basiese evangelie, soos deur Paulus uiteengesit word in die res van die boek Romeine, moet aan hulle wat homoseksualisme beoefen en/of ‘goedkeur’ (v. 32), verkondig word, met liefde, krag en waarheid, WANT,
“Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? 2 Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin (voort)lewe? 3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4 Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. (Rom. 6:1-4 A53)”
Glo hierdie woorde van God, bid die Here dat hy dit op my en jou hart en lewe mag skryf deur sy Gees, en bly dan genadig lewe.
Verwerp dit, en sterwe dan in jou sonde, omdat jy “in ongeregtigheid die waarheid onderdruk” (Rom. 1:18):
“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom. 6:23 A53)
Dr. Willie se verklaring in 1998 weergawe van sy Romeine kommentaar:
“26–27 Terwyl al wat ’n wysgeer in die tyd van Paulus was geleer het dat die goeie geleë is in ’n lewe volgens die natuur, was die ellende van die heidene juis dat hulle deur hulle sonde teen die natuur ingegaan het. As gehoorsaamheid aan Gods gebod nie bestaan nie, verword ook die onderlinge liefde tussen die mense. Seksuele perversiteit is volgens Paulus ’n vervanging van die natuurlike liefde deur teen-natuurlike wellus wat van ’n skandelike aard is en tog geen bevrediging kan bied nie. Hy teken ’n prent van die seksuele bandeloosheid in die wêreld van sy tyd en sê dat diegene wat daarby betrokke is oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit bring.” [Jonker, W. D. (1998). Die brief aan die Romeine (Ro 1:26). Kaapstad: N G Kerk-Uitgewers.]
“My opmerking of vraag: hoekom is die woord ‘homoseksualisme’ in die 1969 uitgawe verwyder uit die 1998 uitgawe, asook die koppeling tussen homoseksualisme en die bron van hierdie sonde, die dwalings van verse 18-25, of mis ek iets?
Is dit dr. Willie Jonker wat dit self verander het, of ‘n latere redaksie, en hoekom?”
Leave a Reply