Troospreek: Christus troos ons met sy besoek, sodat ons mekaar sal besoek met die troos van die Evangelie (Joh. 1:14)
(‘n Preek opgedra aan my vader en familie, met die afsterwe van my moeder op 27 Maart 2019, asook ‘n geliefde lidmaat van my gemeente, Fred Carr, wat oorlede is op 30 Maart 2019).
Lees: Johannes 1:1-18
Teksverse: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.” – Joh. 1:14
Tema: Christus troos ons met sy besoek, sodat ons mekaar sal besoek met die troos van die Evangelie.
Preekopname (GK Carletonville, 2019-03-31. nota: die opname is meer volledig as die teks hier onder):
Aflaai: Johannes 1:14 (regs kliek en ‘save [link] as’; of kliek op 3 kolletjies om af te laai)
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
In hierdie woorde van Joh. 1:14, hierdie een vers,
vind ons die goeie nuus,
die evangelie van God in Jesus Christus,
vir ons as verlore sondaarmense.
Dit is ons groot troos, ons enigste troos, in lewe en in sterwe …
Dit wat ons hierdie week baie intens belewe het:
– my moeder, ons ouma wat gesterf het, afgelope Woensdag.
– Fred, wat gesterf het, gister.
Ja, net in daardie paar woorde va Joh. 1:14:
en die Woord het vlees geword, en onder ons kom woon …
word ons lewens, ons ganse bestaan bepaal.
Sodat ons altyd, of dit nou in swaarkry tye of goeie tye is,
ons nooit hopeloos of verlore sal wees nie,
WANT DIE WOORD, HET VLEES GEWORD, EN ONDER ONS KOM
WOON.
Kom ons luister na hierdie troos opnuut vanoggend,
elkeen met ons vrae, kruisdra, worstelinge, hartseer….
1 Eerstens, wie het onder ons kom woon?
Die antwoord is die Woord, die Seun van God, God self,
ons het dit daar gelees in daar die eerste 2 verse (lees) …
En Hy wat ons ons kom woon het, is ons Skepper, vers 3 … (lees)
Die Seun van God, was van ewigheid tot ewigheid by die Vader,
dit hoor ons ook daar in vers 18 (lees) …
Die nuwe Direkte Vertaling het dit as volg: “… die enigste Seun, self God,
wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend gemaak.”
God self kom besoek ons, geliefdes!
Besef ek en u dit nog?
Is daar ‘n belangriker besoek ooit wat ons kon ontvang het?
As dat God vlees geword het, mens geword het in Christus,
en ons kom besoek het?
2 Tweedens, vers 14 sê Hy het onder ons kom woon.
Die woord beteken letterlik: om te tabernakel.
Die Here het kom tent opslaan in ons midde.
Onder ons, u en ek!
Want, Hy is ‘n God wat besoek doen!
En hoekom kom besoek Hy ons?
Dit het verse 5-11 vir ons geopenbaar:
weens die duisternis wat in die wêreld gekom het,
deur die sonde, die sondeval van Adam en Eva,
maar dan ook die sonde wat deur die nageslag gevolg het.
My …. ons sonde!
En die sonde is die oorteding van God se gebooie,
en die dood is die ergste gevolg daarop,
Nee, eintlik die tweede ergste, want deur die sonde volg ook die tweede dood,
dat ons as mense verlore gegaan het in die hel, weens die sonde.
En nou kom ons Here in Christus,
en kom woon midde sondaarsmense,
Hy kom besoek ons, Hy soek ons op,
om ons red van die sonde en dood,
en onder ons te kom woon!
Ons sien dit regdeur die Heilige Skrif:
i. Na die sondeval, Gen. 3, probeer die mens wegvlug van God
se teenwoordigheid, dat Hy nie onder hul woon nie.
Maar God roep hulle terug, Hy soek hulle op,
en skenk redding, die moederbelofte van Ge. 3:15,
dat Christus sal kom, die Saad, sal onder ons kom woon,
om ons te kom red van sonde, dood, die hel.
ii. Die Here se volk wat vasgevang was in Egipte
en dan gaan besoek Hy hulle, om hul te red,
uit die slawehuis van die sonde …
iii. As sy volk in die woestyn is,
dan bewaar Hy hulle, en beveel dat ‘n tabernakel opgerig word,
sodat Hy onder hul kan woon…
iv. En dan as die volk later in Kanaan woon,
maar afvallig raak en verdruk word,
weggevoer word in ballingskap,
dan kom die Here weer, besoek hulle, kom red hulle
Hy red sy volk keer op keer.
En al hierdie besoeke, regdeur die OT,
was ‘n skadu en heenwysing na die volmaakte besoek
wat sou kom, in Jesus Christus, om ons te red, te heilig
Sodat Hy nou deur sy Gees en Woord onder ons woon,
maar eendag volkome dit na gees en liggaam vir ons doen,
met die wederkoms, met die opstanding uit die dood.
Daarom die oproep van vers 12,
as ons werklik getroos wil wees, midde die aanslae,
midde die hartseer wat ons nou beleef oor geliefdes,
die afgelope week wat gesterwe het.
Dan moet ons luister na die woorde daar in verse 12, 13.
Ook as ons hierdie en/of volgende week by oop grafte gaan staan:
(lees vers 12, 13).
3) En wat behels, derdens, God se besoek dan aan ons, om by ons te kom woon?
Ons het dit gelees daar in vers 16 (lees)
Genade en waarheid, waarheid en genade!
Hoor u dit geliefdes,
Christus se besoek en woon onder ons behels beide!
Die waarheid van God se Woord, sy wil vir ons,
maar ook genade, dat daar vergifnis is,
vir hulle wat hul sonde bely, aflê en daarteen stry!
Dit beteken ook,
dat soos Jesus ons kom besoek het, onder ons woon.
Ons ook so mekaar sal besoek, en sal dien.
Die gedagte van besoek en woon,
het te doen met omgee vir mekaar,
verbond, gemeenskap, liefde, saamwees, intiem, ken…
Ek gee om vir jou lewe, en jou geluk hier op aarde,
maar bo alles vir jou ewige geluksaligheid.
Waar staan jy met die Here,
waar staan jy met Christus?
Dit is die groot vraag en troos van ons hele lewe!
Ook en veral by die oop graf…
Die Seun het vlees geword, onder ons kom woon,
sodat ons vir ewig kan lewe, in die woorde van Joh. 17:3,
“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”
Ons as mense kan alles doen om die lewe hier bietjie beter te maak,
te help met medies, kos, klere, ens.,
maar geliefdes, ek het dit nou opnuut beleef, hoe nietig ons as mense is,
met al ons mediese vooruitgang, kan ons nie die dood keer nie.
Daarom het ons die Here so nodig, om ons fisies en geestelik te red!
sodat ons ewig by Hom, van nou en vir altyd sal lewe.
Op. 21 roep dit uit aan die einde, mag dit waar wees van ons lewens:
3 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. 4 En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. 5 En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut.
Daarom, elke dag, elke Bybellees, huisgodsdiens, elke preek en erediens,
besef opnuut dit kan die laaste wees, die lewe gaan so gou verby.
Maak seker, dat u, en u gesin, almal opnuut besef wat Joh. 1:14 beteken,
goeie nuus vir elkeen wat glo, maar die ewige dood wat in ongeloof sterwe:
En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.
Amen.
Leave a Reply