Troupreek: Alle dinge moet die HERE eer, ook ons huwelike (Rom. 11:33-36)

Troupreek:

Alle dinge moet die HERE eer, ook ons huwelike

(Nota: dit was vir my ‘n besonderse voorreg om my oudste dogter, Joanette, en haar man, Gideon Smith, die afgelope Saterdag in die huwelik te bevestig. Hier onder volg my preek by daardie geleentheid. Mag dit nie net vir hulle nie, maar ook vir al ons almal in huwelike, tans en in die toekoms, ‘n bemoediging en ‘n liefdevolle vermaning wees waaroor die huwelik werklik gaan: soli Deo gloria)

Lees: Romeine 8:31-39 en Romeine 11:25-36

Teksvers: “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” – Romeine 11:36

Tema: Alle dinge moet die HERE eer en loof, ook ons huwelike!

Preekopname (Plaas Elandsfontein, Saterdag, 2019-05-04) kan hier geluister en afgelaai word:

Huwelikspreek: Romeine 11:36

Preek:
Geliefde bruid en bruidegom, bruilofsgaste,

Rom. 11:33-36 is lof uitroep,

‘n uitroep van verwondering en aanbidding,

van die Here se wonderbaarlike reddingsplan,

met hierdie wêreld deur al die eeue,

in en deur sy Seun, Jesus Christus.

Paulus, kan nie genoeg woorde uitspreek of vind,

om die lof van die Here te besing nie.

Die rykdom, wysheid en kennis van God,

sy ondeurgrondelike oordele en onnaspeurlike weë,

bring hom in ekstase,

daarom ook die vrae van vers 34 en 35…

Die doel van die vrae is juis sodat die mens sal uitroep:

Nee, ons kan nie uit onsself die Here se planne ken nie,

Ons kan dit nie menslik navors en bepaal nie,

en hoe Hy alles in die lewe, veral die verlossingwerk in Christus,

ten goede meewerk vir sy geliefde nie,

God se planne, moet aan ons geopenbaar word deur sy Gees en Woord.

Geen mense kan vir die Here bepaal of voorskryf,

wat Hy moet doen of nie doen nie,

hoe en wanneer sy reddingsplan moet geskied,

en met wie nie!

Die Here se reddingsplan in Jesus Christus het geskied, plaasgevind

en dit sal geskied tot die laaste dag,

in die woorde van v. 26, wat ons gelees het,

en so sal die hele Israel gered word …

menende, al die Here se kinders, al sy uitverkorenes,

klein en groot, sal gered word,

deur die genadige barmhartige ontfermende God,

wat sy kinders liefhet.

Nie net onder die volk Israel nie,

want, dit verduidelik Paulus in Rom. 9-11,

maar ook onder elke volk, stam, taal en nasie,

dit was van die begin af sy raadsplan, reddingsplan,

om sy kinders te red onder al die volke,

soos Hy dit ook in Gen. 12 en ander plekke reeds in die OT geopenbaar het.

En daardie misterie, dat sy redding ook na ander volke gaan,

skryf Paulus later in hfst. 16: 25, 26 is die misterie,

wat NOU in Christus vervul is, en plaasvind in die NT bedeling.

Ja, Paulus is verwonderd in die Here se ondeurgrondelike weë,

en sy raadsplan om sy kinders, al sy kinders, sy kerk te red.

En daarom eindig Paulus hier in ons teks,

met daardie bekende woorde van lof uitroeping en aanbidding,

Want uit Hom,  en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Ja, uit Hom, uit die Vader se genade, liefde, sy ewige raadsplan…

en deur Hom, deur Christus wat sy lewe kom aflê het, en weer opgestaan het,

en, tot Hom, alles, ook die redding se doel is om sy Naam te verheerlik,

sodat sy kinders gered, geheilig, herstel word … om weer ons skeppingsdoel,

na te kom: die eer en verheerliking van God Drie-enig!

Soli Deo Gloria!

Van ewigheid tot ewigheid…

 

NOU, mag u dalk vra, wat het dit te doen,

met die huwelik, met die bruilof van twee geliefdes vandag….

met Gideon en Joanette? ….

 

En dan is die antwoord: Alles!

Ja, alles, vir hul persoonlik, vir hul huwelik, wat vandag

begin … tot die dood hul skei.

Omdat die Here voor die grondlegging van die wêreld,

hul nie net gered het in sy Seun nie,

maar ook bepaal het dat hul vandag in die huwelik vir mekaar gegee word…

Maar ook vir ons almal wat hier teenwoordig is,

as getuies, mede feesgangers van die bruilof vandag, ons lewens,

ons huwelike, ons bestaan.

Want, ek weet, en ek is dankbaar teenoor hierdie grote en wonderbaarlike God, dat hierdie twee mense voor my,

soek bo alles, die eer van God in alles wat hul doen.

En ek glo, vertrou en hoop, dat hul dit ook gaan soek in die heilige huwelik, wat God daar vir die mens gestel het,

tussen man en vrou, en as Hy wil, vir hul nageslag,

tot verheerliking van sy grote Naam.

……

Die krisis van ons tye, ja wêreldwyd, maar ook in ons eie land,

onder ons eie mense, ons eie volk, ook binne die kerke,

is juis hierdie krisis, hierdie lewenskrisis, dat ons vergeet het,

dat die doel van ons ganse bestaan,

waarvoor ons geskape is, waarvoor ons gered word,

ons verhoudings, werk, huwelike, waarom ons nog grond het,

kos en klere, is die eer en verheerliking van God.

En, as Paulus hierdie lofwoorde uitroep van die Here se reddingsplan,

dan doen hy dit nadat hy in hoofstukke 1-11, hier waar hy nou is,

juis geleer het, hoe ook die Here se kinders as sy bruid,

saam alle mense in Adam,

afvallig geword het, in sonde geval het, met die sondeval,

daar in die tuin van Eden,

en die gevolg is dat daar ’n skeiding, egskeiding gekom het,

tussen God en ons.

Dink maar aan die eerste bruidspaar, Adam en Eva, in tuin van Eden

wat gesondig het, huwelik verbreek het, die eer van God vergeet het,

en hul eie begeertes en wil, bo God se wil geplaas het.

En die gevolge is die sonde wat in die wêreld gekom het,

wat God nie eer nie, wat ons verhoudings vernietig,

wat huwelike en gesinne verbrokkel,

waar liefde en ontferming moet wees,

is daar ongelukkig haat en bitterheid…

En Paulus draai nie doekies om nie,

hy skryf daarvan in Rom.1-3, in hfst. 1,

21 omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. …
24Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer
25hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.
26Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is;
27en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang.
28En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:
29hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid;
30nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;
31onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,
32mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

Ja, omdat God nie ge-eer word nie, sy wil nie sentraal staan nie,

daarom die verbrokkeling van die lewe, huwelike, gesinne..

En ons het almal gesondig, afgewyk, verlore gegaan,

soos Rom. 3:9-20 dit saamvat, ons was in onsself

doemwaardig voor God, soek nie sy eer, maar ons eie eer,

en daarom het die Here se oordeel oor die mens gekom.

 

MAAR, geliefde bruidspaar, bruilofgangers…

dank God vir sy genade, in die woorde van ons Teks:

dank God vir sy rykdom, wysheid en kennis,

dank God vir sy onnaspeurlike weë,

WANT, ons hoor in Rom. hfst. 3 tot 8,

van die redding en verlossing van sonde, van die ewige oordeel en dood,

deur Jesus Christus, die Volmaakte Bruidegom, die Tweede Adam.

wat gekom het, om sy Bruid, sy kinders, wat in sonde geval het,

te kom red en heilig, volkome voor die Vader te kom maak,

nie ogv van ons werke nie, maar sy werk alleen,

sy Geregtigheid, sy Seun wat volkome sy wil vir ons kom vervul het

Hoor hoe treffend stel Paulus dit deur die Gees, Rom. 5:6-8 .

6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. 7 Want nouliks sal iemand vir ‘n regverdige sterwe vir ‘n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe 8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. – Rom. 5:6-8 

En, wat ons gelees het daar in Rom. 8: 31Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? 32Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie? 

Ja, ons goeie Vader, het sy Seun nie gespaar nie,

maar vir ons oorgegee, om vir ons sondes te betaal,

vir ons sonde dat ons dink die lewe gaan oor my en my begeertes,

die huwelik bloot vir my doelwitte, en begeertes.

Hy het juis vir die sonde kom sterwe

van dat ek nie my goeie hemelse Vader in alles,

ook die huwelik, gesin, werk, alles wil eer volgens sy wil nie.

En Hy gee alles wat nodig is, in Christus,

deur sy Gees en Woord,

sodat ek tot eer van sy Naam kan lewe,

in alle tye en omstandighede….

 

Gideon en Joanette,

Hy het alles vir julle genadiglik geskenk,

Gideon, vir jou as kind van God, man van God….

Joanette, vir jou as kind van God, as vrou van God …

om hom in julle hele lewe en toekoms te verheerlik.

Daarvoor is julle geskape, daarvoor is julle gered,

WANT, uit Hom, en deur Hom, en tot Hom is alle dinge,

ook vir julle lewe,

maar ook vir elkeen van ons wat vandag sy stem hoor.

Gideon en Joanette, julle weet dit, en het dit gehoor,

van julle ouers, medegelowiges, in die kerk,

dat ons huwelike op aarde, is ‘n beeld, prent, getuienis,

al is dit nog nie of altyd volmaak in hierdie lewe nie,

van die huwelik tussen Christus, as die Bruidegom,

met sy Bruid, die kerk, die gelowiges deur alle eeue.

Ons huwelike moet getuig van die ewige trou van die Here,

om elkeen van sy kinders te red en te bewaar tot in ewigheid,

In die huweliksformulier gaan ons netnou meer daarvan hoor,

ogv wat Paulus leer in Ef. 5:22-33,

dat die huwelik ‘n groot verborgenheid is,

met die oog op Christus en sy gemeente.

EN, as jul daaraan vashou, om God te verheerlik,

om hierdie beeld, prent te versier, dan sal dit met julle goed gaan,

in tye van voorspoed, reën, vrugbare jare, gesondheid, rykdom …

maar dan ook in tye van teëspoed, droogte, onvrugbare jare, siekte en armoede, soos dit alles die Here behaag, sy eer.

Dan, is dit juis wat die Here ons vashou,

dat ons kan weet en glo, niks sal ons van sy liefde in Christus ooit skei nie,

en daarom skei ons as geliefdes nooit van mekaar nie,

daarom kan ons deur die geloof, kinders kry … baie kinders kry …

ook in en midde hierdie tye wat ons vandag lewe.

 

Ons het hierdie belofte en troos dat die Here alles genadiglik skenk,

wat nodig is vir ons redding, en Godsverheerlikende huwelike en gesinne,

om oorwinningslewens in alles te lei,

ons het dit daar gelees in Rom. 8, spesifiek vanaf vers 34 en verder,

Kom ons luister weer:

37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. 38Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge 39of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Daarom, ja daarom, kom ons roep en jubel dit almal uit,

vandag met hierdie bruilof, saam met Gideon en Joanette,

ook die res van ons lewens, ook môre oggend as ons na sy huis toe gaan,

in dankbaarheid vir die Here se ewige liefde in Christus vir ons,

Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid.

Amen.

One thought on “Troupreek: Alle dinge moet die HERE eer, ook ons huwelike (Rom. 11:33-36)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: