VERMANING AAN OUERS OM HUL DOOPBELOFTES ERNSTIG OP TE NEEM

VERMANING AAN OUERS OM HUL DOOPBELOFTES

ERNSTIG OP TE NEEM

Inleiding
In die lig van die toenemende verval in staatsonderwys, sien bv. die ‘Comprehensive Sex Education‘ agenda in skole (sien ook hierdie paneelgesprek oor die onderwerp), lees gerus hier onder, die ouer maar tog baie relevante vermaning van dr. SJ van der Walt, jare gelede.

Dit geld vir alle ouers, veral christen ouers, en nog meer vir gereformeerde gelowiges wat die gereformeerde doopbelofte afgelê het, soos dit begrond is in die Heilige Skrif.

Bid ernstig, besin ernstig, oor die opvoeding van u kinders en die gemeente se kinders, beide by die huis en skool. Daar behoort onder ‘n land en volk wat roem dat hul Christene is, baie baie meer christelike tuis- en privaat ouerskole te wees, soveel te meer in ons afvallige tye.
__________________________________________________________

“DIE DOOP EN DIE CHRISTELIKE OPVOEDING” — HK, V/A 74:

“En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” — Deut. 6:6 en 7.

Die Christelike doop lê die verpligting op ouers om hul kinders ‘n Christelike opvoeding te gee.

Hulle belowe dit dan ook uitdruklik met ‘n plegtige belofte, wanneer o.a. aan hulle gevra word: “Beloof u, en is dit u voorneme om hierdie kind, as dit tot sy verstand gekom het. . . . in, dié leer na u vermoë te onderrig of te laat onderrig?”

En daarmee is elke Christelike ouer voor God verbind om nie alleen aan sy kind die weg van die lewe te wys nie maar hom self op daardie weg te lei. Dit is vandag nog die plig en voorreg van elke ouer, vader en moeder, om hul kindertjies aan die hand te vat en na Jesus toe te bring, soos die moeders gedoen het toe Hy op aarde was.

Van kleins af moet hulle hul kindertjies die heerlike geskiedenisse van die Bybel vertel en die lesse daarvan op die hartjies druk. Hulle moet hul kindertjies so vroeg moontlik leer om ‘n kindergebedjie te doen. Die kinders moet saam met die gesin vergader rondom Gods Woord, waar die vader as hoof van die huis moet voorlees en aan die kinders verduidelik en voorgaan in die gebed.

Die ouers moet self ‘n biddende lewe lei. Daar is niks wat so diep en onuitwisbare indruk maak op ‘n kind as wanneer hy sy vader of moeder ernstig sien bid nie. Die ouers moet dan ook sorg dat die hele huislike lewe ‘n gewyde karakter dra, dat plesier nie in bandeloosheid oorslaan nie, dat vrolikheid nie in ligsinnigheid ontaard nie. Die lewe van die ouers self moet in alle opsigte voorbeeldig en vroom wees. Die spreekwoord sê: “Woorde wek, maar voorbeelde trek!” En daar is nie ‘n sterker invloed ten goede as die voorbeeld wat ouers aan hulle kinders stel nie.

Hulle moet dan ook hul kinders meeneem na Gods huis en hulle van kleins af leer om getroue kerkgangers te wees. ‘n Ouer wat Sondag sy kind kerk toe stuur en self tuis bly uit gemaksug, is ‘n skande vir homself en ‘n verbreker van die eed wat hy voor God afgelê het. Vreeslik sal dit wees as sy kind miskien vir hom eenmaal voor die gerigstroon, met die vinger moet wys en sê: “U is die oorsaak van my ewige ondergang!”

Verder moet ouers toesien dat hul kinders in Christelike skole opgelei word. Daarvoor is Christelik-nasionale onderwys nodig en moet ons sorg vir dergelike skole. Daar word vandag duisend maal meer kinders vermoor op ons skole en universiteite as op die slagveld. Daar word duisend maal meer lammers van Jesus geslag deur ongelowige professore en onderwysers as wat daar skape deur slagters by die slagpale geslag word. Dis ‘n ontsettende aanklag teen die sg. Christelike beskawing.

Mag die Here gee dat ons weer ons plig as Christelike ouers sal gevoel en sal toesien dat ons kinders in dié leer, nl. die Bybelse leer, onderrig word en also vir Christus en sy koninkryk opgevoed word en nie om deur satan geslag en verwoes te word nie.

Ons pluk vandag die wrange vrugte van ‘n opvoeding sonder Bybel en godsdiens, in die verwoestende oorloë op aarde en die bandeloosheid en sedeloosheid van ons moderne beskawing. Moord en doodslag, dronkenskap en ontug is aan die orde van die dag. Huisgesinne word verbreek deur egskeidings, of daar is geen huislike lewe meer nie en die kinders is aan hulleself oorgelaat. Huisgodsdiens word nie meer gehou nie.

Daarby berus ons skoolstelsel op die idee van ‘n neutrale staatskool, alhoewel dit skyn of daar tog ‘n kentering wil kom in hierdie opsig. Sonder vrye volkskole of Christelike-nasionale onderwys het ons volk geen toekoms nie.

Bron: Bron: Dr. SJ van der Walt Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (20 Julie).

“Die geskiedenis bewys dat as die huisgesin gesond is, beide kerk en staat bloei. Die huisgesin is die bron van die menslike samelewing. Gee ons dus Gereformeerde huisgesinne, en die Gereformeerde Kerk sal bloei. Anders gaan ons gewis ‘n donker toekoms tegemoet.” – Totius

_______________________________________

Begin as gesin saam hierdie oordenkings te lees: Huwelik en Gesin in die Skrif, ds. MJ Booyens

Meer oor tuisskole: SA Homescoolers

Sien ook: Pestalozzi Trust

Meer oor privaatskole: Aksie Reformatoriese Onderwys

Sien ook: BCVO skole

Lesings oor gereformeerde tuis- en institusionele onderwys.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: