VIR WIE IS DIE NAGMAAL INGESTEL?
VIR HULLE WAT MEEN HULLE HET GEEN SONDE NIE OF HULLE WAT HUL SONDE KEN EN DAARVAN AANHOU BEKEER?
HK Sondag: 30 – VRAAG EN ANTWOORD: 81
Vraag: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom?
Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes ‘n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink ‘n veroordeling oor hulleself1.
Skriffundering: 1 Korintiërs 10:19-22; 1 Korintiërs 11:28
Hierdie vraag is so aktueel soos altyd in die sigbare kerk van die Here. In ons tye, is dit veral ‘n sekere groep van mede-sondaars, wat meen hul het nie bekering en vergewing van hul sondes nodig, soos ons almal nie, dit is die sogenaamde ‘homoseksuele volhardende sondaars’. Dit is hulle wat meen hul sonde is nie sonde soos al die ander sondes in bv. 1 Kor. 6:10 nie, en daarom hoef hul nie te bekeer nie, en moet hul net so aanvaar word in die Here se huis en aan sy tafel.
Sien hierdie paar oordenkings van dr. SJ van der Walt, vanuit die Skrif, volgens wat ons bely in v/a 81 van die HK, Sondag 30. Dit is vir ons almal se selfondersoek, ons lewe lank, met die oog op Jesus Christus gerig (Hebr. 12:1,2), wat ons oproep tot bekering, ons lewe lank (Mark. 1:15; Luk. 13:1-5).
“VIR WIE IS DIE NAGMAAL INGESTEL?” — Vr. 81.
“Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees — soos julle inderdaad ongesuurd is — want ook ons Paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” — 1 Kor. 5:7.
Ons wil hier nie ingaan op die vraag wie tot die nagmaal toegelaat moet word en wie nie. Nee, ons wil net die aandag daarop vestig dat die nagmaal nie oopstaan vir almal nie maar dat die kerkraad verplig is om die Nagmaalsgangers te keur, met die oog daarop dat die tafel van die Here nie verontheilig mag word nie.
As dit nie so was nie, dan sou die bostaande vraag van die Kategismus onsinnig gewees het. Die nagmaal is ingestel vir ‘n bepaalde doel en vir bepaalde mense. Watter mense dit is, sal ons nog sien.
In die gemeente van Korinthe was daar sekere persone wat in gruwelike ontug gelewe het. So was daar o.a. een wat met sy moeder saam in ontug gelewe het. En nou kom Paulus sterk daarteen op. Hy wys aan dat die sonde aansteeklik is. Dit werk deur net soos die suurdeeg. Daarom word die gemeente geroep om die suurdeeg uit te suiwer, sodat almal nie naderhand daarmee deurtrek en deursuur word nie. By die Nagmaalstafel moet dus ernstig gewaak word teen die suurdeeg van die sonde. Die nagmaal is seer seker nie ingestel vir mense wat ‘n behae in die sonde het en nie daarvan wil afsien nie.
Hierdie gedagte, nl. dat die nagmaal nie vir elkeen is nie, word in ons tyd nie meer sterk gevoel nie. Dis die gees van die Liberalisme. Daarvolgens kan elke mens maar dink en sê en doen wat hy lus het, solank hy nie staatsgevaarlik of antisosiaal is nie. Die kerk moet dus sy deure oopgooi vir almal, sonder onderskeid. So iets soos tug en dissipline word nie meer erken nie. Kerklike sensuur word beskou as gewetensdwang en vervolging.
En so word dan ten slotte ook die sakramente oopgegooi vir al wat voorkom. Almal, sonder onderskeid, word uitgenooi na die tafel van die Here. Dit hang net van ons persoonlike begeerte af. En so gebeur dit dan dat van dieselfde mense wat die danssale, drinkplekke, ontughuise en resiesbane vol maak, ook weer die Nagmaalstafel vol maak. Wat ‘n gruwel! Mag ons tog weer ‘n besef kry dat daar ‘n onderskeid is tussen die wat die Here dien, en die wat Hom nie dien nie!
Die Kerk kan en mag nooit oor die hart oordeel nie. Maar wat die uitwendige lewe betref, moet die Kerk ten sterkste waak dat die heilige dinge nie ontheilig word nie. Christus het gesê dat ons nie wat heilig is vir die honde moet gooi nie en dat ons nie ons pêrels voor die varke moet gooi nie (Matt. 7:6). Die Kerk moet toon dat dit ‘n onderskeid maak tussen Christus en Belial. Al misbruik die Roomse Kerk sy banvloeke, is dit tog op ‘n suiwerder spoor as die moderne “volkskerke” wat geen onderskeid meer maak tussen gelowiges en ongelowiges nie en almal uitnooi om aan die nagmaal deel te neem.
Net so lasterlik as wat dit is om die seën van die Here uit te spreek oor almal wat oor die radio inluister, behalwe waar ‘n erediens plaasvind, net so verkeerd is dit vir ‘n kerk om almal sonder onderskeid tot die nagmaal toe te laat. Die Kerk maak homself en sy Koning op dié manier goedkoop, en dis geen wonder dat die wêreld vandag vir ‘n Kerk geen respek meer het nie.
“DIE WAT HULLESELF MISHAAG” — Vr. 81.
“Want ek ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my” — Ps. 51:5.
In die nagmaalsformulier lees ons: “Ten eerste moet elkeen nadink oor sy sondes en vervloeking, sodat hy homself kan mishaag en hom voor God kan verootmoedig.. ..” Dit is die heel eerste voorwaarde tot die regte Nagmaalsviering. Ons moet ons sondes diep gevoel, ja, dit moet ons ongelukkig maak en as ‘t ware ‘n gedurige pyn in ons hart veroorsaak.
Baie mense gaan na die Nagmaalstafel diep onder die indruk van ander mense se sondes. Hulle kom dan daar in die Fariseërsgestalte, menende dat hulle ‘n plek aan die Nagmaalstafel verdien, omdat hulle nie so sleg is soos ander nie.
Tog behoort dit nie so te wees nie. Jesus Christus het nie gekom om regverdiges te roep nie maar sondaars tot bekering (Mark. 2:17). Daarom het die berouvolle tollenaar genade gevind in Gods oë (Luk. 18:9-14). Wie geen sonde het nie, het Christus ook nie nodig nie. En wie dus homself inbeeld dat hy sonder sonde is, het daarmee Christus al klaar verwerp.
Daarom is selfbeproewing so uiters noodsaaklik, veral voor die nagmaal. Ons moet saam met die psalmdigter bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg” (Ps. 139:23 en 24). Dit wil natuurlik nie sê dat ons net voor nagmaal aan ons sondes moet dink en origens nooit nie. Nee, in die regte sin van die woord, moet ons die hele tyd van die een nagmaal na die ander gebruik vir voorbereiding om weer tot die nagmaal toe te tree.
Dit spreek egter vanself dat hoe nader die nagmaal kom, hoe dieper ons onder die indruk sal kom van ons onwaardigheid, totdat dit vir ons naderhand sal voel asof ons glad nie daar moet gaan aansit nie. Maar, soos ons sal sien, staan die kind van God nie stil by die afgrond van sy sonde nie maar soek hy die brug om hom met God te versoen, en daarom bly hy nie weg van die nagmaal af nie maar werp hom byna in wanhoop in die arms van sy Heiland en sê: O God, wees my, sondaar, genadig! soos die tollenaar van ouds.
Al moet hy dan ook, so te sê, kruip voor God onder die las van sy sondes, kom hy nogtans pleitend en smekend nader, opdat hy genade en vrede vir sy gemoed mag vind aan Gods heilige verbondstafel. As ons so let op die lewe van die mensdom, kry ons wel die indruk asof daar maar baie min skuldgevoel en selfmishae is. Vele lyk so houtgerus en selftevrede en selfversekerd, en so gaan baie mense keer op keer aan die nagmaal. Van waaragtige berou en droefheid voor God val daar weinig te bespeur.
Wat moet mens dan ook dink van sovele wat gereeld soos klokslag aan die Nagmaalstafel verskyn en dan weer daarna net so gereeld uit die kerk bly tot die volgende nagmaal? Sou hulle nie dink dat hulle handelwyse Godtergend is nie? Waarlik, God se genade is groot dat Hy nie soms daardie soort mense aan die Nagmaalstafel dood laat neerval nie.
“VERTROU IN DIE VERGIFFENIS VAN SONDES” — Vr. 81.
“Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtigheid nie.… So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons” — Ps. 103:10 en 12.
Ten opsigte van ons sondes is daar twee gevare wat ons moet vermy. Die een is dat ons die sonde so lig opvat dat ons sonder nadenke aan die Nagmaalstafel gaan sit en dan geen bedoeling het om waarlik van ons sondes af te sien nie. Die ander is dat ons wel gevoel dat ons nie sonder waaragtige berou en bekering aan die Nagmaalstafel kan gaan nie maar dan eerder van die tafel af wegbly as om ons sondes los te laat. Albei hierdie sake is verkeerd en gevaarlik en sal vir ons noodlottig wees as ons daarmee volhard.
Ons mag nie op ‘n ligsinnige, onbesonne wyse aan die Nagmaalstafel gaan aansit nie. Dit is ‘n minagting vir die heiligheid van die tafel en van Christus na wie die nagmaal heenwys. As daar sondes in ons lewe is waar ons van weet, dan mag ons nie nagmaal gebruik nie, tensy ons ernstig van voorneme is om ons lewe te verander. As ons in rusie en tweedrag lewe, dan mag ons nie nagmaal gebruik nie, tensy ons ons eers met ons naaste versoen het en ‘n ernstige voorneme het om voortaan in vrede met ons medemense te lewe.
Maar om van die nagmaal af weg te bly ter wille van ons sondes is tog ook ewe verkeerd. Dit sal ons hoegenaamd niks baat nie. Dit kom feitlik daarop neer dat ons ons self onder sensuur sit en van Christus afsny. As ons deur volharding in die sonde wegbly van die nagmaal af, sal daardie leë plek aan die tafel eenmaal teen ons getuig, en ons sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van Christus.
Nee, die enigste regte ding om te doen is om ons sondes voor God te bely en ons lewe te verbeter en dan so met ‘n gebroke hart en verslae gees aan die Nagmaalstafel te gaan. Ons kan by die Nagmaalstafel nie verbykom nie, net so min as wat ons by die kruis van Christus kan verbykom. Die nagmaal bring vir ons seën of vloek, al na gelang van ons verhouding daarteenoor. Die kind van God sal dan ook nie daar wegbly nie.
Hy sal sy oë opslaan tot Christus en homself in sy dierbare arms werp. Hy sal sy blik op Christus werp, wat die smarte van die kruis vir hom gedra het, en dan sal daar vrede in sy gemoed kom. En juis die nagmaal sal daardie geloofsvertroue van hom verder versterk en hom sekerheid gee dat Christus ook vir hom gesterf het en dat hy daarom vrede het met God.
Dis nie ons sondes wat ons van Christus skei nie, dis die verharding en onverskilligheid daaroor wat ‘n kloof tussen ons en Christus bring. Jesus het selfs die grootste sondaars, soos die owerspelige vrou en die moordenaar aan die kruis, nie van Hom af weggestoot nie. Maar vir die koue, hooghartige Fariseërs het Hy geen liefde gehad nie. Ons mag dus met die grootste vrymoedigheid na Hom toe vlug met ons sondelas. Die hand van die Here was swaar op Dawid solank hy sy skuld nie bely het nie; maar toe hy sy sonde aan God bekend gemaak het, het hy vrede gekry (Ps. 32).
“DIE OORBLYWENDE SWAKHEID” — Vr. 61.
“Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus” — Rom. 5:1.
Die gelowige het ‘n stryd om by die Nagmaalstafel te kom. As hy terugkyk op sy lewenspad, dan sien hy sonde op sonde wat teen hom getuig, En dit kos ‘n geloofstryd om sover te kom dat hy voel dat sy sondes versoen is in die bloed van Christus en dat die sondes hom daarom nie van die Nagmaalstafel af moet weghou nie.
Maar dan kom satan weer met nuwe aanvalle. Hy wys ons daarop hoe dat ons in die verlede al dikwels ons skuld bely en beterskap beloof het teenoor God, veral by nagmaalsgeleenthede, maar hoedat ons daarna maar altyd weer in sondes geval en die Heilige Gees bedroef het, Hy waarsku ons om nie te probeer om God te mislei en met valse voorwendsels aan die Nagmaalstafel te kom nie. En so doen satan sy bes om ons van die Nagmaalstafel af weg te hou en ons in wanhoop en vertwyfeling te laat wegsink. Ons moet onsself dan maar beskou as hopeloos verlore en van God verlate.
En nou kan ons dit inderdaad nie ontveins dat óns natuur verdorwe is en dat ons seker en gewis weer in sonde sal val nie. Ons struikel daagliks. En al het ons ook die bitterste berou en droefheid oor ons sondes, al neem ons ons beslis voor om ‘n beter lewe te lei en die sonde met alle mag te bestry, tog is dit die harde werklikheid dat ons sondaars bly en altyd weer struikel tot die dag van ons dood toe. Swakheid sal daar altyd in ons oorbly, tot die laaste lewenssnik toe. Maar nou vind die kind van God sy troos dat Jesus Christus vir al sy sondes betaal het, dus ook vir al sy swakheid en gebreke.
Dan sal hy wel ‘n innerlike afsku hê in daardie swakhede en dit met alle mag probeer oorwin. Maar hy sal darem nie ter wille daarvan van die nagmaal af wegbly nie; inteendeel, hy sal juis versterking in die nagmaal soek om hom te help in die stryd teen die oorblywende swakheid. Hy weet immers dat as hy moet wag om nagmaal te gebruik totdat daar g’n swakheid in hom meer oorbly nie, dan sal hy moet wag tot die dag van sy dood toe. Dis juis omdat hy glo dat al sy sondes versoen is, dat hy dan ook die stryd teen die sonde aanbind en gebruik maak van die genademiddele.
In hul stryd teen die Remonstrante het die vaders die pragtige Belydenisstuk van die “volharding van die gelowiges” neergelê (kyk die 5e hoofstuk van die Dordtse leerreëls). Heerlik en kragtig is die getuienis wat ons daarin vind aangaande die onwankelbare vastigheid van ons saligheid, wat nie gefundeer is op ons menslike swakke strewe en poginge nie maar op God se ewige verkiesende genade. Hiervan sê die Leerreëls: “Maar die Bruid van Christus het dit altyd as ‘n skat van onwaardeerbare prys baie leer bemin en standvastiglik verdedig”. Die gelowige weet dat al sy sondes hom vergewe is ter wille van Christus en dat hy die saligheid nimmermeer kan verloor nie. God laat die werk van sy hande nie vaar nie (Ps. 138), en ons heil berus nie op ‘n wankelende fondament nie.
“DIE WAT BEGEER OM HULLE GELOOF TE VERSTERK” — Vr. 81.
“En die Here sê: Simon, Simon, kyk die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou, gebid, dat jou, geloof nie mag ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk” — Luk. 22:31 en 32.
Daar moet by ons ‘n honger en dors na die geregtigheid wees (Matt. 5:6). Ons sondes bring menigmaal ons gelooi aan die wankel. As God ons aan onsself ontdek, dan begin ons twyfel aan ons staat. Dan gaan dit moeilik om te glo dat Christus werklik sy lewe vir ons opgeoffer het. Dan voel ons saam met Paulus dat ons die vernaamste van alle sondaars is. En dan roem ons nie meer nie maar roep uit: “Ek ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom. 7:24).
En wanneer ons so begin wegsink in die golwe van vertwyfeling, dan soek ons na ‘n reddende hand om vas te gryp. En dan kom Christus ons tegemoet op die onstuimige golwe en roep ons toe: “Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (Matt. 14:31). En dit is dan veral in die Heilige Nagmaal dat ons die hand van genade vasgryp en also weer versterk word in ons geloof. Die nagmaal is veral ingestel met die oog op die versterking van ons geloof.
Christus het geweet hoe vurig satan begeer om ons te sif en die kleingelowiges in wanhoop te laat verval. Daarom bid Hy tot vandag toe nog steeds vir ons. En daarom wil Hy ons ook versterk in ons geloof, opdat ons ook weer andere sal versterk. So het dit met Petrus gebeur. Sy geloof was so swak dat hy uit angs sy Heiland tot drie keer toe verloën het. Maar nadat hy tot bekering gekom het, het hy die Rotsman, die Petra geword wat die swakkere broeders ondersteun en bemoedig het en wat pal gestaan het tot in die dood.
En al sal elkeen van ons nie juis ‘n Petrus word nie, tog wil Christus ook ons geloof versterk, sodat ons staande kan bly en oorwin in die stryd teen die bose. Daartoe gebruik Hy dan veral ook die nagmaal. En daarom moet ons daar getrou gebruik van maak. Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Die nagmaal is daar vir almal wat versterking van hul geloof begeer.
In hierdie lewe is ons in die groeiperiode van ons geestelike lewe. Ons moet ontwikkel en toeneem in dié kennis van genade van onse Here Jesus Christus. Paulus wys daarop dat die bediening van die genademiddele daartoe ingestel is sodat ons almal kan kom “tot ‘n volwasse man en die mate van die volle grootte van Christus” (Efes. 4:13).
Die skrywer van die Hebreërbrief sê: “Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Hebr. 6:1). Woord en sakramente is die onvervalste melk, waardeur ons geestelik moet opgroei en sterk word in die genade (vgl. 1 Petrus 2:2). Die moeilikheid is net dat die swak kind juis nie wil eet nie, en tog kan hy sonder voedsel nie sterk word nie. Daarom moet ons gereeld Gods Woord en die sakramente gebruik. Dis die enigste manier om groot en sterk te word in die Here.
“DIE WAT BEGEER OM HUL LEWE TE VERBETER” — Vr. 81.
“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” — Fil. 3:12.
As daar een ding is wat by die ware nagmaalsganger nie mag ontbreek nie, dan is dit die diepe en ernstige begeerte en strewe om sy lewe te verbeter. In hierdie sin is ons almal strewers na die volmaakte. Elke gelowige moet ‘n strewer wees na die geregtigheid en die volmaaktheid, nie om langs daardie weg die hemel te verdien nie maar omdat hy deur Jesus Christus gegryp is, soos Paulus dit in ons teksvers uitdruk. Paulus verkondig nie die leer van die Perfeksionisme nie. Hy het nie die gedagte dat ‘n mens in hierdie lewe ooit volmaak kan wees nie.
Inteendeel, hy is hom gedurig bewus dat hy dit nog nie verkry het of al volmaak is nie. Ja, as daar ooit iemand was wat sy sondigheid gevoel het, dan was dit Paulus. Daarom wou hy nooit roem nie. Dit neem egter nie weg nie dat Paulus die volmaaktheid nagejaag het of hy dit ook kan gryp. Hy het elke oomblik sy hand daarna uitgesteek en alles in sy vermoë gedoen om dit by te kom. Dit was vir hom iets begeerliks, iets waar sy siel altyd na gehunker het. En hy het dit nie maar so effens probeer bereik nie maar het gejaag daarna. Dit was vir hom ‘n prys wat hy moes verower in ‘n harde wedloop. En daarvoor was hy bereid om elke las van die sonde af te lê (Hebr. 12:1).
Daarvoor het hy al sy kragte tot die uiterste toe ingespan. Dit spreek vanself dat, as Paulus sê dat hy na die volmaaktheid jaag, hy dit nie bedoel in die oppervlakkige moralistiese gees waarin baie sg. strewers in ons tyd meen om heilig te word nie. Paulus kwalifiseer sy strewe hier met die woorde: “Omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is”. Sy bekering en heiligmaking word dus gedra deur God se verkiesende genade in Christus. Die doopsformulier druk dieselfde gedagte uit as hy sê dat die Heilige Gees “tot ons eiendom wil maak wat ons reeds in Christus besit”.
Ons jaag en gryp dus eintlik na dit wat ons reeds in Christus besit, ja, juis omdat ons dit besit. Hier moet ons dus ook die Barthianisme afwys, waarvolgens ons in hierdie lewe niks besit nie en alles net in die geloof bly verwag. Nee, ons glo dat ons in Christus volkome heilig is, maar dat die Gees ons daardie heiligheid ook gedurig meer en meer deelagtig maak (vgl. 1 Petrus 1:15, 16). So moet elke nagmaalsganger dan gedurig die volmaaktheid najaag. Dis eers, wanneer mens begin om jou lewe te verbeter dat jy agterkom hoe oneindig vol gebreke en tekortkominge jy is.
Dis eers, wanneer jy met hierdie wedloop na die volmaaktheid begin dat jy besef hoe ver die volmaaktheid buite jou bereik lê. Maar juis daarom streef ons dan des te sterker na dit wat ons nie kan bykom in hierdie lewe nie maar wat ons sekerlik na ons dood sal bereik.
Die gelowige kan dus nooit selfvoldaan wees nie. Hy is nooit in sy met homself nie. Hy roem nooit oor sy deugde nie. Dis alleen mense wat hulself nie ken nie en wat geen benul het van wat volmaaktheid is nie, wat kan dink dat daar niks meer in hul lewe te verbeter is nie. Mag ons dan steeds soek na verbetering van ons lewe en die volmaaktheid van God najaag!
_______________________________________
Bron: Dr. SJ van der Walt, Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (7-12 Augustus).
Sien ook die volgende preek: Wie mag of moet na die Here se tafel kom? (Lukas 18:13)
Leave a Reply