Ware bybelse prediking: die oop- en toesluit van die hemelryk (deel 1)

Ware bybelse prediking:

die oop- en toesluit van die hemelryk (deel 1)

deur dr. SJ van der Walt

HK Sondag: 31 – VRAAG EN ANTWOORD: 83

Vraag: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit1.

Skriffundering: 1. Matteus 16:18-19; Matteus 18:15-18

“DIE SLEUTELS VAN DIE HEMELRYK” — Vr. 83.
“En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee….” — Matt. 16:18 en 19.

Christus stel die koninkryk van die hemele hier voor as ‘n stad waar ‘n mens by die stadspoorte in en uitgaan. In die ou tyd was elke stad van enige betekenis deur ‘n sterk, swaar muur omring. In daardie muur was dan verskillende poorte aangebring, wat met swaar deure gesluit is. Daar was dan die sleuteldraer van die stad, wat in naam van die koning die poorte oop- of toegemaak het. Daar was dus g’n vrye toegang tot die stad nie. Die sleuteldraer het die sleutelmag besit om die gewenste persone toe te laat en ongewenste persone uit te sluit. Daarom was dit ‘n hoogs verantwoordelike en eervolle taak wat aan die sleuteldraer opgedra was.

So stel Christus die koninkryk van die hemele voor. Ook daar is g’n vrye toegang nie. Gods vyande sal daar onverbiddelik uitgesluit word. Niks wat onheilig is, sal daar binnekom nie. En die eervolle taak om as sleuteldraer op te tree, word aan Petrus en die ander apostels, dus aan die kerk, gegee om die hemeldeur vir die gelowiges oop te sluit en vir die ongelowiges toe te sluit. Dit lê ‘n geweldige verantwoordelikheid op die skouers van die kerk. Die kerk word met mag oor lewe en dood, oor hemel en hel beklee, wat dit egter nie na eie willekeur mag misbruik nie maar alleen in die Naam van Christus, volgens die voorskrifte van Gods Heilige Woord, mag uitoefen tot Gods eer. En hierdie mag word nie, soos die Roomse beweer, alleen aan Petrus en dus aan die Roomse Pouse, toegeken nie.

In Matt. 18:18 sien ons dat Jesus dieselfde mag gee aan al die apostels, sonder dat een se naam genoem word. Petrus word in ons teksvers genoem, nie omdat hy so wonderlik is nie, want in vers 23 bestraf Christus hom en spreek hom aan: “Gaan weg agter My, satan!” Petrus word hier die rots genoem waarop Christus sy gemeente sal bou, op grond van die belydenis wat hy namens die dissipelkring gedoen het dat Jesus die Christus was, die Seun van die lewende God (vs. 16). Op daardie belydenis sou sy kerk staan en stry en oorwin teen die poorte van die hel. Al is die kerk van Christus ‘n voorwerp van smaad en vernedering in hierdie wêreld, besit dit tog in Christus groter mag as enige aardse mag of alle aardse magte tesame. Niks en niemand op aarde kan vir ons die hemelpoort ontsluit nie behalwe alleen die kerk deur die krag van Christus.’

Sleutels is altyd ‘n teken van gesag. Hoe trots is die sipier van ‘n tronk nie op sy swaar bos sleutels nie! Hoe goed bewaar ons nie ‘n sleutel waarmee ‘n belangrike gebou, soos bv. ‘n kerk, in gebruik geneem is nie! ‘n Sleutel simboliseer moontlikhede wat vir ons oop- of toegesluit kan word. Christus dra die sleutel van Dawid (Openb. 3:7) en van die doderyk (Openb. 1:18). Daardeur oefen Hy alle mag uit in hemel ‘n op aarde. Daardie sleutel kan vir ons die weg oopsluit na die genadetroon, waar God sit in die Allerheiligste. Geen sondaar kan daar binnedring nie. Maar daardie sleutel kan ons ook van die heil uitsluit, Adam en Eva is deur die sleutelmag uit die paradys verdryf; en die goddelose sondaars is uit die ark van Noag uitgesluit.

Daarom is dit alleen met vrees’ en bewing, met biddende opsien tot God, dat die kerk hierdie groot mag in die Naam van Christus uitoefen.

“DIE TWEE SLEUTELS” — Vr. 83.
“Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad” — Openb. 22:14.

Daar is dan twee sleutels wat vir ons toegang verleen na die hemel, waardeur ons kan ingaan deur die poorte in die stad Sion of daar uitgesluit word. Volgens die Kategismus is die twee sleutels die verkondiging van die Evangelie of die prediking en die Christelike ban of uitsluiting uit die Christelike gemeente.

Ons wil hier net kortliks let op die verhouding van die twee sleutels tot mekaar. En dan merk ons in die eerste plek op dat dit nie die prediking as sodanig of die sakramente is wat vir ons die hemelpoort oopmaak nie. Nee, die prediker kan preek totdat hy nie meer krag het nie, en ons kan sakramente gebruik tot ons dood toe, dan sal ons nog nie op grond van daardie dinge die hemel ingaan nie. Dis nie in die mag van die bedienaar van die Woord en van die sakramente om vir ons die hemel oop of toe te maak nie. Nee, maar in daardie prediking en in daardie sakramente is dit Christus wat ons tegemoetkom.

Die prediking van die Woord en die bediening van die sakramente het geen ander doel as om Christus aan ons voor te stel en ons sy genade deelagtig te maak nie. Woord en sakramente is maar die middele waardeur Christus tot ons kom. En dis enkel en alleen Christus wat vir ons die hemel oopmaak of dit toemaak as ons Hom nie aanneem nie.

Daarom word die prediking en die sensuur of Christelike ban genoem die sleutels van die hemelryk. Eintlik is dit nie twee sleutels nie maar één, wat albei vir ons die deur van die hemel ontsluit. Deur die prediking word ons uitgenooi om ons in die arms van onse Heiland, Jesus Christus, te werp en gered te word. Wie egter deur sy lewe toon dat hy op die roepstem van genade geen gehoor gee nie en veeleer die Christus verwerp, die word dan uitgesluit uit die Christelike gemeente, as teken daarvan dat hy geen deel aan Christus het nie. Die gemeente is tog immers die liggaam van Christus en behoort aan die Hoof.

Wie dus nie tot Christus behoort nie, kan ook nie tot sy liggaam behoort nie. Die gemeente of kerk van Christus op aarde is ‘n deel van Christus, want dit is sy liggaam. Ons kan dus nie aan Christus deel hê sonder om aan sy kerk deel te hê nie. Daarom word die kerk soms genoem die moeder van die gelowiges. Wie God nie as Vader deur Christus het nie, kan daarom ook nie die kerk as moeder hê nie en moet uitgesluit of afgesny word as behorende tot satan en sy ryk.

As Christus nie vir ons die hemel oopsluit nie, dan sluit Hy dit vir ons toe. As Hy nie die hoeksteen van verlossing vir ons is nie, dan is Hy ‘n steen van aanstoot en van struikeling, waarteen ons ons te pletter loop (1 Petr. 2:7). Ons moet Christus dan aanneem tot redding, of so nie verwerp ons Hom tot ons eie ondergang.

“DIE HEMELRYK VIR DIE GELOWIGES GEOPEN” — Vr. 83.
“En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer” Matt. 10:12 en 13.

“Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring!” So roep die profeet uit (Jes. 52:7). Salig is die huis waar die gesant van Christus inkom om die genade van God aan te kondig. Maar wee daardie huis wat die Godsgesante nie wil ontvang nie. Daardie huis sal woes gelaat word, en die gesant van Christus sal die stof van sy voete afskud, vir daardie huis as ‘n getuienis.

God gebruik die genademiddele om daardeur vir ons die hemelryk oop te maak, vir sover ons daardeur tot Christus gebring word en Hom aanneem deur die geloof. Wat moet ons dan nie daarvoor dankbaar wees nie! Wat sou van ons geword het as die hemelpoort vir ons ewig gesluit gebly het? Dan was ons inderdaad in die buitenste duisternis, sonder God en sonder hoop op die wêreld (Efés. 2:12). Al sou ons ons hande stukkend gestamp en ons kele hees geroep het, dit alles sou niks gebaat het nie. Ja, daar kan waarlik niks ernstiger wees nie as dat die hemelpoort vir ‘n mens gesluit word en jy daarbuite moet lewe en sterwe in Godverlatenheid.

Daarom het Christus gesê: “Bid, en vir julle sal gegee word, soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak word” (Matt. 17:7). Daar is, Goddank, nog ‘n kans om die deur oop te kry voordat hy vir ewig gesluit word. Ons moet bid, soek en klop. En die plek daarvoor is die kerk. Dit sal nie help om by die wêreld te gaan bid, soek en klop om genade nie. As ons op ons sterfbed lê, sal dit ‘n bespotting wees as ons by enigiets of iemand anders soek en klop om uitkoms behalwe by Christus alleen. En dis die kerk wat Christus aan ons verkondig in Woord en Sakramente.

As die hemelpoort nie vir ons oopgaan in die kerk nie, sal hy nooit vir ons oopgaan nie. Daarom moet ons dankbaar gebruik maak van die genademiddele wat Christus deur sy kerk aan ons laat bedien. Wie dit nie doen nie, sal op sy sterfbed uitvind dat die hemeldeur vir hom gesluit staan. Daarenteen is dit heeltemal seker dat ons nooit tevergeefs by die kerk sal soek en aanklop nie. Daar sal ons genade en redding vind in Christus. God is getrou.

Ons bedoel natuurlik nie dat die kerk ons die saligheid kan gee nie. Nee, dis alleen Christus wat ons red. Tog het dit Hom behaag om die verkondiging van die heilsboodskap aan die kerk op te dra. Die kerk verteenwoordig feitlik die burg van Sion, die hemelse Jerusalem op aarde. Deur die kerkdeure moet ons die poorte van die hemelryk ingaan. Hoe dankbaar moet ons dan nie wees nie as daardie deure nog vir ons oopstaan en ons deur die vriendelike klokgelui uitgenooi word om in te gaan en te geniet van Gods heil in Jesus Christus! So gesien is die nederige sleutels van die koster ook ‘n simbool van die sleutels van Christus.

“DIE HEMELRYK VIR DIE ONGELOWIGES GESLUIT” — Vr. 83.
“Wanneer die eienaar van die huis opgestaan en die deur gesluit het, en julle begin buitekant te staan en aan die deur te klop en te sê: Here, Here maak vir ons oop, sal Hy antwoord en vir julle sê: Ek ken julle nie waar julle vandaan is nie” – Luk. 13:25.

Wie nie die regte gebruik maak van Woord en sakramente nie, die sal agterkom dat hy daardeur vir homself die hemelpoort toegesluit het. En dan sal dit nie help om agterna by die hemelpoort te kom staan en klop en roep nie. Die tyd van genade is in die hede, in hierdie lewe. En as ons ons hier op aarde gedra het soos vreemdelinge vir die kerk, sal ons eenmaal agterkom dat ons ook vir die hemel vreemdelinge is. As ons die kerk hier op aarde nie geken het of wou ken nie, dan sal die hemel ons ook eendag nie ken of wil ken nie.

As ons die genade van God in Christus hier op aarde verwerp en gevolglik onsself uitsluit uit die gemeenskap van die gelowiges en afsny van die liggaam van Christus, dan moet ons nie verwag om hiernamaals deel te hê aan die saligheid en glorie van onse Heiland en van die hemel nie. Deur ongeloof en sonde-diens sluit ‘n mens vir jouself die hemel toe. En dan moet jy nie verbaas en verskrik wees om agter te kom dat daar op jou sterfbed geen genade of verlossing is nie, dat jou benoude geroep op dowe ore val en dat daar nêrens ‘n enkele ligstraal van hoop vir jou is wanneer jy die doodsvallei moet ingaan nie.

God laat Hom nie bespot nie. En wie sy genade verwerp, sal die gevolge daarvan moet verduur. Honderd-en-twintig jaar lank het Noag gepreek vir ‘n verharde en spottende mensdom. Al daardie tyd het die deur van die ark van genade vir hulle oopgestaan. Hulle wou egter nie daarin vlug en daardeur binnegaan nie. Uiteindelik is die deur gesluit en moes die wat buite gebly het, in die waterdieptes sterf. Toe het al hulle geroep en gekerm niks gehelp nie. Daarom moet ons gewaarsku wees. Die hemelpoort staan vandag nog oop. Almal wat Christus wil aanneem, sal gered word. Maar deur volharding in die sonde stoot ons daardie deur altyd meer toe met ons eie hande. En vreeslik sal dit wees om daardie slot te hoor knars as die deur vir ewig toegaan, met ons dood. Dit sal wreder klink as die kluite wat ons graf toemaak. Mag ons daarom ingaan deur die deur van genade solank as dit nog vir ons oopstaan!

Ons is so geneig om te dink dat ons lot en bestemming bepaal word deur wat daar in ons sterwe sal gebeur. Tog is dit nie so nie. Ons ewige lotsbestemming hang af van wat in ons lewe gebeur. “Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister!” (Ps. 95:7). Dis nie ‘n koue noodlot, wat ons fatalisties dwing waar ons nie wil wees nie. Nee, deur God se genade kan en moet ons ons bekeer. Daarom sê Christus dat Hy by die deur (van ons hart) staan en klop, “en as iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My” (Openb. 3:20). Christus beskik wel oor die sleutel van ons hart, maar dit neem nie weg dat ons deur die werking van die Heilige Gees ons hart vir Hom moet oopmaak nie.
_______________________________________

Bron: Dr. SJ van der Walt Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (18-21 Augustus).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: