Ware bybelse prediking: die oop- en toesluit van die hemelryk (deel 2)

Ware bybelse prediking:

die oop- en toesluit van die hemelryk (deel 2)

deur dr. SJ van der Walt

HK Sondag 31 Vraag en Antwoord 84

Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ‘n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie11.

Skriffundering: 1) Matteus 16:19; Johannes 20:21-23

DIE VERKONDIGING VAN DIE VERGEWING VAN SONDES”. — Vr. 84.

“Wie na julle luister, luister na My en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het”. — Luk. 10:16.

Die verkondiging van die Evangelie is dan die eerste sleutel van die hemelryk. Ja, dit is selfs die vernaamste, want dit word die eerste genoem. Dit is in ‘n sekere sin belangriker as die Christelike sensuur, want die sensuur is maar die praktiese toepassing daarvan op sondaars wat openlik die Evangelie verwerp in leer of lewe. En as ons daarom die sensuur ernstig opvat en dit vrees as ‘n gevaarlike sleutel wat vir ons die hemeldeur kan toesluit, dan behoort ons die Evangelieprediking niks minder ernstig op te vat en te vrees nie.

Die prediking van die Evangelie is ‘n magtige wapen, ten goede of ten kwade. Daarmee word die Godsryk gebou en die ryk van satan neergewerp. Daardeur word sondaars vir ewig vrygemaak van die bande van die dood en die strikke van die hel, maar daardeur word ook talle sondaars die ewige dood ingeslinger. Dis die grootste mag op aarde tot behoudenis of verderf. Daarom lees ons: “Is my woord nie só, soos ‘n vuur nie, spreek die HERE, en soos ‘n hamer wat ‘n rots vermorsel nie?” (Jer. 23:29).

Die krag van die prediking is onweerstaanbaar. Dit slaan harde harte oop, sodat die genade van God daarin uitgestort kan word. Die harte van ongelowiges word daardeur inmekaar geslaan, sodat die mens tot stof terugkeer, soos hy uit die stof gekom het. Dis ‘n vuur wat alle kaf van sonde en goddeloosheid verbrand (Jer. 5:14). Maar deur dieselfde vuur word Gods volk gelouter en gereinig.

Die prediker van die Evangelie het daarom ‘n geweldig verantwoordelike taak. Hy durf op die preekstoel met niks anders kom as Gods Woord nie. Daarom sê Paulus: “Want ek het my voorgeneem om niks onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor. 2:2).

Op die kansel is die prediker die mondstuk van Christus. Hy het geen reg om daar te kom met sy eie opinies, kritiek, probleme en moeilikhede nie. Dit gebeur, helaas, soms dat ‘n gemeente elke Sondag die predikant op die preekstoel het en tog nooit bediening van die Woord het nie. So iets is ‘n growwe misbruik van die preekstoel. Nee, daar mag niks anders van die kansel af klink as die Heilige Evangelie van genade nie. En dan is dit ‘n sleutel wat die hemel vir ons oop- of toesluit, al na gelang ons dit gelowig aanneem of verwerp.

Ons vrees dat daar geweldig baie misbruik gemaak word van die verantwoordelike taak van die prediking. Daar word aan die gemeente ‘n lesing of toespraak vir ‘n preek, ‘n klip vir ‘n brood gegee (Matt. 7:9). Die prediker vergeet so maklik dat hy “Verbi Divini Minister” of Bedienaar van die Goddelike Woord is. ‘n Minister is ‘n dienaar en nie ‘n heerser nie. Hy moet op die preekstoel niks meer of minder wees nie as ‘n dienaar van Christus; hy moet die mondstuk van Christus wees. Daar moet alle menslike opinies en beskouinge weggeban word, sodat die Bybel alleen kan praat. Dan alleen het die prediking Goddelike gesag.

DIE BELOFTES VAN DIE EVANGELIE” — Vr. 84.

“Verkondig die woord;…. want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hul eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot die fabels” — 2 Tim, 4:2-4.

Op die preekstoel moet enkel en alleen Gods Woord gehoor word in al sy ryke en volle krag. Tog is daar vandag talle predikers wat hulle met alles ophou behalwe die verkondiging van Gods Woord. Ons hoor van die preekstoel af filosofiese uiteensettinge, sedepreke, wetenskaplike verhandelinge, interessante storietjies en soms selfs grappe, maar ons luister tevergeefs na die verkondiging van Gods Woord. Wel word een of ander teks gebruik soos ‘n spyker om die “preek” aan op te hang, maar dis nie die teks of die Bybel self wat praat nie, nee, dis die predikant wat sy opinies uitspreek “na aanleiding van” een of ander teks.

Hiervandaan kom allerlei dwaalleer (fabels en oppervlakkige en niksseggende orasies, wat meer bedoel is om die gehoor te streel as om Gods waarheid aan die lig te bring. Daarom kan sodanige prediking ook niks uitrig nie. Dit bly die mensewoord wat tot ons gerig word en waaroor sommige miskien kwaad word, ander weer lag en nog ander hulle skouers optrek. Dié “prediking” is soos ‘n dramatiese voordrag wat in ‘n teater gelewer word. Ons kan dit geniet of kritiseer net soos ons lus het. Ten slotte bly dit iets wat buite ons is en wat ons nie direk voor ‘n lewensbeslissing stel nie. Ons hoef nie noodwendig daarop ja of nee te sê nie.

So kan ons egter nie doen met die verkondiging van die Evangelie nie. Wanneer Gods Woord in sy diepte aan ons blootgelê word, dan kom ons elke keer te staan voor ‘n keuse, ‘n beslissing wat ons nie kan vermy nie. Want die inhoud van Gods Woord is Christus, en by Christus kan ons nooit verby kom nie. Hy is die beoordelaar van hart en sinne en sy kruis staan in die middel van die breë stroom van die menslike lewe op aarde. Soos die twee moordenaars aan die kruis, so moet elke mens op aarde sy plek inneem ter regter- of ter linkerhand van Christus.

Die prediker se werk op die preekstoel is dus nie om interessant, boeiend, aantreklik, onderhoudend of wat ook al te wees nie. Nee, hy is enkel en alleen ‘n boodskapper van God, waarby die boodskapper niks is nie en die boodskap alles. En die boodskap sal dan sowel die spreker as die toehoorders tref en roer tot die binneste snare van die siel en liggaam.

Ons bedoel natuurlik nie dat die prediker totaal onpersoonlik moet wees en op ‘n bloot meganiese wyse die Skrif moet vertolk nie. Voordrag is Wel van belang en is soos ‘n silwerskottel waarop die spyse van Gods Woord bedien word. Ook is dit van betekenis of die prediker persoonlik die dinge gevoel en beleef waar hy van praat. Ook moet hy die Evangelie toepas op die besondere nood en behoefte van die gemeente, sodat hulle gevoel dat dit hulle direk aangryp in hul lewensituasie. Tog moet dit altyd die Evangelie wees wat klink en nie een of ander surrogaat van menslike vinding nie. En die gemeente moet nie te veel waarde heg aan die innerlike en toevallige manier waarop Gods Woord gepreek word nie.

‘n Prediker met ‘n swak voordrag kan soms ‘n heerlike en kragtige boodskap bring, as ons maar net wil luister. ‘n Vuurwerk-vertoning van die preekstoel af is nie altyd ‘n waarborg vir erns en diepte en suiwerheid van Skrifvertolking nie.

“DIE PREDIKING IS ‘N OPENLIKE BETUIGING” — Vr. 84.

“Ons tree dan op as gesant om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen” — 2 Kor. 5:20.

Die prediker moet die volle raad van God verkondig, volgens die Heilige Skrif. Hy mag en moet niks verswyg, verdraai, verswak of vergroot nie. Sy strewe moet wees om die basuin van Gods Woord helder (d.i. suiwer en kragtig) te blaas. Daartoe is nodig eerlike en getroue Skrifstudie, in aansluiting by ons belydenisskrifte, om steeds dieper in te dring in die ryk ertslae van die openbaring van God en die skatte daarvan uit te delf. Wel sal ons Skrifstudie, sowel as die verkondiging daarvan, steeds gebrekkig en menslik onvolmaak wees.

Ons het trouens ook nie die gedagtes en woorde om die volle en ewige waarheid van God, soos in Christus geopenbaar, te vat en te vertolk nie. Dit neem egter nie weg dat ons geroep word en daarom ook in staat is om, met die leiding en verligting van Gods Heilige Gees, die Godsopenbaring in waarheid en suiwerheid te vertolk en aan sy gemeente te verkondig nie.

Die Heilige Skrif besit o.a. wat genoem word die deursigtigheid of verstaanbaarheid as eienskap. En met grondige Skrifstudie en deur vergelyking van Skrif met Skrif kan ons deur die leiding van Gods Gees wel vasstel wat die Skrifwaarheid is. En dit mag ons nie elkeen vir homself doen nie maar dit is die taak van die Kerk in sy meerdere vergaderings of sinodes, wat in sy belydenisskrifte die Skrifwaarheid vertolk en vasgestel het.

Hierdie belydenisskrifte besit wel nie onfeilbaarheid soos die Bybel nie maar moet tog beskou word as bevattende die waarheid volgens die Skrif, tensy dit bewys kan word dat dit met die Skrif in stryd is. Immers, Christus het uitdruklik aan sy Kerk belowe: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die waarheid lei, want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Joh. 16:13).

Die verkondiger van die Evangelie mag dus niks anders preek nie as die waarheid, soos neergelê in die Skrif. Of die gemeente daarvan hou of nie, of hulle daaraan gehoor gee of nie, dit alles maak nie saak nie. Hy mag g’n ander boodskap bring as die Skrifboodskap nie. En dan, maar dan alleen, sal sy prediking ‘n sleutel wees wat die hemel sal oopsluit vir die gelowiges en toesluit vir die ongelowiges. Ons mag ons prediking nie aanpas by die smaak van die toehoorders nie. Nee, hulle moet hulle aanpas by die uitspraak van die Heilige Skrif.

Daar is natuurlik altyd die gevaar dat ‘n prediker in sy prediking ‘n persoonlike oordeel oor lidmate sal wil vel. Maar so moet dit nie wees nie. Nee, die prediker moet steeds vervul wees met diepe bewoënheid oor die kudde van Christus. As sielsoeker moet hy saam met Christus kan ween oor Jerusalem. Dan sal daar nie in die prediking allerlei persoonlike elemente insluip nie.

VOLGENS DIE BEVEL VAN CHRISTUS” — Vr. 84.

“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” — Matt. 28:19.

Die amptelike prediking van Gods Woord deur ‘n geroepe gesant van Christus is altyd gesagvol, solank hy die Skrif na waarheid uitlê en hom deur die Skrif laat lei in alle waarheid. Christus het die opdrag aan sy dissipels gegee om die Evangelie te verkondig aan alle nasies en hulle te leer en te maak tot dissipels van ons Heiland. Daarby het Hy uitdruklik gevoeg: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Daarmee het Christus te kenne gegee dat Hy hulle in staat sou stel om die Evangelie in waarheid te verkondig en daardeur die harte van die verharde heidendom te win vir die Koninkryk van die hemele. Dis dus ‘n magtige dog heerlike taak wat op die skouers van die Kerk rus. En daartoe het Christus die Kerk met die nodige mag en gesag toegerus.

Waar die Evangelie in opdrag van Christus amptelik deur sy Kerk verkondig word, daar het dit absolute en dwingende gesag. Dit wil nie sê dat die gewetensvryheid aangerand word en die Kerk die ketters met swaard en vuur moet vervolg nie. Nee, verre daarvandaan! Die Kerk besit g’n uiterlike mag nie en het dit ook nie nodig nie. Dit besit die swaard van die Gees, en dié is veel dodeliker en skerper as enige ander swaard. Die Woord van God keer nooit leeg terug nie (Jes. 55:11). Wat nie deur die Woord vrygemaak word nie, word gebind. Wat nie genees word nie, word verderf. Wat nie opgebou word nie, word verpletter. Selfs diegene wat nie onder die prediking kom nie, word daardeur getref. Die ongelowiges, die spotters, die onverskilliges en kerkloses sal almal onder die oordeel van Gods Woord deurgaan, en met hulle sal presies geskied volgens die Woord Gods. Al sou hulle tot in die hel wil wegvlug vir Gods Woord, sal dit hulle tog agterhaal en hulle hul verdiende straf laat toekom. Ja, die Woord van God is onweerstaanbaar. Dis net so ‘n mag tot behoudenis as tot verderf. Wie glo, sal gered word, al was hy ook die grootste van alle sondaars. Daar is g’n bande van satan of die dood wat ons kan hou wanneer die Evangelie ons vrymaak nie. Nie die graf of die hel sal ons kan vashou wanneer die Evangelie vir ons die hemeldeur oopgemaak het nie. Dis ‘n sleutel wat sterker is as die dood self.

Daarom het Paulus gesê: “Wee my, as ek die Evangelie nie verkondig nie!” Ons het hier te doen met ‘n bevel van Christus: “Gaan dan heen!” Maar dit lyk soms of mense dit so verstaan: staan dan stil! of: trek julle terug! Ons weier om te gaan waar Hy ons stuur om sending en evangelisasie te doen. As ons nog gaan, vind ons dikwels dat die Kerk in ons tyd gaan om beskawing en geleerdheid te bring, terwyl die Evangelie in die slag bly.

_______________________________________
Nota: hoof opskrif bygevoeg.

Bron: Dr. SJ van der Walt Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (22-25 Augustus).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: