DR. WILLIE MARAIS SE SIENING OOR HOMOSEKSUALISME
In dr. Willie se verklaring van die Tien Gebooie, skryf hy by die sewende gebod as volg aangaande homoseksualiteit:
“Onder homoseksualiteit verstaan ons die teennatuurlike verskynsel waar iemand hom of haar vir bevrediging aangetrokke voel tot en ook toespits op persone van dieselfde geslag. Seksuele bevrediging word dan deur die liggaamlike of deur kunsmatige organe gesoek. Dit is duídelik dat hier nie na die persoon van die ander nie, maar na die seksuele bevrediging, dit wil sê, na die geslag van die ander gesoek word en die eie aangebied word met lusbevrediging as hoofdoel.
Hierdie homoseksuele of lesbiese verhouding staan nie in diens van die voortplanting nie, en maak daarom van die huwelik ‘n bespotting. God het in die begin één man en één vrou geskape, nie twee mans of twee vroue nie. Hierdie abnormale afwyking van die natuurlike verhouding tussen man en vrou moet dus gesien word as een van die rampspoedige gevolge van die sondeval wat die menslike geslag op allerlei wyse aantas.
Daar bestaan baie teorieë oor die oorsake van hierdie verskynsel. Sommige praat van ‘n soort aangebore patroon terwyl ander weer die klem op ‘n aangeleerde ontwikkeling laat val wat grootliks aan wanaanpassing tussen ouer en kind te wyte is. Hierby kom nog homoseksualiteit in sy “noodvorm” wat meer bepaald van verbygaande aard is waar persone van dieselfde geslag vir ‘n tyd lank saamgehok bly. Sulke afwykings kan ook uit verskillende sondige praktyke ontwikkel (vgl. Rom. 1:18-32).
Wat die oorsake egter ook al mag wees, bly dit ‘n feit dat dit deur die Bybel as iets gruweliks beskryf word wat die dood skuldig is Lev. 18 :22; 20:13). Paulus noem dit ‘n skandelike hartstog (Rom. 1:26) wat die dood verdien (Rom. 1:32):
“Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is: en net so ook het die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang” (Rom. 1:24-27).
Intussen mag hierdie mense nie deur ons verag word nie, maar moet op begrypende wyse gehelp word om langs die weg van berou en bekering tot redding te kom, want by God sal niks onmoontlik wees nie. Waar daar egter in die kwaad volhard word en die sedes van ander onskuldiges deur diesulkes bedreig word, sal die owerheid en kerk opnuut aandag moet gee aan die vraag op grond waarvan die betrokkene nie meer die dood skuldig is nie? (Lev. 18:29; 20: 13; Rom. 1:32.)”
Bron: Die Tien Woorde van God (Pretoria: NG Kerkboekhandel, 1978, bl. 231, 232)
_____________________________________________
Sien hier meer bronne van dr. Willie Marais se werke: http://www.eeds.co.za/
Pro Regno artikel oor dr. Willie Marais.
Dank die Here vir predekers soos Ds Marais!