REFORMASIE TEMA PREEK: Psalm 130 (Die Dordtse Leerreëls)

REFORMASIE TEMA PREEK:

Psalm 130

(Die Dordtse Leerreëls)

Image result for synod of dort picturesLees: Psalm 130 en 1 Kor. 1:21-31.

Teksvers: 7 Wag op die HERE, o Israel! want by die HERE is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing; 8 en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede. – Psalm 130

Preekopname (GK Carletonville, 2019-10-27), kan hier geluister en/of afgelaai word:

Psalm 130 (Dordtse Leerreëls)

Preeknotas (let wel: ondergenoemde is nie die preek nie, dit is notas wat gebruik word in die preek, maar die preek self is die audio opname. Die inligting stem nie presies ooreen nie):

Hoe diep het die mens in die sonde geval?

En kan die mens wat in sonde geval het, nog enigsins, selfs met die hulp van die Here, homself red?

Of is die mens totaal en al afhanklik van die Here se genade alleen om gered te word?

En as mens gered is, kan jy weer verlore gaan, hang dit weereens af van jouself, of jy gaan gelowig bly of nie?


Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Hierdie, en heelwat ander vrae is waaroor die kerkstryd in

die 1600’s in Nederland afgespeel het, en finaal sy uiting gevind het,

in die Dordtse Sinode van 1618/19, 400 jaar gelede, wat ons ook hierdie jaar herdenk.

Met die Dordste Sinode, is ons gereformeerde kerke, spesifiek die GKSA,

se belydenisskrifte ook finaal vasgestel,

die 3 algemene belydenisskrifte van Nicea, Atanasius en Apostolies,

en die 3 besondere belydenisskrifte, NGB, HK en dan veral,

die DORDTSE LEERREëLS,

(wat mens alles daar agter in die Psalmboek kry)

Einde Oktober elke jaar, gedenk ons opnuut die 16de eeuse Reformasie vanuit ‘n tema uit die Skrif,

toe ons kerke gevorm is, deur te breek met die Rooms Katolieke Kerk,

en daar ’n terugkeer na die Here se Woord, die Evangelie plaasgevind het,

om gelowig en kerk weer te wees soos die Gees deur sy Woord openbaar.

Nou wil ons dan vandag stil staan by wat die Dordtse Leerreëls,

in navolging van die Skrif ons leer, hoekom dit so belangrik is,

en wat beteken dit vir die kerk nog vandag, in ons gelowig en kerkwees.

Ons wil leer van die geskiedenis kortliks,

en dan van die wese van die saak wat op die tafel is,

en die betekenis vir ons vandag.

Verlossing uit genade deur die geloof alleen

Die mens is geskape om God te aanbid en dien met sy hele lewe volgens God se Woord.

Na die sondeval, poog die mens egter om self soos God te probeer wees (Gen. 3:1-5).

Dit doen die sondige mens veral op twee maniere, nl.

eerstens, om self te besluit wat reg en verkeerd is, d.w.s. hoe om God te aanbid en te dien sonder of in stryd met God se Woord, en,

tweedens, om homself, die mens wat in sonde en ellende geval het deur die sondeval,  te  verlos sonder God se verlossing in Jesus Christus (HK, v&a 19).

Die rebelse outonome mens is regdeur die geskiedenis besig om God se bande te probeer afruk,

en God se verlossing in Christus te verwerp (Ps.2).

Hy wil sy eie humanistiese koninkryk bou, en homself verlos,

natuurlik alles deur die misleiding van sy sondige hart, hierdie wêreld en die Satan.

En hierdie aanslag vind regdeur die Ou en Nuwe Testament plaas, as die mens hulself probeer verlos deur die onderhouding van die wet.

God se profete, Christus en die apostels het hierdie kettery verwerp en bestry,

en die volk daarop gewys dat sy kinders alleen deur God se genade in Christus,

deur die geloof verlos word, sonder enige werke.

Die mens word verlos tot goeie werke, nie deur goeie werke nie (Rom. 3:28; Ef.1:4,5; 2:8-10; Tit. 3:5; sien ook HK, v&a 64).

Deur die kerkgeskiedenis, het die Satan egter op ‘n slinkse wyse die kerk probeer mislei om die verlossingsleer aan te pas of te vermeng op verskillende maniere.

Augustinus moes reeds in die 4de eeu nC teenoor Pelagius die leer van God se absolute soewereiniteit in die verlossing van die mens handhaaf.  Pelagius het die leer van die erfsonde verwerp, en dus daardeur geleer dat die mens van nature goed is en homself kan red.

Die Roomse kerk het wel die erfsonde erken, maar geleer dat die mens se goeie werke wel verdienstelik is vir sy verlossing.

God en mens moet en kan saamwerk om die mens te red.

Dit is hierdie valse leer –naamlik verlossing deur die geloof plus goeie werke- waarteen Luther moes stry, en waaruit die Protestantse Reformasie gebore is in 1517 en daarna.

Calvyn het opnuut teenoor Rome en die Libertyne die leer van die genadige uitverkiesing en regverdige verwerping as grondslag van die verlossingsleer gehandhaaf.

Guido de Bres sou in die Nederlandse Geloofsbelydenis, artikel 16, die leer van die uitverkiesing verwoord, wat die strydpunt sou word in die kerke in Nederland aan die einde van die 16de eeu en die begin van die 17de eeu, die artikel wat ons gelees het.

Die Sinode van Dordt

In Nederland was dit die persoon van Jacobus Arminius (1559 – 1609), predikant en later professor aan Leiden, wat begin leer het dat God mense uitverkies omdat Hy vooruitgesien het dat hulle sou glo, en dat die mens hierdie genade van God kan aanvaar of weerstaan.

Arminius was ‘n baie gewilde persoon by sy studente en mede-predikante en het tot sy dood volgehou dat sy dwalinge in lyn is met die gereformeerde konfessies (NGB en die HK).

Dit is natuurlik ‘n tegniek wat baie dwaalleraars binne die kerk vandag nog gebruik,

nl. om onder die dekmantel van die belydenistaal, ‘n valse leer en ‘n ander betekenis van woorde in te voer van dit wat ons nog altyd glo.

Vir elke ketter in die geskiedenis, stuur die HERE genadiglik ook ‘n reformator:

Augustinus wat vir Pelagius weerlê het,

Luther vir Erasmus,

Calvyn vir Servet, ens.

Daarom kan ons God ook dank dat Hy in die persoon van Franciscus Gomarus (1563-1641), iemand gestuur het om soos ‘n Elia van ouds, regdeur Arminius se dwalinge te sien en dit te ontbloot vir wat dit is: die mens wat met sy sondige wil God probeer wees.

Gomarus was ook professor te Leiden en het teenoor Arminius die skriftuurlike leer van God se soewereine genadige predestinasie in uitverkiesing en verwerping gehandhaaf, soos verwoord deur Augustinus, Calvyn en die gereformeerde belydenisskrifte.

Na Arminius se dood in 1609, het sy volgelinge ‘n remonstransie (‘n petisie) opgestel waarin hulle hul leer uiteengesit het.  Dit het op die volgende dwalinge neergekom:

  • God verkies mense o.g.v. hul vooruitgesiene geloof, d.w.s die mens se prestasie bepaal sy verlossing;
  • Christus het vir alle mense gesterwe;
  • die mens kan die goeie wil en is dus nie totaal verdorwe nie;
  • die mens kan die genade van God weerstaan; en,
  • die mens kan uit die genade val waarin God hom geplaas het.

Tydens die Sinode van Dordt (1618/19) is al vyf hierdie punte van die Remonstrante verwerp, deur daarteenoor die Skrifwaarhede te stel wat saamgevat en bely word in die Dordste Leerreëls.

EN EK WIL VIR U WYS VANUIT PSALM 130 (EN DIE RES VAN DIE SKRIF)

HOEKOM HIERDIE BELYDENIS SO BELANGRIK IS,

HIERDIE 5 PUNTE OOR ONS REDDING,

OOK GENOEM DIE 5 PUNTE VAN CALVINISME

(Bronne vir tabelle: Lorraine Boettner, Die Gereformeerde geloof; Seaton, W. J. 1970. The five points of Calvinism. Edinburgh: The Banner of Truth Trust)

Calvinisme Arminianisme
1. Die totale verdorwenheid van die mens:
Die hele mens is verdorwe, m.a.w. sy wil, sy verstand, sy emosies en alles wat deel uitmaak van die mens. Almal het gesondig (Rom. 5:12). Die mens is op geen manier in staat om homself te red nie (Job 14:4: “Wie kan rein uit onrein laat voortkom? Niemand nie!”; Jer. 13:23: “Kan ‘n Kussiet sy vel verander of ‘n luiperd sy vlekke?”). Ook ander metafore soos die mens is ‘n slaaf, is blind en doof word gebruik om die mens se totale hulpeloosheid mee te beskryf.Lees: DL hoofstuk 3/4
1. Die vry wil van die mens:

Die mens is nie heeltemal verdorwe nie, maar is wel tot goed in staat. (In sy uiterste vorm, maar eintlik meer tipies van Pelagius as Arminius, word bekering en geloof amper as “goeie dade” beskou waardeer die mens wel gered kan word).

 

 

Lees: DL hoofstuk 3//4 – verwerpings

 PSALM 130:3 en 6 “As U, HERE, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? … en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede.”

Die waarheid is, is ons was dood in ons sonde = sien vers 1: die diepte van ons ellende, so ook Ef. 2:1-3 …. julle … wat dood was deur die misdade en sondes…

AS DOOD EN VERDORWE, DAN KAN ONS NIE ONSSELF RED NIE, IEMAND MOET ONS KOM RED, GEHEEL EN AL, VAN BUITE ONSSELF! 

2. Onvoorwaardelike verkiesing:
God kies mense onvoorwaardelik uit. Rom. 8:29a: “Die wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun…” Rom 9:11-13: “ ‘Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat’. Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ‘n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.”Lees: DL hoofstuk 1
2. Voorwaardelike verkiesing:

God kies die gelowiges omdat Hy vooraf weet wie tot geloof sal kom. Dis deur hul bekering en geloof dat mense uitverkies word.

 

 

Lees: DL hoofstuk 1 – verwerpings

 PS. 130:2 “Here, hoor na my stem; laat u ore luister na die stem van my smekinge. … v. 7 by die HERE is die goedertierenheid …

DUS, HERE SE INGRYPE DEUR SY GENADIGE UITVERKIESING NODIG!

EN HOE DOEN HY DIT?  DEUR SY SEUN TE STUUR OM ONS TE KOM RED, ELKEEN VAN SY UITVERKORENES, WAT GERED WORD EN SAL GLO. 

3. Spesifieke versoening

Christus het gesterf tot redding van ‘n bepaalde groep mense, nl. die uitverkorenes:

Daar is drie moontlikhede: Christus het vir alle mense sonder uitsondering gesterf, Christus het vir geen spesifieke persone gesterf nie en Christus het gesterf om ‘n bepaalde aantal mense te red. Hierdie bepaling is die fokus punt van die vyf, maar ook van die evangelie en kom uit by die doel van Christus se dood aan die kruis. Die Arminiane verkies die tweede moontlikheid: dat Christus ‘n potensiele redding bewerk het, en dat wie ook al in hierdie redding glo, word saliggemaak. Die Sinode van Dort verkies die laaste, en baseer hulle besluit op onder andere verse soos Jes 53: 11b: “My Dienaar die Regverdige sal baie mense regverdig maak” en Joh 6:37a: “”Elkeen wat die Vader vir My gee, sal na My toe kom.”

Lees: DL hoofstuk 2

 

3. Algemene versoening

I.p.v. Christus wat net vir die uitverkorenes sterf, glo Arminiane dat Hy vir die hele wêreld gesterf het. Hy’t vir almal se sondes betaal, maar net diegene wat dit aanneem ervaar die vergifnis van sonde.

 

 

 

 

 

 

 

Lees: DL hoofstuk 2 -verwerpings

Dwaling: Jesus het vir elke mens gesterwe, nou hang dit af of jy vir hom kies of nie = dit beteken niks anders nie, as: jy bepaal jou redding, dit is ‘n werk, nie ‘n genade geskenk van God nie.

PSALM 130:5,8 leer: wag op die Here, sy woord, sy goedertierenheid, by Hom is daar veel verlossing HY SELF SAL Israel verlos, dit is al sy uitverkorenes, onder alle stamme, tale en nasies… 

4. Onweerstaanbare roeping
Die wat uitverkies is, kan nie anders as om te antwoord op God se roeping nie (reeds genoemde Joh 6:37). Die Arminiane glo dat mense wel God se roepstem kan weerstaan.Lees: DL hoofstuk 3/4
4. Weerstaanbare roeping

Arminiane glo dat die Heilige Gees teengestaan kan word. Dat God se volmaakte wil deur die mens teengestaan kan word. Gevolglik ook dat sommige wat God sou wou hê tot bekering moet kom, nie tot bekering kom nie, omdat hulle Sy Gees teenstaan.

Lees: DL hoofstuk ¾ – verwerpings

Sien ook Matt. 1:21.

En niemand sal dit kan keer nie, Hy sal red, daarom vers 8 van Ps. 130, nie dalk nie, nie moontlik nie, Ps. 130:8 sê Hy self SAL Israel verlos, en DAAROM, uit genade ook ….

5. Volharding van die gelowiges
Hierdie punt vloei natuurlik voort uit die voorafgaande. Dit sluit aan by verse soos o.a. Fil 1:6a: “Ek is daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer”. 

Lees: DL hoofstuk 5

5. Gelowiges kan verlore gaan

Die leer van die volharding van die heiliges en die moontlikheid van afvallige “gelowiges”. Die Arminiaanse siening is dat dit moontlik is om na jou bekering verlore te gaan. Hulle lê gevolglik baie klem op daardie verse wat daarvan praat dat ons moet volhard en dat net diegene wat tot die einde toe volhard gered sal word.

Lees: DL hoofstuk ¾ – verwerpings

Hy verlos sy uitverkorenes nie net van sommige sondes/ongeregtighede nie, maar sê Ps. 130: 8, van AL SY ONGEREGTIGHEDE!

En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. -Joh. 10:28

Betekenis vir vandag

Die verskillende beskouings oor die verlossing van die mens kan hoofsaaklik in die volgende drie sienings ingedeel word:

  1. die mens is nie dood in sy sonde nie, en kan homself dus verlos (Pelagianisme).
  2. die mens is net halfdood in sy sonde, en kan dus ‘n bydrae lewer tot sy verlossing (semi-Pelagianisme).
  3. die mens is morsdood in sy sonde (Ef. 2:1), en kan absoluut niks bydrae tot sy verlossing nie (Calvinisme).

Die humanistiese menseregte kultuur in die nuwe SA is in sy wese niks anders as die suiwer pelagianisme nie, met sy optimistiese mensbeeld waarin die mens homself probeer red.

Die semi-pelagianisme se verteenwoordigers vind ons veral in die Rooms-Katolieke Kerk, asook in kerke met ‘n arminiaanse agtergrond en geskiedenis, soos die baie charismatiese en metodistiese kerke.  Ongelukkig moet ook genoem word dat die arminiaanse beskouing baiemaal ongesiens ook insluip in kerke van gereformeerde belydenis. Dit gebeur bv. waar die mens se geloof as voorwaarde vir die verlossing voorgehou word in die genadeverbond.  So word die mens dan weer die (mede)bepaler van sy verlossing en gaan al die eer nie aan God alleen nie.

Daarteenoor leer die Skrif dat die geloof nie ‘n voorwaarde is nie, maar ‘n ‘gawe van God’ (Ef. 2:8-10), terwyl ons belydenis dit duidelik stel dat “die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels” (NGB, artikel 22), en word die dwaling verwerp wat leer “Die geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, vroomheid en volharding is dus nie vrugte of gevolge van die onveranderlike uitverkiesing tot heerlikheid nie maar noodsaaklike voorwaardes daarvoor en oorsake daarvan” (DL, I:V5).

Dit is die leer van die absolute soewereiniteit en eer van God wat ware en valse godsdiens van mekaar skei.  Dit is hierdie leer wat die fondament is van die GKSA en wat veral vandag gehandhaaf moet word teen enige poging van buite of binne die kerk wat dit probeer vervang met die soewereiniteit van die mens.  As God nie soewerein is in ons verlossing nie, sal Hy dit ook nie wees in ons erediens en lewensdiens nie. Teenoor alle vorme van Humanisme en Arminianisme wat die mens in die middel van die lewe wil stel as standaard en norm, handhaaf die gereformeerde geloof deur die Dordtse Leerreëls die absolute soewereiniteit en eer van God in en oor die hele lewe.

Sien 1 Kor. 1:29-31, die roem en eer gaan aan God in Christus alleen.

Soli Deo Gloria = waaroor die Dordtse Leerreëls in wese gaan, in die redding van sy mense.

Hoekom ?  “Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” – Rom.11:36

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: