Openbaring 12
Die Groot Stryd waarin die gelowiges hul bevind
“En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. … En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.” – Openbaring 12:11, 17.
“Die groot en allesomvattende stryd van die lewe, waarbinne al die ander stryd- en worstelsake gesien en verstaan moet word, is nié tussen man en vrou (‘gender wars’) nie, nie tussen wit en swart nie (politiek), nie tussen arm en ryk (ekonomie) nie, nie tussen oud en jonk nie, ens. maar tussen waarheid en leuen, tussen Christus en die Satan, tussen geloof en ongeloof.”
Ek plaas hier onder ‘n verwysing na William Hendriksen se verklaring van Openbaring hoofstuk 12. Die rede waarom ek dit doen, het ek as volg beskryf in my eie preek oor Openbaring 12:
“Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
Ons staan vanoggend stil by een van daardie hoofstukke,
wat mens opnuut ’n groot Bybel legkaart hoofstuk kan noem.
As mens ’n legkaart bou, het jy nie net die klein los stukkies van die legkaarte nodig nie,
maar baie belangrik, ook die groter prent nodig wat wys hoe al daardie stukkies saam in pas, om een groot geheel te vorm,
om te sien waar al die los kleiner legkaart stukkies in sy regte plek inpas.
So is ons lewens hier op aarde,
baie dinge wat ons besig hou, al die ‘klein stukkies’ legkaarte, daar is
vreugdes, maar ook hartseer
oorwinnings maar ook teleurstellings
lewe maar ook die dood
goeie en slegte tye wat ons belewe.
En daarom het ons ook opnuut die groter prentjie nodig in ons lewens,
waarbinne ons kleiner stryd- of lewensoorloë plaasvind,
vir ons as gelowiges, vir die kerk van die Here midde hierdie lewe. ….
Nou begin daar vanaf hoofstuk 12,
eintlik die 2de groot deel van die hele boek,
waar ons dieselfde boodskap gaan hoor:
aangaande die Here se koningsheerskappy in Christus,
tot troos van sy kerk.
Ja, dit gaan alles oor Hom, nie oor my, ek, ons nie (Rom. 11:33-36).
In Op. 12 en verder word nog ‘n paar verskillende beelde, prente gebruik,
en veral in hfst. 11-13 word vir ons geleer,
in watter groot stryd of oorlog ons verkeer hier op aarde,
dat dit bo alles ’n geestelike stryd is, waarin ons ons lewens met al die detail moet raaksien, met die ‘kleiner’ veldslae en oorloë.
Dit gaan alles oor:
DIE STRYD TUSSEN GOD IN CHRISTUS TEEN DIE SATAN EN SY BOSE MAGTE
En nou baie belangrik vir vanoggend,
as ons leer van die groot oorlog, die groot stryd waarin ons verkeer,
wil ons sien van die oorwinning wat reeds in Christus behaal is,
maar ons wil dan ook leer (vandag en volgende Sondag, DV):
hoe om dan juis die goeie geestelike stryd te kan en moet stry, vandag, môre en elke dag, tot die … laaste dag van ons lewens.
Paulus skryf op ’n ander plek dat hy nie onkundig is oor al Satan se sluwe slinkse planne nie, dat hy dit juis ken om goed te kan stry, ’n oorwinningslewe te lei tot eer van God en heil van die naaste (2 Tim. 4:6-8).
So, ons wil leer oor die groot stryd, wat dit werklik is, waaroor ons lewens eintlik gaan,
en dan hoe ons dan vanuit hierdie (en ander) gedeeltes leer om as individue, gesinne, gemeente die goeie stryd van die geloof te kan stry. (Ef. 6:12-20)…”
___________________________________________
Tot hier die inleiding van my preek, maar omdat Hendriksen hierdie goeie stryd, hierdie goeie oorlog waarin ons verkeer so goed oorsigtelik vanuit beide OT en NT uiteensit, wil ek hom eerder aan die woord stel, sien spesfiek Hoofstuk 11, bladsy 96 tot 102:
Meer as Oorwinnaars: ‘n Verklaring van die Boek Openbaring
Lees, bid en aanbid ons Here terwyl u hierdie troosvolle hoofstuk lees, Hy wat ons “meer as oorwinnaars” gemaak het in en deur Christus, nou en vir altyd.
‘n Paar aanhalings:
“Laat ons nou die hoofgedagte bestudeer. Dit is dit: die draak staan voor die vrou wat op die punt staan om te baar, sodat hy by die geboorte die kind kan verslind; dit wil sê, Satan is gedurig ingestel op die vernietiging van die Christus. Só gesien word die ganse Ou Testament een verhaal, die verhaal van die stryd tussen die saad van die vrou en die draak, tussen Christus en Satan. In hierdie stryd is Christus natuurlik oorwinnaar. Laat ons uit hierdie oogpunt die geskiedenis van die Ou Testament bekyk…”
“Die beeld wat Johannes sien, word ten volle verduidelik deur die woorde wat hy hoor. Die stryd in die hemel en die neerwerp van die draak moet nie letterlik verstaan word nie. Satan is “uit die hemel neergewerp” in hierdie sin, naamlik, dat hy sy plek verloor het as aanklaer van die broeders. Terwyl Christus gebore is en versoening gedoen het vir die sonde, het Satan elke sweem van regverdiging vir sy beskuldiginge teen gelowiges verloor. Weliswaar gaan hy voort om te beskuldig. Dit is vandag nog sy werk. Maar hy kan nie langer wys na die onvoltooide werk van die Verlosser nie. Christus se versoening is volkome afgehandel; volle boetedoening vir die sonde is gedoen toe Hy na die hemel opgevaar het. Vgl. Rom. 8:33 “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God?” Vgl. ook Rom. 8:1 en Luk. 10:18: Let op die drievoudige effek van hierdie neerlaag van Satan en sy leërs: …”
“Ons verklaar die prent soos volg: Satan, nadat hy daarin gefaal het om Christus te verower, gaan voort met sy aanval op die kerk. Hy rig sy woede teen die kerk omdat die kerk die Christus voortgebring het. Maar die Here beskerm sy volk: Hy dra hulle op arendsvlerke. In die woestyn van beproewing – hierdie aardse verblyf – het hy vir hulle ‘n plek berei en Hy voed hulle met die manna van die Woord. Hier bly die kerk “uit die gesig van die slang”, d.w.s. buite die bereik van Satan se direkte en dodelike aanvalle. Die duiwel kan haar nie vernietig nie. Dit is die duisendjarige ryk van Openb. 20, sien bl. 170 e.v. Om seker te maak, probeer die bose om die kerk te oorstroom met ‘n vloedgolf leuens, misleiding, maar die ware kerk word nie bedrieg nie. Die mislukking van hierdie poging om die kerk te oorstroom, maak die duiwel baie kwaad. Hy is vasbeslote om sy aanval te rig “teen haar ander nakomelinge”, Openb. 12:17, dit wil sê, teen individuele gelowiges.”
Leave a Reply