POLYANDER SE 51 STELLINGS OOR DIE WET VAN GOD (Inleiding & Stelling 1 tot 11)

POLYANDER SE 51 STELLINGS OOR DIE WET VAN GOD (Inleiding & Stelling 1 tot 11)

“Alhoewel dit uit die wet is (waaroor ons hierbo geskryf het) wat ons leer van die besmetting en gebrek van ons geestelike siekte, dit wil sê, dat ons ons sonde leer ken, kom dit uit die Evangelie dat ons van die remedie/kuur vir ons sonde leer.” — Synopsis Purioris Theologiae

Inleiding deur S. Le Cornu

Ek plaas hier ‘n stuk uit Johannes Polyander (1568 – 1646) se hoofstuk ‘Oor die Wet van God’, waar hy in 51 stellings oor die wet geskryf het, onder verskillende subopskrifte. Sien gerus die volledige teks heel onder. Dit kom uit die werk wat hy saam met ander Nederlandse gereformeerde teoloë geskryf het in die 17de eeu: Synopsis Purioris Theologiae (afkorting: SPT). Dit is oorspronklik in Latyn geskryf, en later vertaal in Nederlands asook in Engels). My vrye vertaling kom van die volgende Nederlandse uitgawe, vertaal deur D. van Dijk, met H. Bavinck wat die voorwoord geskryf het:

SYNOPSIS OF OVERZICHT VAN DE ZUIVERSTE THEOLOGIE, samengevat in twee en vijftig verhandelingen en beschreven door Johannes Polyander, Andreas Rivetus, Antonius Walaeus, Antonius Thysius, Doctoren en Professoren der H.H. Theologie, in de Nederlandse taal overgezet door Dirk van Dijk, V.D.M, te Hollum, 339 blz., Drukkerij-Uitgeverij J. Boersma, Enschede, 1964.

Daar is hoofsaaklike drie redes waarom ek oor hierdie onderwerp Polyander se werk hier plaas:

Rede 1. Dat dit elke gelowige, asook in die besonder elke bedienaar van die Heilige Woord, sal help om die waarheid reg te sny oor die wet van die Here, veral ook in die verhouding ‘wet en evangelie’, sien 2 Tim. 2:15.

Rede 2. Voortvloeiend uit nr. 1, om dwalinge te bestry, wat die verhouding ‘wet en evangelie’ verkeerd verstaan en dan die Woord verdraai en so baie mense mislei. Ons kan die wet ‘oorwaardeer’ (dan word dit legalisme = redding deur wet/werke), of ons kan dit ‘onderwaardeer’ (dan word dit antinomianisme = ons hoef nie meer in dankbaarheid volgens God se wet te lewe nadat Christus gekom het nie). Kyk hoe spreek Paulus beide dwalinge aan in een hoofstuk: teen legalisme, Gal. 3:11; teen antinomianisme, Gal. 3:21 (sien ook bv. Gal. 5:4; 5:23; Rom. 3:31; 7:12; 13:8-10; 1 Tim. 1:8,11).

Die verskillende gebruike van die woord ‘wet’ in die Skrif
En een van die sentrale redes waarom mense baiemaal dwaal oor ‘wet en evangelie’, is omdat hul nie die Skrif aandagtig lees en daarna luister nie, want as die woord ‘wet’ nie reg verstaan word in die Skrif in al sy betekenisse en verskillende gebruike deur die hele Skrif nie, veral nie in die NT nie, gaan daar baie dwalinge ontstaan …. soos die Saduseërs gedwaal het omdat hul die Skrifte nie geken het nie, en die Skrif teen mekaar probeer afspeel het, om mekaar te weerspreek (Matt. 22:23-33).

So probeer baie vandag nog die Skrif buig sodat die ‘wet en evangelie’ mekaar moet weerspreek, maar as elkeen reg verstaan word soos dit bedoel word in die hele Skrif, in die woorde van Paulus, dit albei ‘wettiglik gebruik’ en verstaan word (1 Tim. 1:8; Rom. 6:1,2), deur Skrif-met-Skrif te vergelyk, dan sal mens sien dat die Here se hele Woord, die wet en die evangelie eer God en dien sy kinders, alles ten goede.  In hierdie verband. Sien veral Polyander se stellings 3 tot 9, waar hy wys op 6 verskillende maniere waarop die woord ‘wet’ in die Skrif gebruik word, wat beteken mens moet mooi biddend lees, vra en onderskei na watter betekenis of gebruik van die wet in ‘n bepaalde teks verwys word, sodat ons ten einde saam met die Psalmskrywer kan glo en bely: “o Here, ek hoop op u heil (die evangelie), en ek hou u gebooie (wet)” (Ps 119:166), wat die ware kerk na die koms van Christus, wat die hele wet bevestig en vervul (Matt. 5:17-20; 22:37-40; Joh. 14:15) ook kenmerk, in die woorde van die Apostel Johannes: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God (wet) en die geloof in Jesus bewaar (evangelie).” (Op 14:12; sien ook Op. 12:17).

Rede 3. Polyander, gebore in Frankryk (1568), het in Heidelberg gestudeer onder Junius, en sy doktersgraad gedoen onder Beza, Calvyn se opvolger in Geneva. Hy het predikant geword in Dordtrecht in 1591, en het later vir Gomarus opgevolg as professor in teologie in Leiden.  Hy was as adviseur teenwoordig by die Sinode van Dordt (1618-19), en het op die redaksie gedien wat die Dordtse Leerreëls moes nagaan. In die woorde van ‘n ander skrywer: “As sodanig het hy in samewerking met ander sy stempel afgedruk op hierdie Belydenisskrif.”

Hy was later ook op die redaksie van die Statevertaling (1637) wat uit die oorspronklike tale in Nederlands vertaal is.  Om Polyander daarom te lees in die SYNOPSIS, saam met ander teoloë van daardie tyd, gee ons verdere insigte oor wat hul geglo het aangaande en vanuit die Skrif, soos vervat in ons belydenisskrifte, maar dan ook in die kanttekeninge van die Statenvertaling verwoord is (wat tans in die proses is om ook in Afrikaans vertaal te word).

Die Statenvertaling met sy kanttekeninge is wat hier aangekom het saam met Jan van Riebeeck in 1652 aan die suidpunt van Afrika, en ons kerke en volk gevoed het in die eeue wat sou kom, van die Kaap, deur die Groot Trek en met die Boere Republieke, selfs tot in die vroeë 20ste eeu. Dit het saam met die Psalmboek en dan skrywers soos Calvyn, à Brakel, en andere ‘n groot invloed gehad om ons kerk en volk te vorm.  Met al die goeie dinge wat gekom het met die Bybel in ons eie taal (1933), het daardie rykdom van die skrywers van die 17de eeu, veral deur die kanttekeninge van die Statevertaling, lyk my ietwat verlore gegaan, en sal ons dit hopelik weer herontdek en waardeer, saam met al die ander rykdom wat die Here ons deur die eeue gegee het.

Daarom is dit goed om ook te leer van hulle wat ons voorgegaan het in die geloof, wat hul ook van die Skrif geleer het (Hebr. 13:7), sodat ons juis rede 1 en rede 2 hierbo in ons tye kan najaag, tot eer van God en die heil van ons naaste.

Bavinck skryf in sy voorwoord as volg, om ons nog verder te motiveer om ons gereformeerde worstels te herontdek:

“De Synopsis, nauwelijks in het licht gegeven, schijnt als koningin van de Gereformeerde leer geboren te zijn. … De Synopsis zelf is voor ons een duidelijk voorbeeld en een heldere spiegel van de orthodoxe leer, die op de Synode van Dordrecht de voorrang verkregen had. En dat deze leer een halve eeuw lang geheerst heeft en heeft kunnen heersen, zal niemand verwonderlijk voorkomen, die dit Overzicht gelezen en overdacht heeft. Het gaat voor geen ander handboek van die tijd in scherpte en nauwkeurigheid van bewijsvoering uit de weg, het schittert niet zelden van uitnemendheid van inzicht (dianoias megaloprepeiai), het is zich gefueel bewust van de waarheid van de Heilige Schrift en de Gereformeerde belydenis en daarmede volkomen op de hoogte, doch vrij van dorre, futiele en zouteloze scholastieke redeneÍingen en voorspiegelingen.”

Daarom, as Bavinck dit aanbeveel, dan kan ons dit maar lees!

Nota: 1) Ek plaas hier en daar die Nederlandse woorde in aanhalingstekens, omdat ek nie seker is van die korrekte vertaling nie. Enige voorstelle om my vertaling te verbeter sal baie waardeer word. 2) Hier en daar sit ek ‘n woord of meer in hakies by, gemerk met my voorletters ‘slc’). 3) Ek plaas die latynse uitgawe, asook die gedeelte wat ekself ingeskandeer het vir andere wat dit graag wil lees en kontroleer, hier onder. Daar is ook ‘n Nederlandse teks van die Synopsis wat ek daar plaas, maar dit bevat slegs hoofstukke 1-11 van deel 1. 

______________________________________________________________________

Hoofstuk XVIII

Johannes Polyander

OOR DIE WET VAN GOD

Stelling 1. Uit die wet van God kan die groot gebrek aan krag waaraan die vrye wil ly, wat in sonde geval het, geken word, asook hoe groot ons wil se ellende is.

Benaminge van die wet

2. De wet is deur die Latyne Lex genoem, omdat dit in die publiek gelees en gepubliseer is; deur die Grieke nomos, omdat ‘ze ieder het zijne toedeelt’, en deur die Hebreërs Thora, dit is lering, omdat dit ons aangaande die wil van God en ons plig teenoor Hom en ons naaste onderrig.

Die betekenis van die woord ‘Wet’ in die Skrif

3. In die Heilige Skrif word die woord “wet” in verskillende betekenisse opgeneem, eerstens vir elke insetting van God, Ps. 1.2 en 19:8.

4. Vandaar dat die naam wet aan die leer van sowel die Nuwe as Ou Testament toegeken word, sien Jes. 2:3; Jer. 31: 33; Rom. 3:27.

5. Tweedens, word dit in die besonder verstaan vir, of die morele wet, soos in Luk. 10:26; of vir die seremoniële wet, soos in Luk. 2:22, of vir die burgerlike wet, soos in Joh.19:7.

6. Derdens word word dit met die naamsverwisseling van die onderwerp (metonymia subjecti) geneem vir die boeke van Moses, wat die leer van die wet bevat, soos in Luk. 24:44.

7. Vierdens word dit is as ‘n deel vir die geheel (sinekdogogies) gebruik, naamlik vir al die boeke van die Ou Testament, soos in Joh. 10:34.

8. Vyfdens, met naamverwisseling van die bepaling (metonymia adjuncti), óf vir die Levitiese bediening (administrasie – slc), soos in Hebr. 7:12, of vir die strengheid en die vloek van die wet, soos in Romeine 6:14.

9. Sesdens, ‘overdrachtelijk’ (metafories?) vir die voorskrif van die natuurlike menslike rede, Rom.2.14.

Konklusie en definisie 

10. Hieruit blyk, dat die wet in die Heilige Geskrifte nie geneem word vir die ewige wet, of die wese (forma) van die rede, wat in die goddelijke gedagte, as ‘n archetipe bestaan nie, maar vir ‘n wettige verordening van God, as die mees volmaakte model, vir die menselike geslag in die tyd afgelei, soos dit op verskillende maniere meegedeel en verklaar is.

11. Ons neem dus aan, deur te bly binne die perke van die Heilige Boeke, die wet vir die tydelike onderrig en voorskryf (informatio ac praeceptio temporaria), waardeur God aan die mens wat na sy beeld geskape is, dit wat met sy reg oreenkom, beveel, dit wat daarvan afwyk verbied, met belofte van beloning, en bedreiging van straf, om hom te buig tot gehoorsaamheid aan sy wil.
_________________________________

Bronne:

Over de wet van God, hoofstuk XVIII, bl. 152-158

Synopsis, deel 1, hoofstuk 1-11

Die Latynse teks van die Synopsis (35mb groot)

One thought on “POLYANDER SE 51 STELLINGS OOR DIE WET VAN GOD (Inleiding & Stelling 1 tot 11)

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: