Calvyn oor wet en evangelie in die boek Romeine
Bron: Johannes Calvyn, Kommentaar – Romeine, in Afrikaans vertaal deur S. Postma:
Nota: kursief wat beklemtoon word is bygevoeg, asook die opskrifte [in hakies] om die hoofpunte te belig wat Calvyn leer oor die onderwerp van wet en evangelie. In ‘n vorige artikel het ek reeds geskryf oor die gevare van die oorwaardering (legalisme/wettisisme) of onderwaardering (antinomianisme) van die wet, wat saam met die verkeerde verhouding van ‘wet en/tot evangelie’ tot baie dwalinge kan lei, gaan lees gerus daardie artikel, spesifiek die inleiding. Calvyn se kommentaar op hierdie paar verse hier onder wil juis die regte pad volgens die Skrif aandui. Die aanhalings is nie altyd volledig nie, daarom dat ek ook aanbeveel om Calvyn se kommentaar op Romeine self te gaan lees en te gebruik. Dit is die enigste kommentaar van Calvyn wat ons in Afrikaans het, saam met sy Institusies wat ookal in Afrikaans vertaal is (sien die verskillende weergawes wat gebruik kan word).
Romeine 3:20,21
… aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig (Rom. 3:20,21)
[Ons kan nie geregverdig (gered) word deur die (onderhouding van) die wet nie, vanweë die mens se sondige korrupsie en verdorwenheid]
… want deur die wet … Hy redeneer vanuit die teenoorgestelde, dat aan ons deur die wet geen geregtigheid gebring word nie, omdat dit ons oortuig van sonde en veroordeling, aangesien die lewe en die dood nie voortspruit uit dieselfde bron nie. Maar omdat hy vanuit die teenoor-gestelde werking van die wet redeneer, dat geregtigheid nie daardeur aan ons bedeel kan word nie, so moet verstaan word dat die argument nie anders kan voortgaan tensy ons dit vashou as ’n onafskeidelike en voortdurende omstandigheid nie, dat terwyl die wet aan die mens sy sonde aantoon, dit die hoop op saligheid afsny.
In sigself is dit ’n weg tot saligheid, omdat dit (ons) tot geregtigheid onderrig, maar ons verdorwenheid en korrupsie verhoed dat dit in hierdie opsig enige nut het. Dit is nou in die tweede plek nodig om by te voeg dat wie ook al as sondaar betrap word, van geregtigheid ontneem word. Dit is naamlik ligsinnig om saam met die sofiste ’n halwe (soort) geregtigheid te versin, te wete dat die werke gedeeltelik regverdig maak. Maar niks word hierdeur bereik nie weens die gebreke van die mens.
[Daar moet onderskei word tussen die ‘werke van die wet’ en die ‘leer van die wet’]
21 Maar nou is die geregtigheid van God … Hierdie geregtigheid dan, wat God ook aan die mens meedeel en as enigste aanvaar en tot geregtigheid reken, sê hy, is sonder die wet geopenbaar. Dit beteken sonder die hulp van die wet: en die wet moet verstaan word as die werke (van die wet). En dit is immers nie van pas om dit te betrek op die leer (van die wet) nie, aangesien hy spoedig dit as ’n getuie van die onverdiende genade aanvoer.
[Geen valse teenstelling tussen wet (OT) en evangelie (NT) nie]
… Daarom beteken dit dat, deur die verkondiging van die evangelie, nadat Christus in die vlees verskyn het, die geregtigheid van die geloof geopenbaar is. Hieruit volg tog nie dat dit voor die koms van Christus verborge was nie. ’n Tweërlei openbaring moet hier in ag geneem word, eerstens van die Ou Testament, wat deur die Woord en die sakramente is, die ander van die Nuwe Testament, wat behalwe die seremonies en beloftes ook die vervulling in Christus bevat, waaraan deur die evangelie ook groter duidelikheid toegevoeg word.
[Die wet is nooit gegee om ons te leer dat geregtigheid deur wetsonderhouding kom nie]
… terwyl die wet en die profete daarvan getuig. Hy voeg dit by, sodat dit nie mag lyk asof in die uitdeling van die vrygegewe genade die evangelie ’n stryd voer met die wet nie. Aangesien hy dus ontken het dat die geregtigheid van die geloof die ondersteuning van die wet nodig het, so verseker hy nou dat dit deur die getuienis daarvan bevestig word. Indien die wet die getuienis gee van die vrygegewe geregtigheid, is dit duidelik dat die wet nie om hierdie rede gegee is, naamlik om mense te leer om vir hulself geregtigheid deur werke te bewerkstellig nie.
[Moses en die Profete leer van die Evangelie, van Jesus Christus as die geseënde saad wat sal kom red]
Derhalwe vernietig hulle dit wat hulle tot sodanige doel verdraai. Verder, as jy ’n bewys vir hierdie uitspraak verlang, ondersoek behoorlik die hoofsom van die leer van Moses en jy sal vind dat die mens aan die begin uit die koninkryk van God verdryf, geen ander (hoop op) herstel gehad het nie anders as in die evangeliese beloftes oor die geseënde saad, deur wie, soos voorspel, die kop van die slang vermorsel sal word en in wie die seëning van die nasies aangekondig word. Jy sal in die voorskrifte (van die wet) ’n aanwysing van jou eie ongeregtigheid vind: uit offerandes en offergawes sal jy leer dat daar genoegdoening en reiniging in Christus alleen is. As jy jou wend na die profete, sal jy die rykste beloftes van onverdiende barmhartigheid vind. Sien daaroor my Institusie.
Romeine 3:31
Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet. (Rom. 3:31)
[Daar moet gewaak word teen ‘n valse teenstrydigheid tussen wet en evangelie]
31 Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet. Waar die wet teenoor die geloof gestel word, gryp die vlees dadelik ’n suspisie van ’n teenstrydigheid aan, so asof die een teenoor die ander staan. Hierdie valse inbeelding kleef inderdaad maklik aan hulle wat deurdronge met ’n verkeerde begrip van die wet, niks anders daarin soek as die geregtigheid van die werke nie, terwyl hulle die beloftes agterweë laat. En op grond hiervan is nie alleen van Paulus maar ook van die Here self onder die Jode sleg gespreek, asof hy in al sy prediking die afskaffing van die wet wou bewerkstellig het.
[Christus vervul die hele wet, maar be-eindig die sermoniële wet, nie die sedelike wet nie]
Vandaar hierdie verklaring: Ek het nie gekom om (die wet) te ontbind nie, maar om te vervul (Matt. 5:17). Maar hierdie suspisie het betrekking gehad op sowel die sedelike as die seremoniële wet. Omdat die evangelie ’n einde gemaak het aan die mosaïese seremonies, word gedink dat dit daarop gerig is om die diens van Moses af te breek. En verder, omdat dit alle geregtigheid van die werke uitwis, word geglo dat dit staan teenoor soveel getuienisse van die wet, waar die Here bevestig dat Hy die weg van geregtigheid en verlossing daarin voorgeskryf het.
[Die sedelike wet word versterk en bevestig deur die geloof in Christus]
Daarom neem ek aan dat hierdie verontskuldiging van Paulus nie besonderlik betrekking het op die seremonies nie, en ook nie alleen op die sedelike voorskrifte (soos hulle dit noem), maar in die algemeen op die hele wet. Die sedelike wet word immers werklik bevestig en versterk deur die geloof in Christus; aangesien dit tog tot hierdie doel gegee is dat dit die mens, nadat aan hom sy ongeregtigheid geleer is, na Christus lei, sonder wie hyself (die mens) nie vervul word nie en sonder wie hy vrugteloos uitroep wat na regte gedoen moet word en sonder wie hy niks kan doen anders as om sy begeerlikheid verder te prikkel nie, en daardeur uiteindelik die verdoemenis oor die mens te vergroot.
[As vrug van die volkome geregtigheid in Christus alleen, volg die heiligmaking waardeur ons van harte die wet (wil) onderhou]
Maar wanneer tot Christus gekom is, word in Hom allereers die volkome geregtigheid gevind, wat deur toerekening ook aan ons toekom. Vervolgens is daar die heiligmaking, waardeur ons harte geformeer word om die wet te onderhou – ’n onderhouding, hoewel onvolmaak, maar wat na die doel gerig is. Soortgelyk is die redenering oor die seremonie wat met die koms van Christus wegval en verdwyn, maar waarlik deur Homself bevestig word. As dit immers op sigself beoordeel word, is dit ydele en skaduagtige beeltenisse, en dan eers word iets blywend verkry, as hulle na ’n beter doel uitsien. Derhalwe is die hoogste bevestiging van die dinge daarin geleë dat geleer word dat die waarheid in Christus volbring is. Daarom moet ons daarop bedag wees om die evangelie so te bedien dat deur ons manier van lering die wet bevestig word, maar met geen ander vastigheid as die geloof wat op Christus steun.
Romeine 6:14
Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. (Rom. 6:14)
[Omdat Christus die wet vir ons volbring het, is ons nie meer onder die heerskappy van die aanklag, verdoemenis en beskuldiging van die wet nie]
Derhalwe beteken om nie onder die wet te wees nie net dat ons nie deur die dooie letter van die wet voorgeskryf word, wat ons in beskuldiging plaas nie, aangesien ons nie in staat is om dit te volbring nie. Dit beteken verder ook dat ons nie langer aan die wet onderworpe is nie, in soverre dit (die wet) ’n volkome geregtigheid vereis en die dood aankondig oor almal wat van enige deel daarvan afwyk. Onder die woord genade verstaan ons op soortgelyke wyse albei dele van die verlossing, naamlik die vergewing van sondes, waardeur God aan ons geregtigheid toereken, en die heiligmaking van die Gees, waardeur Hy ons hervorm tot die doen van goeie werke. Ek is van mening dat die teenstellende voegwoord maar hier geplaas is as redegewend, wat nie selde voorkom nie, so asof gesê is:
Aangesien ons onder die genade is, daarom is ons nie onder die wet nie. Nou sal die betekenis wel duidelik wees. Want die apostel wil ons troos, sodat ons in ons gemoed nie vermoeid sal word in die ywer om die goeie te doen nie, hoewel ons tot nog toe menige tekortkominge in onsself gewaar. Hoe ons ook al immers deur die prikkels van die sonde gekwel word, kan dit ons tog nie onderwerp nie, aangesien ons deur die Gees van God as oorwinnaars gestel word en, eindelik in genade geplaas, is ons bevry van die strenge eise van die wet. Voorts moet hier verstaan word wat die apostel as onweerlegbaar vermoed, dat almal wat die genade van God ontbeer, as vasgevang onder die juk van die wet, onder die verdoemenis gehou word. En daarom kan ons uit die teenoorgestelde redeneer dat mense, solank hulle onder die wet is, aan die heerskappy van die sonde onderworpe is.
Romeine 7:7
Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie. (Rom. 7:7)
[Die skuld van die sonde lê nie by die wet self nie, maar in die mens]
7 Wat sal ons dan sê? … Aangesien daar gesê is dat ons van die wet bevry moet word sodat ons God in die nuutheid van die gees mag dien, wou dit lyk asof hierdie gebrek aan die wet kleef, dat dit (die wet) ons tot sonde aandryf. En omdat dit in die hoogste mate ongerymd sou wees, neem die apostel dit met reg op hom om dit te weerlê. Maar wanneer hy vra of die wet sonde is, verstaan hy dit so: of die wet in so ’n mate die sonde voortbring dat die skuld daarvoor aan die wet toegeskryf moet word.
… ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie … Die sonde is dus in ons gesetel, en nie in die wet nie, want die oorsaak daarvan is geleë in die begeerlikheid van die vlees; ons kom inderdaad tot die kennis daarvan deur ’n begrip van die geregtigheid van God, wat vir ons in die wet uiteengesit word. Jy moet dit egter nie verstaan asof daar sonder die wet geen onderskeid hoegenaamd tussen goed en kwaad bemerk kan word nie, maar dat ons in die raaksien van ons verdorwenheid al te veel afgestomp is, of, terwyl ons onsself vlei, geheel en al sonder verstand
geword het, soos ook hierna sal volg.
Romeine 7:12-14
Dus is die wet heilig en die gebod is heilig en regverdig en goed. Het die goeie dan vir my die dood geword? Nee, stellig nie! Maar wel die sonde, dat dit kon blyk sonde te wees, omdat dit deur die goeie vir my die dood bewerk, sodat die sonde deur die gebod uitermate sondig kon word. Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. (Rom. 7:12-14)
[Daar moet die hoogste eerbied wees vir God se wet]
12 Dus is die wet heilig … Sommige meen dat daar in die woord wet en gebod ’n verdubbeling is; ek stem dit in soverre toe dat ek dink dat daar heelwat krag daaraan onderliggend is. Dit wil sê, die wet self en wat ook al deur die wet voorgeskryf word, is volkome heilig, en moet daarom met die hoogste eerbied bejeën word; dit is regverdig, gevolglik moet dit van geen onregverdigheid beskuldig word nie; dit is goed, gevolglik is dit rein en vry van enige gebrek. So bevry hy die wet van alle beskuldiging, sodat niemand sal waag om daaraan iets toe te dig wat strydig is met goedheid, geregtigheid en heiligheid nie.
[As die wet misbruik word, soos die valse voorstanders, nl. die ongelowige Jode geleer het, ‘n redding deur wet/werke, dan lei dit to verderf]
13 Het die goeie dan vir my die dood geword? … Hy het tot dusver die wet vrygespreek van alle lasterlikhede, maar tog so dat daar steeds twyfel oorgebly het of dit nie die oorsaak van die dood is nie. Ja, die verstand van mense bly in verwarring hierby stilstaan, hoe dit moontlik is dat uit ’n besondere weldaad van God ons niks anders as verderf verkry nie. Gevolglik antwoord hy nou op hierdie bedenking deur te ontken dat die dood daaruit volg, hoewel dit, na aanleiding van die wet, deur die sonde oor ons gebring word. Maar hoewel dit lyk of hierdie antwoord in voorkoms stry met dit wat hy vroeër gesê het, (naamlik) dat hy bevind het dat die gebod wat tot die lewe gegee was, tot die dood verval het – tog stry dit hoegenaamd nie. Hy het inderdaad vroeër te kenne gegee dat dit deur ons verdorwenheid veroorsaak is, dat ons die wet misbruik tot ons verderf, in stryd met die aard van die wet. Maar hier ontken hy dat dit die aanleiding van die dood is, (in dié mate) dat die dood daaraan toegeskryf moet word.
In II Korinthiërs 3:7 spreek hy vryliker oor die wet, waar hy dit die bediening van die dood noem. Hy doen dit egter soos wat dit die gewoonte was in ’n dispuut, en dit sien nie op die aard van die wet nie, maar op die valse siening van teenstanders.
[Sonde is die groot vyand, nie die wet wat goed is nie, die wet ontbloot juis die gruwelikheid van die sonde]
Maar wel die sonde … Sonder om die vrede met ander te skend oordeel ek dat dit gelees moet word soos wat ek dit gestel het, om dan hierdie betekenis te hê: Die sonde word in ’n mate geregverdig voordat dit deur die wet ontdek is, maar wanneer dit deur die aanleiding van die wet openbaar gemaak is, ontvang dit waarlik die naam sonde, en daaruit kom dit te voorskyn as meer misdadig en (as ek so mag sê) meer sondig, omdat dit die algehele goedheid van die wet verander tot ons ondergang.
Dit moet immers ’n erg verpestende saak wees wat veroorsaak dat dit wat andersins van nature heilsaam is, skadelik word. Die betekenis is dat die gruwelikheid van die sonde deur die wet blootgelê moes word, want as die sonde nie in ’n ontsaglike of (soos hulle sê) buitengewone uitbarsting losgebreek het nie, sou dit nie as sonde herken gewees het nie. Hierdie uitbarsting breek daardeur des te hewiger los wanneer dit die lewe in die dood verander. Gevolglik bly daar geen plek oor vir verontskuldiging nie.
[Die wet is ook geestelik in die sin, dat dit die hele mens opeis, nie net die uiterlike nie, maar ook die innerlike, die hart]
… Dat hy verder die wet geestelik noem, dui nie alleen daarop dat dit die innerlike toegeneentheid van die hart opeis, soos sommige dit verklaar nie, maar na die aard van die teenstelling het dit die teenoorgestelde betekenis van vleeslik. Vroeëre verklaarders lê dit so uit: Die wet is geestelik; dit is, dit bind nie alleen die hande en voete ten opsigte van die uitwendige werke nie, maar verplig tot toegeneenthede van die hart, en eis die opregte vrees van God. Maar hier word ’n teenstelling tussen gees en vlees uitgedruk. Dit sal verder genoegsaam uit die verband duidelik word, en dit was reeds vantevore gedeeltelik aangetoon dat onder vlees verstaan moet word: alles wat mense uit die moederskoot meebring. Die mense word vlees genoem na die staat waarin hulle gebore is, en solank hulle hul aangebore aard behou, omdat hulle so verdorwe is dat hulle in niks anders smaak het en niks anders adem as dit wat grof en aards is nie. Daarteenoor word die herstel van die verdorwe natuur gees genoem wanneer God ons na sy beeltenis hervorm. Maar hierdie wyse van spreke kom daarvandaan dat dit die genadegawe van die Gees is wat in ons die nuutheid weer tot stand bring.
Daarom word die suiwerheid van die leer van die wet gestel teenoor die verdorwe natuur van die mens. Die betekenis is derhalwe: Die wet vereis ’n sekere hemelse geregtigheid – soos van engele – waarin geen vlek verskyn nie, en aan wie se reinheid niks ontbreek nie. …
Romeine 10:4
Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo. (Rom. 10:4)
[As jy deur die wet geregverdig (gered) wil word, is jy ‘n valse uitlegger van die wet. Die wet lei ons juis na sy doel/einde/vervulling: Jesus Christus, ons Geregtigheid]
4 Want Christus is die einde van die wet … Vir my lyk dit of die woord voltooiing hier nie sleg sal pas nie, soos ook Erasmus dit met vervolmaking vertaal het. Maar omdat die ander lesing deur byna almal aanvaar word, en dit self ook nie onvanpas is nie, sal lesers wat my betref vry wees om dit te behou. Met hierdie redenering neutraliseer die apostel die beswaar wat hierteen gebring kon word. Want die Jode kon die skyn verwek het dat hulle aan die regte weg vasgehou het, omdat hulle staatgemaak het op die geregtigheid van die wet. Dit was nodig om hierdie valse mening te weerlê, en dit doen hy hier. Hy toon immers aan dat iemand wat daarna streef om deur sy werke geregverdig te word, ’n valse uitlegger van die wet is, omdat die wet hiertoe gegee is, sodat dit ons asof deur ’n hand lei na ’n ander geregtigheid. Ja, wat ook al die wet leer, wat dit ook al voorskryf, en wat dit ook al beloof, dit het altyd Christus tot doel – daarom moet alle dele van die wet op Hom gerig word.
[Die ongelowige Jode het die wet sondig misbruik]
Maar dit kan nie gebeur nie, tensy ons, nadat ons gestroop is van alle eie geregtigheid en ontstel is deur die kennis van die sonde, van Hom alleen die onverdiende geregtigheid begeer. Hieruit volg dat die sondige misbruik van die wet tereg die Jode, wat uit ’n hulpmiddel vir hulleself ’n struikelblok gemaak het, verwyt word. Ja, dit blyk duidelik dat hulle die wet van God skandelik vermink het, deurdat hulle die siel daarvan verwerp het en die dooie liggaam van die letter van die wet aangegryp het. Hoewel die immers loon beloof aan hulle wat die geregtigheid van die wet onderhou, plaas dit tog, nadat dit almal aan skuld onderwerp het, ’n nuwe geregtigheid in Christus in die plek daarvan, wat nie verkry word deur die verdienste van die werke nie, maar ontvang word deur die geloof as ’n vrygegewe geskenk.
[Die wet getuig en wys in al sy dele na Christus]
So ontvang die geregtigheid van die geloof ’n getuienis uit die wet (soos ons gesien het in die eerste hoofstuk). Maar ons het hier ’n belangrike vers, omdat die wet in al sy dele sien op Christus. Derhalwe kan niemand wat nie voortdurend na hierdie doel streef die regte insig daarvan hê nie.
Romeine 13:8-10
Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul. Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet. (Rom. 13:8-10)
[Ware liefde is om die Here se gebooie te gehoorsaam]
… want hy wat ’n ander liefhet, het die wet vervul … Die bedoeling van Paulus is om al die gebooie van die wet tot die liefde terug te voer, sodat ons mag weet dat ons dan op die regte manier die gebooie gehoorsaam wanneer ons die liefde koester, en sodat ons ons nie onttrek aan die dra van enige las wat tot die bewaring van die liefde dien nie. So bevestig hy op die beste manier dit wat hy voorgeskryf het aangaande die gehoorsaamheid wat aan owerheidspersone betoon moet word, en waarin nie die minste deel geleë is in die liefde nie.
[Liefde tot die naaste vloei uit liefde tot God, dus beide tafels van die wet]
… Verder is daar sommige wat hier belemmer word en nie hulself bevredigend uit hierdie moeilikheid kan wikkel nie, naamlik dat Paulus leer dat die wet vervul is as ons ons naaste liefhet, aangesien daar op dié manier geen melding gemaak word van die diens van God nie, wat geensins betaamlik was om weggelaat te word nie. Paulus het egter nie die hele wet voor oë nie; hy praat alleen oor die pligte wat met betrekking tot ons naaste deur die wet van ons geëis word. Maar dit is sekerlik waar dat die hele wet vervul word wanneer ons ons naaste liefhet, omdat die ware liefde teenoor mense nie anders as uit die liefde tot God voortvloei nie, en daarvan ’n getuienis en so ook ’n gevolg is.
[Liefde tot die naaste is die vervulling van die wet]
10 Die liefde doen die naaste geen kwaad nie … Uit die vrug toon hy aan dat wat deur al die gebooie geleer word, onder die liefde saamgevat word. Want hy wat met ware liefde begiftig is, sal nooit in sy gedagte daartoe kom om broeders te benadeel nie. Wat verbied die hele wet anders as dat ons ons naaste enige skade sal berokken? Vervolgens betaam dit om toegepas te word op die huidige onderwerp; want omdat die owerheidspersone die bewakers is van die vrede en die billikheid, sal hy wat begeer dat die reg van elkeen veilig sal wees en dat almal vry van onreg mag lewe, die instelling van owerheidspersone, sover hy kan, verdedig. Maar die vyande van die staat vertoon ’n wellus om skade aan te rig. Dit wat hy egter herhaal, naamlik dat die liefde die vervulling van die wet is, verstaan dit (soos vroeër) aangaande daardie deel van die wet wat betrekking het op die gemeenskap van mense. Die eerste tafel van die wet, wat handel oor die diens van God, word hier immers geensins aangeraak nie.
Romeine 15:4
Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê. En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle die God en Vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik. (Rom. 15:4-6)
[Die OT (insluitende die wet), saam met die NT, het betrekking op Christene se lewens]
4 Want alles wat tevore geskrywe is … Dit is ’n toepassing van ’n voorbeeld, sodat iemand nie mag dink dat dit alte vergesog is dat hy ons aanspoor tot navolging van Christus nie. Ja waarlik, so sê hy, daar is niks in die Skrifte wat nie van belang is vir julle onderwysing en die inrigting van julle lewe nie. Dit is ’n belangrike vers, waaruit ons verstaan dat die openbaringe van God niks onbeduidend en onvrugbaar bevat nie; terselfdertyd word ons ook geleer dat ons deur die lees van die Skrifte vordering maak in vroomheid en die heiligheid van die lewe.
Derhalwe moet ons strewe om alles wat in die Skrif voorkom te leer. Die Heilige Gees word immers smaad aangedoen, as ons sou dink dat Hy iets geleer het wat ons nie aangaan om te leer nie; laat ons vervolgens weet dat alles wat daar geleer word, dien tot bevordering van die vroomheid. Maar hoewel hy oor die Ou Testament praat, moet dieselfde tog aangaande die geskrifte van die apostels opgemerk word. Want as die Gees van Christus oral aan Homself gelyk is, ly dit geen twyfel nie dat Hy sy leer nou deur die apostels, soos vroeër deur die profete, aangepas het tot stigting van sy volgelinge.
Verder word hier op uitnemende wyse die dweepsiek geeste weerlê wat spog dat die Ou Testament afgeskaf is en geensins op Christene betrekking het nie. Want met watter voorwendsel sal hulle Christene afwend van daardie dinge, waarvan Paulus getuig dat dit deur God bestem is tot hulle saligheid?
[Die Here gebruik sy Gees en Woord om ons te bemoedig]
5 En mag die God van lydsaamheid … God word so genoem op grond van wat Hy tot stand gebring het; en dit is heel gepas vroeër toegeskryf aan die Skrif maar in ’n ander sin. Want dit is sekerlik so dat God die bewerker is van die lydsaamheid en die vertroosting, omdat Hy albei deur sy Gees in ons harte instort; tog maak Hy daartoe van sy Woord as instrument gebruik. Hy leer ons immers eers wat die ware vertroosting en die ware lydsaamheid is; en dan ontbrand en plant Hy hierdie leer in ons harte.
En om die eensgesindheid in Christus des te meer aan te beveel, leer hy tot welke mate dit noodsaaklik is, omdat God nie waarlik deur ons geroem word as die harte van almal nie tot sy lof verenig en die tonge van almal nie ook saamstem nie. Derhalwe is daar geen rede waarom iemand kan roem dat hy op sy eie manier eer aan God sal gee nie, want die eenheid van sy diensknegte is vir God so belangrik dat Hy nie wens dat sy eer sal weerklink te midde van twiste en gevegte nie. Hierdie oorweging alleen moes genoegsaam wees om die onsinnige twiste en brutale rusies te bedwing wat tans die gemoedere van baie mense alte veel in beslag neem.”
Leave a Reply