Posted by: proregno | April 16, 2020

TEEN DIE REVOLUSIE, DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS!

TEEN DIE REVOLUSIE, DIE EVANGELIE VAN CHRISTUS!

Die kerk se roeping teen die revolusionêre tydsgees, 

belig vanuit Romeine 12 en 13 

[Hierdie artikel is in 2018 gepubliseer in die VCHO tydskrif, Roeping en Riglyne, en word met erkenning hier ook geplaas. Baiekeer let ons net op die vrugte van die sosio-politiese rewolusie wat die afgelope paar dekades in ons land plaasgevind het, en vergeet van die onderliggende godsdienstige en lewensbeskoulike wortels en stryd wat daar plaasvind, wat alleen met die Evangelie beantwoord kan word as bron van verdere deurgaande reformasie op elke lewensterrein, tot eer van God.]

Inleiding

Suid-Afrika, het die afgelope 3 dekades, sekerlik die grootste revolusie van sy ganse bestaan beleef, daar is geen twyfel daaroor nie, en dit haas op elke terrein van lewe en denke. Niks en niemand word gespaar nie, selfs nie die kerk van die Here nie.

Wat is en moet die gelowige, wat is en moet die kerk se antwoord op die rewolusionêre tye wees? Daar kan maar net een antwoord, of bron van antwoord wees, wat die kerk van die Here se antwoord en dade bepaal in ons revolusionêre tye, en dit is: wat leer God se Woord?

Die eenvoudige en tog so belangrike antwoord, om Groen van Prinsterer, se eie woorde te gebruik: Teen die Rewolusie, die Evangelie!

Daar was en is en sal geen antwoord kan wees vir die kerk se profetiese roeping, as ’n radikale (rewolusionêre?) terugkeer na Christus en sy geopenbaarde Woord nie.

In hierdie artikel word veral gefokus op die rewolusie op die terrein van die kerklike lewe, en wat die antwoord daarop moet wees.

1 Hoe moet ons die revolusie van ons tye verstaan?

Rewolusie word verstaan as ‘n ‘skielike en radikale omslag of verandering … in sosiale of politieke instellings … maar kan ook na groot kulturele of ekonomiese omslae verwys. .. In die politiek word met “rewolusie” gewoonlik die afsetting van ‘n magshebber of regering en/of ‘n plotselinge verandering van politieke verhoudinge en politieke stelsels bedoel.”[1] (Wikipedia inskrywing by ‘rewolusie’)

Groen van Prinsterer het dit as volg verstaan, soos beskryf deur prof. S Du Toit, “Nee, waar dit vir Van Prinsterer oor die Revolusie met ʼn hoofletter gaan, bedoel hy nie ʼn bepaalde voorval uit die verlede nie, maar ʼn blywende gesindheid, waarvan die Franse omwenteling weliswaar ʼn hoogs belangrike, maar tog slegs één gebeure was. Die Revolusie was immers “die stelselmatige omkering van begrippe, waardeur, in die plek van die ordeninge van God, die eiewysheid en willekeur van die mens ten grondslag van staat en maatskappy, van reg en waarheid gelê word”.[2]

In wese is revolusie dus ongeloof.

En dit is presies wat in Suid-Afrika plaasgevind het, dit was ‘n radikale revolusionêre verandering, van ‘n samelewing en maatskappy, wat hoe onvolmaak en gebrekkig ookal, tog burgerlik erkenning gegee het aan twee wesentlike sake:

1 God Drie-enig bestaan, en

2 Hy het sy wil vir die mens geopenbaar in sy Heilige Woord.

Die nuwe revolusionêre SA was in sy wese, nie net ‘n verandering van die politiese en sosio-maatskaplike samelewing nie, nee, dit was ‘n wesentlike gosdienstige, morele, lewensbeskoulike rewolusie wat plaasgevind het, en nou sê:

1 Daar is baie gode wat bestaan langs die ware God, en

2 God se Woord het nie meer die finale en/of enigste gesag vir die hele lewe nie.

Wat plaasgevind het in ons land die afgelope paar dekades, en al meer, kan ook verwoord word deur die woorde van Psalms 2,

1 Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? 2 Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: 3 Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!”

Rewolusie is juis om nié te wil voortbou op die goeie van die verlede nie, maar radikaal daarmee te breek, en dit is wat met die nuwe SA gebeur het.

Om dit anders te stel, nie net die vuil water (sekere verkeerde aspekte van die vorige bedeling) is uitgegooi nie, maar die hele baba (die Christike geloof en lewensbeskouing as basis van die samelewing) is ook verwerp en verruil vir ‘n multikulture humanistiese onchristelike godsdienstige bedeling.

Nie die Here en sy Woord is meer die finale en hoogste gesag in alles nie, maar die mens en sy woord, spreek die laaste finale gesaghebbende woord, deur bv. die humanisties Menseregteleer wat rewolusionêr God se Woord vervang het.

Die wese van rewolusie het plaasgevind in die tuin van Eden, met die sondeval, waar die mens God se Woord verwerp het, self soos God probeer wees het, deur reg en verkeerd te bepaal (Gen. 3), en die gevolge was ‘n sondige rewolusie op elke terrein van lewe en denke, waarvan ons tot vandag toe nog in ons tye sien, lees gerus Paulus se beskrywing in 2 Timoteus 3:1 tot 4:6:

1 die mens se verhouding tot God is rewolusionêr verbreek, sodat die mens in afgodery verval het. Die mens het inderdaad sy eie god geword, en probeer homself en die wêreld red deur sy eie planne en idees.

2 die mens se onderlinge verhouding met mekaar, hetsy in die huwelik, gesin, familie, maatskappy, volkere, ens. is verbreek, en lei tot vyandskap.

Deur al die eeue is daar ’n groot aanslag op wat genoem word die drie skeppingsordes, nl. die rusdag orde (Gen. 2:1-3), die arbeidsorde (Gen. 1:28; 2:15) en die huwelik- en gesinsorde (Gen. 1:26-28; 2:18-25). Alhoewel die aanslag nog altyd daar is, ook reeds in die vorige bedeling, is dit veral in die laaste 3 dekades wat God se skeppingsorde baie meer verag en vergeet word. Al die geweldadige opstande deur werkers in ons land, veragting van gesag op elke lewensterrein, die opkoms van die gay agenda teen die bybelse huwelik, aborsie-moord wetgewing, is net ’n paar voorbeelde getuig alles daarvan.

Die gelowige bevind hom werklik in ’n totaal ander wêreld as ’n paar dekades terug, maar in ’n sekere s’n ook glad nie. Soos die Prediker boek leer, daar is werklik niks nuuts onder die son nie. Die wesentlike probleem van rewolusie, die sondige hart van die mens, asook die antwoord daarop, die evangelie van Christus, bly dieselfde.

Daarom wil ons tweedens kyk wat gelowiges, die kerk van Christus se antwoord moet wees, as ons al meer in tye lewe, waar die fondamente van God se Woord, al meer omgegooi, verag en verwerp word (Ps. 11:3).

2 Die kerk se antwoord op die rewolusie vanuit die boek Romeine

Die heel grootste fout wat die kerk kan maak in rewolusionêre tye, is om te dink hulle kan ’n wesentlike hartsprobleem, antwoord met ’n politieke, ekonomiese, opvoedkundige, sosiale oplossing. Nee, slegs die Evangelie, slegs die Woord kan rewolusionêre ongeloofsharte verander na reformatoriese geloofsharte. En vanuit die veranderde hartsgesindheid, kan dan die oplossings vloei op politieke, ekonomiese, opvoedundige, en alle ander terreine van lewe en denke.Daarom kan ons onderskryf wat prof. dr. HG Stoker in die eerste helfte van die 20ste eeu geskryf het, en mag dit waar word vir ons tye (beklemtoning bygevoeg):

Nieteenstaande hierdie agteruitgang glo ek nog dat daar ‘n kern van ons volk is wat aan sy verlede ten volle trou bly en in die regte rigting voortbou.  Ek glo nog dat daar ‘n tyd sal kom waarin God ons volk sal wakker skud tot ‘n stryd wat die so nodige antitese sal skep en die toegedekte antitese, die dubbelslagtige en dubbelhartige karakter van die sinkretisme, sal ontbloot en daardeur vernietig – ‘n stryd wat noodwendig op kerklike en godsdienstige terrein sal moet begin omdat die Calvinisme die geestelike wortel van ons volksbestaan is.  Ek glo dit omdat die taak wat God aan ons volk hier in Suid-Afrika en ten bate van die hele Afrika gestel het, nog lank nie afgehandel is nie, ‘n taak waarin die stryd tussen Oos en Wes ‘n sentrale rol gaan speel. Dat God ons volk roep, blyk duidelik uit die roeping van ons volk in die huidige wêreldverwarring.”[3]

Gelowiges en kerke onder al die volke van ons land kan nie bepaal wat die ongelowiges en rewolusionêres gaan doen nie, maar ons kan by onsself, ons gesinne en gemeentes begin, en teenoor die rewolusie stel: terug na Christus, terug na die Woord, terug na die Evangelie!

Ons as kerk se grootste gevaar bly die oorblyfsels van revolusie in ons eie harte! Ons moet waak om midde ‘n vervalle revolusionêre wêreld, te begin redeneer: almal tree revolusionër op, so ek sal ook so bietjie revolusionêr wees, dus my denke en optrede nie laat bepaal deur God se Woord nie, maar die tydsgees en omstandighede.

Te begin redeneer, bv. my gesin moet eet, laat ek die kwaad oorwin met minder kwaad.

Dit is mos die Here wat hierdie moeilik omstandighede oor my en ons lewenspad bring as kerk en gelowiges, so as ons so bietjie onreg/korrupsie pleeg, sal Hy mos verstaan?

Ja, dit is nie maklik nie, die versoeking is groot, maar gelowiges mag nie so redeneer en begin leef nie !

Dit is wat Paulus die gelowiges in Rome leer, en ook vir ons vandag, uit die boek Romeine, veral hoofstuk 12 en 13.

Paulus skryf aan die gelowiges, die gemeente in Rome, oor die Evangelie, die goeie nuus van Jesus Christus, wat volgens 1:1-4 tevore beloof is in die OT geskrifte.

Hy skaam hom nie oor die Evangelie nie, want dit is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo, 1:16.

Ja, alle mense het gesondig en gaan verlore, behalwe hulle wat kragtens die Here se genade, deur die geloof in Christus gered word.

Ja, die Here se uitverkore kinders, die kinders van die belofte, Romeine 9,

behoort aan sy kerk en sy koninkryk, kragtens sy genadige uitverkiesing in Christus en sal danksy die Here se genade nooit verlore gaan nie.

En as Paulus dan hierdie waarheid van die verlossing van God Drie-enig regdeur

die Skrifte, die genadeverbond, die Koninkryk van God leer, dan kom hy nou in Rom.12 en verder, wat vir ons die antwoord gee op die rewolusie vandag.

Die gelowige, die kerk van die Here word opgeroep om in dankbaarheid vir hierdie groot verlossing te lewe, deur nie gelykvormig te word aan hierdie afvallige sondige wêreld se denke en leefwyse nie.

Dit beteken wesentlik om in hierdie wêreld nie meer volgens ons revolusionêre harte of tydsgees te leef nie, maar radikaal bybels en reformerend.

Ons leef nou volgens die Here se volmaakte wil – sy Woord deur die Gees – te lewe.

Ja, die gevaar was vir gelowiges daar in die eerste eeu, maar ook vir ons vandag, om te begin dink: ek behoort nou aan die koninkryk van God, aan Christus, en daarom het geen ander mens of instelling enige gesag of mag oor my nie.

Die kerk behoort aan Christus, ons is in sy koninkryk,  en het niks met hierdie wêreld te doen nie, kan ons dalk begin dink.

Ja, ons hoef ons veral nie aan die heidense owerhede en magte, te onderwerp nie, ons is mos nou vry, ook vry van die wêreld hier en nou?

En dit is juis hier waar Paulus dan die gelowiges, die kerk van die Here, ook sy kerk deur die eeu en ons aanspreek, ook vir ons !

Ja, hy wil ons hier leer, in die boek Romeine, veral hoofstuk 12 en 13, ons is nie van die revolusionêre wêreld nie, 12:1,2 (sien ook Joh.17:16), waar wel nog duidelik in hierdie wêreld.

Ons leef as kinders van die koninkryk, nog midde hierdie wêreld se koninkryke met al sy revolusionêre opstand.

Ons redding beteken nie dat ons nie ook nog burgers van ’n land is nie.

Gelowiges, en die kerk van die Here, is anti-revolusionêr.

Ons soek in die hele lewe die herste van gesag op alle terreine, bo-alles God se gesag.

Net so min as wat my redding nie bv .my geslag of volkskap vernietig nie, so vernietig dit ook nie die werklikheid van my burgerskap aan ’n samelewing nie.

En daarom wil Paulus deur die Gees ons hier in Rom.12 en 13 leer, hoe ons moet lewe, en in Rom.12:9-21 leer ons die reformatoriese anti-revolusionêre lewe, as vrug van die hart wat wedergebore is deur die Evangelie van Christus (Rom. 3-11):

– Die gelowige gemeenskap leef in liefde, betoon eer aan mekaar en die naaste,

– Die Here word vurig saam gedien, ons lewe in die hoop, al is daar revolusionêre verdrukking,

– Ons lewe in gebed.

– Ons versorg mekaar na gees en liggaam met die geestelike en tydelike middele.

– Is gasvry teenoor mekaar en ons naaste, in ’n liefdelose revolusionêre wêreld.

– Ons moet nie verbitterde wraakgierige mense wees nie, ons moet vrede najaag, dit is ons taak as kerk van die Here.

– Ons het die troos dat die Here sal alle onreg oordeel, die Here sien alle onreg van ons tye, en sal vergeld,

– Ons roeping bly dieselfde, in alle tye, ons siek die eer van God en die heil van ons naaste, in die Evangelie, dit is om waarlik bybels ‘revolusionêr’ ons tye te wees.

Ons erken ook dat die Here burgerlike owerhede daargestel het, Rom.13:1-7,

Paulus leer ons hier, in die konteks van die res van sy brief,

dat ons redding in Christus, leer ons juis om gesag en mag oor ons,

ook deur ander mense te aanvaar TER WILLE VAN DIE HERE.

Dit is sy wil, hoe ons nou moet lewe, deel van die oproep van Rom. 12:1,2,

in kontras met ons tye wat revolusie beide buite én binne kerke aangeblaas word.

Deur die eeue was daar vergrype na beide kante:

a) Gelowiges wat hul nie onderwerp aan burgerlike owerhede nie, ons is nou vry in Christus, ons lewe nou onder ’n nuwe wet en geen mens sal oor my gesag uitoefen nie, wat vloei uit ‘n verkeerde revolusionêre mensbeskouing wat meen gelowiges is perfek in hierdie lewe, en het nie gesaginstellings nodig om die sonde te onderdruk nie (sien NGB art. 36 se eerste sin)

b) Die ander uitsterste is weer hul wat meen, die owerhede is deur God aangestel, en ons moet hul absoluut gehoorsaam wees in alles, hulle is goddelik, ‘n blanko tjek benadering. Die dwaling van die “absolute goddelike reg van konings”, wat lei na mesiaanse staatisme, die staat kan niks verkeerd doen nie, hulle sal ons red hier op aarde, vir ons in alles sorg. Ons moet net bid, hul seën.

Nee, as ons mooi en aandagtig luister na God se Woord hier en in en ander plekke, is dit baie duidelik dat hier word geleer, beide:

– die gelowige, kerk, se taak en roeping ten opsigte van hoe om gesag oor hul te aanvaar, spesifiek die burgerlike owerhede se gesag, én

– dat die burgerlike owerheid ook moet besef Wie hul aangestel het, en wat hul taak behoort te wees teenoor die Here en die burgers van ‘n land.

Die fokus is hoe die gelowige teenoor die burgerlike owerhede moet staan,

maar Paulus se skrywe behels ook, wat behoort die burgerlike owerheid te doen, dus albei sake. En dit is wat die kerk moet verkondig, preek, leer teen en in ons revolusionêre tye, teenoor daardie marxistiese en humanistiese sienings van die burgerlike owerhede.

Ons leer uit Romeine 13:1-7,

1 Elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom aangestel is, dus, nie net ongelowiges nie, maar ook ons – ook elke gelowige, ook elke kerk, ons aanvaar in beginsel die owerhede wat oor ons aangestel is.

2 Hoekom, omdat, God die owerhede en magte ingestel het, dit is die wil van God dat daar owerhede sal wees wat oor ons regeer in die samelewing.

3 So, as ons die gesag en mag van die owerheid verwerp, ons nie wil onderwerp nie, dan verset ons ons teen God se goeie en volmaakte wil,

In vers 2, sien ons, die burgerlike owerheid is ’n instelling van God, nie deur die mens uitgedink nie, maar deur God gegee.

In vers 5 word hy ook ’n dienaar van God genoem, in God se diens.

En as jy opstandig dit verwerp, gaan jy die oordeel ontvang, nie die ewige oordeel nie, maar die gevolge van jou wetsoortreding.

4 Gelowiges moet die beste burgers wees van die land, hulle moet evangelies, bybels en anti-revolusionêr lewe midde ’n wêreld wat as’t ware alle gesag verwerp en verag.

Dit wat ons geleer het in 9:9-21, ons hou aan die goeie te doen, nie die slegte nie.

En onthou, die goeie en die slegte word vir die gelowige en die kerk bepaal,

nie deur die revolusionêre tydsgees nie, maar deur God se Woord oor die algemeen,

en spesifiek sy Wet (sien bv. Rom. 3:31; 7:12; 13:8-10).

5 Gelowiges en kerke moet bewus wees van die burgerlike owerhede se taak en roeping, sien vers 4.

Die burgerlike owerheid, soos ons bely in NGB art.36 is daar om uiterlik, in die openbaar, die wet en orde te handhaaf in die samelewing.

En die tugmiddel wat hul ontvang het, het ons van gelees in Rom.13:4,

Romans 13:4  4 want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf.

“Die swaard” is gevaarlike wapen, om te beskerm, om doodstraf toe te pas.

Die burgerlike owerheid se taak is nie om die kerk se taak oor te neem nie, of onderwys, ekonomie, welsyn, gesondheid, ens. te bepaal nie.

Nee, hul taak is wet en orde en alles wat daarmee gepaardgaan.

Die gelowiges en kerk moet getuig teen die messiaanse staatsidee wat god op aarde probeer wees, die burgerlike owerheid het ’n beperkte taak volgens God se Woord.

Die burgerlike owerhede moet nie aanbid word nie, moet ook nie revolusionêr verwerp word nie, maar gereformeer word deur sy Woord.

Ons moet bid vir die burgerlike owerhede en owerheidspersone, soos Paulus in 1 Tim.2 en Petrus in 1 Petr.2 ons oproep,

Ons moet hul gehoorsaam wees in soverre hul nie van ons vereis om self God se wet te oortree nie, wat Hand.4:19 en 5:29 ons leer.  

En, belangrik, ons moet aanhou profeties getuig dat elke gesagsdraer, en dus ook die regters en konings van ons tyd, moet buig en God se gesag bedien, sy wette:

Psalm 2:10-12  10 Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!  11 Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.  12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!

Elke terrein van die lewe moet volgens God se Woord ingerig word, die kerk moet verkondig dat die gelowiges, in die amp van die gelowige, die heerskappy van Christus orals sal verkondig.

En dit begin -baie belangrik – met elke gelowige wat homself onderwerp aan die gesag wat oor hom aangestel is.

Dit begin met elke gesin, wat ’n gemeente en staat in die kleine is.

Dit begin met gemeentes wat hul afsonderlik en gesamentlik onderwerp aan die Here se Woord, onvoorwaardelik.

Onthou, geen instelling, geen tugmiddel kan ’n mens red of wesentlik verander nie.

Dit is alleen deur wedergeboorte wat die mens se natuur kan verander, ogv die bloed van Christus.

Dit is die ware bybelse ‘revolusie’ wat nodig is om hele lewe, ons land te red !

Maar as geredde moet ek dan verder gaan, en in dankbaarheid my hele lewe onder die dissipline bring van die verskillende gesagsterreine, soos geopenbaar in die Woord.

Dit is alleen soos individue, gesinne, gemeentes en gemeenskapp al hoe meer bevry word van die revolusiegees, en deur die Here se Gees en Woord gered, geheilig en gereformeer word, dat ons land en al sy volke kan verander, en daar weer hoop is vir ons.

In Christus word ons weer herstel om onderdanig te wees, en nie meer revolusionêr te wees nie.

Dit help nie ons verwag van die samelewing en die owerhede om nie revolusionêr te wees nie, maar ons eie lewens, ons huwelike, ons gesinslewens is revolusionêr opstandig teen God se gebod nie, of hoe?

Hier is ’n paar vrae van selfondersoek, wat die kerk moet preek teen die revolusiegees:

– is ons huwelik saam en afsonderlik onderworpe aan God (Ef. 5:20, 21) ?

– is ek as man onderworpe aan God en sy opdragte aan my (Ef. 5:25-33)
– is ek as vrou onderdanig aan my man wat die Here oor my aangestel het (Ef. 5:22, 23)

– is as ek kind onderworpe aan die ouerlike gesag wat die Here oor my aangestel het (Ef. 6:1-3) ?
– is ons as ouers onderworpe aan die Here se gesag (Ef. 6:4) ?

– is ek as werknemer of werkgewer onderworpe aan die gesag wat die Here my gestel het op arbeidsterrein (Ef. 6:5-9) ?

– onderwerp ek my aan die gesag van die ouderlinge wat die Here oor my aangestel het (1 Tim. 3-5; Hebr. 13:17) ?
– onderwerp ons ons aan die burgerlike owerhede wat oor ons aangestel is (Rom. 13:1-7) ?

Net so revolusionêr sondig en verkeerd dit gaan wees as die burgerlike owerheid land gaan begin steel, netso revolusionêr verkeerd is dit as ek ’n ander man se vrou gaan steel, of as ek die Woord van my gesin weerhou, of as ek weier om die eredienste by te woon, of my bydrae te lewer aan die Here wat Hy vra, of toelaat dat ons jongmense in stryd met God se wet lewe buite die eg, ens.

Laat die kerk ook verkondig dat dit alleen in Christus is wat enigste hoop is teen ons eie revolusionêre harte.

Christus alleen bring hoop vir die ewige, én hierdie lewe.

Ons kan nie oorwin, in ons eie krag nie, maar juis oorwin in die krag van Christus.

Daarom, laat ons leuse wees, as gelowiges afsonderlik, en kerke saam:

Teen die revolusie, die Evangelie!

________________________________________

[1] https://af.wikipedia.org/wiki/Rewolusie

[2] http://vcho.co.za/wp-content/uploads/2018/01/Wat-is-Revolusie-Van-Prinsterer.doc

[3] https://proregno.com/2010/02/04/calvinisme-as-wortel-van-ons-volksbestaan/


Responses

  1. Puik artikel en uiters relevant.

  2. Wat in Suid-Afrika gebeur het sy wortels vêr in die geskiedenis van die westerse wêreld. Daar is te veel wat mens hieroor kan sê. Net ‘n paar lyne.

    Sedert die helfte van die 19de eeu is die kleed van die romantisme afgegooi. Die mens praat openlik teen die hemel. Langs die goddelike tuin, waaruit die mens verdryf is, sal hulle ‘n nuwe een tot stand bring. By die ingang daarvan sal ek die ‘Vooruitgang’ opstel, sê hulle. In sy hand sit ons ‘n swaard. God mag nie in ons ‘tuin’ kom nie. En so begin die mens die menslike samelewing bou. Die ongeloof deur die rewolusie tot stand gebring, deins vir die konsekwensies daarvan nie terug nie. Vir hierdie samelewing is God ‘n lastige faktor, ‘n bedreiging vir die ware humaniteit.

    In die nuwe tuin is: Gemeenskap, eenheid, magskonsentrasie – dit bly die doelwit van die rewolusie. Kan ‘n republiek dan sommer oorgaan in ‘n diktatuur? Hoe kry ‘n diktator voet aan wal by ‘n volk wat fanatiek teen dit is? Hulle is mos juis krities teen die diktatuur? In teendeel,elkeen staan sy stukkie mondigheid af per stembriefie. Voortaan geld net die stem van die volk, soos Groen van Pristerer beklemtoon het. Heerskappy deur God is onverdraaglik, maar in naam van die volk is self tirannie ‘n bekroning.

    Die styl van die rewolusie het oor die eeue nie verander. Dit ontwikkel in die verlede en werk deur tot in die hede. Ook in die 20ste eeu is die droom van die ‘rede’ gedroom, al het die ideale daarvan monsters voortgebring soos bv. wêreldoorloë en vele meer. Ons tyd word eensdeels gekenmerk deur medemenslikheid, en andersdeels die van miljoene wat vermoor word. ‘n Tyd van ongekende mediese sorg – en tog word miljoene ongebore babatjies vermoor. Dit is ‘n tyd waarin, aan die een kant baie moeite gedoen word om die jeug te skool, maar aan die ander kant word fanatiek die gesinslewe ondergrawe deur die gelykstelling van die vrou met die man in alle beroepe.

    Die samelewing bou sy ‘tuin’ op die deug. Maar waarop word dit gefundeer? Dir is ‘n bousel op sand. Nietsche, het teen die einde van die 19de eeur dit reeds raakgesien. Daarom sê hy, dis naïviteit. Asof moraal sal oorbly as God uitgewerp is uit die samelewing. As God nie bestaan? Wie bepaal wat is goed en kwaad?

    “Eendrag maak mag” was die leuse van die ‘Afrikaner’ tydens die Engelse oorlog. In die eendrag is die Waarheid egter gekompromiteer. Van die reformasie deur die ontstaan van die ‘Dopperkerk’ is daar 100 jaar later byna niks oor nie. Net 3 susterkerke, met gevolge tot vandag. Die kerk is versnipper tussen vele denominasies. Die Afrikaner verdeel tussen liberalisme tot enge nasionalisme.

    Intussen is ons in die 21ste eeu. Die skok van teleurstellings uit die 20ste eeu lui die post-modernisme in. Die mens aanvaar dat daar geen vaste waarheid, geen norme meer is nie. Die konsekwensie is een van onverskillige wanhoop: Laat ons eet en drink, want more sterf ons.

    Die hedendaagse politiek in Suid-Afrika lewer geen sekerhede nie. Ons stryd van vroeër was futiel. Ons het waardes aangehang en daarvoor ons jong manne se lewens gegee. Nou lyk dit vir baie van ons dat ons waardes net so ‘waar’ was as die van die ANC.

    Teen die Rewolusie die Reformasie! Maar hoe? Stel ons ons hoop op ‘n geloofsherlewing onder die Afrikaner? Mag God reformasie gee in ons hele land. Die Woord van God is tot genesing van die nasies.

  3. […] wat ek reeds geskryf het in my vorige artikel nie, maar wil dit tog aanbeveel om dit eers te lees (Teen die Revolusie, die Evangelie van Christus! – Die kerk se roeping teen die revolusionêre …) voordat u hier verder lees, sodat u asb. sal hoor wat ek van albei kante wil sê.  Slegs een […]


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: