DIE HERE BRING DIE VIRUS TYE OOR SY KERK OM TE SIEN WIE VREES EN VERTROU ONS WERKLIK
“En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Deut. 8:3)
“Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Matt. 4:4)
Die burgerlike owerheid het besluit vanaf 1 Junie is die land op vlak 3. Daar het ongelukkig absoluut niks verander vir die kerke nie. Die president se toespraak kan in een sin saamgevat word:
Drankwinkels is nou weer ‘n essensiële diens wat onder ‘streng voorwaardes’ mag aangaan, graad 7’s en graad 12’s kan nou weer skool gaan en is ‘n essensiële diens …. maar die Here se kerk, die eredienste Sondae, die bediening van die evangelie is nie ‘essensiële dienste’ nie, daar is nie plek vir die kerk van die Here in krisistye nie, nie eers onder dieselfde ‘streng voorwaardes’ wat winkels, ondernemings, skole, drankwinkels, ens., geniet nie.
‘n Mens kan dit egter van ‘n humanistiese onchristelike owerheid verwag, dat die kerk, die evangelie, die Here vir hul niks of maar min waarde en betekenis het.
MAAR, wat van die kerk van die Here?
Dit wat nou plaasvind, nl. dat die Here se kerke nie mag saamkom nie, is net die simptoom van ‘n baie groter en wesentliker probleem van die kerk (wat al dekades kom, myns insiens, vandat gereformeerdes de facto die koninkryksbeginsels van onder andere NGB artikel 36 verwerp het, HK Sondag 32-44 verwerp het), en daardie groter krisisprobleem is dat ons kerke nie net die vierde gebod versaak het nie (die eerste tafel van die wet), maar ook en veral die eerste drie gebooie, sien veral HK v/a 95:
Vraag 95: Wat is afgodery?
Antwoord: Dit is om in die plek van die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar, het, of naas Hom iets anders uit te dink of te hê waarop jy jou vertroue stel.
Die owerheid is slegs een van God se gesagsliggame wat die Here daargestel het (Rom. 13:1,2 sien die woord ‘magte’ in meervoud), langs die gesin, kerk, ens. Die owerheid het (in die verlede al) en is veral nou besig om alle gesag en mag oor te neem, ook die kerk s’n, om god op aarde te probeer speel = ‘n messiaanse staat of messiaanse staatisme. Hul beperk hul nie tot hul terrein van ‘wet en orde’ nie, wat hul in elkgeval glad nie goed uitvoer nie, as mens kyk na die misdaad en moord statistiek van ons land. Dit is nie aan die owerheid gegee nie, maar aan die kerk (die ouderlinge) op hul terrein, die kerklike terrein, wat moet besluit of daar eredienste is of nie, en dit ook en veral in enige tyd van krisis, plaag of moeilike omstandighede.
‘Kerk en staat’ moet langs mekaar saam regeer onder God, nie die een oor die ander, soos nou nie. Wat tans aangaan, is humanistiese marxistiese Staatisme (sien hier die tien kenmerke van staatisme), waar die staat probeer doen wat ander gesagsinstellings van die Here en lewensterreine (veronderstel is om) te doen en oor besluite neem. Die huidige staat heers verkeerdelik oor die kerk van die Here en die hele lewe van ons land, asof hul god op aarde is waaraan alle mense afhanklik moet word, ook nou met die ekonomiese krisis wat ons in die gesig staar. Slegs die Here het absolute gesag en mag oor alle terreine van die lewe, nie die kerk of die staat of enige ander gesagsinstelling nie. Alle regeringsvlakke, persoonlik, gesin, gemeente of burgerlike regering is beperk. Dit is tragies as ‘n land, volk en veral die kerk, nie eers besef watter groot slawe ons van die staatisme geword het nie (onwillig baiemaal, maar baiemaal ook vrywillig), en ons mense onderwerp aan net nog meer en meer slawerny van die staat, en dit alles sogenaamd in die ‘naam van die HERE en die Woord’, deur ‘n eensydige en/of verdraaide verklaring van Romeine 13 en ander Skrifgedeeltes.
Die corona-virus en die Here se voorsienigheid
Ek glo in die Here se voorsienigheid, gebruik Hy ook hierdie virus om te wys wie vrees en vertrou sy sigbare kerk werklik in ons tye, in die woorde van Deut. 13:3, beproef die Here ons ‘of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel.’ Die Here wil sien of sy kerke, hulle wat sy Naam bely, werklik lewe van die Woord wat uit sy mond gaan, nie net die (eensydige) aanhang van die 5de en 6de gebod nie, nie net die tweede tafel nie, maar ook die eerste, tweede, derde en veral vierde gebod in hierdie tye, dus ook die eerste tafel, soos ons Here en sy Seun ons leer:
“En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.” (Dt 8:3)
Op hierdie stadium lyk dit asof die kerk van die Here bloot net van brood en vrees lewe, net tweede tafel sake is ons oor bekommerd, Spr. 29:25, wat die staat sê, doen en gee, is absolute wet wat in detail uitgevoer word …. maar nie God se wet van aanbidding op sy rusdag nie? Die Koning van die Kerk, Jesus roep ons egter op om te , ‘lewe (van) elke woord (dus ook die eerste tafel, dus ook die eerste, tweede, derde en veral vierde gebod in ons tye) wat deur die mond van God uitgaan” (Matt. 4:4).
Daar is al meer getuienis van kerke en ander instansies aan die owerheid wat besig is om uit te gaan, om die owerheid op te roep om die Here se kerk te laat gaan om Hom te aanbid soos Hy beveel (Ex.5:1-8; Hebr. 10:25), en dit is goed so, doen so voort, tydig en ontydig. Maar onthou, dit spreek net die saak korttermyn aan … totdat ….. die volgende ‘ramp, plaag, pandemie, gevaar’ of wat ookal ons tref … en dan maak die owerheid weer die kerke toe vir maande, dalk jare …. en so bly ons slawe van die staat en ‘n valse heer, in stryd met die vryheid wat ons ontvang het in Christus vir elke terrein van lewe en denke.
Daarom moet die belangriker langtermyn onderwerp ook baie aandag geniet in ons tye: dat veral gelowiges en kerke sal besef en dit aan mekaar en die owerheid moet oordra: dit is nie aan die burgerlike owerheid gegee deur die Here om te besluit wanneer kerke ‘mag oop en toegemaak’ moet word in enige tye nie, die kerk besluit self daaroor in die lig van die Skrif, in die lig van hul Koning se stem (Joh. 10:27; Hand. 17:11) deur die gesag wat die Here daargestel het vir sy kerk, die ouderlinge (1 Tim. 3; Tit 1; Hebr. 13:17).
Mag die Here ons krag en wysheid gee, verootmoediging voor Hom vir uitkoms, en om te staan by ons ongetwyfelde Christelike geloof.
Beide kerk en staat moet dus opnuut opgeroep word tot bekering tot die enigste Koning, Jesus Christus, wat Koning is van beide die kerk en die wêreld:
“Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil” (Ps 2:10–12)
Ons bely juis nou, in hierdie tye opnuut, ons opgestane Koning en Heer, Hy is nié meer in die krip of aan die kruis nie:
“…wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.” (Ef 1:20–23)
Leave a Reply