PREEK EN BESINNING: Psalms 120-122 Ons Hulp is nie van die Staat nie, maar van die HERE wat Verlosser en Koning van sy Kerk is

PREEK EN BESINNING: Psalms 120-122

Ons Hulp is nie van die Staat nie, maar van die HERE

wat Verlosser en Koning van sy Kerk is

In hierdie skrywe wil ek graag almal wys op drie sake vir die begronding van die volgende oortuiging:

Die burgerlike regering/owerheid/staat mag nie bepaal wanneer of hoe die Kerk van Christus publieke eredienste hou nie

Die burgerlike regering, of enige ander instelling, die mediese-, ekonomiese-, politieke wêreld, ens., kan vir die kerk van die Here al die ‘feite en statistieke’ gee oor ‘n bepaalde pandemie, en dan versoek of aanmoedig dat die regeerders wat deur God aangestel is op die kerklike terrein (die kerkrade van plaaslike gemeentes, Rom. 13:1-2; 1 Tim. 3; Tit. 1), om te besluit – in die lig van die Skrif (Hand. 17:11) – wanneer is dit ‘te gevaarlik’ om eredienste te hou of nie, en/of onder watter nodige voorsorg maatreëls kan en moet die publieke eredienste voortgaan of nie.

1. Die ‘saving lives’ statistiek argument as begronding om nie publieke eredienste te hou nie, lei daartoe dat ons tans en dalk nooit weer dan kan publieke eredienste hou in ‘n misdaadgeteisterde gevaarlike SA wat baie lewens eis nie.

Die argument ten gunste van die verbod op die ‘onderlinge samekomste’ (Hebr. 10:25) van gelowiges, lei as volg:

“Dit is gevaarlik om Sondae kerk saam te hou in covid-19 tye, want dit kan daartoe lei dat ons mense aansteek, wat tot hul dood kan lei, en so oortree ons die 6de gebod, en ‘vermoor’ ons so mense… “kyk net na wat gebeur het met die Buchan byeenkoms baie aangesteek het”

Goed, so as kom ons kyk na die Covid-19 sterftes, die statistiek na 2 maande, en ons sluit sommer alle statistiek in, ongeag waar mense aangesteek is:

264 dood vanaf Maart (?) tot vandag, 18 Mei 2020.  Dus so 5 mense per dag wat sterf (ek verwelkom enige detail statistiek wat nog meer akkuraat is, ek werk met afgeronde getalle)

Nou, aangesien ons besig is met “saving lives” (as dit die president en ook kerke se groot prioriteit is, die 6de gebod, om ook nie publieke eredienste toe telaat of nie te hou nie), moet ons kyk hoe ons nog meer lewens kan red deur beide kerkdienste, baie kerklike aktiwiteite en die ekonomie te stop daarvoor.

Die statistiek help ons weereens:

Moorde-statistiek van verlede en hierdie jaar:

Maart – April 2019: 152 000 moorde

Maart – April 2020 in Covid-grendelstaat: 430 moorde.

Sien: Crime levels before South Africa’s lockdown – and what they look like now

Dus, die covid-19 grendelstaat ‘saving lives’ het vir kerk en ekonomie in 2020, ‘n 72% daling in moord gebring.

Dus, sou die ‘saving lives’ argument alleen bepaal, of sentraal bepaal of daar fisiese kerkdienste is of nie, dan beteken dit daar nou eintlik nooit weer kerkdienste moet wees nie, want SA leef permanent in ‘n misdaad geteisterde land vol baie gevare, ook gevare om kerk toe te gaan Sondae, veral aanddienste.  Gevare vir al ons mense, of dit in die stede of dorpe is.

Die ‘saving lives’ 6de gebod alleen motief moet dus daartoe lei dat daar ge-eis word, in lyn met die 6de gebod, dat daar geen meer fisiese publieke kerkdienste gehou word nie, want ons medepligtig wees aa die ‘vermooring’ van dierbare lidmate wat teen duidelike statistiek, hul lewens waag om kerk toe te gaan van Sondag tot Sondag nie…

Gaan die voorstaanders hierdie logiese gevolg van hulle ‘geen eredienste nou in covid-19 tyd’ en/of ‘kom ons hou eerder virtuele eredienste om die 6de gebod na te kom’ ten volle aanhou uitvoer, want die ‘statistiek’ wys mos ons kan nie meer die tradisionele publieke fisiese kerkdienste hou nie?

2. Preek: Ons Hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het en vir ons na liggaam en gees sorg, ons hulp is nie in die messiaanse Staat wat god op aarde probeer speel, veral nou, nie.

God se bevel aan sy volk, sy kerke, om ‘saam te kom’ om Hom te aanbid en te loof en te prys, dus die eerste tafel van God se wet (in die besonder die 4de gebod), moet saam met die tweede tafel (in die besonder die 5de en 6de gebod) in ag geneem word oor die besluit van die Here se publieke eredienste wat moet voortgaan.  Sien ook wat ons glo en bely volgens die Skrif in HK Sondag 9, 10 en NGB artikel 36.

Lees: Ps. 120, 121 en 122 asook 2 Tim. 4:6-18.

Teksverse: Ps. 121:1,2 & Ps. 122:1-4.

’N BEDEVAARTSLIED. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.” (Ps 121:1–2)

’N BEDEVAARTSLIED. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die Here gaan! Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! Jerusalem wat gebou is soos ’n stad wat goed saamgevoeg is, waarheen die stamme optrek, die stamme van die Here—’n voorskrif vir Israel!—om die Naam van die Here te loof.” (Ps 122:1–4)

En die Here sal my verlos van elke bose werk en my red om in sy hemelse koninkryk in te gaan. Aan Hom die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.” (2 Ti 4:18)

Preekopname (GK Carletonville: 17 Mei 2020):

Aflaai: Ons Hulp is van die HERE, nie die Staat nie

Oorsig:

In die eerste deel van die preek lê ek die fondamente van ons Hulp, in lewe en sterwe, in liggaam en siel (HK Sondag 1) is van die HERE alleen, ons Vader se redding en sorg in Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees vir alle tye en omstandighede (HK Sondag 8-10), onshulp is nie onsself ander mense of enige instelling op aarde nie.

Veral vanaf die 42ste minuut en verder, wys ek vanuit Ps. 122:4 (‘n baie belangrike vers vir ons ‘covid-19’ tye), op verskillende implikasies van God se Woord op die vraagstuk: “Mag die burgerlike owerheid God se ‘voorskrif … om die Naam van die HERE te loof’, dus om publieke eredienste te hou (“ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! … Hebr. 10:25, sien die Skrifgedeeltes hier onder by nr. 3), teengaan, as’t ware God se bande stukkend ruk, Ps. 2:1-3, deur die Here se ‘samekomste’ te verbied?  Mag die 5de of 6de gebod gebruik (misbruik?) word om God se eerste tafel van die wet, veral die vierde gebod uit te kanselleer, om die Here se kerk en eredienste eenkant op die ashoop te gooi, of eenkant toe te skuif as onbelangrik of as ‘n ‘non-essentail service’ te besou en te behandel?

Wat van die eer van God, wat van die publieke ‘ere’dienste tot eer van God wat Hy beveel het, wat van sy Naam wat oor die ganse aarde gehoor moet word, elke dag, maar in die besonder op die dag wat Hy daartoe bepaal het wat sy volk in die besonder ‘saam’ kom vir sy eer, om Hom te aanbid, te bid vir sy vrede, sien Maleagi 1:6?

’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die Here van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag?” (Mal 1:6)

Luister gerus na die hele preek, maar dan veral vanaf die 43ste minuut oor hierdie vrae wat ek probeer antwoord uit die Here se Woord.

3.  Die vereistes en elemente van die publieke erediens (fisiese samekomste, onderlinge samekomste) vereis dat God se volk fisies saamkom in publieke eredienste, nie in die virtuele wêreld as alternatief langsaan of vervanging van die publieke samekomste/eredienste nie. 

Lees asb. hierdie voorafgaande artikels, wat wys op Skrifbeginsels wat ‘n publieke fisiese erediens oftewel kerkdiens vereis, in kontras met die idee dat sommiges ‘virtuele eredienste’ as vervanging of bybelse opsie langs die fisiese erediens wil voorhou, wat verkeerd en eiewillig is.

Die twee artikels vorm die raamwerk van om hierdie derde saak behoorlik verder te verstaan, ek gaan weer alles herhaal wat daarin staan nie, maar bou daarop voort:

i. Gelowiges moet soek en smag na die ‘ware jakob’: na aanbidding in gees én liggaam, soos die Here beveel het

ii. Waarom ons alleen in ‘n volwaardige erediens Nagmaal vier

Uit watter elemente bestaan ‘n volwaardige publieke erediens?

Die Here se volk word publiek ‘saam’geroep vir:

– Woorbediening

– sakramentsbediening (wat voortdurende toesig/tug veronderstel)

– gebede

– sang, belydenis

– bydraes

(Sien Hand. 2:42-47; 20:7; 1 Kor. 11; 1 Tim. 2,3; 6:12; 2 Tim.; Titus; 1 Kor. 16:1,2, ens.)

Hier is ‘n paar verduidelikings en toeligting:

1. Ursinus, (opsteller, of een van die opstellers van die Heidelbergse Kategismus) se verklaring by die vierde gebod (Sondag 38) in sy Schatboek:

“Kerkdiens/erediens is ‘n God-geordende bediening om die Gemeente te leer oor God en sy wil, op grond van God se Woord, wat deur die profete en apostels gegee is, en, om die sakramente volgens God se instelling te administreer/bedien. Daarom bestaan die kerk/erediens *uit twee dele*, naamlik die verkondiging van God se Woord en die suiwer bediening van die sakramente.”

Dus, Woord en sakrament, volgens Ursinus, word onlosmaaklik aan mekaar gekoppel in die publieke eredienste.

Ons moet nie vanuit ‘n reduksionistiese vertrekpunt kyk van met hoe min ons kan wegkom nie, om nog as ‘onderlinge samekoms/byeenkoms/erediens’ te kwalifiseer nie. Al die elemente en vereistes wat op enige Sondag moet en kan plaasvind (sien hierbo), moet as vereistes dien as ‘n volwaardige erediens . Dit beteken nie noodwendig dat al daardie elemente of sake elke erediens gaan plaasvind nie, maar daar is geen bybelse regverdiging om sekere elemente bloot te ignoreer en/of nie baie ernstig in oorweging te neem vir ‘legitieme eredienste’, bloot omdat hul nie gaan ‘werk’ of ‘inpas’ in ‘n virtuele erediens nie.

Die oomblik as die Skrifbeginsel van bv. sakramente, doop en veral nagmaal, nie op enige Sondag of ‘erediens’ kan plaasvind nie, dan val daardie alternatiewe ‘virtuele erediens’ opsie weg.  Nie net ‘dat’ ons nagmaal hou nie, maar ook die ‘hoe’ of ‘wyse’ van nagmaalviering is baie belangrik, sien weerens die inhoud die skrywe reeds hierbo genoem: Waarom ons alleen in ‘n volwaardige erediens Nagmaal vier

So, alle elemente moet kan inpas, as dit alles moet en kan plaasvind, en daarom slaag die ‘virtuele erediens’ nie as alternatief of legitieme parallele volwaardige erediens langs die fisiese eredienste wat ons gewoonlik het nie.

2 Calvyn by sy verklaring van 1 Kor. 11:22,

Het julle dan geen huise om in te eet en te drink nie? Of verag julle die gemeente van God, en maak julle dié beskaamd wat nie het nie? Wat sal ek vir julle sê? Sal ek julle prys? Hierin prys ek julle nie.

“Het julle nie huise nie? Hieruit sien ons dat die apostel volkome ontevrede was met hierdie gewoonte  feesmaalviering, alhoewel die vorige misbruik nie bestaan het nie. Want hoewel dit toelaatbaar is vir die hele kerk om aan een gemeenskaplike tafel deel te neem, is dit tog aan die ander kant verkeerd – om ‘n heilige vergadering te omskep vir doelwitte wat vreemd is volgens sy aard. Ons weet vir watter oefeninge ‘n kerk moet vergader – om leerstellings te hoor, gebede uit te bring en lofsange vir God te sing, om die sakramente te ontvand en te bedien, om belydenis van hul geloof te maak, om vrome oefeninge na te kom, en ander oefeninge van piëteit. As daar iets anders gedoen word, is dit nie in plek nie. Elkeen het sy eie huis waar hy kan eet en drink, en daarom is dit dus ‘n onbehoorlike ding in ‘n heilige vergadering.”

Weereens, die duidelike onderskeid tussen ‘gesinshuis’ en ‘kerkhuis’, die duidelike onderskeid tussen, in ons eie taal vandag: ‘publieke eredienste’ as amptelike kerklike samekomste van die Here se kinders, en, ‘virtuele byeenkomste’ van kleiner groepies.

3. Eie besinning oor Hebr. 10:25 as verbod op ‘virtuele eredienste’

“… en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” (Heb 10:25)

“Die woord ‘samekoms’ oftewel die ‘onderlinge byeenkoms’ (Hebr. 10:25) sê self, gelowiges wat saamkom om die Woord en sakramente te ontvang, gemeenskap van die heiliges te beoefen, mekaar te vermaan, ens., soos ons dit verstaan in die konteks van die res van die Skrif.

Oordenkings en preke oor die internet is goeie hulpmiddele, maar nie die publieke eredienste nie, kan dit nooit vervang nie, en daarom moet ons ook reg dink daaroor.

Ek het onlangs ‘n paar preke gedoen uit Hebr. 10:14-39, en daar gesien dat die Griekse woord vir ‘onderlinge byeenkoms’ is episunagoge, ‘n term wat in verband staan met (dit verskyn net op 2 plekke in die Skrif):

a) alle gelowiges verenig met Christus en mekaar, bymekaar gemaak, oppad na die wederkoms-vereniging, (2 Thess. 2:1), en ook en dan juis

b) ‘n besondere of spesifieke plek waar die gelowiges wat ‘verenig’ is met Hom en met mekaar, se vereniging sigbaar tot uiting kom (let ook op die verband van die woord episunagoge met die woord sunagoge = ‘sinagoge’, ‘n openbare fisiese plek van saamkoms, sien Paul Ellingworth se kommentaar op Hebreërs, spesifiek sy opmerking met verwysing en aanhaling van W. Bauer se woordeboek: “Hebrews avoids sunagogo, perhaps as a Jewish technical term, but otherwise episunagoge in this sense is ‘scarcely to be differentiated from sunagoge’ (Bauer)”, The New International Greek Testament Commentary: The Epistle to the Hebrews, Eerdmans, Grand Rapids, MI: Eerdmans, 2002: 528).

Dit behels dus beide ‘n geestelike en fisiese dimensie, nie of die een of die ander nie, nie die een teenoor die ander nie, maar albei.

Christus, die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, onder ons kom tabernakel, ons byeengebring, in gees én liggaam, sien Joh. 1:14; asook as onsChristus as Hoof het, dan is ons sy liggaam, nie net geestelik nie, maar ook fisies konkreet, sigbare en onsigbare aspek van kerkwees moet beide gehandhaaf, nie teen mekaar nie, maar saam, sien Ef. 1:4-6, 22,23 en Ef. 4:1-16.

Ons word ‘byeengebring’ in Christus deur die geloof, en dan as een van die sentrale vrugte: ons kom bymekaar, ons kom saam, om ons godsdiens te beoefen op ‘n bepaalde plek: Woord en sakramente, gemeenskap van die heiliges, ens. (Sien FC Fensham, Die Brief aan die Hebreërs, Kaapstad: NGK Uitgewers, 1981: 99).

Die aspek van vermaning moet ook raakgesien word in verband met Hebr. 10:25a, dit is v. 25b, vir hulle wat vohardend ”versuim” om die onderlinge byeenkoms by te woon (asook in die konteks van die hele boek). Daardie woorde wys op ‘opsig en tug’, toesig van ouderlinge, is juis gekoppel om te dien as waarskuwing om nie afvallig te word nie (v. 26-31), dit het te doen met ‘n bepaalde optrede (gewoonte) wat dus deur ander beoordeel kan word (of dit so is of nie), en kan dus nie geld vir persoonlike gesinne wat onderling bymekaar kom om bv. bybelstudie te hou (Hand. 18:26) of saam lekker te kuier of te eet nie (sien die duidelike onderskeid in 1 Kor. 11:33 en 34).

(Praktiese vrae: behels virtuele eredienste dan die toesighoudende ouderling moet almal kan raaksien op sy skerm, dus visuele dienste sluit dan audio eredienste uit, of moet die ouderlinge bloot op elke lidmaat en sy huis se woord gaan dat hy/sy in die ‘erediens’ was en nie weggeglip het nie? … en kan hy dit later luister of kyk op die rusdag, geld dit dan ook as ‘was in die kerk gewees’ as hy later op die rusdag kyk/luister? Wat van toesighouding …. die praktiese probleme, wat nie net ‘prakties’ van aard is nie, maar gefundeer is in bybelse kerkregering skrifbeginsels, word net al meer met ‘virtuele eredienste’)

Daar was ‘n duidelike onderskeid tussen eie gesinshuise en die kerkhuis in die NT eerste eeu tye, al sou laasgenoemde beteken het dat ‘n gesinshuis ook as ‘n kerkhuis gedien het (Rom. 16:5). Sien bv. die duidelike onderskeid wat Paulus maak met die ‘saamkom’ (as gemeente) in 1 Kor. 11:17-33 om te eet (nagmaal), wat ‘opsig en tug’ verlang, en, die gesinshuis wat saamkom om te eet in vers 34, ‘n gewone ete waaroor nie ‘opsig en tug’ nodig is nie.

Sien ook die duidelike onderskeid in 1 Kor. 14,

verse 23: ‘As die hele gemeente dan saam vergader … en daar kom onkundiges binne…”

vers 26: “Wanneer julle saamkom …”

vers 33: word vermeld dat God “is nie ‘n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges” (sien ook die oproep in vers 40), en dan baie belangrik: om oor die kwessie van ‘vrou in die amp’ juis orde te handhaaf, die uitspraak daarna, wat die baie belangrike onderskeid tussen die man en vrou se rol handhaaf, juis in die onderskeid van die kerkhuis en die gesinshuis:

34 Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê. 35 Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek

Dus die onderskeid van ‘huis en/of gemeente’ moet juis gehandhaaf word terwille en ten dienste van die Skrifbeginsel sake van leer, (ere)diens en (kerk)orde/kerkregering (NGB art.30-32), en daarom bly ons by die publieke eredienste waar ons ‘saam’kom as hele gemeente onder toesig van ouderlinge wat rekenskap moet gee (Hebr. 13:17), nie elkeen verdeel in sy eie huis voor die skerm … of op die telefoon nie.

Woordoordenkings, artikels, gesprekke, zoom-internet gesprekke, bybelstudie, debatte, ens. alles oor die internet is wonderlike hulpmiddels, maar nie in die plek of langsaand die volwaardige normale publieke erediens/samekomste wat deur die Skrif en die apostels en die kerk deur eeue aan ons oorgelewer is nie.

4) Verbied die burgerlike owerheid tans eredienste?

Die woord ‘byeenkoms’ beteken in sy bybelse en algemene sin: ‘mense wat bymekaar kom’, vir watter rede ookal.

Friberg Griekse woordeboek: “an action being gathered together; of a community of believers meeting together (Hebr. 10.25)”

Die argument dat die Staat slegs samekomste verbied, maar nie eredienste nie, gaan nie meer op nie.

‘n Mens het begrip gehad  dat in die begin, omdat daar skielik ‘n groot krisis waarskynlik was, om vir ‘n tydperk, ‘n paar weke nie eredienste te hou nie.  Dit het alles vinnig gebeur, en soos die tyd aangaan het, het dit vir ons almal kans gegee om versigtig in diepte te begin besin oor die saak, soos meer mediese inligting beskikbaar word, verskeie vir en teen argumente aangehoor is, en so verder deur die Skrif te ondersoek.

Nou, maande later, omdat die staat deur selektief net sekere soort ‘byeenkomste’ te verbied, maar ander toe te laat (by winkels, ondernemings, dalk later skole, ens.), word dit al duideliker dat Christene se eredienste, se ‘onderlinge samekomste’, ons ‘essensiële dienste’ verbied word.

Daar is ‘n massiewe verskil tussen mense wat vir goeie redes via internet/sosiale media inskakel by ‘n publieke fisiese erediens wat iewers wel plaasvind, teenoor wanneer daardie erediens weggeneem word en almal ‘virtueel’ gaan erediens hou, dan is dit nie meer ‘n ‘samekoms’ nie, maar bloot ‘n klomp gesinne of mense wat elkeen in hul eie huise bymekaarkom.

Deur blykbaar net sekere byeenkomste te verbied, maar wel ander toe te laat (die ‘byeenkomste’ om kos te koop, of die ‘byeenkomste’ om skool te gaan, of die ‘byeenkomste’ om saam te werk, ens.), kom die vraag pertinent op waarom word die ‘byeenkomste’ om eredienste te hou nie ook toegelaat onder dieselfde voorwaardes wat vir die winkel, werk en skool ‘byeenkomste’ geld nie, bv. beperk tot onder 50 per erediens of bybelstudies wat gewoonlik kleiner groepe is, met al die nodige voorsorgmaatreëls vir al die ander ‘essensiële dienste’?

Ja, die 5de en 6de gebod is belangrik, maar so ook die 4de gebod, die hele Woord is ‘essensieël’, beide tafels van die wet, beideons liggaamlike én geestelike ‘gesondheid en behoeftes’, bo-alles God se eer, ons moet die twee aspekte onnodig en verkeerdelik teenoor mekaar afspeel nie, sien Matt. 4:4.

En daarom, lyk dit ongelukkig duidelik dat die staat tans iets verbied waaroor hy nie jurisduksie het nie, deur inkonsekwente wetgewing, nl. dat daar nie sekere ‘essensiële’ byeenkomste’ plaasvind wat God beveel het nie, nl. daar waar Woord- en sakramentsbediening moet plaasvind, saam gesing word, gebid word, gemeenskap van die heiliges beoefen word, kerkregering plaasvind, ens.

Sosiale media/internet hulpmiddels, ens., is wonderlike hulpmiddels wat ons al lankal gebruik nog lank voor covid-19 op die toneel verskyn het, maar virtuele bedienings is en sal nooit die ware Jakob wees van publieke eredienste nie. Die kerk se tydige en ontydige getuienis moet juis wees dat die kerk se dienste en eredienste moet voortgaan, want God beveel dit vir alle tye. Die essensiele diens van sielesorg moet juis voluit voortgaan in hierdie tyd, waar mense nie net fisiese behoeftes het nie, maar bo-alles geestelike nood en behoeftes.

Calvyn en Luther was aan die voorpunt om die voorste tegnologie van hul tyd te gebruik, maar daar is geen manier waarop hul hul boeke en geskrewe preke en artikels sou sien as genoegsaam of as vervanging van die volwaardige eredienste op die rusdag wat die Here beveel het nie.

“Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel.” (Ps 27:4)

One thought on “PREEK EN BESINNING: Psalms 120-122 Ons Hulp is nie van die Staat nie, maar van die HERE wat Verlosser en Koning van sy Kerk is

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: