PREEK: CHRISTUS GEE ONS PLEK OM TE AANBID
(Josua 10:26,27)
deur ds. Ronald Bain (Gereformeerde Kerk Oranjerivier)
Skriflesing: Josua 10:1-28, 42-43
Teksverse: “En daarna het Josua hulle neergeslaan en hulle gedood en hulle aan vyf pale opgehang; en hulle het aan die pale bly hang tot die aand toe. En teen sonsondergang het Josua bevel gegee om hulle van die pale af te haal en in die spelonk te gooi waarin hulle weggekruip het; en hulle het groot klippe voor die ingang van die spelonk gepak, wat vandag nog daar is.” (Jos 10:26–27)
Die preek kan hier gekyk word:
Aflaai: Josua 10:26,27
Aanhaling uit die preek:
“Die volmaakte Josua staan nou self met sy voet op die nek van die heerser van die duisternis. Christus sit sy voet op Satan se nek met sy opstanding. Satan lê in die stof. Christus vat die aarde terug. Elke plek waar Hy sy voet sit gee God aan Hom. Hy lê beslag op ‘n aarde wat syne is. …
As ons hierdie gedeelte net gaan verbind aan ‘n persoonlike geloofstryd is ons arm. Fisiese grondgebied het baie met geestelike grondgebied te make. Het u al gesien hoe lyk dit wanneer jy in ‘n dorp inry en daar staan kerkgeboue? Dink u dit beteken niks nie?
Het u dan al gesien hoe lyk dit as ‘n mens in ‘n Moslemland ry en daar staan net Moskee’s. Dan het Satan daardie grondgebied heeltemal onder sy beheer. Of in Europa waar die kerkgeboue kunsgalerye geword het en winkels en die moskee’s verrys reg rondom. Hoe sal jy geestelike ruimte hê as jy nie ruimte vir jou liggaam het nie? Fisiese grondgebied gee geestelike grondgebied. Al is die koninkryk van Christus hemels kan jy hom aarde sien.
Wanneer gelowiges net stry om vry te wees in hulle persoonlike lewens is dit hartseer. Hierdie aarde is Christus sin. Hy gaan dit met vuur heilig, maar dit neem niks daarvan weg dat ons nou moet stry sodat elke duimbreedte aan Hom behoort. Of dit skool is of universiteit is of dit media is of dit regspraak is. Of dit maatskaplike hulp is of mediese versorging. Of dit plaaslike of landsowerhede is. Of dit die huisgesin of die volk is. Dis Christus se grondgebied. As ons dit nie in die geloof betree en opeis nie, dan sal die ongelowiges dit afneem en ontheilig.
Gelowiges haal skande oor hulself wanneer hulle Satan ewe gelate laat begaan om Christus se grondgebied te vat, omdat ons self ewe gelate aanvaar dat dit maar Satan se grondgebied is. Dis vreeslik as die kerk nie meer wil stry nie. As die kerk haar stryd net ‘n persoonlike geloofstryd maak.
Toe die eredienste deur die staat verbied is en die kerke stil gebly het, toe die regering voedselhulp probeer sentraliseer en die kerk bang was om te praat, toe mense hardhandig en onregverdig gearresteer word, het die kinders van die lig terug getree. Die kerk moet haar nie in politiek meng nie het mense gesê. En ons dink dat daar is iets soos neutrale grondgebied. Hoe tragies.”
Leave a Reply