Die Staat se wette vir Jesus se Kerk in Covid-19 tye: Hoe moet ons daaroor dink?’

Die Staat se wette vir Jesus se Kerk in Covid-19 tye

Hoe moet ons daaroor dink?’

deur ds. Cobus Rossouw (GK Hendrina & Carolina)

Inleiding

In vlak-3 van die huidige grendel-staat toestand in Suid Afrika kan ons as kerke van ons Here weer bymekaar kom. Ons kan weer ons onderlinge byeenkoms hê. Dis wonderlik. En ons is dankbaar teenoor ons Here daarvoor.

Tog, ons land se burgerlike owerheid het baie streng reëls ingestel waarvolgens ons samekomste gereël word. Die reëls is daar om, so sê ons burgerlike owerheid, die verspreiding van die covid 19 pandemie te verhoed. Ek dink egter dit sal naïef wees om ons burgerlike owerheid net goedsmoeds te vertrou, as sou hulle goeie bedoelings met ons hê. Hulle kommunisties sosialistiese ideologie sê dit, hulle geskiedenis sê dit, die huidige hofuitspraak wat hulle inperking maatreëls as ongrondwetlik bewys het, sê dit.[1]

Een van hierdie reëls wat ons burgerlike owerheid ingestel het vir kerke, is dat ons as kerke nie, soos ons Here beveel (bv Efes 5:18-19; Kol 3:16), tot Hom in sy erediens mag sing nie. Met hierdie reël betree die owerheid nou werklik die terrein van kerkregering. Of dalk moet ons eerder sê: Met hierdie reël word dit nou baie duidelik dat die regering die terrein van kerkregering betree het.

Vraag is hoe moet ons as dissipels in ons Here se kerke hieroor dink, en vanuit hierdie dink van ons, optree. Wel, altyd God-gesentreerd. Dis hoekom God ons geskep het en ook in Christus deur sy Gees herskep (Jes 43:7; Rom 11:36; 14:8; 1Kor 10:31; Fil 3:7-8; Ps 73:25; HK Sondag 1 v/a 1, Sondag 32 v/a 86). En wanneer jy God-gesentreerd dink en optree, dan tree jy altyd ook Woord-gefundeerd op (1Sam 15:22; 2Tim 3:17; Ps 119:105; Ps 19:8-12; HK Sondag 33 v/a 91; Nederlandse Geloofsbelydenis art 2 en 7).

God-gesentreerd en Woord-gefundeerd is hier baie belangrik. Wanneer ons gekonfronteer word met ‘n owerheid wat ons nie sommer net kan vertrou nie, en wat nou ook die terrein van kerkregering betree, mag ons nie reageer vanuit, byvoorbeeld Afrikaner nasionalisme, wat outomaties altyd anti-ANC-owerheid is nie. Ons mag ook nie reageer vanuit blote owerheid-gedienstigheid of owerheid-vrees nie. Ons mag ook nie reageer vanuit wat die maklikste en mees praktiese werk nie.

Wanneer ons uit enige iets anders as God-gesentreerdheid dink en optree is ons besig om daardie iets te verhef tot ons god, want ons god bepaal altyd ons optrede (vgl bv Fil 3:18; Mat 6:19-24). En as ons iets anders as die ware God verhef tot die ‘iets wat ons dink en doen dryf, dan word ons mense wat ons rug op God draai. Ons word sy vyande. Ons word mens wat Hom nie meer lief het nie (Eks 20:3; Deut 6:4; 1Joh 5:3).

Daarom doen ek ‘n beroep, dat ons, nou dat ons gekonfronteer word met ‘n burgerlike owerheid, wat die terrein van kerkregering betree, in ons denke en optrede daaroor, moet begin met selfondersoek. “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”  (Mat 7:3-5).

Gehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid

So, kom ons gaan nou, met ‘n gesindheid van nederigheid en selfondersoek, in op die vraag: Hoe moet ons, as dissipels in ons Here daaroor dink, as die burgerlike owerheid die terrein van kerkregering betree? En hoe moet ons dan vanuit hierdie dink begin doen? Wel, soos ons gesê het: Altyd God-gesentreerd en Woord-gefundeerd.

En kom ons begin dan deur in te gaan op ons gehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid van die Republiek van Suid Afrika. In ons Heidelbergse Kategismus Sondag 39 v/a 104 leer ons die volgende oor die toepassing van die vyfde gebod: “Wat eis God in die vyfde gebod? Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp. Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.”

Wanneer ons Kategismus praat oor “almal wat oor my gestel is”, dan gaan dit beslis ook oor die burgerlike owerheid (vgl ook NGB art 36; Die Dordtse Kerkorde art 28).

Hierdie waarheid dat ons aan die burgerlike owerheid, wat oor ons gestel “alle eer, liefde en trou bewys” en my aan hulle “met die verskuldigde gehoorsaamheid moet onderwerp”  kry ons onder andere in 1Pet 2:13-14. Kom ons staan by hierdie teks stil.

1Petrus 2:13-14 en gehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid.

Dis waar Petrus sê: “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys.” 

In vers 13 lees ons: Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening …”  Hierdie menslike verordeninge is niks anders as die burgerlike owerhede nie. En aan hulle moet ons onderdanig wees. Dis wat Petrus hier sê. Maar wat beteken onderdanigheid? Wel, ons is onderdanig, wanneer ons ons onder iemand of iets stel. Ons is onderdanig wanneer ons onsself onderwerp en gehoorsaam is. Onderdanigheid is wanneer ons luister na iets of iemand, en doen wat hy sê.

En so moet ons nou onderdanig wees aan die burgerlike owerheid. En hiermee moet ons die heeltyd besig wees. Dis nie maar iets, wat ons so nou en dan kan doen, as ons lus voel nie, of as die verkeerskonstabel kwaai genoeg is nie. Nee, ons moet gedurig onderdanig wees.[2]

Maar nou is dit nie al wat in vers 13 staan nie. Nee, daar staan ook: Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening … ter wille van die Here  Ons sou hierdie ter wille van die Here ook kon vertaal het met: ‘as gevolg van die Here’. Of met:  ‘van weë die Here’.[3] En dit moet vir ons sê, dat hierdie opdrag om gehoorsaam te wees van die Here af kom.[4]

En wat beteken Here? Wel, Heerser, Besitter. So, hierdie opdrag kom van die Een af wat beveel en dan gebeur dit. Want dis wat ‘Here’ hier beteken. Die Here is die Een wat absoluut soewerein regeer, wat onverbiddelik beveel, en heeltemal alles besit.[5]

En wie is hierdie Een? Wanneer ons die woord ‘Here’ in die Nuwe Testament raak lees, dan word daar gewoonlik oor ons Here Jesus gepraat.[6] Maar hier gaan dit oor God. En ons sien dit raak vanuit vers 15-16.[7] Want in vers 15-16 praat Petrus die heeltyd van God. In vers 15 lees ons van God – so is dit die wil van God.”  In vers 16 lees ons dat ons gehoorsaam moet wees aan die owerheid soos diensknegte van God.” Met ander woorde: In al die verse rondom vers 13 gaan dit oor God. Dit gaan oor wat God wil, en hoe ons voor Hom moet leef. Daarom verstaan ons dan ook Here van vers 13 as God.

Petrus laat ons God hier ken as die Here van alles. Die absolute soewereine Regeerder oor alles. Die HERE van Ps 24, van wie ons sing: Die ganse aarde, land en meer met al wat leef, is uwe, HEER!” So, God  is die Skepper van alles. Maar Hy is ook die Here van alles. Dis Hy wat deur sy “almagtige en oralteenwoordige krag … hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer …”[8] Met sy almagtige en alomteenwoordige krag regeer Hy oor alles. Daarom is Hy ook die Een wat wet en orde wil hê.

Wet en orde in die Openbaringsgeskiedenis

Ons sien dit in Gen 4 al. Dis God, wat die lewe van Abel gemaak het. Maar dis ook God, wat sy moordenaar, Kain, straf.

En na die Sondvloed, in Gen 9, sien ons dit weer. God wil wet en orde hê, want God wil dat daar lewe moet wees.[9] In Gen 9:1 en vers 7 staan daar: En God het Noag en sy seuns geseën en aan hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.” En dan beklemtoon God dit dat Hy lewe soek. En dit doen God wanneer Hy tussen hierdie twee opdragte, dat daar lewe moet wees, ook die opdrag gee, dat daar doodstraf moet wees. In Gen 9:6 staan daar: Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word.” So, tussen die twee gebooie, wat ons leer dat God lewe wil hê, lees ons sy opdrag dat daar doodstraf moet wees vir die mens, wat teen die wil van God in, dood gemaak het, terwyl God wil laat lewe.

Ja, God, die Here, die Heerser oor alles het die burgerlike owerheid in gestel, toentertyd al, in Gen 9. God wil dat daar lewe moet wees, en dat daar orde moet wees.[10] Daarom het God owerhede ingestel het. Daarom sê Spr 8:15-16: Deur (die HERE) regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is; deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.” Daarom bely die heiden koning van Babilon, Nebukadneser, in Dan 2:47 teenoor Daniël: Waarlik, julle God is die God van die gode en die Here van die konings.”  Ook Pontius Pilatus moes dit hoor. Uit Jesus, ons hoogste Profeet en Leraar se mond, moes hy hoor: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.” (Joh 19:11).

So, God wil dit hê. Daar moet burgerlike owerhede wees. En Hy wil hê dat ons gedurig aan hulle gehoorsaam sal wees. Daarom is gehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid in die eerste plek gehoorsaamheid aan God. Dis wat Petrus ons leer as hy in 1Pet 2:13 sê: Wees dan onderdanig … ter wille van die Here

Daar is ‘n voorwaarde

Maar nou is hier ‘n baie belangrike voorwaarde. En dit is, dat as ons gehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid gehoorsaamheid aan God is, dan kan en mag gehoorsaamheid aan God en gehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid nie bots nie. Anders gestel: Die burgerlike owerheid mag nie van jou iets eis, wat teen jou liefde vir God ingaan nie. Dis wat daardie “ter wille van die Here” van 1Pet 2:13 baie duidelik vir ons wys. In Hand 5:29 stel Petrus dit soos volg: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”

Johannes Calvyn skryf in sy Institusie van die Christelike Godsdiens as volg hieroor: “Ons moet veral daarop let dat so ‘n gehoorsaamheid (aan die owerheid) ons nie wegneem van die gehoorsaamheid aan God nie … As hulle ‘n bevel teen Hom aan ons sou gee, moet dit geen plek of waarde by ons hê nie.”  So ‘n bevel of eis sou onwettig wees. Iets wat ons nie mag nakom nie.[11]  Gehoorsaamheid aan so ‘n onwettige bevel wys dat jy die burgerlike owerheid meer lief het as God. Of jou eie lewe, of gemaklike voortbestaan, sonder die bekommernis van vervolging deur die owerheid, meer lief het as God (Luk 9:57-62; 14:26-27; Mark 8:34-38; Mat 10:34-39; Joh 12:25).

Wat sê hierdie vir ons situasie?

Maar kom ons fokus nou op ons huidige situasie waarin die burgerlike owerheid van Suid Afrika met hulle vlak-3-grendelstaat wetgewing in ons Here Jesus se kerk reëls kom maak vir die kerk. Soos ons net-nou al gesien het gaan hierdie wetgewing veral daaroor dat ons as kerke nie, soos ons Here beveel (bv Efes 5:18-19; Kol 3:16), tot Hom in sy erediens mag sing nie.

Ek wil nie in die eerste plek hier ingaan op die reël, van die verbod op sang, self nie. Ek wil ingaan op die huidige werklikheid van ‘n burgerlike owerheid, wat die terrein van kerkregering betree. En dan is dit ‘n situasie waarin ons as dissipels, of ons as kerk, ongehoorsaam moet wees aan die burgerlike owerheid.

Hoekom?

Wel, omdat God ons in sy Woord wys dat daar ‘n baie besliste en duidelike skeiding moet wees tussen, aan die een kant, sy volk, sy dissipel-kerk, en die regering in sy kerk, en aan die anderkant die burgerlike owerheid en die burgerlike owerheid se regering van ‘n byvoorbeeld die republiek van Suid Afrika.

Die Goddelike onderskeid tussen kerk en burgerlike owerheid word nie op die oomblik geag nie.

Onderskeid in die Ou Testament[12]

Reeds in die Ou Testament kerk van ons Here, Israel, toe kerk en burgerlike owerheid baie naby aan mekaar gelê het, as gevolg van die feit dat ons Here sy kerk alleen in die volk Israel laat leef het, was daar hierdie onderskeid.

Reeds by die Eksodus uit Egipte, en direk daarna, sien ons hoe God ‘n onderskeid maak tussen Moses, wie se regering baie sterk fokus op die inrigting van die burgerlike lewe van Israel (Deut 33:4-5), en Aäron en sy seuns, wat as priesters dien in die Tabernakel, en daar moet sorg dat die HERE se wette vir sy aanbidding uitgevoer moet word (Eks 28-29).

Op die woestyn-tog na Kanaän, en later in Kanaän self, sien ons ook hoe die burgerlike lewe van Israel regeer word deur hoofde, oudstes, opsigters, en stamhoofde (Num 1:4, 16; 2:3-29; Deut 29:10). Later kry ons die Rigters en die Konings (Rigters-2Konings). Hierdie burgerlike owerhede doen egter nooit diens in die Tabernakel of in die Tempel nie. Hulle mag ook nie. Die diens in die Tabernakel en in die Tempel het die HERE gegee aan die Priesters uit die geslag van Aäron.

Na die ballingskap, in die boeke van Esra en Nehemia sien ons weereens hierdie onderskeid. Esra is die Skrifgeleerde. Hy fokus op die opbou en die inrigting van Israel se verhouding met God en die belewing en uitlewing daarvan (Esra 7:1-6; Neh 8-10). Nehemia, wat saam met Esra in Jerusalem is, fokus op die herstel van Jerusalem se muur, militêre aangeleenthede, sosiale onreg, en die ordelike inrigting van die burgerlike lewe (Neh 1-7, 13).

Onderskeid in die Nuwe Testament[13]

In die Nuwe Testament word hierdie onderskeid tussen die kerk van ons Here, en die volk en land waarin sy haar bevind en die volk en land se burgerlike owerheid, nog groter.

Hoekom? Wel, vir die volgende redes.

Eerstens: Omdat die koms van Jesus, dit waarop die Ou Testament Israel met die Dawidiese Koningshuis op heen gewys het, naamlik die koms van die Koninkryk van God, ‘n werklikheid begin word, en uiteindelik by Jesus se wederkoms ‘n volle werklikheid en wêreld-wyd sal wees (Mat 4:12-17; 5:3-12; 11:1-6; 12:28; Luk 17:21[14]; 1Joh 3:8; Mat 13; 24-25; Openb 19-20).

Die volk van hierdie koninkryk is Jesus se uitverkore, wedergebore, gelowige dissipel-kerk (Joh 3:3-5; Mat 18:3; 5:3; Mark 10:15; Mat 7:13-14).[15]

Maar juis daarom moet daar ‘n sterk onderskeid gemaak word tussen die regeer terrein van die burgerlike owerheid en die kerk. Die Koning van die kerk is immers Jesus alleen. En Hy het gegee “sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars”  (Efes 4:11) deur wie Hy sy kerk regeer. Hy regeer nie sy kerk deur die burgerlike owerheid nie.

Tweedens: Alhoewel dissipels, as kerk, op spesifieke plekke, in spesifieke lande, en in spesifiek volke, spesifiek dorpe leef en bymekaarkom vir byvoorbeeld Erediens en Bybelstudie, is Jesus se dissipel-kerk, net soos sy Koninkryk wêreld-wyd (Mat 28:19), nie gebonde aan een volk en een land, soos in die Ou Testament nie.

Maar juis daarom kan Jesus se dissipel-kerk se regering nie verbonde wees aan die burgerlike owerheid in ‘n spesifieke land of oor ‘n spesifieke volk nie. Jesus is die Koning van sy wêreld-wye volk. ‘n Burgerlike owerheid van ‘n spesifieke land kan nie Jesus se wêreld-wye volk regeer nie. Want in God se soewereine regering en bepaling van alles, het Hy burgerlike owerhede aan spesifieke lande en volke verbind (Hand 17:26). Hulle regeer nie, en mag nie, imperialisties wêreldwyd regeer nie.                     

Derdens: Die regeer styl in Jesus se dissipel-kerk is radikaal anders as die van die burgerlike owerheid. Die burgerlike owerheid regeer met mag. Hulle kan en moet ook geweld gebruik in die uitvoering van hulle regeer-opdrag. God het dit so verorden (Gen 9:6; Rom 13:1-4).

Jesus se dissipel-kerk regeer radikaal anders. “Maar Jesus het hulle na Hom geroep en vir hulle gesê: Julle weet dat die wat gereken word as owerstes van die nasies, oor hulle heers, en dat hulle groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet almal se dienskneg wees. Want die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”  Sê Jesus in Mark 10:42-45.

Regering in Jesus se dissipel-kerk is dus radikaal anders. Dis dienende regering deur Woord en Gees, nie dwingend met geweld en swaard nie. Maar juis daarom kan die burgerlike owerheid, selfs ‘n christelike burgerlike owerheid, nie in die dissipel-kerk van ons Here Jesus regeer nie.

Bevestiging deur ‘n voorbeeld uit die Openbaringsgeskiedenis[16]

Hierdie radikale skeiding tussen, aan die een kant, die kerk en die inrigting en regering van ons Here se kerk, in die Ou sowel as in die Nuwe Testament, en aan die anderkant, die burgerlike owerheid, word vir ons bevestig deur ‘n voorbeeld in die Ou Testament Openbaringsgeskiedenis.

Ons kry hierdie voorbeeld in 2Kron 26:16-21. Ons lees daar van koning Ussia. Hy het in die Tempel in gegaan en wou daar, heeltemal teen die skeiding wat ons Here tussen burgerlike owerheid (die koning) en die kerk (Tempeldiens) ingestel het, gaan offer (vers 16).

Wat het toe gebeur? Wel, in vers 17-21 staan daar: “Maar die priester Asárja het hom gevolg en tagtig priesters van die HERE, flukse manne, saam met hom, en teen koning Ussía opgetree en aan hom gesê: Dit kom u nie toe, Ussía, om vir die HERE offerrook te laat opgaan nie, maar aan die priesters, seuns van Aäron, wat geheilig is om te offer. Gaan uit die heiligdom uit, want u het ontrou gehandel, en dit sal u van die kant van die HERE God nie tot eer strek nie. Maar Ussía het woedend geword; en terwyl hy, met die wierookpan in sy hand, woedend was op die priesters, slaan die melaatsheid op sy voorhoof uit voor die oë van die priesters, in die huis van die HERE langs die reukaltaar. Toe Asárja, die hoofpriester, en al die priesters na hom kyk en sien dat hy melaats was aan sy voorhoof, het hulle hom gou daarvandaan weggedrywe, en hy het ook self gou gemaak om weg te kom, want die HERE het hom aangetas. En koning Ussía was melaats tot die dag van sy dood toe, en hy het in ‘n afgesonderde huis as melaatse gewoon, want hy was van die huis van die HERE uitgesluit; en sy seun Jotam, wat oor die paleis van die koning was, het die volk van die land geregeer.”         

Ons burgerlike owerheid se regering in die kerk

As ons nou na ons eie huidige situasie kyk in die lig van God se verordening dat daar ‘n baie duidelike skeiding moet wees tussen, aan die eenkant sy dissipel-volk, die kerk en regering in sy kerk, en aan die anderkant, die burgerlike owerheid, dan sien ons dat ons burgerlike owerheid nie op die oomblik hom hou aan hierdie verordening van God nie. Deur sy wetgewing vir kerklike byeenkomste betree die burgerlike owerheid ‘n terrein, wat God hom nie toelaat nie.

Wat behoort ons as dissipels se optrede dan te wees? Wel, ons moet God-gesentreerd en Woord gefundeerd optree. Dit hou in:

Eerstens: dat ons ons harte moet ondersoek. Wat dryf ons as ons reageer op ons burgerlike owerheid se optrede? Afrikaner Nasionalisme, haat, gemaksug, vrees? Ons reaksie moet spruit uit God-gesentreerdheid alleen. Ons reaksie moet spruit uit ‘n begeerte na God (Ps 73:25). Ons reaksie moet spruit uit die gesindheid van Christus wat met die woorde van Ps 40:9 sê: “Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande.” [17]

Tweedens: dat ons moet dink en optree uit wat ons Here vir ons in sy Woord bepaal ten opsigte van ons gehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid.

Derdens: dat ons moet dink en optree in lyn met die voorwaarde wat ons Here vir ons gee in sy Woord vir gehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid. Die voorwaarde naamlik, dat die burgerlike owerheid se eise nie mag ingaan teen ons liefde-gehoorsaamheid aan God nie.

Vierdens: dat ons dink en doen in hierdie spesifieke geval bepaal moet word deur die beginsel van God se onderskeid tussen kerk en burgerlike owerheid, soos Hy dit in sy Woord aan ons openbaar.

As ons dan vanuit hierdie God-gesentreerde en Woord gefundeerde beginsels dink, kan ons nie anders nie, as om aan God meer gehoorsaam te wees, en daarom nie die burgerlike owerheid se regering in ons Here se kerk te aanvaar nie. Ons mag nie daarmee leef nie.

Dit beteken nie dat ons as dissipels die gevare van die covid 19 pandemie minag nie. Ons mag nie ons dom astrant blind hou daarvoor nie. Maar net so mag ons ons ook nie blind hou vir God se bepaling dat die burgerlike owerheid nie in Jesus se kerk mag regeer nie.

So, wat van vervolging?

Wanneer ons, in gehoorsaamheid aan ons Here, ongehoorsaam is aan die burgerlike owerheid, moet ons verseker nie ‘n applous van hulle af verwag nie. Burgerlike owerhede vervolg mense wat aan hulle ongehoorsaam is. Dis immers hulle werk om ongehoorsaamheid te straf. Ons moet dus vervolging verwag.

Wanneer Johannes Calvyn in sy Institusie van die Christelike Godsdiens hierdie onderwerp van ons roeping tot ongehoorsaamheid aan die burgerlike owerheid behandel, skryf soos volg hieroor: “Ek is bewus van hoe groot en dreigend die gevare is wat hierdie onwrikbare opvatting (dat ons aan God meer gehoorsaam moet wees) bedreig. Dit is met die grootste verontwaardiging dat konings verdra om geminag te word. Salomo[18] sê immers dat hulle verontwaardiging die boodskappers van die dood is.”[19]

Maar dan moet ons weer 1Pet 2:13 onthou:Wees dan onderdanig (aan die owerhede) ter wille van die Here. En dan moet ons verder onthou dat Petrus hierdie woorde skryf toe die Romeinse keiser oor alles regeer. Die keiser was die burgerlike owerheid. En in die dae toe Petrus hierdie brief skryf was dit keiser Nero.[20]

En hierdie keisers van Rome was manne wat hulle self as god beskou het, en van jou verwag het, om hulle as ‘n god te eer. Natuurlik kon jy jou eie god eer, maar jy moes ook die keiser eer.[21] So, wat het hierdie keisers gedoen? Wel hulle het as burgerlike owerheid in die kerk van Jesus kom regeer en voorgeskryf hoe daar aanbid moet word. Dis wat ons burgerlike owerheid ook nou doen.

En nou is dit in hierdie moeilike omstandighede, dat Petrus sê:Wees dan onderdanig (aan die owerhede) ter wille van die Here.  En nou is dit hierdie ‘ter wille van die Here’ wat gemaak het dat Christene in die tyd van Petrus, die keiser in alles gehoorsaam was, behalwe as die keiser in die kerk kom regeer het. En dit het veroorsaak dat die Christene vervolg is.

Maar nou is dit in hierdie moeilike omstandighede dat ons ook die troos moet raaksien, wat soos ‘n fontein uit die waarheid vloei dat ons gehoorsaamheid aan die owerhede, gehoorsaamheid aan God is. Hierdie troos sien ons wanneer ons van Petrus-hulle se moeilike omstandighede af verder in die Bybel in kyk, en dan kom by Daniël, wat ook onder ‘n goddelose owerheid moes leef. Die owerheid van Nebukadneser se Babiloniërs.

En dan is dit in Daniël 2 waar ons hoor van die droom, wat Nebukadneser gehad het van ‘n groot beeld, wat wêreld-ryke uitgebeeld het en ‘n klip wat sonder die toedoen van mense hande los geraak het. En toe die beeld van Nebukadneser se droom getref het teen die beeld se voete en die hele beeld verbrysel het (Dan 2:34). En daardie voete het heengewys na die Romeinse ryk onder wie Petrus-hulle so gely het.[22]

En die klip? Waarna het die klip heengewys? Wel, na ons Here Jesus. Dis Hy wat die ewige ‘owerheid’ van God nou al hier op die ou-aarde laat deur breek (Mat 4:17; 12:28). Dis Hy wat die mag van die bose kom verbreek het (1Joh 3:8). Dis Hy wat by sy wederkoms die vyande van God se reik finaal sal vernietig (Openb 19-20).

En dis nou die troos: God het owerhede ingestel. Daarom moet ons gehoorsaam wees aan die owerhede. Ons moet gehoorsaam wees, behalwe as die owerhede vir ons iets vra wat God nie wil hê ons moet doen nie. En as ons dan moet ly. Onthou God regeer, en ons Here Jesus het gekom, en Hy kom weer, om God se goeie ‘owerheid’ vir ewig te vestig.

____________________________________

[1]    Ons Here waarsku ons teen naïwiteit in Spr 22:3 – “‘n Skrander mens sien die onheil en verberg hom, maar die eenvoudiges gaan verder en word gestraf.”

[2]῾  Υποτάγητε = aor imperat wat kan beteken dat ons moet begin om die opdrag uit te voer, daarmee moet aangaan of dit weer en weer moet doen (Binnewerk bl 35).

[3]    διὰ τὸν Κύριον = διὰ + akk wat dui op oorsaak (Binnewerk bl 89).

[4]    Vgl Rom 13:1,6; art 36 NGB

[5]    Vgl Baljon bl 546.

[6]    Vgl Davids se 1Pet komm bl 99.

[7]    Vgl Greijdanus se 1Pet komm bl 108; Van Houwelingen se 1Pet komm bl 93-94.

[8]    Heidelbergse Kategismus Sondag 10 v/a 28

[9]    Vgl Robertson, The Christ of the Covenants bl 115-116

[10] Vgl 1Pet 2:14; Rom 13:1-6; art 36 NGB

[11] Vgl Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, boek 4, hfst 20, par 32

[12] Vgl Greg Bahnsen: Separation of Church & State (http://www.thisexplainsmore.com/2013/08/greg-bahnsen-separation-of-church-state.html)

[13] Vgl Greg Bahnsen, Chapter 20 SEPARATION OF CHURCH AND STATE; Alan D. Strange, Church and State in Historical Perspective (https://opc.org/os.html?article_id=43);   https://crosspolitic.com/separation-of-church-and-state-in-the-old-testament/

[14] In Luk 17:20-21 sê Jesus vir die Fariseërs: “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.” Dit is te betwyfel of die Koninkryk van God in die vyandige Fariseërs se harte was. Ek verstaan dan die frase “binne in julle” eerder as “onder julle” of “by julle”, wat steeds ‘n letterlike vertaling van die Griekse Teks sal wees (Textus Receptus). Die Koninkryk verwys dan hier na Jesus, die Koning van God se Koninkryk, wat daar tussen en by die Fariseërs staan (Sproul, Reformation Stuy Bible, bl 1489).

[15] Vgl Nederlandse Geloofsbelydenis art 27, 29.

[16] Vgl Greg Bahnsen: Separation of Church & State (http://www.thisexplainsmore.com/2013/08/greg-bahnsen-separation-of-church-state.html); Alan D. Strange, Church and State in Historical Perspective (https://opc.org/os.html?article_id=43);

[17] Heb 10:7-8 wys ons dat dit in Ps 40:9 in die eerste plek oor Jesus gaan.

[18] Spr 16:14

[19] Vgl Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, boek 4, hfst 20, par 32

[20] Vgl Grudem se 1Pet komm bl 33-36

[21] Vgl Duvenhage, die dekor van die NT, bl 52-53.

[22] Vgl Young se Dan komm bl 75; Robertson, The Christ of the prophets, bl 328-329

One thought on “Die Staat se wette vir Jesus se Kerk in Covid-19 tye: Hoe moet ons daaroor dink?’

Add yours

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: