Posted by: proregno | August 24, 2020

Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 2, deel 2 – Die middele waardeur ons God ken (Psalm 19)

Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 2

– Die middele waardeur ons God ken (Psalm 19) –

Lees: Psalm 19 & Romeine 1:16-25

Teks: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander ’n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan: daar is geen spraak en daar is geen woorde nie—onhoorbaar is hulle stem. Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.” (Psalm 19:1,2,8)

Tema: NGB artikel 2 – Die middele waardeur ons die enige God ken: natuur en Skriftuur 

Preekopname (GK Carletonville, 2020-08-23, nota: die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie):

NGB art. 2 – Psalm 19 

________________________________________

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

In NGB 1 het ons bely, en vorige keer geleer dat een van die deuge of eienskappe van God is,

dat Hy …. , “onbegryplik” is.

Ja, Hy is onbegryplik … hoe kan ons Hom dan ken … en as ons Hom nié kan ken nie, dan kan ons ook nie die ewige lewe ontvang nie, want, Joh. 17:3, die ewige lewe is om die enige waaragtige God te ken!

Maar, geliefdes, dit is juis waar die antwoord kom uit die Skrif,

soos bely in NGB artikel 2: Ons ken Hom deur 2 middele wat God geopenbaar het, :

Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. 

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend

Dank God, Hy het besluit om Homself te openbaar, anders sou ons Hom nie reg kon ken, dien en openbaar nie.

Ons leer Hom ken deur middel van die skepping (die natuur) en sy goddelike Woord (die Skriftuur).

NGB art 1 en 2, is soos die HK Sondag 1,

die wesentlike inleiding en opsomming van alles wat volg

NGB 1: God is, daar is ‘n enige waaragtige God

NGB 2: Hy het Hom geopenbaar, bekend gemaak

As ons dit nie glo en bely nie, gaan niks anders wat volg sin maak nie.

Party meen daar moet ‘n goddelike wese wees, maar kan Hom nie ken nie, ook nie sy wil nie.

Vandag is baie mense godsdienstig (ngb 1) maar soek nie sy wil nie (ngb 2)

NGB 2 is dan ook inleiding vir wat volg in NGB 3-7, wat ons Skrifbeskouing is.

Ons ken God dus deur die skepping/natuur en sy Skriftuur, die Woord.

So die eerste belangrike saak om te leer vandag:

God is en het gespreek soos saamgevat en bely in NGB art. 1 en 2

NOU, die baie belangrike tweede saak:

Dit belangrik om die twee sake te onderskei,

En seker te maak dat ons reg verstaan wat van God geopenbaar en geken kan word,

Onderskeidelik deur die natuur en die Skriftuur.

En dit wil ons graag sien vanuit Ps.19 en Rom. 1 doen,

ons teksgedeelte vir vanoggend:

Psalm 19 is geskryf deur Dawid, soos die inleidende vers (1) dit stel.

Die Psalm kan dan verder in drie dele opgedeel word.

v.2-7 God se openbaring in die skepping of natuur

v.8-12 God se openbaring deur sy Woord of Skriftuur

v.13-15 Die gebed van Dawid of die gelowige aangaande God se openbaring

Kom ons kyk nou daarna:

Deel 1: v.2-7 God se openbaring in die skepping of natuur

Hierdie verse besing die ‘eer’ van God.

Die woord ‘eer’ (kavod) beteken die ‘gewigtigheid’ van God

D.w.s. sy verhewenheid, sy majesteit, sy almag, dit alles wat ons in NGB 1 bely het.

Dawid sê as ‘n mens net buite in die natuur staan, ‘n mens kyk op na die hemel, en sien die wye uitspansel, sien ook Ps. 8, dan word ‘n mens bewus daarvan dat God bestaan,

Dat daar ‘n Skepper moet wees.

Vers 3 wys daarop dat dag en nag elkeen ‘n ‘boodskap’ gee, d.w.s. ‘n getuienis uitdra,

Dit dra ‘kennis’ aan. Watter boodskap en watter kennis ?

Dit verkondig die ‘eer van God’,

Ja die ganse dag, aand of dag, lig en duisternis getuig van God

Al praat hul nie letterlik bv soos ‘n mens nie, vers 4, al is hul stem ‘onhoorbaar’,

Is hul getuienis van God baie duidelik, vir altyd.

Nie net is hul getuienis elke dag, dit wil sê vir altyd solank dag en nag verwissel nie,

Maar ook, vers 5, sê “Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld.”

Dit wil sê, nie net is die getuienis van God se eer, dat Hy bestaan, en alles geskape het, elke dag te aanskou in die skepping nie,

En, daarom, o.g.v. die getuienis dat die hele skepping, die ganse kosmos, van God se eer getuig, bely ons ook in NGB art.2:

(Die skepping/natuur) is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom 1:20).

En, dan gaan Dawid verder, om een saak uit hierdie wonderlike skepping te neem, die son, om te wys op God se eer en majesteit, dit in verse 5b tot 7.

Hy beskryf die son wat uit sy tent gaan,

Soos ‘n bruidegom uit sy slaapkamer gaan en in blydskap die dag ingaan vir die pad wat voorlê.

Die beeld beteken: ‘n bruidegom is bly oor die bruid wat hy ontvang het,

en almal om hom sien dit, so, die son, sy getuienis van God se grootheid en almag

is daar vir almal en orals om te sien daarom die woorde ‘niks is verborge vir sy hitte’ nie

Soos die son orals skyn, so is die getuenis van God orals in die skepping

Maar, daar is ook ‘n onderliggende betekenis wat ons hier moet raaksien:

Die son wat ‘n afgod vir omtrent alle afgodsdienste in die ou tyd

Hier word geopenbaar aan die mens, dat ook hierdiemagtigste skepping in die kosmos,

Is ook in diens van God, om sy eer te verkondig

Die son word deur God se almag beperk: “vir die son het HY ‘n tent gemaak”

Die son loop in die bane Selfs die son is magtig

MAAR GOD ALLEEN IS ALMAGTIG !

Maar, die son, is in die hand van God

Ons reaksie: kleinheid voor God se almag,  Ja, die ganse kosmos, die natuur getuig van God

Geen mens, nerens in die wereld, ooit deur die geskiedenis kan sê: – God bestaan nie

Sy getuienis is orals

En daarom ook die belydenis in NGB 2, dat die ganse kosmos, die natuur, die skepping, getuig van Hom, d.w.s. ook dat die mens self beelddraer is van God en getuig van God:

Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.

Dit hoor ons ook in die woorde van Paulus, Rom.1:19-20

19 omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar.  20 Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Maar, geliefdes, God openbaar Hom ook deur sy Woord:

v.8-12 God se openbaring deur sy Woord of Skriftuur

Verse 8-12 beskryf God se Woord en wat dit vir ons doen.

In verse 8-10 kry ons 6 paralllele:

  1. 6 name vir die Woord: wet, getuienis, bevele, gebod, vrees, verordeninge
  2. 6 eienskappe van die Woord: volmaak, gewis, reg, suiwer, rein, waarheid.
  3. 6 dinge wat dit doen: verkwik die siel, gee wysheid aan die eenvoudige, verbly die hart, verlig die oë, vir ewig, regverdig

Ons kan nie in detail ingaan op al hierdie beskrywings nie, ons gaan wel in die behandeling van NGB 3-7, wat juis oor die Woord gaan, meer aandag daaraan gee.

Ons egter hier dat die Woord volmaak is soos God, dat dit waar, suiwer en reg is, en gegee is aan die mens om sy siel te verkwik, op ons lewenspad te lei, om ons bly te maak,

Om ons te leer van God en sy wil en sy bevele.

Ja, in die woorde van Joh.17:3, om die waaragtige God te ken in leer en lewe.

So, ons het nou tweedens geleer: :

God openbaar Hom en ons ken Hom deur 2 middele, Na- en skriftuur

Derdens, om te leer vanoggend: wat is nou die verhouding tussen die 2 openbarings?

Ons kry die antwoord in Dawid se woorde in verse 12 en 13:

(19:12) Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon.

(19:13) Die afdwalinge — wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is.

“Kan die natuur (die mens of iets in die skepping) vir ons al die deugde van God openbaar?

Kan die natuur vir ons leer wat is reg en verkeerd?

Kan ons kyk na die mens en diere se optrede en reg en verkeerd leer … soos die wêreld doen … kan enige terrein van die lewe sonder God se besondere openbaring, ook in die politiek, reg en verkeerd bepaal?

Kan die natuur ons wys op ons afdwalinge en sondes?

Kan die natuur ons leer van Christus, verlossing, vergifnis en die ewige lewe?

Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.

Die natuur kan ons nie red van ons sondes nie.

En kan ons nie leer wat reg en verkeerd is nie, kyk hoe bely ons dit ook daar in DL ¾.4 in navolging van die Skrif,

Na die sondeval het daar in die mens tog nog ’n bietjie van die lig van die natuur oorgebly. Daardeur het hy ’n mate van kennis van God, van die natuurlike dinge van die onderskeid tussen die betaamlike en die onbetaamlike bly behou en vertoon hy in ’n sekere mate ’n strewe na deug en uiterlike tug. Vir die mens is dit egter onmoontlik om deur hierdie lig van die natuur tot die saligmakende kennis van God te kom en hom tot God te bekeer. Gevolglik kan hy selfs in natuurlike en burgerlike sake hierdie lig nie reg gebruik nie. Hoe ook al, veeleer verduister hy dit op verskillende maniere heeltemal en bedek dit in ongeregtigheid. Omdat hy dit doen, is daar vir hom geen verontskuldiging voor God nie.

Vir 2 redes:

  1. God het nooit bedoel dat ons net van die natuur alleen sou lewe nie, van die begin af hoor ons: En God het gesê, en Hy het beveel …. God wou van die begin af, nog voor die sondeval met die mens ook woordeliks kommunikeer, en
  2. Juis a.g.v. van die sondeval, ken die mens nie meer reg nie, kan hy God nie meer reg ken nie, MAAR OOK, kan die mens die skepping en alles om hom nie meer volkome reg ken nie.

En daarom het die mens ‘n skoon bril nodig om die hele lewe te sien (Calvyn): en dit is die Woord

Ja, die gelowige en ongelowige sal altwee na ‘n boom kyk, en sê dit is ‘n boom,

Maar ongelowige sal sê die boom getuig van evolusie, toeval … en dan die boom aanbid en ‘n drukkie gee … die gelowige sal sê die boom getuig van sy Skepper, van God, die eer van God, dan die boom water gee, snoei en ook afkap en ‘n tafel daarvan maak.

Daarom het ons die Woord nodig om die ‘waaragtige God reg te ken’, en so ook sy kosmos en sy eer orals raak te sien,

Omdat ons sondig is en in die woorde van Rom.1:18, die waarheid probeer onderdruk deur valse sogenaamde kennis, soos evolusie, wat sommige ‘wetenskap’ wil noem, maar eintlik ‘wetenskapsfiksie’ is.

En daarom, juis die laaste woorde van Dawid:

v.13-15 Die gebed van Dawid of die gelowige aangaande God se openbaring

Psalm 19:12 – 15,  Spreek my vry van die wat verborge is.  13 (19:14) Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding.  14 (19:15) Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser! 

Alleen deur Skrifopenbaring, nie natuur-openbaring nie, kan ons ons rots en verlosser, Jesus Christus leer ken.

Paulus se woorde in Rom. 1:16, 17 “WANT ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (Ro 1:16–17)

In die Heilige Skrif word ons alles geleer, soos NGB 2 bely, wat ‘nodig’ om tot eer van God en die saligheid van sy kinders te lewe.

Dit bring ons by ons laaste punt:

Geliefdes, waar staan u met God se natuur en Skriftuur?

Erken u die wonder van God se skepping … verwerp ewolusie?

Getuig elke dag vir u ook van God se wonder en bestaan, sy krag en majesteit ?

As dit so is, wonderlik! Maar dit is nie genoeg nie.

Waar staan u met sy Goddelike Woord, en dus met Christus self?

Dawid sê in vers 11, nadat hy so in vervoering geraak het oor die Woord van God in verse 8-10, dat:  10 (19:11) Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. 

Onthou, goud, veral in destydse wêreld, is die kosbaarste metaal, geld, rykdom, en Dawid sê dit is baie meer werd as dit ook soeter, lekkerder as heuningstroop.

Dink aan wat vir u die kosbaarste EN lekkerste ding op aarde is

Is die Woord vir U dan nog meer kosbaar as dit?

Onthou Joh.17:2,3, 3 En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

En dit kan ons weet alleen deur sy Woord.

Mag ons God ken, nie net as Skepper nie, maar ook as ons Verlosser, in Jesus Christus.

Deur ook sy Woord lief te hê, te ondersoek,en te gehoorsaam, en daarom,

Daarom bid ons saam met Dawid vanuit Psalm 19:

Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my Rots en my Verlosser!  

Amen.
_______________________
NGB prediking reeks hier beskikbaar


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: