Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis
artikels 5&6
Die gesag van die 66 boeke, die Heilige Skrif
(1 Thess. 2:13)
Lees: 1 Thess. 2:9-16
Teks: “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.” (1 Th 2:13).”
Tema: NGB artikel 5&6 – Die gesag van die 66 boeke, die Heilige Skrif
Preekopname (GK Carletonville, 2020-10-11, nota: die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die audio preek is meer volledig):
Preek: NGB artikels 5&6 – Die gesag van die Heilige Skrif
Geliefdes in Christus,
Daar is ‘n groot gesagskrisis in ons tye, in ons land, die wêreld.
Omdat God se gesag verwerp word, Ps. 2
omdat God se gesag oor wie Hy is, wat reg en verkeerd is,
soos geopenbaar in die Bybel verwerp word,
word die gesag van mense oor mense wat God daarstel
ook verwerp, bv.
ouers oor kinders
kerkrade oor lidmate
owerhede oor onderdane
En om dit erger te maak, is die gesagsinstelings ook nie onskuldig nie,
baie ouers, kerkrade en burgerlike owerhede misbruik hul gesag,
om onreg en boosheid te bevorder.
En nou is die gevaar dat die gelowige in sulke situasies,
hetsy as gesagsdraers en/of gesagsontvangers
ook in stryd met God se gesag optree,
dus in stryd met God se Woord.
Dit is een van die redes waarom ons juis belydenisskrifte het,
om ons te help om te hoor wat die Here se Woord ons leer oor sy Woord se gesag.
Ons hoor dit daar in 2 Tim. 3:16,17 …
“sodat die mens van God volkome toegerus kan wees vir elke goeie werk,”
dus wat ons moet glo en hoe ons moet lewe,
midde ons wêreld van gesagsmisbruik en wanorde.
NIE hoe heidene optree nie, nie wat my hart voel nie,
nie wat die goddelose verdien nie,
maar God se wil, sy gesag moet ons lewens en optredes bepaal.
En daarom, baie toepaslik, leer ons uit God se Woord,
aangaande ons belydenis in NGB art. 5 en 6
– art. 5 oor die gesag van die Heilige Skrif, en
– art. 6 oor die onderskeid tussen kanonieke en apokriewe boeke
Ons wil die belydenis belig uit verskillende Skrifgedeeltes.
Eerste saak: “Ons aanvaar hierdie boeke en hulle alleen”
Dit verwys dus terug na art. 4, waar die 66 boeke genoem word,
nie 65 of 67 nie, maar 66, soos ons ‘n vorige keer gehoor het.
“Ons aanvaar al hierdie boeke en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig.”
Hier is die sleutelwoord, die woordjie ‘aanvaar’
Dit beteken ons bepaal nie wat die 66 boeke is wat heilig en kanoniek is nie.
Heilig = afgesonder, die 66 boeke wat God afgesonder het en wat as die ‘heilige en Goddelike Skrif’ bekendstaan, art.3
Wat dus deur God inginspireer is, deur Gees uitgeasem.
Kanoniek = maatstaf, meetstok, vandag meetinstrument soos ‘n liniaal.
Nou aanvaar ons dit, d.w.s. ons het dit ontvang, ons erken dit wat God aan ons gegee het
Ons bepaal en stel nie vas wat God se Woord is en wat dit nie is nie,
ons ‘stem’ nie oor die Woord van God nie.
Daarvan het ons juis gelees in Paulus se brief aan die Tess, as hy skryf:
“Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.”
Die gelowiges ‘ontvang’ God se Woord, hul sê nie vir Paulus wat is God se woord en wat is nie.
So lees ons ook in hfst.1 vers 6:
En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees,
En in 2 Thess 2:15,
So dan, broeders, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is òf deur ‘n woord òf deur ‘n brief van ons.
En so vind ‘n mens dit reg deur die Bybel,
-of dit Moses, Jesaja, Dawid of Maleagi is wat God se woord gebring het, of later die apostels
die gelowiges het daardie woord ontvang vir wat dit is: die lewende woord van God.
En die woord, vir ons vandag, die 66 boeke, word ontvang om, bely ons in art.5:
“ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig”
Hierdie 66 boeke is die riglyn, fondament en sekerheid van ons geloof.
Niks daarbuite bepaal ons geloof nie, ons staan of val by die 66 boeke.
Nie nuwe stemme of mense idees of nuwe apostels nie,
nee ons het God se wil en ons het God se gesag reeds!
Maar, hoe het ons sekerheid daarvan ?
Hoe weet ons dat dit net hierdie 66 boeke is ?
Dit bely ons in die volgende 2 sinne:
“Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”
Rede 1: nie juis omdat die kerk dit leer nie
Rede 2: die Heilige Gees bevestig dit in ons harte
Rede 3: die Skrif se selfgetuienis
Ons erken dat God deur sy Gees, gelowiges deur die eeue, die kerk gelei het om die 66 boeke te ontvang en te erken as die Bybel
Agv dwaalleraars wat wou vermeerder of verminder, moes die kerk lyste opstel
dit het einde AD 397 plaasgevind met die Sinode van Carthage.
MAAR, belangrik ons bely nie omdat die kerk dit erken nie, daarom glo ons dit nie.
Nee, in die begin was die Woord
Jesus: hierdie belydenis, woord, sal ek my gemeente bou, Matt. 16:18
Die woord is die fondament van die kerk en nie andersom nie!
Die Roomse kerk se die kerk bepaal die Woord,
ons bely die Woord bepaal die kerk!
2. Die Heilige Gees bevestig dit in ons harte
Dit is wat Paulus dan ook leer in 1 Tess.2;13
Die woorde “maar soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo”
Deur die Gees het die gelowiges sy woord en die woord van God ontvang.
Ons het geleer in 2 Petrus 1:19-21, dat “deur die Heilige Gees gedrywe” het die Woord ontstaan,
2 Tim. 3:16,17 dat die hele Woord deur die Gees van God geinspireer is.
Die Thess gelowiges word deur die Gees van God gelei om God se Woord te erken, te ontvang, te aanvaar.
Sonder die Gees kan mens nie die Woord aanvaar nie,
noem dit die subjektiewe bevestiging van God se Woord:
2 Kor. 3:12-18, leer hoe ons die Gees nodig het om sy vleesgeworde en geskrewe Woord ‘van harte’ te aanvaar:
2 Kor. 3:12 – 13:18 12 Terwyl ons dan sodanige hoop het, gebruik ons baie vrymoedigheid; 13 nie soos Moses nie, wat ‘n bedekking oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die einde van wat moes vergaan nie. 14 Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. 15 Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; 16 maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. 17 Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. 18 En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.
Maar, die Woord is ook objektief die Woord van God,
het die getuienis in ditself:
Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.
3) Alles wat voorspel is en geprofeteer word in die OT, bv. aangaande Christus, is vervul, almal kan dit raaksien.
Dit is wat bedoel word met die woorde ‘selfs die blindes’ kan dit sien,
dws dit is so duidelik as jy die Bybel self lees!
Van die eerste tot die laaste belofte word vervul.
DIT BEVESTIG God se Woord en die gesag waarmee dit kom.
Petrus skryf hiervan in 1 Petr.1:10-12,
1 Petrus 1:10-12 10 Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, 11 en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. 12 Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is — dinge waarin die engele begerig is om in te sien.
Dit bring ons by artikel 6:
In artikel 6 word genoem wat die apokriewe boeke is, en wat ons daarmee kan doen en nie doen nie.
Apokrief = wat verborge is
Daar is onsekerheid oor wie dit geskryf en wanneer geskryf is
Daardie boeke het ongeveer ontstaan tussen die 300 VC tot 100 NC
Maar, die kerk van Christus het dit nooit erken as die Woord van God nie,
as kanoniek nie.
Wel het die LXX (Griekse vertaling van die OT) en die Latynse Vulgaat dit ingesluit in hul bybels weens druk van die mense
Maar die Hebr. OT, die 39 boeke het dit nooit ingesluit nie
Ons hoor baie die woorde, die wet, profesie en geskrifte, maar nooit van die apokriewe in die NT nie.
Rome erken wel die geskrifte, maar nie die gereformeerdes nie, en die redes is as volg:
1. OT Hebr Bybel het dit nie in nie, die Jode het dit nie erken nie
2. Jesus en die apostels het nooit daarna verwys of aangehaal nie
3. die vroeë kerk het dit nooit as kanoniek aanvaar nie, baie kerkvaders het teen die insluiting daarvan gepleit.
4. Die apokriewe boeke bevat baie onakkuraathede en fabels
5. Hulle het baie leringe wat in stryd is met die Bybel, o.a. Pred. 3:30 en Tobiu 12:8-9.17 = redding deur werke.
Maar, as die apokriewe boeke nie heilig en kanoniek is nie, wat maak ons daarmee?
Ons bely:
Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem.
Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.
Dit beteken, dat ons die apokriewe boeke soos enige ander kommentaar of boek oor die Bybel moet hanteer.
Dit kan ons help om die Bybel beter te verstaan, maar dit mag nie gelyk gestel of bo die Skrif gestel word nie, geen kanonieke gesag nie.
Dit is blote hulpmiddels.
As u iets daarvan wil lees, lees 1 en 2 Makkabeers,
gee goeie inligting oor tussen tydperk tussen Maleagi en Matteus,
vervolging van die Jode, ens.
Natuurlik het Paulus nie oor die apokriewe boeke geskryf nie,
maar die implikasie van sy woorde geld:
1 Thess. 2:13 13 Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.
Ons moet DUS duidelik onderskei tussen die aard en gesag van God se Woord en enige ander mense woorde.
Die ‘sleutel van die kennis en verstaan’ van die Skrifte is die Gees en die Woord (Joh.4:24; 16:13; 17:17). Soos prof. L. Floor dit tereg …. Dat hierdie gegewens ‘n dienende funksie het, sal niemand betwyfel nie. Maar wanneer hulle oor die teks gaan heers, is ons nie meer op die reformatoriese pad nie. My wens is dat ons met mekaar indringend gaan besin oor hoe ons die Bybel wil verklaar.” (Die Kerkblad, Des 2003, p.11. Beklemtonings bygevoeg – SLC ).
Dus, bestudeer soveel as moontlike inligting, Bybelse of buite Bybelse bronne, maar altyd met die volgende gesindheid en perspektief: “En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Hand.17:11).
Toepassing, vandag:
1 Thess. 2:13 3 Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.
God se Woord en Gees is onlosmaaklik verbonde aan mekaar,
mag nie losmaak nie, ook nie teenoor mekaar stel nie.
Die Gees het sy Woord gegee in die 66 boeke
En dan sal dieselfde Gees ons nie in ander of nuwe openbaringe lei nie,
maar om God se gesag wat ons reeds ontvang het,
te kan verstaan, glo, en te doen tot sy eer en heil van ons naaste.
Jesus se belofte self:
“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” (Joh. 16:13)
En dan sê Jesus in Joh. 17:17, Heilig hul in U waarheid, U woord is die waarheid.
Dit wat ons van harte glo en bely in NGB art. 4 en 5.
Sien ook hierdie twee bronne:
– dr JC Coetzee, Die Kanoniek van die OT en NT
– prof. GJC Jordaan, Wie het besluit dat die 66 Boeke in die Bybel moet wees?
Geliefdes, om die gesag van God, van die Bybel te aanvaar is ‘n saak van geloof … van harte, soos ons ook bely HK v/a 21:
“Vraag: Wat is ‘n ware geloof?
Antwoord: ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.”
In die woorde van NGB art. 5,
glo u sonder twyfel ALLES wat daarin vervat is …
die evangelie, God se Woord, sy wil vir gesagsinstellings en ontvangers.
“om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig”?
In Thess 2:13, se woorde, ‘ontvang’ jy van harte, woord en daad, gedagtes,
God se wil, gesag, woord, het jy dit ‘ten volle’ aangeneem?
As u sukkel, moet u juis na Christus gaan en vra vir geloof,
en sy Woord dan ondersoek,
sodat die Gees u kan oortuig om ALLES te aanvaar vir u lewe en alles wat dit leer!
WANT soos Jes. 66:2 dit stel: “…. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.” (Is 66:2)
Amen.
Leave a Reply