LAAT U KONINKRYK KOM
DIE BYBELS-GEREFORMEERDE KONINKRYKSBESKOUING
Gereformeerdes bely in navolging van die Heilige Skrif, ons koninkrykbeskouing in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 48:
Vraag: Wat is die tweede bede?
Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp1. Bewaar u kerk en laat dit groei2. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word3, totdat die volkomenheid van u ryk kom4 waarin U alles in almal sal wees5.
Skriffundering:
- Psalm 119:5; Psalm 143:10; Matteus 6:33
- Psalm 51:20; Psalm 122:6-7
- Romeine 16:20; 1 Johannes 3:8
- Romeine 8:22-23; Openbaring 22:20
- 1 Korintiërs 15:28
Ek plaas dr. SJ van der Walt se verklaring van hierdie Koninkryksondag graag hier, bestudeer dit gerus, sodat dit ons ook kan help om te leer wat ons roeping en toekoms is vir ons hele lewe, om in die woorde van ons Here Jesus, eers sy koninkryk en geregtigheid te soek, en dan sal al die dinge wat ons nodig het, vir ons bygevoeg word (Matt. 6:33).
ONS KONINKRYKSTAAK EN VISIE
WAARVOOR ONS BID IN DIE ONSE VADER*
deur dr. SJ van der Walt
“LAAT U KONINKRYK KOM” — Vr. 123.
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” — Matt. 6:33.
Die tweede bede van die “Onse Vader” gaan in teen die ryk van satan hier op aarde. Die gelowige verkeer diep onder die besef van die sondige toestand van die wêreld. Deur die sondeval het die mensdom onder die mag van satan gekom. Ons lees in Luk. 4:5-7 hoedat satan Christus op ‘n hoë berg gebring en hom al die koninkryke van die aarde getoon het en vir Hom gesê het: “Ek sal U al hierdie mag gee en hulle heerlikheid, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort”.
Goddank dat Christus nie voor die versoeking beswyk het nie! Dan was die wêreld verlore. Vir ‘n tydjie sou Hy in mag en glorie geregeer het, om uiteindelik te gronde te gaan en saam met die aardse ryk in die graf weg te sink. Immers, dit is die kenmerk van al die wêreldryke, die ryke van satan, dat, alhoewel hulle uiterlik skitter in glorie, mag en rykdom, hulle tog innerlik verdorwe is en hulle die kiem van die verderf in hulle dra. Hoe groot en magtig ook die wêreldryke mag wees, nie een van hulle sal bly bestaan nie. Die ewige lewe en die ware geluk is nie in hulle te vinde nie. En daarom het Christus gekom om ‘n ander, ‘n hemelse Koninkryk te stig. ‘n Ryk wat sal bly tot in alle ewigheid. ‘n Ryk van onverganklike vrede en geluk, waarin die sonde en die dood g’n plek meer sal hê nie. En daardie Koninkryk het Christus dan gestig deurdat Hy satan op Gólgota oorwin het.
Nou heers Hy as Koning en stry Hy deur sy kerk om die mag van satan vir goed te breek en sy Koninkryk op aarde uit te brei totdat die volkomenheid bereik sal wees en God weer alles sal wees in almal (vgl. 1 Kor. 15:27 en 28). Daarom het God aan Hom alle mag gegee en ‘n naam wat bo elke naam is, sodat elke knie voor Hom sal buig (Fil. 2:9-11). Die ganse geskiedenis draai om hierdie stryd tussen die koninkryk van die hemele en die ryk van satan, die owerste van hierdie wêreld.
Die gelowige stry tot die dood toe om die ryk van Lig en Vrede op aarde te laat seëvier. Hy besef dat daar g’n geluk, g’n vrede op aarde kan wees, solank God nie in Christus Jesus as die enigste Koning van hemel en aarde erken en gedien word nie. God regeer wel ook vandag op die aarde, sodat daar niks buiten sy wil geskied nie. Maar tog moet Hy met dwang heers oor die magte wat Hom weerstaan. Daar is dus gedurig stryd en onrus. En vrede kan daar alleen kom wanneer alles en almal vrywillig in die liefdediens van God staan, wanneer Sy wil die enigste wet op aarde is en alle harte en sinne in Christus saamverbind is tot ‘n volkome en waaragtige eenheid.
Daarom bid die gelowige: “Laat u koninkryk kom”, en voeg hy ook die daad by die woord en stry met alle mag teen al Gods vyande, insluitende sy eie hart, wat ook tot verset teen God geneig is. Sy begeerte is ‘n wêreld wat net één Koning het en waarop net één Koningstroon staan en waar net een septer swaai, nl. dié van God almagtig, Skepper en Verlosser van hemel en aarde.
“REGEER ONS DEUR U WOORD EN GEES” — Vr. 123.
“Leer my om, u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land” — Ps. 143:10.
As ons bid: “Laat u koninkryk kom”, dan is dit ‘n versoek, ‘n uitnodiging, ‘n bede tot God dat Hy ons aan Hom wil onderwerp en ons tot gewillige en getroue onderdane van Hom wil maak. Ons vra dan meer van God as net blote leiding, soos die Oxford Groep en ander doen. Nee, ons wil nie net gelei wees nie, ons wil diensknegte wees wat in gehoorsaamheid die wil van ons Heer en Meester doen. Die mens is van nature geneig om hardnekkig en eiesinnig te wees en hy wil graag sy eie baas . wees en oor homself regeer. Die kind van God is egter iemand wat homself verloën en sy knie voor God buig en vir wie dit ‘n eer en voorreg is om ‘n dienskneg van God, die Allerhoogste, te wees.
En dan juis is ons vry wanneer Christus ons vrygemaak het van die bande van die sonde en ons aan God verbind het met bande van kinderlike liefde en trou. Daartoe gebruik God sy Woord en Gees. Wanneer die Woord deur die Gees in ons harte geplant word, dan word ons nuwe skepsele en word die boeie van satan in ons lewe verbreek. En so word God dan Koning oor ons en regeer Hy in ons harte.
Maar die bede: “Laat u koninkryk kom“, is dan ook gerig teen al die werke van die duiwel in die ganse wêreld, selfs ook onder die heidendom! Die begeerte van die gelowige is dat God altyd en oral Koning moet wees. Hy moet regeer in ons huise, in die kerk, in die skole en universiteite, in ons maatskaplike en politieke lewe. Daar mag g’n enkele organisasie van watter aard ook wees wat God nie as Koning erken en dien nie. Dit is die ideaal van die gelowige, waarvoor hy bid en werk. En selfs onder die heidendom het hy net die een groot gedagte wat hom besiel in sy sendingswerk, en dit is “Laat u koninkryk kom!”
Dis nie in die eerste plek uit liefde vir die heiden of met politieke bybedoelings dat hy die heidendom vir die Christendom wil win nie; nee, dis net met die loflike gedagte dat God in Christus ook daar, onder die heidene, moet regeer en dat satan se ryk daar neergewerp moet word. Die gelowige kan nooit tevrede wees as daar nog mense op aarde is wat God se heerskappy nie wil erken nie, selfs al weet hy ook dat hy nie in staat is om almal vir Christus te win nie.
Vandaar die onuitblusbare sendingsywer wat die kerk deur al die eeue heen besiel het. In sy wese is elke gelowige ‘n sendeling wat hom steeds beywer om Gods koninkryk op aarde uit te brei. Daarom kan hy nie stilsit nie. Daarom kan hy hom nie terugtrek in ‘n hoek soos sommige sektes doen nie. Hy kan nie berus in die gedagte dat sy plekkie in die hemel wel versekerd is nie, Dit gaan vir hom nie in die eerste plek om sy eie saligheid nie maar om die eer van God.
En daarom kan hy nie die wêreld aan homself oorlaat nie. Hy kan nie maar dinge laat begaan nie. Nee, hy verset hom met alle mag teen alles en almal wat God se Naam onteer en streef om die ganse wêreld te onderwerp aan sy Koning, Jesus Christus. Daarom bid hy ook steeds: “Kom, Here Jesus, Amen, ja, kom Here Jesus!” (Openb. 22:20).
“BEWAAR EN VERMEERDER U KERK” — Vr. 123.
“Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe. Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise” — Ps. 122:6 en 7.
God gebruik veral sy kerk op aarde vir die uitbreiding van sy koninkryk. Aan die kerk is die opdrag gegee om die Evangelie te verkondig (Matt. 28:19). En die apostel verbind die geloof aan die Evangelieprediking as hy sê: “Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?” (Rom. 10:14).
Die doel van die kerk op aarde is dus nie in die eerste plek die redding van siele nie, maar om as instrument in Gods hand te dien vir die uitbreiding van sy koninkryk. Die kerk moet dus nie net daarop uit wees om siele te win, soos in Metodistiese kringe die geval is nie. Nee, die kerk moet in sy wese en optrede steeds soek om God Koning te maak oor alles en almal, waarby die redding van siele dan nie ‘n doel op homself is nie maar. alleen ‘n middel tot ‘n doel, nl. om God se eer te bevorder.
Die kerk is ook nie ‘n maatskaplike organisasie om volkswelsyn te bevorder nie. Die kerk het nie ‘n tydelik-aardse doel nie. Wel sal die kerk deur die prediking hervormend in werk op die aardse toestande en dit deurdring met ewigheids- en hemelse beginsels en gedagtes. Ook die kerklike barmhartigheidswerk het nie sosiale opheffing in die oog nie maar om die koningskap van Christus in sy gemeente te openbaar as die Weldoener en Helper van sy volk.
As ons daarom bid vir die kerk op aarde, dan is dit nie in die gees van kerkverheerliking, asof die kerk ‘n doel op sigself sou wees nie. Die kerk is ‘n instrument om Gods koninkryk te vestig en daarom mag die kerk nie soek om in kerkistiese sin die wêreld te domineer nie. Dis nie die kerk nie maar God wat in Christus die wêreld moet regeer. As mens die aktiwiteite van baie kerke nagaan, kry jy die indruk dat die kerk nie meer sy eie taak en roeping goed verstaan nie. Daar word meer aandag gegee aan politieke, ekonomiese, sosiale en rasse-kwessies as aan die godsdienstige vraagstukke. So kan die kerk naderhand ‘n politieke masjien word en in die gees van Rome die ganse wêreldlewe wil oorheers.
Wel is daar aan allerlei sake ‘n sedelik-godsdienstige aspek verbonde waarop die kerk ‘n duidelike Bybelse getuienis moet gee, maar die kerk mag nie met allerlei menslike aksies en organisasies wil affilieer as ‘n soort hooforganiseerder of besturende direkteur daarvan nie. Die koninkryk van Christus is nie van hierdie wêreld nie (Joh. 18:36, 37).
Daarom moet ons ook steeds vir die kerk bid en nie net altyd klaarstaan om die kerk te kritiseer nie. Die kerk is die mees geseënde instelling op die ganse aarde, en dit sou ‘n ramp vir die wêreld wees as die kerk te gronde moet gaan. Ons moet daarom bid dat die kerk bewaar mag bly teen vervalsing, insinking van die geestelike lewe, wêreldgelykvormigheid, verderwing deur sonde, verdeeldheid en so meer. Ons moet bid vir die ampsdraers en hul gesinne, dat hulle getrou mag bly en krag mag ontvang vir hul uiters moeilike en verantwoordelike werk. Ons moet bid dat die kerk steeds uitgebrei mag word deur aanwas van verbondskinders, deur toetrede uit die heidendom, deur terugkeer van dié wat afgeval het.
Ons moet bid dat die Here mag voorsien in die behoefte aan arbeiders in sy wingerd. En as ons dan so vir die kerk bid, sal ons ook weet om ons plig te doen en die kerk te dien net waar ons kan, met alle middele wat God ons gegee het. Ons sal lewende lidmate wees. Ons sal met vreugde ons bydraes vir die kerk gee en met die kerk saam lewe in alle opsigte. En ons sal op die Sabbatdag nie gemis word onder diegene wat na Gods huis gaan om te bid om die vrede van Jerusalem nie.
“ALLE BOSE PLANNE WAT TEEN U HEILIGE WOORD BED1NK WORD” — Vr. 123.
“Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” — Openb. 3:10.
Die Skrif noem Gods Woord die swaard van die Gees (Efés. 6:17). Dis die magtige wapen in die hand van die kerk waarmee dit Gods vyande moet verslaan en God se koninkryk opbou. Daar is niks bestand teen Gods Woord nie; dit keer nooit leeg terug nie. Dis ‘n tweesnydende swaard en ‘n dodelike wapen. Die Skrif sê: “Die Woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart” (Hebr. 4:12).
Satan het dan ook van die begin af sy bitterste aanvalle gerig teen Gods heilige’ en dierbare Woord. Selfs onder die Ou Testament was daar tye dat die Woord van God totaal vergeet is en weer ontdek moes word (vgl. 2 Kron. 34:14 e.v.). Onder die Nuwe Testament was daar ook van die vroegste tye af valse leraars wat die woorde van die Skrif verdraai het en ‘n valse geloof gepropageer het (vgl. Openb. 2:15 en 20).
Ook weet ons uit die kerkgeskiedenis hoe dat daar venynige aanvalle op die Skrif gedoen is om dit bespotlik voor te stel en die waarheid daarvan te betwyfel. Verder het keisers en priesters saamgespan om die Bybel uit die hande van die mense te hou. Daar is soms talle Bybels met vuur verbrand. In die moderne tye was dit weer die ongelowige wetenskap en die Skrifkritiek wat oneindig veel kwaad gedoen het en duiwelse aanslae op die waaragtigheid en betroubaarheid van die Bybel gemaak het.
Desnieteenstaande het die Bybel homself gehandhaaf en het al die aanslae teen die Skrif misluk. En vandag word erken dat die Bybel ‘n wonderlike boek is, ja, selfs ‘n unieke boek, onvergelyklik skoon en verhewe en waaragtig. Ja, daar is ‘n terugkeer tot Skrifstudie, en selfs die ongelowige wetenskap stel hom meer en meer op die algemene standpunt van die Skrif, nl. dat daar ‘n Skepper moet wees wat alles gemaak het en wonderbaarlik bestuur. En weer blyk dit dat “wat dwaas is by God, wyser is as die mense, en wat swak is by God, is sterker as die mense” (1 Kor. 1:25). Die Bybel word vandag gelees in oor die 1100 tale en is die mees gelese boek ter wêreld.
Daarom moet ons steeds bid dat God al die aanslae teen die Bybel mag verydel. Dit sou vir ons en ons kinders in alle opsigte ondergang en verderf meebring as die Skrif uit ons hande moet raak. Dan sou ons g’n troos, g’n raad, g’n lig meer hê op ons lewenspad nie. Nee, ons moet God dank dat ons die Bybel nog ongeskonde mag besit, en ons moet met dankbare harte die Skrifte ondersoek, sodat dit nie naderhand in die kerk of in ons huise onder die stof begrawe word soos dit by Israel in die tyd van Josia was nie.
Bron: Die Vaste Fondament: Dagboek uit die Heidelbergse Kategismus (11-14 Desember)
_______________________________
* Opskrif bygevoeg.
Pro Regno artikels: Die koninkryk van God
Baie dankie vir verrykende artikels, in die besonder vir prof vd Walt se artikel oor die koninkryk van God. Marinus