DIE 2020-VERTALING: Die twee belangrikste sake om vertalings aan te beoordeel

DIE 2020-VERTALING: Die twee belangrikste sake om vertalings aan te beoordeel

  1. Watter grond- of brontekste word gebruik?
  2. Watter vertaalmetode word gebruik?

Bybelvertaling is ‘n sensitiewe saak, en heeltemal tereg. Die Woord in ons eie taal is God se openbaring aan ons, aangaande Homself, verlossing, om tot sy eer lewe en ons naaste te dien (2 Tim. 3:14-17; sien NGB art. 1-7).

In my studiejare, het ek ‘n werkstuk gedoen, in gespreksformaat, om ‘n lidmaat te help om die twee belangrikste sake in oog te hou, as ons vra:

Is ‘n bepaalde vertaling ‘n getroue en betroubare vertaling van God se onfeilbare Woord, vanuit die grondtale?

Ek plaas weer daardie werkstuk hier (gedoen in die NT vakgebied, onder leiding van prof. Fika J van Rensburg), in verwerkte vorm waar ek dit nodig geag het. Ek beplan ook om DV, in die toekoms meer oor hierdie sake te skryf, so hierdie dien as ‘n oorsigtelike inleiding op die onderwerp:

BEOORDELING VAN BYBELVERTALINGS

Beste Johan,

Ek sien uit na ons afspraak volgende week om te gesels oor die kwessie van Bybelvertalings. 

Ek het solank hierdie brief as antwoord op jou vier vrae opgestel.  Bestudeer dit asseblief sodat ons ’n goeie ingeligte gesprek Donderdag kan voer. 

Hierdie is ’n moeilike maar belangrike onderwerp, en daarom is dit nodig dat ek heelwat terme moet gebruik, wat jy dalk nie ken nie. Bel my gerus as ek dit verder moet verduidelik, of anders kan ons dit volgende week bespreek.

Hou jou Bybel en belydenis byderhand sodat jy die argumente kan kontroleer.  Gebruik asb albei die Afrikaanse vertalings (1933/53&1983) sodat jy juis die verskille kan vergelyk en bestudeer.

Dankie en groete

Slabbert

Inleidend

Johan,

Voordat ons na die vier probleemgevalle kyk wat jy in jou brief genoem het, moet ons eers oor die algemeen gesels oor die kwessie van Bybelvertalings.  Ek glo dit sal jou ook help met die probleemgevalle.

a) Bybelvertaling is eerstens nie ’n maklike taak nie. 

Dit verg baie kundigheid, wysheid en nederigheid om die Heilige Skrif, die Woord van die HERE, te vertaal (oor te sit)[1] in ons eie taal.  Daar is verder die probleem dat die Skrif ontstaan het in tye, kulture, woordgebruik (idiome) en omstandighede wat oor ’n tydperk van omtrent 2000 jaar plaasgevind het.  Al hierdie sake moet in ag geneem word.  Verder sit ons – wat vandag, in die hede, die Woord van die HERE moet ontvang en verstaan – in ’n ander tyd, kultuur en omstandighede, wat alles ’n rol speel in hoe ons die Bybel vertaal, verstaan en toepas.   

b) Bybelvertaling is tweedens, egter nie ’n onbegonne taak nie. 

Ons aanbid ’n God wat in sy voorsienigheid sy Woord vir sy kinders bewaar deur die eeue, en wat sy Heilige Gees vir sy kinders skenk om hul in alle waarheid te lei, ook in die sorg om Bybelvertalings vir ons tye daar te stel. 

Ons bely dan ook in NGB artikel 3 wat ons glo aangaande die “Geskrewe Woord van God”, wat ons basiese voorveronderstellings bevat aangaande Bybelvertalings:

“Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ’n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek soos die heilige Petrus sê. Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.”

Uit ons belydenis kan ons weet dat God se geskrewe Woord ook vir ons en ons kinders bewaar en behoue bly.

Hoekom dan al die verskille en debatte in ons kerke vandat die 1983-vertaling bygekom het

Wel, daar kan baie redes genoem word, maar sonder om in te veel detail te verval, wil ek net twee aspekte noem wat myns insiens die hele debat tussen die 1983 en 1933/53 vertaling (afkortings: OAV en NAV) bepaal.  Ek dink ook hierdie twee aspekte sal ons help om jou vier probleemvrae te bespreek.

Die twee aspekte is as volg:

  1. die verskillende grondtekste van die oorspronklike tale (OT: Hebreeus/Aramees; NT: Grieks) wat gebruik word vir die vertaling van die Bybel.
  2. die verskillende vertaalmetodes

1. Grondtekste

Ons het nie meer die oorspronklike Griekse tekste waaruit die NT bestaan nie. 

Ons het wel manusskripte (afskrifte) van die oorspronklike teks wat deur die eeue van geslag tot geslag ‘ge-copy’ is.  Dit is interessant om te weet dat daar meer manuskripte is vir die NT as vir enige ander antieke dokument (oor die 5000 in Grieks; oor die 8000 in Latyn en nog baie in ander tale).  

As hierdie klomp manuskripte vergelyk word dan sien ’n mens dat daar ’n oorweldigende ooreenstemming is tussen al hierdie manuskripte, veral in vergelyking met ander antieke dokumente. 

Die meeste verskille wat daar wel is, is hoofsaaklik as gevolg van:

  • sekere gedeeltes wat nie in alle manuskripte voorkom nie
  • die verskillende maniere hoe die manuskripte vertaal word

Met die tyd is manuskripte gegroepeer (gerekonstrueer) om bepaalde eienskappe soos: ooreenkomste, tyd waarin dit ontstaan het, plek waarin die manuskrip voorgekom het, bepaalde kenmerke, ens. 

Verskillende manuskripte het ook vir baie eeue verlore gegaan en is eers weer in die 19de eeu en die vroeë 20ste eeu ontdek. 

Vandag, a.g.v. bogenoemde faktore is daar hoofsaaklik drie groepe rekonstruksies van die grondtekste:

  1. Textus Receptus (Erasmus, 1516): die Meerderheids- tradisionele of oorgelewerde teks van die Griekssprekende kerke. Dit was dan ook die grondteks wat die kerk van die Reformasie, die King James Bible, die Statenvertaling en die OAV gebruik het.
  2. Alexandrianse (Westcort-Hort) teks (1880):  aan die einde van die 19de eeu is ’n paar manuskripte ontdek wat baie minder is maar as ouer beskou is as die Meerderheidsteks en die Textus Receptus, en wat heelwat daarmee verskil.  Hierdie grondteks is die basis van die meeste moderne vertalings, gebaseer op die Nestle/Aland uitgawes, o.a. die NIV, NASB, ESV en die NAV (en die BDV, oftewel 2020-vertaling). 
  3. Meerderheidsteks (Farstad-Hodge, 1985): vandag is daar ’n groter terugkeer na hierdie rekonstruksie van die grondtekste, gebaseer op die meerderheid van bestaande Griekse manuskripte.  Dit toon ’n groot ooreenkoms met die Textus Receptus, behalwe vir ‘n paar gevalle waar daar verskille is.     

Die groot debat oor hierdie verskillende grondtekste is, of die manuskripte ‘geweeg’ moet word en of dit ‘getel’ moet word.  Verder is daar nog die probleem wie bepaal die kriteria om finaal te besluit watter manuskripte is meer ‘betroubaar’ en ‘beter’.  In vroeëre uitgawes van o.a. die NIV en die NAV is daar in die voetnota’s beweer dat die Alexandrianse teks ‘beter en betroubaarder’ is as die ander, maar hierdie akademiese hoogmoed is intussen gelukkig laat vaar in baie gevalle, maar nie in alle gevalle nie. 

Onthou dat 85% van die inhoud van die NT in aldrie hierdie rekonstruksies gevind word.  Die debat en gesprek is oor die tussen 13-15% verskil wat daar wel is. 

Professor GLC Jordaan van ons teologiese skool, wat ons onderrig het aangaande die verskillende grondtekste, wys daarop dat die verskille in die manuskripte of groepe hierbo nooit die kerk ontspoor het nie. Hy skryf:

“Waar dwaalleer wel opgeduik het, was dit telkens die gevolg van die verkeerde verstaan van die Bybel – nooit gevolg van ’n verkeerde afskrif van die Bybel nie.  In elke afskrif word steeds dieselfde ewige, onveranderlike drie-enige God geopenbaar, word dieselfde evangelie van verlossing en versoening in sy Seun verkondig, word die heerskappy van dieselfde Koning geproklameer.”[2]

Ten einde wys prof Jordaan verder daarop dat aanhangers van verskillende grondtekste niemand verseker kan sê syne is die regte en al die ander is verkeerd nie, en daarom vra dit van ons ’n benadering van “nederigheid ten opsigte van eie insigte en voorkeure.”[3]

Jy sien dus, Johan, wanneer die OAV en die NAV verskil in terme van gedeeltes wat daar is of nie is nie, iets weglaat (of byvoeg) nie, is dit nie noodwendig om daardeur “God se woord (te) verander of verdraai” nie, maar omdat daar ander grondtekste gebruik is.  Dit beteken dat voorstanders van die OAV nie voorstanders van die NAV kan aankla dat hul die Woord verdraai nie, en voorstanders van die NAV nie daarop kan roem dat hul beter en meer betroubare grondtekste het nie.  

As ’n mens na sekere vertalings kyk, dan sal hul in ’n voetnota ’n aanduiding gee hoekom dit verskil van ander vertalings en dus van ander grondtekste.  Die New King James Version is myns insiens in hierdie verband die beste, aangesien dit gereeld aanwys waar die Textus Receptus verskil met die Aleksandriaanse en Meerderheidsteks

Die verdere probleem aangaande Bybelvertaling, lê op die vlak van vertaalmetode, waar myns insiens die kwessie van die verdraaiing van die Woord wel ’n groter gevaar is.

Kom ons kyk so bietjie daarna. 

2. Vertaalmetodes

Without form, you loose meaning” – prof. C. John Collins[4]

Wanneer dit by die vertaling van die Bybel kom, is daar ’n wye verskeidenheid van vertaalmetodes beskikbaar. 

Dit lê alles tussen ’n mees letterlike vertaling soos ’n interlinêre Bybel tot ’n parafrase soos bv. Die Boodskap.

Vir die doeleindes van die OAV en die NAV, moet ons egter kyk na die twee bekendste vertaalmetodes vandag, wat ek noem die brontaal-vertaling en die dinamies-ekwivalente vertaling (afkortings: BTV en DEV).

Verskoon maar al die akademiese taal, maar dit is nodig om hierdie belangrike onderwerp te verstaan.

’n BTV se fokus is om nie net die betekenis nie, maar ook die vorm/struktuur van die oorspronklike teks oor te sit op ’n verstaanbare wyse in ’n moderne taal.  Inteendeel, dit redeneer dat sonder die inagneming van die vorm, die boodskap/betekenis ook verlore gaan.  Dit beteken dat die manier hoe die sinne saamgestel is en selfs die woordorde so ver moontlik behou word in die moderne taal. Die fokus is op die teks, nie die leser nie.

’n DEV vertaling se fokus is om die betekenis van die oorspronklike teks so na as moontlik in die moderne taal en vorm oor te sit, sonder om noodwendig die vorm van die oorspronklike na te volg.  Die klem val op die leser en nie die teks nie.

Tot en met die 20ste eeu was omtrent alle vertalings BTV georïentieerd, maar die geleerde, Eugene Nida, het die DEV die mees populêre vertaalmetode gemaak van die 20ste eeu. 

Die OAV is ’n BTV en die NAV is DEV (Die BDV of 2020-vertaling is ‘n ‘bronteks’ gefokusde vertaling). 

Dit verduidelik waarom dit so baiemaal vreemd op die oor klink as die twee vertalings saam gelees word. 

Een van die medewerkers aan een van die nuutste Engelse vertalings, The English Standard Version (2001), som die verskil tussen die BTV en die DEV as volg op:

“The theory of dynamic equivalence in Bible translation emphasizes the reaction of the reader to the translated text, rather than the translation of the words and phrases themselves.”[5]  

Johan, dit is veral hier, by die keuse van vertaalmetode, waar ek saam met jou besorg is oor die NAV. 

As ’n mens selfs ’n vertaling soos die NIV vat wat ooreenstem met die NAV in grondteks én vertaalmetode, dan sien ’n mens onmiddelik dat daar selfs tussen hierdie vertalings groot verskille is.  Dit sien ’n mens bv. veral in die vertaling van die Godsname, en hoe sekere dele heeltemal verskillend vertaal is.   

Ek neem daarom baie mense nie kwalik as hul meen dat die NAV in baie dele streng gesproke nader aan ’n parafrase as ’n vertaling is nie. 

Prof. SJ Du Toit (seun van Totius) wat aan die NAV begin saamwerk het, het later onttrek juis omdat hy geglo het dit moet ’n vertaling wees en nie ’n verklaring nie.

“My objective has been to discern whether or not dynamic equivalence (as it claims) does an equal – or even beter – job of conveying meaning in comparison to the essentially literal approach. I find that it fails, and fails consistently, and the more dynamic the translation, the worse the failure. I think that the explanation for this lies in two main impulses that undergird the dynamic equivalence philosophy: the separation of form and meaning and the desire to clarify the menaing of the text beyond what is actually present in the linguistic details of the text.” – prof. C. John Collins[6]

3. Probleemgevalle

As ons bogenoemde twee sake – verskillende grondtekste en vertaalmetodes – in ag neem, sal ’n mens die vier probleemgevalle wat jy in jou brief genoem beter verstaan. Kom ons kyk daarna:

1) 1 Johannes 5:7

Die groot vraag hier is of die drie hemelse Getuies “Die Vader en die Woord en die Heilige Gees” weggelaat is (NAV) of bygevoeg is (OAV)?

Die NAV grondteks het nie hierdie woorde nie, omdat hul ander grondtekste oftewel manuskripte volg as die OAV s’n. 

Dit is dus nié omdat die vertalers van die NAV die Drie-eenheid wou ‘wegvertaal’ of om een of ander samesweringsteorie nie, maar bloot omdat hul die meerderheid van manuskripte volg wat nie hierdie inskrywing het nie (Alexandriaanse en Meerderheidsteks). 

Daar is net ’n paar manuskripte, Griekse en Latynse afskrifte en die Latynse Vulgaat wat wel hierdie woorde bevat.  Dit is verder belangrik om op te merk dat ook die Meerderheidsteks nie hierdie woorde bevat nie, wat in die oorgrote meerderheid met die Textus Receptus ooreenstem, behalwe by hierdie versgedeeltes.

Interessantheidshalwe, sekere aanhangers van die OAV probeer beweer dat die grondtekste van die NAV probeer die Drie-eenheid en Christus se Godheid ontken. 

Vergelyk egter bietjie Johannes 1:18 in die OAV en die NAV.  Die NAV en sy grondtekste is hier baie meer duidelik oor Christus se Godheid (… Sy enigste Seun, self God …) as die OAV (die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is) op hierdie plek (so ook die BDV).  As hul dus die Drie-eenheid of Christus se Godheid wou aantas, sou hul nie hierdie lesing gevolg het nie, of hoe?

Ekself is oortuig dat die 1 Joh. 5:7,8 moet bly, maar dit beteken nie in hierdie geval dat as ander grondtekste dit nie het nie, dat dit noodwendig ‘anti-Trinitaries’ is nie.

2) Johannes 1:5

Johan, in hierdie voorbeeld het ons duidelik te doen met ’n begrip of frase in die oorspronklike Grieks wat op verskillende manier vertaal kan word. Enige vertaling van hierdie gedeelte:

  • “dit nie oorweldig nie”
  • “het dit nie aanvaar nie”
  • “dit nie uitdoof nie”

is moontlik volgens die konteks.  EP Groenewald, die bekende Afrikaanse verklaarder verduidelik dit as volg:

“Die werkwoord in die grondteks wat hier met “aanvaar” vertaal is, het ’n wye reeks betekenisse. Dit kan wees: aanneem, verkry, gryp, begryp, verstaan, bemeester of oorweldig. In hierdie teks kan dit selfs “blus” beteken. In ouer vertalings is die neiging om te vertaal: “die duisternis het dit nie oorweldig nie”. Dit is gedoen gedagtig aan die oorwinning wat Christus aan die einde oor die mag van die Bose sal behaal. So verstaan, word die slotwoorde van vers 5 as ’t ware ’n triomfantlike uitroep. Tog blyk dit uit die onmiddellike teksverband dat dit eerder vertaal moet word met “nie aanvaar nie”.

Die verloop van die Evangelie is ’n verhaal van die onwil van die mense om Jesus as die goddelike lig en lewe te aanvaar (vgl. 1:11; 3:19; 8:12–20). Die werkwoord in die verledetydsvorm dui op ’n gebeurtenis in die geskiedenis, maar ook op ’n dergelike gebeurtenis wat homself telkens op bepaalde tye herhaal. Die duisternis het nie net eenmaal in die verlede die lig nie aanvaar nie, byvoorbeeld deur die verwerping van Jesus, maar die duisternis doen dit iedere keer weer, ook in die lewe van die enkeling. Daar is verset teen die lig en ’n onwil om die lig te aanvaar. So was dit in die verlede en is dit vandag nog.”[7]

Die belangrike is die basiese boodskap dat die duisternis nie die lig kan of wil ontvang nie, wat in al die vertalings hierbo in ’n mindere of meerdere mate na vore kom. [8]

Daarom is dit nie ’n kwessie van die Bybel wat na goeddunke verander word nie, maar is dit ’n bewys van die worsteling om die beste vertaling moontlik daar te stel. 

3) 1 Petrus 3:22

Die OAV fokus daarop dat die brontaal so naby as moontlik oorgesit word, terwyl die NAV daarop fokus dat die huidige lesers die begrip of betekenis van hierdie woorde so duidelik as moontlik verstaan.

Nou, of jy of ek daarmee saamstem of nie, as ’n mens die doel van ’n bepaalde soort vertaling (bv. die NAV) verstaan, dan sal ’n mens ook ’n beter begrip hê waarom ’n sekere sin so vertaal word. 

Ek dink albei die OAV en die NAV se bedoeling is albei dat dit a) betroubaar moet wees, d.w.s. getrou aan die grondtale, en b) dat dit verstaanbaar is, d.w.s. dat die boodskap duidelik en helder moet deurkom in goeie Afrikaans. 

Die OAV meen dat dit alleen gedoen kan word deur te fokus op die getrouheid aan die grondtale ook in sy vorm, terwyl die NAV dit doen deur te fokus op die leser of huidige ontvanger van die Bybel.

Omdat die NAV nie fokus daarop om ’n woord-vir-woord vertaling te wees nie, daarom beskou hul dit nie nodig om elke woord oor te sit nie. 

Ek vermoed dit is die rede waarom die eerste uitgawe die woorde ‘engele en magte en kragte’ oorgesit het onder die frase ‘bose magte’. 

Deur verdere studie het hul vermoedelik agtergekom dat hier van twee of drie verskillende begrippe gepraat word en nie net een nie (dit wil wys of op ’n hierargie van die bose magte of verskillende soorte bose magte, en nie net een groot groep nie[9]), en daarom het hul dit later weer reg vertaal as drie losstaande begrippe.

4) Baie vertalings

Johan, jy is heeltemal reg, die Woord van God, is soos God, onveranderlik en één.  Dit bely ons ook volgens die Skrif:

“Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.” – 1 Petr 1:24,25.

Die feit dat daar verskillende vertalings van dieselfde Bybel in verskillende tale en selfs in dieselfde taal is, vat nie hierdie feit weg nie, want ons bely dat die Heilige Skrif in sy oorspronklike tale onveranderlik en onfeilbaar is. 

Dit is verder ook waar dat ’n mens dieselfde ding kan sê, maar op verskillende maniere.  As die grondteks sê: “Jesus sê,” dan kan ek vertaal: “Jesus sê” of “Hy sê”, maar ek sê dieselfde ding, maar op verskillende maniere.

Ekself sal nogsteeds die eerste keuse gebruik, bloot omdat die grondteks dit so stel, en omdat ek dink die vertalers moet nie keuses namens die lesers maak nie, maar die lesers met die hulp van prediking, katkisasie, bybelstudie, verklarings, ens help om self keuses uit te oefen.  Die voetnotas, en nie die teks nie, is die plek vir die vertaler se keuses en teologiese insigte hoort. 

Faktore soos die ontdekking van nuwe manuskripte en die ontwikkeling van taal kan ook verdere vertalings tot gevolg hê.

Ekself is ook besorg waarom daar vandag so aandrang daarvoor is om omtrent elke 10 jaar net nog ’n vertaling uit te bring.  Die King James Version was omtrent vir 300 jaar die standaard Engelse Bybel en die Statevertaling ook vir ongeveer 300 jaar.  Skielik – dalk vandat die vertaalmetode begin fokus het op mensewoorde en nie God se Woord nie? – is daar omtrent elke 10 jaar (in bv Engels) net nog ’n nuwe vertaling.  Ek dink nie dit kan ’n goeie ding wees nie.

Daar word baiemaal geredeneer dat vandag se wêreld en vandag se Afrikaans so radikaal verander het, dat ons daarby moet aanpas.  Maar ek weet nie of dit so ’n goeie ding is nie. Moet die goeie Bybelse Afrikaans van die 1933/53 vertaling nie juis ons taal en kultuur bepaal en reformeer nie ?  So het die KJV help veroorsaak dat die Engelse wêreld ’n goeie Engels ontwikkel het wat vir eeue bestaan het.

Dalk lê die probleem eerder daarby dat die wêreld die kerk infiltreer –ook wat woordeskat betref- en nie die kerk die wêreld verander nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, daar is natuurlik woorde en frases van die OAV wat beter en meer korrek vertaal kan word, soos wat in sekere gevalle wel waar is t.o.v. die NAV.  Ek dink egter nie die fokus moet wees op die (post)moderne “TV Afrikaans” nie, maar wel op die brontaal in goeie Afrikaans vir vandag. Vertaalwerk is immers ook ‘n opvoedings- en kultuurwerk!

In sending- en evangelisasie situasies moet jong gelowiges geleidelik opgevoed word tot goeie bybelse ‘kerkafrikaans’.

’n Verdere probleem is dat vertaalwerk uit die hande van die kerk geneem is en nou bepaal word deur organisasies soos bv. die Bybelgenootskap.  Dit veroorsaak baiemaal dat ons met minder as die beste van ’n vertaling mee moet vrede maak, aangesien alle denominasies so wyd as moontlik met ’n gesamentlike vertaling geakkomodeer moet word (dit is veral ook die geval met die 2020-vertaling, as mens sien wie al die ‘medewerkers’ is). 

My eie mening is verder dat, ter wille van die eenheid van die GKSA en die onderlinge vrede, ’n kerkverband ’n amptelike kansel- en bedieningsBybel moet hê, bv die OAV. Ander vertalings, parafrases, ens moet dan as blote hulpmiddels aangewend word, bv die NAV, die Boodskap, die Lewende Bybel, ens. 

Ek persoonlik sou verkies dat die Textus Receptus of die Meerderheidsteks as standaardteks gebruik en dan in die voetnotas aandui waar dit verskil met Textus Receptus/MT en die Aleksandrianse teks, asook die rede waarom hul dit verkies het.  In die voetnotas kan ook verskillende vertalings- en verklaringsmoontlikhede gegee word. Maar, opmerkings soos die ‘beste grondtekste of mees betroubare grondtekste’ opmerkings spreek ‘n oordeel uit wat in stryd is met die bybelse leer dat God sy Woord vir ons bewaar het deur al die eeue, nie eers vandat die Alexandriaanse teks ontdek is in die 18de eeu nie, sien hierdie skrywe van my wat meer daarop ingaan:

God se voorsienigheid, die kanon en die grondteks

Slotsom

Johan, ek hoop jy verstaan nou beter waarom die OAV en die NAV so verskil:

  • verskillende grondtekste
  • verskillende vertaalmetodes

Ons moet versigtig wees om allerlei motiewe aan die vertalers en voorstanders van die NAV (of 2020-vertaling) te koppel, alhoewel daar heeltemal tereg, baie vrae wel is wat mens besorg maak.  As ’n mens hul vertrekpunte beter verstaan, kan ’n mens ook beter hul vertaal- en grondtekskeuses verstaan, sonder om noodwendig daarmee saam te stem.

Party medegelowiges van ons gaan so ver as om te beweer die NAV is nie die Woord van God nie. Ek wil nie daardie uitspraak waag nie, dit kan ‘n (baie) slegte of onbetroubare vertaling wees, maar ek laat die oordeel aan God oor. 

Al wat ek in my eie studies van die brontale, vertaalmetodes, teologie, geskiedenis, ens. kan sê, is dat my eie beskeie mening is dat die NAV –o.g.v. sy vertaalmetode- nie ’n betroubare goeie vertaling is van die Woord van God in Afrikaans nie, en daarom gebruik ek dit nie as my bedieningsbybel nie en kan ek dit ook nie aanbeveel nie.    

Die 2020-vertaling het pas verskyn, dit is brontaal georiënteerd in vertaalmetode maar volg nog die N/A teks. Hier kan my skrywes daaroor gelees word, en waarmee ek nog steeds besig is om te evalueer:

BDV: 2020-vertaling beoordeling   

Johan, ek wil veral die volgende twee werke by jou sterk aanbeveel om jou verder te help met die vertaalkwessie:

  1. In ons eie taal. Die waarde en gebruik van die 1933/53 en 1983 Afrikaanse Vertalings van die Bybel.
  2. Tekskritiek van die Griekse Nuwe Testament. ‘n Eerste Ontmoeting.

As jy die boeke nie in die hande kry nie, kan jy dit by my kom leen.

Ek sal jou Donderdag ook verskillende boeke wys wat jy kan lees oor hierdie onderwerp.

Ek gaan ook op my blog, soos hierbo genoem, meer skryf oor beide vertaalmetode en grondtekste, hoe my blog dop.

Bronnelys (sien ook die voetnota bronne)

BIBLEWORKS ON CD-ROM 5.1

FARSTAD, A.L. 1993. The New King James Version in the Great Tradition. Nashville: Nelson.

JORDAAN, G.J.C. 1998. Tekskritiek van die Griekse Nuwe Testament. ‘n Eerste Ontmoeting. Ongepubliseerde klasdiktaat. Potchefstroom: TSP.

METZGER. B.M. 2000. A Textual Commentary on the Greek New Testament. Stuttgart: Deutsche Bibelgesellschaft.

RYKEN, L. 2002. The Word of God in English. Criteria for Excellence in Bible Translation. Wheaton: Crossway Books.

VAN BRUGGEN, J. 1997. The Ancient Text of the New Testament. Winnipeg: Premier Publishing.

VAN DER WALT, J. (red.). 1986. In ons eie taal. Die waarde en gebruik van die 1933/53 en 1983 Afrikaanse Vertalings van die Bybel. Potchefstroom: PU vir CHO.  


[1] “Uit die een taal in ‘n ander taal oorsit.” – Verklarende Afrikaanse Woordeboek

[2] Tekskritiek van die Griekse Nuwe Testament. ‘n Eerste Ontmoeting. Ongepubliseerde klasdiktaat, TSP, 1998. Potchefstroom. p.64

[3] Ibid., p.65.

[4] Aangehaal in Leland Ryken. 2002. The Word of God in English. Criteria for Excellence in Bible Translation. Wheaton: Crossway Books, p.295.

[5] Ibid.,p.13.

[6] Ibid., p.316.

[7] Die Evangelie volgens Johannes. Kaapstad: NG-Uitgewers.

[8] Similarly the verb ouj katevlaben includes the past of the preincarnate Logos, as of the Incarnate Logos, and extends into the era of the Church’s witness to the Logos made flesh, katalambavnein can mean “grasp” in the sense of makes one’s own (cf. Phil 3:12), understand (Eph 3:18), overcome or overtake (12:35, cf. 1 Thess 5:4). The context (cf. 10–12) suggests that acknowledging and receiving the truth of the revelation is primarily in view here. – George R. Beasley –Murray (WBC, VOL.36. John. Dallas: Word Books).

[9] Sien E.G. Selwyn, The First Epistle of St. Peter. The Greek Text with Introduction, Notes and Essays. Grand Rapids, MI: Baker Books, p. 207.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: