TOTIUS: DIE GRONDTEKS VAN DIE NT & VAN ‘N “AFRIKAANSE STATEVERTALING” NA ‘N “UIT DIE OORSPRONKLIKE TALE” VERTALING
Inleiding
In ‘n vorige artikel het ek verwys na die Nederlandse Statevertaling (1637) en die OAV (1933/53) wat voor in die onderskeie vertalings verklaar dat dit “oorgesit (is) uit die Oorspronklike Tale”, juis omdat daar baiemaal misverstand is oor of die OAV vertalers uit die oorspronklike tale vertaal het, en of hul bloot die Statevertaling (SV) vanuit Nederlands na Afrikaans vertaal het.
Ek het Totius se artikels gaan bestudeer wat Hy oor Bybelvertaling geskryf het (Versamelde Werke, 1977-uitgawe, deel 1: “II. Bybelvertaling”, bl. 93-185), en gesien dat hy eers in 1916 nog sterk gepleit het vir ‘n ‘Afrikaanse Statevertaling’, vir praktiese redes, o.a., omdat die SV vir die volk so bekend en geliefd was deur die eeue, en dat dit goed sou wees om daarby te bly so na as moontlik.
Tien jaar later, skryf Totius heel anders, en dit lyk my hy het moontlik die Dordtse Sinode van 1618/19 se vertalingsbesluite bestudeer, wat sy vorige standpunt verander het, nl. nie ‘n ‘Afrikaanse Statevertaling’ nie, maar ‘n unieke eerste Afrikaanse vertaling, nl. ‘Die ganse Heilige Skrif wat al die Kanonieke Boeke van die Ou en Nuwe Testament bevat, oorgesit uit die oorspronklike tale.”
Ek plaas een van sy artikels daaroor hier onder, asook ander aspekte wat bybelvertaling raak (watter brontekste moet gebruik word?), om daardie beginsels en historiese band in ag te neem, ook as ek in opvolgende artikels hier (weereens) gaan skryf oor die verskillende bron- of grondtekste wat onderliggend en verskillend is, tussen die 1933/53 vertaling (Textus Receptus = Oorgelewerde Teks, soos met die KJV, SV, NKJV, ens.) en die 1983/2020-vertaling (Nestle-Aland teks, soos met NIV, ESV, ens.). Totius maak nie baie uitsprake oor verskillende grondtekste nie, en as hy uitsprake maak, dan is dit baie versigtig en voorlopig.
Ek haal hier onder ook so paar aspekte daarvan aan en vra enige leser om vir my meer inligting te stuur as hul weet van meer ekplisiete uitsprake wat Totius in terme van die ‘beste grondteks’ gemaak het.
TOTIUS OOR BYBELVERTALING: ‘N PAAR AANHALINGS*
- Die vertaler is nie ‘n verklaarder nie
“Die vertaler is nie ‘n verklaarder nie. ‘Maar wel moet hy (die vertaler), sal sy arbeid die naam van vertaal verdien, meer sien as los naas mekaar geplaaste woorde. Die gedagte in sy geheel moet hy raaksien, ook al hoef hy dit nie heeltemal te deursien nie’. (bl. 112; Het Kerkblad, 15 Junie 1916)
SLC opmerking: Totius haal vir FW Grosheide aan, en wys dat hy ‘n voorstaander is van ‘n getroue letterlike vertaling, nie ‘n verklaring nie.
2. Wie kan as verklaarders optree?
“Natuurlik manne wat goed tuis is in die grontale van die Skrif en meteen deeglike kennis van godsgeleerheid besit. Maar daar is meer nodig, ‘Hy moet ‘n taalgeleerde maar ook taalkunstenaar wees, en hierdie laaste bepaald wat sy moedertaal betref.’ (Grosheide)… Die vertalers moet in ons geval manne wees wat in die drie Hollandse Kerke werksaam is, van verskillende teologiese opleiding maar één op die grondslag van dieselfde belydenis.” (bl. 118, 120; Het Kerkblad, 15 Julie 1916 )
SLC opmerking: Totius is ‘n voorstaander van ‘n vertaling waarin die vertalers konfessioneel een is.
3. Bybelvertaling en tekskritiek: watter grondteks moet gebruik word vir die vertaling van die NT?
Totius verwys na die nuwe Nederlandse vertaling waaroor Grosheide geskryf het (in 1916, let wel: maak ‘n duidelike onderskeid wat Grosheide sê, uitgewys deur sy naam of tussen enkel aanhalingstekens, en wat Totius self skryf):
“In hfst. II spreek prof. Grosheide oor ‘Besonderhede wat by die vertaling van die Bybel ter sprake kom’. Die eerste is aan die orde ‘n paragraaf oor „Bybelvertaling en tekskritiek’ Prof. G. wys aan dat in die vorige eeu die vraag so belangrik geword het: Watter grondteks moet by die vertaling gevolg word ? In die 19de eeu is tog tal van nuwe handskrifte van die Nuwe Testament ontdek en die bekendes noukeurig bestudeer.
Soos die leser weet, bestaan daar van dieselfde Bybelboeke verskillende handskrifte, wat nogal aanmerklik van mekaar afwyk. Wat die Nuwe Testament betref, is egter, na veelvuldige arbeid, ‘n resultaat bereik. ‘Die nuwere uitgawes van die (Griekse) grondteks wyk nie soveel van mekaar af nie, en so kon daar ‘n sg. deursneeteks deur Nestle gegee word, wat baie gou hoog gewaardeer is en algemeen gevolg word’ (Grosheide) ….
Wat nou die grondteks van die Nuwe Testament aangaan, is prof. Grosheide daarvoor dat nie die Textus Receptus nie (die Griekse teks wat deur ons Statevertalers gebruik is) maar ‘n sogenaamde deursneeteks soos die van Nestle gevolg moet word. ‘Vir die 0u Testament was dit miskien nog moontlik om ‘n mens aan die Massoretiese teks te hou, maar om vir die Nuwe Testament die Textus Receptus, d.i. die vroeër algemeen aanvaarde teks, te volg, sal niemand seker verdedig nie (slc opmerking: daar was en is nog steeds goeie geleerde godsvresende verdedigers, wat ongelukkig bloot geignoreer of as belaglik afgemaak word vanuit ‘n ‘modernistiese gearriveerde tekskritici’. Ek sal in ‘n opvolgende artikel na ‘n paar skrywers verwys wat ook bestudeer moet word, om dit te vergelyk met die hedendaagse ‘Oorgelewerde Aanvaarde NA Textus Receptus’). Maar dan soveel moontlik? Dan kom ander besware op. Wat is ,soveel moontlik’? (Grosheide)
Enkele opmerkinge oor hierdie punt word teruggehou totdat ons by ons verdediging van ‘n „Afrikaanse Statevertaling” kom…. (bl. 115, 116; Het Kerkblad, 1 Julie 1916)
Soos aangetoon is, is daar een gevoele wat wil hê dat die Skrif uit die oorspronklike vertaal sal word. Ons het gesien watter besware daarteen opweeg en die deurslag gee. Vandaar dat ‘n ander gevoele veld wen, naamlik om eenvoudig die aan ons bekende Statevertaling in Afrikaans oor te bring.
Met die laaste standpunt voel ons heeltemal eens, en ons sou nie weer daaroor geskryf het as daar nie een punt was waar ons van die gangbare mening ‘n bietjie afwyk nie.
Voor ons daarop ingaan, moet eers nog ‘n gewigtige beswaar teen die vertaling uit die Statebybel ondervang word.
Daar word gesê dat ons die Statebybel nie tot grondslag kan neem nie, omdat deur die latere ontdekking van ou handskrifte die grondteks van die Nuwe Testament groot verandering ondergaan het en ten gevolge daarvan ‘n ander, byna algemeen aangenome grondteks deur geleerdes vasgestel is.
Ons antwoord dat dit waar is maar dat ‘n mens met die bewering stadig oor die klippe moet gaan.
Ten eerste het daar deur die nuwe teks heelwat woordverskil gekom, maar die saakverskil is nie so baie groot nie. Bekende teksbewerkers het dan ook opgemerk dat die verskil in saak en stof tot ‘n 60- of 70-tal plekke beperk is.
Maar nog iets anders. Staan die resultaat van die tekskritiese wetenskap hier werklik so vas? Nie so lank gelede nie het ons nog gelees dat die groot teoloog Harnack ‘n boekie geskryf het waarin hy beweer dat ook die nuwe grondteks nie deug nie maar dat die ou vertalings van die Bybel (veral die Latynse) geraadpleeg moet word om die suiwerste teks te kry.
Ons sien dus ten minste dit dat die groot manne oor hierdie kwessie nog nie uitgepraat is nie. Bowendien, al die teologiese vakke wat spesiaal op die Bybel as boek betrekking het, verkeer nou in ‘n toestand van wording en verwording weens nuwe ontdekkings en nadere ondersoekinge. Ons moet dus ‘n bietjie tyd gee om tot vastigheid te kom. Dus al weer ‘n argument om nie met ‘n vertaling uit die nuwe grondteks te haastig te wees nie.” (bl. 135-136; Het Kerkblad, 1 Oktober 1916 )
“By die (Afrikaanse) vertaling van die NT is die Textus Receptus gevolg, omdat ons Statevertalers dit gedoen het. Vergelykenderwys is egter ten dienste van die reviseurs ook enkele lesings van Nestle tussen hakies aangegee.” (bl. 153; Breë kommissie, 7 Augustus 1924)
SLC opmerkings: groot waardering vir die manier waarop Totius ‘tekskritiek’ beoefen het, naamlik met groot nederigheid en versigtigheid, dat hy met God se Woord besig is. Ons lees nêrens die siening van sommige moderne tekskritici dat die TR ‘korrup’ is en heeltemal vervang of weggegooi moet word nie, dit is en bly die Woord van God. Ons hoor nie ‘n gesindheid van dat eers toe twee ouer manuskripte ontdek is einde die 19de eeu, toe eers het ons nou die korrekte Woord na baie eeue nie, asof die Woord vir eeue verlore was voordat die NA teksweergawes ‘ontdek’ is, nie.
4. Nie ‘n Afrikaanse Statevertaling nie, maar ‘n nuwe unieke Afrikaanse vertaling uit die oorspronklike tale, wat uitgaan van die vertrekpunt dat die kerke wat erken dat die Heilige Skrif die blywende, geïnspireerde Woord van God is.
“Wat ons standpunt in hierdie opsig moet wees, is duidelik, gedagtig aan die feit dat die Bybelvertaling in Afrikaans uitgaan van en bedoel is vir kerke wat die Heilige Skrif erken as die blywende, geïnspireerde en onfeilbare Woord van God, as die beginsel van alle teologie, as die onfeilbare norm vir leer en lewe. Daar is vir ons geen ander keuse as om die oorspronklike so na moontlik te volg nie.
Op die titelblad van ons Afrikaanse Bybel moet kan staan die woorde, waarmee die Stateoorsetters hulle werk by die kerke van Nederland aangedien en waarmee hulle tereg by dié kerke vertroue gewek het:
‘Uit de oorspronklike talen in onze Nederlandse (lees: Afrikaanse) taal getrouwelik overgezet’.
Wel sal ons op ondergeskikte punte daardie „getrouwelik overgezet” van ons vaders bietjie anders verstaan as hulle, omdat ons ‘n meer organiese opvatting van die inspirasie, sowel as ‘n meer organiese opvatting van taal, huldig. Maar dit hoef in die grond en wese van die saak geen verskil te maak nie. Ten slotte sal, na ons gedagte, die welslae van die Afrikaanse Bybeloorsetting daarvan afhang of vir die vertalers gedurig voor die gees gesweef het die majesteitlike woord van die profeet Jesaja, wat ons hier in sy bekende Latynse vertolking weergee: „Verbum Dei manet in aeternam” (Die Woord van God bestaan tot in ewigheid. —Red.)
Hiermee hang ‘n ander vraagpunt ten nouste saam, naamlik: Moet ons oorsetting ‘n blote vertaling wees van die Statebybel, aangesien dit bestem is vir kerke wat die Statevertaling nog altyd as gesaghebbend aanvaar? Of moet daar regstreeks uit die grondteks vertaal word? Of is daar ‘n weg om die twee metodes te verenig, sodat die een gevolg en die ander nie heeltemal nagelaat word nie?
Ons het in dié opsig hier, in Suid-Afrika, taamlik heen en weer geslinger. Toe vyftig jaar gelede die saak ter sprake gekom het, was dit die plan om uit die oorspronklike te vertaal. Later, in 1886, is besluit om die Statevertaling te volg sonder inagneming van die grondtale. Toe egter ongeveer 1890 deur ds. Du Toit met die werk begin is, het die oorspronklike teks weer vorentoe gekom en is daar meer ag gegee op die „Revised Version” as op die Statevertaling. Die gesamentlike kommissie van die Hollandse Kerke, wat eindelik die werk opgevat het, het eers weer die Statevertaling as grondslag aanvaar, ewenwel met inagneming van die oorspronklike teks. In die praktyk het dit beteken (soos kan blyk uit die bekende proefvertaling van die vier Evangelies en die Psalms) dat ons Hollandse Bybel op die voet gevolg is, met hier en daar ‘n klein wysiging, regstreeks uit die Hebreeus of Grieks aangebring. Van dié standpunt word nou egter weer afgewyk.
Voordat ons verder hieroor spreek, moet eers meegedeel word wat die Dordtse Sinode van 1618 in hierdie saak besluit het. Bogerman, die voorsitter van die Sinode en later een van die vertalers, het in Dordrecht die pleit gevoer vir ‘n vertaling uit die grondteks. Onder meer het hy aangevoer dat die destyds bestaande Nederlandse vertalings geen oorspronklike werk was nie. Verder het hy ‘n goeie vertaling nodig geoordeel, sodat ‘n mens kan sê dat God ook in die Nederlandse taal spreek. In verband hiermee is van belang sy bewering dat ‘ ‘n sleg vertaalde Woord van God nie die Woord van God nie maar van mense is’.
Ek noem ook nog hierdie punt: ‘Die trou van die getroue huisbestierders en huisvaders, so het Bogerman beweer, eis dit’. Nadat die advies van die buitelandse godgeleerdes gehoor en daar op die Sinode pro en kontra gedebatteer is, het die besluit geval om direk uit Hebreeus en Grieks te vertaal. Wel sou ‘n nuwe vertolking aanstoot gee, maar dit was beter om een keer aanstoot te gee as herhaaldelik; want ‘n slegte vertaling het gedurigdeur verbetering nodig (vraag: is dit hoekom al die moderne vertalings so baie oor- en weer vertaal moet word? – slc).
By hierdie besluit is egter ‘n belangrike reserwe gevoeg. Om soveel moontlik die ergernis te voorkom wat uit groot veranderinge kon voortvloei, moes uit die ou vertaling alles behou word wat sonder skade vir die waarheid en die suiwerheid van die Nederlandse taal behoue kon bly.
Hierdie versigtigheid moes besonder in ag geneem word ten opsigte van die historiese boeke van die Nuwe Testament, omdat ‘n mens daar nie so baie plekke in aantref waar aanmerking op gemaak kon word nie—so is daar geredeneer.
‘n Dergelike reserwe, alleen in strenger woorde vervat, het ook gegeld by die totstandkoming van die sogenaamde „Authorised Version” van koning Jacobus—’n vertaling wat die Engelse afgevaardigdes aan die Dordtse Sinode met woorde van hoë lof as voorbeeld voorgehou het.
Op grond van wat die geskiedenis leer, meen ons dat ook die Bybeloorsetting in Afrikaans uit die oorspronklike bronne bewerk moet word, met hierdie voorbehoud egter dat so nou moontlik aangesluit sal word by die Statevertaling. so staan dit dan ook in die instruksie van die vertalers wat met die Bybeloorsetting in Afrikaans belas is. Die aansluiting by die Statevertaling, so lees dit daar verder, betref sowel die keuse van woorde as die bou van sinne, sover as dit bestaanbaar is met ‘n korrekte vertaling en die eis van ‘n suiwer Afrikaans.” (bl. 143-145; Die Kerkbode, 5 Mei 1926)
SLC opmerking: ek gaan in ‘n opvolgende artikel ingaan oor die kwessie van die ‘beste’ grondtekste of brontekste, met verwysing na die 2020-vertaling se gebruik van die NA tekstradisie.
_______________________
* Sekere subopskrifte is bygevoeg, bladsynommers in hakies is verwys na die 1977-uitgawe van Totius se Versamelde Werke, deel 1: Die Bybel; beklemtonings bygevoeg.
Leave a Reply