Posted by: proregno | February 15, 2021

Preek: Die prediking van God se magsryk gaan aan alle nasies en koninkryke, nie net oor individue en kerk nie (Jer. 1:10)

Die prediking van God se magsryk gerig aan alle nasies en koninkryke, nie net aan die individu en kerk nie (Jer. 1:10)*

deur ds. HJ van der Walt

Lees: Jeremia 1:1-10 en Psalm 24 

Teks: Jer. 1:10, “Kyk, Ek stel jou vandag aan oor die nasies en oor die koninkryke om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes, om te bou en te plant.”  

Inleiding op die preek – S. Le Cornu
Ds. van der Walt se treffende Jeremia 1 preek, wat vandag nog net so aktueel is as in die 1970’s, wys hoe die Woord van God aan almal gerig moet word, dat God in Christus oor alles regeer, oor alle nasies en koninkryke. 

Verkeerde sienings soos bv. die piëtisme, anabaptisme of die (radikale) twee koninkryke leer, is besig om skade aan te rig, deur die heerskappy van Christus en sy Woord as’t ware te wil beperk tot die individu, gesin en kerk, terwyl die Woord duidelik is dat die hele Woord tot die ganse wêreld, tot alle volke en nasies moet uitgaan, met ‘n oproep tot geloof en bekering, om die enigste Verlosser en Koning te aanbid en te dien … ongeag of hul dit wil hoor of aanvaar. Ds. van der Walt preek op ‘n plek:

“… Want (Jeremia) is deur God uitverkies, geroep en aangestel om gesant te wees van sy magsryk. Hy spreek tot die nasies en koninkryke van die wêreld met die gesag van die ewige Koning. Die Woord van God dra die hoogste gesag in die wêreld. Die gesag is onbegrens. Jeremia se aanstelling geld vir die ganse wêreld, “… oor die nasies en oor die koninkryke…” God, die ewige Koning, voer heerskappy oor die hele wêreld: “… Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want HY het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome…” (Ps. 24: 1, 2). 

Die God van die ganse wêreld beheers die geskiedenis van elke volk — gelowig of ongelowig. Hy, die God van orde, handhaaf sy gesag op ‘n besondere wyse. … God se gerig gaan oor alles wat sy gesag misken, ongehoorsaam is aan sy wil en sy eer nie soek nie; dit moet vernietig word. Dit is die sonde, in watter vorm en onder  watter mooi dekmantel ookal. God het immers self sy oordeel oor die sonde in die Paradys aangekondig, en handhaaf dit deur die eeue, om dit in die eindgerig te voltrek.”

Ds. van der Walt wys verder op die tweesnydende aspek van die Woordverkondig, wat baiemaal in ons tye gemis word, want almal is vir of teen Christus, en die prediking moet elkeen daartoe dwing, beginnende by elke lidmaat, maar ook in die hoogste raadsale van ‘n land, elke regeerder of president moet ook buig voor Christus (Ps. 2):

“Die oordeel is die helfte van God se raad. Sy volle raad, wat elke profeet en ook Jeremia moet verkondig, is: oordeel én genade. Daarom was Jéremia nie bloot ‘n swartgailige „sondejagter”, ‘n oordeelsprofeet wat met sy prediking verwoes en vernietig nie. Hy was in dieselfde asem ook ‘n genadeverkondiger wat gebou en geplant het. God bou en plant, in sy genade, die nuwe lewe op dieselfde plek waar sy oordeel die sonde vernietig het.

Jeremia moes „nuwe stede” bou, met dieselfde prediking, uit die puinhoop wat God se oordeel nagelaat het. Die nuwe aarde kom in die eindgerig as die herskepping van die ou aarde, deur God se oordeel. God breek die oue, wat in die greep van die sonde is, af om die nuwe daaruit te bou.

Die skaduwee van ons Hoogste Profeet, Jesus Christus val duidelik oor die wêreld in die profetiese optrede van Jeremia: die PRIESTERseun uit Anatot, is aangestel om die wêreld PROFETIES met die KONINGSwoord van God te regeer.” 

Hy preek ook dat nie die politieke, ekonomiese, onderwys of watter raadsale ookal die lot van die wêreld bepaal nie, maar die raadsbesluite van God wat tydig en ontydig van die kansels (en orals!) verkondig moet word uit en volgens God se Woord: 

“Alle oë is vandag gevestig op die raadsale van die wêreld en die kernkrag-arsenale van die groot moondhede. Dit lyk of die lot van die wêreld daar beslis gaan word, Die behendigste staatsman of die dapperste generaal gaan oënskynlik baas wees in die wêreld. Die waarheid is egter dat die lot van die wêreld reeds vasgelê is in God se raadsbesluite, en van die kansels af beslis word. Is dit nie onmoontlik nie? Die prediking van God se Woord tel tog nie meer mee nie; die wêreld luister dan nie na die „stem van die kerk” nie. Dit word allerweë as uit pas beskou. Mense wat klein dink van God en sy mag, kyk deur so ‘n bril na die prediking. 

Elkeen wat God waaragtig ken en bely in die geloof, weet dat Hy die Koning is van die ganse wêreld. Die prediking van sy Woord is die magtigste faktor in die wêreld, ongeag die eenvoudige predikantjie wat dit in ‘n eenvoudige kerkgeboutjie, op ‘n onaansienlike dorpie, verkondig. Die eenvoudige prekie, wat God se suiwere Woord verkondig, is magtiger as al die grootdoenerige toesprake in die V.V.O. en het meer krag as al die kwasi-gewigtige besluite van die Veiligheidsraad, want dit verkondig die lot van die wêreld wat reeds beslis is.”

In ‘n neutedop, wys ds. HJ van der Walt ons daarop dat, wat ons as predikers, kerkrade, gemeentes, ens. moet besef en daarvolgens ons lewens en ons gemeente lewe inrig, sodat die bediening van die Woord, sakramente en tug orals kan voortgaan:

“Die geskiedenis van die volke word nie deur die „grille van die noodlot” beheers nie; dit hang ook nie van die militêre krag of -gereedheid van enige nasie af nie, nog minder van die politieke behendigheid van enige staatsman. Die almagtige God, wat alles in sy raad besluit het, rig die ganse wêreldgeskiedenis. …. Die kerk het ‘n geweldige roeping om in ons deurmekaar wêreld die weg te wys met die prediking want die kerk staan in die wêreldbranding; al erken die wêreld dit nie. Die moderne mens maak van die kerk ‘n „uitgediende instelling”, ‘n „outydse stem” wat nie kan meepraat oor moderne vraagstukke nie. Die wetenskap en die V.V.O. het mos die antwoorde op alle vraagstukke. Daarom word die vraag dikwels gestel of die kerk nog ‘n „boodskap vir ons tyd en wêreld” het. 

Die kerk het nie net ‘n „boodskap” nie, maar die beslissende stem, is die mees gesaghebbende van alle instellings, oor die lotgevalle van die wêreld. Ons predikers moet weer diep besef dat hulle die gesagswoord verkondig van die Koning van die konings — selfs die veto-stem moondhede in die Veiligheidsraad moet voor hierdie Woord buig.”

En daarom die noodsaak dat daar getroue kerkrade, getroue gemeentes sal wees waar die Woord van God tydig en ontydig verkondig mag word, en daar op alle wyses die Woord sal uitgaan op die markpleine (Hand. 17:17), in beide oordeel en genade in Christus (2 Tim. 3:15-4:5), mag die Here ons daartoe genadig wees. 

“Die Bybel is ‘die boek van die Ryk van God’, nie ‘n boek vir hierdie of daardie eeu of slegs oor die enkeling nie, maar oor alle volke, vir die hele mensheid, nie vir een tyd nie maar vir alle tye. Dit is ‘n Ryksboek. En soos die Ryk van God nie naas en bo nie maar in en deur die wêreldgeskiedenis homself ontwikkel, so moet ook die Skrif nie afgetrokke, opsigself beskou en van alles geisoleer word nie, maar dit moet juis met ons hele lewe, met die lewe van die mensheid in verbinding gebring en tot verklaring daarvan gebesig word. Kortom, die Skrif is ‘n boek uit die verlede, maar ook ook die hede en toekoms . . . Dit kom tot gesin en maatskappy, tot kerk en skool. Dit is in een woord: die sprake van God tot die mensheid.” – Herman Bavinck (voorwoord in Kennis en Leven & voorwoord tot Matthew Henry se kommentaar)

___________________________________________________________________

God se Magsryk

deur ds. HJ van der Walt

Die kansel staan vandag meer as ooit in die brandpunt van die geskiedenis, omdat die woelinge van die nasies en koninkryke vandag die hoogtepunt van die botsing tussen die ryke van Christus en die Antichris verslank.”


DIE gevaar is dat ons te klein dink van God en die gesag van sy Woord, terwyl ons teen die geringheid van die mens vaskyk, wat geroep is om die koninkryk uit te dra en die Woord in die wêreld te verkondig. Ons vergeet God, die Roeper en Sender, se almag,

Dit spreek dikwels uit ons handelswyse: ons pak niks aan nie, omdat die kerk se getalle dan te gering is om iets te vermag. Ons ag die prediking gering, vanweë die eenvoudige predikantjie. Ons skaam ons vir die belydenis van God se Woord, daarom swyg ons waar en wanneer ons moet getuig. Ons is in elk geval bang dat die beginsels van God se Woord dalk sal „aanstoot gee”.

Ons oog, deur die sonde begrens, laat dikwels God se koninkryk minder gewigtig vertoon. En tog is God se koninkryk ‘n onbegrensde, allesomvattende magsryk; en God ‘n almagtige en ‘soewereine Koning. Die roeping en sending van die profeet Jeremia getuig daarvan.

Die prediking van God se Woord is die siel en krag van die handhawing en uitbreiding van God se magsryk. Dit spreek duidelik uit Jeremia se „bevestiging” as profeet. God bring hom diep onder die besef van:

I. Die gesag;

II. Die grense; 

III. Die vrugte van sy aanstaande profetiese optrede.

1. Die gesag

God het die lasbrief vir Jeremia se prediking kort en kragtig gegee: „Kyk, Ek stel jou vandag aan . Dit is gewigtige woorde vir ‘n klein mensie. 

Want die mense kon maklik teen die persoontjie van Jeremia vaskyk, en die gesag agter die persoontjie miskyk. Hy was ‘n man van min aansien; ‘n seun wat maar onlangs sy twintigste verjaardag gevier het, uit ‘n onaansienlike priestergeslag van ‘n klein dorpie, Anatot, ‘n paar myl noordoos van Jerusalem. Ons lees nêrens anders in die Bybel van sy Vader, Hilkia, as net hier nie.

Sy priesterafkoms was onbenullig. Dit het nie besondere gesag gedra nie. Sy hoorders kon, bloot op die persoon af geoordeel, tereg vra: Wie is hierdie seuntjie van Hilkia miskien; hierdie mannetjie van Anatot?

God se roeping en bevestiging as profeet het hierdie mannetjie egter in ‘n ander lig gestel, en sy onbenullige lewe volslae verander. God getuig dat Hy hom uitverkies, geroep en met gawes toegerus het vir ‘n besondere taak en sending in die wêreld:

Gesant van die Here van die leërskare, die Koning van die almagsryk.

Al het hy nie aansien, bekwaamheid en vermoëns gehad nie, het die Here hom nogtans geroep, ondanks sy nederige afkoms uit die priestergeslag van Anatot.

God het hom lank voor sy geboorte reeds daarvoor bestem. Hy is gebore om die profeet te wees wat God met die besondere roeping in die wêreld gestuur het:

“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; EK HET JOU TOT ‘N PROFEET VIR DIE NASIES GEMAAK …” (v. 5) 

Die Here het nie mense van aansien of eie-bekwaamheid nodig nie. Die gesag van sy Woord is so groot en magtig, dat Hy roep en aanstel ongeag wie dit is. Hy skenk die gawes wat nodig is om die roeping en sending te volbring.

Die geroepene, toegerus met die gawes, durf nie teëpraat nie:

“… moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ookal stuur moet jy gaan; en wat Ek ookal beveel moet jy spreek…” (v. 7)

So lui Jeremia se volmag en opdrag om profeet van God in die wêreld te wees. Dit rus op die gesag van die koninkryk van die hemele, God se gesag wat Hy in sy Woord handhaaf.

Jeremia tree op met die hoogste gesag wat in die wêreld is.

Want Hy is deur God uitverkies, geroep en aangestel om gesant te wees van sy magsryk. Hy spreek tot die nasies en koninkryke van die wêreld met die gesag van die ewige Koning. Die Woord van God dra die hoogste gesag in die wêreld.

II. Die grense

Die gesag is onbegrens. Jeremia se aanstelling geld vir die ganse wêreld, “… oor die nasies en oor die koninkryke…” God, die ewige Koning, voer heerskappy oor die hele wêreld:

“… Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want HY het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome…” (Ps. 24: 1, 2).

Die God van die ganse wêreld beheers die geskiedenis van elke volk — gelowig of ongelowig. Hy, die God van orde, handhaaf sy gesag op ‘n besondere wyse. Ons sien dit duidelik in Jeremia se profetiese optrede: Hy was eerstens profeet in Juda, met die eerste roeping en plig teenoor die volk van God; want God se oordeel begin in Jerusalem — by die heiligdom selfs (Eseg. 9 : 6).

Jeremia rig sy prediking grotendeels tot Juda — hy het vir bykans veertig jaar die toneel in Juda oorheers. Maar Juda staan nie los van die nasies nie. God het sy volk midde in die wêreldstroom geplaas en die volk se lotgevalle is innig verweef met die lotgevalle van die nasies van die wêreld. God het in sy uitverkore volk die toekoms van die ganse wêreld berei. Jeremia kon nie ‘n profeet vir Juda wees sonder om ook ‘n profeet vir „die nasies en die koninkryke” te wees nie.

Die geskiedenis van die volke word nie deur die „grille van die noodlot” beheers nie; dit hang ook nie van die militêre krag of -gereedheid van enige nasie af nie, nog minder van die politieke behendigheid van enige staatsman. Die almagtige God, wat alles in sy raad besluit het, rig die ganse wêreldgeski

Die skynbaar nietige woord van die „Jeremias-kansel” was gewigtiger as al die woorde van al die konings saam!

Dit was meer betroubaar, met groter invloed en wyer trefkrag as al die beraadslaginge in regeringsale en paleise. Want hy het sy lasbrief van God gehad: „Kyk, Ek stel jou vandag aan OOR DIE NASIES EN OOR DIE KONINKRYKE .

edenis.

Daarom het Jeremia, te midde van sy prediking vir Juda, ook profesieë teen die nasies gehad: teen Egipte, Filistéa, Moab, Ammon en Edom. Hy het God se gerig verkondig oor Damaskus, Arabië en Elam. Hy het selfs nie die magtige Babel gespaar, wat Jerusalem sou verwoes en Juda sou wegvoer in ballingskap, nie. Jeremia het, getrou aan sy roeping, die Godsbeskikkinge en -beslissinge oor die wêreld van sy tyd verkondig,

Die skynbaar nietige woord van die „Jeremias-kansel” was gewigtiger as al die woorde van al die konings saam!

Dit was meer betroubaar, met groter invloed en wyer trefkrag as al die beraadslaginge in regeringsale en paleise. Want hy het sy lasbrief van God gehad: „Kyk, Ek stel jou vandag aan OOR DIE NASIES EN OOR DIE KONINKRYKE .

III. Die vrugte

Jeremia se prediking was indringend, Die uitwerking was afbrekend en opbouend, as vervulling van God se raad.

Dit sal eerstens geestelik„geweldig wees: „ . . . om uit te ruk en om te gooi en te vernietig en te verwoes . . .” Dit moes, soos alle prediking, die gerig van God dra. Dit sal soos ‘n stormwind met ‘n verwoestende haelbui wees; of soos ‘n magtige Ieër op sy verwoestingspad.

God se gerig gaan oor alles wat sy gesag misken, ongehoorsaam is aan sy wil en sy eer nie soek nie; dit moet vernietig word. Dit is die sonde, in watter vorm en onder  watter mooi dekmantel ookal. God het immers self sy oordeel oor die sonde in die Paradys aangekondig, en handhaaf dit deur die eeue, om dit in die eindgerig te voltrek.

Die oordeel is die helfte van God se raad. Sy volle raad, wat elke profeet en ook Jeremia moet verkondig, is: oordeel én genade. Daarom was Jéremia nie bloot ‘n swartgailige „sondejagter”, ‘n oordeelsprofeet wat met sy prediking verwoes en vernietig nie. Hy was in dieselfde asem ook ‘n genadeverkondiger wat gebou en geplant het. God bou en plant, in sy genade, die nuwe lewe op dieselfde plek waar sy oordeel die sonde vernietig het.

Jeremia moes „nuwe stede” bou, met dieselfde prediking, uit die puinhoop wat God se oordeel nagelaat het. Die nuwe aarde kom in die eindgerig as die herskepping van die ou aarde, deur God se oordeel. God breek die oue, wat in die greep van die sonde is, af om die nuwe daaruit te bou.

Die skaduwee van ons Hoogste Profeet, Jesus Christus val duidelik oor die wêreld in die profetiese optrede van Jeremia: die PRIESTERseun uit Anatot, is aangestel om die wêreld PROFETIES met die KONINGSwoord van God te regeer.

Die kerk moet, soos die profete van ouds, die Koningskap van Jesus Christus, wat Hy met sy offer aan die kruis verwerf het, deur die prediking afkondig en handhaaf in die wêreld. Die wêreld moet dit hoor dat „Hy alle mag in hemel en op aarde ontvang het” (Matt. 28: 18-20). Predikers is, deur al die eeue heen, aangestel as profete „oor nasies en oor koninkryke”.

Alle oë is vandag gevestig op die raadsale van die wêreld en die kernkrag-arsenale van die groot moondhede. Dit lyk of die lot van die wêreld daar beslis gaan word, Die behendigste staatsman of die dapperste generaal gaan oënskynlik baas wees in die wêreld. Die waarheid is egter dat die lot van die wêreld reeds vasgelê is in God se raadsbesluite, en van die kansels af beslis word.

Is dit nie onmoontlik nie? Die prediking van God se Woord tel tog nie meer mee nie; die wêreld luister dan nie na die „stem van die kerk” nie. Dit word allerweë as uit pas beskou. Mense wat klein dink van God en sy mag, kyk deur so ‘n bril na die prediking.

Elkeen wat God waaragtig ken en bely in die geloof, weet dat Hy die Koning is van die ganse wêreld. Die prediking van sy Woord is die magtigste faktor in die wêreld, ongeag die eenvoudige predikantjie wat dit in ‘n eenvoudige kerkgeboutjie, op ‘n onaansienlike dorpie, verkondig. Die eenvoudige prekie, wat God se suiwere Woord verkondig, is magtiger as al die grootdoenerige toesprake in die V.V.O. en het meer krag as al die kwasi-gewigtige besluite van die Veiligheidsraad, want dit verkondig die lot van die wêreld wat reeds beslis is.

God het Jeremia, van Anatot, aangestel as profeet van die volke, sy gesant oor koninkryke. Die Koning van die konings, Jesus Christus, het die vissers van Galilea gestuur om die evangelie aan alle mense te verkondig en dissipels van die nasies te maak.

Die kerk het ‘n geweldige roeping om in ons deurmekaar wêreld die weg te wys met die prediking want die kerk staan in die wêreldbranding; al erken die wêreld dit nie.

Die moderne mens maak van die kerk ‘n „uitgediende instelling”, ‘n „outydse stem” wat nie kan meepraat oor moderne vraagstukke nie. Die wetenskap en die V.V.O. het mos die antwoorde op alle vraagstukke. Daarom word die vraag dikwels gestel of die kerk nog ‘n „boodskap vir ons tyd en wêreld” het.

Die kerk het nie net ‘n „boodskap” nie, maar die beslissende stem, is die mees gesaghebbende van alle instellings, oor die lotgevalle van die wêreld. Ons predikers moet weer diep besef dat hulle die gesagswoord verkondig van die Koning van die konings — selfs die veto-stem moondhede in die Veiligheidsraad moet voor hierdie Woord buig.

Die kansel staan vandag meer as ooit in die brandpunt van die geskiedenis, omdat die woelinge van die nasies en koninkryke vandag die hoogtepunt van die botsing tussen die ryke van Christus en die Antichris verslank.

Is dit nie heerlik om te weet dat die geminagte prediking, die magswoord van die Oorwinnaar Christus is nie?

God het die profetiese amp in die kerk, deur die eeue heen, beklee met dieselfde gesag wat Jeremia vir sy prediking ontvang het, aangestel:

“… oor nasies en koninkryke om uit te ruk en om af te breek, te vernietig en te verwoes om te bou en te plant” (v. 10)

Dit trek nie, soos Rome sê, saam in die primaat (baasskap) van Die Pous oor die „Keiser” nie. Die kerk vervul hierdie roeping wanneer hy onbevange profeet is en die suiwer Woord van God oor die wêreld laat klink in die prediking: Die oordeel wat afbreek en verwoes om die  ryk van die Antichris ten gronde te rig … die genade wat bou en plant tot stigting van die geloof, waaruit die ryk van die ewige lewe groei.

Amen.

* Bron: Die Rykdom van U Woord preekbundel, Potchefstroom: Pro Rege, 1974, p. 99-105.  Oorspronklike titel: God se magsryk.


Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Categories

%d bloggers like this: