Leerprediking: Nederlandse Geloofsbelydenis artikels 12: Die skepping van alle dinge, veral van die engele (Gen. 1:1-25)
Lees: Genesis 1:1-25
Preekopname (GK Carletonville, 2021-02-07, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):
Geliefdes in ons Here Jesus Christus,
IN die begin het God die hemel en die aarde geskape. …
DIT is die fondament en bron van ons hele ongetwyfelde Christelike geloof,
van alles wat volg in die Bybel,
soos ons dit onder andere, saamvat in ons gereformeerde belydenisskrifte,
spesifiek nou waar ons volgens die Skrif leer wat ons bely daar in die NGB,
wat vir ons ‘n leerboek, ‘n hulpboek is om ons geloof te verstaan.
In NGB art. 1 en 2 het ons juis Gen. 1:1 in wese bely,
daar is ‘n enige enkelvoudige Wese, wat ons God noem, art. 1
en Hy het geopenbaar, Hy het gespreek, art. 2
In artikels 3-7 word die geskrewe Woord bely en wat dit alles behels,
veral die gesag en genoegsaamheid van die Skrif vir ons hele leer en lewe.
In artikels 8-11 het ons nou geleer dat die enigste ware God, drie-enig is,
Vader, Seun en Heilige Gees,
God in een Wese, en onderskeie in drie Persone.
Nie net die Vader, maar die Seun en die Heilige Gees is God,
en aldrie in hul volkome uniekheid, maar ook in hul volkome eenheid,
moet in die woorde van art. 10, as die “ware, ewige God, die Almagtige”
aangeroep, aanbid en gedien word.
Ons belydenis gaan nou verder, vanuit wat die Godsopenbaring leer,
en wil vir ons wys wat die Skrif leer aangaande die drie-enige God se werke.
So artikels 1,2, 8-11 het gegaan oor God in Homself, sy kenmerke, eienskappe, wese,
nou gaan ons leer wat Hy gedoen het en aanhou doen, deur sy openbaring.
En dit begin by die … begin, wat ons gelees het daar in Gen. 1
Ons geloof begin nie in Matteus, of 2000 jaar gelede nie, maar … in die begin…
Daarom dat ons bely in die eerste sin van NGB art. 12,
Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het.
Wie het geskape? … Die Vader
Wanneer het Hy skape? … Toe Hy dit goedgedink het … in die begin…
Deur wie het Hy geskape? … Deur die Woord, dws deur sy Seun
“En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.” (Gen. 1:3)
“wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” (Heb 1:2)
Nou redeneer baie, Gen. 1 en die Skrifte leer net ‘dat’ God geskape het, nie ‘hoe’ nie, as ons wil leer ‘hoe’ God geskape het, dan moet ons na die ewolusionistiese wetenskap gaan…
Nee geliefdes, die Woord leer ook ‘hoe’ geskape is, nl.
deur te spreek, deur Godswonder, God se krag, die Heilige Gees deur sy Woord,
soos Gen. 1:3 ‘Hy het gesê…’ en dit was, alles in 6 dae,
Ex. 20:11, wat ons vanoggend weer gehoor het in die wetsvoorlesing,
WANT in 6 dae het die Here die hemel en die aarde geskape en alles daarin …
Ps. 33, ook ‘n Psalm wat die lof van die Skeppergod besing, verwoord ‘hoe’ God geskape het, as volg:
“Deur die Woord van die Here is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër. Hy versamel die waters van die see soos ’n hoop; Hy bêre die wêreldvloede weg in skatkamers. Laat die hele aarde vir die Here vrees; laat al die bewoners van die wêreld vir Hom bedug wees; want Hý het gespreek, en dit was; Hý het gebied, en dit staan.” (Ps 33:6–9)
So, die ware gelowige, die ware kerk verwerp van ganse harte die valse idee, wat baie in die kerke mislei, wat leer ‘dat’ God geskape het, maar dat die sogenaamde ‘wetenskap’ ons leer dat God deur ewolusie (prosesse, oor miljoene/biljoene jare) geskape het, die 6dae skepping moet dan sien as 6 fases of tydperke van miljoene/biljoene jare se prosesse. Dat een skepsel het ge-ewolueer na die volgende skepsel, ten einde van aapmens na mens, ens…
Nee, kyk wat bely ons volgens die Skrif in artikel 12, in sin 2,
Hy het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy skepper te dien.
Geen sprake van enige ewolusie tussen skepsels nie, elkeen uniek gemaak, ja, daar kan baie veranderinge binne spesies of skepsele wees, verskillende soorte honde, katte, ens., maar die een word nie die ander nie.
Die Godsopenbaring wat dit duidelik stel daar in die begin,
Gen. 1:11, 12, 21, 24 ‘volgens hulle soorte’, God het ‘skeiding’ gemaak tussen dinge, en diere, en veral tussen alle skepsele en die mens.
Gen. 1:25, vat dit saam (lees)
In die woorde van ds. MJ Booyens, in die verklaring van NGB art. 12 (Ons glo en bely),
Nee, ons glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde en, sou daar vir Hom ‘n ding onmoontlik wees? Ons het geen rede hoegenaamd om nie te dink aan gewone dae nie. Meer wil ons nie daaroor sê nie. Ons weet: God het geskape. Die geskiedenis het begin. Dae en nagte, weke en jare volg mekaar op. En dit gaan voort totdat die skepping sy einddoel bereik het. Wonderbaarlik is u werke!
Verder, bely ons baie duidelik, dat God, in die begin, uit ‘niks’ geskape het, betekende dat daar niks vooraf was nie,
want sommiges beweer daar was eers biljoene jare, en dan begin die sogenaamde gebeure en geskiedenis van Gen. 1 en verder.
Nee, daar was niks behalwe God alleen nie, en dan begin die skepping en geskiedenis. Die Skepper is ewig, die ganse skepping het ‘n begin gehad…,
die onderskeid tussen Skepper en skepsel moet gehandhaaf word,
materie het ‘n begin gehad,
geen ‘big bang’ teorieë nie….
En wat is die doel van die ganse skepping, die hemel en die aarde,
alles wat geskape is, veral tot vers 25, dat dit alles ‘baie goed’ is (Gen. 1:31):
“om sy Skepper te dien”, die ganse skepping is daar om God te verheerlik,
asook om die mens as kroon van die skepping te dien.
Die engele
En nou gaan die belydenis verder, en lê ‘n groot klem op ‘n bepaalde aspek van die skepping (let wel, by art. 14 gaan ons uitkom by die kroon van die skepping, die mens), maar nou gaan dit oor die skepping van die engele.
Die engelemag, wat deel is van die hemelse leërskare, ons het baie daarvan gesing in Ps. 84, is geskape, dit word nie eksplisiet gesê nie, maar heelwaarskynlik reg in die begin, op die eerste dag toe ‘hemel en aarde’ geskape is, wat die hemelse leërskare insluit, en/of veral op dag 4de dag, toe die hemel liggame, son en maan geskape is.
Want die engelemag was daar van die begin van die skepping,
en het saam gejuig oor die wonder van God se skepping.
Job. 38:1-7, waar die Here vir Job van die skepping vertel, en dan sê,
verwysende na die engele: “Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het” ….
Wat is engele? Hebr malak Grk angelos
Dit is geskape, supernatuurlike geestelike wesens wat nie mense is nie,
maar verhewe geestelike wesens is, wat hoofsaaklik onsienbaar is,
maar ook in menslike vorm kan verskyn as God vir hul ‘n bepaalde taak het.
Die engelemag kan, kragtens die verskillende take wat hul doen,
in vier groepe of aspekte ingedeel word:
1 Die engele wat veral aanbid, dag en nag in die hemel, die plek of dimensie waar God met sy hemelse leërskare woon, waar God self teenwoordig is, die engele magte daar, gelowiges wat reeds gesterf het na gees, asook Christus wat opgevaar het na die hemel.
Hulle word in die Bybel serafs, gerubs, môresterre genoem, kyk bv. Jes. 6 en baie plekke in die Openbaringsboek.
“IN die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ’n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (Jes. 6:1-3)
2 Engele as boodskappers, dit is wat die woord engel in die besonder beteken, hulle is ‘boodskappers’ wat die Here uitstuur om sy Woord, sy proklamasie aan mense deur die eeue te bring, dink aan die engele wat God se oordeel oor Sodom en Gomorra gebring het, die engel Gabriel wat aan Daniel verskyn het om profesie oor te dra, die engele wat aan die herders, Josef, Maria, Sagaria oor Jesus se koms verskyn het, en dan daardie wonderlike nuus, boodskap wat engele gebring het aan die vroue by die graf, en aan ons:
“Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.” (Mt 28:5–7)
3. Engele as krygsmanne, stryders wat God se oordeel uitvoer
Die engele wat Sodom en Gomorra, die eersgeborenes in Egipte, Assiriese mag 185 000 doodgeslaan het, engel wat Jerusalem getref het, die engele van oordeel in die hele boek Openbaring, ons Here Jesus wat self vertel van die werklikheid van die engele leermagte, en dat Hy saam hul sal terugkeer,
Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? (Matt. 26:53)
7 en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele 8 in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. (2 Thess. 1:7-8)
4. Laastens, hulle is dienende geeste, diensknegte van die Allerhoogste se kinders, sy uitverkorenes, sy kerk deur alle eeue en plekke,
“Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie?” (Heb 1:14)
Die Here se engele beskerm sy kinders, vertroos ons, versterk ons.
Ja, ons weet nie wie altyd die engele is, presies hoe dit werk nie, maar dat dit ‘n werklikheid is is vas en seker…
“want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.” (Ps 91:11)
Die engele het ons Here Jesus versterk, in Gersamane, na Jesus 40 dae in die woestyn was, honger was, aangeval is deur die Satan, dan lees ons dat die engele gekom het om Hom te dien, na gees en liggaam.
In Hebr. 13:1,2 lees ons ook die woorde,
DIE broederliefde moet bly. Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.
Maar nou, bely ons ook volgens die Skrif, dat ‘n derde van die engelemag het hoogmoedig geraak en afvallig geword,
Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf verval3, maar die ander het deur die genade van God in hulle toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God sowel as van alles wat goed is. oos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging.
In die eerste week op aarde, die skeppingsweek en daarna moes hul geval het, dit word beskryf in Esg. 28, Jes. 14, Judas 6 en 1 Tim. 3:6, 2 Petrus 2:4, Op. 12 en ander plekke
“En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.” (Re 12:9)
Die bose geeste en engele, is vyande van alles wat goed is, hul val heeltyd aan wat in Gen. 1 is, naamlik die ‘skeppingsordes’ van God:
huwelik, arbeidstaak, aanbidding van God.
Alles dinge wat deur die eeue, en vandag nog onder groot aanslag is.
Hulle uiteinde is egter baie duidelik, dat hul vir ewig verdoem is,
sien laasweek se Op. 20:7-10 prediking.
Maar tot die laaste dag, is die Satan en sy bose magte soos ‘n brullende leeu soekend om te verslind, mislei, dwaal, aan te kla, te haat, moord en alles aan te blaas.
Paar konkrete toepassing vanuit die Skrif, wat ons glo en bely in NGB art. 12
1. Nie die natuur, menselike wetenskap of idees bepaal wat in die begin plaasgevind het nie, maar God se Woord, dit is die bril waarmee ons na die hele lewe kyk, ook die natuur, skepping, engele, geesteswêreld … omdat God so in sy Woord geopenbaar het.
2. Die bose engele, die Satan is kragtig, sterk, maar nie almagtig nie. Hulle is geskape wesens, beperk, die alomwetend alsiendend soos God nie. Inderdaad, soos ons leer uit die boek Job, en selfs Op. 20:7-10, hul kan alleen doen wat God behaag en toelaat … Moenie speel met die Satan of bose magte nie, maar ook nie angstig vrees nie. Onthou die trooswoorde van 1 Joh. 4:3, “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.” (1 Jn 4:4)
3. Laastens, die Here self en die Here deur sy engele, sy dienende geeste, sal sy kinders, sal sy kerk versamel, bewaar, versorg, bemoedig en vertroos tot die laaste dag, midde die goeie stryd van die geloof. In die praktyk beteken dit dat die Here al baiekeer – ons kan dit nie sien nie – ons van die Bose en sy bose engele en/of bose goddelose mense magte bewaar het.
Dink aan daardie gebeure met Elisa en sy dienskneg, 2 Konings 6, Die Arameërs se leermag wat optrek om Elisa te vang, en dan is Elisa se angsbevange dienskneg… soos ons ook maar sal wees ..
En dan die woorde van verse 16,17 “Maar hy antwoord: Vrees nie; want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. En Elísa het gebid en gesê: Here, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die Here het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa.” (2 Konings 6:16–17)
Maar geliefdes, baiemaal besluit die Here, dit is genoeg, en dan moet ons weens siekte of vervolging, swaarkry sterwe, en dan het ons, ook die troos, wat die Here openbaar deur die gelykenis van die ryk man (wêreld) en die Lasarus (gelowiges):
“En daar was ’n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.” (Luk 16:20–22)
O geliefde, glo van harte wat God alles openbaar aangaande die skepping en alles wat daarin is.
Glo aan die wonder van die geesteswêreld, al kan u dit nie alles omvat nie, glo aan die HERE van die leerskare, glo insluitende sy engelemag, Moenie op die skepsele, engele self vertrou nie, aanbid God en sy Seun alleen. Dit is die groot punt wat Hebr. 1 ook wil maak, aanbid nie die leërskare nie, nie mense of engele nie, maar die Skepper van engele, die Seun self!
Dit is Hy, verse 13, wat aan die regterhand van God sit, wat besig is om die vyande die voetbank van sy voete te maak, insluitende die Satan en die bose engele.
En dit is Jesus wat weer gaan kom met sy engele, vir wie ons met vreugde, deur die geloof wag en bid. Ons skaam ons daarom nie vir God nie, sy skeppingswonders nie, vir die werklikheid van die geesteswereld nie, want Hy sê, en ons glo dit van harte, soos ons ook bely:
“Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele” (Mk 8:38)
“en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.” (2 Th 1:7–8)
Amen.
Sien ook hierdie artikel: Gereformeerde belydenisskrifte oor God se skeppingswerk, deur prof. Paul Kruger
Leave a Reply