IS GENESIS 22:18 ‘N VASTE VERSEKERING EN BELOFTE VAN GOD (OAV), OF ‘N WENS VAN DIE VOLKE (BDV)?
Statenvertaling (1637): En in uw zaad zullen gezegend worden alle volken der aarde, naardien gij Mijn stem gehoorzaam geweest zijt. (Gen. 22:18)
OAV (1933/53-vertaling): “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.”
BDV (Bybel Direkte Vertaling, 2020): “Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat jy na my stem geluister het.”
NKJV (New King James Version, 1982): “In your seed all the nations of the earth shall be blessed, because you have obeyed My voice.”
Inleiding
Onlangs het ek in my skattejag … oftewel boekejag na ou goud, ou skatte van ons gereformeerde geloof, op die volgende boek afgekom:
In een van die ‘leerredenen’ van vader Postma in hierdie boek (wat gelewer is tydens sy afskeidsgeleentheid van sy gemeente en kollegas, voortdat hy na SA toe sou vertrek, op 11 April 1858, Kampen, Nederland), “Een woord over de zending van het Evangelie onder alle volken“, spreek hy oor die vastheid, die sekerheid van die belofte wat die Here se kerk het, waarom ons sending en evangelisasie moet en kan uitvoer, en dit is:
die ‘vrymagtige welbehae’ en vaste verbondsbelofte van Genesis 22:18 wat in Jesus Christus vas en seker is (Gen. 3:15; 12:1-3; Hand. 3:25; Gal. 3:16).
In Dirk Postma se worsteling om na SA te gaan, het hierdie vaste Belofte van God hom oortuig en gelei (beklemtonings bygevoeg):
“…. Abraham offert hem (Izak) in geloofsgehoorsaamheid, maar krijgt hem als een genadeloon duizendvoudig terug, als God zegt: “in u zaad zullen alle volken gezegend worden. Dat men door dit zaad ‘bepaald Christus’, Gods Zoon moet verstaan, lijd geen twijfel. (Gal. 3:16).
Heerlijke en troostvolle belofte voorwaar!
… Het woord Gods in onzen tekst, Gen. 22:18, geeft ons de vaste verzekering, dat het Evangelie met vrucht onder alle volkeren zal worden bediend: alles echter naar het vrijmachtig welbehagen Gods.
Heerlike toezegging dan: “Alle volken zullen in uw zaad – in Christus naamlijk – gezegend worden.” Let wel, alle volken zullen. Dus ga de kerk heen, en vervulle slechts hare roeping in kinderlijke gehoorzaamheid, zich verlatende op’s Heeren eigen toezegging (belofte -slc), de uitkomst aan zijne genade – aan zijn vrijmachtig welbehagen overlatende.
… Om de groote zaak te openen, meent men onder onze stam, en geloofsgenoten in de Tranvaalse Republiek, en Zuid Afrika, eene deure der hope te zien. Daarom heeft de Hoog Eerw. Synodale Commissie namens de gehele Kerk benoemd, derwaarts te reizen, om alles wat in het van Gods Koninkrijk kan worden gedaan, naar ons vermogen te doen. Wijh hopen daardoor den weg tot de Heidenen te banen. Heden staan ik voor u, reeds op reis zijnde, om die roeping te volbrengen, zoo het Gods genade moge behagen. …” (Enige Leerredenen van wijle prof. D. Postma. Kaapstad: 1893, bl. 16-19)
Genesis 22:18 in die BDV, die 2020-vertaling?
Na ek hierdie gelees het, het ek die Statenvertaling van Gen. 22:18 en die OAV vergelyk met die nuutste Afrikaanse vertaling, die BDV oftewel 2020 vertaling, en die aansienlike verskil gesien tussen eersgenoemde twee vertalings en die 2020 vertaling.
Die SV en OAV en die meerderheid van vertalings, oud en nuut, met enkele uitsonderings, vertaal Gen. 22:18 met die klem op die vaste belofte van God van redding wat volke ontvang, en deur sy vrymag sal plaasvind in Christus, terwyl die BDV dit vertaal as bloot ‘n ‘wens’ van die volke, dus ‘n moontlikheid wat dalk gaan plaasvind:
OAV: En in jou nageslag sal al die nasies …. geseën word…
BDV: Al die nasies sal wens…. om so geseënd te wees…
Watter een is reg, in die konteks van Gen. 22 en veral die res van die hele Skrif, al is verskillende vertalings ‘grammaties moontlik’?
Na my mening as die BDV vertaling nog vertaal het soos sommige verklaarders op gewys het, waar die klem nogsteeds sou geval het op die ‘passiewe ontvangs’ van die seën (redding):
“mekaar as geseën beskou, of mekaar seën, of soos Deut. 29:19: mekaar gelukkig prys” (Bybel met Verklarende Aantekeninge), of
“hulself geseënd ag … of noem” (WH Gispen, COT: Genesis),
vanweë God se Belofte, Gen. 12:3 en 22:16, dan was dit ten minste beter, maar die BDV vertaling se fokus verskuif na my mening van wat God beloof, toesê, genadiglik bepaal … na wat die mens en volke ‘wens’ hopelik sal gebeur, maar nie seker is van nie?
En dan verder, waarom, indien albei vertalings grammaties moontlik is, kies die BDV vir hul vertaling, wat juis onsekerheid bring oor die oorsaak en bron van die seën (in Christus wat vas en seker is)?
Ek is van mening dat die regte en beste vertaling volgens die oorspronklike taal, en die konteks van Gen. 22 en die hele Skrif (Skrif-met-Skrif vergelyking), dit is wat in die OAV staan, nl. “En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word…”, dus wat sy uitverkorenes, in Christus (Ef. 1:4-6), onder en in al die volke toegereken word (Rom. 4; Gal. 3) soos vers 16 in die onmiddelike konteks duidelik en klinklaar beklemtoon en ons ook wys hoe ons moet ‘vertaal’, deur die geloof in die vaste Belofte, Jesus Christus, wat die fokus is van die hele Skrif, en wat van die begin tot einde daar was en nog is tot in ewigheid (Hebr. 13:8; sien ook HK Sondag v/a 19):
“… Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,” (Gen. 22:16)
Die Here self, “Ek sweer by Myself” (Ps. 2; 110; Jes. 45:23; 2 Kor. 1:20; Hebr. 6:13-20; ens.) en al sy beloftes, sy woorde in en deur Christus (en nie ons sondige gebroke ‘wense’ nie), is die enigste vaste sekerheid en hoop van al ons sending en evangelie verkondiging, binne en buite die kerk, ja, nog altyd en orals, vanaf Gen. 3:15 tot die laaste dag.
Hier is ‘n paar verdere verklarings oor hierdie saak:
I. Dr. Attie Bogaards (emeritus predikant van Pretoria Rooiwal) skryf,
1. 2020 se Genesis 22:18 vergelyk met ander vertalings
Ek gee hier net die vertalings weer ter wille van vergelyking:
- 2020: Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag, omdat jy na my stem geluister het.” (2020 gee ook in ’n voetnoot ’n alternatiewe vertaling: Word ook vertaal as “in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word”.
- 1953: En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.
- NKJV: In your seed all the nations of the earth shall be blessed, because you have obeyed My voice.
- ESV: and in your offspring shall all the nations of the earth be blessed, because you have obeyed my voice.
2. Reeds in vergelyking met ander vertalings is daar radikale verskille
- In 2020 is al die nasies die onderwerp, terwyl dit in die ander vertalings die voorwerp
- In al die ander vertalings het ons die passiewe vorm geseën word, terwyl die 2020 dit in aktiewe vorm vertaal: sal wens om so geseënd te wees.
- 2020 het soos jou nageslag. Al die ander het in jou nageslag. In jou nageslag kan ook vertaal word met saad, in jou saad. In Galasiërs 3:16 kan ons sien Wie hierdie Saad is: Christus. In en deur Hom word ons geseën.
3. Foute in die 2020-vertaling in vergelyking met die Hebreeuse grondteks
2020 vertaal sal wens om so geseënd te wees. Die Hebreeuse werkwoordsvorm (hitpael) kan op 2 maniere vertaal word: passief (geseën word) of refleksief (jouself as geseënd beskou).
Die 2020 vertaling pas egter hoegenaamd nie.
Reeds die totale konteks van Genesis, die belofte aan Abraham, leer ons dat ons met ’n belofte van God te make het, iets wat Hy sál en gaan doen. Kyk bv Genesis 12:3: in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.
Ook die vertaling (2020) soos jou nageslag, is bedenklik. Die Hebreeuse woord word met in of deur vertaal.
4. 2020 en Skrif-met-Skrif-vergelyking
2020: Al die nasies van die aarde sal wens om so geseënd te wees soos jou nageslag
Die vernaamste reël by Skrifverklaring én Skrifvertaling is Skrif-met-Skrif-vergelyking.
In die Heidelbergse Kategismus Sondag 3, vraag en antwoord 8 word ons onvermoeë om van nature enigiets goeds te kan doen, bely. Daardie enigiets goeds sluit alles in, ook Skrifverklaring en Skrifvertaling. God Self moet ons leer hoe om te vertaal. Dit leer Hy ons deur Skrif met Skrif te gaan vergelyk. Op ander plekke in die Bybel leer Hy ons om ons teks te verklaar en te vertaal.
Dit geld ook van Genesis 22:18. Ons sal na die Here Self in sy hele Woord moet gaan luister om hier reg te verstaan en te vertaal.
En as ons na die hele Woord (ook die NT) gaan luister, sal ons sien: Hierdie teks word o.a. in Galasiërs 3:8 deur die groot Bybelskrywer so aangehaal en vertaal: In jou sal al die volke geseën word. Nie soos nie (soos 2020 nie), maar in; ook nie ’n wens nie, maar ’n belofte.
Galasiërs 3:16 is eweneens van groot belang: Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.
Konklusie
Die Gees deur sy Woord, leer ons baie presies hoe om Genesis 22:18 te vertaal.
II. Ds. Christiaan Jooste (GK Waterberg) skryf:
Die verskille in die vertaling gaan in hierdie verse oor die betekenis van ‘n spesifieke stamformasie in die oorspronklike taal.
In Gen 12:3 word die passiewe vorm (nifal) van die werkwoord gebruik om te stel dat al die geslagte in Abraham se nageslag geseën sal word. In Gen 22:18 kom ‘n ander vorm (hitpael) voor wat ‘n refleksiewe betekenis het, maar die sin se struktuur stem grootliks ooreen met die in Gen 12:3.
Die 2020 vertaling gee uitdrukking aan die refleksiewe betekenis deur dit as ‘n wens te vertaal, terwyl die OAV saam met die meeste ander vertalings dit bloot as wisselvorm as passief vertaal. Gramatikaal is dit dus moontlik dat Gen 22:18 as ‘n wens vertaal kan word, maar daar is ook genoegsame getuienis wat die moontlikheid staaf dat dit as wisselvorm van die passief in 12:3 vertaal kan word.
Omdat die klem in die die verbondsbelofte op die nageslag geplaas word blyk die passiewe vertaling meer waarskynlik as die wens van die nasies.
III. Statenvertaling kanttekeninge by Gen. 22:18 (ek gee vir u die Afrikaanse vertalings van die kanttekeninge hier, met erkenning aan die Gereformeerde Bijbelstichting wat die projek lei om die Nederlandse kanttekeninge in Afrikaans te vertaal, bygevoeg by die OAV (1933/53) vertaling)
Gen 22:18 En 34in jou nageslag 35sal 36al die nasies van die aarde geseën word, 36omdat jy na my stem geluister het.
34) Dit is, in Christus, wat uit jou saad en na die vlees sal voortkom. Sien Gen. 12:3.
35) Sien Hand. 3:25. Gal. 3:8, 16.
36) Nie alleen hulle wat uit jou vlees sal kom nie, maar ook alle ander volke wat in u Saad, die Messias, sal glo. Sien Gal. 3:29.
37) Sien vers 16 se kanttekening.
En hier is die Statenvertaling se kanttekeninge by Gen. 22:16,
Gen 22:16 en sê: Ek sweer 36by Myself, spreek die HERE, 30omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie
29) Want God het geen meerdere om by te sweer nie, Hebr. 6:13. Sien ook Jer. 22:5. Elders sweer God by sy grote Naam, Jer. 44:26; ook by sy siel, Jer. 51:14; en by sy heiligheid, Amos, 4:2; dit is, by Homself. In die volgende, spreek, Hebr. neum. Sien van hierdie woordjie, Jer. 23:31 se kanttekening.
30) Verstaan hiermee geen verdiende oorsaak van die daaropvolgende belofte nie, wat ook tevore aan Abraham gemaak is, maar die vrug of einde van die gehoorsaamheid van Abraham, wat God uit genade met die vernuwing van sy belofte en met hierdie eed van Hom, Abraham wil vereer en beloon. Dit moet dien tot verdere versterking van Abraham en sy hele kerk se geloof. Sien hiervan Hebr. 6:13, 14, 17, 18.
IV) Bybel met Verklarende Aantekeninge by Gen. 22:16,18 en Hand. 3:25
“Ek sweer by Myself … God sweer by Homself, omdat niemand sy meerdere is nie, vgl. Hebr. 6:13; Luk. 1:73 … in jou geseën word: vgl. Gen. 12:3. Die vorm van die Hebreeuse werkwoord is hier egter anders en daarom vertaal ander liewer: mekaar as geseën beskou, of mekaar seën, of soos in Deut. 29:19: mekaar gelukkig prys. Die Griekse vertaling het die lydende vorm wat in Hand. 3:25 aangehaal word. …. En in jou saad (Hand. 3:25), volgens die Skrif en veral Gal. 3:16 word Christus hier bedoel. … seën: Sy woorde en dade bring seën tot in lengte van dae. Die seën bestaan daarin dat Jesus hulle bekeer van hulle booshede, Jes. 59:20; Matt. 1:21″
Opmerking: In Hand. 3:25 staan daar, “En julle is kinders van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit het toe Hy vir Abraham gesê het: En in jou saad sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Die seën wat ons enigste troos is, is nié ons ‘wense’ nie, maar Christus self, ‘dat Jesus (ons, my!) bekeer! Daarom, leer die Heilige Gees ons ook hoe om te vertaal en vertaalkeuses te maak: ‘n vaste belofte van troos … nie ‘n wens nie!
V) Calvyn verduidelik Gen. 22:18 by Gen. 12:3, waarop Gen. 22:18 gebaseer is,
“But I extend the meaning further; because I suppose the same thing to be promised in this place, which God afterwards repeats more clearly, (Genesis 22:18.) And the authority of Paul brings me to this point; who says, that the promise to the seed of Abraham, that is, to Christ, was given four hundred and thirty years before the law, (Galatians 3:17.) But the computation of years requires us to understand, that the blessing was promised him in Christ, when he was coming into the land of Canaan.
Therefore God (in my judgment) pronounces that all nations should be blessed in his servant Abram because Christ was included in his loins. In this manner, he not only intimates that Abram would be an example, but a cause of blessing; so that there should be an understood antithesis between Adam and Christ. For whereas, from the time of the first man’s alienation from God, we are all born accursed, here a new remedy is offered unto us. Nor is there any thing contrary to this in the assertion, that we must by no means seek a blessing in Abram himself, inasmuch as the expression is used in reference to Christ. …
Now Paul assumes it as an axiom which is received among all the pious, and which ought to be taken for granted, that the whole human race is obnoxious to a curse, and therefore that the holy people are blessed only through the grace of the Mediator. Whence he concludes, that the covenant of salvation which God made with Abram, is neither stable nor firm except in Christ. I therefore thus interpret the present place; that God promises to his servant Abram that blessing which shall afterwards flow down to all people.”
Twee opmerkings:
– Soos Calvyn ook hier aandui, in navolging van die Skrif, die mensdom, die volke soek en wens nie om gered te word nie, die evangelie is juis dat God ons kom opsoek het, die Woord het vlees geword en onder ons kom woon wat Hom verwerp het (Joh. 1), wat van Hom afgedwaal het, en Hom verwerp en verag het (sien Ps. 2; Rom. 1-3:20).
– Die redding, troos en hoop van Gen. 22:18 (en al God se beloftes) is ‘neither stable nor firm’ in die ‘wens van die volke’ (of enige mens of skepsel, HK Sondag 5,6, 11), maar ‘in Christus’ (alleen), is dit absoluut vas en seker (2 Kor. 1:20).
______________________________________________
Sien ook ander opmerkings en besprekings van die BDV vertaling
Woorde en Woordeboeke ook subjektief, dr. Attie Bogaards
Die beste boek om te lees oor Dirk Postma, asook die herstigting wat gevolg het, is dr. GCP van der Vyver se “Professor Dirk Postma, 1818-1890” (hb, 499bl.), beskikbaar by Pro Regno Boeke, tweedehands, R70-00.
Verdere artikels oor Dirk Postma
Leave a Reply