Leerprediking: NGB artikels 14 & 15: Die skepping van die mens; die sondeval, erfsonde en die gevolge daarvan(Gen. 1:26-31 & Ps. 51:3-7)

Leerprediking: NGB artikels 14 & 15

Die skepping van die mens, sondeval, erfsonde

en die gevolge daarvan

PREEK 1: Genesis 1-3 (NGB artikel 14)

Lees: Genesis 1-3

Teksverse: Gen. 1:26-31; 2:18-3:6

Tema: Die skepping van die mens, die sondeval en die gevolge daarvan (die belangrikheid van ons mensbeskouing)

Preekopname (GK Carletonville, 2021-03-14, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):

Leerpreek: Gen. 1:26-31 Die skepping van die mens, die sondeval en die gevolge daarvan (NGB art. 14)

“Die hoofsom van ons wysheid bestaan uit twee dele, die kennis van God en die kennis van onsself. Die twee (sake) is egter met so baie bande aan mekaar verbind dat dit moeilik is om te bepaal watter een van die twee die eerste is en die oorsprong van die ander een. Want ten eerste kan niemand homself (oordink) nie, sonder om dadelik sy gedagtes te rig op God, in wie hy leef en hom beweeg (Hand. 17:28). Dis tog duidelik dat ons die begaafdhede wat ons besit, nie aan onsself te danke het nie Ja, ons bestaan selfs is ‘n bestaan in God.”

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

dit is die woorde waarmee die 16de eeuse kerkhervormer, Joh Calvyn,

sy uiteensetting van die enigste ongetwyfelde Christelike geloof uiteensit,

in sy Institusies.

Ja, behalwe die kennis van God Drie-enig (NGB art. 1,8-11,12), en

die kennis van sy heilige Woord (NGB art. 2-7),

is die belangrikste kennis wat ons kan besit,

wie en wat die mens is, wat hy was, is, en behoort te wees,

dus ons mensbeskouing.

Godsbeskouing, Woordbeskouing, mensbeskouing,

is wesentlik belangrik vir ons sieleheil, maar ook ons lewenswandel hier en nou.

Hierdie 3 boustene en al die detail van elk afsonderlik en saam, vorm

nie net ons geloof nie, maar ook wat iemand soos dr. HG Stoker noem,

ons lewens- en wêreldbeskouing, hoe ons na onsself, die hele lewe, God kyk

en daarvolgens lewe, hier is Stoker se definisie van ’n LWB:

“‘n Lewens- en wêreldbeskouing is “die geheel van antwoorde op fundamentele vrae aangaande God (of wie of wat ook al afvallig in die plek van God gestel word), mens en wêreld en hul onderlinge verhoudinge”

Wat ons glo van God gaan bepaal wat ons glo van die mens, en andersom.

Wie, wat die mens is, wat sy toestand is, sy lewe en toekoms,

gaan ons hele lewe bepaal.

En as mens dan die hele Bybel lees, dan sien ons die mens (soos een puriteinse skrywer dit stel, Thomas Boston: Human Nature in its Fourfold State), in sy viervoudige staat of toestand,

in my eie woorde:

– goed geskape

– sleg geval in die sonde

– het daarom redding nodig in Christus

– verheerliking

In ons belydenis, spesifiek hier by art. 14 en 15, gaan ons stilstaan by die eerste twee toestande of die staat waarin die mens verkeer het en nou verkeer,

Artikels 16 en die res van die NGB artikels verwoord dan die uitverkore mens wat gered word in Christus, tot sy verheerliking in die hiernamaals.

Maar om die mens, onsself, ons naaste reg te ken, moet ons by die begin begin,

en vir ons as gelowiges, die bron van alle ware kennis oor die mens,

die Woord van God self, soos ons bely en geleer het daar in NGB. art. 2-7.

Nie onsself nie, nie die humanistiese filosowe, ateïstiese sielkundiges nie,

maar God se Woord bepaal waar die mens vandaan kom, wat hy is, behoort te wees, sy take,  roeping, ens.

So hier skei ons weë reeds met die wêreldse wyses, evolusioniste, humaniste, ens.

Ons het by NGB art. 12 reeds geleer van God se skepping van ‘alle dinge’,

hemel en aarde en alles daarin, ook die geestelike wêreld, engele, ens.

Ons het dit geleer uit Gen. 1:1-25,

nou leer ons verder van die kroon van die skepping, die mens, Gen. 1:25 en verder.

Ons bely dit samevattend in die eerste sin van NGB art. 14,

“Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig, sodat hy met sy wil in alles met die wil van God ooreenstem.” 

I. Vier sake wat ons van die mens leer uit Gen. 1 en 2, in sy sondelose skeppingstaat, die eerste staat as mens dit so wil stel:

1) “Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag” (Gen. 1:31)

Die mens is goed, baie goed geskape, sonder sonde.

In die woorde van HK Sondag 3, Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep? Antwoord: Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.

So, niks van die Here het my gemaak as sondaar, of ek is maar so ‘geskape’ om egbreek te pleeg, homoseksueel, oneerlik, leuenaar, te wees, ens, woedend te word…

2) “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenisEn God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape….” (Ge 1:26,27)

Die mens, en die mens alleen as deel van die skepping, is na die beeld, gelykenis van God geskape.

Alle lewende dinge het die siel van die lewe in hulle, maar alleen in die mens is die gees van die lewe deur God in die mens ingeblaas, Gen. 2:7,

En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” (Ge 2:7)

Alleen in die mens is die eeu in hart, nl. tydsbegrip, ewigheidsbewustheid, soeke na sin geskape, Pred. 3:11.

Die mens is gees en liggaam, maar die beeld van God is nie ’n fisiese liggaamlike aspek nie, want God is Gees,

maar soos Kol. 3:10 en Ef. 4:24 dit stel, geestelike aspekte, ware geregtigheid (reg en verkeerd), en heiligheid (afgesonder om te aanbid, in ’n verhouding tot God te staan wat totaal uniek is)

Dus, geen dier of aap nie, geen ewolusionistiese idees nie,

die mens is ‘n totaal unieke wese onder al die skepsele,

en moet daarom as mens na die beeld van God behandel te word,

nie gelyk aan die skepping en diere nie.

Toepassins: kan nie bloot afgemaak word deur aborsie-moord of genadedood, ‘soos ‘n dier’ nie.

Hoe jy mense sien en behandel, reflekteer wat jy glo van die Woord en God.

3) “En God het gesê: … laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. … En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: … onderwerp … en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Ge 1:26–28)

Die mens is geskape om te werk, te arbei, nie vakansie as sentrale lewensdoel na te jaag nie,

nie ledig te wees nie, niks te wil doen nie,

ons werk nie om te rus nie, maar rus om te werk…

Toe het die Here God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.” (Ge 2:15)

Ons noem die die kultuurtaak of arbeidstaak.

4) “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Ge 1:27–28)

Die mens is nie bedoel om ooit alleen te wees nie, al is ek alleen deur bv ongetroud te wees,

ons is geskape as gemeenskapswesens,

en alhoewel nie almal trou en kinders kry nie,

is dit die basiese skeppingsorde wat God daargestel het,

Ook het die Here God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.” (Ge 2:18)

Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Ge 2:24)

Die basiese bousteen van die mensdom, is die huwelik,

waaruit ’n nageslag moet kom, wees vrugbaar.

Dit is die fondament van beide ‘kerk en staat’….

Let wel, man en vrou, nie man en man … of vrou en vrou nie: man en vrou,

ook nie man en kind nie, of man of iets anders nie!

Adam en Eva, en verder, soos Jesus dit bevestig het in Matt. 19,

“en hulle twee (nie ‘hulle drie, vyf’ ens nie = poligamie nie) sal een vlees wees…”

(soos Jesus dit ook bevestig in Matt. 19)

God se skeppingsorde is die huwelik,

en saam moet man en vrou, kinders, nageslag,

tot eer van God die kultuurtaak volbring.

So geliefdes, dit is wat die mens is en behoort te wees.

II. MAAR, nou moet ons tweedens, die mens sien ook in sy verlore\sondige

gevalle staat

NGB art. 14 beklemtoon die sondige gevallenheid van die mens baie sterk,

WANT as … dink aan die Skrif, Romeine 1-3, en ons HK, die eerste deel

om salig in troos te lewe is dit baie belangrik … dat ek weet hoe groot my sonde en ellende is!

Ons bely die sondeval as volg, vanuit Gen. 3, in die volgende woorde in NGB art. 14,

“Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien.”

Adam en Eva, sou in die weg van gehoorsaamheid in volle geluksaligheid gelewe het, maar onder  verleiding van die Satan het hul die sonde gekies, om ongehoorsaam, ontevrede te wees, en het in die sonde geval.

Die gevolge van die sonde en sondeval =

geestelike dood = losgeskeur van die vrede en intieme verhouding met God,

daarom dat Adam en Eva wegkruip van God in die tuin,

en die mensdom sedertien tot vandag toe, al vlugtend weg van God (Rom. 3:10-20)

maar ook ten einde die liggaamlike dood:

alle mense sterwe, weens die sonde en die gevolge daarvan.

Dit is die tragiese toestand van die mens, dood in sy sonde,

geestelik en liggaamlik dood.

MAAR, nou, juis as deel van die sondeval is dat die mens, vandag nog,

dink die sonde en die gevolge is nie so erg nie,

of het die mens nie so kwaai aangetas nie,

… ons hoor dit in woorde soos … tragies in die kerke ook …

“ag, moet nou nie so baie praat van sonde nie, dit is darem nie so erg nie,”

of, “ja die gevolge van sonde is erg, maar daar is nog baie ‘goed’ in mense oor,

dat hyself nog kan kies om gered te word of nie.”

En dit het daartoe gelei dat daar basies drie sienings is van die mens (om dit te vereenvoudig):

a) die mens is gesond, nie dood in sy sonde nie, en kan homself dus verlos (Pelagianisme; humanisme vandag).

b) die mens is net halfdood (siekerig) in sy sonde, en kan dus ‘n bydrae lewer tot sy verlossing, as die Here help (semi-Pelagianisme; arminianisme vandag).

c) die mens is morsdood in sy sonde (Ef. 2:1), en kan absoluut niks bydrae tot sy verlossing nie (Calvinisme).

Wat leer die Skrif, wat is ons mensbeskouing van die mens in sy tweede staat of toestand, na die sondeval?

“EN julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Ef. 2:1-3)

Ons noem dit die totale verdorwenheid van die mens wat deur die sondeval in die wêreld gekom het.

By NGB art. 15 gaan ons leer oor hoe erg dit is deur juis na ‘die leer van die erfsonde’ te kyk,

maar hier wil die NGB dit beklemtoon, dat die mens deur sy eiewilligheid gesondig het,

en dat sy hart, denke, wil en alles geneig is tot die bose en sonde,

al sy aspekte/fakulteite/lede sondig en is aangetas,

soos ons dit in navolging van die Skrif in NGB art. 14 bely:

“Hy het deurdat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom van alle verontskuldiging te ontneem.

Al die lig wat ons het, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis en die duisternis het dit nie oorweldig nie, waar die heilige Johannes die mense duisternis noem8.” Joh. 1:5

Nou BAIE BELANGRIK, ons het dit ook al gehoor daar in NGB artikel 2, wat Rom. 1:18-20 aanhaal,

die oorblyfsels van die gawes van God het so verdorwe geraak dat die mens nie meer regverdig, heilig en goed is nie, inteendeel hy gebruik die oorblyfsels om God te ontken, opstand te wees,  ongehoorsaam te wees, rebels, ens.

Sommiges probeer deur die eeue gryp na hierdie woorde (‘klein oorblyfsels’) om te leer dat die mens kan ‘goed doen’, kan die goeie wil sonder God, in sy eie kragte, en die implikasie is dan … ons het God nie nodig nie, ons sal self weer goed word, ons het Christus nie nodig nie .. die humanisme.

Maar, dan ook die valse leringe in kerke wat leer God doen sy deel, en omdat daar in die mens nog goed in homself is, kan hy saamwerk om gered te word of nie … “jy moet net jou deel ook doen… nadat God sy deel gedoen het…”

Maar kyk hoe duidelik stel ons belydenis dit in navolging van die Skrif, die mens se wil is nie meer vry na die sondeval nie, dit is gebonde aan die sonde, aan ongeregtigheid, boosheid en kan nie anders as om sonde te soek nie, al is daar uiterlike skyn van ‘mooi dinge’:

“Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as ‘n slaaf van die sonde is nie en: “‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie” (Joh. 3:27) Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie”? (Joh. 6:44) Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat “…wat die vlees bedink, vyandskap teen God is”? (Rom. 8:7) Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie? (1 Kor. 2:14)

Kortom: Wie sal ook maar op ‘n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is? 13 Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Filp. 2:13). Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand bring nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: “Sonder My kan julle niks doen nie” (Joh. 15:5).”

En ja, dit is waarby ons moet uitkom, Joh. 15:5, waarby die mensdom moet uitkom, anders is daar geen hoop, verlossing, en troos nie:

“Sonder My (Christus), kan julle NIKS doen nie”

So as ons die mens verkeerd verstaan, ‘n verkeerde ‘mensbeskouing’ het,

in terme van sy eerste twee state of toestande …

goed geskape en in sonde geval,

dan gaan ons ons state 3 en 4 ook totaal verkeerd verstaan,

of glad nie eers daarby uitkom nie.

En dan is daar geen ware troos in Jesus Christus nie!

Ons mensbeskouing moet reg wees, sodat ons juis by God, by Christus kan uitkom,

in die woorde van HK v/a 8:

Vraag: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?

Antwoord: Ja, behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word.

Praktiese toepassings

1 Weens die sondeval, sondige aard van die mens, en selfs as gelowiges geneig tot die sonde, LAAT ONS ONTHOU: nie die mens, my denke, ervaring, omstandighede nie, maar God deur sy Woord bepaal reg en verkeerd, my geloof, siening van God, mens en wêreld … dus ook my ‘mensbeskouing’.

2 Nie ons wil ooit nie, maar God se genadige wil red (Joh. 1:12; Rom. 9:16), genade op genade, laat ons uitroep dat die Here ons en ons kinders genadig deur sy wil, sy vrye welbehae sal red, en ons sondige wille so sal verander dat ons vir hom sal kies as vrug van sy genadige wil (sien DL hoofstuk 3/4.12-15)

3 In terme van die verskillende mensbeskouings, word daar baiemaal die ‘verdrink’ beeld gebruik, om die redding van die mensas volg te verduidelik:

Die mens is besig om te verdrink, te spartel in die diep see …

i Die pelagianisme/humanisme mensbeskouing:

“nee, hy swem lekker, het nie redding nodig nie” (ontken die sondeval en gevolge)

ii Die semi-pelagianisme: erken mens sukkel om kop bo water te hou, maar doen nie te sleg nie, het net so bietjie hulp nodig, dan sal hy gered word, so die Here moet kom en ‘n reddingsboei uitgooi, en nou moet jy, die mens net gryp en sodoende word die mens gered in samewerking met God, 50/50 samewerking

iii Die Bybelse gereformeerde leer: die mens het klaar dood, het klaar verdrink, sink ellendig na die dieptes van die see… en dan ‘duik Christus in’, DIE LEWENSREDDER, die enigste Redder in om te red!

Hy gryp jou, haal jou uit die gevaarlike waters van die sondeval, die gevolge, die sonde, dood, wanhoop, straf, ens. …

Hy blaas opnuut die asem van die ewige lewe in jou in,

gee jou die water van die ewige lewe en dan …

die wonder van die wedergeboorte, dieselfde krag wat alles geskape het, wat Jesus uit die dood opgewek het, en die resultate is dan, genade op genade (DL 3/4. 12), lewe, hoop, geloof, bekering, ens:

“… maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. (Joh. 4:14)

O geliefdes,

weet hoe groot jou sonde en ellende was en is,

sodat ons getroos kan wees oor hoe onbeskryflik groot en genadig,

ons verlossing is deur God se genadige wil in Christus!

Amen.

________________________________________________

PREEK 2: Psalm 51:3-7 (NGB artikel 15)

Lees: Psalm 51 en Romeine 5

Teksverse: Psalm 51:3-7, “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (v. 7)

Tema: Die erfsonde deur die eerste Adam roep na die tweede Adam se verlossingswerk.

Preekopname (GK Carletonville, 2021-04-04, nota: let wel, die inhoud van die preek en teksnotas hier onder stem nie altyd ooreen nie, die notas is nie volledig nie, die audio preek is die volledige preek):

Leerpreek: Ps. 51:3-7 Die erfsonde (NGB art. 15)

Geliefdes in ons Here Jesus Christus,

Ons het by art. 14, wat handel oor die skepping van die mens,

die sondeval en die gevolge, geleer:

dat behalwe ’n mens se Godsbeskouing, en Woordbeskouing,

die belangrikste beskouing, jou mensbeskouing is.

Wie en wat die mens is, en wat fout is met die mens, al dan nie…

gaan jou Gods- en Woordsbeskouing medebepaal, en natuurlik andersom.

Ons het geleer dat daar hoofsaaklik 3 mensbeskouings is,

na die mens in sonde geval en verlore is:

– hulle wat ontken dat die mens verlore is, die mens is gesond (humanisme).

– die mens is net half-siek, hy het die Here se hulp nodig om homself te red, om saam te werk tot redding.

– en dan die bybelse leer dat die mens heeltemal dood is in sy sonde, homself glad nie kan red nie,

‘n dooie mens kan niks doen nie, dit wat ons volgens die Skrif bely daar in NGB artikel 14 en nou ook gaan hoor in art. 15:

Ef. 2:1-3 , julle wat eers ‘dood was deur die misdade en die sondes…’

Waar pas art. 15 dan in, nadat ons reeds gehoor het van die sonde en gevolge van die mens?

Art. 14 stel die feit van die sondeval,

daar in die tuin van Eden, deur Adam en Eva,

en dan word die res van art. 14 en nou veral art. 15 daaraan gewy,

hoe dat ons eerste ouers se sonde ook ons getref het, dat ons dit ge-erf het,

omdat ons hul nageslag is, en daarom begin art. 15 met die woorde:

“Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is ‘n verdorwenheid van die hele natuur en ‘n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sonde laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem.”

Ek gee eerstens vir u ‘n verwerkte vertaalde definisie van ‘n verklaarder van die NGB 9 (David Engelsma), soos hy dit in navolging van die Skrif verklaar:

“Erfsonde (engels: original sin) is die korrupsie of besoedeling of verdorwenheid, van die menslike natuur, siel en liggaam waarmee elke mens verwek en gebore word.” (x2)

Tweedens, waar kom erfsonde vandaan?

Ons bely dit daar ‘deur die ongehoorsaamheid van Adam…’

Dit het ons geleer die vorige keer by artikel 14, ook uit HK Sondag 3, v/a 7,

Vraag: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?

Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.

Derdens, het net sekere aspekte van menswees in die sonde geval, of deur die sonde getref, is bv. net die hart sondig maar die verstand onaangetas deur die sonde?

Nee, alles wat mens is, siel en liggaam, denke, woorde en dade is getref, dus al ons lede, fakulteite, menswees, innerlik en uiterlik, is getref deur die sondeval, ons noem dit ‘totale verdorwenheid’,

en Totius berym dit treffend daar in Psalm 51, vers 1:

“Ontferm, o God, ontferm U tog oor my!

Ontsluit die bron van u barmhartighede;

wis uit die smet wat kleef aan al my lede,

en maak my siel van sondeskuld weer vry!

Was my geheel tot my behoudenis,

was weg tog, HEER, die skandvlek van die sonde,

die kwaad wat my altyd voor oë is.

Hoe voel ek nou die brandpyn van my wonde!”

Vierdens, wie erf almal die sonde van ons eerste ouers?

Ja, alle mense … uitgesonderd Een, Jesus… (natuurlik)…

Dit wat ons gelees het in Rom. 5:12,

DAAROM, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het —” (Ro 5:12)

Die eerste Adam is die hoof van die hele mensdom, en wat hy gedoen het tref ons almal, God het dit so bepaal 9Rom. 5:12-21) … en ons glo dit, soos alle ander leringe … “omdat God (dit) so in die Woord geopenbaar het” (sien HK Sondag 8).

Ons bely dit het oor die hele menslike geslag uitgebrei, niemand uitgesluit nie, tot die laaste nageslag …

…. en die belydenis wil dit beklemtoon, nie eers die sogenaamde ‘oulikste en sogenaamde onskuldigste’ onder ons, … naamlik klein kindertjies, babas, is uitgesluit nie…

en daarom bely ons daar in artikel 15,

“Dit is ‘n verdorwenheid van die hele natuur en ‘n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is.”

Ja, en selfs die ‘sterkstes’ onder ons, die mees ‘edele’ persone, die ‘helde’, die ‘mooi mense’ … ons ‘grootste leiers’ …. want, kyk wat bely Dawid, die man na God se hart, die menslike koning by uitstek in die OT, van homself, en daardeur van elke mens, in Psalm 51:7,

Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (Ps 51:7)

Ons doopsformulier stel dit ook duidelik, by die eerste punt:

“Ten eerste: Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie, tensy ons opnuut gebore word. Dit word aan ons geleer deur die indompeling in en besprinkeling met die water, waardeur die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word, sodat ons vermaan word om ‘n afkeer van onsself te hê, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en saligheid buite onsself te soek.”

En hierdie erfsonde, is vyfdens, is die bron en wortel van die sondes wat onsself ook gedoen het, en elke mens as hy gebore word, ja, ook die oorblyfsels van die sonde waarmee ons worstel:

“Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sonde laat uitspruit.. …. die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit ‘n giftige fontein ...” (sien ook HK v/a 114)

Ja, Dawid bely nie net dat hy in sonde ontvang en gebore is weens die sondeval in die begin van die skepping wat hy saam met alle mense ge-erf het nie (“… daar … in die paradys…” HK Sondag 3),

maar ook dat al sy eie sondes van sy lewe, nl. hier spesifiek in Psalm 51,

word sy sonde met Batseba genoem (2 Sam. 11 en 12 lees ons daarvan),

ook vanweë die erfsonde is,

wat die wortel was van sy veragting van God se gebooie,

beide tafels van die wet, leuens, egbreek, 10de gebod, 6de gebod, ens.

Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.” (Ps 51:5)

En daarom, sesdens, wat is dan nou die ergste gevolg van die erfsonde,

behalwe die pyn, boosheid wat mense tref deur die eeue, sonde self,

gebroke verhouding met mekaar, die naaste, ens?

Ons bely dit daar met die volgende woorde in NGB artikel 15,

“Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem.”

Die verdoemenis en regverdige oordeel van God wat oor alle sondaars kom!

Romeine 3:19-23, die hele wêreld is doemwaardig voor God vir die erfsonde,

vir die sonde van Adam en Eva, ons verbondsouers waarby alle mense ingesluit is.

Dawid noem in Ps. 51:6, teen U alleen het ek gesondig… ons is almal skuldig.

En hier kom nou ’n belangrike onderskeid, sewende, 2 aspekte oor die erfsonde,

wat die Skrif leer, en wat ons hier bely (B. Duvenhage, Geloofsleer):

“Die Skrif leer daarteenoor duidelik die erfsonde. Ons moet hier onderskei tussen twee dinge: (i) Die erfskuld. Daar onder verstaan ons dat God die skuld van Adam as Verbondshoof aan sy nakomelinge toereken (Rom. 5:12). God het met Adam die werkverbond opgerig; en toe hy geval het, het God sy skuld aan die mens toegereken, sodat alle mense in sonde en misdade dood is (Ef. 2:1).

(ii) Die erfsmet. Daar onder verstaan ons die inklewende verdorwenheid wat ons van ons ouers erf. Adam was ook hoof van die menslike geslag, die eerste vader. So word elke mens in sonde ontvang en gebore (Ps. 51:7)”

Totius se beryming van beide hier:

“Ontferm, o God, ontferm U tog oor my!

Ontsluit die bron van u barmhartighede;

wis uit die smet wat kleef aan al my lede,

en maak my siel van sondeskuld weer vry!

Was my geheel tot my behoudenis,

was weg tog, HEER, die skandvlek van die sonde,

die kwaad wat my altyd voor oë is.

Hoe voel ek nou die brandpyn van my wonde!”

En God hou ons verantwoordelik vir albei, die erfskuld en erfsmet… en wil albei straf.

Kyk hoe bely ons dit daar in Sondag 4, HK,

“Vraag 10: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly? Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met ‘n regverdige oordeel straf. Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.”

Agtstens, geliefdes, is daar enige hoop, noudat ons so baie van die slegte nuus gehoor het in NGB art. 14 en 15, die erfsonde wat ons ge-erf het, ons eie sondige natuur, die erfsmet wat ons orals sien binne en buite ons, om ons, elke dag.

Dawid wat beide bely, die sondes wat hy ge-erf het, maar ook sy eie sonde?

Nou geliefdes, dit is wat ons gaan leer van NGB art. 16-23 in detail,

maar NGB art. 15 wys reeds op die troos en hoop, met die volgende woorde:

“Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe.”

God se genade en barmhartigheid reken, sit nie ons erfskuld en erfsmet op ons rekening, sodat ons verdoem word, en verlore sou gaan nie.

Totius se beryming van Ps. 32:1,

“Welsalig wie van skuld en straf onthewe,

die woord mag hoor: jou sondes is vergewe.

Want God wat groot is in barmhartigheid,

het hom vergewe=en skeld die skuld hom kwyt.

Welsalig wie die HEER geen enkel stonde

toereken wil die boosheid van die sonde

en wie se gees, van alle valsheid vry,

voor God ootmoedig al die skuld bely.”

Wat het gebeur geliefdes, hoe?

Die Here het EEN gestuur wat ‘sonder sonde is’ (Hebr.4:15), wat uit ’n maagd gebore is,

sonder die toedoen van ’n man,

sonder dat Hy die sondes sou erf soos alle mense,

om die straf wat die erfsonde en ons eie sondesmet ons bring,

in ons plek te dra, as die volkome Mens,

dit wat ons gelees het daar in Romeine 8:

Want God het—wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees—deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” (Ro 8:3–4)

Het u mooi gehoor hoe Dawid hierdie verlossing van die sonde,

die skuld van die erfsonde, en sy erfsmet sy eie sonde bely het,

en waar Hy sy hulp soek dan?

Kom ons luister weer na Psalm 51,

Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde. … v.4,5

Hy soek hulp nie by homself, ander, of eers ‘n samewerking tussen Hom en die Here nie,

maar ‘u’ goedertierenheid en barmhartigheid (die Here se genadige ontfermende verbondsliefde)

Ja, die sonde wat hy ge-erf het, vers 7 …dat hy sondig is

maar ook die erfsmet, dat hy nog daartoe geneig is om te sondig in sy lewe as kind van God:

Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my ’n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my ’n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.” (Ps 51:11–13)

En dit is die gelowige se goeie stryd op die aarde sy hele lewe lank!

Ja, die verdoemenis en aanklag van die erfskuld is deur Jesus gedra,

ja, die erfsmet waarmee ons worstel is deur Hom betaal,

maar die teenwoordigheid is nog daar,

en daarom moet ons die sondes, die erfsmet, deur sy Woord en Gees

hoe langer hoe meer afsterwe,

totdat ons eendag volkome gereinig ook gaan wees van enige

smet van die sonde in ons hele wese, na gees en liggaam.

Dit wat ons biddend sing daar in Ps. 51 vers 1 (lees weer!)

Daarom dat die belydenis dit daar ook stel (juis in antwoord op ‘antinomiaanse’ dwalinge):

“God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word.”

Gaan lees maar vandag, Romeine 6 en veral 7,

hoe die gelowige worstel met die oorblyfsels/erfsmet van die sonde,

Ja, ons roep gedurig uit, “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Ro 7:24–25)

Negende, die belydenis waarsku in hierdie artikel, teen 3 dwalinge, juis oor ’n verkeerde mensbeskouing (en ons gaan in latere NGB prediking weer daarna terugkeer):

i. “Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit ‘n giftige fontein. (ons gaan by NGB artikel 34 daarby stilstaan)

Die doophandeling kan nie ons sondes afwas nie, kan nie die erfsonde afwas nie, nog minder die smet, alleen wat dit op wys: Jesus Christus, die Gees kan ons red.

Die gevaar van ‘verbondsoutomatisme, dink ons is gedoop, daarom outomaties gered, nie evangelie nodig nie, nie oproep tot geloof en bekering uitgaan nie, ens.

ii. Antinomianisme: “God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word.”

Die feit dat Christus vir alles betaal het, moet ons aktief maak om teen die sonde te stry ons lewe lank, Rom. 6 en 7  (sien HK v/a 64, 126)

MJ Booyens (Glo en Bely): “Maar sondaars bly ons. Gelukkig nie slapende sondaars nie, maar strydende sondaars. Ons jaag daarna of ons dit, die volmaaktheid, kan gryp (Filip. 3:12). Die gelowige het geen vermaak of verlustiging in die sonde nie. Dit laat hom sug en treur, want hy weet: “Ek het teen die Here gesondig!” Dit is my grootste droefheid dat ek die Naam van my Here ontheilig. Daarom sug ons, wat die eerstelinge van die Gees ontvang het, ook in onsself in die afwagting van aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam (Rom. 8). Ja, die sonde, my sonde, laat my verlang na die tyd, wanneer ek van alle sondesmet gereinig sal wees in die ewige heerlikheid by Christus, my Here.”

iii. Pelagianisme: “Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan nie.”

Hulle verwerp dat die mens in sonde ontvang en gebore is,

die mens is slagoffer van sy tye en omstandighede, leer bloot sonde aan… deur ‘slegte voorbeelde en tye’…

Dus: die mens sondig omdat hy dit aangeleer het, nie omdat sy hart verdorwe is,

weens die erfsonde en eie sonde in die hart nie.

DUS verander buite dan sal die mens na binne verander!

(humanistiese sielkunde, opvoeding, staatisme, valse kerk, ens. dwalinge)

So geliefdes, ons mensbeskouing van NGB art. 14 en 15 gaan ons reddingbeskouing bepaal:

– want as die mens nie so sondig is nie, nie so verdorwe is nie, so verlore is nie,

gaan hy nie ‘n ware Verlosser BUITE HOMSELF soek nie,

maar homself probeer red, of met die hulp van God homself red in ‘samewerking’…

– as ons nie besef hoe erg sonde is, NGB 14 en 15 nie,

hoe dit God vertoorn nie, gaan ons dit nie self van harte haat en teen stry nie,

soos baie in die sonde bly lewe en vrede daarmee maak,

dink bv aan die gay-agenda dwalinge in die NG Kerk.

 

Tiende, en laastens, die afgelope week, toe ek deur ons mooi … vuil dorpie ry,

sien ek die volgende aanhaling wat op ’n advertensiebord geskryf is,

dalk onkundig geskryf met goeie bedoelings ….

maar wat juis die wese van die bybelse mensbeskouing verwerp:

“Hy het mooi genoeg in jou gesien”

Dus, die rede waarom Jesus gekom het, is omdat jy ‘mooi genoeg’ in jou het …

die mens was ‘mooi van harte’ en daarom het Jesus gekom … ?

DAARTEENOOR, wat het ons gelees in Romeine 5:

Paulus: “Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe. … maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” (Rom. 5:6–8)

Doopsformulier: “Ons en ons kinders is in sonde ontvang en gebore en is daarom onder die toorn van God, sodat ons nie in die ryk van God kan inkom nie1, tensy ons opnuut gebore word2. Dit word aan ons geleer deur die indompeling in en besprinkeling met die water, waardeur die onreinheid van ons siele vir ons aangewys word, sodat ons vermaan word om ‘n afkeer van onsself te hê, ons voor God te verootmoedig en ons reiniging en saligheid buite onsself te soek.

Dawid: “Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid.” (Ps 51:3)

O geliefdes, die wese van alle valse godsdienste, dwalinge en angs en geen troos wat daaruit vloei is, is ‘n valse (humanisties-pelagiaanse) mensbeskouing:

… die mens se probleem is buite homself, sy ‘omstandighede’, en die oplossing is ‘binne die mens’, moet homself red … of met ‘n bietjie hulp van die Here … maar die mens bepaal finaal…

Die ware bybelse mensbeskouing volgens die Skrif leer van die mens in sy sondige verlore staat, soos saamgevat in NGB artikels 14 en 15,

HK Sondag 2, Vraag 5: Kan jy dit (God se wet en wil) alles ten volle nakom? Antwoord: Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.

Vraag 5: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is? Antwoord: Ja, behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word.

Die ware leer openbaar dat die mens se probleem is juis binne homself, sy verlore verdorwe hart (Jer. 17:7), en sy oplossing … sy verlossing moet van buite kom, nie in homself of ander mense nie, én, as dit van buite kom, sal dit binne verander en aanhou verander, deur wedergeboorte, geloof en bekering wat die Gees en Woord bewerk ….

“Want, sonder My, kan julle niks doen nie.” (Joh. 15:5)

Dit is die Hoop waarmee NGB art. 14 en 15 ook eindig, en waarmee ons dan van die goeie nuus van Jesus Christus, ‘die redding van Buite’ kan begin leer in artikels 16 tot 23 van die NGB, as enigste antwoord op die sondeval, erfsonde en gevolge daarvan.”

Amen.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Blog at WordPress.com.

Up ↑

%d bloggers like this: