CHRISTUS AS HOOF VAN DIE MAN EN DIE GESAGSORDE IN DIE KERK
Hoe raak dit die verhouding
tussen die man en die vrou in die kerk?
deur prof. dr. JJ van der Walt
(professor Teologiese Skool Potchefstroom, 1976-1988)
[Bron: Christus as Hoof van die Kerk en die Presbiteriale Kerkregering, Potchefstroom: Pro Rege, 1976: bl. 34-37, 41, 42. Tegnies versorg deur S. Le Cornu, die hoofopskrifte is vanuit die inhoud van die teks bygevoeg]
Inleiding – S. Le Cornu
In 1935 skryf Totius alreeds in ‘n artikel, waarin tekste soos o.a. 1 Kor.11 en 14 asook 1 Tim. 2 vermeld word (wat sentraal staan in die hele debat oor ‘vroue in die besondere dienste’), dat:
“Ons glo nie dat enige Gereformeerde vrou teen die duidelike uitsprake van die Woord van God in verset wil kom nie. Selfs deur die feministiese praktyke van ons dae sal sy haar nie uit haar koers laat dryf nie.” (Versamelde Werke, deel 3, 1977: 197; beklemtoning bygevoeg).
Tog is daar nog baie wat deur die tydsgees en beroep op ‘menseregte’ of ‘tye het verander’ voortgaan om God se skeppings- en gesagsorde omver te werp (waarop Paulus hom beroep in die Skrif by beide 1 Kor. 14 en 1 Tim. 2), soos dit ook gestalte moet kry in God se wil wie in die besondere ampsdienste mag dien of nie. Party meen dit was net geldig vir Paulus se tyd, net ‘n 1ste eeuse probleem, ander gaan blatant verder en meen Paulus was verkeerd en moet of verwerp word of ‘aangepas’ of ‘opgedateer’ word vir ons tye.
In hierdie verband, sien opnuut hierdie kosbare studie van prof. JJ van der Walt,
Christus as Hoof van die Kerk en die Presbiteriale Kerkregering.
Hy gee ‘n goeie Skrifstudie van die hoofskap van Christus, en wat dit alles behels vir die kerk van Christus, ook die besondere dienste, hoe Christus se Hoofskap die orde in die kerke bepaal, ook die man en vrou se onderskeie rolle en take, hoe Christus se gesag bedien moet word, ens.
In ‘n tyd van ‘kerkorde en kerkreg krisis’, is dit baie belangrike boek om te bestudeer. Belangrike Skrifgedeeltes oor ‘hoofskap’ in beide 1 Kor. 11 en Ef. 5 word aangespreek.
Ek plaas hier ‘n uittreksel uit sy boek, met die hoop dat dit u sal lei om die hele boek te bestudeer en vir u leraars, kerkrade en gemeentelede sal aanbeveel vir verder biddende besinning oor hierdie belangrike saak van kerkregering in die lig van Christus se Hoofskap.
In wese gaan die hele ‘vrou in die besondere dienste’ saak, nie oor wat “ek as man” of “ek as vrou” in die kerk wil nie, of wat ons elkeen ‘voel’ oor ons roepinge al dan nie, of oor ons tydsgees en tye se ‘behoeftes” nie, maar dit gaan oor die eer van God in en deur die Hoofskap van Christus soos geopenbaar deur sy Gees en Woord in die Heilige Skrif.
Christus se Hoofskap is op die spel, die gesag van sy Woord is op die spel, besef daarom opnuut die belangrik van hierdie onderwerp – waaroor kerke en kerverbande een in leer, diens en tug moet wees (soos deur die GKSA sinodes in navolging van die Skrif besluit is) – deur ‘n deeglike biddende besinning oor die inhoud van hierdie werk van prof. dr. JJ van der Walt (ek hoop om ook in die toekoms verdere aspekte of dele uit die boek hier op my blog te plaas).
Vir nou word hierdie volgende 4 onderwerpe as basis deurgegee (met ‘n paar aanhalings uit die teks hieronder):
1. Christus se Hoofskap en die gesagsorde in die Kerk volgens 1 Kor. 11:3
“Die gesagsorde in die ampswerk wat God gestel het deur die subordinasie van die vrou, is geen minderwaardigstelling nie: ‘Dit is nie vernederende knegverhoudings nie, nie ’n afgeforseerde diens nie; maar dit is egte liefde met die totale vryheid en saligheid, ware oorgawe van die eie lewe aan dié een waarvoor ons beroep is tot wie ons moet leef; egter nie só dat dit ’n willekeurige gelykheid begeer nie, maar só, dat die gemeenskap daardeur bewerk word, dat die oor- en ondergeskiktheid wat God bestem het, bewaar word en ’n heers- en dien, ’n leidinggewend en gehoorsaam-wees tussen beide bestaan.’ … Die Middelaarswerk van Christus hef die gesagsorde tussen man en vrou nie op nie, maar bevestig dit… Die vrou moet haar aan God se orde onderwerp om Christus wil Paulus, ‘is bevrees dat hierdie ontkenning die ingrypende gevolg kan hê dat die hoofskap van Christus nie meer ernstig opgeneem sal word nie…'”
2. Christus se Hoofskap en die gesagsorde in die Kerk volgens Ef. 5:20-23
“Ten eerste stel Paulus hier binne die huwelik dieselfde gesagsverhouding as in 1 Kor. 11 : 3 – die vrou moet haar man onderdanig wees “soos aan die Here” (vs. 22, 23). Haar onderdanigheid aan haar man is deel van haar onderdanigheid aan die Here. Maar die verhouding van Christus tot die kerk gaan bó dié blote gesagsverhouding uit, want Hy is “die Verlosser van die liggaam”.
Na die voorbeeld van Christus as “Verlosser van die liggaam” moet die man as hoof van sy vrou sy superioriteit nie dominerend uitoefen nie, maar versorgend en beskermend. Die punt van vergelyking is: onderdanigheid aan haar man, die hoof, soos die gemeente aan Christus, die Hoof.”
3. Liefdesdiens in die huwelik en gemeente
“Soos Christus aan sy liggaam, die kerk (vs. 25), en die man aan sy eie liggaam liefde bewys, só, na dié voorbeeld, moet die man onselfsugtig en vrywillig (vs. 25) aan sy vrou liefde bewys.”
4. Die Gees werk en spreek deur sy Woord
“Christus regeer sy kerk deur sy Gees en Woord vir sover dit die bewuste gehoorsaamheid van die kerk betref. Hoof, Gees en Woord is dus in die kerkregering ‘n onlasmaakbare eenheid. ….
Die onderskeidingsvraag in die kerkregering is: Word aan die Hoof vasgehou (Kol. 2:19)? Die feit dat Christus die Gesagshoof van die kerk is, bring mee dat die liefde die modus quo van die kerkregering bepaal. Die waarheid moet in liefde betrag word. Waar van die waarheid afgewyk word, of die kerkregering in ‘n koue regsproses ontaard is die Hoof losgelaat. Dieselfde geld vir sluheid en listigheid (Ef. 4:14), wanneer in die kerkregering oor ‘n teenparty ‘n oorwinning behaal word met onheilige sette of geknoei.“
Die boek kan hier elektronies afgelaai word (sien gerus die inhoudsopgawe vir al die onderwerpe wat aangespreek word), en by Pro Regno Boeke kan ‘n hardeband kopie aangekoop word (R40-00) per kopie.
______________________________________________
1. Christus se Hoofskap en die gesagsorde in die Kerk volgens 1 Kor. 11:3
“Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.” (1 Kor. 11:3)
In 1 Kor. 11 : 3 word die algemene gesagsordening, wat God in die menslike samelewing gestel het, bevestig en die konsekwensies daarvan vr die orde in die kerk gestel. „Hoof” dui hier ‘n gesagsposisie aan, wat alieen figuurlik en nie metafories verstaan kan word nie.1) Die klem val op die onderworpenheid aan die „hoof’. Die aksent lê nie op die hiërargie van bó na benede nie, maar op die lyn wat van benede na bo loop. Daarmee word aangedui, “nie waarvoor die hoof is nie en nie wat hy aan diegene onder hom skenk nie … maar die houding van die laer geplaaste teenoor sy hoof. Soos Christus onder God gestel word, so is elke man onder Christus en elke vrou onder die man”.2)
Om die draagwydte van 1 Kor. 11 : 3 vir die verhouding van Christus tot sy kerk te verstaan, moet ons nagaan in watter verhouding Christus hier tot God staan, wat met “elke man” bedoel word, en hoe die verhouding tussen die man en die vrou die orde in die kerk raak. “Hoof” moet in aldrie dele van die vers dieselfde betekenis hê, anders verklaar dit nie die vrou se posisie nie.
Christus is aan God onderworpe “insover Hy Homself in ons vlees aan die Vader onderwerp het: want anders, terwyl Hy dieselfde wese met die Vader is, is Hy ook aan Hom gelyk. So moet ons dan bedink dat dit gesê word van Christus die Middelaar”.3) Dit gaan om Christus se ampswerk en nie om sy plek in die Drie-eenheid nie,4) soos blyk uit sy ampsnaam, Christus.
Toegepas op die man-vrou verhouding beteken dit dat die vrou in die ampswerk aan die man gesubordineer is. God het as gesagsorde vir die ampswerk die subordinasie van die vrou aan die man gestel. Paulus laat nie toe, “dat die vrou haarself met die man gelykstel nie. Sy moet herken dat sy anders is as die man. Vir elkeen is daar ’n Hoof, sowel vir die man as vir die vrou; elkeen het die Hoof oor hom/haar, wat hom/haar regeer, vir wie hy mag leef”.5)
Aan Christus is elke man6) gesubordineer, sonder uitsondering. Maar ook aan Hom alleen.7) So staan “man” teenoor “vrou”. Dit kom neer op die manlike geslag teenoor die vroulike geslag.8) Die gesagsorde in die ampswerk wat God gestel het deur die subordinasie van die vrou, is geen minderwaardigstelling nie:
“Dit is nie vernederende knegverhoudings nie, nie ’n afgeforseerde diens nie; maar dit is egte liefde met die totale vryheid en saligheid, ware oorgawe van die eie lewe aan dié een waarvoor ons beroep is tot wie ons moet leef; egter nie só dat dit ’n willekeurige gelykheid begeer nie, maar só, dat die gemeenskap daardeur bewerk word, dat die oor- en ondergeskiktheid wat God bestem het, bewaar word en ’n heers- en dien, ’n leidinggewend en gehoorsaam-wees tussen beide bestaan.”9)
(Dit is so) want ook Christus is gesubordineer aan God.
Die Middelaarswerk van Christus hef die gesagsorde tussen man en vrou nie op nie, maar bevestig dit, soos Alford opmerk: “observe that though (Gal. 3 : 28) the distinction of the sexes is abolished in Christ, as far as the offer of and standing in grace is concerned, yet for practical purposes, and for order and seemliness, it subsists and must be observed”.10) Dit gaan om die gesagsorde wat God gestel het tussen man en vrou. Die gesagsorde is ten nouste verbonde aan die gesagsposisie van God Self, want,
“God se heerskappy strek oor almal, oor Christus en oor die mans en vroue, en Jesus se heerskappy omvat almal, die mans en die vroue. God se regering kom egter daardeur tot uiting, dat dit die verordeninge (ordes) tot stand bring, waarin ons Hom moet dien, en Hy bring ons deur hulle in verskillende diensverhoudinge. Daardeur, deurdat ons hierdie verhoudinge bewaar, bly ons in onderdanigheid onder God…”.11)
Met die gesagsverhouding tussen man en vrou is die gesag van Christus as hoof gemoeid: “Deurdat Paulus van dit spreek wat sy met haar kop doen, herinner hy hulle wat die voorafgaande Woord sê, dat die man Christus sy Hoof het [en] die vrou in die man haar hoof het. Hierdie hoof moet hulle in alle dinge eer en daarom niks doen wat hulle kop onteer nie.”12)
Die uitspraak van Paulus kry besondere betekenis wanneer gelet word op die agtergrond waarteen dit gedoen is. Paulus handel in 1 Kor. 10 : 23 -11 : 34 oor die Christelike vryheid. In besonder gaan dit oor ‘n vraag betreffende ‘n saak van oënskynlik weinig belang. Nogtans wys Paulus die vraag nie af nie, maar hy wys die weg aan op ‘n terrein wat vir die gemeente nuut is. Die gemeente het die apostoliese prediking (paradosis) vasgehou (vs. 2): “paradosis (‘leringe/onderrig’) wil sê dat hulle nie in hulle eie naarn kom nie, maar oorbring wat Christus hulle beveel het. Daarom kan vir die paradosis (leringe/onderrig) ontsag, gehoorsaamheid gevra word. Na die inhoud is dit dieselfde as evangelion (‘evangelie/goeie nuus’) of kerygma (‘verkondiging/prediking’), maar besien in die lig van die gesag waarmee gespreek word.”13)
Daarvan was die sentrale inhoud: Jesus is die Christus (Hand. 2 : 36). Die optrede van sommige vroue wat met onbedekte hoof tot God bid (vs. 13), het die gesag van die prediking en daarmee die enige posisie van Christus in gedrang gebring, want hulle het die deur God gestelde gesagsorde ter syde gestel. So verkry die skynbaar formele handeling, dat die vroue in gelykheid14) met mans optree, in hulle verhouding tot Christus ‘n ingrypende betekenis.
Teen die omverwerping van die gesagsorde in die gemeente stel Paulus in sy vermaning voorop: “maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man…” Die vrou moet haar aan God se orde onderwerp om Christus wil Paulus, “is bevrees dat hierdie ontkenning die ingrypende gevolg kan hê dat die hoofskap van Christus nie meer ernstig opgeneem sal word nie…”15)
Samevatting:
Uit die voorgaande volg dat in die kerklike ordebepalinge alles vasgestel en volbring moet word met eerbiediging van die enige gesagsposisie van Christus. Hierdie eis geld selfs vir die formele en uitwendige handelinge in die kerk, soos die al of nie dra van ‘n hoofbedekking deur ‘n vrou. Met alles wat in die kerk gebeur is die oppergesag van Christus gemoeid. Om vas te stel of ‘n handeling in die kerk toelaatbaar is, moet oorweeg word of dit die oppergesag van Christus erken of in gedrang bring. Wanneer die gesag van Christus in gedrang kom, dan word selfs ‘n formele handeling ontoelaatbaar. Daarom begin Paulus sy antwoord, oor die vraag in sake die onbedekte hoof van ‘n vrou, met !n verklaring oor die gesagsposisie van Christus. Deur die gesagsposisie van Christus word alle handelinge begrens en alle verhoudinge in die kerk bepaal.
2. Christus se Hoofskap en die gesagsorde in die Kerk volgens Efesiërs 5:20-23
“… terwyl julle God die Vader altyd vir alles dank in die Naam van onse Here Jesus Christus, en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God. VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.” (Ef. 5:20–23)
… Dit gaan in hierdie perikoop om ‘n vermaning aan man en vrou om in die huwelik “onderdanig aan mekaar” (Ef. 5 : 21) te lewe. Daarvoor stel Paulus aan hulle die verhouding tussen Christus en sy kerk tot voorbeeld, vs. 23—25, 28, 29. Hierdie betoog van Paulus moet nie soos deur Roberts, omgekeer word om die verhouding van Christus as Hoof tot sy kerk as sy liggaam te verklaar na die voorbeeld van die verhouding van man en vrou in die huwelik nie.16)
Ten eerste stel Paulus hier binne die huwelik dieselfde gesagsverhouding as in 1 Kor. 11 : 3 – die vrou moet haar man onderdanig wees “soos aan die Here” (vs. 22, 23). Haar onderdanigheid aan haar man is deel van haar onderdanigheid aan die Here. Maar die verhouding van Christus tot die kerk gaan bó dié blote gesagsverhouding uit,17) want Hy is “die Verlosser van die liggaam”. Na die voorbeeld van Christus as “Verlosser van die liggaam” moet die man as hoof van sy vrou sy superioriteit nie dominerend uitoefen nie, maar versorgend en beskermend. Die punt van vergelyking is:18) onderdanigheid aan haar man, die hoof, soos die gemeente aan Christus, die Hoof.
3. Liefdesdiens
In vs. 25 tot 29 tree ‘n nuwe gedagte op die voorgrond: die liefde.
Die man moet sy eie vrou liefhê volgens die voorbeeld van Christus se liefde tot die kerk.
Die punt van vergelyking is “die liefde”. Die liefde wat Christus as “Verlosser van die liggaam” tot die kerk het, vind sy parallel in die menslike lewe in ‘n nuwe beeld: “soos hulle eie liggame” (vs. 28). Dit korreleer met: “sy eie vlees … net soos die Here die gemeente (vs. 29), en “net soos homself” (vs. 33). Die punt van vergelyking hier is die liefde wat Christus vir die gelowiges (die kerk) as “lede van sy liggaam” (vs. 30) het, met die man se liefde vir sy “eie liggaam” (vs. 28).
Die liefde vir die eie lïggaam is vanselfsprekend. Soos Christus aan sy liggaam, die kerk (vs. 25), en die man aan sy eie liggaam liefde bewys, só, na dié voorbeeld, moet die man onselfsugtig en vrywillig (vs. 25) aan sy vrou liefde bewys.
Paulus hou by die verhouding tussen Christus en sy kerk as prototipe, terwyl hy die kerk nader toelig met “sy eie liggaam”19) (vs. 28). Met “soos” dui hy in vs. 28 nie die vrou aan nie, maar die eie liggaam van die man as voorbeeld hoe die vrou liefgehê moet word.20) Die man moet sy vrou liefhê „soos” sy eie liggaam “then the husband will indeed love his wife”,21) so soos Christus sy kerk wat sy liggaam is (Ef. 1 : 23; 5 : 23, 29, 30), liefhet. Die wyse waarop die vrou met die man wel een vlees, een liggaam, is, word in vs. 31 nader verklaar.22)
Die man-vrou verhouding in die huwelik verklaar nie die Hoof-liggaam verhouding van Christus en die kerk nie. Soos Christus die Hoof as Verlosser uitgaan bó die man as gesagshoof, en soos die llefde van Christus in selfofferande tot heiligmaking, regverdigmaking en heerlikmaking van sy liggaam (Ef. 5 : 27) uitgaan bó die liefde van die man wat voed en koester, so gaan Christus as Hoof in sy eenheid met sy kerk bó die eenheid in die huwelik uit.
Christus is die oorsprong van die kerk want “Verlosser” motiveer “Hoof”. Dit moet in die huwelik afgebeeld word, maar die man word nooit die oorsprong van sy vrou nie (vgl. 1 Kor. 11 : 11, 12), behalwe in die geval van Adam uit wie Eva gemaak is (Vgl. 1 Kor. 11 : 9, 10; Ef. 5 : 28b en 29a). Daarin is die gesagsposisie van ‘n man teenoor ‘n vrou gegrond.
Maar Christus is Hoof omdat Hy Verlosser is.
Hoof dui Hom aan na die volle inhoud van sy Middelaarskap: wie en wat Hy is, en wat Hy as Verlosser gedoen het as die Een uit wie se dood die kerk tevoorskyn tree soos Eva uit die slapende Adam. Christus Is dus as Middelaar wel in ‘n organiese eenheid met sy kerk verbind, sodat Hoof en liggaam in een organiese beeld tuis te bring is.
4. Die Gees werk en spreek deur die Woord
… Die Gees werk deur die Woord. Gees en Hoof spreek tot die kerk deur een Woord.23) Daarom is daar geen geopenbaarde, objektiewe kerkwet buite die Woord om nie. In die regering van die kerk is Hoof en Gees verbonde aan die Woord: die Woord waarin die Gees die wil van God bekendmaak; die wil of raad van God waarvolgens Christus as Hoof van die kerk alle mag in die hemel en op aarde uitoefen.
Christus regeer sy kerk deur sy Gees en Woord vir sover dit die bewuste gehoorsaamheid van die kerk betref. Hoof, Gees en Woord is dus in die kerkregering ‘n onlosmaakbare eenheid.24)
Wie een van die drie in die kerkregering opsy skuif, skuif al drie opsy. In die Heilige Skrif ontmoet die kerk objektief die wil van sy Hoof, Christus, in sy volle soewereiniteit.25)
… Die lewenseenheid tussen Hoof en kerk laat die kerk deel in wat met die Hoof gebeur. Dit verduidelik Paulus nader in Ef. 4:15 e.v. en Kol. 2:19. Wat die gemeente in Christus is, moet dit in die praktiese lewe steeds in ryker mate word. In die kerkregering gaan dit om die ”waarheid”, “vrede” en “liefde”.
Die wet van die Hoof van die liggaam is vir die kerk lewenswet, Wie die bevel van die Hoof gehoorsaam, lewe, groei op in Hom wat die Hoof is…. Die kerkregering is alleen Christusregering as dit die hele liggaam laat groei “in conformity to Christ.”26) Die onderskeidingsvraag in die kerkregering is:
Word aan die Hoof vasgehou (Kol. 2:19)?
Die feit dat Christus die Gesagshoof van die kerk is, bring mee dat die liefde die modus quo van die kerkregering bepaal. Die waarheid moet in liefde betrag word. Waar van die waarheid afgewyk word, of die kerkregering in ‘n koue regsproses ontaard is die Hoof losgelaat. Dieselfde geld vir sluheid en listigheid (Ef. 4:14), wanneer in die kerkregering oor ‘n teenparty ‘n oorwinning behaal word met onheilige sette of geknoei.27)
Samevattend
Christus is die Hoof van die kerk. Hy alleen het gesag. Die kerk is slegs daar waar sy gesag eerbiedig word. En sy heerskappy is Persoonlik: dit sluit mense uit. Naas sy Persoonlike heerskappy, oefen Hy sy gesag in die kerk ook uit deur die Heilige Gees met die Woord van God.
_________________________
Prof. JJ van der Walt se boek kan hier afgelaai word:
Christus as Hoof van die Kerk en die Presbiteriale Kerkregering
Eindnotas:
1) F. W. Grosheide: De eerste brief van den Apostel Paulus aan de kerk te Korinthe, p. 365. H. Ridderbos: Kolossenzen, op. cit., p. 178. Hy verbind Kol. 2 : 10, 1 Kor. 11 : 3 en Ef. 5 : 23 en verstaan „hoof’ deurgaans as weergawe van „enkel een verhouding van superioriteit”, vgl. ook J. Weis: Der Erste Korintherbrief, p. 269.
2) F. J, Pop: Bijbelse Woorden en hun geheim, p. 300 (vertaal uit die Nederlands, soos ook in wat volg -red.).
3) J. Calvyn: Uitlegging op de Zendbrieven, Kommentaar by 1 Kor. 11 : 3, p. 185. F. W. Grosheide: op. cit, p. 386: “Als Middelaar is Christus door den Vader in deze wereld gezonden en aan Hom onderworpen, Joh. 14 : 28; 1 Kor. 3 : 23; 15 : 24.”
4) H. Alford: The Greek Testament, vol. II, p. 564: … The Son is in his Sonship, necessarily subordinate to the Father“.
5) Adolf Schlatter: Paulus der Bote Jesu, p, 309 (red: met dank aan dr. Victor d’Assonville wat die Afrikaanse vertalings uit die Duits gedoen het in hierdie artikel).
6) pantos andros (‘elke man’) is nie gelyk aan “mensheid” nie, vgl. Pop: op. cit., p. 300, maar ‘pas’ (‘elke’) gebruik by ‘n naamwoord sonder lidwoord beteken “elkeen”, vgl. Bauer: op. cit, p. 636.
7) F. W. Grosheide: op. cit, p. 364: Let op die lidwoord by kephale (hoof) en Christos (Christus). “ledere man heeft één hoofd, en dat éêne hoofd is alleen Christus”.
8) H. Ridderbos: Paulus, op. cit, p, 516, voetnoot 130: “Wij hebben hier niet met een huisregel, maar met een liturgisch voorschrift te doen”. Verkeerdelik betrek ook Calvyn kommentaar by v.3, dit op die heilige huwelik van die godsaliges.
9) Adolf Schlatter: Die Korintherbriefe, p. 131.
10) H. Alford: op. cit., p. 564. Vgl. H. Ridderbos: Paulus, op. cit., p. 515.
11) Adolf Schlatter: Die Korintherbriefe, p. 131.
12) Adolf Schlatter: Die Korintherbriefe, p. 133.
13) F.W. Grosheide: op. cit., p. 364.
14) Vgl. H. Ridderbos: Paulus, op. cit. p. 517. A. Schlatter: Korintherbriefe, op. cit. p. 132: “Dit het gelyk of die Korinthiese vroue … blykbaar vergeet het dat hulle vroue is”.
15) F.J. Pop: op. cit., p. 301.
16) J.H. Roberts: Die opbou van die kerk volgens die Efesebrief, p. 98. H. Ridderbos: Paulus, pp. 423, 425. Paulus verander nle sy uitgangspunt in vs. 32 nie. To mustērion (‘Die misterie’) sien hier op die verhouding van Christus en die kerk. Vgi. W. Hendriksen: Ephesians, op, cit., pp. 256, 257; C. Hodge: Ephesians, p. 351; F. W. Grosheide: Efeziërs, p. 90.
17) H. Schnackenburg: op. cit., p. 213. W. Hendriksen: Ephesians, p. 248. In 1 Kor. 11 : 3 lê dieselfde gedagte, vgl. F. W. Grosheide: op. cit., p. 365: die ontbrekende lidwoord by kephale (‘hoof’), en by gunaikos (‘van vrou) geen pantos (‘van elke’), wil sê “dat de man niet in zoo absoluten zin het hoofd is van de vrouw, als Christus van alle dingen. Er staat eigenlijk: de man is een (soort) vrouwen hoofd”.
18) Vgl. vs. 24: alla (‘alles”). Dit som die voorgaande op.
19) H. Schlier: Der Brief an die Ephezer, p. 262.
20) Bauer: op. cit., p. 905: “ōs corresponding to ountōs = so, in such a way”. Hy verwys na Ef. 5 : 28, 33 as voorbeelde.
21) Hendriksen: Ephesians, op. cit., p. 254.
22) Id., p. 256. Vgl. 1 Kor. 6 : 16, en dáároor. J. P. Versteeg: Christus en de Geest, pp. 131, 192.
23) Joh. 16:13 en 14. Vgl. C. Schule: op. cit., pp. 62-3.
24) Vgl. A. D. R. Polman, Onze Nederlandsche Geloofsbelijdenis, deel I., p. 216 e.v.; deel IV, p. 8-9.
25) Vgl. J. Calvyn, Inst. I, xiii, 9 en IV, 8, 1. Ook Calvyn aan Sadoletus, by C. Schule: op. cit., p. 43.
26) C. Hodge, op. cit., p. 240.
27) W. Hendriksen: Ephesians: op. cit., p. 202. “deceitful scheming”. kubeia (‘bedrieëry’) kom van kubos, ’n spel met dobbelstene waarin allerlei arglistighede (‘tricks’) gebruik is om te wen.